Читать книгу Die eks-noodgeval - Cecilia Steyn - Страница 4

2

Оглавление

Moeg trek Alana haar wit jas uit. Agter haar oë klop al heelmiddag ’n kopseer. Haar maag grom. Dat sy nie tyd gehad het om te eet nie, het ook nie eintlik gehelp nie. Maar die grootste oorsaak was nie die min eet of die stresvolle operasie wat sy moes doen nie, maar die herontmoeting met Braam. En dít hier in haar nuwe werksplek.

“Is dokter toe bly daar het ordentlike trauma ingekom?” vra Karen terwyl sy in haar sluitkas vroetel.

“As dit minute later was, was hy dood. Die meeste mense met ’n besering van die abdominale vena cava oorleef nie tot by die hospitaal nie,” sê Alana.

“Hoe het dit in teater gegaan?” vra Karen.

“My senuwees was klaar,” bieg sy.

“Hoekom?” vra Karen. “Het professor Patterson kwaai geraak?”

“Nee, dis nie dit nie,” sê Alana. “Hy moet buitendien kwaai wees. Dis net … almal se oë was op my. Seker om te sien of die nuwe chirurg darem ’n skietwond kan herstel.”

Haar vermoë is beslis vandag gemeet, en die een wat haar die meeste dopgehou het, is seker suster De Lange.

“Ek kon die ingangswond darem dadelik identifiseer deur die hematoom wat daar gevorm het. Die perforasie was net bo die renale arteries. Die koeël het die laterale afskeuring van die wand van die inferior vena cava veroorsaak. Gelukkig was daar nie ’n dubbele perforasie nie, anders sou die pasiënt dalk nie so gelukkig gewees het nie.”

“Dalk moet die pasiënt gaan Lotto speel,” sê Karen. Alana glimlag.

“Toe die klampe aan die miltarterie, die poortaar en die inferior vena cava nie die bloeding wou stop nie, het ek begin stres, maar professor Patterson het kalm met my gepraat. Hy kon seker my paniek aanvoel,” babbel Alana.

“Hy het kollaterale kompressie toegepas,” sê Reinette, die ander verpleegster. “En vir ’n wonder was hy nie ongeskik nie.”

“Dalk maak dokter sy hart sag,” reken Karen.

“Was jy daar?” vra Alana vir Reinette. In teater is dit moeilik om te weet wie is wie wanneer almal hul teatermaskers dra.

“Ja. En ek dink dokter het uitstekende werk gedoen. Nie eens suster De Lange kon fout vind nie,” sê Reinette.

Alana probeer om nie te lag toe sy aan suster De Lange se valkoë dink nie. “Ek weet nie wie is die kwaaiste nie, suster De Lange of professor Patterson.”

“Jip.” Karen lag. “Daai twee moet mekaar net warm vry en klaarkry.”

“Reinette, sjuut! As sy jou nou hoor, het jy groot moeilikheid.”

“Dokter Patterson was nog net ordentlik met my,” sê Alana.

“Dokter sal nog sien. Ons is almal so bang vir hom. Ons speel behoorlik ching-chong-cha om te besluit wie hom in die middel van die nag moet wakker bel.”

“As dit nie vir professor Patterson was nie, sou ek nie vandag my pasiënt kon red nie. Hy het die prosedure geduldig aan my verduidelik,” erken Alana. “Hy het beduie hulle druk die sponse naby die perforasie en dan kan ek dit toewerk.”

Sy was so vies vir haarself. Natuurlik moes sy dit geweet het. Sy is immers ’n chirurg. Sy moes haarself net herinner het sy is nog nie ’n trauma-chirurg nie. Dit is hoekom sy hier is. Aan suster De Lange se sug kon Alana aflei sy was op daardie oomblik minder beïndruk met haar.

Sy kon uiteindelik net agter haar teatermasker glimlag toe professor Patterson sê: “Uitstekende tegniek, dokter De Koker.”

“Hy is ook ’n uitstekende chirurg,” bieg Reinette. “Dit is omdat hy ’n perfeksionis is dat hy so onredelik kan raak.”

“Ja. As ek honderd rand gehad het vir elke keer wat hy my al gevra het of ek moontlik breindood is!” Karen skud haar kop.

“Ek is darem nie so ongeduldig nie. As ek so word, moet julle my daaroor aanvat,” sê Alana.

Ten minste het die geval haar vir ’n ruk van Braam laat vergeet. Die pasiënt se histeriese eggenoot kom weer by haar op. As dokters moet hulle nie net lewens red nie, maar ook soms die draers van slegte nuus wees. Vir die vrou se part hoop Alana dat haar man sal herstel. Die pasiënt is glo die pa van ’n drieling.

Alana haal haar handsak uit die sluitkas en maak die deur toe. Ongelukkig ken sy haarself te goed. As sy nou by die huis kom en moeg in die bad sak, sal al die emosie weer haar hart oorstroom en gaan sy die hele nag wakker lê en oor Braam en sy nuwe lewe wonder.

“Sal die pasiënt darem oukei wees?” vra Karen.

“Ons sal sien. Ek hoop so. Daar kan nog komplikasies wees weens die verlengde skok waardeur hy is. Moontlike bloedstolling, sepsis.” Meteens ontmoedig, trek Alana haar skouers op. “Die volgende vier-en-twintig uur is kritiek.”

“Ek is bly dokter het by ons begin werk,” sê Karen.

“Ek ook.” Dit is die ander verpleegster, Reinette, wat praat. In teenstelling met Karen se rooi hare, is Reinette s’n pikswart en kort.

“Dankie, julle. Ek is ook bly.” Alana voel vir die eerste keer vandag dat sy die regte besluit gemaak het om hierheen te trek. Sy weet net nie hoe sy die situasie met Braam gaan hanteer nie, maar vanaand wil sy nie daaraan dink nie.

“Dalk kan dokter vir Braam Smit ogies maak,” sê Karen en lag. “Hemel, daai man is mooi.”

“Nee dankie,” keer Alana gou. Sy het een keer in haar lewe haar hart op hom verloor en dit was een keer te veel.

“Hei! Los. Hy is myne. Hy weet dit nog net nie,” terg Reinette en tuit haar lippe speels.

“Julle is nou sommer laf.” Alana sluit haar hokkie gou. Hoekom dit haar pla dat die twee so van haar eksman praat, is sy nie seker nie. Sy hoop net nie Braam is dikwels die onderwerp van bespreking hier nie. Dit sal haar gek maak.

“Hoe goed ken julle hom?” waag sy die vraag. Miskien sal sy dan kan vasstel of hy permanent hier werk.

“Ons sien hom elke paar maande wanneer hy hier kom opleiding gee, maar as ek sy hart gesteel het, sal hy vir altyd hier wil bly,” sê Reinette. Die twee vroue lag verspot. “Soms werk hy sommer ’n paar skofte by ’n private ambulansdiens hier naby.”

Alana behoort hom dus nie gedurig te siene kry nie. Dit is ten minste goeie nuus. Sy sal net die paar maande met hom moet uithou. En as hy buitendien hier is om reddingsopleiding te gee sal sy hom mos baie min sien, behalwe as hy een naweek dalk besluit om te kom help.

“Het dokter iemand spesiaals wat nou dokter se voete kan masseer wanneer jy by die huis kom?” vra Karen.

Alana glimlag. “Nee. Gelukkig nie.” Sy probeer vrolik klink. Net omdat sy vandag vir Braam gesien het, mag haar emosies nie met haar op loop gaan nie. Sy sal dit nie toelaat nie. “Daarvoor sal ek sommer na ’n terapeut gaan.”

“Dokter is van die onafhanklike tipe?” sê-vra Karen.

“Ek is.” As hulle net weet hoe lank dit gevat het vir die gebroke hart wat Braam Smit haar toegedien het om te heel.

“As dokter van plan verander, is daar altyd die oulike ou wat saam met my joga doen. Sê net en ek kry sy nommer vir dokter,” bied Karen weer aan.

“Ek moet wikkel. Ek het ’n date,” sê Reinette.

“Op ’n Maandag?” vra Karen.

“Op ’n Maandag werk ons gewoonlik nie ’n sestienuurskof nie. Jy weet so goed soos ek, naweke het ons nie ’n lewe nie.” Reinette vee met haar ringvinger onder haar oë nadat sy maskara aangewend het. Sy is lank en atleties gebou. Die mans staan seker tou om haar te date.

“Jy date heeltemal te veel,” sê Karen jaloers. “Waar ontmoet jy al die mans?”

“By First Date,” sê Reinette. Toe hulle vraend na haar kyk, brei sy uit: “Dis ’n nuwe konseprestaurant waar jy op eerste afsprake gaan.” Toe sy sien hulle verstaan nie, sê sy: “Google dit net. Ek moet gaan. Ciao.”

“Sien jou môre,” sê Alana.

“Geniet dit.” Karen gooi haar handsak oor haar skouer. “Net nie te veel nie!” roep sy laggend agter Reinette aan.

Alana kan nie anders nie as om te wonder of daar vir Karen iemand by die huis wag.

Dit is al donker buite toe sy die afstandbeheerder van haar motor druk. In die oranje skynsel van ’n lamppaal sien sy die figuur wat teen haar kar leun.

Sy sal daardie skouers enige plek kan uitken.

Braam.

Net soos haar stetoskoop moes sy al van Bessie, haar … húl motor ontslae geraak het, maar dit kon sy na vyf jaar steeds nie doen nie, al is daar al krapmerke en klein duikies in die bakwerk. Nie dat sy nie ’n nuwe kar kan bekostig nie, maar dit was die eerste een wat hulle saam gekoop het. Soms kon sy haar verbeel dat sy nog sy lekker reuk daarin kon ruik.

In die halfverligte parkeerterrein lyk hy vir haar amper soos ’n vreemdeling. Die sterk kontoere van sy skouers lyk nog breër. Van al die reddingswerk?

Hy is lankal nie meer myne nie, herinner sy haarself.

“Hoe loop sy nog?” is sy eerste woorde.

“O, sy loop,” sê Alana strak. Net môre sal sy die dekselse ding verkoop. Hoekom klou sy buitendien so daaraan vas? Dít wou Heleen ook al weet.

“Jy lyk goed, Lana.” Hy staan hande in sy broeksakke en leun teen Bessie asof hy nie ’n gram stres saamdra nie. Dit bring baie herinneringe terug. Gelukkig is dit donker en sal Braam nie kan sien hoe rooi haar wange en hals seker nou is nie.

“Niemand noem my meer Lana nie,” kap sy terug.

“Dit is goed om te hoor.”

Hy klink sowaar tevrede.

Innerlik sug sy. Die prentjie van hom soos hy saam met die treklorrie vol meubels, arms gevou buite sy nuwe motor voor hul huis gestaan het, doem voor haar op. Hy wou nie ry nie. En sy kon nie wag dat hy moes gaan nie.

Die eerste ding wat sy gedoen het nadat sy hom in ’n ander vrou se arms betrap het, was om hom vir ’n egskeiding te dagvaar. Sy sou nie soos haar ma wag tot iemand eers ’n saak van seksuele teistering teen hom maak voordat haar oë oopgaan nie.

Braam glimlag. “Gaan jy my nie ordentlik groet nie?” Hy hou sy arms oop. “Ons is mos darem nie vreemdelinge nie.”

Ja, maar hulle is vervreemd.

Alana mik in sy rigting, dan kyk sy senuweeagtig rond of iemand hulle sien. Sê nou maar sy druk hom en wil hom nooit weer los nie? Sy vou haar arms eerder om haar eie lyf.

“Jy is nog net so sexy soos altyd.” Braam se oë gly oor haar kurwes.

Sy wil na haar asem snak, maar lag eerder. Haar oë hou syne vas. Hy sal hom wat verbeel om so familiêr met haar te wees.

“Is dit nie iets wat jy vir Evie behoort te sê nie?” Sy ruil haar arms om. Moes dit juis nóú uit haar mond glip? Braam gaan dink sy is al weer jaloers.

In hul slaapkamer was hy alles van wild en stout tot liefdevol. Sy sug. Moenie nou daaraan dink nie, Alana.

“Gelukkig is my lyf niks meer om jou oor te bekommer nie,” sê sy geamuseerd. “Hierdie lyf sal jy nooit weer kaal sien nie.” Toe die woorde uit is, brand die vuur op haar wange. Hemel! Vir wat het sy dít nou gaan staan en sê? Tog gee die gedagte haar geweldige satisfaksie. Nadat sy hom in iemand anders se arms betrap het, het sy ’n minderwaardigheidskompleks so groot soos die Titanic ontwikkel, maar nie meer nie.

Braam lig sy wenkbroue: “Jy weet jy kan so iets nie vir my sê nie, Lana. Ek sal dit mos as ’n persoonlike uitdaging beskou.” Ondeundheid dans in sy oë. “Jy weet tog ek is ’n doelgedrewe man.”

Moet hy steeds so vervlaks sexy ook wees?

Toe Braam besef sy gaan nie in sy arms val nie, druk hy sy hande weer in sy broeksakke.

“Nog net so seker van jouself soos altyd, sien ek.” Alana vroetel met die sleutel in haar hand. “Wat maak jy hier, Braam?”

“Jy het mos gehoor. Ons gee opleiding.”

Vies skreef sy haar oë vir hom. “Ek bedoel hier … by my kar!”

“Ek het gedink ek sal jou verras.”

Gmf. En het hy nie!

“Ek wou kom hoor hoe dit gaan.”

“Dit gaan goed,” sê sy. “Ek subspesialiseer nou in trauma-chirurgie. Vandag was my eerste dag.”

Hy kyk ondersoekend na haar en glimlag.

“Jy kan seker verstaan dat ek nie afleiding nodig het nie.” Waarom sê sy dit? Die man het nie aangebied om haar aandag af te lei nie. Of is dit wat hy nou doen?

“So jy het dit toe gedoen?” vra hy bly.

“Ek het, ja,” Alana kan die trots in haar eie stem hoor. Om in chirurgie te spesialiseer was nie maklik nie, maar trauma-chirurgie was nog altyd haar droom. Wel, vandat sy Braam ontmoet het. Hy het die passie vir trauma by haar gekweek.

Saam met hom het sy die eerste maal uit ’n vliegtuig gespring. Hulle het saam bergfiets gery. Hul eerste abseil saam was langs die Swartrivierwaterval. Sal sy dit ooit vergeet? Toe hulle onder kom, het hy haar gevra om te trou.

Asof hy haar gedagtes kan lees, kyk hy vlietend weer na haar ringvinger, net soos vandag in die ondersoekkamer. Dis steeds kaal, wil sy vir hom sê. Net soos haar bed.

“Dit is wonderlik,” sê hy.

“Ek gaan sesmaandeliks tussen Melpark, Charlotte Maxeke en Baragwanath roteer as deel van my opleiding.”

Braam knyp sy oë ’n oomblik toe en knyp toe die brug van sy neus. Hy weet seker hoe dit dáár gaan.

“Ek is sterker as wat ek lyk,” keer sy voordat hy vir haar ’n preek oor haar veiligheid kan afsteek. “Ek kan na myself kyk.”

Hy het buitendien nie meer ’n sê oor haar nie. Wil sy hom dalk gerusstel?

Hy knik, maar sy kan sien hoe die spier in sy wang spring. “Jy het vandag gemaak of jy my nie ken nie.”

“Ek was nie seker of jy ook hier werk nie. Soos ek sê, dit was vandag my eerste dag. Ek soek nie nou komplikasies nie, Braam.” Dat sy nie wou erken dat dit hy is wat voor haar staan nie, sê sy nie vir hom nie.

Sy kyk verby hom. “Het jy vir Evie vertel wie ek is?”

Hy skud sy kop. “Dan sê ons vir niemand nie?”

Sy knik. “Dankie.”

Die woord steek soos ’n obstruksie in haar lugpyp vas. Is dit nodig om haar huwelik met Braam soos ’n staatsgeheim te bewaar? Vir haar is dit belangrik. Sy het nie haar kollegas se simpatie nodig omdat die sexy Braam Smit haar verneuk het nie. Mense kyk anders na jou sodra hulle weet jou eggenoot soek aandag by ander vroue. Asof jy nie goed genoeg was om jou verpligtinge in en uit die bed na te kom nie.

“Dit maak seker nie saak as jy mos net hier vir opleiding is nie,” sê sy.

“Ek is dalk nie. ’n Goeie geleentheid het my pad gekruis. Ek dink ek gaan dit aanvaar. Dan sal jy baie van my sien.” Daar brand entoesiasme in sy oë toe hy dit sê.

Alana voel of sy moet sit. Dit is nie wat sy wou gehoor het nie. “Watse geleentheid?” Haar stem klink soos ’n duur vaas wat stadig kraak.

“Hier is ’n ambulansdiens te koop. Ek en Evie oorweeg om in vennootskap te gaan.”

Sy sluk hard. “Dit is great. Wat jy nog altyd wou gedoen het?”

Hy knik peinsend, asof daar veel meer is wat hy graag op hierdie spesifieke oomblik wil hê. Hy lyk so ongeveins, so aantreklik, dat dit moeilik is om te onthou hoekom hulle uitmekaar is.

Dan brand die beeld van die donkerkop wat soos ’n seekat om sy lyf geklou het weer agter haar ooglede.

“Jy moet seker gaan. Jy wil nie vir Evie bekommerd maak nie.” Die gif in haar gemoed sypel deur haar stembande en versuur die gesprek.

“Soms wens ek dinge was anders,” sê hy uiteindelik.

Sy trek haar asem sag in. Nie weer dít nie. Nie nou nie. Haar emosies moet haar nie nou oorweldig nie. Sag blaas sy haar asem weer uit.

“Ek is darem oor jou,” sê sy ferm. En oor jou streke, voeg sy in haar kop by. Sy hoor die leuen in die krake van haar stem. Al manier waarop sy deur die hartseer kon gewerk het, was om haarself omtrent dood te oefen. Dit was haar terapie, en natuurlik ook die wyn-vir-die-pyn-sessies saam met Heleen.

“Jy het ons nooit eens kans gegee om aan ons verskille te werk nie, het jy?” Sy grys oë meet hare. “Jy het nie eens vir ons baklei nie.”

“Ék?” Bekende woede stu in haar op. Kalmeer, Alana. Na tien … elf … twaalf tellings kry sy haar emosies onder beheer. “En hoekom sal ek vir ’n man baklei wat my nie wou hê nie?”

“Hemel. Hoeveel keer moet ek jou nog sê, dit was nie soos dit gelyk het nie. Niks het gebeur nie. As jy vyf minute langer gebly het, sou jy gesien het hoe ek daarin geslaag het om haar van my lyf af te kry, maar nee! Jy het weggery, jou goed gaan pak en na jou ma en sussie gehardloop.”

Sy snork onvroulik. Na alles is sy nie die een wat hom te lig gevind en na iemand anders gesoek het nie. Hoe baie het sy nie al gewens sy kon hom geglo het nie?

Alle mans is dieselfde. “Een keer ’n draadspringer, altyd ’n draadspringer,” het haar ma altyd gesê. Sy was nie bereid om haar lewe met ’n man te deel wat haar vir die res van hul lewens gaan verkul nie.

“Braam …” Om ou koeie, wat lankal begrawe is, weer op te grawe was nie haar idee toe sy hierheen verhuis het nie. “Ek wil by die huis kom. Hierdie dag was net te lank.”

“Ek mis jou, Lana.”

Dié woorde laat haar hart kantel. Hy mis haar ook? Hoekom die gedagte dat hy haar mis, haar opgewonde maak, weet Alana nie. Sy weet net dit moenie. Dit mag nie.

Hoe wens sy ook dinge was anders vir hulle.

Braam kyk haar so intens aan, dit voel asof die bloed in haar are gaan begin verhit, asof net hý die vermoë het om haar soos ’n volbloedvrou te laat voel. Na hom was daar net geen man wat haar volkome vrou laat voel het nie. Sy aanraking is in haar geheue vasgebrand. Dit is die gedagte wat haar temperatuur nou laat styg. Om net weer sy vel teen hare te voel sal so …

Nee, dêmmit. Sy moet haar kop regkry.

“Wel,” sê sy skerp en trek haar asem diep in. “Ek mis jou definitief nie,” lieg sy.

Daar flits iets oor sy gesig. Dit lyk na ’n mengsel van woede en begeerte.

Sy hoop hy glo haar.

“Jy hoort in my bed, Lana. Ek mis jou daar ook.”

Haar hart klop nou so hard dat sy sukkel om te hoor wat hy sê. Sy sluk en sit haar hand op sy borskas. Behoort hulle nie eerder te praat oor wat Evie hiervan sal dink nie? Wat is sy in elk geval? Sy meisie? Vrou? Vriendin met voordele?

Sy druk hom weg, maar dit is soos om te dink jy kan ’n baksteenmuur omstoot.

“Weet Evie hoe jy voel?” vra sy asemrig.

Hy vee haar hare agter haar oor in. Die volgende oomblik trek hy haar in sy arms vas. Sy mond omsluit hare voordat sy hom kan keer.

Wil sy hom ooit keer?

Sy móét!

Sy weet hoe passievol intiem hy kan raak. Toe hul huwelik goed was, was dit verdomp uitstekend. Sy omhelsing is so bekend en gerusstellend lekker. Al weet sy dit moet nie, kan sy nie anders toe haar lyf teen syne smelt nie. Die bekende gevoel van sy lyf teen hare laat haar warm en terselfdertyd leeg.

Hulle kan dit nie doen nie!

Sy honger mond sluk haar protes eenvoudig in. Die aanvanklike ruheid van sy soen versag. Sy tong terg hare, wat ’n vuur in Alana se buik laat brand. Hy stook begeerte in haar lyf wat sy nie geblus sal kry nie. Die man het steeds die krag om haar heeltemal mal te maak.

Alana vou haar hande om Braam se elmboë om haarself staande te hou. Sy reageer sonder om te dink en soen hom sowaar terug.

Braam se mond laat elke sel in haar lyf klop en hunker. As hy haar nou hier in die parkeerterrein van haar nuwe werk op haar motor se enjinkap syne wil maak, sal sy hom nie kan keer nie … en sy is seker hy weet dit ook.

So onverwags soos wat Braam haar begin soen het, los hy haar.

En sy wil hom terugtrek en steeds haar honger mond met syne stil.

Hy lek oor sy lippe asof hy haar nog daar wil proe. Asof hy ook nie genoeg van hul eerste soen in vyf jaar gehad het nie. “Ek dink jy jok vir my,” sê hy. “Na daardie soen vermoed ek jy mis my ook.”

Is hier nie iewers ’n rolstoel nie? Die man!

Braam hou haar deur oop en sy val dankbaar in die bestuursitplek neer. “En Lana,”

“Ja?” vra sy en kyk op in sy oë. Sy ken daardie onrustige kyk.

Sy oë gaan weer na haar borste. “Lekker slaap.”

Terwyl die woorde in haar kop weergalm, verdwyn hy in die donker parkeerarea.

Die eks-noodgeval

Подняться наверх