Читать книгу Paljas: Skooluitgawe - Chris Barnard - Страница 6

Vooraf

Оглавление

Paljas is in 1996 by Toorwater in die Klein-Karoo verfilm en in 1997 vrygestel. Die hoofrolle is gespeel deur Marius Weyers (Hendrik), Aletta Bezuidenhout (Katrien), Larry Leyden (Willem), Ellis Pearson (die nar), Liezel van der Merwe (Emma) en Jan Ellis (Nollie).

Die rolprent se regie is behartig deur Katinka Heyns.

Anders as in die geval van Nagspel en Piet-my-vrou is daar vir die publikasie van hierdie teks afgewyk van die normale draaiboek-formaat. Ter wille van leesgerief is alle kamera-aanwysings en ander tegniese notas weggelaat. Die oorspronklike toneelnommers is behou en in enkele gevalle is aangedui dat ’n bepaalde sekwens van skote as montage aangebied word. So ’n montage is as een enkele toneel genommer, alhoewel dit in die praktyk gewoonlik as verskillende tonele verfilm word.

’n Nuwe toneelnommer dui gewoonlik aan dat die lokaliteit verander het of dat daar ’n tydsverloop was.

Die draaiboek van Paljas het ontstaan uit ’n vertelling van Abraham H. de Vries wat deur Trix Pienaar aan Chris Barnard oorvertel is. In 1993 het De Vries sy vertelling soos volg gebruik as kamee in die kortverhaal “Skaduwees tussen skaduwees”:

“Nou onlangs terwyl ons besig was met ’n dokumentêre film oor Makkadas, die stoomtrein wat vroeër daagliks tussen Touwsrivier en Ladismith geloop het, hoor ek nog so ’n storie: dié keer van die Italiaanse krygsgevangene wat in die veertigerjare die stasiemeester op Hondewater ’n buitekamer gehelp bou het. Die stasiemeester en sy vrou had ’n kind, ’n seuntjie, enetjie met ’n horrelvoetjie en boonop bleek en inkennig.

“Maar toe raak die twee maats, so onpaar soos hulle was, die Italianer en die seuntjie, al kon hulle mekaar se taal nie eens verstaan nie. Want die Italianer teken op die buitekamer se muur, sommer met skoolkryt, diere en clowns, tiere en olifante, perde met ruiters wat op die saals staan, ’n hele sirkus. En elke dier en elke clown praat kamma met sy eie stem. So het hy die kind eers aan die lag en toe aan die praat gekry.

“Hy het ook een nag verdwyn en nêrens het iemand hom ooit weer gesien nie, en dit in ’n landstreek waar die mense die spore vanmekaar se dier uitken. Van die kind vertel die verhaal verder niks, behalwe dat hy nooit na die man uitgevra het nie.”

De Vries het ’n hersiene en uitgebreide weergawe van “Skaduwees tussen skaduwees” in 1997 in die gelyknamige bundel gepubliseer.

Hoewel Abraham de Vries se eerste geskrewe weergawe ’n Italiaanse krygsgevangene as karakter het, was ’n nar van meet af aan deel van die gegewe wat Trix Pienaar aan Chris Barnard aangebied het.

Die Uitgewer

Paljas: Skooluitgawe

Подняться наверх