Читать книгу Klassiek reeks: Mahala - Chris Barnard - Страница 5

1

Оглавление

Vrees was al so deel van hom dat hy dit nie meer as vrees herken het nie. Dit was in sy versigtige, byna sluipende manier van stap; in sy onrustige, wantrouende oë; in sy buitengewoon sagte stem; in sy soms stamelende manier van praat.

Hy het homself selde nog herinner dat hy versigtig moet wees, sy oë moet oophou. Dit was al vir hom normaal dat hy nie graag vreemdes ontmoet nie, dat hy net Caipemba toe gaan as dit noodsaaklik is. Die lawaai en ligsinnigheid van kroeë het hom geïrriteer. Vreemdes het hom verveel. Mense het hom uitgeput. Maar hy het nie een van hierdie dinge meer met vrees in verband gebring nie.

Daarom het hy nie die middag aan Ritter gedink toe die meisie skielik met hom praat nie. Hy het net geweet hy wil haar afgeskud kry; want ’n mens, het hy gedink – enige mens – moet versigtig wees vir ’n meisie wat jou op straat voorkeer. Al lyk sy skaars sestien. Al lyk sy onskuldig en baie onseker van haarself.

Hy was voor sy skaduwee uit op pad terug rivier toe. Die boot sou oor ’n kwartier vertrek. Die middag was skerp en warm en sy hemp het nat aan sy rug gekleef. Toe sien hy haar van ’n winkelstoep afspring en tussen die vlieë en die swartes se vrugtemandjies deur vóór hom ingestap kom. Sy was skraal en effens kort, ’n bietjie verwese in haar beswete rok. Haar skouers was kaal en bruin van die son en haar kortgeknipte hare met ’n lint vas agter haar kop.

“Senhor,” het sy gesê, “weet jy wanneer vertrek die boot?”

“Die posboot?” het hy gevra en gaan staan.

“Faz favor.”

“Oor ’n kwartier.”

’n Oomblik het albei van hulle na die boot gekyk waar dit ’n honderd tree verder agter die groen en trillende sinkgeboutjies teen die oewer lê. Toe vra sy, sonder om na hom te kyk: “Weet jy hoeveel dit kos?”

“Tot waar?”

“Tot by die derde halte.”

Eers tóé het hy geskrik. En die skrik het hom geïrriteerd bewus gemaak van die vlieë om sy warm gesig en van die stekende son. Hy wou haar afskud en op die boot kom en iewers agter die gaas onder die dek in die koelte sitplek kry.

“Vier-en-twintig eskudo’s,” het hy gesê en begin stap.

“Senhor,” het sy dringend agter hom aan gesê. “Faz favor …”

Hy het gaan staan, maar nie na haar gekyk nie.

Die derde halte was sý halte. En net hy het ooit daar afgeklim. Net hy en soms, baie selde, iemand van die koffieplaas. Maar sy was vreemd.

Sy het weer langs hom gestaan en hy kon sien hoe sy ’n sakdoek voor by haar rok uithaal en na hom toe uithou. “My geld was hierin. Ek het dit verloor.”

Hy was moeg en daar was vlieë in die son by haar gesig. Daar was oral vlieë. Die middag was ’n trae en eentonige gezoem van vlieë en bye en die lug het geruik na bruin mangoblomme en die soet stank van broeiende palmblare.

Sy had ’n swart leersak by haar. Dit het by haar heup gehang aan ’n band skuins oor haar skouer. Die band het ’n keep tussen haar klein, ronde borsies deur gesny, van links na regs. Sy het haar hand in die sak gesteek en ’n oomblik daarin rondgekrap. “Ek het nie veel hier nie, senhor,” het sy gesê, “maar as u my help, kan u die sak kry. Dis ’n nuwe sak. Ek sal die goed uithaal.”

Rodrigue het in die koelte van die loopplank gestaan, besig om met ’n vuurhoutjie tussen sy swartgevlekte tande te krap. Hy het geknik toe hy hulle sien aankom, maar sy oë het na die meisie toe beweeg en daar gebly.

“Ek betaal vir ons albei, Rodrigue,” het Delport gesê.

Die meisie se sak het ’n bietjie selfbewus langs haar knie geswaai terwyl hy die geld uittel.

Hy het gehoop sy sal op ’n ander plek gaan sit, maar sy het hom tot agter in die hoek gevolg en langs hom teen die sifdraad gaan sit, haar sak op haar skoot. Sy was nat van die sweet en daar was groot vlekke onder haar arms.

Die koelte was goed. Maar buite het die ilalas teen die grys lug getril en Delport het sy oë toegemaak en geluister na die trossies eende se lawaai op die bodek en na die swartes wat luidrugtig buite in die wit hitte praat en na Rodrigue wat lui staan en kleingeld uittel. Op die gaasdek was dit koeler en hy het die boot effens voel wieg in die stroom, en iewers het die ankertou gekraak en hy was bly om te weet die dag is verby. Hy sou kon sit en slaap tot by die derde halte en dan sou die son reeds onder wees en hy sou teen die skuinste opstap huis toe, tussen die mango’s en piesangbosse deur, en hy sou buite op die stoep sy whisky drink en die nag ruik.

Dit was altyd goed om terug te wees op die boot ná so ’n dag en na Rodrigue te luister en die middag stroomaf in te gaan, tussen die groen bosse deur, die aand tegemoet, met die swartes wat op die bodek gesels en lag en soms een-een sing, met die reuk van bokmis en kokosneut en knoffel, en Rodrigue wat tussen sy tande krap en rustig sit en praat en na brandewyn ruik. En kort-kort ’n bok wat op die bodek blêr, en die eentonige getjok van die enjin wat soms ’n dubbelslag word as die oewer nader kom en die klank terugkaats oor die groen water.

Dit alles was goed ná so ’n dag, want dit sou koel wees en die son sou weg wees, en al dié dinge, al die reuke en geluide, sou beteken dat hy Caipemba vir ten minste vier weke nie weer sou sien nie.

Die meisie het langs hom beweeg en hy het sy oë op skrefies oopgemaak in die hoop dat hy haar sou sien loop, maar vaagweg haar twee bruin knieë gesien en geweet sy sit nog langs hom. En sy moes gemerk het sy oë gaan oop, want sy het weer gepraat.

“Klim jy voor die derde halte af?” het sy gevra.

Hy het sy kop geskud.

“Waar klim jy af?”

Hy het sy oë heeltemal oopgemaak en opgekyk, maar nie na haar toe nie, en gesê: “By die derde halte.”

Hy het weer sy oë toegemaak en met sy kop agteroor teen die sifdraad geleun en die kaai se stof geruik. Hy wou van die meisie vergeet en haar dit laat verstaan, maar terselfdertyd het hy geweet hy sal haar nie vergeet kry voor hy nie weet waarheen sy gaan nie. Dit sou donker wees as hulle afklim en die naaste onderdak, behalwe dié wat hy sou kon aanbied, was twaalf kilometer van die rivier af.

Toe het die bootklok buite gelui.

Hy kon hoor hoe die swartes hewiger begin praat en iemand was besig om ’n wit bok aan ’n strooitou teen die loopplank op te sleep. Die bok se kloue het weerbarstig oor die hout geskuur.

“Hoe lank vat dit tot by die derde halte?” het sy gevra.

Dié keer het hy na haar gekyk. “Drie ure.”

Hy het haar gesig nou vir die eerste keer werklik gesien. Daar was fyn sweetdruppeltjies onder haar neus en op haar voorkop, en haar oë was effens te groot. “Dit sal donker wees,” het sy gesê.

Hy het geknik.

Die klok het weer gelui en Rodrigue was besig om die loopplank op te trek. Toe skielik het die boot begin vibreer en ’n oomblik later het die enjin stotterend aan die gang gekom, ’n paar keer gesluk en toe sy slag gekry.

Al sy aandag was op die kaai. Hy het ’n ry swart kinders sien staan en waai en op die bodek het party hulle laaste boodskappe oewer toe geskree. Pio was besig om die ankertou los te draai en die stroom het begin vat. Toe, baie stadig, begin die sinkgeboutjies wegskuif en die ry swart kindergesigte word kleiner en begin wegswaai van hom af.

Toe was hulle los in die stroom, drywend en op koers, en die enjin se slag was dieper en skielik reëlmatig.

Tot siens, Caipemba, het hy gedink, en gewonder wanneer kom Rodrigue. Maar Rodrigue was iewers besig. Hy kon hom met die stuurman hoor praat en die lug was soet van mangoblomme en droë vis en hy het weer gedink: tot siens.

Die kind sou speel; hy sou iewers in die skaduwee van die mangobome met tolle en blikkies ry op paaie wat hy met ’n plankie in die sand oopgeskraap het, op een van die baie paaie wat oral oor die agterplaas lê, van koelte tot koelte, slingerende paaie wat links en regs uitvurk oor die wye werf en draai en terugkom en altyd maar weer op dieselfde plek eindig.

Die kind sou speel en An sou slaap onder haar veilige muskietnet in haar muwwe kamer met die plankmure – mure waarvan die wit kalk afdop, mure met barsies en splete en die fyn bruin stippeltjies van kakkerlakmis. Mure van raaisels en stiltes en ekstase.

An sou slaap of na die dak lê en kyk waar geitjies roerloos teen die lyste slaap.

Hulle sou hom nie mis nie.

Agter die boot het die oopgekarringde water soos ’n geriffelde vin gelê en hy kon nog net die toppe van Caipemba se palmbome sien en ’n ry wit bosluisvoëls wat oor die bosse aankom en geruisloos verbyvlieg.

Toe hoor hy Rodrigue met die trap afkom.

Daar was ’n vuurhoutjie tussen sy tande en sy hande was swart van droë olie. “Dag,” het hy gesê en hom tot die meisie gewend. “Ek is Rodrigue. Kaptein Rodrigue Pereira.” Sy het nie vir sy vuil groethand omgegee nie; sy was blykbaar verlig om iemand te kry wat wil praat.

“Mália Domingo,” het sy gesê.

“Waarheen is jy op pad?” Hy het anderkant haar gaan sit.

“Ek gaan tot by die derde halte.”

“O ja, jy en Max is saam.” Toe sy nie dadelik begryp nie, knik hy na Delport toe.

Sy het haar kop geskud. “Nee. Ek is in ’n skietkamp langs Doisspruit. My pa en ’n vriend van hom het kom skiet en ek pas die kamp op.”

“Grootwild?”

“Hulle soek olifante en buffels. Maar hulle is al ’n week weg. Hulle moes al terug gewees het.”

Rodrigue het die vuurhoutjie uitgespuug en ’n nuwe een uit sy dosie gehaal. “Hoe het jy in Caipemba gekom? Jy was nie gister op die boot toe ons ondertoe is nie.”

’n Oomblik het sy geweifel. Maar net ’n oomblik. En in dié oomblik het sy na Delport gekyk. Hulle het mekaar vas in die oë gekyk en hy kon die weifeling sien; toe draai sy haar kop weg en kyk weer na Rodrigue. “Iemand het my geneem. Een van die mense van die koffieplaas.”

“Ken julle die mense daar?” wou Rodrigue weet.

“Nee.” Sy het haar leersak nader na haar bors toe getrek. “Ons ken niemand nie.”

“Wens hier wil meer mense kom skiet,” het die kaptein gesê en na Delport se kant toe gelag. Toe kyk hy weer na die meisie, die lag nog om sy mond, maar sy oë onseker op soek na Mália Domingo se reaksie. “Hier is mos nie vroumense hier nie. Twee of drie getroudes in Caipemba. En twee of drie by CCG. En Max se vrou. Max is een van die gelukkiges.”

Delport het op die volgende sin gewag, maar dit wou nie kom nie. Hy het gewag dat die kaptein moet sê: “Ek is mos nooit getroud nie.” Hy het dit dikwels gesê. Delport was ’n honderd keer by waar hy dit gesê het. En dit was altyd met presies dieselfde intonasie in sy stem en dieselfde uitdrukking in sy oë. Hy het dit altyd gesê soos iemand sou sê: “Ek het mos kanker.”

Daardie eerste nag, nege jaar tevore, het hy dit die eerste keer gehoor. Die nag toe hy Rodrigue Pereira ontmoet het. Hulle het die hele middag in Caipemba gewag, hy en An, op die boot se vertrek. Maar hulle kon tienuur eers vertrek, want iemand moes nog kom. Dit was tienuur die nag en dit was drukkend en hulle was op pad – sonder die een wat moes kom. En Rodrigue het by hulle kom sit en met hulle oor die sterre gepraat soos ou vriende praat oor gemeenskaplike geheime. Rodrigue was ’n bietjie dronk daardie nag en hy het hulle sy hele lewensverhaal vertel. Maar wat Delport die beste van alles kon onthou, was die manier waarop Rodrigue skielik gesê het: “Ek is mos nooit getroud nie.”

“Kom jy van Beira af?” het die kaptein gevra en die meisie het geknik. Hy het ’n halfgerookte seroetjie uit sy uniform se bosak gehaal en dit ingedagte opgesteek. “Lekker plek. Beira. Ek was ’n ruk daar. In die dokke. Dis voor ek hier kaptein geword het.”

Dié rang het net in sy verbeelding bestaan. En miskien juis daarom was hy baie gesteld daarop. Hy het altyd die rang bygevoeg as hy homself aan ’n vreemdeling voorstel. En die verslete uniform was inderdaad vol medaljes wat hy wie weet waar gekry het – miskien in Beira en Porto Amélia se pandjieswinkels.

Delport het sit en luister. Die stories het hy almal reeds geken – die stories van Rodrigue se dae in Beira, en van die vriendin wat hy daar gehad het, en hoe tragies sy verongeluk het een Sondagmiddag in November. Maar dit was altyd goed om hom dit weer te hoor vertel, dié stories: met gepaste troosgedagtes uit Gibran en die Rig-Veda en die Spreuke van Salomo.

Hy het na Rodrigue sit en luister en aan An gedink wat glo sy vrou is, en aan die kind wat eensaam op die werf sou speel en snags nie kan slaap nie.

“Jy bly ’n loseerder,” het hy Rodrigue hoor sê. “Jy bly ’n loseerder. As jy eers hier beland het, is dit verby met jou. Dis Afrika dié en Afrika is sonder genade. Afrika kry niemand jammer nie. Portugal was anders.”

Pio het uit die enjinkamer geroep, maar Rodrigue het eers sy seroetjie klaar gerook voordat hy hom aan Pio gesteur het. Hy het die seroet gesuig tot dit sy duimnael brand, dit toe onder sy hakskeen doodgetrap en opgestaan. “Die swartes,” het hy gesê, “kan ook niks doen as jy nie bystaan nie. Die diesel lek seker weer.”

Toe was hulle opnuut alleen. Delport en die meisie. Al wat van die kaptein oorgebly het, was ’n ná-trekkie van sy seroetrook. Maar Delport was reeds geruster, minder behoedsaam, en hy het gewag dat sy moet praat. Hy wóú ineens hê sy moet praat.

Maar sy het nie. Nie dadelik nie.

Die getjok van die enjin was ’n verborge, maar gerusstellende geluid iewers onder die oppervlak van die water. Hy kon die geluid onder sy skoensole voel. Die son was aan die wegraak en agter hulle op die horison was die lug grys en pers asof daar die nag dalk reën sou kom.

Op die bodek het een van die swart kinders gehuil en ’n vrou se stem het die kind vakerig berispe. Die bokke en pluimvee was rustiger as gewoonlik, maar af en toe het ’n wit of grys veredonsie vlak by Delport se gesig verby gewieg en afgesak water toe en in die stroom agtergebly.

Toe hy weer kyk, was die meisie besig om haar swart leersak leeg te maak. Voor haar voete het daar reeds ’n pakkie suiker gestaan en ’n koekie seep, ’n buis tandepasta, ’n nuwe botteltjie reukwater, ’n blikkie sout. Hy het sit en kyk hoe sy die res uitpak: ’n tydskrif, twee sagtebandboeke, en iets in koerantpapier toegedraai wat soos hout geklink het toe sy dit neersit.

Toe die sak leeg is, sit sy dit langs Delport neer. “Die sak, senhor.”

“Hoekom maak jy dit leeg?” wou hy weet.

“Die sak is vir jou. Vir die reisgeld.”

“Hou die sak,” het hy gesê. “Ek wil dit nie hê nie.”

“Jy sal my laat beter voel as jy dit neem.”

“Hou dit,” het hy gesê. “Pak terug jou goed. Hoe gaan jy dit buitendien gedra kry sonder ’n sak?”

Sy het die goed op die vloer eenkant toe begin skuif. “Ek sal heeltemal goed regkom.”

Hy het op sy knieë gehurk en die sak nader getrek en die goed begin terugpak, sonder om iets te sê. Sy wou keer. “Senhor,” het sy gesê, maar hy het aangehou terugpak. Toe hy die ding in die koerantpapier optel, het die papier geskeur en ’n stuk hout het tussen hulle geval. Dit was ovaal en soos ’n bord uitgehol. Hy wou dit optel, maar sy was vinniger as hy. Sy het dit besorg opgeraap en omgedraai.

“Het dit iets oorgekom?” wou hy weet.

“Nee,” het sy ná ’n oomblik gesê. “Gelukkig nie.” En toe verlig gelag en dit na sy kant toe gedraai. “Dis pragtig, dink jy nie so nie? Ek het dit vir tagtig eskudo’s gekoop.”

Hy het opgekyk in die twee hol oë. Dit was ’n masker van olienhout, van die soort wat die Indiërs in Caipemba verkoop. Hy het in die twee hol oë vasgekyk, ’n sekonde lank, en toe die neus gesien, en toe die breë wangbene, en toe die mond wat effens druip aan die hoeke. En iets wou bekend lyk. Hy het weer na die oë gekyk onder die swaar oogbanke, en ’n oomblik gevoel hy kry nie asem nie, maar toe was die gevoel weg en ’n vreemde koue het teen sy nek afgesak en oor sy skouers en oor sy maag tot in sy bene.

“Hou jy nie daarvan nie?” het die meisie gevra. “Ek dink dis wonderlik. Dis met ’n knipmes gekerf en dit kos maar tagtig eskudo’s!”

Hy het geknik en weggekyk. Daar het weer ’n wit dons buite voor sy gesig verbygesak. En die kind het nie meer gehuil nie. Dit was doodstil en die getjok van die enjin het die stilte in eweredige stukkies gekerf.

Die meisie het nog steeds die masker vir hom gehou, maar hy het nie meer gekyk nie. Want die gesig was Ritter s’n en hy wou nie na Ritter kyk nie.

Ritter het in die deur gestaan en sy oë was so dood soos die hout in Mália Domingo se hande. Hy het in die deur gestaan, sy een hand teen die sifdraad en sy ander hand in sy boshemp se sak. Die vertrek het na die soet sweet van dekgras geruik en na An wat pas nog op die bed gelê het. Hy wou dit nie doen nie. Hy was nie van plan om dit te doen nie, maar toe hy onthou van die glas in sy hand, het hy sy arm omgeskiet en die glas het deur die lug getrek en in Ritter se gesig gebreek en die volgende oomblik was hy in die kombuis langs die koue stoof en toe buite in die reën.

Dit was die tweede keer dat hy soos ’n lafaard gevlug het en dit was die laaste keer dat hy Ritter gesien het.

“Wat makeer?” het die meisie gevra. “Voel jy sleg?”

Daardie nag het hulle in Empangeni by vreemde mense geslaap. En die hele nag het hy verniet op Ritter gewag.

Nege jaar is lank as jy dit van dag tot dag moet omkry. Nege jaar is lank as jy wag, en nog langer as jy in die wildernis wag. Maar as jy terugkyk, is dit ’n vlugtige oomblik – die oomblik waarin jy jou oë geknip het.

Iewers in die verte het die meisie van die son gepraat. Maar haar stem het weggeraak en hy het sy hande na sy gesig toe gebring en hulle teen sy slape vasgedruk. En haar stem het teruggekom en hy het haar hoor vra of sy vir hom kan gaan water haal.

Hy het sy kop geskud en gesê: “Nee dankie.”

Dis nie die masker nie, het hy skielik gedink. Miskien is die ooreenkoms nie eens so groot nie. Dit was net die helder oomblik waarin hy skielik weer Ritter se gesig onthou het. Ritter het in die deur gestaan en dit was sý oë en hy het alles weer onthou en alles weer gevoel en weer opnuut geweet dat hy Ritter nog steeds verwag. En dit was dít – dié wete. Want soms was hy oortuig dat hy dié vrees ontgroei het; dat hy nie meer wag nie; dat hy met homself vrede gemaak het. Maar dié oomblik het hy duideliker as ooit geweet dis nie so nie. En dít het hom duiselig gemaak.

Hy kon die meisie se hare ruik en dit was die eerste keer in ’n baie lang tyd dat hy weer ’n vrou geruik het – ’n vrou se hare en ’n vrou se vel. En die meisie was weer in die effense lig voor hom en hy het haar bruingebrande skouers gesien en haar naam onthou.

Die son was nou onder.

Links en regs het die water groen en donker gelê en daar was nie meer bosluisvoëls nie, maar iewers teen die sifdraad het ’n muskiet eentonig gesing en weggeraak en singend teruggekom, óm sy gesig gedraai en weggeraak.

“Ek hou van die masker,” het hy oplaas gesê. “Het jy dit in Caipemba gekoop?”

“Ja.”

“Waar?”

“Sommer op die sypaadjie. Daar het ’n blinde Indiër gesit en hy het mandjies vol houtsnywerk gehad – maskers en diertjies wat uit hout gesny is, en houtkrale, en goed van ivoor.”

“Hoekom het jy die masker gekoop?” het hy gevra.

“Ek het daarvan gehou. Dit was anders as al die ander gesigte. Dit was ’n Europese gesig.”

“Ek hou daarvan,” het hy gesê. “Ek sou dit graag by jou wou koop. Ek sal jou ’n honderd eskudo’s gee – dan maak jy wins.” Sy het nie geantwoord nie.

“Ek maak maskers bymekaar,” het hy gesê. “Ek het al ’n stuk of twintig. Dié een is iets besonders.”

Sy was nie baie gewillig nie; dit kon hy sien. Sy het onseker geglimlag, die masker opgetel en daarna gekyk. “Jy maak dit moeilik, senhor,” het sy gesê. “Ek skuld jou al klaar geld. Ek moes dit eintlik vir jou present gegee het, maar …” Sy het verleë en net effens gelag en met haar hand oor die houtgesig gestreel. “Dis so mooi. Ek sou dit graag wou hou.”

“Dis iets besonders,” het hy weer gesê. “Dit sou mooi inpas by die ander wat ek het.” Hy het na haar toe gekyk. “Honderd-en-vyftig eskudo’s, senhora.”

“Asseblief,” het sy gesê, en dit was byna asof sy pleit. “Ek sou dit graag wou hou.”

Dit was daardie oomblik tussen die middag en die aand waarin die donker byna sigbaar groei. Hy kon nie meer haar gesig baie duidelik sien nie, hy kon net die skaduwees uitmaak van haar oë en haar neus en mond. Hulle het in die donker na mekaar sit en kyk.

“Jy laat my skuldig voel,” het sy gesê, “maar jy kan die leersak vat. Dis nuut en dis meer werd as die masker.”

Toe skielik, uit die stilte, het die bootfluit amegtig begin blaas en dit was ’n verlate geluid op die wye water. En op die bodek het daar hoenders begin kekkel en ’n kalkoen het verskrik gekloek.

“Ek wil niks verniet hê nie,” het hy gesê. “Ek wou die masker koop.”

Regs van hulle was die oewer nou naby en hy het opgestaan.

“Hoekom blaas die fluit?” het sy gevra.

En hy het deur die sifdraad gekyk tot hy die lanterns kon sien en toe na haar toe gedraai waar sy nog steeds die masker sit en vashou. Hy het al geweet waar hy dit sou hang: teen die binnemuur reg onder die buffelkop. En hy het geglimlag en gesê: “Ons is by die eerste halte.”

Pio het met sy skuifelpassie ingekom en die olielamp opgesteek en toe was dit ineens heeltemal donker buite. Van die swartes was besig om af te klim. Party had niks by hulle nie; ander het mandjies met vrugte en kruideniersware en droë vis op hulle koppe gebalanseer; nog ander het gesukkel om hokke met hoenders en eende en ander pluimvee teen die loopplank af te kry. Eers toe almal af was wat wóú af, het Rodrigue op die oewer gaan stelling inneem en die nuwe passasiers se geld geneem. Daar het ’n lantern naby sy kop gebrand en hy was nat van die sweet in sy swaar en verslete uniform. Kort-kort het hy ’n verdwaalde tor of mot van sy gesig af weggeklap en dan ’n entjie verder van die lantern af beweeg.

Delport het homself betrap dat hy met die meisie praat. Sy het hom iets oor Rodrigue gevra en hy was besig om haar alles te vertel wat hy van die kaptein weet. En dit het hom skielik ’n gevoel van opwinding gegee wat hy nie mooi kon begryp nie. Hy was besig om met ’n vreemdeling in die donker te sit en praat en hy kon nie onthou wanneer dít laas gebeur het nie. En terwyl hy gepraat het, het hy gedink: dis vreemd dat ek dit nou moet doen, pas nadat ek weer aan hóm herinner is. En iets het vir hom gesê hy is miskien tóg by die vrees verby; hy is nie meer bang nie; Ritter is iemand in ’n ander wêreld. Ritter is dood.

En hy het aan Rodrigue se woorde gedink van ’n paar maande tevore. Hulle het in die stuurkajuit gesit op pad na Caipemba dié oggend en Rodrigue was dronk en vol woorde. En Rodrigue het gesê, terwyl hy sy naels met ’n vuurhoutjie sit en skoonmaak: “Die rivier is die veiligste plek in Afrika, amo. Hy raak nóg kant nóg wal. Hy is iewers tussen twee oewers.”

Hy het die stukkende vuurhoutjie van hom af weggeskiet en gesnuif en sy brandewyn opgetel. “Terwyl jy op die rivier is, is jy nêrens. Jy dryf in die niet, soos Nietzsche of iemand gesê het. Jy’s net ’n gedagte.”

En terwyl hy daaraan dink, het hy dit vir die meisie vertel, sonder om te weet of sy verstaan, en sonder om hom daaroor te bekommer. “Hy’s eienaardig,” het sy gesê. “Hy het my so verskriklik uitgevra.”

“Hy vra maar almal so uit. Hy weet alles van elke blanke passasier op sy boot. Hy beskou dit as sy werk om alles van almal te weet.” Toe praat hy met João se woorde. “Hy leef in ander mense. Miskien omdat hy self nooit gelewe het nie.”

“Dit moet seker ’n eentonige werk wees,” het sy gesê, “om altyd op en af te ry. Dieselfde rivier. Elke dag.”

En iewers uit die verlede het hy Rodrigue dit hoor beaam. “Dis so. Ek is in transito. Altyd. Jy begryp wat ek bedoel? Elke dag is gister in trurat. En oormôre is soos vandag.” Op en af, vier keer ’n week, tussen Caipemba en Schwulst se klein rietdak-hotel by Lotsumo – die vyfde halte.

Op die bodek was iemand besig om voel-voel op ’n sensa te tokkel. Dit was ’n yl geluidjie in die lou donker, maar dit was soet en vol refreine en almal bó behalwe die bok het geluister. Die bok het af en toe geblêr.

En dit het Delport die koorsbome by Mkuze laat onthou, en die man met die sere by Catuane wat vir An sy dooie vrou se klere gegee het, en die honger by Moamba toe An nie meer wou verder nie, en die sensa die middag by João Belo wat onder hulle groen kamervenster speel terwyl die son sak en ondergaan oor ’n verlate wêreld.

Hy het na An verlang, want sy was nie meer by hom nie. Die bleek gesig onder die muskietnet was ’n dooie mens.

João het ook gevlug. Rodrigue ook. João het vir ’n vrou gevlug wat hom wou liefhê en Rodrigue vir ’n mislukking. Maar João en Rodrigue was tevrede daarmee – hulle het dit self gesê. Hy sou ook kon wees, as An net dieselfde gebly het.

Die meisie se kop het teen die gaas geleun en hy het na haar gekyk en gevra: “Is jy moeg?” En gedink: hoe gewoond is ek nie al om dié vraag te vra nie!

“Dis so bedompig,” het sy gesê. “Kan ons nie boontoe gaan nie?”

“Niemand sal jou keer nie,” het hy gesê.

Hy wou nie gaan nie, maar toe sy wag, het hy opgestaan en haar gevolg. Hulle het teen die houttrap uitgeklim tot op die bodek en hy het langs haar gaan staan. Daar was ’n houtreling buite om die dek, en party het teen die relings geleun en oor die rivier gekyk. Ander het op hopies bymekaar gesit, ’n kring rondom hulle mandjies en pluimvee. Die bok het verdwaald aan sy tou gestaan en uitstaar in die donker.

“Dis koeler hier,” het sy gesê.

Hulle het tussen die sittendes deurgeloop, oor die mandjies en pakkette en ogiesdraadhokke geklim. Die slag van die enjin was nou duideliker en Delport kon die skoorsteen teen die sterre sien en die yl rokie wat in die donker trek.

“Dis die eerste keer dat ek op so ’n rivierboot kom,” het sy gesê. “Dis net soos ek my dit voorgestel het.”

Die sensa het nog iewers in die donker getokkel en hier en daar het ’n stem lui gepraat. Die dag het sy tol geëis.

“Jy is getroud?” het sy gevra.

Hy kon pynappels ruik en hoendermis en knoffel.

“Ja,” het hy gesê en geknik.

An sou seker al slaap. Of lê en lees.

“Kinders?”

Hulle het tot by die voorste relings gegaan en oorgeleun, staan en kyk hoe die kiel die stroom oopsny. “Een,” het hy gesê.

“Hoe oud?”

Hulle was nog nie by die eilande nie. Dit sou nog ’n kwartier duur. Dan die tweede halte. Hy het gewonder wat van sy draer geword het. Hy kon hom nie in die donker sien nie.

“Nege,” het hy gesê, “omtrent,” en nie van haar nuuskierigheid gehou nie. Hy sou veel liewer met Rodrigue wou gaan sit en gesels.

“Is dit ’n seun?”

Hy het geknik sonder om seker te maak dat sy dit sien.

“Dit moet seker eensaam wees,” het sy gesê, “vir so ’n kind.”

“Vir almal.”

Die donker was taai en roerloos en selfs die voortstuwende boot het geen koeligheid gebring nie. Die twee woorde het in die lug bly hang en hy kon nie begryp wat hom dit laat sê het nie. Dit was tog sy eie saak.

“Ek is maar twee weke hier,” het sy gesê, “en die eensaamheid maak my dood. Ek voel partykeer ek kry nie asem nie. Dis dié dat ek gister Caipemba toe is. Ek wou net weer mense sien.”

Sy oë het tussen die donker gestaltes gesoek na sy draer. Maar hy kon hom nie sien nie.

“Jy’t vir Rodrigue gesê jy’s ’n week hier,” het hy sag gesê.

Sy het van die water af opgekyk na hom toe en omgedraai, en, soos hy, met haar rug teen die reling geleun. “’n Week in die kamp. Ons is al twee weke uit Beira weg.”

Sou Gonçalo die boot verpas het? Dit het al vantevore gebeur. Maar nooit met dié skepsel nie. Gonçalo was nog altyd die getrouste op die werf.

“Julle mag nie hier skiet nie,” het hy gesê.

“My pa-hulle het permitte.”

“Ek het hulle nie geteken nie.”

Sy het ’n bietjie onseker na hom toe opgekyk. “Is jy ’n veldwagter?”

Hy het geknik. “Eintlik vuurwag. Maar ek moet maar ’n ogie oor alles hou. Hulle moes eers die permitte vir my gebring het.”

“Hulle het dit nie geweet nie.”

“Die lisensiekantoor in Beira sou dit vir hulle gesê het. En dit staan agter op die permit gedruk.”

“Ek sal hulle sê,” het sy gesê, ’n tikkie kommer in haar stem, “wanneer hulle kom – ás hulle kom. Ek sal sê hulle moet direk na jou toe kom. Hulle sal nie graag wil moeilikheid maak nie.”

’n Oomblik was daar ’n verbond, die moontlikheid van ’n verbond, die vae belofte van ’n verwantskap: die manier waarop sy gesê het: ás hulle kom.

Nog iemand, het hy gewonder, wat op die punt staan om in die steek gelaat te word? Nog iemand, het hy byna gehoop, wat die sekerheid verloor het? Hy het reguit in haar gesig gekyk, vir die tweede keer dié dag, en gevra: “Kom hulle dalk nié terug nie?”

“Hulle is al ’n week weg,” het sy gesê. “Hulle sou net vier dae weggebly het.”

’n Oomblik het Delport aan An gedink, bewus weerloos in haar verkreukelde onderrok, wat by die stoof staan en kyk hoe Fernando twee eiers braai – haar maer en uitgesakte lyf tien jaar ouer as haar jare.

Iemand het teen die trap uitgekom en Delport het gekyk en Rodrigue se pet sien verskyn, en toe sy ronde skouers. Sy swaar gestalte het teen die trap uit gewieg en bo tot stilstand gekom. Hy het hulle nie dadelik gesien nie en sy pyp uitgehaal, dit langsaam in sy mond gesteek, in sy sakke rondgevoel na vuurhoutjies. Sy kop het nie geroer nie, maar Delport kon in sy verbeelding sien hoe Rodrigue se oë in die kasse draai op soek na hulle.

“Hier is ons!” het die meisie gesê en Rodrigue het na hulle kant toe gekyk. Daar het ’n geel vlammetjie tussen sy hande oopgespring en hy het sy pyp moeisaam opgesteek, die vuurhoutjie water toe geskiet, die pyp eers goed laat rook en toe nader gekom.

“Nie geweet julle is hier nie,” het hy gesê, maar niemand oortuig nie, en dit blykbaar besef, en gesê: “Daar kom weer aan.”

In die ooste hét daar ’n bietjie lig geroer, diep agter die wolke; maar net vlugtig, toe was alles weer donker.

“Ek het julle daar onder gaan soek netnou,” het die kaptein gesê. “Toe’s julle nie daar nie.”

“Ons het kom vars lug soek.”

Rodrigue het moeisaam en tevergeefs aan sy pyp gesuig, toe weer na sy vuurhoutjies gesoek, dit gekry – en blykbaar vergeet hoekom hy dit wou hê.

“Ek het die masker gesien wat daar by jou goed lê,” het hy vir Delport gesê. “Het jy dit by Rajput gekoop?”

Delport het sy kop geskud en na die meisie toe geknik. “Dis hare.”

“Bleddie mooi.” Hy het hom tot haar gewend. “Bleddie mooi, hoor. Vreemde soort gesig. Dit het my aan Siva laat dink.”

Nie een het die moeite gedoen om te vra wie Siva is nie.

“En aan Janus ook, weet jy? Noudat ek daaraan dink.” Rodrigue het die saak oorweeg. “Daar is iets van Janus in die gesig. Dis albei sy gesigte saam.” Hy het gewag dat iemand moet reageer, maar nie een het geweet wie Janus is nie. En niemand wou vra nie.

“Het my draer vanmiddag aan boord gekom?” het Delport gevra.

Die kaptein het geknik. “Hy was voor jou op.”

Hulle het ongemaklik teenoor mekaar gestaan. Daar was niks meer om te sê nie en tog was daar baie. Daar sou baie wees as Delport en Rodrigue alleen was, of Rodrigue en die meisie, of die meisie en Delport. Maar die drie saam was nou onbeholpe en ’n bietjie rusteloos. Daar was ’n spanning wat vroeër die aand ontbreek het.

Rodrigue het sy pyp ’n tweede keer opgesteek en sy gesig was bruin agter die vlammetjie, sy wange blink van baardstoppels en sweet. “Dis ’n nag!” het hy gesê en sy vuurhoutjie weggeskiet. Daar het ’n strook lig van die onderdek af teen die trap uit geskyn en die rook uit sy pyp het blou deur die ligstrook gedrywe. “Dis ’n nag!”

Dit was maar soos enige nag op die rivier. Maar Rodrigue wou altyd die oomblik met woorde probeer ontwyk.

“Sal dit reën?” het die meisie gevra.

Dit het skielik in die weste ook geweerlig, vinnig, soos die knip van ’n oog, en Rodrigue het dit gesien en geknik. “Dit lyk so. Umlenzengamunye loop weer die wêreld vol.”

“Wie?” Die meisie het van die kaptein na Delport gekyk.

En dadelik het Rodrigue effens nader gestaan. Dit was die oomblik waarop hy gewag het. “Umlenze-nga-munye,” het hy pedanties geartikuleer.

“Wie is dit?”

En Delport het geweet: tot by die tweede halte sou Rodrigue die stilte omslagtig verdrywe met verhale oor ’n onsigbare wêreld wat hy op soveel duisend eensame riviertogte leer ken het.

“Umlenzengamunye is die swartes se woord vir Een-Been.”

Delport het probeer om ongemerk pad te gee.

“Dis die weerlig wat met een vuurbeen oor die aarde spring,” het Rodrigue vertel. “En Een-Been is die Groot-Groot Een se handlanger, sy boodskapper.”

Delport het die storie al van buite geken.

“Partykeer kom Umlenzengamunye aarde toe in die gedaante van weerlig. Dan kan almal hom sien en gewaarsku wees. En partykeer kom hy in die gedaante van ’n mens, die gedaante van ’n ou man – maar dan verskyn hy in die mis en die reën en net die vrouens en die kinders kan hom herken.”

In Rodrigue se klein en deurmekaar kajuit was daar ’n rakkie met boeke; boeke met oliebesmeerde bladsye en jakkals-ore en potloodstrepe onder elke tweede sin; bladsye met onleesbare aantekeninge in die kantlyne. In dié beknopte en oorvol kajuit het hy twee-en-twintig jaar lank tussen brandewynbottels en boeke versamel aan nuttelose kennis, net om dit later te kon oordra aan oningewydes wat te verveeld sou wees om nie te luister nie.

Delport het tussen die draadhokke en koffers en mandjies deurgeklim en in die donker gesoek. “Gonçalo!” het hy een keer gedemp geroep. En ná ’n rukkie weer – “Gonçalo!” Toe kom iemand langs die trap orent en lig sy wit seildoppie eerbiedig, en Delport het die draer herken.

Hy het langs Gonçalo verbygegaan en teen die trap afgeklim onderdek toe. Sy vel het gejeuk van muskietbyte en die dag se sweet en dit was ineens weer bedompig tussen die lanterns. Pio het agter die roer gestaan en in sy neus gekrap en Delport het verbygeloop tot by die bankie in die agterstewe waar hy en Mália Domingo vroeër gesit het. Die leersak was nog op die vloer en op die bankie het die masker op sy gesig gelê.

Daar was ’n oomblik waarin hy gehuiwer het, maar toe buk hy en tel die masker op en draai die gesigkant boontoe. Die hout was swaar en blink en donker soos Rodrigue se gesig toe hy sy pyp opgesteek het. Maar dit was Ritter wat na hom opkyk, en hy het sy oë toegemaak en Ritter in die gaasdeur sien staan met sy een hand in sy boshemp se sak. Sy hare was nat van die reën en sy oë diep in hulle kasse en hy wou sê: dis nie my skuld nie, in godsnaam, dis niemand se skuld nie – maar die kamer was nog soet van An se lyf en die glasstukke het in die lig geflits toe dit teen Ritter se voorkop breek.

Hy sal Rodrigue op die proef stel. Hy sal ’n gaatjie deur die voorkop boor en die masker onder die buffelkop hang en vir Rodrigue daarvan vertel. Hy het die masker neergesit en sy beursie uitgehaal, die geld in sy hand omgedop, dit getel: daar was tweehonderd-en-vyftien eskudo’s. Hy sou haar tweehonderd aanbied.

Die meisie se sakdoekie het op die bank gelê, die een waaruit haar geld gesteel is. Hy het dit opgetel en ineens kon hy haar weer ruik. Dit was ’n reuk waaraan hy nie meer gewoond was nie. Hy het die sakdoek oopgevou en in die een hoek was letters geborduur. A. DOM.

Amália Domingo.

Hy het nie skuldig gevoel dat hy dit doen nie; om die een of ander rede het hy gevoel sy sou nie omgee nie toe hy die sakdoek opvou en in sy hempsak steek. Hy wou haar reuk met hom saamneem.

Die eerste eilande het verbygekom. Die kaal boomtakke was wit gestippel van slapende bosluisvoëls en iewers agter die slag van die enjin kon Delport rietpaddas hoor klok.

Hy het na die gaas staan en kyk, na die torre en nagmotte en muggies wat aan die buitekant vasklou, gestuit in hulle blindelingse ligvaart. Party het roerloos gesit, ander se vlerkies het getril terwyl hulle teen die gaas kruip op soek na deurkomplek.

Toe gaan sit hy op die bankie en steek sy hand in die donker na die masker toe uit, kry dit, begin met die punte van sy vingers daaroor streel: oor die swaar en druipende mond, oor die breë wangbene, die sterk oogbanke bokant die holtes van die oë. Ritter het in die getuiebank gestaan en hy het sit en kyk hoe die spiere in sy kakebeen werk terwyl hy ongevoelig na die regter staan en kyk – en hy het Ritter gehaat omdat hy vir hom bang was. En hy had hom lief. Hulle het teen die trap afgekom en hy kon die gefluit van Rodrigue se asem hoor; hy het sy hand van die masker afgehaal en gewag tot hulle gesigte in die lamplig verskyn.

“Max,” het Rodrigue geroep, skielik joviaal. “’n Dop?”

Delport was nie lus vir Rodrigue se dop nie, maar hy het geknik.

Hulle het teen die smal trap afgeklim in Rodrigue se bedompige slaapkajuit in. Dit was donker en die kaptein het na sy vuurhoutjies gesoek. Die lug was lou en dit het gevoel asof die donkerte taai aan hulle lywe kleef; die donkerte het Delport die gevoel gegee hy kry nie asem nie en hy was ongeduldig dat Rodrigue die lamp moet opsteek. Maar hy was omslagtig en die hele tyd het hy binnensmonds gebrom en sy asem het gefluit en Delport het tabak geruik en die vreemde, soet geur van Mália Domingo se verslaande reukwater.

Die lig het nie verligting gebring nie. Toe die lantern oplaas brand, was dit nog bedompiger as voorheen. Die meisie het op die bed gaan sit en in die vertrek begin rondkyk, en Delport se oë het haar soekende blik gevolg: oor die skryftafeltjie met die los papiere en inkpotte en verslete Rig-Veda, oor die rakkie met verwaarloosde boeke, oor die halfoop hangkas met die vuil onderklere – en uiteindelik tot by die muur reg oorkant haar: dit was tot teen die lae dak beplak met pornografiese foto’s en tydskrifknipsels van prikkelpoppe.

“Hoe lyk dit met ’n potjie skaak?” het die kaptein gevra. “Terwyl ons ’n dop maak.”

Delport het sy kop geskud. “Dit sal te lank vat.”

“Die vent speel goed skaak,” het Rodrigue vir die meisie gesê. “As ons speel, speel ons altyd of ons lewens daarvan afhang. Ons sê altyd die ou wat verloor, word dagbreek tereggestel. Maar Max wen altyd – en hier is ek nóg.”

Rodrigue het op sy een knie gesak en ’n kas onder die bed uitgetrek, ’n vol bottel brandewyn uitgehaal. “KWV uit die Cabo de Boa Esperança,” het hy aangekondig. “’n Godedrank uit die land van die gode!”

Toe sien hy waarna die meisie kyk. Hy het die kas onder die bed teruggestoot en kreunend orent gekom. “Jy gee nie om nie?” het hy gevra en met sy duim muur toe gewys. Sy het haar kop geskud. Toe sit hy die bottel op die tafeltjie tussen die inkpotte neer, trek twee glase en ’n beker nader en begin met die beker water skep uit ’n kleipot op die vloer. “Jy moenie sleg van my dink nie,” het hy ’n bietjie verleë gesê. “Gun my die paar prentjies.” Hy het na haar toe omgekyk. “Dis swak plaasvervangers vir die regte ding, senhora, maar as die regte ding jou bly ontwyk …” Hy het die brandewyn bo-op die water gegooi en vir die meisie haar glas gegee, vir Delport syne, en die beker vir homself geneem, gesug toe hy gaan sit, en gesê: “Ek is mos nooit getroud nie.”

Die brandewyn was lou en smaakloos en Delport het geweet hy sal dit nooit klaar gedrink kry nie.

Rodrigue het skielik stil geword en daarom was hulle al drie stil. Dit was net die reëlmatige slag van die enjin en by die oop patryspoort bokant die bed ’n verdwaalde rietmot wat kort-kort sy groen vlerke laat tril.

Die boot het effens gewieg, baie effens, en dit het Delport stadig laat wieg in sy stoel terwyl hy na die meisies teen die muur gekyk en aan An gedink het en aan Mália Domingo. Hy het aan hulle gedink en die lamp hoor suis en sit en kyk na sy groot windskewe skaduwee oorkant hom teen die muur; en die skaduwee het saam met hom sy kop geknik, sy glas gelig en laat sak, saam met hom roerloos sit en wag op die derde halte.

Elkeen was in sy eie broeiende gedagtes versonke. En hulle het so gesit, swetend, en aan hulle lou brandewyn geproe en geluister na die getjok van die enjin.

Rodrigue se beker was eerste leeg en hy het vir hom weer geskink. En toe die tweede beker byna leeg was, het hy opgestaan en iets uit die hangkas gaan haal. Dit was wat Delport verwag het: ’n groot koekblik met foto’s uit ’n verweerde, godverlate verlede.

Die foto’s het, soos alles van Rodrigue, na tabak geruik. Dit was, soos alles van Rodrigue, motgevreet en vol vatmerke. Dit was ’n maer kind wat met arms styf langs die sye in die son kyk en dapper vir die kamera lag, Lissabon se strate vol motors uit die dertigerjare, ’n jong seun wat uit ’n treinvenster wuif, ’n man in ’n matroospak, ’n matroos wat hand om die lyf staan met ’n maer meisie in oudmodiese klere, ’n grafsteen in Beira, ’n rivierboot.

Daar was min. Daar was skaars genoeg om die blik se boom toe te maak. En dit was onwaarskynlik dat hulle ooit meer sou word. In sy hangkas, tussen die tabak en onderklere, het daar ’n bokskamera gelê, maar soos Rodrigue self eenkeer verduidelik het: “Dit lê al amper twintig jaar daar, en ek gebruik dit nooit. Daar is niks meer om af te neem nie.”

Rodrigue het die foto’s by die meisie geneem en hulle in die blik teruggesit, die blik gebêre – toe na Delport gekyk, selfbewus, nie seker wat hy nog kan doen om die meisie te beïndruk nie. “Jy’s seker jy wil nie skaak speel nie?” Maar voordat Delport kon antwoord, het die kaptein hom tot die meisie gerig. “Speel jý skaak? Jy wil nie dalk speel nie?”

Die meisie het haar kop geskud en skielik moeg gelyk. “Ek kan nie,” het sy gesê.

Rodrigue het die skaakbord uit die kas gehaal en dit voor haar op die tafel neergesit, dit oopgemaak, die stukke omslagtig begin uitpak.

“Max hier het dit by Rajput gekry,” het hy gesê. “Dieselfde ou by wie jy daardie masker gekoop het. Snaakse vent, die Rajput. Hy’t my die Rig-Veda laat ontdek. En die Tarokko-kaarte.” Hy het oorgebuk na die meisie toe, asmaties en ywerig. “Dis anders as gewone skaakstukke.” Die meisie het ’n pion by hom geneem, toe ’n koning.

Die stukke was van ivoorhout en olienhoutpit. Elke pion was ’n klein maskertjie wat op twee dun beentjies staan en ’n swaard vashou. Die ivoorhoutkoning was ’n gekroonde leeukop, maar die maanhare het soos gekartelde sonstrale gelyk. Die swart olienhout-koning was die kop van ’n bul met ’n vyfkantige kroon tussen sy sekelmaanhorings. “Max speel altyd met die swartes,” het die kaptein gesê. “Ek met die wittes.”

Die meisie het die stukke een vir een bekyk soos hy hulle aangegee het, en hulle voor haar neergesit, een vir een, in ’n ry, en hulle toe weggestoot van haar af en opgekyk na Delport toe.

“Ek en Max hier speel altyd,” het Rodrigue gesê. “Maar hy wen elke keer. Hy’s goed. Jy vang hom nie maklik nie.”

Die rietmot het sy vlerke weer getril en toe skielik probeer vlieg, maar hy het teen die dak gebots en grond toe geval en stil geword.

Delport se hande was taai om sy glas en hy het gevoel hoe die sweet op sy gesig pêrel en teen sy slape afloop. Hy het aan die masker gedink wat in die donker op die gaasdek lê, en besluit hy sal die meisie tweehonderd-en-vyftien eskudo’s daarvoor aanbied.

En hy het sit en wag, wiegend en onrustig, op die tweede fluit en die tweede halte.

Klassiek reeks: Mahala

Подняться наверх