Читать книгу Absoluut Einstein - Christien Neser - Страница 5
⋅ 2 ⋅
ОглавлениеSimone: “Ek weet regtig nie wat die seuns in haar sien nie. Sy’s ’n geek! Ek meen, sy het netbal gelos om robotte te bou. Hoe weird is dit nie?”
“Delicious! Jy sit langs my.” Henco, die ene draadbek, praat eerste.
“Nee, hierso! Delicious, hier’s jou plek. Kalla sit in die paadjie.” Bees, met sy bolwange, druk die skraal Kalla met sy elmboog van die bank af. Kalla gaan sit met ’n hik op die busvloer.
Dylicia buk, kry Kalla aan sy mou beet en trek hom op. Dewald Basson steek sy voet voor Kalla in. Hy struikelval tot in Dylicia se arms.
“Kalla en die delicious monster.” Dewald. Sarkasties, soos gewoonlik. “ ’n Nuwe bangmaakstorie vir kinders.”
“Goeie een, ou Dewald,” bulk Bees.
“Ek en Kalla sit voor by oom Joof.” Sy sleep die maer outjie tot reg langs die busbestuurder.
“Watchit, Kalla. As jy met Delicious kanse vat, gee sy jou naam vir die Paap,” bulk Bees Bolwange.
“Jy breek my hart, Delicious! Is dit daai fancy schmancy balkie van jou?” kwaak Henco vals.
Die balkie. VLR. Sy vryf oor die buitelyn van die stukkie materiaal wat haar ma met netjiese stekies vasgewerk het. Dit sit knus onder die skoolwapen op haar baadjiesak.
Wat ’n gedoente!
Vandat sy laas Maandag met die balkie en die nuus by die voordeur ingestap het, is haar ma op die foon. Die lyne, die satelliete, die optiese kabels, wat ook al tussen Johannesburg en Ashton loop, het sedertdien oortyd gewerk. Die predikant, die skoolhoof, elke juffrou wat sy nog gehad het, die bure. Almal op Ashton is teen dié tyd seker lekker dik vir haar ma.
Want ma Felicia het die krane groot oopgedraai.
“Dis soos ek sê, antie Dollie. Die kind is nog nie eens ’n jaar in die skool nie en hulle kies haar op die leerlingraad. Ja, ja. Hier kies hulle junior prefekte uit elke standerd. Dis ’n yslike skool, ja, oor ’n duisend. En sy kom uit ’n dorpie waarvan niemand hier nog ooit gehoor het nie. Dis mos alte spoggerig vir ’n kind van Ashton, of hoe?” Dieselfde storie, oor en oor.
Spoggerig? Regtig?
Intussen is Simone kwaad vir Dylicia. Hulle sit nie meer pouses saam onder die boom nie. Sy kan verstaan dat haar bestie net haar oë rol wanneer die interkom aangaan en die kantoortannie soos klokslag die VLR vra om pouse iewers te gaan aanmeld.
En elke keer wat sy kantoor toe geroep word, koggel die Vuilhonde haar: “Ashton se liggie! Ons klas se pliggie!”
Sy kan dit hanteer. Maar Kalla Verdoorn?
“Kalla,” sê sy sag vir die maer outjie langs haar. “Jy moenie vir jou laat boelie nie. Jy is goed genoeg nes jy is.”
Hy knik.
“Maak asof hulle nie bestaan nie. En moet asseblief nie soos hulle probeer wees nie.”
Hy knik weer.
“Jy’s slim. Doen jou eie ding. Eendag gaan die hele spul Vuilhonde nog vir jou werk. Hulle gaan jou menéér Verdoorn noem. Beter nog, doktor Verdoorn.” Sy gee hom ’n speelse elmboog in die ribbes.
Sy wange bloos babapienk. “Miskien,” sê hy sag. “Kom jy Roboklub toe vanmiddag?”
Dylicia glimlag. Die robotika-geeks kom twee middae ’n week bymekaar. Daar’s altyd iets om te bou, want daar is elke naweek kompetisies waaraan hulle kan deelneem. Die nasionale Lego Robofest is die groot een waarvoor al die spanne werk.
“Vir seker. Maar net as jy vir my ’n pienk melkie koop. En as jy my met Spider-Girl sal help?”
Spider-Girl is haar robot. Op die oomblik is sy nog net ’n lelike Lego-spinnekop. Maar met Kalla se hulp, gaan sy haar pote leer gebruik. Elke poot moet afsonderlik kan beweeg en klein voorwerpies optel. En sy moet reg wees vir meneer Barnard en die Robofest. Dylicia is die enigste meisie in die Robotika-klub en sy het baie om te bewys.
“Enige tyd, Delicious.” Kalla se glimlag is breed.
Delicous. Nie Dyllie soos in haar ou skool nie. Delicious. Die naam klou aan haar soos hondebol in die groefies van ’n tekkiesool. Toe sy laas jaar, halfpad in die tweede kwartaal, by die skool instap, het die ding begin.
By die skool se adminkantoor moes sy sê waarvandaan sy kom. “Ashton, juffrou,” het sy mooi hard geantwoord.
“Waar? Ek kry dit nie op my rekenaar nie,” het die vrou met ’n diep frons gevra en rondgesoek. “Spel dit, asseblief?”
“A-s-h-t-o-n, juffrou. In die Wes-Kaap, juffrou.”
“Maar natuurlik. Hier soek ek dit onder E. Ek dag jy sê Eston. Ai, die Kaapse aksent,” het sy ’n grappie probeer maak.
Dit was net die begin.
Haar aksent is vir die simpel Gautengers supersnaaks. Pouses moes sy die nar wees en woorde uitryg wat sy, volgens hulle, histeries snaaks uitspreek. Soos die spul wat smeek dat sy moet sê: “Ek wil nie werk nie.” En wanneer sy dit sê, kruip hulle op die grond rond en maak hulle omtrent nat soos hulle probeer om haar na te boots met ’n simpel “êk willie wêkie”, “êk willie wêkie”.
Belaglik. Gelukkig het dit gou afgesaag geraak.
Nou raas haar pa wanneer sy hom bel, want Ashton se aksent is nie meer lekker sterk nie. Hy sê sy moet die gholfbal uit haar kies haal wanneer sy sê: “Naand, Pa.” Vir hom klink dit soos “nônd pô”.
En toe die besigheid met haar naam. In elke klas moes sy natuurlik haar naam sê. En spel. Toe mevrou Smit haar in die Wiskundeklas vra, was sy voorbereid.
“My naam is Dylicia Mentoor, juffrou. D-y-l-i-c-i-a.”
“Delicious!” Dit was Bees wat eerste daarmee begin het. “Hei, is jy ’n lékker meisie?”
“Dylicia? Jissem. Wat se naam is dit? Wat het jou ma-hulle gerook?” het dit onder Dewald se lang donkerbruin kuif uitgekom.
“Kan net zol wees!” Met sy draadbek, het Henco probeer snaaks wees. En ja, die klas het geskater.
Mevrou Smit was rooi in die gesig. Maar nie van woede nie, van ingehoue lag.
Toe die klas bedaar, het Dylicia haar reg voor Dewald se bank geplant. “Vir jou inligting,” het sy hard en duidelik vir hom gesê, “het my naam ’n trotse afkoms. Ek is vernoem na my pa en my ma. Dylan en Felicia. Hulle is goeie mense wat belasting betaal. Sit dit in jou pyp en rook dit.”
Presies soos haar pa haar destyds in die laerskool geleer het om te sê. Net hier het dit nie so lekker gewerk nie.
“Wie se pyp? Ou Paap s’n?” Dewald het lui aan sy potlood gesuig en kamma ’n rookstraal uitgepof.
“Ons mag nie hier rook nie,” het Bees gegrinnik.
“Net agter die krieketnette en agter die saal.” Dewald se lippe het skaars beweeg, maar die kinders wou hulle skeur.
“Lekker ou Dewald!” Opgefrommelde papiere het soos konfetti op Dewald se bank gereën.
Gangster, het sy onmiddellik geweet. Hierdie een is die tropleier. Vir hom moet sy versigtig wees.
Al wat sy kon doen, was om vrede te maak daarmee dat sy Delicious sou wees solank as wat die spul, uhm, vuil honde die klas regeer. Ja, dis wat hulle is. Vuilhonde.