Читать книгу Absoluut Einstein - Christien Neser - Страница 6

⋅ 3 ⋅

Оглавление

Henco: “Ons skool is gevrek. Daar is ouetehuise met meer lewe as hierdie plek.”

Die bus se deure hyg oop toe hulle voor die skool se booghek stilhou. Iets vreemds is aan die gang. ’n Groot klomp kinders staan met selfone omhoog om die hek saamgedrom.

“Checkit! Iemand het die skool se naam met ’n plank geslaan.” Die Vuilhonde hang by die venster uit.

Die eerste en laaste letters van die skool se naam is weg. Afgekap? Afgesaag? Uitgeruk? Dit moes met groot geweld gebeur het, want elkeen van die reuseletters is met ’n dik staalpen in die muur geanker. Al wat daar van PARKRAND oorgebly het, is ARKRAND. En “HOËRSKOOL” is nou sonder ’n H en sonder ’n deelteken. ARKRAND OERSKOOL.

Skollies. Mens kry hulle klaarblyklik die hele land vol. Maar hier is die skollies waarskynlik kinders wie se ouers blink motors ry. Bleddie vandaliste. Breek iets wat nie hulle s’n is nie en maak van die skool ’n goedkoop grap op sosiale media.

Dis siek.

Sy spring die bustrappies ondertoe en veg vir haar ’n pad tussen die horde met hul selfone deur.

“Dylicia!”

Dis Simone. Sy wuif. “Kom ons neem ’n selfie.” Sy beduie na die hek waar die kinders mekaar verdring om foto’s onder die verminkte skoolnaam te neem. Party hansworse is bo-op die booghek, ander swaai soos ape aan die oorblywende ysterletters.

“Moet kantoor toe! Skuus, hoor. Sien jou eerste periode.” En ja, daar was ’n oogrol. Simone kon net sowel vir haar geskree het: “Pê-whê-whê. Ek het jou mos gesê.”

Dylicia begin draf. Haar projek staan al twintig minute vir haar en wag.

O ja, Micha.

Dis sy naam. Micha Steinman. Dit klink sag en dromerig en kunssinnig en stylvol. Allesbehalwe ’n Botha of ’n Van der Merwe of ’n Mentoor. En beslis allesbehalwe ’n Vuilhond.

Sy kyk op na die groot horlosie bokant die saal. Daar’s nie tyd om haar kunshuiswerk te gaan ingee nie. Lynreg en blitsig kantoor toe.

Toe sy uitasem in die gang afstorm, kom doktor Papenfus se groot lyf met lang treë van voor af by haar verby. “Hy wag vir jou,” sê hy net en versnel in ’n wolk walglike naskeermiddel.

Dadelik begin haar neus kielie.

Paap is seker op pad na die sirkus by die skoolhek. Ja, hardloop, en gaan verjaag die klomp narre van die booghek af. Netnou val een van ARKRAND OERSKOOL se selfie-sterre en breek ’n nek. En van ’n nek wat breek, kan niemand haar iets vertel nie. ’n Nekbreek is vir altyd.

Sy stoot die kantoordeur oop.

En daar sit hy. Haar projek.

Absoluut Einstein

Подняться наверх