Читать книгу Absoluut Einstein - Christien Neser - Страница 9
⋅ 6 ⋅
ОглавлениеBees: “Wat gaan aan met Delicious? Sy sit elke naweek by daai paralytic ou in die huis. Wil nie fliek nie, wil nie kuier nie. Ek is seker sy’t ’n ding oor hom.”
“Dankie, Delish! Dis presies waarvoor ek al heelweek lus is,” Edward Nel glimlag breed en knipoog. “Mmm. Delicious. Nes jy.”
“Nie jý ook nie. Die Vuilhonde is erg genoeg.” Dylicia hou ’n roomyshorinkie na Ed uit. Sy hou dit op presies die regte afstand sodat sy tong dit moeiteloos kan bykom.
Hy lek waarderend. “Jy lees my soos ’n boek.” Skielik skreef hy sy oë. “Maar vertel nou maar vir oom Ed die waarheid, toe? Wat maak jy so vroeg by die huis?”
Dylicia sug. Waar begin sy?
“Jy’s nie my oom nie. Kan nie wees nie, want ek is Pretzel en jy is seker iets soos Milky Bar. Dis nou as ons Micha se kleurkodes gebruik. Micha is die rede dat ek nou met jou kan sit en roomys eet. Hy’t soort van uitgehaak en my amper verwurg.” Sy draai haar kop sodat hy die rooi merke aan haar keel kan sien.
“Micha? Is hy een van die Vuilhonde?” Edward se wange begin gloei.
“Nee. Dis die nuwe ou. My projek, onthou?”
“Dylicia.” Haar ma staan skielik agter haar. “Hier is mense by die voordeur. Hulle soek jou.” Sy beduie met haar kop. “Sal ek vir Edward met sy roomys help, dan gaan praat jy met hulle?”
“Wie’s dit?”
“Die seun, Micha.” Felicia Mentoor se lippe is ’n dun strepie van afkeer. “En sy ma. En ’n hond.”
“Nee. Ek en Ed eet eers klaar.” Dylicia voel hoe haar keel dik raak. Sy het nie nou krag vir Micha en ’n sorrie ekskuus nie.
“Bring hulle in, Felicia. Ek wil die klein wetter graag sien. Hy kan so bly wees dat ek nie my vuiste kan gebruik nie.” Ed vat nog ’n lek roomys, maar ’n spiertjie spring in sy wang.
En toe staan hulle in die oop deur, Micha en sy ma.
Micha hou ’n bos pienk rose in sy een hand vas. Die ander hand hou die leiband van ’n gelerige Labrador was. Cream Caramel, as Dylicia ’n kleurkode moet waag.
“Ek is Alta Steinman, Micha se ma. En ek is so jammer oor vanoggend, Dylicia,” sê die vrou met vaalbruin hare en traanblink oë agter die swartraambril. “Micha. Wat sê jy?”
“Ek sê hier’s vir jou rose. Pink Perfection. Dis Dulux D14.” Hy steek die rose na haar uit.
“Micha. Waarom het jy vir Dylicia die rose gebring?” Sy ma hou hom terug. Haar stem is kalm, maar ferm.
“Omdat Mamma gesê het ek moet.” Hy haal sy oë nie van die rolstoel af nie. “Dis ’n baie koel rolstoel.”
“Micha!” Sy ma trek hom tot teenaan haar. “Jy het kom ekskuus sê.”
“Ekskuus, Dylicia Mentoor.” Hy kyk bo-oor Dylicia se kop. “Ek het jou seergemaak, maar ek het dit nie bedoel nie.” Sy oë is vasgenael op Ed. “Wie is jy? Hoekom is jy in ’n rolstoel?”
Micha loop by haar verby, laat los die hond se leiband, plak die rose op ’n tafel neer en gaan hurk by Ed se stoel.
“Wys my wat die stoel kan doen?” Micha het klaar van haar vergeet. Hy vroetel met die beheerknop van die rolstoel. “My pa het ook ’n rolstoel. Maar syne is baie kleiner.”
“Los my stoel!” Ed se stem klap. “Hoor my nou duidelik. Jy sal nie aan hierdie stoel vat voordat jy vir Dylicia mooi om verskoning gevra het nie.”
“Ek het ekskuus gesê.” Micha vryf aan sy oor.
“O nee. Jy het haar nie in die oë gekyk nie,” sê Ed beslis. “En jy het beslis nie jammer gelyk nie.”
“Ek hou nie daarvan om mense in die oë te kyk nie,” sê Micha bot. “En ek weet nie hoe om jammer te lyk nie.”
“Nou dan oefen ons dit sommer nou.” Ed draai sy stoel met behulp van die knop wat hy met sy stram hand beheer. “Begin. Op jou knieë hier voor haar. Kyk op. Kyk na haar. Sien jy haar nek? Sien jy die rooi merke? Dit was baie seer. En gevaarlik. As jy harder gedruk het, was sy dood. Dan was jy nou in ’n vangwa op pad polisieselle toe. Dan sou jy baie jammer gewees het, of hoe?”
“Ja.” Micha knik. “Ek is jammer. Ek wil nie tronk toe gaan nie.” Micha kyk steeds bo-oor Dylicia se skouer. Die hond gaan styf teen hom sit.
“Dis nie goed genoeg nie.” Ed stuur sy rolstoel nader aan Micha. “Wat van Dylicia? Hoe dink jy voel sy? Sy was bang sy gaan dood, Micha. Dis baie erger as om tronk toe te gaan. Probeer weer.”
Micha begin heen en weer op sy knieë wieg. Hy knyp sy oë toe en begin op een toonhoogte teem: “Ek is jammer ek het jou bang gemaak. En ek is jammer jy het seergekry. En ek is jammer jy het gedink ek wil jou doodmaak.” Hy maak sy oë oop.
Ed skud sy kop. “Weer ’n keer. En nou kyk jy vir haar. Kyk na die merke aan haar nek en sê dit weer.”
Dylicia voel ’n golf van jammerte oor haar spoel. Micha se asem jaag. Die groot bruin oë kyk op na haar, maar flits weer weg. Sy lippe roer. Dan glip hy sy arm om die hond se nek. Hy klou vir ’n oomblik aan haar halsband vas.
Die hond sug en gaan lê met haar hele lyf oor sy knieë. “Ek en Gracie is jammer …” Sy stem bewe, maar hy ryg die hele lang verskoning uit. En die hele tyd kyk hy haar vol in die gesig. Sy oë lyk onnatuurlik blink.
“Dankie, Micha. Dis reg so. Dit was net ’n ongeluk.” Haar stem is steeds hees. “Kyk jy nou na Ed se stoel, dan gaan haal ek vir jou ook ’n roomys.”
Dylicia vlug met die twee halfgeëte roomyse kombuis toe.
Sy staan met die roomysbak in haar hand toe Micha se ma langs haar praat: “Dis nie maklik nie.” Die vrou druk ’n krul agter haar oor in. “Ek bedoel, dis nie so maklik om te vergewe wanneer iemand jou seergemaak het nie.”
Sy sit ’n koel hand op Dylicia se voorarm. “Ek het eintlik nie woorde om jou te bedank nie. Doktor Papenfus het my gebel. Dis merkwaardig dat jy ingestem het om Micha steeds te help.”
Dylicia sit die bak neer en lek die lepel af. Sy tel die vol roomyshorinkie op en gee dit vir mevrou Steinman.
“Ek het ’n paar voorwaardes.” Sy probeer haar gedagtes orden. “Ek sal dit net doen as Gracie saamkom om te help,” sê sy. “En as Micha vir my luister. En die heel eerste ding wat hy moet doen, is om daardie kleurkaarte van hom by die huis te los. Hy soek moeilikheid daarmee. Iemand gaan dit verkeerd opneem en hom …”
Sy draai haar rug op die vrou.
Wat sy ook al sê, gaan nie kan beskryf wat ’n klomp woedende kinders alles aan hom kan doen nie. Kop in die toilet druk, hare afskeer, kortrib breek met ’n goedgemikte skop.
Dit alles het sy al gesien.
“Ek weet, ek weet. Maar dis nou hoe Micha is. As hy eers ’n ding in sy kop het, raak hy obsessief. Hy glo vas dat sy projek nog groot geld gaan maak en dat dit wêreldwyd gebruik gaan word om identiteitsdiefstal te voorkom. Moenie vra nie!”
Sy lag betraand. “Ek sal sy broer kry om met hom te praat. Dis die één mens wat met Micha kan toor.”
Sy hou haar hand na Dylicia uit om dit formeel te skud: “Ek sal vir Leonard vra om vanaand doodseker te maak dat Micha weet wie baas is. As jy praat, moet hy luister. Anders gaan hy geskors word.” Haar stem breek. “En hy was juis so trots dat hy na sy ouboet se skool kon gaan. Parkrand Hoërskool was van kleins af sy droom.”
“Ja wel, dis tans Arkrand Oerskool,” probeer Dylicia die vrou se las bietjie verlig. “Die res van die letters is gesteel. Maar dis reg so. Ons kan weer probeer.” Al weet sy dat sy haarself môreoggend gaan skop, kan sy nie anders nie. Dis soos die swak plek wat sy vir optelhonde het. Sy kan nie by een verby loop nie.
Mamma Steinman se lippe bewe. “Dankie.” Sy sluk swaar. “Vat jy liewer die roomys vir hom. Ek wil net … jy weet, myself onder beheer kry.” Sy vee met ’n snesie onder haar bril in, blaas dan haar neus. “Om ’n kind soos Micha te hê is om elke dag ’n verrassingspakkie oop te maak. Nie al die verrassings is ewe aangenaam nie.” Sy bly ’n oomblik stil. “Ek kan jou verseker dat die oomblik wat hy sy kleurkodering laat staan, gaan hy iets anders kry waarmee hy op loop gaan.
“Dis net hoe Micha is.”
Dylicia knik. Wat sê mens nou eintlik? As sy vir Koekoes reg gehoor het, is Micha se IK in Einstein se liga. En as sy vir Paap reg gehoor het, is die kanse goed dat hy eendag ’n oranje oorpak gaan dra.
“En ja, raait, moeder Teresa van Ashton, jy glo dat jy die een is wat tussen Micha se Nobelprys en ’n oranje tronkpak staan,” sê sy saggies vir haarself toe sy by die kombuis uitstap.