Читать книгу Getuie - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 6
HOOFSTUK
Оглавление2
“Mag hulle suffer en mag daar nooit ’n einde aan kom nie. Al glo ek nie in die verdoemenis nie en al weet ek Gehenna is ’n bangmaakwoord wat die Jode gebruik het – êrens moet ’n plek wees waar mense soos hulle kan ly, waar daardie spul in New York sifilis en kanker en aids en melaatsheid kan kry wat verby die ewigheid aanhou.”
Maggie is spyt sy het gevra. Partymaal kry sy die indruk Mignon wíl praat, al klap sy ander kere weer dig toe. ’n Oester wat die sandkorrel in haar sagte buik stilweg met perlemoer toesmeer.
“In 1914, so het hulle eers gesê, sou Armageddon gebeur. Die wêreld sou uitgewis word, en net die Getuies sou oorbly. Daar sou ’n duisend jaar verbygaan, waarin die Getuies in vrede sou leef, en daarna sou die duiwel losgelaat word. Die wat verlei word, sou ’n ewige dood sterf, en die wat agterbly sou vir ewig leef en nooit ophou nie. Al die regverdiges wat al gesterf het, sou dan opgewek word en: kyk nou net, almal sou vir ewig gelukkig en tevrede leef. Mooi nè.”
Mignon kyk in die koppie waarin die donker koffiemoer afgesak het.
“Dis wat daai eerste selfgemaakte pastoor van die Getuies verkondig het. Maar dit was ’n vergissing. Want toe kom daar maar net ’n armsalige ou Wêreldoorloggie. En hulle verskuif die datum na 1975.” Met elke sin raak Mignon se stem harder, skeller.
“Russell was ’n liegbek; die hof het hom later uitgevang. Nooit ooit in sy lewe het hy Grieks of Hebreeus geken of bestudeer soos hy voorgegee het nie. Hy het nie eens hoërskool klaargemaak nie. En Rutherford, sy advokaat, wat hom opgevolg het toe hy dood is in 1916, was ’n nog groter skelm; hy het selfs meer mense agter hom aangesleep met die charisma wat hy uitgestraal het. Sy leuens was nog meer voortreflik.
“En hy,” Mignon hou haar hande met die palms na bo voor haar asof sy self nie kan glo wat sy sê nie, “hý was eintlik van huis uit ’n Baptis.”
“Maar hoe kon hulle daarmee wegkom? Hoe kon mense sommer net so voor die voet glo wat Russell en hierdie ander man gesê het?” Dis dieselfde vraag wat Maggie oor en oor bly vra.
“As jy magsbehep is, en ’n opportunis, kan jy enigiemand om jou vinger draai.” Mignon kyk haar stip in die oë sodat sy nie kan wegdraai nie.
“Neem maar baie van die groot volksleiers in die wêreld-geskiedenis. Ook hulle het mense bedrieg vir eie gewin en mag. Rutherford was nou wel nie ’n politikus of moordenaar nie, maar manipulasie neem vele vorme aan. En glo my, verskuilde opswepery is nog gevaarliker as dit wat aan die groot klok hang.
“In San Diego het hy ’n ontsaglike paleis laat bou, Beth Sarim. Dis waar Abraham, Isak en Jakob kwansuis ná 1925 sou bly wanneer hulle spesiaal opgewek en verheerlik word. Maar intussen het hy self in die paleis gebly, blink karre en al; besittings wat hy vir homself gebruik het. En dan was hy glo maar net die bewaarder en opsigter, die aartsvaders se adjudant.”
“En daarna? Wat het gebeur toe hý dood is?” Dis die stukkies wat Mignon terughou wat Maggie laat aanhou vra.
“Nathan Knorr het hom in 1942 opgevolg. Maar hy het anders gewerk. Vir hom was die streng godsdienstige reëls van die Wagtoring nie so belangrik nie; hy het hom toegespits op aanvalle op die Christendom se kerke. Aan die begin het die Getuies hulleself ook Christene genoem, maar later het daar ’n beweging begin wat hulself nie meer onder daardie naam wou laat ken nie. Vandag, ek weet nie, ek dink nou is dit weer aanvaarbaar vir hulle om Christene genoem te word. Maar dis ’n gelaaide term – dalk oral.”
Mignon tel die koppie met die swarterige droesem wat onderin bly lê het op, gooi die moer in die piering. “Dalk sou ek beter geaard het in ’n clan van sigeuners en fortuinvertellers,” sê sy. “Dan het ek miskien meer beheer gehad oor wat met my gebeur.”
Die foksterriërs en die immerveranderende voorspellings van die Getuies het Maggie die hele nag uit die slaap gehou.
Sesuur, toe die wekker van haar selfoon afgaan, lê sy nog na die plafon en staar. Dit voel of haar gedagtes soos die migrerende dieretroppe van die Serengeti deur haar harsings gestorm het. Sy kan die stamp van die pote en skud van die aarde nog in haar hoor en voel.
Sy gooi die laken af; die vloer is glad onder haar voete. Sy trek die wit gordyne oop en dit haak aan die een kant vas. Met ’n ergernis wat in haar opspring, ruk sy die stuk materiaal dat die gordynstok tril. Dit glip uit die haak, die gordyne sak teen die muur af en vou in ’n vormlose hopie op die vloer inmekaar.
“Blikskottel.” Sy skop die materiaal weg dat sy by die vensterbank kan kom.
Die son is op; ’n strepie lawa wat die grys wolke aan die bokant raam. Ontwaak! Wekroep van die Getuies.
In haar drome baklei sy met Mignon. Saam met die onbegrip en pyn oor Mignon wat weg is, is daar ’n wrewel in haar binneste. ’n Kwaad omdat Mignon haar wat Maggie is alleen agtergelaat het; opgesaal het met ’n mens wat sy nie ken of wil ken nie. En die wete dat as sy haar rug na Bea draai, sy altyd met ’n skuldgevoel sal bly voortleef.
Wanneer sy wakker word in die oggend wonder sy: hoe is dit om op te staan uit ’n tronkbed; wat kry Bea vir ontbyt? Eet ’n mens alleen, of sit jy soos koshuiskinders saam om ’n tafel? Dink die vrou nog elke dag aan die hekke wat agter haar toegegaan het en die sleutel wat in die slot geknars het om haar haar vryheid te ontneem?
Die lepel kap teen die randjie toe sy die koffie in die beker wil gooi. Die korreltjies Nescafé spat oor die marmeroppervlak en ’n klompie beland op die teëls.“Deksels!”
Sy buk, vee die gemorste koffie met ’n klam kombuislap op; voel Beauty se beskuldigende oë op haar omdat sy kortpad vat en nie ’n regte vloerlap gaan haal nie. Sy hou dit onder die kraan, gee ’n paar vrywe dat die bruin sop kan wegloop. Die dag, soos die voriges, het nie goed begin nie.
Mignon was ’n aanhanger van Murphy se wet: as iets verkeerd kan loop, dan sal dit noodwendig. Altyd spottend. Tog was dit of sy regtig ernstig was oor dié soort fatalisme.
“Jy glo tog nie in die noodlot nie, man,” het Maggie meer as een keer geantwoord op Mignon se aweregse sinisme. “Daar is ’n plan, ’n rede waarom dinge gebeur.”
“Noodlot, kismet, noem dit wat jy wil. Ek het nog nooit ’n rede gekry vir enigiets wat in my halwe eeu gebeur het nie.” Haar sin het geëindig met ’n klank van verlorenheid.
Toe, met ’n skamper laggie, het sy dit ligter probeer maak: “Dalk kom ek eendag terug – as ’n kriek, of ’n donkie – en kan ek terugkyk op hierdie lewe. Dan sien ek miskien wat ek hier verkeerd gedoen het en doen my boete. En word ek uiteindelik gepromoveer tot ’n mens wat ’n nuwe kans kry. Dán sal ek glo daar’s iewers ’n uitgewerkte plan wat ons lot bepaal.”
Die weke ná die verassing is dit met uiterste inspanning wat Maggie smiddae die deur vir haar musiekleerlinge oopmaak en probeer om te luister na wat hulle uit die klavier oproep. Tussen die note en klanke deur is dit aanhoudend Mignon se stem wat sy hoor. Snags droom sy van haarself, die rooihaarkind, en die Getuie-kind op die skoolgrond, albei wagtend op die Armageddon. Die wederkoms. Die einde. Apokalips.
Die groot oordeel van God waar die NG mense, die Getuies uit meer as tweehonderd lande, die Katolieke en die lede van die Pinksterkerke en die Charismatiese groepe saam staan en wag, elkeen op ’n eie God. As jy in die Gereformeerde kerke is, is daar vir jou genade vir jou siel – dis te sê as jy voortdurend jou sonde bely en erken hoe sleg jy is. En as jy glo Christus het vir jou sondes betaal. So is dit in haar ingeprent as kind. Maar as jy ’n Getuie is, kan jy eendag op die aarde met jou nuwe siel én liggaam leef. Mits jy gewerk het vir die Wagtoringgenootskap, die waarheid van huis tot huis met ander gedeel het.
Sy sien Gehenna soos Mignon dit vroeër beskryf het. Die naam van die ewig brandende vuur in die vallei van Hinnom, naby Jerusalem; die plek waar die Jode misdadigers se liggame en diere se karkasse verbrand het. Maar teen die bangmaak vir die hel en verdoemenis waaroor die Protestante en die Katolieke dit het, het Mignon haar pront uitgespreek: “Iemand, Wie ook al, wat Hom op liefde vir hierdie armsalige lotjie op aarde beroem, sal nooit ’n vuur maak waarin Hy party mense sal smyt nie. Nie letterlik nie, en regtig, Maggie, ek glo ook nie figuurlik nie.”
Of Mignon ooit in haar lewe werklik gegló het, ten minste of sy wel later iets aan God die Vader en aan Christus die Redder gehad het, kon Maggie nooit agterkom nie. Daar was ’n angs in Mignon wat sy kon aanvoel; ’n vrees vir godsdiens van enige aard.
“Ag, Maggie, tog, ’n behoorlike sonde is baie interessanter as ’n bekering!” het sy ’n keer spottend laat val. Sy het die skok op haar vriendin se gesig gesien en vinnig gekeer: “Toemaar, toemaar, net ’n joke! Ek dink sommer aan die boeke wat ek al gelees het. Ek het onlangs The Invention of God in die hande gekry, het jy dit al gelees? En The Satanic Verses van Rushdie?”
Maggie het ’n bietjie verlig haar asem uitgeblaas.
“Nee, ek het nie. Ná Frans se dood wou ek veral nie sulke soort goed lees nie. Sy sienings oor godsdiens het my altyd net ontstel en deurmekaar gemaak.”
“Dis oukei, as daar iets so verskriklik gebeur, probeer ’n mens wegkom van te veel dink, ek weet. Dit moes baie erg gewees het vir jou.” Mignon het probeer om te troos te midde van haar eie verwarring.
“Maar moenie worry oor my nie! Ek is fine.” Sy het gegryp na ’n ander onderwerp: “Onthou jy die stories wat ons uitgedink en geskryf het? Voor ek weg is daardie jaar? Die swart hardebandboek, dit het by jou gebly toe ek weg is. Wat het daarvan geword?”
Maggie kon nie onthou nie. Wat hét van die boek geword – dit was een van die belangrikste dinge uit haar skooljare, maar toe sy en Frans getroud is, het byna alles uit haar kindertyd êrens in ’n boks of twee by haar ma se huis agtergebly.
“Ek sal my ma vra,” het sy geantwoord. “Dalk lê dit in die trommel met my kinderboeke. Ek dink so, definitief.” Sy was bly dat Mignon onthou het; dit was ’n bruggie tussen tóé en nóú, iets waarmee ’n mens die diep rivier daaronder kon trotseer.
“Nee wat. Ek vra maar net, dis niks om oor te worry nie, dit was sommer kindernonsens. Niks in vergelyking met die regte storie nie.” Dit het geklink of Mignon nie regtig omgee nie.
“Hoe bedoel jy, watse regte storie?” Mignon het van altyd af die interessantste idees gehad; goed wat ander mense nie kon raaksien of -hoor nie. Maar sy het die onderwerp weggewaai soos jy ’n vlieg met jou hand wegjaag.
“Sommer maar. Op ’n dag sal ek sorg dat jy weet. Kom ons gaan stap ’n ent voor ek terugry. Ek is nog nie lus vir daai koue, leë flat nie.”
Hulle het sonder praat afgestap na die Hoofweg. Daar was ’n troebelheid in Maggie se binneste; hoe min het sy die kind van destyds geken. Hoeveel meer was daar nie as die paar dinge wat sy destyds geweet het nie. Sy kon die laerskoologgende terugtregter deur die tye. Maandae se saalbyeenkomste in die skool met die 1953-Bybel en die NG Kerk se sondeboodskappe. Die streng werketiek: ’n kind van die Here vertrou op Hom, maar dan moet hy alles insit, hardloop om eerste oor die wenstreep te wees. Werk, want die nag kom nader. Veral die kere wat haar pa die godsdiensles gelei het.
En Mignon wat buite die saal staan, rug teen die dubbele houtdeur. Weggaan daar, dit mag sy ook nie.
Die res van die week se godsdiensperiodes in klaskamers het die reuk van onderarmsproei van meisietjies wat begin grootword, die surigheid van die seunskinders se kaal voete. Bordkrytpoeier op die houtvloer en Elnett haarsproei, blink gelak om die juffrou se hoë geteasede haredos.
In rye staan hulle teen die baksteenmure soos wat hulle van buite af ingeloop kom; meisies aan die een kant van die deur, die seuns anderkant. Die onderwyseres wag. Absolute stilte, dan eers kan hulle instap, skape wat op ’n herder vertrou. Een vir een loop hulle, agter mekaar, tot hulle langs die tweesitplekbanke staan. Die seuns lig die klappe van die banke aspris op en af sodat dit skree en juffrou Botha moet raas voordat hulle kan sit.
Eers trek sy die aanwesigheidsregister nader, merk al die name af en tel dan die Bybel van die tafel af op.
“Juffrou, mag ek asseblief …?” Mignon steek haar hand op. Elke godsdiensperiode moet sy opnuut weer vra. Dis ’n skoolreël.
Van waar sy langs Maggie sit, staan Mignon op toe die juffrou haar kop knik. Juffrou Botha se gesig het ’n jammerkry-uitdrukking vir die kind wat van die Bybel-en-bid moet wegloop.
Onder Mignon se skoolskoene slaan die stof in klein wolkies op soos sy tussen die twee rye deurloop na die voorkant van die klaskamer. Haar hand draai die deurknop, sy stap uit, trek die deur agter haar saggies op knip.
“Hoekom dan?” het Maggie ná al die jare wat verby is, gevra.
Mignon het net een of twee sinnetjies gesê. Iets soos: “Ons mag nie met ander gelowe gemeng het nie.” En: “Dit sou ons ongelowig en heidens maak as ons na ’n ‘verkeerde Bybel’ se boodskap luister. Ons het net die New World Translation gebruik. Maar nonsens, dis wat dit was.”
Op ’n Dinsdagoggend, hulle was in standerd drie, het Maggie se pa haar laat roep net nadat die rye in die klasse ingestap het. Sy kantoor was langs dié van die skoolhoof. Sy het geskrik toe sy haar naam oor die interkom hoor. Het hy haar en Mignon met mekaar sien praat?
Maar haar pa gee die kosblik wat sy by die huis vergeet het en wat haar ma by die skool kom afgee het, in haar hande. “Sorg dat jy in die vervolg nie so nalatig is nie, Maggie. As ek bevorder wil word, moet my eie kind ten minste ’n voorbeeld vir die ander wees. Dit was nie maklik vir my om tot hier te kom nie – om vir die Afrikaners te wys ek is ’n Ier en aan hulle kant – nie ’n Engelsman soos hulle dink nie.”
Sy loer in die kosblik terwyl sy terugloop klas toe. Op die toebroodjies is kouevleis wat oorgebly het van die vorige aand se ete en een van die lang, taai pienk lekkers wat ’n mens ook by die snoepwinkeltjie kan koop, is onder ’n stukkie waspapier ingeskuif. Haar ma se troos vir haar pa se raas.
Deur die vensters van die gang sien sy waar die werkers groot steiers teen die ou gebou langsaan neersit om te begin verf. Die nuutaangeboude stuk van die skool ruik na sement. Sy klim met die twee stelle trappe op, stadig, want sy is min lus vir die geskiedenisles wat ná die godsdiensperiode kom.
By die venster, regoor die deur van hulle klaskamer op die tweede verdieping, staan Mignon steeds. Binnekant hou die juffrou nog godsdiens. Sy hoor haar stem wat ernstig op- en afgaan soos dit die Bybelwoorde “liefde” en “genade” lees.
Mignon se elmboë druk op die vensterbank, haar kop steek halfpad uit om buitentoe te kyk en haar rok hang skeef soos sy vorentoe leun. Maggie loop tot by haar sonder dat Mignon haar sien. “Wha!” Sy druk met haar vinger in Mignon se sy.
“Nee, man!” Mignon se ligbruin kop ruk terug deur die vensterraam. Haar gesig is blekerig, nog witter as wat haar ligte vel gewoonlik is. Rondom haar tieroog-oë is die wit die ene rooi aartjies.
“Wat is dit? Hoekom huil jy?”
“Niks nie.” Mignon draai haar kop heen en weer sodat haar poniesterte skud. “Jy moet ingaan. Die klok gaan nou lui. Juffrou sal sê ons het buite staan en praat, en dis klaar erg genoeg. Los my net.”
Maggie loop na die klaskamerdeur. Sy moenie verder vra nie; dis of Mignon besig is met iets waarvan niemand mag weet nie. Soos wanneer Maggie self in die sleuteldagboekie wat haar niggie vir haar verjaardag gegee het agter ’n toe kamerdeur sit en skryf.
“Gaan my nie verby, o, Heiland,” sing die kinders toe sy by die klas inloop. Die klok lui; die kinders buk na hulle tasse en haal hulle boeke en potlode uit vir die geskiedenisles.
Mignon druk die deur oop, vinnig, asof sy nie wil hê die ander kinders moet haar sien nie. Voordat sy by die agterste bank kan kom, steek Bertie sy been voor haar in die gangetjie. Haar knie knak sodat sy nie kom sit nie, maar hard en skeef in die bank val. Sy kyk met haar geel oë na Maggie toe die seuns se spotstemme onderlangs begin: Mignon van Mechelen, die Jehovas is gekkelen.
Die res van die dag praat sy nie. Aan haar onderlip is ’n bloedstippel waar sy haar stukkend gebyt het.
Die melk in Maggie se koffie het ’n vel gevorm in die tyd dat sy die gordyn terug op die stok en weer teen die muur gekry het. Sy trek dit met die agterkant van die teelepel oor die rand sodat dit nie aan haar mond moet raak nie; drink dan ’n slukkie. Dis koud. Lou. Omdat jy lou is, sal Ek jou uit my mond spuug.
Die muskiete is erg, die warmte en die vogtigheid van die reën bring hulle die huis in wanneer jy die deure oopmaak. Daar is donderweergoggas wat om haar voete swerm en teen haar bene oploop toe sy op die stoep gaan staan en uitkyk na die plataanbome en huise rondom haar. Dis net na ses, maar die verkeer is klaar woelig. Onder in ’n dwarsstraat loop ’n bergie met ’n winkeltrollie met alles wat hy bymekaargemaak het om te kan slaap en oorleef. Teen die voorkant van die waentjie het hy vir hom ’n nommerplaat vasgesit: CA 007.
Dalk moet sy vir Jan Staal bel. Dis die enigste persoon aan wie sy kan dink wat haar dalk kan help om met Bea kontak te maak. Veral omdat sy die vrou hoegenaamd nie ken nie. Maar eers moet sy die twee weke se opgehoopte wasgoed in die masjien sit en die velle papier wat oor haar lessenaar verstrooi lê probeer orden.
En die herinneringe aan haarself, Maggie McKairn die rooikophen, die onthou van Mignon van Mechelen, die aanhoudende, venynige uitjouery deur die kinders destyds – die Jehovas skiet spekkelen. Die dink aan die groot oordeel wat op elkeen wag. God Almagtig wat donder en bliksem oor jou uitroep, wat jou straf as jy sondig, tot in die derde en vierde geslag.
Nou, nadat Mignon dood is, het sy weer begin lees in die boeke wat sy aangedra het wanneer Maggie vrae gevra het wat sy nie self wou antwoord nie. Trombley se Kicked out of the Kingdom en Why I Left Jehovah’s Witnesses van Ted Dencher. Schnell se Thirty Years a Watch Tower Slave.
“Dalk verstaan jy beter as jy nog mense se verhale hoor; dis by verre nie net ek wat onder hierdie ding gely het nie,” het Mignon gesê toe sy die boeke in Maggie se hande gedruk het. “Maar ons wat kinders was rondom ’75, ons het met bewing die einde van die wêreld afgewag. Want ons sou daar wees – ons sou sien hoe alles tot niet gaan. En hoe die dooies lewend raak met ’n volledige liggaam en siel. Vir my en my broers en susters was dit ’n feit. Die Bible Students en die Russelliete, die Zion’s Watch Tower het hierdie dinge glo heel aan die begin as openbarings van Jehova self gehoor. Wie was die gewone mense om te stry? Hulle het soos bedelaars op die straathoeke na die waarheid staan en vra, en die antwoorde weer vir hulle kinders ingegee. Sommige meer fanaties as ander, dis waar. Sommige soos my ma.”
Sy het lank stilgebly voor sy weer gepraat het: “Weet jy hoe het ek nagte lank in vrees gelê en wonder oor wat met my oupa gaan gebeur? Hy is dood nadat hy gangreen in sy been gekry het. Waar moes sy gesonde been vandaan kom; wat het die dokters daarmee gemaak toe hulle dit afgesny het? Het hulle dit êrens in ’n yskas gebêre sodat dit nie vrot sou wees as hy dit weer terugkry nie, of sou dit die ou, dooie gangreen-been wees wat teruggeplak word?”
Mignon het ’n kort laggie uitgestoot. “Vandag weet ek dit was laf, maar as jy klein en nog dom is, is dit hoe jy kyk. Letterlik. Hoe ook, die idee van die siel en liggaam wat onskeibaar is, is baie oud. Die Getuies se hoofindoenas het dit uit die ou antieke geskiedenisse gaan haal. En natuurlik het hulle dit saam met ander sogenaamde openbaringe saamgeflans om ’n eie ideologie te vorm.
“Maar toe ek weggebreek het …” Mignon se stem het ’n verlangklank gekry, “toe het ek hulle soms ook gemis, Maggie. Die tannies wat Sondae geruik het na poeier en die geur van skottelgoedseep nog aan hulle hande. Die gemeente wat op doopdae almal saam met die nuwe dopelinge bly was; die saamteedrinkery en die Jehova-seën-jou’s wat saam met hulle soene op ons gereën het.
“Behalwe die Getuies het ek nêrens vriende gehad nie. As jy uitgaan, is jy ’n weesling in die buitewêreld.”
Dis Mignon se manier om die Getuies die een oomblik te kon verdoem en dan met ’n handomkeer ’n ander beeld voor te hou, waaraan Maggie dink toe sy die volgende dag op pad is na Jan Staal se kantoor. En die onherroeplikheid waarmee sy in ’n paar woorde Bea se lot op haar afgeskuif het.
“Jan Staal is nou ’n grootkop,” het een van hulle klasmaats teenoor haar staan en skinder in die kleedkamer toe sy en Frans haar matriekklas se reünie ’n klompie jare vantevore bygewoon het. “Hy’t goed gedoen; ek het nooit gedink hy het dit in hom nie.”
Dit het warm geraak in Maggie se nek. Die vrou was as kind al só. Maggie sou haar kop op ’n blok sit dat Gwen die een was wat haar man gedwing en gemanipuleer het om politikus te word. Nie omdat hy noodwendig ’n betekenisvolle rol kon speel nie, maar omdat dit die nuwe rigting was. Iets belangriks vir sy statusbehepte vrou om oor te praat.
Maar sy moet toegee, Jan Staal het ook haar verwagtinge oortref. Die boerseun met die geen-nonsens-houding en die groot hande het ver gekom. Sy kon nie glo die afgeronde, effens formele persoon was dieselfde mens as die boerseun met die bruuske manier van praat nie.
Ná die reünie het hy haar by die huis kom opsoek toe hy later van Frans se dood gelees het. Anders as die meeste mense het hy ’n egtheid gehad waarmee hy sy medelye uitgespreek het; anders as die gladde plastiekkranswoorde van die meeste ander mense.
By Monte Vista draai sy oor die brug, ’n entjie verder is die Engengarage. Te gou is sy verby die Chinese winkeltjie waarvan Jan Staal gepraat het. Sy kyk in die spieëltjie, ry effens links van die pad af en maak ’n vinnige U-draai om terug te ry na die hek waar die gronde van die Wes-Kaap se Korrektiewe Dienste begin.
Jan Staal se stem was vriendelik, hartlik, oor die telefoon toe sy hom geskakel het.
“Ja, natuurlik. Ek sal jou help waar ek kan. Kom praat met my by die kantoor, dan kyk ons wat ons kan doen. Ek het soggens so ’n klein stukkie tyd los voor ek met vergaderings en dinge begin. Gewoonlik is ek sesuur al op kantoor.”
Sy woorde het die skooljare se herinneringe in haar wakker gemaak. Hy was nog steeds die boerseun. Vroeg wakker, vroeg uit. Destyds moes hy soggens help lusern baal vir die buurman en dan nog hulle eie beeste gaan klaar melk en kool vir die mark sny voordat sy pa hom en sy broer met die bakkie by die skool kom aflaai het.
Die hek voor die rooi facebrick-gebou met die geel strepe is toe. ’n Wag met ’n uniform laat haar in nadat hy seker gemaak het haar besoek is vooraf goedgekeur. Buite hang die vlag van die Korrektiewe Dienste en die landsvlag. Stormvlae wat die wind kan trotseer.
Die sekuriteitswag by die deur neem haar na ’n kantoor waar ’n jong vrou in ’n kakieuniform agter dik glas vir haar beduie hoe om die besoekersboek in te vul. Haar hand wys in die gang af: “Mr Wandermurphy,” sê sy. Dit klink vir Maggie of die stem saam met haar treë in die lang gang af beweeg tot by die kantoordeur.
Jan Staal se plek. Streekhoof van Korrektiewe Dienste van die Wes-Kaap, so het die vrou die aand by die reünie gesê. Sy het nooit probeer uitvind nie; Jan Staal het ook nie gesê nie. Maar dis niks minder as die waarheid nie. Hier sien sy dit met haar eie oë, swart letters, in koper geëts.
Toe sy klop, kom maak hy die deur oop.
“Maggie. Kom binne, kom sit. Dis goed om jou te sien.”
Hy trek die blou gestoffeerde stoel duskant die lessenaar vir haar uit en gaan sit in die hoë lessenaarstoel aan die ander kant.
“So, waarmee is dit wat ek jou kan help?”
Dis nie net die breë houtblad wat hulle skei nie; daar is wêrelde tussen hulle. Kan sy van hom verwag om te begryp dat sy hierdie Bea-vrou moet opspoor? Hy sal haar uitlag as sy vir hom moet sê Mignon het vir haar ’n boodskap gelos om ’n gevangene wat sy nie eens ken nie te gaan opsoek.
Maar hy sit doodstil na haar en luister. Sy arms is rustig, lossies oormekaar gevou. Hy knip sy blou oë soos iemand anders sy kop sou knik om te wys hy begryp. Dis of hy regtig hoor, of die dringendheid in haar stem hom werklik raak; of hy besef dat sy nie ’n keuse het nie, dat sy hierdie ding móét doen.
Sy begin praat oor Bea, maar die deel oor Mignon se opdrag laat sy weg. Dis iets net tussen hulle twee. En hoe verduidelik sy?
Toe hy begin praat, kyk hy haar reguit in die oë.
“Dis teen die regulasies, Maggie; na regte mag ek jou nie eens sê waar die vrou haar bevind nie, selfs al sou ek weet. Ek het ook nie meer regstreeks iets met die gevangenes te doen nie, my werk is merendeel administratief. Maar ek gaan jou tog probeer help.
“Ek begryp nie mooi hoekom jy haar moet sien nie – jy sê dis nie familie nie, dis nie ’n vriendin nie – eintlik ken jy haar nie. Maar ek kan sien dat jy baie gedetermineerd is hieroor.”
Die foon skril tussen die bastone van sy stem deur. Toe hy klaar gepraat het, maak hy verskoning. “Jammer, dis die vergadering waarvan ek gepraat het. Ek sal moet gaan, maar ek weet nou wat jy wil hê. Ons sal weer praat.”
Hy loop met haar saam tot by haar motor, hou die deur oop terwyl sy inklim. “Skryf so gou moontlik ’n amptelike brief, noem maar dat jy musiekagtergrond het, en dat jy graag sal wil help met die koor, dit lyk my die beste plan om mee te begin. Later neem ons dit verder. Ek sal intussen kyk of ek ’n goeie woordjie vir jou kan doen.”
Daar kruip ’n laggie in sy oë. “Ek neem darem aan jy het nie planne om die vrou van kant te maak nie.”
En toe met ’n ernstiger, effens vraende kyk: “Of hoe …?”
Sy weet nie of sy haar moet vererg en of sy moet lag nie. Op pad terug bly sy dink aan die vreemde opmerking. Jan Staal het ’n aweregse sin vir humor ontwikkel – hy behoort darem te weet sy sal die vrou nie skade aandoen nie.
Terug by die huis wil die hek weer nie oopskuif nie. Beauty moet haar vanuit die sitkamer voor in die straat kan sien staan en die huis se kontrole druk, want opeens begin die hek tog beweeg. Sy staan met ’n opvryflap by die swaar mahoniebuffet toe Maggie van die agterdeur se kant af inkom; sy sing ’n Sjangaan-liedjie uit haar pa se land. Van moeders wat hulle kinders prys, hulle terugverwelkom by die huis, so het sy vir Maggie verduidelik toe sy eendag met Gerrit en sy vrou Françoise se foto’s voor haar gesit het. Kyk, hier is my kinders weer – Thimbya rimbya thimbya rimbya ku veleka i vukosi – hulle het my trots gemaak; o, kyk net my kinders, julle ander mammas, my kinders het huis toe gekom!
Sy hoor die verlange in die vrou se stem. Daar kom ’n knop in haar keel sit; dis of Mignon se dood die verlange na Frans en ook haar Gerrit-kind laat verdubbel. Die internet en e-posse kan nie die plek inneem van arms wat jou vashou nie. Selfs nie al kan sy hom met Skype deur die kamera se oog sien nie. Soms is dit eintlik erger: die sien en die weet, maar die onhaalbaarheid om wat werklik lyk aan te raak.
Sy maak tee, gaan sit een beker langs Beauty neer. In die blink wit van die oë wat na Maggie kyk, spoel die donker irisse weemoedig; hulle sien ’n land van armoede soos wat sy dit vir Maggie geskets het, maar ’n plek waar almal van dag tot dag vir mekaar sorg dra.
Haar stem en die melodie draal nog in die sitkamer toe Maggie na die studeerkamer loop. Frans se lessenaar het hare geword. Sy stoel is die een waarin sy gaan sit wanneer sy nodig het om te dink en te probeer verstaan.
Langsaan staan Mignon se kassie met die papiere in die eenvoudige geel omvoulêer wat sy die oggend nog vinnig in die laaitjie gedruk het. Sy trek dit oop, haal die pak uit, sit dit langs die verkreukelde papiertjie met Mignon se woorde wat sy uit haar handsak haal.
Haar Ouma-Plaas het altyd gepraat van ’n gestorwende se “wil”, net so uit die Engels vertaal. Nou begryp sy. Dit was Mignon se wil, dit is soos sy dit wou hê. “Jy sal sien,” het sy destyds gesê, die middag toe sy saam met haar pa en ma weggery het uit Kuilsrivier.
Maar wat is dit wat sy nog wou skryf? Die woord wat sy doodgetrek het? “Al …” – en toe besluit het om dit tog nie te sê nie. Al wát …?
Mignon se gedagtes is soos die items in ’n Pandora-boks. Maggie se vingers vou die skutblad om; haar oë raak aan die dood, maar ook aan die lewe van Mignon. Net só kan sy uitkom by dit wat heel onder lê; die laaste onthulling in die boks, die hoop. As daar so iets is.
Ek moet begin praat. Ek moet begin praat. Ek moet begin … praat.
Dis asof Mignon nie kon besluit watter perspektief die belangrikste is nie. Die eerste bladsy is ’n herhaling van die een sinnetjie oor en oor. Die letters al skewer, al slordiger. ’n Eggo van die koorsagtige poging waarmee sy die woorde moet uit; die inspanning om terug te gaan in die tyd, om dit weer te beleef.
Onder die laaste gekrapte sinne op die blad is ’n reël gevul met net die woord “ek” – al kleiner wordende, totdat die ink later blote punte is wat teen die regterkant van die blad afloop.
Maggie blaai ’n paar bladsye om.
Ek is nie spyt nie. Dat Ma dood is kan my nie ’n moer skeel nie. Sy het my weggesmyt. En tog. Dit was ’n skok toe ek Marie wat daai tyd saam met my by Stuttafords gewerk het, vanoggend in Pretoria raakloop. Drie jaar al is Ma dood en niemand wat ooit laat weet het nie, nie een van die susters nie, nie Ruben nie, of José.
Maggie hoor Mignon in die sinne op die blad, sien haar asof sy voor haar sit met die pen in die hand. Die pinkie van haar Getuie-maatjie het skeef aangegroei nadat sy een oggend voor skool na ’n seun geklap het en twee vingers teen die skoolbank gebreek het. Die volgende paar weke het sy ’n lap om haar hand gehad, self omgedraai. Haar ma het haar nie dokter toe geneem om die vingers te spalk nie.
Die spul Amerikaners het soos bedwelmde vlieë voor oompie Russell geval. Fokken bedrieër. En Rutherford, met die titel Judge wat hy hom toegeëien het. Slimmer en inhaliger nog as die eerste een. Koud en afstandelik, so sê die boeke van ander eks-Getuies. Het niemand in my familie ooit verder gedink nie, ten minste probeer kýk waar alles vandaan kom nie?
Hoe is dit moontlik dat die volgelinge nooit die kloutjie by die oor kon kry nie? Nie destyds nie, en nou nog steeds nie. Terwyl die Watch Tower aanhoudend die feite verander en die datums verskuif.
Armageddon. Die eindtyd. Soveel mense wat soveel kere gebuig het voor nuwe datums. Here. Ek bedoel Jehova. Nee, bliksem, tog. 1914, 1925, 1975. Alles gegewens om mense net te verwar en bang te praat. Goddank – nee, wie de hel hét ek om te bedank – maar ek is daar uit.
Dalk is dit vir my die ergste. Ek, Mignon van Mechelen, is die kind van fools. Soos die res van die gebroedsel. Ek weet nie eens wat van een van hulle geword het nie. Gee ook nie om nie. Nie een van hulle het ’n hand gelig om my te help nie … ek het iemand so nodig gehad. Hulle het my gedwing … weggesmyt. Hoop gehad vir Alexa … maar sy sou my laat weet het as Ma … sou sy nog lewe … moes haar saamgevat …
Die sinne raak al hoe deurmekaarder, die taal onsamehangender. Soms is dit of Mignon in een inskrywing wissel tussen ’n paar verskillende persoonlikhede.
So baie opgehoopte goed. Voel of ek opgeblaas is; constipated. Soos een wat te veel turksvye geëet het. Die harde stukke kom nie uit nie, dis seer. Weet nie meer wat alles binnekant is nie. Van watter satanskos het ek geëet – hoe raak ek ooit van al die gemors ontslae. Wie is Hy? Ís Hy ooit? Hy wat die Getuies sê die aartsengel Michael was voor hy aarde toe gekom het. En toe Jehova se eerste skepping geword het. Wat die res kom maak het. ’n God, maar nie God self nie.
Ek het Hom hom gelos; ek kon net nie meer glo nie. Daar was nog die Ander Een, maar hom het ek nie leer ken nie. Die een van Kersfees en die krip. Die een by wie ek nie durf kom het nie, want rondom hom was daar geskenke en Kersboompies met liggies. Jaareindes het ek in die skoolgange gestaan, gehoor hoe die ander Kersliedjies sing, my betrap dat ek saamneurie. Dan: Ma se plathand by die huis as sy die wysies hoor. Heidens! Oorgeneem van ou afgoderye. G’n presente vir die kinders van die Getuies nie; bome met foelie en blink sterre en balletjies nie. Lucky packets met papierhoedjies en trifles met vyfsente en jellie en vla en cherries nie. Gewone dag. Sonder ’n Betlehemster. Netjiese rokkie aan, op pad tussen die huise. Twintig uur ’n week se werk vir Jehova as jy ’n gewone lid is; honderd ure as jy ’n pioneer word. Ons, weerskante van pa en ma – die spruite van hul liefde. Ga! Liefde!
In my drome hoor ek nog altyd die geklop aan die deure. ’n Man of vrou wat geïrriteerd oopmaak. Dan die vinnige toeklap, die plank twee sentimeter van my neus. Dis wat ons moet opneem en dra, sê Ma. Nie kruis nie, nee, strafpaal. En nie een van hulle het ooit geweet dit gaan als om die leiers wat daarbo sit en hulle misbruik nie. Duisende rande se boeke en Watch Towers. Nee – miljoene. Ontwaak. Arme flippen fools.
Mignon se bitterheid is geroeste spykers wat in Maggie se maag steek. Wat weet sy werklik self van die godsdiensgroep waaruit Mignon kom – het die misnoeë wat uit haar woorde spreek nie dalk ook ’n ander oorsprong nie?
Wanneer Mignon dit oor godsdiens gehad het, het sy gelyk soos die aanbieder van The Weakest Link, Fiona Coyne. Dieselfde skerp oë, die brein wat die gehoor en deelnemers ver vooruit is; die skeptisisme en die vlymtong wat die swakste skakel in die program sou ontmasker voor hy selfs ’n tweede vraag kon kry. Fiona, wat helaas ook ’n dood gekies het soos Mignon.
Soms probeer sy ander opsies vir Mignon versin, soos wanneer ’n mens skaak teen jouself probeer speel; betrap sy haarself daarop dat sy haar probeer omvorm tot iemand wat tot ander oortuigings kom. Asof sy haar ná die dood tot ander sienswyses kan dwing. Kan red, en verby Petrus se onverbiddelike poort die hemel kan insmokkel.
Sy weier om te dink dat die Mignon wat sy geken het net die as-oorblyfsels is wat sy uiteindelik moes gaan afhaal.
Tussen die cloisonné-vase wat sy destyds uit China saamgebring het, staan Mignon se boksie met oorskot langs die leë kruikie waarin Frans se as was. Dít het sy en haar skoonouers op ’n herfsoggend uitgestrooi oor die see by Agulhas. Frans gaan tog nog weer op reis, het sy gedink. Maar Mignon – sy weet nie waar sy met haar reste moet heen nie.
Haar tee is op; sy gooi die laaste straaltjie met ’n paar teeblare daarin in die wasbak se gaatjie af. Die foksterriërs van langsaan kef al weer. Menige keer het Frans wanneer hy die adrenalien-gedrewe duiweltjies hoor, in die agterdeur gestaan en raas terwyl hy met ’n bewolkte uitdrukking na die heining kyk: “As ek nie nog hondemoord pleeg nie!”
Deur die blokkiesvenster voor die wasbak sien sy hoe oom Hans die honde roep en oor hulle koppe vryf. Die blaffery maak niks aan sy dowe ore nie. Hy haak die leibande om hulle nekke en hulle begin opgewonde rondspring; dis die hoogtepunt in hulle daaglikse bestaan, die sypaadjies en verbygangers wat wag.
In die naaldeik hang die skrikpop doodstil en wit. Die suidoos het gaan lê.
Dis of sy ingesuig word, of sy in ’n spieël sien wat honderd maal vergroot: die pop beweeg nader aan waar sy staan totdat die gesig reg voor haar is.
Die dooie geverfde oë word dié van Mignon, geelbruin oë wat met haar praat: Gaan na Bea toe, Maggie. Gaan soek haar. Jy wat nog steeds glo aan die Voorsienigheid – doen dit vir my.