Читать книгу Getuie - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 8

HOOFSTUK

Оглавление

4

“Ek is moeg, sat van hierdie lewe. There’s no justice in court.”

Mignon het gebel toe sy uit die hof gekom het daardie middag. Daar was pers skaduwees onder haar oë toe sy in die stoel in Maggie se voorkamer neersak.

Vir lank sê sy niks. En toe: “Ek is ’n mislukking. Daardie man moes losgekom het, en ek het hom gefaal. Hom óók.”

Maggie het vir hulle elkeen ’n glas shiraz ingeskink, maar na drie slukkies sit Mignon hare op die tafel. “Ek het genoeg gehad.”

“Is dit ook iets wat die Getuies verbied het?”

Maggie wens sy kan die woorde terugsluk. Sy kon Mignon se skeptisisme in haar eie stem hoor eggo. Maar nou is nie die tyd om daaroor uit te vra nie.

Die kyk in Mignon se oë verander. “Nee, dit het niks daarmee te doen nie, trouens, dis een van die min dinge wat nie heeltemal verbied is nie. Rook was uit die bose, ja, want dit is ’n verslawing. Volgens hulle. En as verslaafde het jy deel aan spiritisme. Bid jou dit aan. Die ouderlinge het oneindige verse uit die New World Translation aangehaal. Oor die liggaam wat ’n tempel is, wat Jehova s’n is, wat in sý diens moet staan.

“’n Aangetaste mens kan nie die res van die mensdom bekeer nie.” Haar laaste woorde het ’n priemende klank.

“Maar dis nie wat die Getuies gesê het nie, hoor, hulle wou nooit niemand ‘bekeer’ nie, hulle wou maar net die waarheid deel met die arme drommels wat verlore gaan.”

“Het jy nooit agtergekom dat julle bedrieg word nie? Ek bedoel, vroeër, toe jy nog ’n kind was, en op skool? ” Sy weet sy moes nie gevra het nie, maar Maggie kan haarself nie keer nie.

Mignon se oë en haar mond spoeg gif – ook na haar toe.

“Jy vra my of ek nooit besef het dis ’n spul leuens nie? Wel ek vra jou: het jy nooit agtergekom dat die Nasionale Party en sy beleid die grootste gros wit mense mislei het nie? Het jy nooit besef dat jóú kerk sy mense agter die NP aan lei nie? Godsdiens as middel, tot ’n heel ander doel as wat die gewone gemeentelid besef het. Die Getuies het ten minste enige soort mens in die kerk toegelaat, wit, swart, bruin.

“Hulle is glad nie die enigste sondebokke nie, jy kan maar gaan kyk, al die groepe het iets wat nie kosjer is nie. Die ekstremes, maar ook die sogenaamde normale kerke. Dis die institusie en die leiers wat die mense op dwaalspore lei, wat wette maak wat met God niks uit te waai het nie. Die gewone mense weet nie.

“En hoe onderskei ’n mens ooit tussen reg en verkeerd as jy net aan een enkele denkrigting blootgestel word? Die Getuies se leiers het die mense soos skape aangekeer; broers en susters, almal agter mekaar, met stokke wat van weerskante in die sye druk wanneer een van die trop ’n halwe poot links of regs uit die tweespoorpaadjie trap.

“Ons is geïndoktrineer om die publikasies van die Wagtoringgenootskap as die hoogste waarheid te aanvaar. Die koerante is gebruik om te wys hoe naby die einde is. Jy weet, wat die Bybel noem ‘oorloë en gerugte van oorloë’. Maar ’n mens kom dit nie agter nie. As jy gebore word in ’n stelsel, aanvaar jy wat aan jou voorgehou word. Eers later, eers wanneer jy die onversetlikheid en oordeel aan jou eie lyf voel, dan begin jy oplet.

“Die teenstellings het ek eers nadat ek uit is, regtig gesien, toe ek begin lees het oor Russell en die ander. Oor hoe Rutherford uitvindings soos die televisie en roltrappe en motors verklaar het as tekens dat Jehova se Koninkryk aan die kom is, dat sy regering reeds begin het.”

Maggie weet nie wat vir haar die ergste is nie – Mignon se seer stem, of die aggressie wat uit haar binneste kom. Sy steek haar hand uit na haar, maar Mignon staan op, loop kombuis toe en spoel haar glas onder die kraan uit. Sy keer dit op die droograkkie om en draai na waar Maggie in die deuropening staan.

“Jy het ten minste ’n kind,” sê sy. “’n Erfenis.”

“Erfgenaam, bedoel jy?” Maggie probeer om die sprong in Mignon se gedagtes te volg, maar daar is skakels wat sy nie kan optel nie.

“Nee.” Mignon skud haar kop heftig. “Nee. Dis iets wat jy self het. Iets wat jy gekry het. Iemand wat jou sal onthou, wat sal weet dat jy daar wás; iemand vir wie jy iets beteken het. Wat sal weet jou lewe was nie verniet nie.”

Haar stem is ’n kil luggie wat teen Maggie se nek roer.

“Ai, Mignon, jy is dan ’n advokaat, iemand wat soveel mense al gehelp het. Jy het reggekry wat die meeste ander nie sou kon nie. Om later op jou eie te gaan studeer al was dit in jou huis verbied deur jou ouers. Moenie vaskyk teen hierdie een saak wat vandag nie uitgewerk het soos jy gehoop het nie. Jy is ’n gerekende mens in jou veld. En jy het vir my. Jy weet wat dit vir my beteken dat jy my opgespoor en kontak gemaak het.”

Haar woorde is yl in haar eie ore; hoe laat ’n mens iemand glo dat jy regtig omgee?

Mignon gee ’n paar treë in die rigting van die deur. Maggie mik om haar terug te hou, maar dis stywe arms wat haar wegkeer. Die kombuishorlosie se elke tik is hoorbaar tot in die sitkamer.

Dis die foksterriërs se geblaf van langsaan wat Mignon na die werklikheid terugbring. Sy gee ’n kortaf laggie. “Moenie worry nie, niks major nie. Dis sommer maar iets wat ek onthou het, rêrig niks om oor slapelose nagte te hê nie, liewe Maggie.

“Ek moet gaan, daar is ’n saak waaraan ek vannag nog sal moet werk voor ek my kliënt môre kan sien. En ek wil dink oor hoe ek die man wat vandag gevonnis is, gaan oortuig tot appèl.” Mignon se lyf is nog daar, maar sy self is lankal op ’n ander plek.

Op pad na die voordeur gaan staan sy by die kalender met foto’s van fynbos wat teen die muur bo die klavier hang; trek met haar vinger ’n denkbeeldige kring om die dag se datum. 15 April.

Dan kyk sy na die foto langsaan van Gerrit op sy eerste skooldag – ’n klein seuntjie met ’n tassie in die hand, blinkgewaste gesiggie wat na die kamera glimlag. Reg om die lewe in te gaan.

“As ek dit kon hê,” sê sy toe sy met die stoeptrappies afloop. “As ek dit maar kon hê.”

Maggie bly op die stoep staan. Die motors en winkelvensters se ligte wat bo die geboue opslaan kleur die skemer in bonatuurlike neonnuanses. Waarom sou Mignon gekies het om advokaat te word? Sy moet tog geweet het dat reg en geregtigheid nie noodwendig altyd in die hof seëvier nie. Of is dit die onreg teen haarself wat sy op dié manier wou probeer besweer?

Noudat sy met Jan Staal gepraat het, noudat sy weet sy gaan Bea waarskynlik wel in die tronk kan sien, is Maggie se gedagtes ’n roesemoes van bisarre tonele. ’n Jazzrockmozartblues van klanke en gevoelens wat deurmekaar loop; dinge wat hulle sonder waarskuwing by haar kom opdring. Die terugdink aan daardie laaste aand wat Mignon haar ontgogeling by haar kom uitstort het, en haar eie ontoereikendheid om raak te sien hoe diep sy weggeraak het, trek haar in ’n onderwêreld in waaruit sy moeilik weer boontoe kan kom. Sy het met lae en lae blinddoeke om haar kop rondgeloop.

Sy maak haar oë toe; as sy net ’n paar minute kan ontspan, aan ander dinge kan dink voor sy moet aantrek om na die gevangenis te ry. Maar dis die besoek van ’n klein groepie mense op ’n wintersmiddag kort na Frans se dood wat haar brein oproep. Nog voor Mignon teruggekom het en haar meer vertel het.

’n Klop aan die deur, net die regte hoorbare geluid. Beskaaf, maar nie beskroomd nie. Deur ’n skreef in die gordyn voor die slaapkamervenster loer sy na die geselskap op die stoep. In die man se hand is ’n tassie soos die van iemand wat versekering verkoop, maar daar is iets aan die houding wat ’n ander identiteit verklap.

Vir ’n rukkie bly sy die klop ignoreer. Die dogtertjie aan die vrou se hand staan kop onderstebo, loer onder haar kuifie deur na die voordeur. Ag jaar? Nege?

Maggie loop deur toe en maak dit op ’n kiertjie oop. Die man sit sy been oor die kosyn sodat sy die deur nie vinnig kan toedruk nie.

Die dogtertjie trek haar rokkie ver oor die kniekoppe toe hulle gaan sit. Die vrou kyk na haar man, sy tassie is reeds oopgeknip. Aan die ander sy van die pa sit die seuntjie; sy hare staan regop by die kroontjie. Sondagoggend. Hy behoort in die kategese te gewees het. As hy in die NG Kerk was. As hy nie ’n Getuie was nie.

“Glo u dat Jehova die enigste en allerhoogste mag is?” Die man se stem is sag, maar goed gemoduleer. Sy stem dra die korrekte graad van belangstelling en afstand.

“U moet weet dat sonder geloof in Jehova, en sonder die antwoorde wat ons op ons vrae van Hom af kry, ons nooit die nuwe aarde sal bewoon nie.”

Sy hoor hoe die woorde van sy tong afrol en op die klipgrond val. Daar waar dit in die strale van die son kan verskroei.

“Ons het gehoor dat u u man verloor het, en sal graag vir u wil bystaan. Daar is ook dinge uit ons publikasies wat ek vir u sal wil wys. En dan sal ek graag vir u ’n gebed doen.”

McKairn se stem bars deur haar gedagtes, sy oë is vuurkole, rooi soos sy hare: Sê jy sal vir húlle ’n gebed doen – dan sal jy sien hoe hardloop hulle die deur uit!

“Net ’n klein groepie mense sal saam met Jehova en die aartsvaders regeer wanneer die eindtyd hier is. En dit is naby, nader as wat u dalk dink. U kan deel wees van hierdie groep; u kan ook deel wees van diegene wat gelukkig en in vrede die nuwe aarde sal bewoon, die gees en die liggaam as een.” Die woorde van die man het soos ’n stroom koel water geword; dis die klank daarvan wat kalmeer eerder as die inhoud. Hipnotiserend byna.

Die man is ’n kunstenaar, dink Maggie, hy moes liewer ’n akteur geword het.

“Ons moet wakker wees vir die versoekings en die dwalings waarvoor ons te staan kom, en ons moet leef soos Jehova wil hê.” Hy slaan die Bybel oop. “Kom ek lees vir u wat die Bybel sê. As u glo, sal alles vir u goed uitwerk.”

Die woorde wat so sag en salwend oor haar begin vloei het, raak warmer, dit begin haar brand. Hierdie Jehova, hoekom het Hy nie gesorg dat Frans bly leef nie, Hy wat alles vir almal goed wil laat uitwerk?

Sy hou haar hand op, jok blatant: “Jammer, Meneer, ek kan ongelukkig nie langer na u luister nie; ek het ’n afspraak wat ek oor ’n halfuur moet nakom.”

Hy praat nie teë nie. Sy aanslag is puik, sy maniere onverbeterlik.

“Ons is jammer as dit vir u ongeleë is, ons wil geensins iemand verontrief nie. Wanneer u meer tyd het, dalk op ’n Saterdagmiddag, kan ons u weer besoek? Al wat ons wil doen is om die Waarheid met u te deel. Jehova wil ook vir u insluit in sy Koninkryk.”

Sy druk die deur agter die gesin toe. Die vrou het nog nie ’n woord gesê nie, die kinders ook nie. ’n Voorbeeldige gesinnetjie. Hulle stap in die paadjie af. ’n Oomblik laat die man sy hand op die dogtertjie se kop rus, dan buk hy af en praat met die seun.

In haar gedagtes hoor sy hom: “Kinders, ons moet onsself gelukkig ag; om vervolg en beledig en weggewys te word, is ’n teken dat ons Jehova se uitverkorenes is. So sê ons Bybel en die Wagtoring. Vanaand, wanneer ons klaar is met die besoeke, lees Pappa weer vir julle die verse in die Bybel.”

Maggie se kop maak ’n sprongetjie na dit wat Mignon haar agterna vertel het oor Rutherford se teorie. Hy staan op die verhoog, ’n orator aan die woord.

Die hart is die setel van die mens se emosie, en daar waar die hart en die fisieke brein met mekaar in gesprek tree, dis waar die mens se gedrag bepaal word …

Voor hom op die podium is ’n reusagtige rooi kunshart en ’n groter as lewensgroot groen brein. Wanneer die hart begin praat, gaan ’n rooi lig in die hart aan en wanneer die brein praat, begin die groen lig skyn, so verduidelik Rutherford. Die mense hang aan sy lippe en klap hande. Loof en prys Jehova. Loof en prys Rutherford nog meer.

Dis ’n teater van die absurde waarin Maggie nie net toeskouer nie, maar ook medespeler is. Tussenin klink Mignon se stem telkens:

In ’45 is die inentingverbod wat die Getuies uitgevaardig het, ook gevoeg by die verbod op bloedoortappings, maar in die 1950’s is inentings weer toegestaan – toe was dit nodig, want die hoë offisiere van die Getuies het inentings benodig om internasionaal te kon reis … in 1967 is die oorplanting van organe beskou as kannibalisme, maar in 1979 het die leiers weer van wysie verander … Rutherford het ’n bomskuiling by Beth Sarim gebou … Radio Biola, ’n masjien om siektes te genees, word ontwerp … Groot onthulling: die groot piramide by Gîza is ’n skepping gebou op Jehova se instruksies … FOUT! In 1929 word ontdek dit was eintlik Satan se werk.


Maggie dwing haarself na die bewuste wêreld; sy loop na die studeerkamer, vat ’n stuk papier en begin skryf. Sy kan nie met hierdie deurmekaarlopende gedagtes by die tronk opdaag nie.

Haar sinne loop bo en onder die blou lyntjies langs, maar sy dryf haar pen; sy probeer die gegewens orden: die onthou van wat Mignon vertel het, dit wat sy op die internet lees, die intens persoonlike ervarings wat sy uit Mignon se dokumente te wete kom. Haar eie vrae. Die irriterende stemmetjie wat bly wonder: Is dit regtig alles bedrog? Is dit nie maar ’n geval van die Westerse oor wat die Oosterse musiek se tussennote as vals ervaar nie? Die kommas tussen die note waaraan sy self nie gewoond is nie, die klank van Indiese of Turkse musiek – vreemde instrumente waarvan die note vir die ongeoefende brein verkeerd op die oor val.

Wat haar die meeste verwar, is dat die Getuies soveel van hulle voorspellings en leringe herroep en verander het deur die jare. En dat die gewone volgelinge hulle so laat manipuleer het. Maar sy weet dis soos Mignon gesê het. Dis ’n geval van iemand wat ’n absurde idee kry en dan met sy charisma die duisendes agter hom laat aankruip. Ook Malema het hipnotiserende mag. Soos Verwoerd voor hom. En Terre’Blanche.

Al hoe meer voel dit of godsdiens maar net nog ’n soort politiek is.

Sy loop kombuis toe, maak die yskas oop. Die laaste bietjie boksmelk was suur toe sy vanoggend wou koffie drink. Swart koffie dus, totdat sy by die supermark kan uitkom. Jasper kyk haar verwytend aan toe sy net die droë hondepille uitgooi.

’n Paar dae vantevore het Jan Staal haar laat weet haar aansoek om die gevangenis te besoek is goedgekeur. Maar hy was streng, en ernstig.

“Ek het ingesit toe jou versoek oorweeg is, gesê soos ons gepraat het – dat jy met die persoon wat die koor hanteer wil gesels. Dat jy met jou musiekagtergrond dalk tot hulp kan wees. Ek het ook genoem dat jy miskien met van die gevangenes sal wil gesels, hoor waarmee hulle besig is met die koor, en vra waar jy dalk ’n inset kan lewer. Ook gesê jy sal dalk nog gevangenes kan oorhaal om koor te sing, dis altyd iets wat die Korrektiewe Dienste hoog aanslaan. Die hoof het ingestem tot jou besoek. Maar dis steeds ’n moeilike posisie waarin ek my plaas; wees asseblief versigtig met wat jy doen. Onthou, sekuriteit en sekerheid is prioriteit binne die hekke van die tronk.

“Jy kan dus praat met die inmates, ek het so gereël – met Mostert ook, as sy sou wil. Maar net in die algemeen, en jy móét eers die beampte se toestemming hê. En jy kan beslis nie op hierdie stadium reeds met Mostert alleen ’n gesprek hê nie. Dit val net te vreemd op.

“Kry eers ’n gevoel van die hele opset, dit sal in elk geval goed wees as jy al die verskillende afdelings besoek. Dit sal jou help om te sien wat aan die binnekant aangaan, en dit sal jou ook help om Mostert beter te begryp. Dis te sê ás sy later toestem dat jy met haar gesels.”

In die afgelope weke voel dit vir Maggie of sy voortdurend aan geestelike vertigo ly. Dinge wat moet stilstaan, beweeg rondom haar en andersom. Maar uitstel kan sy nie nou nie; dalk is dit die enigste keer dat sy Bea sal sien. As sy klaarkry hiermee en dan nie verder kans sien nie, kan Mignon haar nie kwalik neem nie.

Sy maak die lêer op die lessenaar weer oop. Die koffie uit die beker in haar ander hand spat oor die blad; sy vee die bruin druppeltjies ongeduldig met haar hand af. Die papiere het geen definitiewe volgorde nie. Dit lyk of die polisie toe hulle klaar na die stukke gekyk het dit sommerso lukraak teruggeprop het.

’n Handskrifdeskundige sou waarskynlik min of meer die ouderdom kon vasstel waarop Mignon wát geskryf het, maar ook in stukke wat sy kennelik nie lank voor haar dood geskryf het nie, is daar soms kinderlike handskrif, wanordelike skewe letters. Regressie. En partymaal die harde kragwoorde en verwensings soos dit soms ook uit haar mond gespat het.

Waar is die Mignon van Laerskool De Kuilen – die goue-sterretjie-kind? Die tien-uit-tien-vir-skrif-dogtertjie? Die nimmer-lelikpraat-Getuietjie?

Maggie wens sy kon die tyd tussenin uitwis, Mignon gaan haal voor sy saam met haar ouers weggery het uit Kuilsrivier daardie dag. Sy trek ’n groenerige papier uit die lêer; dis die agterkant van ’n gekanselleerde dokument waarop geskryf is.

Wat neuk ek om nog meer te lees en neer te skryf? Dalk om na te kyk wanneer ek verlang, wanneer ek wens om iemand van vroeër te sien – sodat ek my dan kan staal, dat ek weer kan weet hoe korrup dit was. Russell met sy wonderkoringsaad – verkoop aan die gullibles teen ’n dollar ’n pond, met die belofte van ’n opbrengs soos nooit tevore nie, liewe Broers en Susters!

Sodat ek kan onthou hoe sy getroue, onnosele agterryers hom bygestaan het toe hy deur die Brooklyn Daily Eagle aangekla is. Die arme Charles, sies tog, hy was eintlik self die slagoffer van swendelary!

“Inkvis,” dis wat hy homself genoem het, hy het gevat wat hy kon – met tien pote wat kon gryp. Die drukkery, die boeke wat hy geskryf het, alles het net om homself gedraai. Die gewone Getuies moes sy vuilwerk doen, die smouswerk. Self die nie-Getuies wat die bouwerk aan Beth Sarim gedoen het, moes help verkoop. En later, liewe bliksem, later het hy hulle sommer ouderlinge gemaak. Mense wat niks van die Getuies geweet het nie. Enigiemand wat vir hom geld kon inbring, was goed genoeg.

Wil jy geld maak in Amerika? Word ’n Talk Show-aanbieder. Nee, wat van ’n nuwe dieet? Nog beter: Stig ’n nuwe kerk! Oprah, my Saviour! Oh, Doctor Phil, my Messiah! Hel. Kon Ma en Pa dan nie gesien het hoe fake alles is nie? Of een van my broers of susters later – Alexa? Et tu, Brute? Waar is jy tog?

Dis vele Mignons wat sy hoor. Die regsgeleerde wat die bedrog peil; die skerp ontleder, die ondersoeker na die valsheid. Die siniese volwassene wat die woede soms soos lawa oor die feite uitstort. Soms, ’n enkele keer of twee, die kind op die skoolterrein. Die froetang-etertjie.

Sy kyk op die horlosie. Dis nog maar sesuur. Toe sy klaar gestort en aangetrek het, is dit steeds te vroeg om te ry vir haar afspraak by die Worcester-gevangenis.

In die huis kan sy dit nie meer uithou nie. Sy ry na die naaste sentrum. Mall. Daar is niks soos ’n mall om haar te bedruk nie, maar dis die enigste plek waar sy teen aguur iets gaan kry om te drink. Cappuccino. Die toebroodjie wat sy afgesluk het met die swart koffie by die huis, sit in haar keel.

Haar koppie is te vinnig al leeg; dis net die skuimrandjies wat bo teen die dun porseleinwand kleef. Die kelner skuif ’n swart toevou-omslag voor haar in nadat hy nog ’n koppie op haar probeer afdwing het en sy hom nie sy sin wou gee nie.

Sy kyk op. Dis ’n jong mannetjie met netjiese swart hare, kort geknip; sy wange het ’n hoogrooi blos.

Op die rekening, boaan, is ’n versie as toegif: Lukas18:1 – Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.

Die jong man staan eenkant en wag dat sy die geld in die omslag moet sit. Is hierdie nou weer ’n bedekte skimp, iets om te suggereer dat hy eintlik op die randjie van moedeloosheid huiwer en dat hy geld nodig het, dat daar ’n groter fooitjie moet wees?

En as hy werklik opreg is met hierdie boodskappie wat hy vir mense aandra, is dit die plek en die tyd om dit te doen? Jesus loves you staan daar op die plakkate waarmee mense by die robotte staan en bedel. God seën u.

Sy weet nie. Die CSV-kringleiers van haar hoërskooltyd was daarop uit om almal ten alle koste te laat “getuig”. Of jy introvert of ekstrovert was, hakkelaar of redenaar. Maar niemand het hulle darem gekontroleer nie. Vir die Getuies was en is daar geen verskoning nie. Jy moet getuig om gered te word. Mignon was honend daaroor.

“Jóú kerk het gesê almal is klaar gered – vir wat moes ons so hard probeer, soveel deure in ons gesigte toegeklap kry? Nope. Daar is niemand wat jy kan glo nie, nie een nie.”

Maggie skuif die geld in die swart omhulsel. Die cappuccino het R18,50 gekos. Sy los ’n R20-noot; voel skuldig. En vies. Los my net, wil sy vir die man sê: alles is nie so eenvoudig soos wat jy dink nie. Van die lewe weet jy nog niks nie. Van mense soos Mignon en Bea begryp jou brose hartjie geen snars nie.

Die mis in die Du Toitskloofpas hang laag, byna tot teenaan die pad. Dit hou haar op, en toe sy Worcester eindelik inkom, ry sy verkeerd. ’n Paar keer moet sy vra voordat sy die regte pad verby PG Glass kry wat regs na die Worcester-gevangenis uitdraai.

By die sluithefbome voor die geboue word sy voorgekeer. “Mevrou moet Mevrou se karretjie daar in die parking area los.” Die sekuriteitsman het ’n vriendelike voortandlose glimlag.

“Het Mevrou Mevrou se selfoon in die kar gelos?” Sy het, ja. Jan Staal het haar dit op die hart gedruk.

Links van haar lê die tuine en grasperk. Randakkertjies met petunias en sierplantrissies. Nie ’n blaartjie waar hy nie hoort nie.

Sal sy kan raai watter een van hierdie vroue Bea Mostert is? Sal sy kan waag om te vra? Sy hoor haar eie hartklop soos wat sy aanstap na die baksteengebou regs. Sy weet nie hoe die gevangenes daar sal uitsien nie. Kry ’n mens in ’n tronk die kans om jouself te versorg? Het die mense toegang tot iets basies soos gesigsroom? Van die binnekant van hierdie afgeslote lewe weet sy niks.

Haar hande is natgesweet. Dit lyk nog nie na tronk nie, maar links binne sien sy die hek. Sy loop eers na regs waar die beamptes sit wat besoekers moet laat inteken; hulle vergewis van wie binnekom en die motiewe van diegene wat die inmates besoek.

Die vrou by die intekenboek beduie haar na die staaltraliehek. ’n Vrou in uniform sluit vir haar oop en ’n tweede beampte begin haar teen die sye af te tas; die soekstok beweeg langs en tussen haar bene, onder haar arms, oor haar bors en rug.

“Sorry, Mevrou, dis nou maar prosedure.”

Agter haar slaan die hek toe. ’n Enorme braaivleisrooster. Grys geverf. Kry die mense hier ooit iets soos braaivleis? Ruik hulle dit selfs ooit?

“Geen selfoon nie? Gevangenes mag nie met die buitewêreld kontak maak tensy dit onder ons toesig is nie.” Die beampte wat haarself as mevrou Hofmeyr bekendgestel het, maak driedubbeld seker.

“Ons praat ook nie meer van bewaarders soos in die ou tyd nie. Dis nou nuwe beleid en terme – ons is nou Mevrou of Meneer, of Mejuffrou. Dis meer menslik.” Sy loop vooruit na die eerste vertrek. Maggie is in die middel. Agter haar loop nog ’n beampte.

“Ons weet van Mevrou,” sê sy oor haar skouer. Meneer Van der Merwe het gebel en so gereël. Mevrou kan maar vra as daar iets is wat Mevrou wil weet, ons sal ons beste doen om te help. Mevrou wil mos glo eintlik oor die koor gesels. Ons is baie trots op ons vroue wat sing. Maar meneer Van der Merwe het gesê ons moet Mevrou ook in die algemeen wys hoe dit by ons lyk. Ons is een van die gevangenisse waarvoor die vroue van ander plekke aansoek doen om na toe te kom.

“As Mevrou wil, dan loop ons van hier af na al die afdelings. Ons kan later met Harriet, die koorleidster, praat; op die oomblik is sy in die werkswinkel waar hulle klere stik.”

“Hier is die kaste vir die sleutels,” sê die vrou wat saam met haar en Hofmeyr in die kantoor is. “Meneer Van der Merwe sal nie omgee dat ons jou wys nie. Hy sê Mevrou is so safe soos die hoofregter.”

Êrens vandaan syg ’n reuk deur wat Maggie nie kan plaas nie. Dit ruik nie pertinent sleg nie, maar dis suurderig. Iets wat haar herinner aan die slymerige rabarber wat haar Ouma-Plaas soms gemaak het. Grillerige drade waaraan sy as kind gestik het wanneer hulle dit saam met vla vir poeding gekry het.

Aan die oorkant is ’n traliehek en ook die groot staaldeur wat Hofmeyr die blikdeur noem. Die een wat snags toegesluit word. Een soliede stuk metaal. ’n Plat, grys vlak wat die buitewêreld onwrikbaar uitsluit.

Sy hoor Mignon se stem wat eggo: Deure in ons gesigte toegeklap, geklap, geklap …

“Wat is dit dié?” Sy wys na die rooibruin rubberagtige stokke. In die middel is iets soos ’n handvatsel. Of sneller.

“Tonfa. Dis die tonfas.”

Maggie probeer die woord in haar mond vorm; sy verstaan dit nie, kan dit nie uitspreek nie.

“Tongvas?”

Hofmeyr se groen oë steek helder af teen haar soelbruin vel toe sy lag.

“Ton – fa,” spreek sy dit uit. “Wag, ek skryf dit vir Mevrou.”

“O? En waarvoor is dit?”

Dit lyk soos ’n kind se kammageweer, so met die middelstuk.

“Dis ’n slaanstok. Om die gevangenes uitmekaar te maak as daar ’n bakleiery uitbreek; as jy hulle nie met woorde kan kry om te luister nie. Orde en dissipline. Dis belangrik dat hulle die wette van die tronk gehoorsaam. Dis die eerste stap na rehabilitasie.”

“Gebeur dit baie? Dat hulle geslaan word? Is dit net as daar iets gebeur dat die tonfas gebruik word, as straf, of word hulle in elk geval geslaan?” Maggie hoor dit toe die woorde uit is – sy het ’n fout gemaak. Jan Staal het haar gewaarsku: wees versigtig met wat jy sê en doen.

Hofmeyr se groen oë word donkerder. “Dis net as dit nodig is. Is Mevrou eintlik ’n joernalis?”

“Nee, nee, glad nie,” keer sy. “Ek het meneer Van der Merwe genader oor die koor, en hy het gesê ek moet sommer in die algemeen kyk hoe dit in die gevangenis lyk – sodat ek kan agterkom hoe die vroue dink en doen. Ek is nie van plan om iets negatiefs oor die tronk te sê of te skryf nie, regtig nie.”

Hofmeyr draai om. “Hier is die kas waar die boeie gehou word. Die vroue dra dit net as hulle byvoorbeeld hof toe moet gaan wanneer die Boere hulle soontoe neem.”

“Boere?” Maggie frons.

“Die polisie. En hier in die tronk noem hulle ons, die beamptes, weer die Boere. Enigeen wat ’n beampte is. Bruin en swart ook, nie net wit soos die politici praat nie. Hier binne het alles ’n ander betekenis.”

“Hier is die ontvangslokaal,” sê Hofmeyr toe hulle aan die einde van die gang kom. “Dis waar die besoekers kom; twee keer ’n maand kan die inmates besoek kry.”

Daar is houttafels, -banke en ’n sementvloer in die vertrek. Weerskante van die vertrek is hokkies met ’n enkele ysterbed in elk.

“Vir die jeugdiges wat nog nie verhoor is nie,” verduidelik Hofmeyr toe sy sien Maggie kyk daarna. “En vir ander ongevonnisdes. Ons laat hulle nie in aanraking kom met die ander kriminele nie. As hulle onskuldig bevind word, is hulle ten minste dít gespaar.

“En daar,” sy wys na ’n piepklein vertrekkie wat uit die grote loop, “is die winkel. Twee maal ’n maand kan hulle winkel kry. Hulle kan tot R400 ’n maand spandeer. Maar net harde kontant. Die werkswinkelmense verdien die meeste, so R99 per maand. Die fasiliteerders by die skool- en opleidingsafdeling kry baie minder. As iemand ekstra wil uitgee, is sy afhanklik van ’n besoeker wat geld bring.” Sy stap vooruit na die volgende vertrek.

“Die vrou wat winkel gee, was ’n boekhouer by ’n versekeringsmaatskappy,” sê sy saggies agter haar hand vir Maggie voor hulle by die deur instap.

“Kan ek … sal jy vir my sê hoekom jy hier is?” Maggie vra sonder dat sy gedink het, vir Hofmeyr gevra het of sy met die vrou mag praat.

“Ekskuus, ek het nie bedoel om uit my beurt te praat nie,” sê sy vinnig, verskonend na die beampte se kant toe. Jan Staal gaan beslis nie tevrede wees met haar nie.

“Nee, Mevrou kan maar vra as Mevrou vrae het. Hulle kan antwoord, maar net as hulle wil. Meneer Van der Merwe het so gereël.”

Die gevangene met die bruin hare netjies uit haar gesig weggekam en in ’n rol opgesteek teen haar kop, kyk haar waterpas aan. Dis die blik van iemand wat niks probeer verdoesel nie; nie nou meer nie.

“Bedrog, Mevrou. Ek het geld by die maatskappy verduister. Ek was verkeerd. Maar hier binne het ek baie geleer.”

Sy knik, weet nie hoekom sy dit gevra het nie. Maar êrens moet sy begin verstaan hoe dit hier is, wie hier is, wat die mense hier laat beland het. Afgesien van wat Bea gedoen het. Bea. Ter wille van Mignon.

Hofmeyr loop weer voor haar uit, sy beduie na die twee selle langs mekaar. “Hier word die lifers aangehou. Daar’s plek vir ag mense, maar in hierdie een is nou net drie. Mevrou kan inloer as Mevrou wil. Langsaan is ag, maar net een van hulle is nou daar; die meeste van hulle is in die werkswinkel. Die drie in hierdie sel werk nie.”

Die vertrek is min of meer vier by drie en ’n halwe meter. Teen die mure is prentjies van akteurs en sangers uit tydskrifte. Madonna. George Clooney. ’n Vuil gehekelde kruisie wat lank gelede met wondergom daar vasgeplak is, sit skeef. Tussendeur is Bybeltekste en afgeskilferde verf waar ou prente afgetrek is.

Twee vroue sit op hulle beddens; die een het ’n Ettie Bierman-liefdesverhaal in die hand: Iewers wag die môre. Die ander een sit met knieë opgetrek, haar arms daaromheen geslaan. Haar oë is toe.

“Kom nou,” sê Hofmeyr, “toe, sê ten minste môre – kom nou, meisies, ons het ’n besoeker.”

Die twee op die beddens groet haar.

“Môre, Mevrou.”

Teen die muur by die tralievenster staan ’n vrou met donker hare.

“Morning.” Haar mooi donker oë is sonder uitdrukking. Die beleefdheid in haar stem is tronkgehoorsaamheid en -beleefdheid. Niks meer nie, niks minder nie.

“Mag ek vra …?”

Hofmeyr knik.

“Waarvoor is julle in?”

“Ek het mos mesgesteek.” Die vrou met die liefdesverhaal se woorde is plein en plat. Beloop van die lewe. Op haar eie gesig lê die letsels kruis en dwars; bewyse dat sy self onder vele messe deurgeloop het.

“En jy? You?” Maggie draai na die ander een op die bedjie.

“Ek het my kêrel met ’n bottelstuk in sy keel gedruk. Toe bloei hy uit. Maar ek was dronk, ek het nie gebedoel nie.”

Die vrou met die swart poniestert staan Maggie se vraag en afwag.

“I prefer not to talk.” Dis net haar mond wat beweeg. Haar oë is donker, haar vel is glad en porseleinwit.

Toe hulle buite is, vra Hofmeyr: “Herken jy haar?”

Maggie knik. “Ja, en ek kan verstaan dat sy nie wil praat nie.”

“Dis haar reg,” antwoord Hofmeyr. “Maar moenie te jammer voel nie, Mevrou. As jy moor, moet jy verantwoording doen vir jou dade.”

Onder Maggie se armholtes prik dit skerp; die liggaam se adrenalien. Wat sou sý gedoen het as haar man ’n kind by ’n ander vrou gehad het? Weet ’n mens ooit wat jy sal doen voordat jy met iets gekonfronteer word?

“Wil Mevrou die werkswinkel sien?” Hofmeyr se aandag is weg van die lifers in die klein, koue sel met die muwwe reuk van goedkoop deodorant, die oop toilet sonder ’n sitplek, deur of gordyn.

Sy loop in die rigting van die werkswinkel. Onder die kakieuniform en die koeëlvaste baadjie roer haar skouers net ligweg. Die baadjie laat haar rug breër vertoon, gesaghebbender.

Sou dit regtig nodig wees om so iets te dra? Maar Maggie vra nie. Hofmeyr is vriendelik, maar daaronder is ’n onwrikbaarheid, ’n gebelgdheid as iets net klink na kritiek. In die afdeling agter die volgende hek, aan die oorkant van die vierkant, sit rye en rye vroue agter naaimasjiene soos stiksters in ’n klerefabriek. In die tweede ry van agter herken sy ’n gesig. Dit was ’n opspraakwekkende saak, lank in die koerante – die vrou van die akteur en dramaturg wat hom laat vermoor het.

Maggie het die uitspraak oor die nuus gehoor, maar nie ag geslaan op waarnatoe sy gestuur is nie. So gou vergeet ’n mens diegene wat weggesluit word.

“Dis nie almal wat wil werk nie,” sê Wessels, die beampte in beheer van die werkswinkel wat Maggie oorgeneem het by Hofmeyr. “Maar ons moedig hulle aan, dis beter as om heeldag te sit en tob. En hulle verdien darem ook iets. Hierdie afdeling word heeltemal soos ’n privaat saak bedryf, die boeke moet klop, en ons moet wins maak.”

“Bea Mostert is nie hier nie?” Maggie waag die vraag.

“Nee, Mostert is mos een van dié wat nie werk nie. Sy praat ook nie. Sy sit net doodstil in haar lifer-sel en kyk na die muur; nie eens na die venster waar die son inkom nie. Oefentyd loop sy al om die vierkant. Hulle roep haar die stroller. Of die goner.”

Die naaimasjiene dreun soos die platblink voetjies die materiaal na agter deurskuif; die gesigte hou haar skuins van onder af dop. Party met ’n spottende uitdrukking. Ander nuuskierig. Een of twee van die vroue kyk wrokkig op van die materiaal voor hulle.

Dis of Maggie hulle gedagtes kan lees: wat kom maak ’n vry mens hier? Een wat ons wil bekeer seker, of ietsie moois wil skryf vir ’n koerant – een wat kan gaan sê hoe goed die Boere vir ons is.

“Daar agter is die snyers,” sê Wessels wat saam met haar tussen die rye deur loop. “’n Beampte moet altyd by wees wanneer hulle met die snyer werk. ’n Jaar of so terug was daar ’n inmate wat ’n ander een se keel probeer bykom het.

“Dis iets waarvoor jy gedurig moet uitkyk. Alles lyk dalk vir jou so vreedsaam, maar jy weet nie wat broei nie. Daar is dié wat heeltyd aan die planne maak is.”

Maggie hoor hoe die masjiene meteens sagter kletter toe hulle uitstap in die son. Agter haar rug klink ’n stemmegeruis op.

Wessels draai terug. “Julle is hier om te werk, nie te sit en skinder nie, meisies, daar is ’n deadline om te haal, die pajamas vir Kroonstad moet klaar!”

Buite in die vierkant is gras geplant. Geen struike of blomme nie, maar darem groenigheid. Agter die hekke van die selle staan ’n paar van die mense wat nie in die werkswinkel is nie. Maggie kyk op. Ook die lug bo is ’n vierkant. Daar is nie ’n boom in sig wat iets van die buitekant verklap nie.

Skielik sny ’n sirene deur die mure. Meteens is almal uit – die stiksters, die niewerkendes, die wat hulle normaalweg eenkant hou.

“’n Driekwartier in die oggend, en ’n halfuur in die middag,” sê Hofmeyr wat Maggie weer by Wessels kom oorneem het. “Oefeningtyd noem hulle dit. Nie dat hulle oefening doen nie, hulle staan sommer rond en praat en rook. Maar daar ís ’n klompie wat in die middag sport het; hulle oefen netbal. Ek rig hulle af, ons het nogal twee spanne wat goed doen, mind you.

“Ek kan Mevrou nou gou bekendstel aan ons koorleidster, sy is baie goed. Dan kan julle twee gesels.”

Die vrou wat uit die selle na Hofmeyr toe kom straal ’n vreugde uit wat ’n mens nie aan die binnekant van ’n tronk by iemand sal verwag nie.

“Ek is Harriet,” sê sy. “Dis my lewe, dié. Selfs voor ek gevonnis is, het ek nooit die bevrediging uit my musiek gehaal wat ek nou kry nie. As u net kan sien en beleef hoe dit die vrouens raak, hoe dit hulle iets gee om voor te leef.” Die woorde borrel uit haar mond nadat sy aan Maggie bekendgestel is, gehoor het dat sy hulp wil aanbied by die afrigting van die koor.

“Ons is nou besig met die ‘Ave Maria’ van Gounod, en ‘Pie Jesu’. En aan die ligter kant is daar ‘The Sound of Music’ van Rodgers & Hammerstein.”

Voorheen sou Maggie nooit kon dink dat musiek ook in ’n plek soos dié so ’n rol kan speel nie. Sy het gedink McKairn se blik is eng, maar haar eie laat ook veel te wense oor.

“Ek sou graag wil help – as julle hulp benodig, ten minste?” reageer sy. “Ek sou nog musiekstukke kon bring, of dalk help met die begeleiding of iets?”

Maggie hoor haarself praat; sy besef dat sy al hoe verder ingetrek word in ’n wêreld waarvan sy niks weet nie. Sy noem ’n paar stukke wat sy tuis het wat sy kan bring.

“Ek het die ‘Gebed’ van Koos du Plessis en ook die ‘Groot Mars’ uit Aïda, en daar’s ‘Love changes everything’ van Andrew Lloyd Webber …”

Harriet se gesig gloei. “Dit sal wonderlik wees – veral om te weet daar’s iemand buite wat die belangstelling deel. Vir die ander inmates sal dit net soveel beteken.”

“Dalk moet jy maar gou jou sigaretjie gaan rook,” praat Hofmeyr na Harriet se kant toe. “Jy weet mos jy gaan dit nie maak as jy nie ’n bietjie nikotien kry nie.” Maar sy glimlag na die vrou wat so opgetoë is met Maggie.

Toe sy wegstap, merk sy op: “Sorry, Mevrou, dis maar net dat ons met so ’n besoek die kontak beperk – hoe goed die een wat ’n program kom aanbied, of hulp wil gee, dit bedoel.”

Aan die oorkant, naaste aan die traliehek en blikdeur, die groot swaar staaldeur wat saans toegesluit word, sit ’n ouerige vrou. Maggie beduie met haar hand.

“Watter een is Bea Mostert?” vra sy. “Sing sy ook in die koor?”

“Hoekom vra Mevrou? Ken Mevrou haar?” Hofmeyr wys na ’n ander ouer vrou wat aan die kant van die gras aangeloop kom, haar oë op die sement voor haar. “Nee, sý praat nie eens nie, wat nog te sê sing. Dis sy daai.”

Die vrou se hare is donkergrys, gelykaf in haar nek geknip. In die skaduwee wat oor haar gesig val, kan Maggie glad nie uitmaak hoe sy lyk nie. Sy dra ’n stilte om haar soos ’n kleed wat deur niemand uitgetrek kan word nie. ’n Jurk wat niemand naby haar vel kan laat kom nie. Dis dieselfde ingeskulpte teenwoordigheid wat Mignon dikwels gehad het.

“Nee wat,” antwoord Maggie, “dis net iemand van wie ek weet uit die destydse saak; ek vra maar. Ek sou, as dit kon, sommer wou hoor wat sy dink oor die lewe hierbinne. Sy is mos darem al lank in, of hoe?”

Dis of sy na Bea toe ingesuig word, ’n hand in die badwater wat naby die uitloopgaatjie beland. Toe Bea by hulle verbykom en haar gesig vir ’n sekonde oplig, is dit of Maggie die leegheid in haar oë kan sien.

“Vergeet maar daarvan,” sê Hofmeyr, “in al die jare dat sy hier is, het sy skaars ’n sin gepraat, hoekom sou sy met jou praat?”

Van skuins agter haar en Hofmeyr kom drie vroue dwarsoor die gras geloop. Twee van hulle breek weg, loop óm, na Hofmeyr se kant, vra haar na iets sodat sy effens van Maggie af moet wegdraai. Die ander een glip regsom sodat sy langs Maggie kan kom.

“Meisie,” sis sy sodat Maggie die spoegdruppels teen haar wang voel sproei, “hier beter jy wegbly, darling – jou rape ek met daai Boer se tonfa sommer nog die eerste nag.”

Getuie

Подняться наверх