Читать книгу Getuie - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 7

HOOFSTUK

Оглавление

3

“As jy jouself doodmaak, is daar vir jou geen genade nie. G’n mens het die reg om ’n lewe in sy hande neem nie. Nie die van ’n ander nie, en ook nie sy eie nie. Toe die kerk nog gesag gehad het, het hulle geweier om sulke dooies by die ander te begrawe.”

McKairn was sy klipharde self toe Maggie die aand ná die verassing by die hospitaal kom. Ook nie die pyn wat hy verduur het, kon hom sagter maak nie. Vir Mignon, haar lewe én haar sterwe, was daar net oordeel.

Maggie het weggedraai van haar pa se bed sonder om tot siens te sê. Hoe kon ’n mens so hardvogtig wees; hoe kon haar ma McKairn toelaat om nog altyd sy woede teenoor almal wat nie soos hy is nie uit te braak? Maar sy was kwaad vir haarself ook. Hoekom het sy ooit gesê van Mignon; hom die gaping gegee om haar met sy bitterheid aan te tas?

Van haar pa se oorheersing en eenogigheid het sy genoeg gehad. Sy sou hom nie weer besoek nie; nie wanneer hy dalk uit die hospitaal ontslaan word nie, nie as hy weer daar beland nie. Ook nie … Sy wou nie so ver dink nie.

“Hoe hou Ma dit?” Liesbet McKairn het agter haar aangekom en haar ingehaal by die uitgang.

“My kind.” Die stem agter haar is hoog en dun. Sy sit haar arm om Maggie se skouer, probeer haar effens nadertrek.

“Soveel jaar verduur Ma alles. Al Pa se buie, sy emosionele mishandeling, die oorheersing – het Ma dan nie ook beginsels van Ma se eie nie? ’n Trots wat Ma laat voel reg is reg, en verkeerd is verkeerd nie?” Sy is kwaad; sy wil nie haar ma se pleidooie hoor nie.

Haar ma se gesig is dofwit, asof dit ’n gipspleister is wat haar dink en voel moet toesmeer. Haar lyf is selfs kleiner as toe Maggie nog in die huis was. ’n Liggaampie soos die van kinders op foto’s uit die Tweede Wêreldoorlog – kinders wat vir ’n paar jaar eenvoudig opgehou groei het.

“Moenie met jou pa oor hierdie goed stry nie, my kind. Wat hy glo, glo hy. En al stem ek nie altyd met hom saam nie, dis die beste om stil te bly. Dit het ek deur die jare moes leer. Jou pa, hy bedoel nie alles soos dit vir jou klink nie.”

Sy kon nooit uitvind waar haar ma se verdraagsaamheid vandaan kom nie. Ook vir Mignon het sy ’n sagte plekkie gehad destyds; sy het Maggie nie verbied om met die kind van die vreemde geloof maats te wees nie.

“Ai, Ma.” Vir ’n oomblik wil sy haar ma in vrede laat gaan, maar ’n dwarsheid laat haar vassteek.

“Ma probeer altyd vir almal intree!” Haar stem is skril in die portaal van die hospitaal. Die man by Ontvangs steek sy kop vraend deur die houtafskortings, trek hom dan weer terug by die rekenaar.

“Ek bedoel nie wat ék sê nie, Pa bedoel nooit wat hý sê nie, niemand is ooit regtig verkeerd nie. Het Ma al gehoor van the road to hell is paved with good intentions?”

“Moenie.” Haar ma hou ’n hand waarop die rumatiek begin knoppe maak. Haar stem is moeg. “Los dit, my kind. Jou pa is oud. Daar is dinge wat jy nie weet nie.”

In die tyd wat verby is, het sy haar ma nie weer gebel nie; haar pa nie besoek nie. Maar hoe, wonder Maggie toe sy haar weggeskeur het van die voëlverskrikkerpop met die dringende oë langsaan, hoe moet dit wees om ’n kind te maak by so ’n man? Iemand wat haar in die gewone huislike gang van sake nooit aangeraak het nie; nie eens ’n piksoen om tot siens of hallo te sê nie.

Sy loop badkamer toe, draai die bad se krane oop en gooi genoeg Badedas-olie in sodat haar vel die geur van groen en die Knysnabosse kan inasem.

Haar ma se lojaliteit teenoor McKairn was nog altyd bomenslik. Selfs wanneer hy haar as persoon ten diepste verneder het.

Toe Maggie besluit het sy trou met Frans en sy hou by haar voorneme om musiekonderwys te gee, kon McKairn sy kind nie vergewe nie. Hy het Frans die sondebok gemaak. Hy was die oorsaak, dit was sy skuld dat Maggie haar toekoms opgeoffer het.

“Gerieflik vir hom,” het hy uitgevaar, “’n vrou wat musieklesse gee vir ’n paar kinders wat g’n talent het nie. Met genoeg tyd om saam met hom rond te flenter op sy kamma-navorsings-reise. Wat is ’n geskiedenisdosent tog nou in vandag se tyd? In my jare nog miskien. Of wiskunde ja, as hy dit kon doseer, dis ten minste ’n eksakte vak.

“Maar elke Jan Rap en sy maat wil kamtig vandag vir ander oor die geskiedenis leer. Net mense wat daar was kan weet wat regtig aangegaan het in die wêreld van vroeër. Jy moes self in die oorloë gewees het, self gesien het.”

Vir ’n paar oomblikke het haar pa se stem geklink asof dit wegraak oor water en wind. Hy het by die venster uitgekyk; in sy oë was daar iets wat Maggie nooit voorheen gesien het nie. Toe het hy teruggekeer na sy lyf, tot by die tafel waar sy en haar ma na mekaar sit en kyk het.

“Agterna se sien is om blind te kyk. En jy, jy oorweeg dit om hierdie man se vrou te word? Uiteindelik sal daar niks van jou oorbly nie, jy sal sy skaduwee wees, dis al. Net nog ’n juffroutjie, en later net nog ’n voorstedelike huisvroutjie. Soos …”

Sy woorde het in die Saterdagmiddaglug bly hang. Vir haar pa het dit nie gegaan oor haar ma of oor haar of oor wat Frans se beroep was nie, het sy geweet. Dit het gegaan om sy eie trots. Om haar te buig tot die kaliber pianis wat hy haar in sy gedagtes gemaak het. Maar dat hy haar ma met een onvoltooide sin so kon verkleineer, het haar terselfdertyd rasend en hulpeloos laat voel. Skuldig, omdat sy ’n aandeel gehad het in sy uitspraak.

Haar ma het opgestaan en by die agterdeur uitgeloop. Later die middag het Maggie haar gesien waar sy op haar knieë die opslaanklawer tussen die gras uittrek; haar skouers effens geboë. Op daardie oomblik sou sy haar pa se rooikop met ’n hamer kon inslaan as sy een byderhand gehad het.

“Eendag sal jy verstaan, Maggie,” het haar ma gesê toe sy stilswyend langs haar op die gras gaan kniel en begin help het met onkruid uittrek.

Haar ma se stem was sag, maar sonder om te klink of sy dit alles maar aan die lot oorgelaat het. “Goeie verhoudings en begrip is meer as beginsels, my kind, belangriker as om altyd rég te wees.”

Die badkamerspieël is toegestoom toe Maggie uit die bad klim en die handdoekjas om haar draai. Beter so, dink sy, beter om nie die aftakeling van swaartekrag en die lyne van verdriet in die helder lig te moet aanskou nie. Verkiesliker dalk dat sommige dinge vir altyd agter ’n waas verborge bly.

Liesbet McKairn het haar kind nooit vir die wolwe gegooi nie, sy weet dit. Selfs al het haar pa haar gedryf om ’n konsertpianis te word, was haar ma daar om ’n vangnet te wees. Sy het haar probeer beskerm teen McKairn se harde woorde en sy obsessie. Maar sy het vir Maggie die spesiale rok waarop McKairn aangedring het gaan koop vir die groot aand; die aand waarop hy sy hoop en hart gesit het.

“Maggie kry ’n ordentlike tabberd,” het haar pa twee maande voor die tyd gesê, “nie ’n tuisgemaakte een nie. En van donkerblou stof. Middernagblou. Iets wat ’n professionele pianis pas. Ek wil trots wees op my dogter.” Haar pa het vir haar ma ’n tjek gegee voordat hulle die Saterdagoggend stad toe is om iets te soek.

Die saal onder die verhoog is donker toe sy die aand voor die klavier gaan sit; ’n swart vallei waarin sy niks kan onderskei nie. In die middel van die geel lig wat ’n sirkel om die klavier gooi, is dit sy, net sy alleen. McKairn se oë is ’n sonstraal, gekonsentreer tot die brandpunt van ’n vergrootglas wat haar skroei. Sy gesig is die enigste waarvan sy bewus is. Haar ma is ’n vae figuur in ’n rok wat saamsmelt met die donkerte.

“Vanaand is jóú aand,” het McKairn voor hulle van die huis af weggery het in haar nek gesê, “jou aand, en my aand. Ons sal hierdie mense wys watter bloed daar in ’n Ier se are vloei.”

Haar pa se asem het rukkerig en gedronge deur sy lugpyp beweeg. Sy wou weg, haar arm uit sy greep losruk toe hy die agterste motordeur vir haar oophou dat sy kon inklim. Wat as sy nie goed genoeg speel nie, as sy die kompetisie nie wen nie?

Haar ma het stil voor in die kar gesit. Van die agterste sitplek af kon Maggie byna nie sien dat sy asemhaal nie.

Help my, het sy gedink. Asseblief. Iemand. Help my.

Die motor het stadig die paar strate na die saal waar die kompetisie gehou is, gery. Die hele tyd kon sy haar pa se gesig in die truspieëltjie sien, sy wenkbroue ruig en rooi.

Dit raak nog stiller in die saal. ’n Paar kugge, ’n neus wat gou hard uitgesnuit word. ’n Vrou met ’n kleinerige kind wat begin huil, skuif ’n stoel en loop na die deur agter in die saal. Dit kraak soos dit agter haar toegaan.

Uit die sygordyne aan die oorkant van die verhoog wys die beampte dat die pianis kan begin.

’n Grys mis sak om Maggie toe. Haar kop buig oor die klawers, haar pa se stem is in haar ore: sit in hemelsnaam regop!

Die eerste note duik in onder haar vingers. Sy hoor hulle asof sy êrens op ’n hoë krans staan en die klanke een vir een onder in ’n groot meer val. Klippies wat plonk. Een-een.

Dan begin hulle saamkom, vinniger, vinniger; sy ryg hulle aanmekaar, dis ’n resies wat haar vingers oor die klawers maak. Wit en swart note, wit en swart, wit, wit, haar kop jaag haar, jaag haar hande, vinniger … Sy hoor en sien haar pa, voel sy asem agter haar rug, haar nek; voel in haar lyf die dreiging van sy stem, die dwingende behoefte om sy stempel af te druk, haar te vorm tot iemand, tot “iets”. ’n Ideaal wat die plek van iets anders moet vul.

Agter haar oë begin dit flikker. ’n Migraine. Soos dikwels tevore wanneer sy moet voorberei vir ’n musiekeksamen. Die gevoel styg uit haar maag op tot in haar kop, in haar brein; daar waar sy die note moet beheer, hulle apart moet hou, en tog laat saamvloei.

Dit sprei soos ’n golf binne-in haar lyf. Sy probeer opstaan, die klavierstoeltjie val om. Met ’n siddering ruk haar ma se hoenderpastei en die fyngekoude appel van vroeër op deur haar slukderm. Die brei spat oor die klawers, loop tussen die gleuwe in; op die swart tussennote sien sy deur die waas die stukkies wit vleis en groen appelskil.

Sagte arms help haar van die verhoog af. Haar ma? Iemand neem haar motor toe, bring vir haar water toe sy eindelik in haar eie kamer by die huis is. Sy sien hoe haar eie hand die glas aanvat, hoe haar vingers wat die houer vasklem groot en wit skyn deur die water.

“Kom, Maggie, lig op jou arms.” Haar ma help haar uit die rok, vee haar lyf af met ’n nat lap, was dit met seep; sy ruik die Lux aan haar ma se hande wat die somerspajamas se hempie oor haar kop trek en die laken onder haar ken invou.

Die deur gaan toe. Sy is alleen met die donker. Met die note.

Sy gly van die bed af, gaan sit op die koue vloer. Van onder uit die sitkamer hoor sy haar pa se stem, hoor hoe hy op die oop klavier sy hande teen die klawers stamp. ’n Gehamer van onbeheerste wanklanke. Vals note.

“Opoffering. Toewyding. Dissipline!”

Sy druk haar hande oor haar ore, ban die klanke en stemme uit; die note wat in haar kop dreun.

In die nag word sy wakker. Dis asof die voering van haar kopbeen seer is. Maar daar is iets wat tussen die vorige aand en nou gebeur het. ’n Besluit wat haar kop geneem het in die paar uur wat sy geslaap het. Sy sal haar pa nie sy sin gee nie; sy is nie gemaak om ’n konsertpianis te wees nie. Met haar musiek sal sy aanhou, maar nie op die manier wat hy dink dit moet wees nie.

Sy hoor haar ma se voetstappe in die gang; op pad om te kom kyk of sy slaap, of sy herstel het van die spanning en ontsteltenis. Net soos die keer toe sy van Mignon se huis af gekom en Fedélis haar so te sê weggejaag het. Daardie aand het sy Maggie gekry waar sy, met die kombers bo-oor haar getrek, gelê en huil het. Sy het nie weggegaan voor sy geweet het waarom sy so onderstebo was nie.

“Ek het iets vir jou uitgevind wat jy wou weet,” het sy die volgende middag gesê toe Maggie by die huis kom. “Jou pa gaan vroeg eet vanaand, hy moet uitgaan om een van die ouers te besoek. Doen jou huiswerk, dan wys ek jou wanneer hy weg is.”

Maggie het eers gaan bad en die winterspajamas wat haar ma self gemaak het, aangetrek. Dit was koud al was dit nog nie heeltemal winter nie, maar die blare het begin afval en geel poeletjies onder die stam van die asboom in die bure se tuin gemaak. Soggens en laatmiddag kon sy die soeterige reuk van die blare wat begin verrot, ruik.

Die skottelgoed was klaar en haar ma het op die oorgetrekte bank met die blou kussings gesit toe Maggie uit die badkamer kom.

Op haar skoot is ’n dikkerige biblioteekboek. Maggie hou haar kop skuins om onder die boek in te kyk: Wagtoring – ’n organisasie vir diegene wat Jehova dien.

“Dis net ’n ander naam vir Mignon-hulle se godsdiens,” sê haar ma. Sy slaan die boek oop by ’n boekmerk wat sy vroeër die middag daar ingesit het. Aan die een kant van die blad is geskryf en aan die ander kant is ’n prent soos die een wat Maggie by Mignon-hulle gesien het. ’n Jesusprent, met die paal waaraan hy vasgemaak is.

“Maar hoekom teken hulle dit so?” Van kleins af het sy geleer, gehoor, geweet: Liewe Jesus het aan ’n kruis gesterf.

“Ek verstaan dit self nie goed nie, my kind, en ek wil ook nie te veel daaroor weet nie. Maar dit lyk uit wat hulle hier skryf of hulle dink die kruis was eers ’n afgodeteken. En die Wagtoringmense glo nie daaraan nie. Vir hulle is dit heidens.” Haar ma trek haar nader en vryf oor haar kop.

“Nou wat is heidene dan eintlik, Mamma?” Die woord wat die dominee Sondae op die preekstoel gebruik en wat hulle in die skoolsaal hoor, steek in Maggie se kop wanneer sy dit hoor. Veral wanneer die dominee in die kerk so hard uitroep.

“Is dit die duiwel se kinders? En as hulle nie heidene is nie, is óns dan heidene?”

“Nee, Maggie!” Haar ma se stem het ’n skrikklank.

“So, Mignon is nie ’n heiden nie?” Maggie sien haar maatjie se gesig voor haar, die duinekleur oë, haar mooi gladde hare wat sy ná liggaamsoefeningperiode losmaak en uitkam om dit weer in twee poniesterte te bind. Mignon is slim, maar ook ’n slim heiden gaan hel toe. En hoe gaan sy ooit dáár by haar kan uitkom?

“’n Gewone mens kan nie oor sulke dinge besluit nie, Maggie,” sê haar ma. Sy staan op, sit die biblioteekboek op die klavier neer. “Jy hoef jou nie oor Mignon te bekommer nie. Niemand kan sê wie reg of verkeerd is nie. Dis net God self wat weet, en daarop moet ons vertrou.

“Maar nou moet jy weer jou musiekstuk gaan oefen. Jou pa het vanmiddag in die studeerkamer gekla jy oefen te min.” Aan die manier waarop haar ma se sinne na ondertoe eindig, weet Maggie sy het vir eers klaar gepraat. Nie kwaai nie, maar met ’n punt wat Maggie kan hóór.

Die wasem teen die spieël in die badkamer het byna weggetrek; Maggie kan haar gesig nou effens sien in die dowwe lig van die energieslim-gloeilampie. Dis of sy haarself nie herken nie; of die vrou van vandag eers die kind van gister moet wegdruk om self weer beheer te kan neem.

Haar ma was soos die sponserige, gaterige wit borde teen die skoolsaal se mure wat die skewe en harde klanke verdoof het sodat die akoestiek beter kon wees. Sy is die een wat die klappe en die beledigings van McKairn in haarself opgevang het sodat hy nie té naby aan haar dogter moes kom nie.

Die paal met die Jesus van die Getuies het Maggie nooit weer gepla nie. Totdat Mignon met ’n telefoonstem teruggekom het daardie dag dat Maggie in die apteek tussen die parfuumgeure van frangipani en sandelhout, en Secret of the Desert gestaan het.

“Vertel my van die kruis en daardie strafpaal asseblief,” het sy later gevra toe sy besef het hulle paaie het nooit werklik uiteengeloop nie, of eerder, dat hulle weë bestem was om weer te ontmoet.

Mignon se mond wat toe sy ’n kind was op seldsame oomblikke so breed kon lag dat ’n mens sou dink sy het meer tande as ander mense, se hoeke het na onder gedruip. “Dis nog iets wat in ons koppe ingeprent is, een van die vele goed wat soos met ’n drilboor jou brein vol gate gefoeter het, sodat jou harsings later geen eie denke meer kon maak nie.

“Die Getuies glo die kruis soos die gewone kerk dit ken, kom van die antieke wêreld se godsdienste – uit Chaldea, en dit was die simbool vir die god Tammus. Maar in Hebreeus heet dít waaraan Christus opgehang is ’n folterpaal, so sê die Wagtoringgenootskap. Hulle sê ook Christus kon selfs aan ’n boom opgehang gewees het eerder as aan ’n kruis. Die eerste Christelike kerke het glo sonder slag of stoot heidene in hulle kerke toegelaat sonder dat hulle vooraf die geloof aangeneem het. En dan het die mense die ou tekens en simbole die Christendom ingedra; dis hoe die kruis van Tammus later aangeneem is as algemene simbool.”

Die beelde en skilderye wat Maggie soms in die Katolieke kerke gesien het wanneer sy en Frans op reis was, het oormekaar getuimel in haar kop, saam met die Gereformeerde voorstellings van Jesus. Kruise, engele, apostels. Met God wat soos die lug in ’n ballon is – Iets of Iemand wat bestaan, wat ’n uitwerking het op die omgewing, maar wat niemand ooit kan sien nie. Dié Een van wie jy geen gesnede beeld mag maak nie. Die Onvoorstelbare.

“Hoe dink jý?” het sy gevra toe Mignon klaar is. “Wat dink jy is reg?”

“Wie weet?” Mignon het voor haar uitgestaar sonder dat haar gesig van uitdrukking verander.

“En of die kruis nou uit Persië of Babilonië kom, of dit voorheen gebruik is om Bacchus voor te stel, of die Noorse god Odin, maak dit nou eintlik saak?”

Shutter. Maggie het die sluitklank gehoor, dit wat agter die toon in Mignon se stem skuil. Met die vraagteken agter haar laaste sin, het Mignon die blinder diggetrek. Los dit nou. Shut up.

Die voëlverskrikker en Mignon se woorde is onmiddellik voorop in haar gedagtes toe Maggie die Sondagoggend haar oë oopmaak. Êrens lui ’n kerkklok sy “Kom sondaars kom”-melodie.

Dit neem haar ’n ruk om die laken wat om haar lyf gedraai is van haar af te stroop, te besef dis die foon, nie ’n klok wat sy hoor nie. Sy is natgesweet toe sy die selfoon op die bedkassie langs haar optel.

“Hallo, Maggie McKairn wat praat.”

“Jan hier. Van der Merwe. Maggie, kan jy my hoor?”

“Hallo. Ja. Jammer, Jan, ek was ’n bietjie op ’n ander plek.” Haar kop ruis terug uit die drome wat verstrik was met leerstellinge van die Getuies.

“Was jy nie maar altyd ’n bietjie van ’n dromer nie?” Sy hoor ’n lag in sy stem kruip.

“Ja, toegegee.” Sy probeer ongeërg klink. “Die onderwysers op skool het tog so baie maal gekla dat ek nie by is nie. Maar goed, nou is ek by.”

“Ek het vir jou uitgevind. Ek kan jou sê waar sy is, dan kan jy dalk daardie tronk besoek. Al sien jy net hoe dit lyk, hoe dit binnekant is. Dis ’n beginpunt. As jy nog wil. Ek sou in elk geval voorstel dat jy net eers ’n aanvoeling kry van hoe dit in gevangenisse daaraan toe gaan. As jy die vrou regtig wil help, sal jy iets meer van tronke en alles daaromheen moet weet.

“Ek sal reël dat jy met die gevangenes – dus, ook Bea – kan praat, maar nie alleen met haar nie; ons sê maar jy werf lede vir ’n koor, of hoe?”

Haar lyf raak stram, haar keel trek toe soos wanneer sy heuning eet. Noudat sy die groen lig kry, is sy bang. Sy is niks van die vrou nie. Hoe het sy in hierdie posisie beland?

Maar ’n stem uit haar lyf antwoord reeds: “Dankie. Ek sal graag wil gaan. Laat weet my wanneer dit moontlik gaan wees. Ek sal my lestye skuif; wat jy ook al reël, ek sal inval daarby.”

“Jy’s omtrent inskiklik.”

Daar is iets in sy stemtoon wat haar terg. Dalk is dit hoe hy haar van skool af onthou: rooi hare, vinnig op die verdediging. Hoe kan hy ooit weet van die eintlike sy, die Maggie wat die onderhoof se kind was, wat probeer het om die groot stilte in haarself en die vrees wat haar pa in haar gekerf het, weg te steek met ’n vinnige tong?

Sy sit die telefoon neer. Voor hy afgelui het, het hy gesê sy moet by hom kom eet Vrydagaand, hy sal self kosmaak, dan praat hulle oor die reëlings en tye. Sy’t ja gesê – al het sy nee bedoel; as sy nou omdraai, is dit buitengewoon ondankbaar. Buitendien, nêrens anders gaan sy iemand kry wat haar soveel sal kan help nie.

Met ’n beker koffie en ’n vinnig aanmekaargeslaande toebroodjie in een hand lig sy die klavier se klap op, druk ’n paar akkoorde. Sy kyk na Leon wat die Vrydagmiddag nog vir les kom se stukke. Hy moet voorberei vir die Unisa-eksamen en ook vir die konsert. Smiddae oefen hy by die skool, want hulle het nie ’n klavier by die huis nie en sy pa weet nie eens hy neem musiek as ’n ekstra vak nie. ’n Musiekgenie wat sy liefde en sy talent vir musiek vir sy pa moet wegsteek. ’n Kind wat eers in graad ses begin het met les, en wat net met sy ma daaroor kan praat.

Vir sy pa sê hy die krieketspanne oefen elke dag – en sy pa werk in Worcester, hy kan dit nie kontroleer nie. Maar hy is tevrede; krieket is goed. Sport is die oppergod in bykans enige land.

Terwyl sy die middag vir hom wag, haal sy die stukke waaraan hy werk uit. Sy is senuweeagtiger as in baie maande. Die besoek aan Jan Staal wat wag, die hele idee om met Bea te praat, is so ver uit haar verwysingsveld dat sy nie weet hoe sy dit gaan aanpak nie.

Sy kry Chopin se Études, opus 10 en 25, uit die rakkie langs die klavier en maak ’n paar aantekeninge in potlood waar Leon tegnies nog kan verbeter. Dan begin sy uit haar kop Beethoven se “Tempest” speel. Die eerste en tweede beweging. Die stormende begin, die stadige, sombere musiek wat daarop volg.

Sou Frans êrens iets van ’n vroeë dood aangevoel het dat hy ’n voorliefde gehad het vir hierdie tragiese stuk? Wanneer die verlange haar oor is, speel sy dit vir hom. Vir die man wat meer as ’n eggenoot was, haar metgesel, haar maat. Vir haarself, wat agtergebly het in die alleenhuis.

Sonder om te dink begin haar hande aan Brahms, maar sy stop toe die klanke registreer. Dis haar pa se ideale komposisie. Veral nou wil sy nie met hom gekonfronteer word nie, ook nie met die kanker wat hom stadig maar seker opvreet nie; die chemiese gif wat hom so siek maak dat dit nie die moeite werd is om te bly leef nie.

Toe Leon klaar is met die les die middag, staan en kyk sy hoe hy met die fiets die straat afry. Die suiwer klanke van sy spel hang soos ’n volmaakte borrel in die vertrek. Sy kyk na die muurhorlosie. Sy sal haar moet roer; met Leon duur ’n les altyd langer as die vereiste uur op ’n keer. Maar elke keer wanneer sy na hom luister, weet sy sy was reg: om ’n pad oop te maak vir iemand wat wél op die verhoog hoort, is nie minder as om self ’n konsertpianis te wees nie.

Jan Staal het gesê seweuur is goed, hy sal ’n bottel sauvignon blanc in die yskas koud maak; sy kan maar net sit en kyk terwyl hy in die kombuis werskaf.

Voor die klerekas staan sy onseker. Wat trek ’n mens aan as jy vrou-alleen by ’n man-alleen gaan eet? Sy voel sy moet haar ’n bietjie optooi om die neerdrukkende onderwerp van Bea te balanseer, maar sy wil ook nie die verkeerde indruk skep nie. Dit moenie lyk of sy haarself doelbewus “mooigemaak” het nie.

’n Wit romp, een wat effens wyd uitskop, ’n T-hemp met wit en swart motiewe. Sy kyk in die spieël. Is die nek nie te laag uitgesny nie? Wanneer sy haar skouers na mekaar toe buig, vorm daar fyn rimpels in haar hals.

In Nuweland soek sy later na die straat; die randsteentjies se benaminge is dof en party ontbreek heeltemal. Maar sy sien die groot plataanboom op die hoek wat Jan Staal as baken aangedui het. Nommer 7 is ’n mooi, outydse huis in Georgiaanse styl. Voor is ’n prieel wat eindig waar die tweede verdieping begin; die blare van die wingerd is reeds rooi aan die verkleur.

Dit sukkel ’n bietjie om die hekkie oop te kry, die hout is geswel van die reëntjie twee dae gelede. Sy loop met die paadjie van houtblokke na die voordeur, lui die klokkie. ’n Hond blaf. Toe die deur oopgaan, glip die labrador uit en begin haar besnuffel.

“Wag nou, Kallie!”

Maggie sit haar hand op die hond se kop. Die reun kyk haar aan met al die vertroue wat in ’n hond se oë kan lê.

“Toemaar wat, los hom. Hy pla nie. Die foksterriërs van my bure se opgewondenheid is vir my soms erg, maar labradors is sulke liewe diere; ek het self een.

“En, o ja, Jan – hallo!”

Hy lag. “Naand, Maggie. Welkom. Jy lyk mooi.”

“En as ek nie goed genoeg gelyk het nie, was ek dan ook nog welkom?”

“Die óú Maggie,” merk hy op. “Vinnig met daai snipmond, nes ek jou onthou. Kom binne. Dis ’n irrelevante vraag – maar goed, dan was jy nog altyd welkom! Ek is bly dat jy nog steeds jou spark het. Ons seunskinders was destyds tog so bang vir daardie skerp tong van jou.”

Sy wil vra: En is jy nou nog bang? Maar sy keer haarself. Dis te eie; sy kan haar nog nie sover kry om op dié manier met ’n man te skerts nie. En sy wil nie.

Op die teëloppervlak langs die stoof staan houers met kruie en speserye uitgepak. Hy maak die bottel oop, skink vir haar ’n glas van die sauvignon blanc in en gee dit vir haar aan.

“Kom, ek skuif die stoel, dan kan ek jou darem sien terwyl ons praat en ek besig is met hierdie gekokery van my. Ek is nie die heel beste kok nie, maar ek kan darem iets aanmekaar slaan.”

Hy skink vir hom ook van die wyn en begin die wortels se skilletjies afmaak met ’n gleufmessie.

“Kan ek nie help nie?” Dit voel vreemd dat ’n man vir haar kosmaak. Frans was baie dinge, maar behalwe om vis en vleis te braai, was hy beslis nie ’n kok nie.

“Nee wat, sit jy maar. Ek raak net deurmekaar as ek tussenin moet sê wat jy moet doen. Ontspan. En vertel my nou ’n bietjie meer – van Mostert wat jy wil besoek. En hoekom. Ek is tog nog in die duister na nou die dag se gesprek.”

Dis moeilik. Hoe vertel sy hom sonder om te sê wat regtig die rede is? Buitendien, hy sal Mignon dalk nie eens onthou nie. Sy was nog so jonk toe hulle weg is uit Kuilsrivier.

“Bea het dertig jaar gekry,” sê sy, “maar dit weet jy. Dit het my destyds verskriklik ontstel. My Gerrit-kind was toe so tien, elf.” Sy bly stil. Alles wat sy in die verbygaande jare ervaar het, het ’n ander perspektief begin kry. Ander kleure as swart of wit.

“Maar jy weet hoe dit is – die tyd gaan verby, ’n mens vergeet. Vir jare het ek nooit weer daaraan gedink nie. Tot …”

“Tot?” Hy draai om, die butternut wat hy opgetel het in sy hand.

“Wat hét dan gebeur dat jy met Bea Mostert wil praat? Ken jy haar regtig nie? Is sy regtig nie familie nie, ook nie verlangs nie?” Hy kyk afwisselend na haar en na die butternut waarvan hy die skil in repies met die messie afhaal.

“’n Mens hoef jou nie te skaam as jy mense het wat in die gevangenis is nie, Maggie. Jy is nie vir hulle dade verantwoordelik nie. Maar meer nog: ek dink soms mense besef nie hoe maklik dit is om agter tralies te beland nie. Jy ry iemand raak, dis ’n ongeluk, maar jy het dalk net-net te vinnig gery. Iemand het oor die straat voor jou ingehardloop, maar jy het alkohol in jou bloed gehad. Die persoon sterf. Manslag. Daar sit jy vir ’n paar jaar – as jy nie ’n goeie prokureur het nie.”

Sy draai na Jan Staal toe. “Nee. Dis nie familie nie. Ook nie iemand wat ek ken nie. En ek kan jou nie eintlik sê waarom ek met haar wil gaan praat nie, moet gaan praat nie. Of ten minste, ek sal verkies om dit nie te doen nie. Nie nou al nie. Ek is jammer. Sal jy dit kan probeer verstaan, asseblief, Jan?”

In haar eie ore klink haar woorde pleitender as enige wat sy haarself al hoor sê het.

Die pan met die uie wat hy ’n rukkie tevore op die plaat gesit het, begin warm word. Die reuk stuif in haar neus op. ’n Vlietende sekonde sien sy haar ma met die voorskoot aan soos sy vroegaande voor die stoof gestaan en kosmaak het.

“Dis moeilik. En vreemd, Maggie. Maar, dis orraait, ek gaan jou glo dat jy wel ’n goeie rede het. Deur die jare het ek my instink leer vertrou, en iets sê vir my ek moet hier help. Moet my net nie drop nie. Ek sal ’n voorlopige besoek vir jou reël, en dan kan jy sien hoe dit gaan, oukei?”

Hy haal die pan van die stoof af, rangskik die vis en groente op mooi borde voordat hy dit neersit op die tafel waaroor hy ’n doek met fyn, wit kantrandjies gegooi het; gaan sit dan oorkant haar.

“Dis lekker om ’n slag geselskap te hê. Gesondheid!” Hy lig sy glas, klink dit teen hare.

“My ma se handewerk,” merk hy op toe hy sien hoe Maggie die kant tussen haar vingers neem en daaraan voel.

“Dis mooi. Iets wat ’n mens vir jou kinders moet laat kry.”

“Ek en Tertia het nie kinders saam gehad nie,” sê hy. Daar is ’n taboeklank in sy stem.

Sy soek na iets om te sê, om weg te kom van die verbode terrein. Maar wat uitkom is iets wat sy nie beplan het nie.

“Onthou jy vir Mignon?” die woorde wip van haar tong af voor sy dit kan teruggryp. Dis ’n vraag wat sy nou nie ongedaan kan maak nie, wat sy verder sal moet verduidelik.

“Mignon wat saam met ons op laerskool was? Die Jehova?” Hy weet onmiddellik; hy onthou die etiket, dink sy.

“Ja, Mignon. Dit het met haar te doen – Bea is familie van Mignon, haar ma se suster. Dis hoekom ek met Bea moet gaan praat, al ken ek haar nie. Maar ek kan jou nie regtig uitlê waarom ek dit moet doen nie.”

Wat sy nie hardop uitsê nie, is: want ek weet self nie presies hoekom nie. Ek weet dat Mignon dit van my vra, maar ek kan nie ’n rede gee waarom nie. Maar dit kan sy nie vir Jan Staal sê nie; hy sal weet sy is die kluts kwyt.

“Wat het van haar geword?”

Sy sien dit soos sy dit in haar verbeelding voorgestel het. Mignon in die stort. Nadat sy eers gebad het, haar skoon gewas het vir die laaste uur. Sy staan op die klein rooi plastiekstoeltjie, ’n eensame lyf in ’n skoon, wit slaaprokkie. Haar hande trek die kamerjasgordel uit die lussies, maak ’n skuif-knoop daarin. Sy trek dit oor haar kop om te sien of dit pas, haal dit weer af. Dan vat sy die leerbelt aan die haak agter die muur en maak dit saam met die los punt van die gordel vas aan die balk waarop die geiser rus; voel of dit haar gewig sal kan dra.

Mignon stoot die hare weg uit haar gesig. Dis bedompig in die badkamer, die venster is toe. In die spieël is haar oë leeg; haar gesig deurskynend. Haar vingers bewe toe sy die oog van die tou om haar nek sit en dit stywer trek.

Bedink sy haar in hierdie oomblik tóg? Hoe voel die been en die voet wat die stoeltjie wegskop?

Maggie sien hoe die lyf ruk, hoe die kop met die blinkbruin hare hang, hoe die liggaam swaai en swaai totdat dit eindelik langsaam stil raak.

Sy wil nie daaraan dink dat Mignon se tong blou was en by haar mond uitgesteek het nie, haar oë oopgesper in vrees – of in oorgawe.

Hoe lank leef ’n mens nadat jy jouself opgehang het? Leef party slagoffers nog ’n rukkie nadat die tou of laken styf genoeg getrek het om die nek af te ruk?

“Maggie?”

Jan Staal het om die tafel geloop; hy staan voor haar. Sy voel sy hand op haar arm.

“Maggie? Is jy oukei?” Hy druk haar stoel effens weg van die tafel, voel teen haar voorkop.

“Wag, ek kry vir jou water.”

Sy vat die glas, drink dit leeg, haal twee keer diep asem voor sy hom antwoord.

“Mignon het haarself opgehang, Jan.”

Getuie

Подняться наверх