Читать книгу 'n Vonk van liefde - Christine le Roux - Страница 4

Hoofstuk een

Оглавление

Danielle Steyn sit by die kombuistafel. Roerloos, met haar rug teen die harde dwarshout van die stoel, sit sy na haar hande en kyk. Sy sit al ure daar, maar sy is te moeg om op te staan en te gaan slaap.

Sy het nie die krag om so ’n beslissing te maak nie. Solank sy bly sit, hoef sy niks te doen nie, geen besluit te neem nie. Dis net haar gedagtes wat al in die rondte jaag, eers in ’n klein sirkel en dan, wanneer dit onhoudbaar word, in ’n groter sirkel waarvan sy wegskram, omdat dit te vaag is.

In die klein sirkel is daar net drie woorde: Danie is dood. Sy sê dit oor en oor vir haarself; die woorde jaag mekaar sodat dit ’n ineengestrengelde sin word wat nooit ophou nie. Die halfgedrinkte koppie koffie voor haar is lankal koud. Die vloeistof lyk geskif; witterige vlekke dryf op die donkerder koffie. Sy vryf oor haar vingers, ’n handeling waarvan sy nie eens bewus is nie. Nog minder is sy bewus van die koue, alhoewel sy van tyd tot tyd aan die swart moue van haar trui trek, asof dit sal help, asof dit haar sal warmer maak.

Sy weet sy behoort te eet; die yskas is vol bakke kos wat vriende en bure gebring het, elke skottel mooi verseël.

“Jy hoef dit net op te warm,” het ’n stem simpatiek gesê.

“Jy moet sorg dat jy genoeg eet,” het iemand anders gesê.

“Sal jy ons bel as jy ons nodig het? Ons is altyd hier,” het nog iemand anders gesê.

Soveel stemme, soveel mense. Die huis het gedreun daarvan. Uit die sitkamer kom die reuk van blomme, al die blomme wat mense gestuur of gebring het, party nog in sellofaan verseël. Wanneer sy aan die stemme dink, ontsnap sy ’n paar oomblikke uit die klein sirkel in haar kop.

“Jy is nog jonk, jy kan ’n nuwe lewe begin.”

“Ten minste het jy iets om voor te leef, iemand wat jou baie nodig gaan hê.”

“Danie het so ’n goeie posisie beklee, hy sou jou goed versorg nagelaat het.”

Hulle het nie vir Danie geken nie – nie soos sy hom geken het nie. Hulle is aan mekaar voorgestel op haar tante se silwerbruilof en die enigste rede was hulle name.

“Danie, dis Danielle. Ek weet julle gaan van mekaar hou.”

Almal het daaroor gelag. Danie en Danielle. Die manlike en vroulike vorme van dieselfde naam. Sy was nie op soek na ’n man nie. Om die waarheid te sê, het sy al begin dink daar is iets verkeerd met haar omdat sy so min belang stel in romanse. As sekretaresse van ’n belangrike man het sy ’n goeie loopbaan gehad. Sy het wel uitgegaan, maar nooit betrokke geraak nie.

“Danie, dis Danielle. Ek weet julle gaan van mekaar hou.”

Dit eggo deur haar kop. Dit vorm ’n effense wyer sirkel, nuwe woorde wat mekaar deur haar kop jaag.

Hy was aantreklik, maar dit was nie wat haar getref het nie. Dit was sy bruisende, allesoorweldigende lewenslus. Hy was nie ernstig soos die ander mans wat sy geken het nie. Die lewe was vir hom ’n avontuur, hy soos ’n triomfantlike seerower op sy skip altyd op soek na iets nuuts om te verower. Dit het sy nie daardie dag al geweet nie. Sy het net begin gesels, saamgelag oor hulle name, saam haar glas in ’n heildronk gelig op haar oom en tante. Sy het help koek ronddra en gesels met al die familie. Sy het taai handjies afgevee toe niggies en nefies klaar geëet het, en toe Danie sê: “Kom, ek neem jou huis toe,” het sy gegaan.

Ses weke later het hulle bruilof gehou, was die familie weer bymekaar, het almal weer hulle glase gelig in ’n heildronk, maar dié keer op haar en hom. Dit was steeds warm, sy het weer gevoel asof haar wange aan die brand is en die geure was dieselfde: parfuum en blomme, koek en wyn.

“Ek het hulle aan mekaar voorgestel,” het haar oom in sy toespraak gesê. “Ek voel soos Cupido.”

Cissie, haar niggie wat al die pad uit die Karoo gekom het vir die troue, het haar help uittrek en die mooi trourok versigtig opgehang, die sluier in sy kartondoos neergelê.

“Ek is só bly jy het jou ander helfte gevind,” het sy gesê. “En julle het belowe om gou te kom kuier. Dis stil op die plaas; ek is uitgehonger vir geselskap.”

Danielle was ses-en-twintig jaar oud. Sy het geweet almal was verlig dat sy ’n man gekry het. As jong meisies was sy en Cissie baie na aan mekaar, meer soos susters as niggies. Hulle het mekaar se vreugdes en teleurstellings gedeel. Danielle moes altyd luister wanneer Cissie vir die hoeveelste keer verlief geraak het. Sy self het ’n alleenloper gebly. Mansvriende was aangename geselskap, niks meer nie.

“As jy die dag jou hart verloor, gaan dit jou onderstebo slaan,” het Cissie voorspel. “Jy het te min ondervinding. Kyk net na my.”

Sy het gelag – dit was kort ná haar verlowing en sy het gestraal. “Na al die lang, aantreklike helde het ek verlief geraak op ’n kort, vierkantige boer wat al bles word. En ek dink hy is die wonderlikste ding op aarde. Ek wil saam met hom skape tel en agter die ploeg aanloop.”

Dis hoe sy oor Danie gevoel het. Nie dat hy ’n boer was nie, maar sy sou ook alles vir hom prysgegee het. Daarom dat die wittebroodsvakansie so idillies was. Dit was asof sy nooit wakker geword het nie, asof sy drie weke lank verdoof was, te gelukkig om kennis te neem van die wêreld om hulle.

Danielle staan stram op en druk haar hand teen haar rug wat lam voel. Sy skakel die ketel aan, maak vars koffie en gaan sit weer by die tafel. Die klein, koue kombuis is op die oomblik die enigste veilige plek. As sy sou opstaan, deur die huis sou loop, na die slaapkamer sou gaan, sal die werklikheid toeslaan, sal sy besluite moet neem en daarvoor sien sy nie kans nie.

Maar die koue het uit die kombuisvloer in haar bene ingetrek. Sy staan weer op, haak die voorskoot agter die deur af en drapeer dit oor haar bene toe sy weer gaan sit en begin drink aan die warm koffie.

Danie het hierdie huis gekoop net na hulle wittebroodsvakansie. Dit was eenvoudig, nie baie groot nie en hy was ontevrede daaroor. Hy wou iets deftigers gehad het, iets waarmee hy by sy vriende kon spog, maar sy was ferm.

“Dis al wat ons kan bekostig. Soos dit is, gaan die maandelikse terugbetaling ons druk. Jy het dan ’n nuwe motor ook gekoop!”

Sy sou tevrede gewees het met ’n woonstel, hare of syne. Dit was net hulle twee. Sy het gevoel hulle moet spaar totdat hulle meer geld het voordat hulle ’n huis koop. Maar Danie was nie so nie. Hy het gehou van nuwe goed. ’n Nuwe vrou, ’n nuwe motor, ’n nuwe huis. En binne maande het sy uitgevind dat sy belangstelling in en entoesiasme oor nuwe goed vinnig verflou. ’n Paaiement wat elke maand betaal moet word, het hom bedruk, hy wou nie daarvan weet nie; hy was reeds besig om opgewonde te raak oor die volgende aankoop. Sy het gedink sy sou haar salaris kon spaar en ’n neseier ophou vir die dag wanneer sy moes ophou werk, maar haar geld is gebruik om hulle van bankrotskap te red. As sy nie al die skuld betaal het nie, was hulle uit op straat.

Dis iets waaroor sy nagte wakker gelê het. “Ons moet praat,” het sy een aand gesê. “Ons kan nie so aangaan nie, Danie. Ek kan nie byhou nie.” Sy wou hom nie kritiseer nie. Hulle was nog nie eens ’n jaar getroud nie en sy was lief vir hom. “Jy sal meer verantwoordelik moet begin optree. Ek kan nie die finansiële las alleen dra nie.”

Hy het kwaad geword, soos sy verwag het. “Ek haat ’n gesanik oor geld! Ons word nou nes al die ander paartjies. Geld, geld, geld! Dis die ondergang van elke huwelik.”

“Nie as ons albei oordeelkundig werk nie,” het sy gepaai en na sy hand gevat om te wys dis ’n gedeelde probleem; sy wil saam met hom daaraan werk.

Hy het sy hand weggeruk. “Jy het voorstedelik geword,” het hy haar toegesnou. “Jy’s nou nes al die ander vrouens.”

Sy het stilgebly, haar baas om ’n verhoging gevra en voortgegaan. Hy het ’n goeie werk gehad en sy salaris sou voldoende gewees het as hy net geweet het hoe om dit te bestee. Maar week na week het hy by die huis gekom met iets nuuts: ’n rekenaar, ’n musieksentrum, ’n antwoordapparaat vir die telefoon, ’n videospeler.

“Danie,” het sy gesmeek, “moenie nog koop nie. Jy gebruik nie die rekenaar nie, dit vergaar net stof. Al hierdie masjiene en goed – ons het dit nie nodig nie; ons kan dit nie bekostig nie.”

Hy het haar nie geantwoord nie. Dié keer het hy nie terugbaklei nie, hy het net saans later en later by die huis gekom. Sommige nagte het hy glad nie huis toe gekom nie, het sy alleen gelê en rondrol, gewonder wie sy moet bel. Wanneer hy wel huis toe gekom het, was sy vriendelik, het sy hard probeer om hom nie te verwyt nie en om nie vrae te vra nie. Maar die bitterheid het gegroei, die vlaag van verliefdheid wat haar soos ’n rukwind van haar voete gewaai en ses maande in die lug gehou het, het bedaar. Sy was terug op die aarde. Die romantiese bril se lense was stukkend, sy kon weer helder sien. Sy het niks laat blyk nie. By familiebyeenkomste was sy lojaal en vrolik, het sy voorgegee dat niks verkeerd is nie. Haar trots het haar daarvan weerhou om anders op te tree. Hoe kon sy ’n jaar na haar troue erken dit was ’n fout? Haar man het nooit grootgeword nie, hy was net ’n kind wat elke week ’n nuwe speelding moet kry, anders het hy nukkerig geword. Hoe kon sy erken dat hy geen belangstelling meer gehad het in verlede jaar se speelding nie? Dit is wat sy was: ’n uitgediende plesier.

Sy blameer haar skoonouers wat hulle enigste kind so bederf het. Sy het hulle nooit geken nie; hulle is dood voordat sy vir Danie ontmoet het. Teen daardie tyd het hy sy erfporsie ook klaar verkwis. Hulle het hom goed nagelaat, het sy afgelei. Die geld het sy eerste reeks duur sportmotors gefinansier, die vakansies op Mauritius of in Europa saam met die meisie van daardie tyd. Teen die tyd dat sy hom leer ken het, was daar niks oor nie.

“Danie sou jou versorg nagelaat het,” het een van sy ooms vanoggend by die begrafnis gesê. “Hý is goed nagelaat.”

Hulle weet niks nie. Niemand weet wat die ware toedrag van sake is nie. Dis net sy wat weet dat daar geen polisse is nie, geen spaargeld, geen erfporsie wat veilig belê is nie. Die motor is saam met Danie in die ongeluk vernietig. As sy die huis verkoop, asook al die meubels en duur toerusting, sal sy miskien sonder skuld hier uitstap. Sonder skuld en sonder ’n sent. Sy sal niks hê nie. Nie ’n dak oor haar kop of ’n stoel om op te sit nie.

Danielle verskuif weer. Dis asof haar lyf gevoelloos geword het, maar toe sy opstaan, voel sy die fladdering. Sy bly so staan, haar hand teen haar maag. Dit gebeur weer, die vreemde rimpeling. Sy leun op die tafelblad, haar oë toe. Dit is die eerste keer dat sy lewe voel. Meteens krimp die sirkel selfs kleiner, bestaan die wêreld net uit haar lyf en die wesentjie wat binne-in haar groei, wat vanaand die eerste keer sy popledemate beweeg het.

Sy skrik toe die deurklokkie lui. ’n Sekonde of twee weet sy nie wat die geluid veroorsaak het of waar dit vandaan kom nie. Dan kom sy orent en stap die gang af.

Dis ’n jong meisietjie wat koulik op die stoep staan, ’n papiertjie in haar een hand.

“Is dit waar Danie Steyn woon?” vra sy.

Danielle antwoord nie. Sy staan net na die meisie en kyk. Haar blonde krulle hang oor haar skouers, haar gesig is te swaar gegrimeer, miskien in ’n poging om ouer te lyk, maar in werklikheid onderstreep dit haar jeugdigheid.

“Is jy sy suster?” vra die meisie.

“Ek is mevrou Steyn.” Dit klink vir haar asof haar stem van ver af kom. Sy wil die deur in die kind se gesig toedruk, want sy weet waarom sy hier is.

“Hoe bedoel jy?” vra die meisie en skud haar kop sodat die kabbelende gebleikte hare oor haar skouers tuimel. “Hy is nie getroud nie.”

“Hy was. Ons was agtien maande lank getroud.”

“O, ek sien.” Die meisie lag verlig. “Hy het nie gesê hy was ooit getroud nie, maar jy ken vir Danie.”

“Ja.” Danielle se stem is swaar. Terwyl sy na die meisie kyk en

die koue naglug om hulle draai, voel sy hoe die laaste bietjie warmte in haar doodgaan. Van die oomblik dat sy gehoor het Danie het verongeluk, was dit asof iemand met ’n reuseuitveër deur haar kop gevee het. Alles was meteens weg: al die bitterheid, die rusies, die koudheid tussen hulle. Al wat sy kon onthou, was die eerste weke, die eerste maande. Haar kop was vol daarvan – die geluk en liefde. En tog . . . sy het nie gehuil toe die polisie haar vertel het nie, sy het nie in die kerk of langs die graf gehuil nie.

“Sy is so dapper,” het mense gesê. “Sy besef natuurlik dat sy haar sterk moet hou ter wille van die ongebore kind.”

Nou weet sy dat sy nooit weer sal huil nie, dat die gruiserige droogheid van haar oë ’n permanente toestand is. ’n Mens kan net huil wanneer jy kan voel en sy voel niks meer nie.

“Ons is nooit geskei nie,” lig sy die meisie in. “Danie is dood.”

Die meisie snak na asem, druk haar hand teen haar mond en begin rukkerig huil. “Wat bedoel jy: Danie is dood?”

Danielle maak die deur wyer oop. “Dis te koud om hier te staan en praat,” sê sy. “Kom binne.” Sy loop voor, terug na die kombuis, en skakel die ketel weer aan.

“Hoe kan hy dood wees?” huil die meisie. “Hy was Saterdagnag nog by my. Ons sou vanaand uitgegaan het en hy het net nie opgedaag nie. Hy het nooit vir my gesê waar hy woon nie, maar van sy klere hang daar by my en ek het deur die sakke gekyk en ’n rekening gekry met dié adres op.” Sy hou die stuk papier na Danielle uit.

’n Rekening vir ’n nuwe pak. Sy sit dit woordeloos op die toonbank neer. Sy sal dit ook moet betaal. “Hy het Sondag verongeluk,” sê sy en maak die yskas oop om melk uit te haal. “Die begrafnis was vanoggend. As ons van jou geweet het, het ons jou in kennis gestel.”

Die meisie huil troosteloos, soos ’n kind, haar kop op haar arms.

“Hier,” sê Danielle en sit die koffie voor haar neer. “Is jy honger? Die yskas is vol kos.”

“Nee,” snuif die meisie en kyk dan op. Haar grimering lê in strepe oor haar wange. Sy lyk na ’n pandabeer met die blou verf onder haar oë. “Is jy regtig sy vrou?”

“Ek was,” sê Danielle in haar koue, veraf stem. “Wat is jou naam?”

“Leonie,” snik die meisie, vat ’n papierservet uit die houer op die tafel en snuit haar neus hard.

“Hoe lank ken jy hom al?” vra Danielle.

“So drie maande. Ons was so lief vir mekaar, maar die afgelope weke het ek min van hom gesien.”

Danielle gaan sit oorkant die tafel. Haar dooie bene kan haar nie langer regop hou nie. Nog ’n speelding waarvoor Danie moeg geword het, dink sy moeg. Nog ’n gemors wat sy moet opruim. Sy roer haar eie koffie terwyl haar brein somme maak. Drie maande. Sy is nou byna vyf maande swanger. In Januarie, toe sy haar bonus gekry het, is hulle ’n week Noordkus toe.

“Kom ons gaan bietjie weg,” het sy voorgestel. “Kom ons gaan terug na die plek waar ons ons wittebroodsvakansie gehou het.”

En ’n week lank was dit amper soos dit aan die begin was, al het hy rusteloos geraak teen die einde. Die besluit om ’n baba te hê, was nie iets wat sy alleen geneem het nie. Hy was baie geesdriftig, al het sy êrens in haar ontgogelde agterkop geweet dis net omdat dit weer iets nuuts sou wees. En sy was reg. Die oomblik toe die swangerskap bevestig was, het hy belangstelling verloor, was hy weer nooit by die huis nie.

Sy was dom. Dit het sy oor en oor vir haarself gesê gedurende die afgelope maande. Sy was nog altyd ’n nugter soort mens. Wat op aarde het haar besiel om swanger te raak? Het sy regtig geglo dit gaan die huwelik verstewig, hom meteens laat verander in ’n verantwoordelike, volwasse eggenoot? Hoe kon sy so naïef gewees het? Want dit het presies die teenoorgestelde uitwerking gehad. Die gedagte aan die komende pligte van vaderskap het hom laat spaander – in die arms van Leonie in.

“Wel,” sê sy nou sugtend, “Danie is dood. Dis verby.”

Leonie staan op, onvas op haar voete. “Ek is jammer ek het net hier ingebars,” sê sy. “Ek het regtig nie geweet . . .”

Danielle haal net haar skouers moeg op. Sy is te gedaan om die ironie van die situasie te waardeer. Hier is sy, die weduwee, besig om haar man se meisie – heel moontlik net één van sy meisies – te troos.

By die deur bly Leonie staan en bekyk Danielle vir die eerste keer op en af. Die regaf, grys rok en swart trui verbloem nie haar toestand nie.

“Jy is . . .” sê sy geskok en wys na Danielle se middellyf. “Verwag jy ’n baba?”

“Ja,” antwoord sy stroef en wens die kind wil loop. Sy kan nie meer inneem nie, haar verstand is besig om uit te brand.

“En ek het nie eens geweet nie,” begin Leonie weer huil. “Die skurk! Hoe kon hy dit aan my gedoen het?”

“Hoe oud is jy?”

“Twintig.” Leonie trek haar skouers regop en probeer haar waardigheid herwin. “Ek werk in die kafeteria by Danie se firma.”

“Ek sien.”

Leonie steek haar hand uit. “Tot siens. Ek sal jou seker nie weer sien nie.”

“Nee,” stem Danielle saam.

“Ek weet nie eers wat jou naam is nie.”

“Danielle. Dit is tog nie belangrik nie, is dit?”

“Danie en Danielle.” Leonie glimlag vir die eerste keer. “Ek het dit nie geweet nie. Julle name het by mekaar gepas.” Sy draai om en stap met die tuinpaadjie af. Sy sukkel in die donkerte om haar motortjie oopgesluit te kry, en sy ry.

Danielle druk die deur toe en sluit dit. Werktuiglik skakel sy ligte af en maak seker dat die vensters almal toe is. Sy is nie bang om alleen te wees nie; sy is gewoond daaraan. Waarvoor sy bang is, is die toekoms. Sy het reeds bedank uit haar werk; ’n swanger vrou kan nie so ’n posisie beklee nie. Die bietjie pensioen sal haar seker ’n maand of twee aan die lewe kan hou, maar waar gaan sy bly? Die huis moet verkoop word; daar is geen manier waarop sy die paaiemente kan byhou nie. Sy kan niks anders bekostig nie. Nie eens ’n kamer nie. En almal dink sy is goed nagelaat, dit het sy vanoggend gesien. Hulle het Danie nooit geken as die man wat hy werklik was nie.

Die personeel op kantoor het vir haar ’n ooievaarstee gegee die dag toe sy weg is. Die tas vol babaklere en benodigdhede wat sy toe gekry het, plus die rojale afskeidstjek van haar baas, is al wat sy het – dit en die klere wat haar nog pas. Sy weet as haar vriende en familie moet weet wat die ware toedrag van sake is, sal hulle aanbied om te help, maar daarvoor is sy te trots. Sy was nog nooit die soort mens wat maklik haar gevoelens met ander gedeel het nie. Sy was altyd ’n bietjie afsydig, eenkant. Sy kan nie nóú verander nie.

In haar slaapkamer knip sy die swart fluweelstrik los wat haar hare in haar nek vashou, trek uit en kruip tussen die koue, ontegemoetkomende lakens in. Sy bewe en trek haar knieë op om warm te word. Nog nooit in haar lewe het sy so eensaam en so verlate gevoel nie. In die donkerte voel sy hoe selfbejammering in die skadu’s wegkruip. Sy wens dat iemand haar moet oppas, dat daar na agtien bitter maande iemand moet wees om die las te help dra. Maar sy onderdruk dit. Selfbejammering het geen plek in haar lewe nie. Sy is sterk en sy sal sterk bly.

Cissie was die enigste een wat dit verstaan het. Sy kon nie na die begrafnis kom nie, maar sy het gebel en vir haar kon Danielle nie alles wegsteek nie. Miskien was dit omdat sy nie kon huil nie. Cissie het seker trane verwag, nie die ysige kalmte nie. Die huis was vol mense en hulle kon nie lank praat nie. Cissie het alles gesê wat konvensioneel nodig was, maar haar woorde was vol vraagtekens.

“Ek bel jou later,” het sy gegroet en Danielle het teruggekeer na haar gaste, al die mense wat haar hand gedruk het en hulle arms om haar geslaan het.

Danielle het niks gesê nie; net tussen hulle beweeg en gesorg dat almal iets te ete kry.

“Dankie dat julle gekom het,” het sy vir elkeen gesê. “Dankie vir die blomme, vir julle meegevoel, vir die belangstelling.” En die hele tyd het sy gewens dit wil verbygaan sodat sy alleen kan wees om te begin planne maak. Daar was vriendinne wat aangebied het om die nag oor te bly of te help opruim, maar sy het die hulp van die hand gewys. Sy wou alleen wees. Sy wou wegkom van die niksseggende woorde, opreg genoeg bedoel, maar nie op haar van toepassing nie.

Uiteindelik het Danie haar finaal in die steek gelaat. Die agtien maande van hulle huwelik was net ’n oefenlopie: hy het net met haar gespeel, haar voorberei vir die oomblik dat sy en sy alleen die mas sal moet opkom. In die proses het iets in haar doodgegaan – die deel wat tog naïef was, wat mense geglo het, wat op mense vertrou het. Nou eers besef sy hoe dwaas sy was. Nou eers weet sy dat sy haar hart vir niemand sal oopmaak nie. Sy wens sy het dit twee jaar gelede al geweet.

'n Vonk van liefde

Подняться наверх