Читать книгу 'n Vonk van liefde - Christine le Roux - Страница 7

Hoofstuk drie

Оглавление

Neil Greyling fluit ’n toonlose deuntjie terwyl hy deur die verkeer vleg. Hy is bly, soos elke keer wanneer hy in die stad kom, dat hy nie permanent hier hoef te bly nie. Dit sal hom mal maak. Hy kyk na die ander motoriste – dit lyk nie asof dit hulle pla nie. Party sit en tik met hulle vingers op die stuurwiel, ander staar onsiende en ingedagte deur die ruit terwyl hulle wag vir die verkeerslig om te verander.

Hy was net ’n paar dae hier en hy kan nie wag om terug te kom op die plaas nie. In die hotel waar hy tuisgegaan het, het hy verstom voor die venster gestaan en afkyk na die verkeer, die nimmereindigende lawaai van motors en sirenes. Die sonsondergang het vir hom besoedel gelyk, asof hy daarna kyk deur ’n gordyn van uitlaatgasse en rook.

“Koop vir my iets moois in die stad,” het sy vriendin Mieke vir hom gesê.

“Wat?” wou hy weet. “Ek weet nie wat jy wil hê nie en ek gaan nie veel tyd hê om in die winkels rond te loop nie.”

“Iets om te dra,” het sy gesê. “Toe, man, ek was maande laas in die stad. Koop vir my iets moois.”

Hy het moedeloos deur die winkels geloop. Hy was seker al die verkoopsdames staar na hom en wonder wat hy daar maak. Om vir homself klere te koop, is moeilik genoeg en iets wat hy so vinnig moontlik doen. Binne tien minute het hy vir homself hemde, sokkies, ’n nuwe trui en ’n lekker leerbaadjie bymekaargeraap en daarvoor betaal, maar om te besluit wat vir Mieke mooi sal wees, was ’n byna onbegonne taak. Hy het dit amper oorweeg om mevrou Steyn te bel en te vra of sy dit nie vir hom wil doen nie. ’n Ander vrou sal ten minste weet wat nou mode is en wat nie. Maar haar stem was so ontegemoetkomend oor die telefoon toe hy afgespreek het wanneer om haar te ontmoet, dat hy dit liewer nie gedoen het nie.

Die verkeerslig verander en hy ry weer.

Hy hoop die vrou gaan suksesvol wees. Na die fiasko van die afgelope maande sedert sy ma se dood, was hy min of meer gereed om die gastehuis toe te sluit en van die hele onderneming te vergeet. Die vrou wat waargeneem het, het klaarblyklik gedink sy kan heeldag op haar bed lê en lees. Sy het nie gesorg dat kos gekoop word nie, sy het nie toesig gehou oor die werkers nie. Alles het verval. Toe een egpaar – gereelde gaste wat jaarliks ’n week lank in die winter kom – toevallig noem dat hulle beddens nooit opgemaak is nie en dat hulle ’n week lank met dieselfde handdoeke moes klaarkom, het hy mevrou Delport ingeroep en gesê hulle het haar dienste nie meer nodig nie. Onder sy ma se bekwame leiding het alles glad verloop. Daar was elke dag vars blomme in die eetkamer en die versorging van die gaste was haar prioriteit.

Neil tuur na die straatname en ry stadiger. In hierdie voorstad loop die strate nie parallel nie, maar waaier uit soos die speke van ’n wiel. Hy probeer onthou wat mevrou Steyn gesê het. As sy Cissie se niggie is, kan sy nie te sleg wees nie, het hy besluit toe Cissie van haar vertel het. Cissie is een van die knapste boervrouens in die distrik. Toe Piet met die stadsmeisie op die plaas aangekom het, was almal skepties, maar sy het vinnig bewys dat daar niks is wat sy nie kan leer nie. Nou wen haar ingelegde vrugte en groente pryse op die landbouskou, sy kan biltong maak en vleis bewerk, sy voorsien die tuisnywerheid op die dorp van beskuit en gebak.

“Danielle is die regte mens,” het sy vir hom gesê. “Ek weet dit net. En sy moet wegkom uit die stad. Haar huwelik was nie so idillies soos almal aan die begin gedink het nie. Hy het hulle geld gemors en nou is sy alleen en verwagtend.” Meer wou sy nie sê nie en hy het ook nie uitgevra nie. Die swangerskap is natuurlik ’n komplikasie, maar hy is bereid om filosofies te wees. Hy hou van kinders – om die waarheid te sê, dis een van die twispunte tussen hom en Mieke en die groot rede waarom hulle nog nie getroud is nie.

“Ek weet wat sal gebeur,” sê sy altyd. “Nes ons getroud is, sal jy begin neul oor kinders. Ek is nog glad nie reg daarvoor nie. Ek wonder of ek ooit sal wees.” Haar suster se twee kleintjies irriteer haar, selfs Cissie se tweejarige wat ’n vreeslik oulike klein seuntjie is, laat haar koud. “Ek is abnormaal,” lag Mieke altyd wanneer sy sien hoe verbaas hy is. “Ek is gebore sonder ’n moederinstink.”

Neil is so ingedagte dat hy verby die straat ry en moet omdraai. ’n Hond blaf vir hom toe hy in iemand se rylaan instoot om te draai.

Hy is vier-en-dertig, ’n feit wat hy kort-kort onder Mieke se aandag bring. Hy wil nie ’n middeljarige vader wees nie, hy wil sy kinders geniet. Die probleem is dat hulle al kêrel en nooi is vandat hulle op skool was. Die feit dat hulle op buurplase grootgeword het, het natuurlik meegehelp. Sy was die meisiekind wat hy moes leer perdry en op skool het hy ook ’n oog oor haar gehou. Terwyl hy nog saam met sy pa geboer het, is sy universiteit toe. Na sy pa se dood het hy haar die eerste keer gevra om te trou.

“Nee,” het sy toe gesê. “Ek is nog te jonk. Ek wil eers die wêreld sien.” Sy het ook. Sy was ’n jaar oorsee terwyl hy geduldig gewag het. Toe het sy in Kaapstad gaan werk en net vakansies huis toe gekom. Hy was besig op die plaas en daar was nie eintlik ander hubare meisies in die omgewing nie. Miskien het sy dit geweet en is dit waarom sy hom so aan ’n lyntjie gehou het.

Op die oomblik bestuur sy ’n weefskool op die plaas en sien hulle mekaar gereeld. Sy is amper dertig en hy werk nou hard aan haar dat hulle tot trou kan kom – tot dusver met min sukses. Daar is altyd iets anders wat sy eers wil doen. Die weefskool moet selfonderhoudend word, haar jonger broer moet eers trou.

Neil hou vinnig stil. Hy het amper by nommer ses verbygery. Hy kyk na die huis en sien die voordeur staan oop. Drie groot reistasse en ’n stapel kartondose staan reeds in die paadjie. Hy klim uit en stap nader. Net voordat hy by die deur kom, verskyn Danielle. Sy is netjies aangetrek in ’n liggrys rok en swart jas. Die jas is van goeie snit en materiaal, maar kan nie meer voor toeknoop nie.

“Ek is Neil Greyling,” sê hy en steek sy hand uit. “Aangename kennis.”

“Danielle Steyn.” Haar hand is yskoud, haar vingerpunte raak skaars aan syne. “Ek is reg.” Sy buk en tel twee van die tasse op.

“Nee,” sê hy vinnig en vat dit by haar. “Asseblief. U kan nie . . .”

Sy staan terug en sê nie ’n woord nie. Hy begin alles aandra na die bakkie. “Die dose is swaar,” waarsku sy in ’n lewelose stem. “Dis breekgoed en –”

“Ek is gewoond aan swaar goed,” verseker hy haar.

Toe alles op die bakkie gelaai is, trek hy ’n seil oor en maak dit vas. “Wat nog?”

“Ek moet net toesluit en die sleutel by die bure laat.” Hy stap agter haar aan deur die leë huis. Hulle voetstappe eggo in die verlate vertrekke. Alles is kraakskoon, in die kombuis blink alles. Selfs die vensters is so skoon dat dit lyk asof daar nie glas is nie.

“Jy het die huis baie mooi laat skoonmaak,” sê hy. “Die nuwe eienaars gaan dit waardeer.”

“Ek het dit self gedoen.” Sy sluit die deur toe en stap na die bure terwyl hy seker maak die seil is goed vas.

“Nou ja,” sê hy toe sy langs hom ingeskuif het. “Is jy gemaklik? Kan ek die sitplek agtertoe skuif?” Hy skakel die enjin aan en trek weg. “Ons gaan tog nie vir mekaar ‘u’ sê nie. My naam is Neil.”

“Danielle,” sê sy en haal ’n donkerbril uit haar handsak. Sy kyk nie weer terug na die huis nie, maar leun haar kop agteroor.

“Jy lyk baie moeg,” sê hy. “Dit moet ’n groot werk wees om so ’n huis op te pak.”

Sy antwoord nie, knik net.

“Dis al halfelf,” sê hy. “Ons ry maar vandag so ver ons kan. Jy moet sê as jy ongemaklik word, dan hou ons stil. Ek besef in jou . . .

in die omstandighede is ’n lang motorrit seker nie gemaklik nie en die bakkie stamp maar. Ons sien hoe ver ons kom.”

Sy swyg.

“Normaalweg sou ek vanoggend vroeg gery het,” praat hy weer. “Vieruur of so. Dan was ek vanaand al op die plaas, maar ek het nie gedink jy sal so vroeg wil ry nie. Of so lank kan sit nie.”

“Ek gee nie om nie,” sê sy in haar dowwe stem. Hulle ry in stilte verder. Mettertyd verdwyn die stad agter hulle, ry hulle deur die vaal grasvelde van die Hoëveld. Hy het gedog sy slaap, maar skielik kyk sy af na haar hande wat gevou op haar skoot lê en begin oor haar vingers vryf. Haar naels is kortgeknip en kleurloos, die vel bleek afgesien van die blou are wat uitstaan. Met haar voorvinger vryf sy oor die dun goue ring, trek dit af en voordat hy weet wat sy beplan, draai sy die ruit af en gooi die ring uit. Toe draai sy die venster weer toe, ril effens en probeer haar jas digter om haar lyf vou.

’n Sprakelose sekonde lank sê hy niks nie. “Ek weet nie of dit ’n wyse stap was nie,” sê hy dan. “Is ’n trouring nie belangrik vir iemand wat . . . vir ’n vrou in jou toestand nie?”

“Dis waardeloos,” sê sy koel. “My verloofring het ek verkoop.” Sy draai haar kop skuins teen die rugleuning en dié keer raak sy wel aan die slaap. Nou en dan kyk hy na haar en wens hy het ’n kussing saamgebring. Sy lyk ongemaklik met haar nek so skeef gedraai.

Hy kan nie help om effens mismoedig te voel nie. Die vrou lyk eksentriek, glad nie soos Cissie nie. Hulle lyk ook nie na mekaar nie.

Cissie was kort, donker en fyn toe hy haar die eerste keer as Piet se bruid ontmoet het. Na vier jaar as boervrou en ma van een kind, is sy effens gesetter, maar steeds lewendig en positief. Sy herinner hom aan ’n voëltjie, haar donker oë altyd blink en vrolik. Sy trek aan wat vir haar gemaklik is; haar kort, donker krulhare is altyd windverwaaid. En sy is gelukkig. Sy en Piet is die gelukkigste paartjie wat hy ken. Hulle vul mekaar aan, hulle kan oor alles lag en na vier jaar is hulle nog so verlief soos aan die begin. Danielle moet na ’n ander deel van die familie aard, want sy is lank en skraal. Ten spyte van haar swangerskap kan hy sien sy is skraal. En sy is blond. Haar hare is streng van haar gesig weggekam en in haar nek vasgemaak en haar vel is byna deursigtig wit. Sy beter ’n hoed dra op die plaas, dink hy. Sy sal verbrand in die somerson.

Neil se skouers begin net stram word van die bestuur toe Danielle beweeg en fronsend regop sit. “Ek is jammer,” sê sy. “Ek het aan die slaap geraak. Waar is ons?”

“In die Vrystaat,” sê hy. “Jy is seker al honger. Dis ver verby etenstyd, maar ek het gedink ek stoot maar aan.” Hy draai by die volgende dorp af en hou stil voor die kafee.

Sy is stil terwyl hulle eet en hy voel skuldig toe hy sien hoe hongerig sy eet. Daar was seker geen kos oor in die leë huis nie. Toe sy klaar is, trek sy die rekening nader voordat hy kan keer en tel geld uit.

“Nee,” sê hy en trek die papier voor haar weg. “Ek betaal.”

“Ek sal my helfte betaal,” sê sy koel.

“Nee, dit laat ek nie toe nie.” Hy stoot die geld terug na haar kant van die tafel.

Sy haal haar skouers op asof sy nie regtig omgee nie en loop na die badkamer. Hy betaal en koop ’n paar bottels koeldrank en ander snoeperye. Toe sy terugkom, staan hy buite op die stoep en rook.

“Ek wil nie in die bakkie rook nie,” sê hy. “Dit sal jou ongetwyfeld hinder.”

“Ek gee nie om nie.” Sy onthou dat Danie in die slaapkamer gerook het en dat sy dit gehaat het. Sy wys na die bakkie. “As jy wil, sal ek bietjie bestuur.”

“Nee, dis nie nodig nie. Ek is gewoond aan lang ente alleen ry.” Hy sluit oop en hulle klim in. “Hou jy van bestuur?” vra hy toe hulle weer ry.

“Ek gee nie om nie.”

Hy wonder of dit al is wat sy ooit sê. “Het jy jou motor ook verkoop? Cissie het iets gesê van die trein; dis waarom ek aangebied het om jou op te laai. In jou toestand . . .”

Sy draai haar kop en kyk hom berekenend aan. “Jy hoef nie gedurig na my toestand te verwys nie. Dit maak nie van my ’n kreupele nie. Ek kan alles doen wat ek voorheen gedoen het.” Dis asof sy self besef sy was miskien bietjie kras, want toe sy weer praat, is

haar stem vriendeliker. “Nee, ek het nie die motor verkoop nie. Danie het dit saam met homself afgeskryf.”

Hy is geskok deur die gevoellose opmerking. “Danie was jou man?”

Sy knik.

“Jy kan die ander bakkie gebruik,” sê hy. “Ek dreig altyd om ’n motor aan te skaf, maar die bakkie is so gerieflik. My ma het ook daarmee gery.”

“Dis goed,” antwoord sy. “Ek is regtig nie puntenerig nie. Miskien moet jy my vertel wat my werk gaan wees.”

“Ons het die ou plaashuis omskep in ’n gastehuis,” vertel hy, bly om op meer bekende terrein te wees. “In my oupa se dae was die vallei verdeel in ’n klomp kleiner plase, en my pa het baie daarvan teruggekoop. Ons bly nog altyd in dieselfde huis, maar die stuk grond teen die pad het ook ’n huis op gehad en dit het jare lank leeg gestaan. Ek het dit gebruik om wintervoer en ou meubels in te bêre. Maar dit het my altyd gehinder dat so ’n mooi ou huis net staan en verval. Toe die bed-en-ontbyt-gedagte oral posvat, het ek en my ma besluit om die huis op te knap. Ons lê presies in die middel van die twee dorpe en met die goeie ligging was ons seker dit sou werk. Ek het die huis laat restoureer en ons het dit ingerig met vier dubbelkamers met badkamers. Van die eerste dag af was dit ’n sukses.” Hy glimlag effens. “Reisigers is seker moeg wanneer hulle ons uithangbord sien en maar te dankbaar dat hulle nie die kans hoef te waag om tot op die volgende dorp te ry en dan voor ’n vol hotel te kom nie. Ons bedien eenvoudige etes; die kos kom meesal van die plaas self – ons eie vleis en groente en melk. So ’n jaar gelede het my ma besluit om tafels en stoele op die stoep en in die tuin te sit, omdat soveel mense daar aangery het net op soek na iets om te drink of iets ligs om te eet. Dit was selfs ’n groter sukses. Ek dink sy het groot planne gehad, maar haar gesondheid was nie goed nie.”

“Ek is jammer,” sê Danielle. “Ek het gehoor sy is oorlede.”

“En Cissie het jou seker vertel dat mevrou Delport wat toe oorgeneem het, nie gedeug het nie.”

“Ja,” antwoord sy. “Wat presies gaan my take wees?”

“In die eerste plek moet jy toesig hou oor alles: die etes, die huis self. Ek het ’n goeie kok. Dis ’n goeie groep mense wat daar help, maar iemand moet leiding gee. Dis nie ’n hotel nie en ons diens is uit die aard van die saak meer persoonlik. Jy is ’n soort gasvrou.” Hy kyk vinnig na haar, want sy lyk nie vir hom na ’n sosiale soort mens nie. “Sien jy kans daarvoor?”

“Natuurlik. Die . . . e . . . bevalling behoort nie meer as ’n week van hulpeloosheid te beteken nie.” Vir die eerste keer klink haar stem effens onseker. “Ek weet vanselfsprekend nie, dis my eerste ondervinding daarvan, maar . . . ek was nog nooit sieklik of hulpeloos nie. Ek is sterk.”

Hy kyk weer vinnig na haar, maar lewer nie kommentaar nie.

“Ek gee nie in nie,” sê sy ferm. “Ek is nie van daardie soort vrouens nie.”

Hy sê hierop ook niks nie.

“Cissie het gesê daar is ’n klein woonstelletjie waar ek sal bly,” sê sy.

“Ja, dis agter die huis. Dit was eers die buitekamer. My ma het eers by my in die huis gebly, maar sy het gou agtergekom sy is te alle tye nodig wanneer die gastehuis vol is. Soms word mense siek of hulle wil baie vroeg in die oggend vertrek, veral wanneer hulle op pad is na Kaapstad, en dan moet daar iemand wees om hulle weg te sien. Jy kan dit begryp. Toe het ons die buitekamer omskep in ’n woonstel. Dis eintlik net ’n groterige slaapkamer, klein sitkamertjie en badkamer.”

“Is dit apart van die huis self?”

“Nee. Dit was oorspronklik, maar met die aanbou van die badkamer het ons dit deel van die huis gemaak. Jy wil nie saans of soggens douvoordag buite om loop nie, veral nie in die winter nie. Wanneer die baba eers daar is, sal dit vir jou nog beter wees, want jy sal altyd binne bereik wees.”

Danielle absorbeer al hierdie inligting. Sy kan nie help om wrang kennis te neem van die feit dat hierdie vreemdeling, vir wie sy nog maar ’n halwe dag ken, reeds meer na haar ongebore kind verwys het as wat Danie in byna vyf maande gedoen het nie. Die dag toe sy van die dokter gekom het met die nuus, was hy in ekstase en ’n week daarna het hy haar bewonderend aangekyk, maar daarna was dit ou nuus. Hy het nooit weer daarna verwys nie; net geirriteerd voorgestel dat sy miskien in die gastekamer moet slaap sodat hy nie haar oggendnaarheid hoef mee te maak nie.

Neil sien hoe haar gesig verstrak, hoe haar mond hard word en hy wonder waaraan sy dink.

“Ek dink nie ons moet probeer deurry nie,” sê hy.

Ten spyte van haar versekering dat sy sterk is, lyk sy vir hom absoluut gedaan. Dis nie net die deurskynende vel nie – onder haar oë is donker kringe.

“Moet asseblief nie om my onthalwe stilhou nie,” sê sy. “Ek is gemaklik soos ek is.”

Dis nie waar nie, hy kan sien sy jok. Wanneer sy dink hy sien haar nie, skuif sy rond, haar gesig vertrek, en hy weet haar rug is seer.

“Dit sal tog beter wees,” sê hy neutraal. “As ons deurry, kom ons in die middel van die nag of die vroeë oggendure op die plaas aan. Om dan uit te pak en jou gevestig te kry, sal die res van die nag duur en ek kan nie dan gaan slaap nie; die plaaswerk wag.”

“In daardie geval hou ons stil,” antwoord sy, “as dit jou beter pas.”

“Ek dink so,” jok hy. “’n Mens raak moeg van die ry.”

Sy verskuif weer en ’n pakkie by haar voete kraak.

“Ek is jammer. Ek moes dit agterin gegooi het,” sê hy en wys daarna. “Miskien moet jy daarna kyk. Dis ’n trui en twee bloesies wat ek vir my vriendin gekoop het. Ek het geen benul van sulke goed nie. Dink jy sy sal daarvan hou?”

Sy maak die pakkie oop en haal die klere uit. “Dis mooi,” sê sy. “Baie kleurryk. As sy donker is, gaan sy mooi lyk, maar as sy blond is, gaan hierdie geel bloes haar nie pas nie.”

“Sy is donker,” sê hy.

“Dan is dit goed.” Sy vou die klere netjies op, sit dit terug in die sak en sit weer haar donkerbril op omdat die middagson skerp in haar oë is.

'n Vonk van liefde

Подняться наверх