Читать книгу 'n Vonk van liefde - Christine le Roux - Страница 5
Hoofstuk twee
Оглавление“Hoe mooi!” sê die jong paartjie wat deur die huis loop. “En orals die mooi blomme.” Die vroutjie draai na Danielle en kyk haar ernstig in die oë. “Was u gelukkig in hierdie huis? Dis vir ons belangrik om te weet. ’n Huis het tog ’n sekere atmosfeer, dink u nie?”
“Ons was gelukkig toe ons dit gekoop het,” sê Danielle in haar toonlose stem.
Sy gaan sit by die kombuistafel waar sy soveel ure die afgelope twee weke deurgebring het en wag dat die mense klaar kyk en loop. Soveel potensiële kopers het al deur die huis gestap en niemand het nog ’n aanbod gemaak nie. Dis deel van haar daaglikse bestaan: dié mense wat deur die huis loop. Hulle is deel van die groter sirkel wat buite haar bereik bly. Mense en formaliteite wat soos ’n wolk om haar sweef en haar nie raak nie. Sy en haar kind, die fyn beweginkies binne haar, hulle twee vorm ’n harde kern. Dis al wat regtig saak maak. Dis asof sy van ver na haar eie stem luister wanneer sy oor die telefoon praat, amper humoristies.
“Jong, jy weet hoe Danie kon koop en ek weet regtig nie wat om met alles te doen nie. Jy stel nie dalk belang in die rekenaar nie?”
Hoeveel haar vriende raai, weet sy nie, maar hulle is behulpsaam. Hulle koop terwyl die band om haar hart stywer en stywer trek.
“U moet bietjie wegkom,” het haar dokter gesê. “Die dood van u man, alles . . . dis nie gesond nie. U verkeer onder geweldige stres. Kan u nie ’n paar weke gaan uitrus nie?”
Sy het net na hom gesit en kyk. Sy wil nie rus nie. Sy moet besig bly en dink en probeer beplan. Al haar bewegings het meganies geword. Sy staan op, eet drie keer per dag omdat sy nie haar ongebore kind wil benadeel nie. Sy drink haar vitamines, sy beantwoord die telefoon, sy skryf tjeks uit.
“Ja,” hoor sy die paartjie se stemme. Dit klink asof hulle bo in die lug rondsweef, al kan sy sien hulle staan langs haar. “Ons wil die huis hê.”
“Ek kom terug na u,” sê die agent ook in die verte en hulle verdwyn uit haar sig.
Danie se firma het hom in ’n groepversekering gedwing; hy het geen keuse gehad nie en daarvoor is sy dankbaar. Dit help om die skuld af te betaal. Elke dag word die huis leër wanneer iemand iets kom haal. Nou is dit net ’n kwessie van tyd voordat die huis ook verkoop is.
“Jy kan vryskutwerk van die huis af doen,” het ’n kollega vir haar gesê. “Ek kan genoeg mense na jou verwys. Tikwerk sal jou mos nie uitput nie?”
Sy het net na hulle gekyk. Nee, dit sal haar nie uitput nie, maar sy gaan nie meer ’n huis hê nie. Sy het al gaan kyk na piepklein woonstelletjies, na kamers, na losieshuise, maar sonder ’n inkomste kan sy niks bekostig nie.
Daar is ’n hinderlike geluid wat haar gedagtes versteur. Eers kyk sy na die ketel, maar dit fluit nie. ’n Wekker? Die deurklokkie? Nee, dit is die telefoon. Sy staan moeisaam op om weer eens met haar spesiale, ligte stem te gaan praat, die stem waarmee sy vorendag kom wanneer sy met mense moet praat.
“Danielle,” sê Cissie en sy klink so naby dat Danielle verward in die kamer rondkyk, nie seker waar sy of Cissie nou is nie. “Ek het ’n oplossing.”
“Oplossing?” Danielle probeer die wolk eenkant toe druk sodat sy beter kan hoor. “Oplossing waarvoor?” Sy herken nie haar eie stem nie; dis iemand anders wat so hoog en yl praat.
“Is die huis al verkoop?”
“Daar is mense wat belang stel.”
“Dis goed. Ek weet wat jy deurgaan, Nell, jy kan my nie om die bos lei soos die ander nie.”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie,” sê sy suf.
“Danie was jou nooit werd nie,” sê Cissie kortaf. “As al die ander te dom was om dit te besef – ek was nié. Ek weet wat hy aan jou gedoen het en ek weet waarmee jy nou sit.”
“Hoe weet jy?”
“Onthou jy toe ons kinders was, het ons altyd gesê ons kan telepaties met mekaar praat? Onthou jy dit? Hoe hard ons geoefen het? Maar dis nie nou ter sake nie. Ek wil ook nie eers oor Danie praat nie. Ek is meer besorg oor jou en ek dink ek het ’n oplossing, aangesien jy nie by ons op die plaas wil kom bly soos ek van die begin af voorgestel het nie.”
“Nee,” sê Danielle. “Ek moet vir myself sorg. Jy weet dit. Ek moes dit lankal gedoen het.”
“As jy bedoel jy moes nooit met Danie getrou het nie, is ek dit met jou eens.” Cissie se stem is skerp. “Maar dis nou te laat vir trane. Luister mooi. Ek weet nie of jy ooit ons buurman ontmoet het nie. Sy huis is so vyf kilometer voordat ’n mens na ons afdraai – ’n groot wit huis halfpad teen die rantjie.”
“Nee,” sê Danielle moeg.
“Dit maak nie saak nie. Jy weet dat bed-en-ontbyt-plekke die afgelope jare gewild geword het. Wel, Neil het die ou huis, die een wat teen die pad is, ingerig as so ’n gastehuis en –”
“Ek is moeg, Cissie,” sê Danielle. “Hoekom vertel jy dit vir my?”
“Omdat dit is waarna jy soek. Asseblief, luister na my, Nell. Ek weet dis presies wat jy nodig het. Neil se ma, tant Hester, het die gastehuis bestuur, al was sy teen die einde baie sieklik. Sy is drie maande gelede oorlede en van toe af sukkel hy vreeslik. Die plek is so goed geleë, jy weet tog self, en hulle het byna die hele jaar deur mense wat daar stilhou. Afgesien van die oorslaapplek het hy ’n soort teetuin ingerig, waar mense net kan stilhou vir iets om te drink of te eet. Die woord versprei, jy weet self, en mense bly liewer op so ’n plek oor as in ’n hotel.” Cissie praat vinniger, asof sy weet Danielle wil nie meer luister nie. “Hy het geadverteer vir iemand om die plek te bestuur, maar die vrou was uiters onbekwaam en onbetroubaar. As hy nie vinnig iemand anders kry nie, is sy reputasie daarmee heen. Ons was gisteraand daar – dis waar ek daarvan gehoor het – en ek het dadelik gesê ek weet van net die regte persoon.”
“Wie?” vra Danielle. Sy het ’n stoel nader getrek en gaan sit, want haar bene is moeg. Nou leun sy met haar kop op haar hand, die gehoorstuk van die telefoon slap tussen haar ander hand se vingers.
“Jy, natuurlik! Jy weet genoeg van bestuur en boekhouding en sulke goed. Dis eenvoudig. Jy kry vanselfsprekend gratis inwoning – daar is ’n klein woonstelletjie in die gastehuis self. Jy kan wegkom uit die stad, jy het ’n plek om te bly, jy het werk. Ek dink dis ideaal. En natuurlik is jy dan naby ons ook. Dink jy nie dis wonderlik nie?”
Die inligting dring stadig deur Danielle se suwwe brein. “Ek kan nie so goed kook nie,” sê sy.
“O, daar is ’n kok. Jy sal bloot bestuurderes wees.”
“Ek is swanger.”
“Ek het dit vir hom gesê,” sê Cissie dadelik. “Dis nie ’n probleem nie. Dis mos nie asof jy op kantoor is waar jy vaste ure het en altyd uitgevat moet wees nie. Jy sal kan rus en daar is dae wanneer daar geen gaste is nie. As tant Hester dit op haar ouderdom kon doen, kan jy.”
“Wat van die baba?” sê Danielle weer. “Oor drie maande is die baba hier.”
“Presies. Kan jy dink aan ’n meer gemaklike opset? Jy hoef nie uithuisig te wees nie, jy hoef jou nie te kwel oor babaoppassers of so iets nie. Jy sal in die huis wees, by jou baba. En jy word ’n salaris betaal. Dis nou nie so groot nie, maar aangesien jy onderdak en kos het, behoort dit genoeg te wees.”
“Ek weet nie,” sê Danielle. “Ek weet nie.”
“Nell,” sê Cissie streng. “Ek wil hê jy moet mooi gaan dink. Wat is die alternatief? Waarheen gaan jy wanneer jou huis verkoop is? Is daar genoeg geld oor vir jou om van te leef?”
“Nee. Daar gaan niks oor wees nie. Of bitter min.”
“Juis. Vir ten minste die volgende jaar het jy ’n plek nodig waar jy beskerm en veilig kan bly, waar jy in vrede met jou baba kan leef. Ek dink dis ’n antwoord op ’n gebed.”
Danielle se kop is nou helderder. Dit is asof iemand in die donkerte ’n kers aangesteek het. Sy wil na die lig kyk, sy wil glo dis nie net ’n hersenskim nie. “Ja,” sê sy. “Ek het so hard gebid.”
“Ek weet.” Cissie se stem is warm en simpatiek. “Ek weet, Nell. Sal jy daaroor dink en my môre terugbel?”
“Môre al?”
“Neil is haastig,” sê sy. “Jy kan dit verstaan. Hy kan nie toekyk hoe die hele onderneming verval nie. As jy nie belang stel nie, moet hy dadelik adverteer en hoop vir die beste. Ons het hom van jou vertel, hoe konsensieus jy is, hoe ’n toegewyde werker jy is. En luister, jy sal nie eers hoef te sukkel met treine nie. Neil kom oor tien dae Transvaal toe met die bakkie vir die een of ander merinokongres. Hy kan jou en al jou bagasie kom oplaai en jy kan saam met hom terugkom. Ek dink alles werk wonderlik uit.”
“Ja,” sê Danielle. “Ek sal jou bel. Dankie, Cissie.”
“Ons is lief vir jou, Nell. Ons wil help.”
“Dankie,” sê sy weer en sit die gehoorstuk neer.
Sy het skaars gaan sit toe die telefoon weer lui. Dié keer is dit haar gewese baas wat haar daaraan herinner dat haar werk vir haar wag wanneer haar kraamverlof verby is. Dis asof dit ’n vreemde vrou is wat praat, dink Danielle terwyl sy na haar eie stem luister. Ferm, positief, byna vrolik. “Nee, ek dink nie so nie,” hoor sy haarself sê. “Baie dankie vir die aanbod, maar iets anders het opgeduik.” Sy vertel hom van Cissie se voorstel en sy kan hoor hy is verlig. Hy wil nie ses maande lank met ’n tydelike sekretaresse opgeskeep sit nie; hy wil dadelik ’n nuwe een begin oplei.
“Al sal niemand ooit so bekwaam wees soos jy nie,” sê hy lojaal.
Die volgende dag bel sy vir Cissie terug en aanvaar die aanbod. Dis nie asof sy lank en diep nagedink het nie, daarvoor is haar brein te moeg en suf. Dis bloot dat dit op die oomblik na ’n uitkoms lyk en sy is bereid om enigiets te aanvaar as dit beteken sy kan ophou dink. Niks is vir haar meer werklik nie. Sy pak haar persoonlike goed, breekware en linne in dose; sy staan die huisagent te woord; sy kanselleer die telefoondiens en sluit bankrekenings.
Soms staan sy voor die venster en kyk na die geel, doodgerypte grasperk, die verlepte struike, die koue wit lug, maar sy voel niks nie.
Al wat enige betekenis het, is die lewende wese binne-in haar. As sy gaan sit omdat haar rug te moeg is, hou sy haar hand beskermend om haar maag, asof sy bang is haar gevoelloosheid dring deur tot die baba.
“Vandag kan jy sien hoe hy of sy lyk,” sê haar dokter toe sy vir haar laaste afspraak by hom opdaag. Hy wys na die sonarskerm en sy staar verwonderd na die kloppende hartjie. Hy beduie na ledemate, maar sy sien net die kloppende middelpunt. Omdat sy niks sê nie, druk hy haar hand simpatiek.
“Ek verstaan hoe jy voel,” sê hy. “Jy wens jou man was hier om dit saam met jou te sien.”
Sy skud haar kop, skielik geïrriteerd met al die mense wat dink sy rou. “Hy sou nie belang gestel het nie,” sê sy koud. “Hy het gehou van die gedagte van ’n kind, maar hy wou niks weet van die fisieke proses nie. Hy kon dit nie verdra toe ek byvoorbeeld naar was nie.” Hy was by ’n ander meisie, wil sy byvoeg.
“Baie mans is so,” troos hy. “’n Bietjie verskrik deur die verandering in hulle vrouens.”
Sy sê niks verder nie omdat sy bang is vir wat sy sal sê as sy eers begin praat.
Daardie aand maak sy Danie se kas die eerste keer oop, trek die kartondose nader en begin klere opvou en inpak. Sy het met die kerk gereël – hulle sal dit kom haal en versprei onder behoeftiges. Hemde, pakke, skoene, sokkies; werktuiglik beweeg haar hande. Sy skud al die sakke uit, maar frommel alle papiere op sonder om daarna te kyk.
Toe die kas leeg is, bly sy daar op die vloer tussen die dose sit. Wanneer sy dink aan die man op wie sy verlief geraak het, die man wat saam met haar wittebroodsvakansie gehou het, is dit iemand anders. Dit is iemand wat lankal vertrek het, oor wie sy ’n jaar gelede al ophou treur het.
“Ek dink jy is net die regte meisie om Danie te tem,” het een van sy tantes op die troue gesê.
Sy het gelag. Wat het die vrou bedoel? Sy was omring van blomme, die wasigheid van haar sluier. Danie het langs haar gestaan, sy hand besitlik om haar middellyf, al was hy besig om met iemand anders te praat.
“Ek kan sien jy is volwasse en nugter,” het die tante voortgegaan. “Dis wat hy nodig het. Sy ouers het hom bederf, hy het begin glo die wêreld bestaan net uit plesier.”
Danielle was bly Danie het dit nie gehoor nie, maar ses maande later het sy geweet wat die tante bedoel het. Sy het ook geweet dat sy gefaal het; dat sy nie toegerus was daarvoor om ’n dertigjarige man groot te maak nie. Sy onthou net dat sy van een dag na die volgende verander het. Die skille het van haar oë afgeval. Wat ’n raak spreekwoord, dink sy nou waar sy op die vloer sit. Sy was blind; daar was figuurlik skille oor haar oë, en meteens het dit afgeval. Sy kon weer helder sien.
“Jy is te ernstig,” het hy haar verwyt. “Môre sal vir homself sorg. Jy moet leef vir vandag.”
“Ek kan nie,” het sy erken. Sy het probeer en gesien dis onmoontlik. Sy het anders grootgeword, sy het ander waardes gehad. Haar pa is dood toe sy op hoërskool was – ’n hartaanval. Toe sy die aand gaan slaap het, was hy nog daar. Sy het haar huiswerk klaargemaak, hom nag gesoen soos altyd, en gaan slaap. Toe sy wakker word, was daar vreemde mense in die huis en ’n ambulans voor die deur.
“In sy slaap,” het haar ma gesnik. “Toe ek wakker word, was hy al koud.”
Miskien was dit daar waar die verandering ingetree het, is dit waar haar verantwoordelikheidsin ontstaan het. Haar ma was verpletterd, drywend. Sy kon geen besluite neem nie. Sy, Danielle, moes vir alles sorg. Sy het die predikant te woord gestaan, by die begrafnis haar ma ondersteun en in die maande en jare daarna het sy net al meer en meer op haar jong skouers geneem. Haar pa het hulle goed nagelaat, maar haar ma kon geen besluit neem nie. Alles was te veel vir haar. Danielle het elke maand die rekeninge betaal.
Sy is ingeroep wanneer die prokureur oor die bereddering van die boedel kom praat het. Sy onthou nou nog hoe sy tydens haar matriekeksamen moes onderhandel met die man wat die dak reggemaak en nuwe geute aangesit het. Haar ma het vinnig verouder; toe Danielle haar sekretariële kursus begin het, het haar ma gekla sy is te alleen, sy wil die huis verkoop. Weer eens het sy alles gereël, vir haar ma ’n woonstel gekoop in ’n kompleks vir bejaarde mense. Dis waar sy nou nog woon, veilig en afgesonder van die werklikheid, omring van weduwees wie se lewens ewe beperk is, gelukkig en tevrede. As daar ’n probleem opduik, soos ’n rekening wat sy nie verstaan nie, bel sy vir Danielle.
Miskien omdat haar ma so hulpeloos was, het Danielle prakties geword. In die jare voordat sy vir Danie ontmoet het, was haar lewe georden. Sy het ’n begroting gehad en daarvolgens geleef. Sy het nooit geld gemors nie: as sy iets gekoop het, was dit duursaam en nodig. Selfs met klere het sy nie soos haar vriendinne elke nuwe modegier slaafs nagevolg nie. Sy het min gekoop, maar elke kledingstuk was duursaam en elegant, sy kon dit jaar na jaar dra. Wanneer sy nou na haar kas kyk, is sy bly hieroor.
Waarom het sy dan met Danie getrou? Waarom het sy so vinnig getrou? As hulle ses maande verloof was, sou sy besef het hoe hy regtig was. Dan kon sy betyds kop uitgetrek het en was sy nie nou in so ’n penarie nie.
Sy het haar ma gebel en vertel van haar planne. Haar ma was bly dat sy so na aan Cissie sou wees, maar neulerig omdat Danielle so ver weggaan.
“Hoekom kan jy nie in die huis aanbly nie?” wou sy weet. “Ek sien uit na jou kuiertjies elke naweek.”
“Dis nie moontlik nie. Ek werk nie meer nie en daar is baie skuld. Ek moet die huis verkoop.”
Sy kon hoor haar ma verstaan dit nie. In haar ma se oë is daar geen probleem wat haar dogter nie kan oplos nie.
“Ek sal skryf,” het sy belowe. “En bel.” Toe sy die gehoorstuk neersit, het sy besef dat haar ma nooit gevra het hoe dit met haar gaan nie. Sy wou weet hoe die swangerskap vorder, sy het opgewonde vertel van al die truitjies en kombersies wat sy vir haar eerste kleinkind brei, maar sy het nooit gevra hoe dit regtig met Danielle gaan nie. Al wat sy gesê het, was: “Nou weet jy hoe swaar dit is om ’n weduwee te wees.”
Nee, wou sy sê, ek weet nie. Pappa was lief vir Ma tot hy dood is. Hoe rou ’n mens as jy lankal niks meer voel nie?