Читать книгу 'n Nuwe begin - Christine le Roux - Страница 4

Hoofstuk een

Оглавление

Elke keer dat Emilia haar oë ’n paar sekondes oopmaak, dryf ’n ander vreemde gesig bokant haar. Aan die begin is hulle niks meer as ronde skywe nie, maar mettertyd herken sy party. ’n Paar is vroulik en een irriteer haar omdat sy gedurig roep.

“Mevrou Roux! Hoor jy my? Mevroutjie? Emilia?” Emilia maak dadelik weer haar oë toe en gly weg in die diep, donker kuil waar niemand na haar roep of iets van haar vereis nie. Sy kan nie verstaan waarom hulle so met haar lol nie. Sy ken hulle nie en sover sy weet, hinder sy hulle ook nie.

Daar is twee mansgesigte wat ook dikwels bokant haar hang. Namate sy langer tydperke wakker is en meer in haar omgewing belang stel, bestudeer sy hulle. Een is blond, die ander een donker, maar albei tuur altyd na haar met eenderse gekwelde uitdrukkings op hul gesigte. Sy kyk hulle deur, probeer onderskei wat hulle sê as hulle so bokant haar dryf, maar sy gee gou die stryd gewonne. Sodra sy hard probeer dink, word haar kop net seer. Of die plek waar haar kop eers was, want tydens een van haar wakker tye het sy haar hande opgelig en aan haar kop gevoel omdat dit so swaar en pynlik is. Haar kop was nie meer daar nie. In die plek daarvan was dik, growwe materiaal. ’n Ruk lank het sy daaroor gewonder, haar selfs daaroor gekwel, maar vinnig opgehou omdat dit ook haar kop seerder gemaak het.

In die donker slaap waar sy die meeste van haar tyd deurgebring het, was daar geen vrae of kwellinge nie. Dit was stil en warm en veilig. Sy sou graag heeltyd daar wou bly, maar teen haar sin het sy al hoe meer na die oppervlak gekom, moes sy langer tye staar na die vreemde gesigte en die stemme wat so onophoudelik na haar roep.

“Hou tog op,” sê sy een oggend toe die meisie in die wit rok weer so oor en oor haar naam sê. “Ek is hier. Jy kan mos sien ek is hier.”

“A,” sê die meisie tevrede. “Jy is wakker.”

Emilia staar na haar. Die meisie se gesig lyk vaagweg bekend. “Waar is ek?” vra sy.

“In die hospitaal.”

Emilia dink ’n ruk hieroor na. Wat maak sy hier? Afgesien van die hoofpyn voel sy nie siek nie. “Hoekom?” vra sy uiteindelik.

“’n Klein ongelukkie,” sê die meisie optimisties. “Maar nou is jy wakker en een van die dae is mevroutjie weer by die huis.”

Emilia kyk net na haar. Sy weet nie waarna die vrou verwys nie. Watse ongelukkie?

“Maar wag,” sê die verpleegster. “Ek moet dadelik vir dokter Beyers laat weet. Hy wag al lank dat mevroutjie wakker word.” Sy glimlag stralend. “En natuurlik jou man. Hy sal so bly wees.”

Emilia vee oor haar gesig, want daar is iets wat haar vreeslik hinder en haar spraak belemmer. Sy trek aan ’n rubberpypie wat om een of ander rede in haar neus is.

“Wag ’n bietjie, net ’n oomblik,” sê die verpleegster en trek die pypie behendig uit. “Ons moes jou voer, sien.” Emilia stik en hoes. Haar keel brand, maar sonder die pypie kan sy meteens praat. “Hoekom moes julle my voer?”

“Jy was bewusteloos, mevroutjie.”

Dis vir Emilia veels te ingewikkeld. Hoe kon sy bewusteloos gewees het as sy altyd die drywende gesigte gesien het? Sy maak haar oë toe. “Ek het net geslaap,” sê sy.

Die volgende paar uur wens sy sy het bly slaap, want sy word meteens omring deur mense wat na haar kyk, vrae vra en antwoorde verwag. Die twee mans is ook terug. Die blonde man vra aanhoudend vrae, hy skyn ’n flitsliggie in haar oë, dwing haar om regop te sit en druk en vat en vroetel. Die donker man sê nie veel nie. Hy kyk net na haar, so intens dat sy verleë raak en liewer haar oë weer toemaak.

“Jy was darem baie ongesellig met meneer Roux,” terg die verpleegster toe sy Emilia heelwat later help om regop te sit. “Kyk, ek skuif die tafeltjie so oor jou bene en jy gaan vir ons wys of jy self kan eet.”

Dis vir Emilia regtig ’n vreemde opmerking. Natuurlik kan sy eet. Die ou bordjie sop is nie baie smaaklik nie, maar sy drink dit gedwee terwyl die verpleegster tevrede toekyk.

“Kan jy botter op die brood smeer?” vra die verpleegster.

Emilia glimlag, smeer haar brood en eet dit. “Dit wil so voorkom,” sê sy en kyk af na haar hande. “Waarom vra jy? Het my hande seergekry?”

“Nee, nee,” glimlag die meisie. “Nie jou hande nie.” Emilia eet die bakkie vrugteslaai ook en is verbaas oor hoe skerp die smake op haar tong is. Sy proe elke vrug afsonderlik.

“Dis baie lekker,” sê sy. Toe onthou sy wat die verpleegster gesê het. “Wie is meneer Roux?”

Die meisie se glimlag verstrak, maar sy is goed opgelei en steek dit vinnig weg. “Jou man, mevroutjie. Hy het baie swaargekry die afgelope weke.”

Dis byna te veel inligting om so opeens in te neem. Haar man? Weke? “Hoe lank is ek al hier?” vra sy onseker.

“Vyf weke.”

“Vyf weke! Ek dog jy sê dit was net ’n klein ongelukkie?”

Die verpleegster lyk onseker. “Nou ja, relatief gesproke . . .”

Emilia kyk haar reguit aan. “Vertel my asseblief. As ek vyf weke lank geslaap het, moet dit ernstig wees.”

“Onthou jy niks nie?” vra die verpleegster versigtig.

“Nee.”

Op daardie oomblik kom die blonde man by die deur in en die verpleegster wend haar dadelik tot hom. Hulle praat in sagte stemme, waaruit Emilia niks wys word nie. Dan vertrek die verpleegster en kom sit die blonde man langs haar bed. Hy het ’n vriendelike gesig, vind sy.

“Is u meneer Roux?” vra sy versigtig.

“Nee,” sê hy rustig. “Ek is dokter Beyers. Weet u wie meneer Roux is?” Hy klik sy tong. “Advokaat Roux, behoort ek eintlik te sê.”

Dit verwar haar. Is sy betrokke by ’n hofsaak waarvan sy nie eers weet nie? “Ek ken hom nie,” sê sy. “Ek wens iemand wil my vertel wat aangaan.”

“U onthou nie die ongeluk self nie?”

“Nee,” sê sy bedruk. “Wat het gebeur?”

“U wou ’n straat oorsteek, ’n motor het om die hoek gejaag gekom en u is raak gery.”

Sy lig weer haar hande en beweeg haar bene onder die deken. “Is ek ernstig beseer?”

“Nee. Ag, kneuse en skrape, maar eintlik was u baie gelukkig.”

“Wat maak ek dan vyf weke lank hier as ek nie ernstig beseer is nie?”

“Die motor het u teen ’n lamppaal geslinger. U het ongelukkig hoofbeserings opgedoen.”

Emilia lig weer haar hande en vat aan haar kop. Tot haar verbasing is die growwe materiaal nie meer daar nie. In die plek daarvan is iets wat soos ’n badmatjie voel. “Wat gaan aan met my kop?” vra sy verstom.

“U hare groei nou weer uit,” sê hy gerusstellend.

Sy hou aan vryf oor haar stekelrige kop. “Dit voel aardig. Kan ek sien hoe dit lyk?”

“Ek sien nie waarom nie,” sê hy gemaklik, staan op, loop uit en kom na ’n oomblik terug met ’n handspieël wat hy vir haar gee. Sy staar na haarself in stomme verbasing. Die vreemde ronde skedel met die donker stekelrige haartjies. “Dis nie te erg nie, is dit?” vra hy. “Die swelling en die blou kolle op jou gesig het lankal verdwyn.”

Sy laat sak die spieël en leun agteroor teen die kussing, te oorstelp om iets te sê.

“Maar jy sê jy herken nie jou man nie?” vra hy.

“Ek het gedog dis dalk jy,” sê sy bedees. “Daar was altyd twee mans, ’n blonde en ’n donker een.”

“Die donker man is advokaat Roux.”

“En hy is my man?”

Hy knik. “Onthou jy niks daarvan nie? Kan jy jou huis vir my beskryf?”

Sy skud net haar kop. “Ek onthou niks van ’n huis nie.”

“Het jy broers of susters?”

“Ek weet nie.”

“Weet jy wat jou naam is?”

Sy haal haar skouers op. “Hulle noem my Emilia as hulle na my roep.”

“Dis korrek. Jou naam is Emilia Roux.” Hy buk, maak die kassie langs haar bed oop en vroetel deur ’n handsak. Toe hy weer regop sit, hou hy ’n groen boekie voor haar gesig. “Kyk, hier is jou identiteitsdokument. Sien jy? Jou naam en foto.”

Die klein foto’tjie interesseer haar. Die meisie het dik, donker hare wat tot op haar skouers hang. “Is dit soos ek gelyk het voor julle my hare afgeskeer het?”

“Ja.”

Emilia gee die boekie vir hom terug en maak haar oë toe. “Wat het dan gebeur?” vra sy miserabel. “Waarom kan ek niks onthou nie?”

“Dit wil voorkom asof jy aan geheueverlies ly,” sê hy.

“Sal dit weer groei, soos my hare?”

Hy glimlag. “Heel waarskynlik.”

Sy voel hoe die trane in haar oë opstoot en knip hulle vinnig. “Is ek nou breinbeskadig?” Sy vee oor haar oë en kyk hom paniekerig aan.

“Nee, nee,” sê hy gerusstellend. “Hoegenaamd nie. Al jou ander reaksies is heeltemal normaal. Dit kon veel erger gewees het. Ons het nie geweet wat die skade is tot jy uit die koma wakker geword het nie, maar nou is alles uiters positief.”

Sy gebruik sommer die punt van die laken om haar gesig verder droog te vee. “Miskien onthou ek alles as ek môre wakker word.”

Hy glimlag weer en staan op. “Ek dink ook dis nou tyd dat jy ’n bietjie rus. Ons wil jou nie dadelik oorlaai nie. Rus is op hierdie tydstip die beste medisyne. Môre praat ons weer en sal ons verdere toetse doen. Lekker slaap.”

Sy maak haar oë toe, maar slaap nie, hoofsaaklik omdat sy te gekweld is en ook omdat die hospitaal nou baie bedrywig word. Baie mense stap in die gange af en daar is veel meer stemme as normaalweg. Sy hoor hoe iemand haar deur oopstoot en ’n ruk later kraak die stoel waarop dokter Beyers vroeër gesit het. Haar oë vlieg oop en sy kyk verskrik in daardie rigting. Dis die donker man wat daar sit, ’n ruiker blomme op sy skoot.

“Emilia,” sê hy. “Hulle sê my jy is nou regtig wakker.”

“Is jy advokaat Roux?” vra sy benoud.

Hy is geskok, maar hou sy gesigsuitdrukking neutraal. “Herken jy my nie?”

“Nee,” fluister sy. “Ek is jammer.”

“Ek is Gerard.”

“Aangename kennis,” sê sy.

Hy staan vinnig op, loop na die wasbak teen die oorkantste muur en hou hom besig met water intap in die vaas wat hy uit die kassie gehaal het.

“Hoe het jy geweet daar is ’n vaas?” vra sy verstom.

“Ek bring al vyf weke lank blomme hierheen,” sê hy met sy rug na haar. “Ek weet al waar alles is.” Hy dra die blomme na die kassie langs haar bed en haal sy sakdoek uit om sy hande droog te vee.

“Baie dankie,” sê sy formeel. “Dis pragtige blomme.” Sy lê na hom en kyk, want sy weet regtig nie wat sy vir hom moet sê nie.

“Onthou jy die ongeluk?” vra hy.

“Nee, maar dokter Beyers het my vertel wat gebeur het.” Sy vryf weer oor haar borselkop. “Hy het vir my ’n spieël gebring dat ek kan sien hoe ek lyk.”

“En?” vra hy deurdringend. “Wat dink jy?”

“My kop lyk soos ’n bal.”

“Jou hare sal weer groei.”

“Ek weet.” Sy is bewus van ’n toenemende gevoel van ongemak. Sy wil badkamer toe gaan, maar sy kan nie die verpleegster laat kom terwyl hierdie vreemde man langs haar sit nie. “E . . .” sê sy huiwerig, “weet jy dalk waar die badkamer is?”

Hy wys na ’n deur langs die wasbak. “Jy het jou eie badkamer.”

Sy stoot die komberse eenkant toe en dink dan skielik aan iets. “Kan ek loop?”

Hy het opgestaan en kom nader om te help. “Ek weet nie. Jy het vyf weke laas geloop. Sal ek die verpleegster roep?”

“Nee,” sê sy vasberade. “Ek kan dit mos maar self probeer.” Sy swaai haar bene af, al lyk die vloer vir haar vreeslik ver. Hy is dadelik by, hou sy arm uit vir haar om op te steun en vang haar toe haar bene meegee. “Genade,” sê sy floutjies. “My bene voel soos botter.”

Sy hang met haar volle gewig aan sy arm en beweeg voetjie vir voetjie na die badkamerdeur waar daar gelukkig ’n stang is waaraan sy kan vashou. “Dankie. Ek sal nou regkom.”

Hy lyk baie gekweld en toe sy die deur weer oopstoot, is hy dadelik by om haar terug te help na die bed. Daar is ’n suising in haar ore en die hele kamer kantel heen en weer teen die tyd dat sy weer lê.

“Oe,” sê sy en byt op haar tande. “Nou voel ek verskriklik.” Sy maak haar oë toe en druk haar hande teen haar kop. Sy hoor voetstappe, die deur wat weer oopgemaak word en stemme wat om haar praat, maar sy maak nie weer haar oë oop nie omdat alles meteens te verwarrend is.

Toe sy hulle weer oopmaak, is dit oggend en ’n verpleegster woel om die bed. “Ek hoor ons het gisteraand ’n bietjie ambisieus geraak,” sê die meisie gesellig en begin die beddegoed terugvou sodat sy Emilia kan was.

“Kan ek nie liewer self bad nie?”

“Ons kan probeer,” sê die verpleegster.

Die tweede keer dat Emilia regop staan, voel sy beter. Die suising in haar ore is nog daar, maar sy raak dit gewoond en die verpleegster ondersteun haar heelpad, laat haar vir geen oomblik alleen nie en help haar uiteindelik weer terug bed toe. Sy is so uitgeput dat sy dadelik weer wil slaap, maar die res van die dag bly besig. Hulle stoot haar in ’n rolstoel na ’n ander deel van die hospitaal waar dokter Beyers haar deur ’n reeks uitmergelende toetse sit. Dit voel vir haar asof daar elke sekonde van die dag iemand is wat in haar oë tuur of vrae vra of ledemate beweeg. Hulle maak elektrodes aan haar kaalgeskeerde kop vas en meet haar breingolwe en sy is heeltemal gedaan toe sy teen die aand weer in haar bed wakker word.

Dis ook nes die vorige aand. Die man, Gerard, sit weer langs haar bed, dié keer nie met blomme op sy skoot nie, maar met ’n lêer vol papiere wat hy deurlees.

“Jy’s wakker,” sê hy toe hy sien haar oë is oop. “Ek het gedog jy gaan die hele besoektyd omslaap.”

“Hulle het my regtig moeg gemaak vandag,” sê sy verskonend.

“Ek hoor so, maar dokter Beyers is baie tevrede. Hy sê daar is absoluut niks met jou verkeerd nie. Al jou sintuie werk normaal, jou motoriese handeling is op geen manier aangetas nie en –”

“Ek kan dan niks onthou nie,” val sy hom in die rede.

“Ja, maar hulle reken dit sal mettertyd regkom. Dit kan bloot tydelik wees. Jy het daardie lamppaal met jou kop getref en dis ’n genade dat jy nog leef.”

“Ek het seker ’n baie harde kop,” probeer sy spot.

Hy kyk haar ’n oomblik lank deurdringend aan, maar sê niks nie.

“Kom jy vyf weke lank reeds elke aand kuier?” vra sy na ’n ruk.

“Natuurlik. Aan die begin was ek heeldag hier.”

Sy lyk verbaas. “En jy ken my nie eers nie!”

Hy glimlag droogweg. “Nee, Emilia, ek ken jóú. Dis jý wat mý nie ken nie.”

“Daar was nooit iemand anders nie,” sê sy. “Het ek nie vriende of familie nie?”

“Niemand behalwe ek is toegelaat om jou te sien nie. Noudat jy wakker is en amper op die been, sal hulle seker die ander toelaat.”

“Nee!” roep sy skerp. “Ek is jammer, maar dit sal tog nie help nie. Ek sal hulle mos nie herken nie? Dit sal net ’n verleentheid wees.”

Hy kyk haar weer aan met sy deurdringende blik. “Wil jy hê ek moet hulle vra om geen ander besoekers toe te laat nie?”

“Asseblief, ja. Ek kan dit nie – ek sal nie weet –”

“Dis geen probleem nie,” sê hy rustig en hou die lêer op sy skoot toe. “Dokter Beyers sê sodra jy sterker is, kan jy maar huis toe kom. Van môre af sal jy moet oefen om te loop sodat jou spiere ook weer kan herstel.”

Huis toe, dink sy oorstelp. Sy weet nie waar dit is of hoe dit sal wees nie. Sy wil liewer in die hospitaal bly. Haar kamer ken sy en die gesigte is bekend. Buite hierdie mure wag ’n wêreld wat vir haar so ontstellend vreemd voel dat sy dit nie kan hanteer nie. Sy wil nie eers daaroor dink nie. “Is jy ’n advokaat?” vra sy om weg te kom van die vreesgedagtes.

“Ja.”

“Dan is jy seker baie besig? Hierdie besoeke aan die hospitaal moes jou tyd vreeslik gemors het.”

Hy bestudeer haar gesig ’n lang oomblik voor hy antwoord. “Nee, nie regtig nie,” sê hy dan gelykmatig.

“Is ek iets?” vra sy naïef. “’n Dokter of ’n advokaat of iets.”

Hy lyk geamuseerd. “Nee, jy het nie gewerk nie.”

Sy dink skielik aan iets, ’n gedagte so benouend dat haar keel wil toetrek. “Het ons kinders?”

“Nee.”

Sy blaas haar asem stadig uit. Dit sou sy hoegenaamd nie kon hanteer nie. “Is ons kort tevore getroud?”

“Nee,” sê hy met sy gelykmatige stem. “Ons was al vyf jaar getroud.”

Haar gedagtes spring so wild rond dat dit haar kop seermaak. Hoe is dit moontlik dat sy niks kan onthou nie? Hoe kon sy vyf jaar lank met ’n man saamgelewe het en nie eers sy gesig herken nie? Hy lyk vir haar na ’n gawe man, maar sy ken hom ewe goed of ewe sleg as wat sy dokter Beyers ken. “Hoe oud is jy?” vra sy.

“Agt-en-dertig.”

“En ek?”

“Dertig.”

Sy herkou die inligting. “Ek is dus nie meer jonk nie.”

“Ek sou dit nie sê nie,” antwoord hy. “Op die oomblik lyk jy sestien. ’n Seun van sestien.”

Sy glimlag verleë en vryf werktuiglik oor haar borselkop. “As jy my al lank ken, lyk ek seker nou baie lelik.”

“Ek ken jou al lank,” sê hy beslis. “En nee, jy lyk nie lelik nie. Aan die begin, toe jou gesig so geswel was en jou oë potblou, was dit ’n ander storie. Toe het dit egter nie saak gemaak nie. Ek wou net hê jy moes bly leef.”

Sy skram weg van die intensiteit in sy stern. “Ek is nou moeg. Vir iemand wat vyf weke lank geslaap het, was vandag baie uitmergelend.”

“Besoektyd is buitendien verby,” sê hy en staan op. “Ek hoop jy slaap lekker. Sien jou môreaand weer.” Hy druk die lêer onder sy arm en kyk na haar. Vir ’n benoude oomblik is sy bang hy wil haar soen, maar hy knik net vriendelik en stap na die deur. Sy draai op haar sy en trek die komberse oor haar skouers. Haar kop pyn van al die gedagtes. Waarheen gaan hy nou? Waar is sy huis. Hul huis? Hoe lyk die huis? Is dit vol besittings waarvan sy niks weet of kan onthou nie?

“Ag nee,” sê die verpleegster toe sy later inkom om Emilia te sien. “Hoekom huil jy?”

“Ek weet nie wat ek gaan doen nie,” sê Emilia radeloos. “Hoe kom ’n mens reg as jy twee dae gelede eers gebore is?”

'n Nuwe begin

Подняться наверх