Читать книгу 'n Nuwe begin - Christine le Roux - Страница 6

Hoofstuk twee

Оглавление

Die volgende paar dae is vir Emilia angsaanjaend. Aan die een kant word haar bene sterker, kan sy heen en weer stap, self in en uit die bad klim, maar aan die ander kant pyn haar kop omtrent pal soos sy probeer onthou.

“Dis mos nie moontlik nie?” wend sy haar tot dokter Beyers. “Waar is al die kennis? Wat het geword van dertig jaar se geheue?”

“Moenie jouself so treiter nie,” paai hy. “Jy kan nie die geheue terugdwing nie. Dit sal vanself kom. Jy sal geduldig moet wees.”

“Maar ek ken niemand nie! Nie eers my eie ma nie!”

Die vorige aand het ’n baie elegante gryskopvrou by haar kamer ingebars gekom, haar omhels en in trane uitgebars. Emilia het stokstyf in die bed gelê en wag dat die vrou tot bedaring kom.

“Jy weet nie waardeur ons is nie,” het die vrou gesê toe sy weer kalm was. “Ek en Andrew was in Frankryk toe Gerard ons bel met die verskriklike nuus. Ons het dadelik teruggevlieg, en weke lank al hoop en bid ons.”

“Wie is u?” het Emilia beleef gevra.

Die vrou het teruggesteier, haar hand oor haar mond. “Wat bedoel jy, kindjie? Jy ken tog jou eie ma?”

“Ek ken niemand nie,” het sy stroef erken.

Haar ma het weer begin huil. “Ek glo dit nie. Gerard het ons gewaarsku, maar ek het gedink – ek bedoel, jou eie ma . . .”

“Ek is jammer,” het Emilia miserabel gesê.

Haar ma was in so ’n toestand dat die verpleegster haar simpatiek, maar ferm uit die kamer gelei het. Emilia het net so ontsteld agtergebly. Sy het skoon die bewerasie gehad en ineengekrimp op die leunstoel gesit toe Gerard daar aankom.

“Wat het gebeur?” het hy gevra toe hy haar so sien sit.

“Hier was so pas ’n vrou wat sê sy is my ma. Sy is histeries hier weggelei omdat ek haar nie ken nie.”

Hy het die mandjie vrugte wat hy saamgebring het op die bedkassie neergesit en op die harde stoel oorkant haar gaan sit. “Ek het haar dan gewaarsku.”

“Sy het jou nie geglo nie.” Haar vingers het senuagtig met die gordel van haar kamerjas gespeel. “En ek het nie geweet wat om te sê nie. Ek weet nie eers wat ek haar noem nie! Ma of Moeder of wat?” Haar stem het ’n histeriese klankie gehad.

“Jy noem haar Mammie.” Sy stem was diep en rustig. Dit het haar tot kalmte gedwing.

“En wie is Andrew? Sy sê sy en Andrew was in Frankryk toe jy hulle gebel het. Is hy my broer?”

“Andrew is jou stiefpa.”

“Wat het van my eie pa geword?”

“Hy is lankal oorlede. Jy was nog klein.”

Sy herkou hierdie inligting, maar dit, soos alles wat sy nou elke dag hoor, verwar haar net. “Het ek broers of susters?”

“Nee, jy is die enigste kind.”

Sy het haar kop geskud en verder gerafel aan die tossel van haar kamerjas. “Ek wil êrens in ’n donker kamer wegkruip tot my geheue terug is. Mense raak ontsteld. Ek maak almal net ongelukkig omdat ek hulle nie herken nie.”

Hy het haar aangekyk met ’n blik wat sy dikwels by hom gesien het. Asof hy haar opweeg, asof hy eintlik iets wil sê wat hy om een of ander rede verswyg.

“Pla dit jou?” het hy met ’n baie neutrale stem gevra.

“Natuurlik!”

Hy het nie dadelik gepraat nie. “Toe maar, die dokter sê jy kan een van die dae huis toe kom. Hoe gouer jy in ’n vertroude omgewing kom, hoe beter.”

Dit was nie eintlik vir haar tot troos nie. In ’n vertroude omgewing, soos hy dit noem, gaan sy net al hoe meer gekonfronteer word met goed wat sy nie kan onthou nie, mense wat haar ken, maar vir haar volslae vreemdelinge is, ’n verlede wat verdwyn het.

Dokter Beyers, wat baie simpatiek is, het haar verwys na ’n sielkundige.

“Geheueverlies is ’n baie interessante verskynsel,” het die man haar meegedeel. “Dat dit aan ’n fisieke besering te wyte is, kan ons nie betwyfel nie, maar aan die ander kant is daar tog ’n interessante stertjie by. Ons het ontdek dat mense vergeet wat hulle wíl vergeet.”

Sy het hom verstom aangekyk. “Jy bedoel ek het dit doelbewus alles uitgevee?”

“Nee, nee, dis nie wat ek gesê het nie.”

“Dis presies wat jy gesê het.” Sy was ontstoke.

“Ons sal moet delf,” was sy kriptiese opmerking.

“Delf waarin? Ek kan dan niks onthou nie en oor ’n dag of wat moet ek huis toe gaan.”

“H’m,” het hy gemymer. “Hoe voel jy daaroor?”

“Hoe dink jy voel ek daaroor? Ek weet nie waar my huis is of hoe dit lyk of wie my bure is of enigiets nie! Ek het nie my eie ma herken nie. Ek is blykbaar al vyf jaar getroud met ’n man wat ek van geen kant af ken nie. Ek deel ’n huis met hom!”

“Jy hoef nie.”

Sy het hom gesit en aanstaar. “Wat is dit veronderstel om te beteken? Waarheen anders moet ek gaan?”

“Jy kan teruggaan na jou ouers.”

“Ek ken hulle ook nie.”

“Jy klink baie aggressief,” het hy gesê.

Sy wou opstaan en loop. Wat verwag die man? Moet sy gedwee en gelate aanvaar dat sy uitgelewer is aan ’n wêreld wat vir haar heeltemal vreemd is?

“Ek is nie aggressief nie,” het sy gesê. “Maar jy moet tog kan verstaan hoe ek voel.”

Hy het sy afspraakboek nader getrek. “Watter tyd sal jou pas? Ek dink ons moet ’n vaste weeklikse afspraak maak.” Sy het opgestaan. Waardig. Nie aggressief nie. “Ek dink regtig nie dit kan enige doel dien nie. Jy wil delf en ek het niks om in te delf nie. Selfs al is jy reg en het ek doelbewus teen die lamppaal geval sodat ek my verlede kon uitvee, onthou ek steeds niks nie. Ek weet nie waarom ek teen die lamppaal geval het nie. Ek weet nie wat daar in my verlede was wat so onuitstaanbaar was dat ek dit wou vergeet nie. Tot siens.” Sy het haar kamerjas om haar gevou en teruggestap na haar kamer.

“Sy lyk nes Sinéad O’Connor,” het sy ’n verpleegster agter haar hoor sê.

Terug in haar kamer het sy bo-op haar bed gaan lê met haar arms gevou.

Toe haar ma later by Emilia instap met ’n welriekende bos pronkertjies en freesias in haar hande, kyk sy op.

“Hallo, Mammie,” sê sy.

Haar ma straal. “Jy ken my weer!” Sy slaan haar arms om Emilia en soen haar. “Ek is so bly.”

Emilia sê níks nie. “Baie dankie vir die mooi blomme. Dit ruik wonderlik.”

“Uit my eie tuin. Jy ken mos die bedding daar teen die heining? Ek was so bang dit verwaarloos terwyl ons weg is, maar jy kan nie glo hoe hulle vanjaar groei nie. ’n Fees vir die oog.”

Emilia glimlag asof sy presies weet waarvan haar ma praat. “Is dit dan nou lente?”

Haar ma lyk onthuts. “Natuurlik is dit lente. En ons het heerlike reën gehad die naweek.”

“Wat is die datum?”

Eers lyk dit asof haar ma iets wil sê, maar sy sorg dat haar gesigsuitdrukking normaal bly. “Dis die vyfde Oktober, liefie.”

“Wanneer het die ongeluk dan gebeur?”

“Die laaste week van Augustus.”

Emilia dink hieroor na. “Was dit toe nog winter?”

“Nou ja, dit het begin warm word, maar snags was dit nog bitter koud.”

Soos ’n skielike vlagie wind beweeg iets deur Emilia se kop. Sy voel ’n koue, dor wind wat haar haar jas stywer om haar laat trek. “Ek –” begin sy, maar voor sy die woorde kan vind om die sensasie te beskryf, is dit weg. “Nee, niks nie.”

Sy lê en kyk hoe haar ma die blomme rangskik en Gerard se dooie blomme uitgooi. “Hoe gaan dit met Andrew?”

Haar ma kyk verras op. “Dis lief van jou om te vra. Dit gaan baie goed met hom. Baie besig, soos gewoonlik. Hy stuur baie groete. As gewone besoekers toegelaat was, het hy jou al kom sien. En Claudia bel my byna elke dag. Sy kan nie wag dat jy weer by die huis moet wees nie. Sy sê sy en Ansa is verlore sonder jou.”

“Wie is Sinéad O’Connor?” vra Emilia.

Haar ma staar na haar. “Wie?”

“Die verpleegsters sê ek lyk soos sy. Is sy ook ’n vriendin?”

“Ek weet regtig nie, liefie. Ek sal vir Claudia vra as sy weer bel.”

Emilia is verlig toe Gerard die aand kom. Hy is vir haar ewe onbekend as die ander mense, maar hy is die enigste wat dit aanvaar. Hy en dokter Beyers. Hulle karring nie aan haar nie. Die een is professioneel betrokke en dus besorg oor haar welsyn, die ander het klaarblyklik aanvaar dat hy opgeskeep is met ’n vrou wat net ’n week oud is.

“Dokter Beyers sê jy kan môre huis toe kom,” sê Gerard nadat hy formeel gegroet het. “Ek het ongelukkig ’n baie vol program môreoggend. Ek moet in die hof wees, maar ek sal jou in my etensuur kom haal.”

“Kan ek nie maar hier bly nie?” vra sy benoud.

Hy kyk haar ondersoekend aan. “Wil jy nie huis toe kom nie?”

“Die hospitaal is bekend,” skerm sy.

Hy knik net. Hy lyk moeg, asof hy nie lus het om baie te praat nie.

“Het jy ’n kwaai dag gehad?” vra sy toe sy sien hoe hy oor sy oë vee.

Hy is so verbaas dat sy hand in die lug bly hang. “Ja, dit was nogal.” Hy kyk haar weer deur vernoude oë aan asof hy iets raaksien wat sy nie kan sien nie.

“Hoekom lyk jy so verbaas?”

Hy herstel vinnig en vou sy hande oor sy gekruiste bene. “Nee, nee. Dokter Beyers sê vir my jy was vandag by die sielkundige.”

“Ja, en hy reken ek vergeet doelbewus. Ek het my geheue verloor omdat ek dit wou verloor.”

Sy blik word selfs skerper; maar toe hy haar oog vang, kyk hy vinnig weg. “Waarom sou hy dit sê?”

“Ek weet nie.” Sy steek haar hand weg en speel met die delikate blomblaartjies van die pronkertjies. “Wat weet hy wat ek nie weet nie?”

Gerard haal sy skouers op. “Hy het nie met my gepraat nie.”

Dié keer is dit haar blik wat verskerp. “Jy is die een wat my die beste geken het, vermoed ek. Was daar . . . het ek iets gedoen wat so vreeslik was dat ek dit wou vergeet?”

Hy kyk weer vinnig op en dan weg. “Nee, nie waarvan ek kennis dra nie.”

“Ek was nie ’n dief of ’n moordenaar nie?”

Hy glimlag. “Nee.”

Sy lê ’n ruk net voor haar en kyk. “Wie is Sinéad O’Connor?”

Hy lyk geamuseerd. “’n Sangeres met ’n geskeerde kop.”

“Ek sien.” Sy knik: “Ja, dan verstaan ek waarom die verpleegsters dit gesê het.”

“Dis ’n kompliment,” verseker hy haar. “Ten spyte van haar geskeerde skedel is sy baie mooi.” Hy vryf weer oor sy oë.

“Jy moet huis toe gaan,” sê sy. “Jy is baie moeg. Dit moet regtig ’n vreeslike mors van jou tyd wees om elke aand hier te sit langs die bed van ’n vrou wat jou nie eers ken nie.”

“Maar ék ken jóú,” sê hy.

“Maak nie saak nie. Gaan liewer huis toe en klim in die bed.”

’n Hele ruk lank weet hy nie wat om te sê nie. “Ek het nog te veel werk. Ek kan nie nou al gaan slaap nie.”

“Hoe gouer jy dan begin, hoe beter,” sê sy beslis. Toe val iets haar by. “Het ek klere?”

“Jy het kamers vol klere,” sê hy oorstelp.

Sy frons, maar besluit om nie nou daarop in te gaan nie. “Ek bedoel hier, in die hospitaal. Ek kan seker nie môre in my nagklere vertrek nie.”

“O,” sê hy. “Ja, ek sien wat jy bedoel. Nee, jy het seker niks hier nie. Ek sal dat Gladys iets vir jou inpak. Het jy ’n besondere uitrusting in gedag- . . .” Hy bly stil. “Ek is jammer. Natuurlik sal jy nie weet nie. Sal ek haar vra om haar eie oordeel te gebruik?”

Sy knik. “En mag ek maar weer vra, soos ek seker ’n honderd maal per dag nog gaan vra: Wie is Gladys?”

“Ons huishoudster.”

Sy kyk hom belangstellend aan. “Het ons ’n huishoudster? Dan was daar darem iemand wat vir jou kon kos kook en jou hemde gewas het.”

“Sy het dit buitendien nog altyd gedoen,” sê hy voor hy die woorde kan keer.

Sy frons liggies. “Ek dog jy het nou die aand gesê ek het nie gewerk nie?”

“Dis reg.” Hy staan op, kennelik nie lus om verder daaroor te praat nie. Hy rek hom effens uit en kyk deur die venster uit na buite. Sy bestudeer hom vir die eerste keer regtig. Hy is lank en mooi gebou, al hang sy skouers nou effens en is sy das losgerem. Sy hare is dik en baie mooi gesny. “Waarna staar jy so?” vra hy toe hy haar blik onderskep.

“Niks,” antwoord sy verleë. “Toe, jy moet ry. Het jy al aandete geëet?”

“Nee. Gladys het seker my kos in die oond.”

“Dis vriendelik van haar,” sê sy.

Hy maak ’n stikgeluid en skink vir hom vinnig water uit die kraffie langs haar bed. “E . . . die droë lug,” verduidelik hy. “Goeienag. Sien jou môre. Ek hoop nie ek word vertraag nie.”

Sy lig haar hand in ’n groet en lê en luister hoe geselsende besoekers die gang af loop.

Later word dit stil, die verpleegster wip in om te sien of sy alles het wat sy benodig en skakel die lig af. Maar Emilia lê nog lank en dink. Sy wonder wie anders al ooit so onvoorbereid die wêreld ingestuur is. Die somtotaal van haar kennis kan in enkele sinne vervat word. Sy weet haar naam is Emilia, haar man met wie sy vyf jaar getroud is, se naam is Gerard en hy is ’n advokaat. Hul huishoudster se naam is Gladys. Haar ma is getroud met ’n man wie se naam Andrew is. Dis lente. Sinéad O’Connor is ’n sangeres met ’n kaalgeskeerde kop, nes hare. Dit lyk vir haar op hierdie oomblik heeltemal onmoontlik dat sy die lewe kan aandurf met net hierdie feite tot haar beskikking. Sy wil byna wens sy is weer terug in daardie diep slaap. Dit laat haar glimlag. Die sielkundige sal seker tevrede voel as hy moet weet wat sy nou dink.

“Dis mos wat ek gesê het,” sal hy sê. “Jy hardloop vir iets weg.”

Nee, besluit Emilia toe sy op haar sy draai en haar gesig in die kussing druk. Sy gaan nie weghardloop nie. Wat van môre af op haar wag, is ’n onbekende en vreesaanjaende lewe, maar sy sal dit baasraak. Sy sal van voor af alles leer. Sy sal weer onthou.

'n Nuwe begin

Подняться наверх