Читать книгу Die groen maan - Christine le Roux - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

Johan wou bloot by die ontvangstoonbank verneem na mevrou Duvenage se toestand, maar toe hy en Corrie instap, is dit duidelik dat die hele plek op horings is. Dis nie ’n groot hospitaal nie en Johan is nog altyd getref deur die rustige, gemoedelike atmosfeer van die plek. Almal ken almal – een pasiënt se besoekers is, indien nie familie nie, dan goeie vriende van die ander pasiënte en daar word oor en weer gekuier, na die weer of boerderybelange uitgevra. Veel geheime is daar nie, daarvoor is die gemeenskap te klein.

Vandag is die plek egter in rep en roer. Die meisie agter die toonbank staar na hulle met groot oë en êrens uit die gang bulder ’n man se stem soos ’n brullende leeu. Ander stemme, skerp en berispend, probeer hom tot bedaring bring.

“Genade,” sê Corrie, haar oë ook groot. “Wat gaan vandag hier aan? Ons wil eintlik net verneem na mevrou Du- . . .” Sy kom nie verder nie, die volgende oomblik word Jakobus letterlik die portaal binnegestoot deur ’n dokter en twee susters.

“Ek dink u moet liewer huis toe gaan,” sê die dokter baie verontwaardig. “Onder die omstandighede dink ek nie u teenwoordigheid kan . . .”

Jakobus stoei, ruk hom los uit die dokter se hande en storm by die verslae Corrie en Johan verby. Dis duidelik dat hy hoegenaamd nie van plan is om Johan te bedank nie. Hulle hoor hom met die trappe af strompel en enkele oomblikke later brul sy bakkie oor die parkeerterrein.

“Ons wil . . .” probeer Corrie weer en kyk na die meisie agter die toonbank, maar sy kry nie haar vraag gestel nie, want die dokter pyl op hulle af.

“Wat is u bloedgroep?” vra hy vir Corrie.

Sy noem haar groep en hy skud sy kop, kyk dan vraend na Johan.

“Ek is bevrees ek het geen idee nie,” erken Johan. “Ek hét vroeër al bloed geskenk – by die skou en so aan – maar dis net een van daardie goed wat ek nie onthou nie.”

“Ons het, soos ek u vanoggend gesê het, net ’n baie beperkte voorraad bloed hier vir noodgevalle, maar ons besit natuurlik ’n lys van skenkers wat bereid staan om te help. Ongelukkig kan ons niemand vandag in die hande kry nie. Klein Jan van die bank is een van ons staatmakers en het toevallig ook die regte bloedgroep wat ons soek, maar hy is in die bed met ’n virus. Sou u omgee dat ons u toets sodat ons kan vasstel of u kan help?”

“Nee, natuurlik nie,” sê Johan. “As ek dit geweet het, het ek nie vroeër gery nie, maar julle het gesê daar is niks wat ek verder kan doen nie.”

“Ek weet,” sê die dokter en wink na ’n verpleegster. “Haar man kon ook nie help nie.” Sy stem is koud. “Sy bloedgroep is nie geskik nie.” Hy wend hom tot die verpleegster. “Sal jy sy bloed toets?”

Johan word meegeneem na ’n kamer waar die vriendelike meisie eers sy vinger prik en dan verdwyn. Dit duur nie lank voor sy terug is nie.

“Is dit nou nie ’n wonderwerk nie?” merk sy op. “U kry ’n tweede geleentheid om mevrou Duvenage te help, want u bloedgroep is presies wat ons wil hê.” Terwyl sy gesels, rol sy sy mou op en bind ’n rubberbuis om sy arm. “Pomp u hand so ’n bietjie. Dis reg. Dankie.”

Hy kyk liewers weg terwyl sy die naald indruk. Hy is nie pieperig nie, maar miskien juis omdat hy so min kennis dra van hospitale, vind hy dit alles ’n bietjie vreesaanjaend. “Het haar man toe darem gou opgedaag?” vra hy. “Ek het sleg gevoel om sommer net te ry.”

“O ja,” sê sy, haar oë op die sakkie wat stadig vul. “Maar hy’s ’n snaakse man, jong. Ek ken hom. Hy’t my ’n paar keer uitgeneem verlede jaar, maar ek kon sommer sien dit gaan nie werk nie. Ek wil nie regtig op die plaas gaan sit nie en hy . . .” Sy skud haar kop. “Hy’s van daardie soort mans wat jy nie kan vertrou nie. Een oomblik so dierbaar dat jy dink jy oordeel hom te gou en die volgende oomblik ’n gemene bees.” Sy klik haar tong. “As u hom vanoggend kon sien. Ek dog regtig dokter gaan hom te lyf. Simpatie? Moenie glo nie. Hy’s woedend oor wat gebeur het. Kan mens dit glo? Dis wat ek bedoel toe ek gesê het ek vertrou hom nie. Ek het dit aangevoel in hom. Jy weet nooit hoe hy gaan wees nie, bedagsaam of wreed. Sulke mans . . . aikôna. Ek bly ver weg van sy soort. Foeitog, die arme vrou. Sy lyk vir my so . . . Ek meen, hoe kan ’n mens vir haar kwaad wees oor so iets? Sy kon dood gewees het.” Dis asof sy skielik besef sy praat glad te veel. “Lê net stil,” sê sy professioneel. “Dis amper klaar.”

Corrie kom skigtig om die deur en loer in. “Mag ek maar by my broer sit?” vra sy. “Is dit bloed vir mevrou Duvenage? Dis Johan wat haar in die huis gekry het en . . .”

“Ja, ons weet. En Jako- . . . meneer Duvenage kon ook maar weggebly het. Dis die laaste ding wat ons nou nodig het.”

Johan besluit om haar terug te dwing na hul eerste prioriteit. “Hoe gaan dit met haar? Dis wat ons wou kom hoor.”

“Nie goed nie. Dit was ’n buisswangerskap. Arme vrou moes dae lank in die verskriklikste pyn gewees het. Sy moet tog iets gesê het. Hoe kon hy nie daarvan geweet het nie? Hoe kon hy haar gelos het en op die lande loop foeter het?”

Corrie kyk vinnig na Johan en dan terug na die verpleegster. “Sal Johan se bloed darem help?”

“In hierdie stadium help elke bietjie.” Sy kyk na Johan. “Sou u bereid wees om môre weer te kom as dit nodig is? Ons gaan die ander skenkers in die hande probeer kry, maar as ons mevrou Duvenage wil deurhaal . . .”

“Natuurlik,” sê hy, al draai sy kop effens.

Toe sy klaar is, plak sy ’n pleister op sy arm, gebied hom om te bly lê en verdwyn vinnig. Corrie en Johan bly alleen agter, ’n bietjie verslae deur die snelle opeenvolging van die gebeure.

“Jakobus het glo die plek uitmekaar probeer breek,” sê Corrie met ’n fluisterstem. “Die arme man. Seker siek van bekommernis.”

Johan sê niks nie. Vir hom het sy buurman nie bekommerd gelyk nie, eerder woedend. Vir wie hy so kwaad was, weet hy nie.

Die verpleegster kom terug met ’n skinkbord waarop twee koppies tee en koekies is. “Hier,” sê sy vir Johan. “U sal sommer gou weer reg voel.”

Corrie is te nuuskierig om taktvol te wees. “Hoekom was Jakobus so deurmekaar?” vra sy. “Ek meen, julle het hom half hier uitgegooi. Dit is mos sy vrou.”

Die verpleegster kyk na haar met geligte wenkbroue. ’n Paar jaar vantevore was sy nog in Corrie se man se klas. “Hy was nie bekommerd nie, glo my. Hy was kwaad. Ons moes hom vertel wat gebeur het, dat die swangerskap vanselfsprekend beëindig is en dokter Nel het verduidelik dat dit nooit in die ware sin van die woord eens ’n swangerskap was nie. Hy was buite homself van woede, het op sy vrou begin gil, gesê sy het dit doelbewus gedoen en . . . Ag!” Sy klik haar tong kwaad. “Dit was regtig onplesierig en ongevraag. Glad nie wat ’n mens onder die omstandighede verwag het nie. Sy vrou is werklik in ’n baie ernstige toestand.” Sy kyk na Johan. “As u nie toevallig vanoggend daar aangekom het nie, was dit te laat. Ons sou haar verloor het. Dokter Nel het dit vir meneer Duvenage gesê, maar al waarin hy belanggestel het, is of ons die baba kan red. Sy erfgenaam. Ek het regtig gedag dokter Nel gaan hom te lyf.” Sy lyk skielik skuldig, asof sy te veel gepraat het. “Drink julle tee klaar,” sê sy saaklik. “En baie dankie, meneer Norval. U het vandag vir die tweede keer gehelp om haar lewe te red.”

Johan sit regop en hoewel sy kop vir ’n oomblik dronkerig voel, gaan dit vinnig verby en tien minute later loop hy en Corrie terug na sy motor toe.

“Laai my maar by die huis af,” sê Corrie somber. “Ek is nou nie meer lus vir rondloop nie. Genade, wat ’n dag.”

“Dink jy ek moet met hom gaan praat?” vra Johan. “Ek is seker dis kwelling wat hom so woes gemaak het. ’n Mens kan nie oordeel nie, elke mens reageer verskillend.”

“Jong,” sê Corrie, “ek was saam met hom op skool, onthou. Jakobus was altyd ’n anderste soort mens. Fanaties, sou ’n mens amper kon sê. Ek onthou hoe verslae hy was toe hy hier in standerd ses nie eens vir die laagste rugbyspan gekies is nie. Ek weet nie of jy onthou nie, hy was toe nog so kort en rond. Maar hy het begin oefen en oefen, hy’t gedraf en gewigte opgetel, en teen matriek was hy kaptein van die eerste span. Dis miskien nie die beste voorbeeld nie, maar glo my, Jakobus kry wat hy wil hê. En nou wou hy ’n erfgenaam hê en dis voor sy neus weggeraap deur wat hy ongetwyfeld as ’n wrede noodlot sien.”

“Wat van die vrou?” vra Johan afkeurend. “Ek ken haar van geen kant af nie, maar sy hoef mos nie so ’n vloerlap te wees nie? Het sy nie ook ’n sê in die saak nie? Wil jy my sê sy was bereid om dood te gaan om hom tevrede te stel?”

Corrie sug. “Jong, jy weet hoe Piet altyd vir my sê ek moet my neus uit ander mense se sake hou. Ander mense se boeke en al daardie goed. Ek het haar ook nie goed geken nie, maar nee, ek sou nou nie sê sy is die vloerlapsoort nie. Aan die ander kant sou ek ook nie reken hulle het mekaar baie goed geken voor hulle getroud is nie. Hoe lank was Jakobus weg? Twee weke?”

“Ek weet regtig nie,” sug Johan. Hy voel hy het vir een dag genoeg gehad van sy bure. Hy hou voor Corrie se huis stil, maak die deur vir haar oop en soen haar op die wang.

“Is jy seker jy kan plaas toe ry?” vra sy besorg.

“Baie seker.” Hy waai vir haar en ry. Maar hy voel moeg toe hy weer die twintig kilometer plaas toe moet aanpak. Dit voel of hy heeldag al heen en weer ry en hy is baie bly toe hy voor sy eie huis stilhou en weer met sy eie lewe kan voortgaan. Daar is ook nie tyd om verder oor die bure te dink nie, hy bly besig tot dit donker is en toe is hy regtig moeg en hy loop sommer reguit badkamer toe om te stort. Toe hy daar uitkom, voel hy beter en baie honger en hy loop kombuis toe om te sien wat Mieta vir hom reggesit het. Hy bly verbaas in die deur staan toe hy nie net vir Mieta nie, maar ook vir Bettie in die kombuis aantref.

“Naand,” sê hy. “En nou?”

Bettie sit op ’n stoel styf teen die Aga en lyk verwese. “Ek bly nie meer daar nie,” sê sy. “Ek slaap vanaand by Mieta.”

“Wat het gebeur?” vra hy.

Sy skud net haar kop. “Hy’s soos ’n mal mens,” mompel sy.

Johan gaan sit by die tafel, en Mieta sit sy kos voor hom neer. Dan maak sy ’n beweging met haar kop in Bettie se rigting en die twee vrouens loop weg na Mieta se kamer toe. Johan eet klaar, vat sy koffie en gaan sit in ’n leunstoel voor die kaggel om die koerant en ander pos te lees. Hy vind dit nie maklik om te konsentreer nie, want kort-kort betrap hy hom dat hy weer dink aan die toneel in die badkamer daardie oggend. Die vreemde blou kleur van die vrou se gesig, die slap pols tussen sy vingers. En dan Jakobus se ongebreidelde gedrag. Hy weet hy kan nie oordeel nie, hy is nie getroud nie, hy is nie fanaties oor ’n erfgenaam nie, maar in sy binneste kan hy tog nie help om afsku te voel nie.

Die enigste keer dat hy regtig vir iemand lief was, was vir Elise en hy kan nie in sy wildste drome dink dat hy vir haar sou kwaad wees as sy siek word nie. Maar dis moeilik om te oordeel. Hy is nie meer lief vir Elise nie en daardie een ondervinding het hom sku gemaak vir meisies. Hy wil nie weer so sterk voel oor een mens nie, hy wil nie weer so uitgelewer wees nie. Soms, soos nou as dit winter is en hy alleen voor die kaggel sit, kan hy nie help om te dink dit moet lekker wees om ’n maat te hê nie, maar aan die ander kant, as hy dink aan vandag, is hy bly hy is alleen.

Hy gaap en besluit om maar in te kruip. Toe hy die pleister in die buiging van sy elmboog sien, bly hy lank daarna staar. Wat ’n vreemde gedagte, dink hy. Die bloed wat vanoggend nog deur sy lyf geloop het, is nou in iemand anders se are. Hy het al vantevore bloed geskenk en nog nooit so daaroor gedink nie. Vantevore het hy bloot geweet sy bloed word gebruik vir iemand wat siek is; dit was ’n anonieme persoon. Nou weet hy dit is direk in daardie vrou met die blouwit gesig in en hopelik help dit haar om aan die lewe te bly. Hy draai weg van die spieël af en klim in die bed, maar hy lê skaars of die telefoon lui.

Hy tel die gehoorstuk van die bedtafeltjie af op. “Hallo, Norval hier.”

“Wat het jy vanoggend in my huis gesoek?” bulder Jakobus oor die lyn.

Johan is totaal verbysterd. Hier is hy nog besig om te besin oor die doel waarvoor sy bloed aangewend is en nou skree die vrou se man op hom. “Ek het jou pos vir jou gebring,” sê hy koud. “Soos jy my gevra het om te doen omdat jy haastig was vir jou katalogusse.”

“Jy kon dit in die portaal gelos het,” snou Jakobus hom toe.

“Glo my, dit was die idee en dis presies wat ek sou gedoen het as Bettie my nie heeltemal histeries aan die arm gegryp het nie.”

“Sy’t geen reg gehad om dit te doen nie!”

Johan word kwaad. “Jakobus,” sê hy, “weet jy wat jy daar sê? As ek nié op daardie tydstip daar aangekom het en jou vrou so vinnig by die hospitaal gekry het nie, was sy dood. Ons het nie onnodig op hol geraak nie. Teen die tyd dat ek by haar gekom het, het sy byna nie meer ’n polsslag gehad nie.”

“Onsin,” snou Jakobus hom toe, “sy sou reggekom het. Ek het vanoggend vir haar gesê sy moet ’n bietjie lê. As sy geluister het, het dit nie gebeur nie.”

Johan is te kwaad om verder te redeneer. “As ek jy was, het ek op my knieë gegaan en dankie gesê dat iemand, enigiemand, juis op daardie oomblik daar aangekom het.”

“Ek het my erfgenaam verloor!” brul Jakobus.

“Dis tog nie so belangrik nie,” sê Johan verstom. “Julle kan altyd weer probeer, maar as jou vrou se lewe . . .”

“Sy’s sterk,” sê Jakobus minagtend. “Ek weet nie hoekom hulle almal, die dokter inkluis, so ’n ophef maak nie. Magdaleen is sterk, sy’t my self gesê. Nog nooit enige probleme gehad nie.”

“Ek is moeg,” sê Johan. “Ek het begrip daarvoor dat jy ontsteld is en miskien teleurgesteld. Dit was ’n traumatiese dag, maar ons kan almal dankbaar wees dat dit so goed afgeloop het. Dit kon veel, veel erger gewees het en . . .” Al wat hy aan die ander kant van die lyn hoor, is ’n vloekwoord, dan word die gesprek afgesny en bly hy oor met die gehoorstuk wat in sy ore suis. Hy sit dit stadig neer en lê terug teen die kussing.

Hy het nog nooit van sy buurman gehou nie, besef hy. Die man was nog altyd ’n buffel, ’n selfsugtige skobbejak. Goed, hy is ’n modelboer, niemand het so hard gewerk soos hy nie, maar Johan begin nou dink die man se siel het in die proses skade gely. Jakobus is ouer as hy en daarom het hy vanselfsprekend meer statuur gehad in Johan se oë. Iemand met meer ondervinding, iemand by wie ’n mens kon raad vra. Hy besef nou hy was verkeerd. Enigiemand wat só optree, is nie iemand om na op te sien nie.

Hy het regtig simpatie met daardie bleek vrou wat in die hospitaal om haar lewe veg terwyl haar man op almal skel. Geen wonder Bettie het die hasepad gekies nie – sy is seker geblameer vir die feit dat sy hom, Johan, in die huis toegelaat het. Maar toe Johan by hierdie punt kom, steek sy mensliewendheid vas. Dis nie hoe ’n mens optree as jou vrou, jou bruid kan ’n mens amper sê, byna haar lewe verloor het nie. Hy ruk die koerant oop en dwing homself om te lees. Hy is moeg vir die Duvenages.

Die groen maan

Подняться наверх