Читать книгу Die groen maan - Christine le Roux - Страница 5
Hoofstuk 3
ОглавлениеDie volgende oggend is Johan besig genoeg dat hy nie tyd het om aan sy bure en hul dramas te dink nie, en teen die middag is hy in die hooiskuur besig om bale te laai toe daar weer ontstelde stemme van buite kom. Hy wonder wat dit nou weer is en stap na buite. ’n Yskoue windjie sny om die hoek van die skuur en hy sien dis Flip van langsaan wat daar staan, baie benoud.
“Middag, Flip,” sê hy. “Wat bring jou hiernatoe?”
Flip se oë rol. “Meneer moet kom kyk. Ek dink daar het iets vreesliks gebeur.”
Ag nee, dink Johan, nie al weer nie. “Wat het gebeur?” vra hy rustig.
“Meneer Jakobus is al heeldag buite weste en nou-nou het ons gesien hoe storm hy na die huis en toe hy uitkom, dra hy sy geweer.” Hy probeer lag, maar slaag nie daarin nie. “Ons het maar laat spaander, want as hy in so ’n bui is, moet mens nie rondhang nie, hy vererg hom sommer, maar toe loop hy daar af na die laagte en ons dog miskien gaan hy tarentaal skiet, maar dis toe eers ’n hele ruk niks nie en toe net die een skoot. Ons het maar aangegaan met die werk, mens kan tog nie sommer op hol raak nie, maar toe loop kyk Mattewis en . . .” Sy oë rol. “Hy moet geval het oor ’n klip of iets en toe gaan die geweer af, want . . .” Hy ril.
“Liewe vader,” sê Johan en begin hardloop bakkie toe. “Klim in,” sê hy vir Flip. “Gaan aan met die laai!” roep hy vir sy eie werkers, wat geskok rondstaan. Hy trek weg en ry eers huis toe, waar hy uitspring en die polisie bel.
“Hoe ernstig dit is, weet ek nie,” sê hy vir die sersant. “Maar ek dink u moet dadelik kom. En ’n ambulans stuur. Ek ry nou dadelik soontoe.”
Die polisie moet in die omgewing gewees het, want toe hy vir die tweede keer in vier en twintig uur op die netjiese werf stilhou, staan die geel bakkie al daar en kort daarna kom die ambulans ook aan. Johan bly maar daar, nie lus om weer gekonfronteer te word met iets skokkends nie en hy is bly toe hy Bettie sien.
“Is jy terug?” vra hy.
“Ek moes maar,” sê sy, “anders sal die huis loop staan.” Sy kyk om haar rond asof sy steeds bang is Jakobus kom skielik om die hoek en verskreeu haar. “Ek het net gewonder . . . meneer sal seker weer dorp toe gaan.” Sy skarrel deur toe en kom terug met ’n tassie. “Ek het vir mevrou goedjies ingepak. As meneer dit vir haar by die hospitaal kan gee. Ek onthou toe ek daar was vir my appendiks, hulle wil hê jy moet jou eie nagkabaai en goed bring. Waslappies en so. En Mevrou is so skielik hier weg en ek het geweet hý . . .” Haar stem is vol veragting, maar sy bring dit vinnig onder beheer, word meer gekweld. Sy kyk pleitend op na Johan. “Ek kon nie vra nie, maar hoe gaan dit met mevrou? Sal sy orraait wees?”
“Ek dink so,” sê hy simpatiek. “Jy het reg gemaak om my in te roep, Bettie, sy sou doodgegaan het.”
Bettie lyk verlig en Johan raai dat sy dit seker die vorige dag moes ontgeld. As Jakobus so wreedaardig op hóm geskree het, sou hy nie sy woorde getel het voor Bettie nie. Maar dis nie meer moontlik om te gesels nie, die polisie kom terug en agter hulle dra die ambulansmanne en Jakobus se werkers ’n draagbaar wat heeltemal bedek is met ’n laken. Johan se hart sak in sy skoene en hy stap nader.
Die sersant skud sy kop toe hy hom sien. “Daar was iets fout, meneer Norval. U het hom tog geken, hy was nie ’n man wat onverskillig was met ’n geweer nie. Sy werkers sê hulle was onder die indruk hy’t tarentale gaan skiet, maar die skoot . . .” Hy skud sy kop. “Ons sal hoor wat die speurders sê.”
Johan swyg. Hy was nie die afgelope dag baie positief ingestel teenoor sy buurman nie, maar die nuus skok hom tog. “Wat doen ons nou?”
“Ons moet teruggaan dorp toe. Sal u omgee om saam te kom en ons te help met die besonderhede? Ek verneem sy vrou is in die hospitaal. Iemand sal haar moet gaan vertel.” Hy kyk weer hulpsoekend na Johan. “Is daar familie hier naby?”
“Nee, nie wat ek van weet nie. Jakobus het ’n broer, maar hulle praat dekades al nie met mekaar nie. Die een of ander familietwis. Miskien kan julle vasstel waar hy is. Ek verbeel my amper hy werk in Johannesburg.”
“En mevrou Duvenage? Het sy familie hier rond?”
Johan skud sy kop. “Nee.”
“Maar jy is tog hul naaste buurman. Sal jy omgee? Dit sal nie reg wees as ons in die hospitaal inloop nie, veral met inagneming van die arme vrou se toestand en alles.”
Johan klim woordeloos terug in sy bakkie en ry maar weer dorp toe. By die polisiestasie besef hy hoe skraal sy kennis van Jakobus is, maar hy probeer so behulpsaam moontlik wees. Toe hy daar klaar is, ry hy reguit na Corrie toe om haar saam te neem na die hospitaal. ’n Vrou sal so iets beter hanteer, voel hy. Sy ken ten minste vir mevrou Duvenage. Maar sy is nie by die huis nie, haar huishulp sê sy is by die een of ander vergadering. Johan het geen ander keuse nie as om terug te klim in sy bakkie en hospitaal toe te ry. Hy betig homself omdat hy so langtand is, hy moet tog buitendien haar tas gaan afgee.
By die ontvangstoonbank tref hy gelukkig dieselfde verpleegster van die vorige dag aan en sy glimlag verwelkomend toe sy hom sien.
“Hoe gaan dit vandag hier?” vra hy. “Met mevrou Duvenage?”
“Rustig,” sê sy. “En met haar baie goed onder die omstandighede. Haar toestand is stabiel, sy is wakker. Ons is almal baie in ons skik.” Sy kyk hom onderlangs aan. “Meneer Duvenage was nog nie weer hier nie.”
Hy sug swaar, dis asof die nuus vir hom ook nog onwerklik is. “Dis waarom ek hier is. Die polisie het my gevra om te kom.” Hy sug weer, vir die eerste keer daarvan bewus dat hy sy ou plaasbroek en baadjie van koordferweel aanhet en dat dit nie skoon is nie. “Daar was ’n ongeluk op die plaas. Meneer Duvenage is dood.”
Sy snak na haar asem en druk haar hand oor haar mond. “Ag nee! Wat het gebeur?”
“Ongeluk met die geweer,” sê hy kortliks. “Ek het Jakobus redelik goed geken – maar sy vrou het ek gister vir die eerste keer gesien.” Hy wys na die tassie by sy voete. “Haar huishulp het dié gestuur, gesê sy het seker haar toiletgoed nodig. Kan iemand saam met my kom?”
“Natuurlik,” sê sy vol begrip. “Die dokter is nie nou hier nie, maar ons vra suster Verster.”
Enkele oomblikke later stap hy saam met ’n moederlike, middeljarige vrou die kamer binne. Sy eerste reaksie is verligting dat mevrou Duvenage nou weer relatief normaal lyk. Sy is steeds onnatuurlik bleek, daar loop pypies uit haar arms wat aan staanders of masjiene gekoppel is, maar haar donker hare is glad van haar gesig weggekam en haar oë is oop.
“Ken u meneer Norval?” vra die suster. “Hy is die een wat u gister gekry en hierheen gebring het.”
Die kleurlose lippe beweeg skaars. “Aangename kennis.”
“Mevrou Duvenage,” sê Johan en bly stil. Hy weet skielik nie hoe om die nuus oor te dra nie. Hoe gee ’n mens sulke slegte nuus vir iemand wat klaar so siek is?
“Magdaleen Marais,” sê die fluisterstem van die bed af. “My van is Marais.”
Johan kyk vinnig na die suster, maar haar gesig bly uitdrukkingloos. “Ek wens ek hoef dit nie vir u te sê nie,” begin hy, “maar ek is bevrees ek het slegte nuus. Baie slegte nuus,” beklemtoon hy omdat die bleek gesig teen die kussings geen emosie toon nie. “Daar was ’n ongeluk.”
Suster Verster het geruisloos nader aan die bed beweeg en hou haar vingers gerusstellend op Magdaleen se pols. “Dis omtrent u man,” sê sy.
Magdaleen se gesig wys niks nie. Sy roep nie uit nie, sy snak nie na haar asem nie, sy lê net daar en kyk na hulle met haar gesonke donker oë.
“Hy is dood,” sê Johan miserabel. “’n Ongeluk met sy geweer. Ek is baie jammer.”
Sy verroer nie ’n spier nie, gee net ’n effense suggie en maak vir ’n oomblik haar oë toe. “Gisternag,” sê sy dan met haar hees fluisterstem, “het ek jou gehaat omdat jy betyds gekom het, omdat jy my gered het. Nou is ek bly. Dankie.”
Johan bly verstar staan. Magdaleen het haar oë toegemaak en suster Verster hou net die monitors dop, maar niks gebeur nie, geen waarskuwingsliggies of sirenes gaan af nie. “Bettie het ook u tas gestuur,” sê hy onbeholpe. “As daar nog iets is wat u nodig het, sê net. Sy kan dit vir my gee.”
“Dankie,” sê sy sonder om haar oë weer oop te maak.
Johan bly nog ’n paar oomblikke staan, hy voel ontuis en uit sy element. Hy kyk vraend na suster Verster, maar sy knik gerusstellend, en omdat dit nie lyk asof Magdaleen weer haar oë gaan oopmaak nie, draai hy om en stap uit.
“Hoe het sy dit aanvaar, die arme ding?” vra die meisie agter die toonbank simpatiek toe hy weer verbystap.
“Baie kalm.” Hy is nie lus vir praatjies maak nie en stap reguit na sy bakkie toe, maar hy ry eers weer by Corrie langs en dié keer is sy tuis en opnuut verbaas om hom te sien.
“Ek weet nie wie vir jou boer nie,” sê sy reguit. “Jy’s dan meer op die dorp as op die plaas?”
“Nie uit eie keuse nie,” sê hy bitter. “Glo my vry.” Die volgende oomblik is sy drie niggies om hom en dis eers na ’n ruk dat hy met oogbewegings vir Corrie wys hy wil alleen met haar praat.
“Kom, kom, meisies,” sê sy streng en klap haar hande. “Ek het nog nie gesien dat daar enige huiswerk gedoen is nie. Weg is julle, ek en oom Johan wil nou in vrede gesels.”
Teleurgesteld druipstert die drie terug kamers toe, en sy kyk hom ondersoekend aan. “Jy lyk ontsteld. Wat het gebeur? Ek het vanoggend hospitaal toe gebel, en hulle sê Magdaleen vorder goed.”
“Jakobus is dood.”
“Johan!” Sy druk haar hand oor haar mond en sak flouerig in die naaste stoel neer. “Wat sê jy nou? Hoe kan hy dood wees?”
Hy gaan sit ook en vertel hoe hy geroep is en wat die polisie gevind het. “Hulle dink miskien was dit ’n ongeluk gewees, dat hy gestruikel het met die geweer in sy hand, maar ek weet nie. Jakobus was ’n skyfskieter van formaat, hy het geweet hoe om ’n geweer te hanteer. Ek kan nie in my wildste drome sien dat hy sal val en homself per ongeluk skiet nie.”
“Wat is die alternatief?” vra sy geskok. “Dat hy dit doelbewus gedoen het? Selfmoord?”
Hy haal sy skouers op. “Ek kon sien dis eerder wat die polisie dink. Hulle gaan nou verder ondersoek instel, sal my seker nog vrae vra.” Hy onthou die toneel by die hospitaal die vorige middag. “As die dokter en personeel by die hospitaal vertel in watse toestand hy gister was . . . Ek weet nie.” Hy onthou skielik iets. “O, en sy oproep gisteraand.” Hy vertel haar wat Jakobus gesê het. “Ek is bevrees dit klink alles na ’n onstabiele man, iemand wat so verpletter is deur die verlies van sy kind dat niks anders saak gemaak het nie, veral nie sy vrou se welsyn nie.”
Sy skud haar kop. “Wat sou hom besiel het? Hulle kon mos weer probeer het – hemel, hulle is skaars agt maande getroud.” Dan dink sy skielik aan iets. “Wie gaan haar vertel?”
“Ek het klaar.” Hy klink moeg.
“Jy? Waarom jy?” vra sy.
“Die polisie het my gevra. Hulle wou eers weet of daar enige familie van een van die twee is en toe ek sê nie waarvan ek weet nie, het hulle aangeneem ek, as buurman, moet dan die naaste vriend wees. Min weet hulle.” Sy stem is bitter. “Ek het hierlangs gery om jou saam te sleep, maar jy was nie hier nie. Een van die senior susters het bygestaan.”
“Foeitog,” snak sy. “Miskien moes julle nog ’n dag gewag het tot sy sterker is.”
“Sy was nie ontsteld nie,” sê hy. “Of sy het dit nie gewys nie. Geen van die masjiene waaraan sy gekoppel is, het begin skree nie. My gevoel was dat sy nie hartseer is nie.”
“Haai, Johan, wat sê jy nou? Sy is dan nog ’n bruid!”
Hy haal sy skouers op. “Weet jy wat het sy gesê? Sy het my gisternag gehaat toe sy besef ek het haar betyds by die hospitaal gekry, maar nou is sy bly. Dit klink vir my na ’n vrou wat gister liewers wou doodgaan en nou bly is sy leef nog. Gister het haar man nog geleef, en vandag nie meer nie.” Hy sit terug in sy stoel. “Maak jou eie afleidings.”
“Ja, maar Johan . . .” Sy soek na die regte woorde. “Watse soort huwelik was dit dan? As iemand nou hier moet inloop en my vertel dat Piet . . .” Sy ril. “Ek kan nie eens daaraan dink nie, dis so verskriklik.”
“Jy is lief vir Piet. Was dit nog altyd.”
“En sy was nie lief vir Jakobus nie? Waarom het sy dan met hom getrou?”
“Ek weet nie,” sê hy en staan op. “Dis jou terrein, nie myne nie. Van wat ek gister van Jakobus gesien het, was hy nie ’n man vir wie ’n vrou lief kon wees nie. Ek weet, ek weet ek is nie ’n vrou nie. Ek weet nie waarom julle vir ’n man lief word of lief bly nie, maar haar reaksie . . .” Hy buk af, soen haar op die wang. “En nou moet ek regtig teruggaan plaas toe. Ons sal seker maar help met die begrafnisreëlings, mevrou Duvenage sal dit nie kan doen nie.” Hy dink skielik aan nog iets. “Toe ek haar mevrou Duvenage noem, het sy my gekorrigeer. Sy is Magdaleen Marais, het sy gesê. Dit op sigself is vreemd, dink jy nie? Betekenisvol.”
“Ek weet niks meer nie,” sê Corrie moedeloos. “Maar ja, natuurlik sal ons help met die begrafnis. Hy was nooit in die kerk nie, so die sustersvereniging sal seker nie . . . Ek sal vasstel.” Sy druk haar skouers regop. “Laat weet my net wanneer die begrafnis sal wees.”
Die volgende paar dae is baie druk. Johan en die ander aangrensende boere help uit op Goedbeplan wanneer hulle kan, maar gelukkig is Flip ’n staatmaker en uitstekende voorman wat sonder Jakobus se aggressiewe teenwoordigheid sy staal wys. Eers is daar sprake om die begrafnis uit te stel tot Magdaleen op die been is, maar blykbaar het sy laat weet sy is gesond en hulle kan maar voortgaan. Jakobus se broer is opgespoor en in kennis gestel, en deur Corrie wat op die dorp alles te hore kry, hoor Johan selfs wat die bepalings van die testament is.
“Magdaleen kry alles tot die erfgenaam agtien is,” vertel Corrie hom. “Nou is daar geen erfgenaam nie. Ek het vir Piet gevra wat dan gaan gebeur en hy sê dis ’n baie eenvoudige testament – vreemd eintlik vir Jakobus, mens sou verwag hy stapel een klousule na die ander op – en die prokureurs sê dan kry Magdaleen alles.”
“Wil sy dit hê?” het hy skepties gevra. “Miskien wil sy so gou moontlik teruggaan stad toe.”
“Ek weet nie,” het Corrie gesê. “Ek het vir haar gaan kuier en ek moet sê, sy lyk baie beter. Het regop in die stoel gesit. Jakobus was seker reg, sy is sterk. Ek het vir haar gesê sy hoef haar oor niks te kwel nie, ons het alles gereël, die eetgoed en so. Sy kom glo môre uit en môremiddag is die begrafnis.”
“Hoe kom sy terug op die plaas?” vra hy.
“Derek sal haar neem. Jakobus se broer. Hy en sy vrou sal daar oorslaap. Het die speurder toe met jou kom praat?”
“Ja.” Johan sug. “As jy my vra, beskou hulle dit as selfmoord. Dis die indruk wat ek kry.”
“En Piet sê as dit die geval is, betaal sy polisse nie uit nie. ’n Mens sal nou nie weet hoe sy geldsake was nie, maar Magdaleen kan dalk sonder kontant sit.”
“Sy sal die plaas verkoop,” meen hy. “’n Stadsjapie soos sy gaan mos nie hier kom sukkel nie.”
“Dis waar. Of dalk wil Derek dit oorneem. Piet sê die rede vir die onmin tussen Jakobus en sy broer het niks met die plaas te doen nie, Derek het glo nog nooit belanggestel nie, maar ’n mens weet nooit nie. As dit ’n keuse is tussen die plaas aan ’n vreemdeling verkoop en dit in die familie hou, dink hy miskien anders.”
Johan het hieroor nagedink. Hy sou sy oogtande gee om Jakobus se plek te koop, maar dan sal hy homself baie diep in die skuld moet dompel. Goedbeplan is ’n spogplaas, hy kan nie sien dat Magdaleen of Derek dit sommer gaan weggee nie. Maar hy speel met die idee terwyl hy deur die dag se werk gaan.
Die volgende middag trek hy sy donker pak aan en sorg dat hy betyds op die buurplaas is ingeval sy hulp nodig is. Magdaleen maak self die deur vir hom oop en ’n oomblik lank is hy sprakeloos. Sy is nie meer ’n saamgetrekte, slap liggaam in ’n plas bloed nie, ook nie meer die siek vrou met die gesonke oë nie. Sy staan regop voor hom, geklee in ’n eenvoudige, maar baie elegante swart pakkie, deurskynende swart kouse en hoëhakskoene. Haar donker hare glim en is streng teruggekam in ’n rol agter in haar nek. Sy is steeds baie bleek en daar is nog kringe onder haar oë wat sy met grimering probeer wegsteek het, maar sy hou haar kop hoog. “Meneer Norval,” sê sy formeel en steek haar hand uit.
Hy skud haar hand. “Mevrou Duvenage. Middag. Of moet ek sê juffrou Marais?” Hy kyk haar ondersoekend aan, want hy wonder skielik of sy nie daardie middag deurmekaar was nie.
“Dis miskien makliker om net Magdaleen te sê.” Haar stem is koel en sonder emosie.
“My naam is Johan. Ek het vroeg gekom, ingeval daar iets is . . .”
“Alles is onder beheer,” sê sy. “Danksy jou suster se goeie organisasie. Die predikant is in die sitkamer, as jy wil deurstap.”
Kort hierna arriveer al die ander bekendes en tot die kis later in die graf sak, kan Johan nie van die gevoel ontslae raak dat dit bloot ’n byeenkoms van ou kennisse is nie. Dis nie asof almal uitbundig is nie, hoegenaamd nie, dis net dat niemand huil nie, veral nie die jong weduwee nie. Deur die begrafnisrede sit sy doodstil met ’n donkerbril op, haar hande roerloos op haar skoot, en selfs langs die graf hou sy die bril op en soek sy nooit na ’n sakdoek nie. Toe die kis begin sak, staan sy op, gooi ’n hand vol blomblare daarop en bly ’n lang oomblik so staan, maar weer eens sonder dat haar gesig vertrek. Johan hou haar gefassineerd dop. Sy lyk meer na ’n mannekyn as ’n verpletterde weduwee.
Ná die plegtigheid by die graf stap almal terug huis toe, waar Corrie en haar helpers regstaan met eet- en drinkgoed. Johan gaan praat met Derek, wat ook een van die draers was. “Hoe lank bly julle nog?” vra hy.
“Ons ry môreoggend terug.”
“O,” sê Johan verbaas. “Het julle al besluit wat met die plaas gaan gebeur?”
“Dis nie vir my om te besluit nie,” sê Derek. Hy is ook ’n groot man soos sy broer was, maar waar Jakobus valerige blonde hare gehad het, is Derek s’n eerder rooierig en sy gesig vol sproete. “Goedbeplan behoort nou aan Magdaleen.”
“Maar sy gaan tog nie boer nie?” vra Johan verbaas. “Ek het gedink julle gaan dit miskien verkoop.”
Derek se gesig vertrek. “Ek wil dit seer sekerlik nie hê nie,” sê hy, sy stem vol afkeer. “Sy kan dit weggee vir al wat ek omgee. Hoe gouer ek die stof van die plek van my voete kan afskud, hoe beter. Dis soos ek twintig jaar gelede gevoel het en dis hoe ek vandag nog voel.” Hy knik in Johan se rigting. “As jy my sal verskoon, ek dink my vrou soek my.”
Johan bly bedroë agter en kan nie help om te dink dat Jakobus en sy broer nie veel verskil nie. Tegemoetkomende, hartlike mense is hulle nie. Hy draai weg om liewer boerderysake met sy vriende te bespreek en word bewus van ’n rooikopmeisie wat eenkant onder ’n boom staan, haar gesig vol wroeging. Vir ’n oomblik wonder hy of dit ’n familielid is, maar hy is seker dan sou sy by Derek gewees het. Hoewel al die mense op die stoep of in die sitkamer rondstaan met koppies en bordjies in hul hande, staan sy alleen en rem aan ’n sakdoek tussen haar vingers. Hy stap stadig met die stoeptrap af na haar toe.
“Middag,” sê hy. “Ons het nog nie ontmoet nie. Ek is Johan Norval. Ek boer langsaan.”
“Dis alles my skuld,” sê sy en kyk met betraande blou oë op na hom.
Sy belangstelling verskerp. Sy is klein en fyn gebou en ook in swart geklee, maar waar dit aan Magdaleen elegansie gee, laat dit hierdie meisie beteuterd lyk. “Wat bedoel u?”
Sy gee ’n snik en druk die sakdoek teen haar mond. “Ek is Jasmyn,” sê sy en ’n oomblik lank vergeet sy van haar wroeging. “Ja, ek weet dis ’n snaakse naam. Ek’s hulle niggie. Jakobus en Derek s’n.”
“Aangename kennis,” sê hy. “Ek is baie jammer oor u neef se dood.”
“Dis my skuld,” sê sy weer.
Hy glimlag troostend. “Nee, dit kan nie wees nie. Jakobus het . . .”
“Nie sy dood nie,” sê sy en knip haar oë. Haar wimpers klou nat aan mekaar vas, sy lyk soos ’n bedroefde tiener. “Die hele gemors. Veral die baba.”
Hy staar haar verbaas aan. “Hoe kan dit jou skuld wees?”
“Ek is Magdaleen se beste vriendin,” sê sy. “Donkiejare al. Van ons op skool was.” Sy snuit haar neus so hard dat hy skrik, maar daarna lyk sy meer vasberade en in beheer van haarself. “Ek sal jou vertel.”