Читать книгу Die lente kom weer - Christine le Roux - Страница 5

Hoofstuk 3

Оглавление

Die volgende week verloop baie kalm. Frans is daagliks meer tevrede met sy nuwe sekretaresse. Sy is altyd onberispelik versorg, die donker hare blink en sag om haar gesig, haar hande stil en netjies, haar gesig uitdrukkingloos. Sy giggel en vroetel nie. Sy sit nie met die ander meisies en gesels nie – sy doen bloot haar werk en sy doen dit vinnig en korrek. Meer as dit kan hy nie verwag nie.

Die Donderdag eet hy en Ben weer saam en terwyl hulle sigarette aansteek en wag vir hulle koffie, vra Ben: “Jy kom nog Saterdagaand, nie waar nie? Elsa het gesê ek moet jou net herinner.”

Frans sit agteroor in sy stoel. Hy voel tevrede met die wêreld en sy vriend kan dit sien. “Dankie, ja. Ek het nie vergeet nie.”

“Wil jy nie ’n meisie saambring nie?” vra Ben en sy oë vonkel. “Sy sal baie welkom wees, dit weet jy tog.”

“Nee dankie.” Frans se stem is koel. “Is julle moeg vir my vervelige geselskap?”

“Nee, natuurlik nie. Ek het net gedink as jy ’n vriendin wil saambring, is jy baie welkom. Wat van jou nuwe sekretaresse?”

Frans staar onthuts na hom. “Nee!”

“Goed, goed,” paai Ben. “Dit was net ’n voorstel. Sal ons maar teruggaan?”

Maar toe Frans weer agter sy lessenaar sit, knaag sy vriend se woorde aan hom. Dis seker al ’n jaar sedert hy en Elaine van mekaar afskeid geneem het. Miskien moet hy vir juffrou Nel vra. Net die een keer. Sy lyk nie na die soort meisie wat die verkeerde idees sal kry nie. Sy lyk nugter en saaklik en hy hou daarvan. Elaine se histerie en dramatiese uitbarstings het hom heeltemal sy smaak vir meisies laat verloor.

Toe Kristien dus weer die kantoor binnekom, kyk hy op en glimlag strammerig. “Juffrou Nel,” sê hy en verwonder hom dat hy so verleer het hoe om ’n meisie uit te nooi. “Doen u Saterdagaand iets?”

Sy kyk hom waterpas in die oë. “Nee, meneer.”

“My vennoot, Ben … e … meneer Louw, hou Saterdagaand ’n vleisbraai by sy huis en ek het gewonder of u nie dalk saam met my wil gaan nie?”

Sy kyk hom deurdringend aan en ’n vlugtige trek van teleurstelling wys op haar gesig. “Nee dankie, meneer. Dit is vriendelik van u om my te vra, maar nee dankie.”

Hy kyk haar oorbluf aan, maar ruk hom vinnig reg en hou sy gesig net so uitdrukkingloos soos hare. “Dis in orde … Is u klaar met die briewe?”

Sy gee die briewe vir hom en hulle gaan voort met hulle werk asof die klein persoonlike insident nooit plaasgevind het nie. Hy sit nietemin en wonder waarom sy teleurgestel gelyk het toe hy haar gevra het en sy sit en dink dat sy hom verkeerd opgesom het – hy is maar net soos alle ander mans wat sommer binne die eerste week hulle werksverhouding wil verander na iets meer intiem. Sy is regtig jammer hieroor, want met hom as werkgewer is sy tevrede.

Die Vrydag net voor middagete bel Ben hom om verskoning te maak dat hy nie soos gewoonlik saam met Frans sal kan gaan eet nie omdat hy ’n kliënt moet spreek.

“Terloops,” voeg hy by, “ek hoop nie jy neem my kwalik nie, maar ek het jou juffrou Nel genooi om ook môreaand te kom. Sal jy haar kan gaan oplaai?”

Frans kyk na die gehoorstuk asof hy sy ore nie kan glo nie. “Jý het haar gevra?”

“Ja,” sê Ben. “Hoekom klink jy so geskok? Ons het ’n hele paar mense genooi en ek het gedag sy is nuut en miskien eensaam en …”

“Het sy gesê sy sal kom?” vra Frans verbysterd.

“Natuurlik. Maar blykbaar het sy nie ’n motor nie en … jammer, ek moet nou aflui. Sal jy sommer self met haar afspreek?”

Frans hoor die klikgeluid en sit die gehoorstuk stadig neer. Wat is die vroumens se speletjie? Waarom het sy vir hóm nee gesê en vir Ben ja? Hy kners op sy tande. Dis ook sy eie skuld. Ná Elaine moes hy geweet het om nie weer ’n vroumens te vertrou nie. Hulle is almal eenders: hou jou aan ’n lyntjie, speel met jou asof jy ’n vis aan ’n hoek is en geniet niks meer as om jou in die verleentheid te plaas nie.

Toe Kristien ’n ruk later klop en binnekom, sit hy agteroor en kyk haar koud aan. “Juffrou Nel,” sê hy en sy stem is bytend. “Ek is aangesê om jou môreaand op te laai. Sal jy my asseblief jou adres gee?”

Sy kyk vinnig na hom en hy sien sy het darem die ordentlikheid om te bloos. “Ek is jammer,” sê sy. “Meneer Louw was so vriendelik en het so aangehou en toe ek nog weier, het hy vir mevrou Louw gevra om my te bel. Ek het toe maar ingestem.”

Sy byt op haar onderlip en verwens Ben. Sy weet sy het verkeerd opgetree, maar sy weet nie wat sy anders kon doen nie. Sy kon nie aanhou weier toe die mense so vriendelik was nie en aan die ander kant kon sy ook nie teruggaan na meneer Fourie en vir hom sê sy het van plan verander en wil saam met hom gaan nie! “Ek hoop om een van die dae my eie motor te hê.” Daaroor verwens sy haarself ook. Sy moes lankal haar eie ryding aangeskaf het. Gedurende die jare toe sy en Neels nog saam gewoon het, het hulle albei die motor gebruik en daarna, die volgende paar jaar, was Pierre altyd by om haar te neem waar sy ook al wou wees. Maar hierdie vernederende insident het haar nou vasbeslote gemaak om nie van ander mense afhanklik te wees nie. Met ’n byna onhoorbare stem verstrek sy dus haar adres.

“Ek sal jou so kwart oor sewe kom oplaai,” is al wat hy sê voordat hy weer oor sy lessenaar buig om haar duidelik te laat verstaan dat sy maar kan gaan.

Saterdagaand is sy lank voor die tyd gereed en sit met klein Neelsie en speel voordat sy hom in die bed sit. Lina belowe om wakker te bly en Kristien skakel die klein televisiestel aan sodat sy daarna kan kyk. Toe Frans presies om kwart oor sewe aan die deur klop, is sy gereed en sy nooi hom ook nie binne nie. Sy is nie lus om vrae te beantwoord nie en die sitkamer lê nog vol babaspeelgoed.

Behalwe om “goeienaand” te sê, praat Frans ook nie verder nie. Hy kyk haar net onderlangs aan en keur goed wat hy sien. Haar hare is nie weer in haar nek vasgebind nie; dit hang los en blink tot op haar skouers. Sy het ’n roomkleurige rok aan met ’n rooierige seintuur en rooi sandale en toe hy agter haar by die hysbak uitstap, kan hy nie help om op te merk dat sy baie mooi bene het nie.

In die motor draai sy skielik na hom. “Ek is regtig jammer oor die deurmekaarspul,” sê sy eenvoudig. “Maar ek kón nie teruggaan na u en sê ek het van plan verander nie.”

“Kom ons vergeet daarvan,” is sy koel opmerking. “En noem my gerus Frans.”

“Ek hou nie daarvan om my werkgewer op sy naam te noem nie,” sê sy, net so koel.

Hy knik en kyk vlugtig na haar. “Laat vanaand ’n uitsondering wees.”

“Goed, op voorwaarde dat dit net vanaand is.” Sy huiwer vir ’n oomblik. “My naam is Kristien.”

“Vir vanaand,” sê hy en sy gee skielik skiet en lag.

“Dit klink na Aspoestertjie wat net een nag lank ’n prinses mag wees,” sê sy laggend.

Hy kyk waarderend na haar. Wanneer sy lag, is sy heeltemal anders as die streng sekretaresse. “Hoe gaan dit met jou tante?” verander hy die gesprek.

“Goed, dankie. Sy is nou weg vir ’n lang kuier op haar seun se plaas. Ek dink dit sal haar goed doen.”

“Ja,” stem hy saam en wens skielik dat sy nie weer moet terugkom nie. Hy sou veel eerder haar niggie wou behou. Toe hy besef wat dit is wat hy dink, is hy verbaas. Wat wil hy met ’n jong meisie as sekretaresse doen?

Ben en sy vrou, Elsa, groet hulle vrolik en Frans probeer die vonkel in sy vriend se oë mis kyk. Hy weet Ben is besig om planne te smee en hy wens hy kan sy vriend oortuig hoe verkeerd hy is. Hy wat Frans is, wil onder geen omstandighede weer betrokke raak nie en dit lyk vir hom asof Kristien presies dieselfde voel. Dit pas hom uitstekend.

Soos dit maar gebeur, gaan staan Frans by die mans om die vuur en Kristien sit by die vrouens onder die groot skaduboom. Elsa Louw, Ben se vrou, staan met haar arm om hulle jongste, ’n dogtertjie, en vertel vir ’n vriendin hoe sy sukkel dat die kind moet eet. Kristien glimlag vir die kind en sy staan weg van haar ma en loop met waggelstappies na Kristien.

“Koel,” sê sy en wys na Kristien se glas koeldrank. Kristien kyk vraend na Elsa en toe sy knik, gee sy vir die kleintjie ’n paar slukkies koeldrank. Daarna aanvaar die kind haar en sit op haar skoot terwyl Kristien speletjies met haar speel.

Net toe sy die skaterende kind onder die kennetjie kielie, kom Frans aangestap om by haar aan te sluit en hy kyk haar intens aan. Elsa kom ook nader en glimlag moederlik.

“Jy het ’n slag met kinders, Kristien,” sê sy. “Jy gee nie om dat ek jou Kristien noem nie?”

“Nee,” antwoord Kristien en trek ’n gesig toe die kind haar hardhandig onder die ken kielie, maar eintlik krap. “Ek hou van kinders.”

Frans kyk haar deurborend aan. Dit was ’n onskuldige opmerking, dink hy, maar hoeveel steek sy weg? En wát steek sy weg?

Elsa tel die dogtertjie op. “Sy moet nou gaan slaap,” sê sy. “Haar boetie slaap lankal en hy is ouer as sy.” Sy kyk op na Frans. “Hoe gaan dit met Maryke?”

“Goed, dankie. Sy geniet haar kunsklasse geweldig. Ek weet nie hoeveel sy leer nie, maar sy geniet dit in elk geval.”

“Bly sy nog in die hostel?”

“Nee,” lag hy. “Jy ken haar mos. Sy het nie lank daar uitgehou nie en deel nou ’n woonstel met ’n medestudent. My ouers is nie baie gelukkig daaroor nie, maar hulle het blykbaar besluit ek is naby genoeg en kan ’n oog oor haar hou. Sy kom kook vir my as sy nie kos het nie en dis omtrent die enigste kere dat ek haar sien.” Hy kyk af na Kristien wat beleef in die verte staar. “Maryke is my suster. Sy het die telefoon geantwoord toe jy nou die aand gebel het. Jy kon seker aflei dat sy ’n onmoontlike entjie mens is.”

Kristien glimlag net en ná Elsa die kind in die bed gesit het, help sy haar om die slaaie na buite te dra. Die geselskap bly algemeen en Ben dra vleis aan en sorg dat almal bedien word. Toe Kristien se bord byna leeg is, kom Elsa uit die huis en roep na haar.

“Telefoonoproep vir jou,” sê sy en beduie waar die telefoon is voor sy weer tussen haar gaste in beweeg.

Kristien frons liggies en gaan dadelik binne en Frans kyk haar bekommerd agterna. Wie sal haar dan hiernatoe bel? wonder hy, en toe sy ’n paar minute later uitkom, staan hy dadelik nader, want hy kan sien sy is ontsteld.

“Kan ek help?” vra hy beleef.

Sy kyk na hom asof sy hom nie raaksien nie. “Ja. Ek is jammer, maar ek moet dadelik huis toe gaan. Kan jy vir my ’n taxi bel?”

“Ek sal jou neem,” sê hy en sit sy glas neer.

“Nee, nee!” protesteer sy. “Ek kan jou nie in die middel van die geselligheid hier wegruk nie. Bly asseblief. Ek sal verskoning maak en wegglip.”

“Dink jy werklik ek sal dit toelaat? Kom.” Hy vat haar aan die arm en stuur haar onopsigtelik deur die mense na waar Ben en Elsa by die kostafel staan. “Ek neem gou vir Kristien huis toe,” sê hy gemaklik. “Daar het iets voorgeval.”

“Ag, nee,” sê Elsa, dadelik bekommerd. “Ek hoop nie dis ernstig nie?”

“Nee, nee,” antwoord hy rustig en heeltemal in beheer van die situasie. “Miskien kom ons later terug. Baie dankie in elk geval.”

“Ek is jammer,” sê Kristien nadat sy hulle bedank het. “Ek hoop nie ons bederf julle partytjie nie.”

Op pad na die motor praat sy nie en toe hulle deur die verligte strate ry, sit sy stip voor haar en kyk met haar handsak op haar skoot vasgeklem.

“Wil jy vir my vertel wat verkeerd is?” vra hy maar hou sy oë op die pad.

“Nee,” sê sy. “Miskien is dit nie ernstig nie.”

Toe hy voor haar woonstelgebou stilhou, wil sy sommer uitspring, maar hy keer haar en klim ook uit. “Dis nie nodig dat jy verder saamkom nie,” sê sy vinnig en begin ook sommer aanstap na die hysbak.

Hy loop agter haar aan. “Kristien, ek is nie in die gewoonte om meisies in die straat af te laai nie. Ek sal saam met jou tot by jou voordeur stap.”

Sy haal net haar skouers op en kyk uitdrukkingloos voor haar uit tot hulle die gang af stap en sy na haar sleutel begin soek. Voordat sy die sleutel egter nog in die slot kan draai, gaan die deur oop en Lina loer benoud om die deur.

“Ek weet nie wat dit is nie, juffrou,” sê sy. “Hy spoeg net en spoeg.”

Kristien druk by haar verby en storm na die slaapkamer. Frans bly vir ’n oomblik huiwerend staan en stap toe ook binne. Hy het geen begeerte om in die vroumens se lewe in te meng nie, maar aan die ander kant kan hy haar nie sommer so los nie. Miskien kan hy tog van hulp wees. Toe hy die voordeur agter hom toedruk, kom Kristien weer te voorskyn met die baba op haar arm.

“Wat makeer?” vra Frans en sy kyk geskok op na hom.

“Wat maak jy hier?” vra sy.

“Ek wil net hoor of ek nie van hulp kan wees nie.”

“Nee dankie,” sê sy koel. “Jy kan maar huis toe gaan. Dankie dat jy my gebring het.”

Voordat hy kan antwoord, gee klein Neelsie ’n hik en spoeg ’n straaltjie melk oor Kristien se skouer.

“Nou kan juffrou sien,” sê Lina. “Ek het hom al hoeveel keer skoon aangetrek, toe dag ek ek bel liewer vir juffrou.”

Neelsie gee ’n klaende huiltjie en druk sy gesiggie teen Kristien se skouer. Frans staan nader en steek sy hand uit asof hy aan die kind se koppie wil raak, maar Kristien draai weg en probeer onhandig met ’n papiersakdoek die melk van haar rok afvee.

“Hier,” sê Frans en hou sy groot sakdoek uit. Dan verander hy van plan en vee self haar skouer skoon.

“Wat moet ek doen?” vra Kristien vervaard. Sy het blykbaar aanvaar dat sy nie van Frans ontslae kan raak nie en sy lyk vir hom deur die wind geskrik.

“Kristien,” sê hy paaiend, “dis nie so ernstig nie. Sit nou eers dat ons kan uitvind presies wat gebeur het.”

“En wat weet jy nogal van babas af?” vra sy skerp, maar gehoorsaam tog en gaan sit op die bank. Die baba kyk belangstellend van die een na die ander en lyk glad nie asof hy iets makeer nie.

“Niks nie,” antwoord hy onverstoord. “Dus raak ek nie so maklik paniekerig nie.” Hy kyk na Lina. “Wat het die kind vanaand alles geëet?”

“Ek het hom kos gegee voor ons vanaand weg is,” sê Kristien kwaad. “Hy het geëet wat hy elke aand eet. Ek is nie onnosel nie.”

“Ons sal daaroor nog besluit,” sê hy kalm en kyk weer na Lina. “En hy het niks verder geëet of gedrink nie en toe begin hy sommer spoeg?”

Lina lyk verleë. “Nee. Hy het weer wakker geword en hy het gehuil en aan sy kombersie gebyt en toe dag ek die kind is dalk honger. Ek het hom nog kos gegee van die oorskiet van ons middagete – en toe het hy ’n bottel gedrink. Dis toe dat dit begin het.”

Kristien staar na haar. “Watse oorskietkos het jy vir hom gegee?”

“Van die vis,” sê Lina bangerig.

Kristien begin skielik lag en die baba kyk haar verwonderd aan en gee ’n kraailaggie om te wys hy wil ook deel in die pret. “Dit was kerrievis!” sê sy. “G’n wonder dit het hom omgekrap nie.”

Frans sit tevrede agteroor. “Sien jy nou? Ek het jou mos gesê jy raak te vinnig op hol. Die kind het seker net ontslae geraak van die vis en nou makeer hy niks nie. Hy lyk vir my baie gesond.”

Kristien hou dadelik op met lag en staan op. “Maar hy is seker nou moeg. Ek gaan net vir hom ’n bottel maak.”

Toe sy ná ongeveer tien minute terugkom en die huishulp dankbaar vertrek, sit Frans en lees in ’n tydskrif wat hy langs sy stoel gekry het. Kristien het ’n ander rok aangetrek en staan net na hom en kyk.

“Wil jy koffie hê?” vra sy.

Hy sit die tydskrif neer. “Ja dankie.”

Hy staan op toe sy met die koffie binnekom en wag totdat sy sit voordat hy ook sit. “Slaap hy nou?” vra hy hoflik.

“Ja dankie.” Sy kyk af na haar koppie terwyl sy roer.

Hy sit na haar en kyk. Wanneer sy so afkyk, lê haar donker wimpers soos twee sagte besempies op haar wange en in die lamplig lyk sy so pragtig dat hy hom opnuut verwonder oor die feit dat sy nog nie getroud is nie. Watter soort man sal so ’n mooi meisie alleen met ’n baba opsaal en hoe het so iets ooit met haar gebeur? Sy lyk asof sy niemand naby haar sal toelaat nie en tog: waar kom die kind vandaan? Hy wil nie uitvra nie en sy lyk ook nie asof sy daaroor wil praat nie.

Toe hy klaar gedrink het, staan hy op. “Dan gaan ek maar huis toe. Is jy seker jy het niks verder nodig nie? Kan ek nie vir jou iets by die apteek gaan haal nie – net om doodseker te maak?”

“Nee dankie,” sê sy en kyk op na hom. “Ek is jammer oor die moeite. En dat ek jou aand bederf het.”

“Dit is nie bederf nie,” sê hy en stap na die deur. “Goeienag. Ek hoop nie daar is verder probleme nie.”

“Tot siens,” sê sy en bly sit totdat hy die deur agter hom toegedruk het.

Sy bly lank nog so sit en staar in die niet voordat sy sugtend opstaan en die ligte begin afskakel. Frans Fourie, dink sy, is anders as Pierre, en tog vertrou sy hom nog minder. Pierre is ’n openhartige, joviale, mensliewende mens – so het hy voorgekom – en kyk net hoe het hy verander. Frans Fourie is die teenoorgestelde. Hy is geslote en in homself gekeer. ’n Mens weet nie wat hy dink of voel nie en tog was hy bereid om te help – te help met ’n situasie wat vir hom seker uiters vreemd en onbegryplik moet wees …

Teen die tyd dat Frans sy eie voordeur oopsluit, is hy helder wakker en skink vir hom ’n drankie voordat hy een van die lampe in die sitkamer aanskakel en in ’n leunstoel wegsak.

Sy is die teenoorgestelde van Elaine, dink hy, en hy het Elaine nooit verstaan nie. Hoe kan hy hoop om te begryp wat in Kristien se donker kop aangaan? Maar dis die eerste keer dat hy nié wegskram van gedagtes oor Elaine nie. Dis asof Kristien se kalmte die spook van Elaine een aand lank verjaag het.

Hy was nog altyd populêr onder die meisies en hy het dit geweet. Op universiteit het hy geen tekort aan vriendinne gehad nie en tog het hy nooit ernstig geraak oor een nie. Dit was eers toe Elaine ’n paar jaar gelede op die toneel verskyn het dat hy al sy aandag by een meisie bepaal het. Hy onthou dit nog goed. Hy was op ’n partytjie en hy het die blondekopmeisie alleen in ’n hoek sien sit. Sy was eksoties aangetrek en haar polse was belaai met armbande en kettings.

“My naam is Frans Fourie,” het hy gesê en by haar gaan sit.

“Ek is Elaine,” het sy gesê, asof dit al is wat hy behoort te weet. Hulle het begin gesels en sy was nie skaam om oor haarself te praat nie. Sy was ’n onderwyseres wat moeg was vir skoolhou en sy en ’n vriend het besluit om ’n winkeltjie te open waarin hulle handgemaakte en unieke snuisterye sou verkoop. Sy het dit geniet, maar haar vriend was blykbaar onstabiel en het al hoe meer van die verantwoordelikhede op haar afgeskuif, totdat sy omtrent alleen in beheer van sake was. Haar ouers is ryk en hulle het die vriend uitgekoop en nog geld in die besigheid gesteek sodat dit ’n gesogte winkel geword het.

“Jy het natuurlik al daarvan gehoor?” het sy lui vir hom gevra.

“Nee,” het hy gesê en dit het haar belangstelling geprikkel. In haar vriendekring het almal gedink sy is wonderlik en hier was ’n man wat nog nooit eers van haar of haar winkel gehoor het nie!

So het hulle verhouding begin en sy het hom ingesleep by haar bedrywighede en haar vriendekring. Die meeste mense in haar vriendekring was kunsmatig en teatraal en tog was hy so gefassineer deur haar dat hy soos ’n spinnekop in ’n web was. Hy wat gewoonlik op ’n Saterdagoggend tussen die plante op sy daktuin wou rondwoel, het nou saam met haar na vendusies gegaan of in die winkel gehelp of mense gaan opsoek wat dit bekend gemaak het dat hulle van hulle snuisterye wou verkoop. Hy was haar slaaf en sy het gesê sy is vreeslik lief vir hom. Haar vriende het hom beskou as ’n buitestander, een van die res, ’n konserwatiewe sakeman wat een huis en een werk het. Hy het nooit deel geword van die groep nie, maar dit het haar blykbaar nie gehinder nie. Solank hy haar slaaf gebly het, was sy gelukkig.

Ná ’n jaar het hy besluit om haar ’n naweek huis toe te neem sodat sy ouers haar kon ontmoet. Sy het laggend ingestem en vir haar vriende vertel dat sy sou gaan kyk hoe die boere leef en miskien op die plaas iets sou ontdek wat sy in haar winkel kon verkoop of gebruik.

Sy ouers het niks van haar gehou nie. Dit was oombliklik duidelik toe hulle uit die motor klim en Elaine haar helderkleurige kaftan regtrek en haar lang blonde hare agteroor gooi. Dit het hom, vreemd genoeg, nie ontstel nie. Hy was so verblind deur haar dat hy nie die vraende uitdrukkings op sy ouers se gesigte kon raaksien nie. Maryke het natuurlik ook nie van haar gehou nie en Elaine was die skuldige. Sy het uit haar pad gegaan om Maryke na ’n boere-skooldogter te laat voel – iemand wat niks weet nie.

Maryke was gefassineer deur Elaine se vreemde klere, maar toe sy ’n opmerking daaroor gemaak het, het Elaine iets gesê soos: “Ja, maar dit sal jou nie pas nie, kind. Met jou vaalbruin hare moet jy maar hou by pastelkleure.”

Hy kon sien hoe Maryke op haar tande kners. Sy was nog op skool, maar sy het dit gehaat wanneer iemand haar “kind” noem.

Hy het met Elaine hieroor gepraat. “Wees tog vriendeliker teenoor Maryke. Sy is my enigste sussie en ek is nogal lief vir haar.”

Elaine het haar groot, swaar gegrimeerde oë gerek. “Wat moet ek vir haar sê? Ek is nie daaraan gewoond om met skooldogters te praat nie.”

Die naweek was ’n fiasko. Elaine het met opgetrekte wenkbroue gekyk na die kos wat bedien is en aan ’n slaaiblaar geknibbel. Sy het vieserig haar roksoom gelig wanneer hulle gaan stap het en hy haar na die skaapkraal geneem het. Die son het haar gepla, daar was niks om te doen nie, niemand om mee te praat nie en sy kon nie wag om terug in die stad te kom nie. Op die ou end is hulle vroeg die Sondagoggend reeds terug en hy kon sien hoe sy begin opkikker het soos hulle nader aan die stad gekom het.

“O!” het sy uitgeroep toe hulle voor haar oulik gerestoureerde huisie in een van die voorstede uitklim. “Ek is ’n mens van die stad! Ek hou van die lawaai en die gedrang; die polsslag van die stad.” Sy het haar arms om sy nek gegooi en hom gesoen dat sy ore sing. “Belowe my jy sal my nooit weer plaas toe neem nie?”

Hy het ingestem. As hy nou daaraan dink, voel hy skaam. Hy was so verskriklik verlief op haar dat hy sy agtergrond en familie sou verloën het. As Elaine in ’n goeie bui was, het die son geskyn en het almal om haar in die rykdom gedeel. Wanneer sy kwaad was – wat nogal baie gebeur het – was dit asof donker wolke oor die stad gehang het en almal het versigtig getrap.

Die eerste keer dat hy besef het sy is nie so wonderlik as wat hy gedink het nie was een Saterdagoggend in die winkel. Sy het ’n gawe, sagsinnige jong man as assistent in diens gehad en hy en sy was albei agter in die winkel. Toe Frans by die deur instap, het hy hulle stemme gehoor. Die arme Billy het blykbaar iets verkoop wat Elaine vir een van haar spesiale klante uitgehou het. Nie ’n ernstige misstap nie en tog was sy histeries van woede.

“Jou onnosele swaap!” het sy gegil. “Ek het jou dan gesê ek hou dit vir iemand. Luister jy nooit as ek praat nie? Het jy geen verstand nie? Dis nie die eerste keer dat jy so ’n idiotiese ding doen nie, is dit? Ek moes geweet het toe ek jou in diens geneem het – jy is te dom om te weet wat reg en verkeerd is.”

Onder haar stortvloed woorde het ’n paar klante vinnig die winkel verlaat en Frans het nader gestap, geskok oor die taal wat Elaine gebruik. “Elaine,” het hy gemaan. “Stadig nou, jong. Enigeen kan ’n fout begaan.”

Billy het bleek na sy baadjie gesoek. “Ek loop dan maar,” het hy gesê.

“Dis reg,” het sy agter hom aan geskree. “Los mý nou met die gemors! En moenie dink ek gaan jou betaal nie! Jy kan vergaan van ellende vir al wat ek …”

Frans het haar aan die skouers gegryp. “Elaine, bedaar nou dadelik! Dis nie nodig dat jy jou so oor ’n nietigheid ontstel nie. Jy verjaag die mense uit jou winkel en jy sal vir Billy om verskoning moet vra.”

Sy het haar losgeruk en uitasem na hom gekyk. “Wat weet jy? Wat gee jou die reg om hier in te kom en vir my te sê hoe ek my moet gedra? Jy is ’n ou mannetjie van die platteland. Wat weet jý? Ek sal sê en doen wat ek wil en ek sal jou laat weet wanneer ek jou hulp nodig het, dankie.”

Hy het haar gelos en uit die winkel geloop, geskok, ontsteld en vasbeslote dat dit die einde van hulle verhouding was. Maar toe sy laat die aand aan sy voordeur klop, was dit sy geliefde wat berouvol voor hom gestaan het en reguit in sy arms ingeloop het. Sy was in trane. Sy was sag en vroulik en vol verskonings en hy het haar natuurlik vergewe.

Sy het verduidelik dat sy die vorige nag sleg geslaap het, dat sy nie lekker gevoel het nie, dat die winkel sulke hoë eise aan haar stel, dat sy soveel moeite doen om vir elke klant te kry wat hy wil hê en dat dit die rede is waarom sy haar humeur die oggend verloor het. Hy het gepaai en getroos en voorgestel dat sy die winkel verkoop en met hom trou.

“Nee,” het sy gesê en weggestaan van hom. “Dit sal ek nooit doen nie. Die winkel is my lewe.”

“En ek?” wou hy weet. “Waar pas ek in?”

“Jy weet hoe lief is ek vir jou,” het sy gesê en haar vinger oor sy lippe gevee. “Maar ek kan nie nou trou nie. Ek wil die winkel uitbrei en miskien nog een in een van die voorstede open en …” Sy het die uitdrukking op sy gesig gesien en stilgebly. “Jy weet tog ek kan nooit ’n huisvrou wees nie, liefste. Dis net nie die soort ding wat ek kan doen nie. Koskook en babadoeke …” Sy het gelag. “Nooit nie!”

Hulle het nie verder daaroor gepraat nie, maar dit was die begin van die einde. Die skille van verliefdheid het stadig van sy oë begin afval …

Frans sug en strek sy arms bo sy kop uit. Hy kyk na sy horlosie en sien dat dit laat is. Waarom sal hy nou vanaand al die onaangename ou dinge weer oopgrawe? Hy sal liewer gaan slaap.

Die lente kom weer

Подняться наверх