Читать книгу Kosbaar soos die lewe - Christine le Roux - Страница 3

Hoofstuk 1

Оглавление

Elizabeth Benade sit op die sonstoepie van haar woonstel en blaai deur die koerant. Dis Saterdagoggend en sy voel lui en verveeld. Dit was so warm dat sy vroeg opgestaan en haar hare gewas het, en nou sit sy op die stoep en wonder wat sy die res van die dag gaan doen. As Karel nou nog hier was … Sy skud haar lang, donker hare uit haar nek en voel na die knippies wat langs haar lê. In een beweging vat sy haar hare vas en draai dit teen haar agterkop waar sy dit met die knippies vassteek.

Sy is moeg vir haar werk by die klein rekenaarsfirma; sy is moeg vir die beknopte ou woonstelletjie, en omdat sy moeg geword het vir Karel ook sit sy nou vandag alleen en verveeld.

Ek is sewe-en-twintig jaar oud, dink sy wrewelrig, en vasgevang in ’n vervelige groef. Sy staan op en loop kombuis toe waar sy vir haar ’n glas lemoensap inskink voordat sy terugloop na die stoep toe. Sewe-en-twintig jaar oud, en elke dag gaan sy werk toe en elke middag kom sy terug. Sy tel die koerant weer op en blaai na die agterste bladsye waar die vakante betrekkings geadverteer word. Met haar vinger as rigtingwyser gly haar oë langs die kolomme af. Niks opwindends nie. Sekretaresses, klerke, ontvangsdames. Sy lees deur die kleingedrukte advertensies en verstyf meteens. Hier is iets ongewoons: Middeljarige man soek huishoudster en oppasser van klein kind. Die salaris is besonder goed, en boonop dui die advertensie aan dat die suksesvolle kandidaat sal moet inwoon.

Dit klink interessant, dink sy en skeur die stukkie versigtig uit die koerant. Dis ten minste nie ’n roetinewerk nie; en as sy die woonstel opgee en mooi spaar, kan sy dalk gouer haar begeerde oorsese reis bekostig. Sy het nog nooit met klein kinders gewerk nie, maar sy is seker sy sal dit kan doen. Die huishoudsterdeel sal ook nie moeilik wees nie; sy hou daarvan om kos te maak. En die kombuis van die middeljarige man wat so ’n goeie salaris betaal, is seker groter as die ou hokkie waarin sy nou moet bak en brou.

Sy staan op en loop na die telefoon. As ’n mens iets wil doen, moet jy dit dadelik doen. Jy moenie daaroor sit en dink nie, want voordat jy weet waar jy is, verander jy van plan. Sy skakel die nommer en luister hoe dit lui, en sy wil net neersit toe ’n man antwoord.

“Goeiemôre,” sê sy. “Ek bel in verband met die advertensie in die koerant. U soek ’n huishoudster en oppasser …”

“Dis reg,” antwoord die man. “Hoe oud is u?”

“Sewe-en-twintig.” Sy wonder wat dit met die saak te doen het.

Daar is ’n rukkie stilte aan die ander kant voordat die man weer praat. Sy stem is somber en koud, en sy wonder of sy die regte ding gedoen het om sommer te skakel.

“Ek sien,” sê hy. “Ek het eintlik iemand ouer in gedagte gehad. Is u ongetroud?”

“Ja.”

Hy sug. “Hoe gou kan u diens aanvaar?”

“Sommer dadelik,” sê sy vrolik. Karel is haar baas, en vandat sy en hy uitmekaar is en hy die nuwe bibliotekaresse uitneem, irriteer hulle mekaar. Hy is so verlief dat hy omtrent nie kan stilsit nie, en hy kan haar spottende oë nie verduur nie. Sy weet dit sal vir hom net ’n verligting wees as sy weggaan, en hoe gouer hoe beter. Sy het hom die firma help opbou, en die verhouding tussen hulle was in daardie stadium van so ’n aard dat geen kontrakte geteken is nie. Sy hoef nie ’n maand kennis te gee nie, en die woonstel is reeds vir die maand betaal. Buitendien is daar so ’n woningnood dat sy oortuig is sy sal die woonstel sonder moeite kan verhuur.

“Ek sien,” sê die man weer. “Wanneer kan u vir ’n onderhoud kom? Daar is heelwat applikante wat ook –”

“Net wanneer dit u pas,” sê sy inskiklik. “Vanmiddag?”

“Laat ek sien.” Sy hoor hoe hy deur ’n boek blaai. “Daar kom twee-uur iemand en dan weer halfvier. Wat van halfdrie?”

“Seker.”

Hy gee haar die adres en lui sonder meer af. Sy sit die telefoon stadig neer. Die man klink nie vriendelik nie; om die waarheid te sê, hy klink byna vyandig. Sy wonder of sy haar nie nou in ’n ding begewe het waarmee sy nie sal kan volhou nie. Maar haar natuurlike optimisme kry die oorhand, en sy loop terug na die stoep. Sy kan net sowel dáár sit en haar lemoensap klaar drink. Dis nog lank voor halfdrie.

Toe sy heelwat later voor haar kas staan en na haar klere kyk, voel sy weer effens huiwerig. Dis duidelik dat die man iemand verkies wat ouer is. Miskien wil sy vrou nie ’n jong meisie in die huis hê nie.

Miskien dink hy ’n jong meisie sal nie haar werk ernstig opneem nie.

Sy haal ’n eenvoudige donkerblou rok uit die kas en trek dit aan. Dit laat haar ouer en verantwoordelik lyk. Daarby trek sy wit sandale aan en kam haar hare netjies op. Toe trek sy die woonsteldeur agter haar toe en stap af na haar klein motortjie wat in die son staan.

Dis nogal ’n hele ent om te ry na die voorstad toe, maar sy is bly om te sien dit is ’n gegoede voorstad. Die erwe is groot en lê teen ’n rant, en die huise is ouer sodat die tuine oorgroei en boomryk is, só boomryk dat sy byna verbyry omdat die huis se nommer versteek is agter rankplante en oorhangende bome.

Die rylaan loop steil na bo, en sy sien die huis eers toe sy voor hom stilhou. Massiewe bome gooi skaduwees oor die huis, en hier rank klimplante en rose ook oor die stoeppilare en dak. Die huis self is ’n outydse dubbelverdieping en lyk net so massief. En onverbiddelik, dink sy en skakel die motor af. Sy bly nog ’n oomblik sit en kyk na die huis. Dit lyk soos die man se stem geklink het: ’n donker, somber plek; ’n ongelukkige huis.

Sy skud die gedagtes van haar af en klim uit. Toe sy oor die grasperk stap, hoor sy ’n gesis uit die struike en bosse aan haar regterkant. Eers ignoreer sy dit, maar dit hou aan en sy kyk skerp na die skaduwees en sien ’n klein, blonde gesiggie wat na haar loer, ’n ernstige gesiggie.

“Hallo,” sê sy en glimlag vriendelik.

“Kom kyk,” sê die kind en wys agter hom waar die bosse ’n soliede muur vorm. “Hier is ’n monster.”

“’n Monster?” vra sy belangstellend en staan nader. “Hoe lyk hy?”

Die kind se blou oë rek groot. “’n Monster met baie hare en ’n groot kop.”

“Is dit? Wat is sy naam?”

Die kind uiter ’n onverwagte laggie. “Sy naam is Bees. Hy is my eie, eie monster. Hy is my maatjie.”

Sy hurk by hom. “En jy sê sy naam is Bees? Is hy ’n vriendelike monster?”

Hy knik. “Is jy nie bang vir monsters nie? Die ander tannie het gesê ek is verspot.”

“Watter tannie?”

“Sy was nou-nou hier.” Hy lek ernstig oor sy lippies. “Bees kom nie in die huis nie. Net laat in die aand as ek slaap.”

“Sal jy hom vir my wys?”

Die kind verloor sy openhartigheid. “Nee. Hy is myne.”

Sy staan weer regop en sug gemaak hartseer. “Nou ja, dan sal ek maar my eie monster moet saambring.”

Dit interesseer hom. “Het jý ook een?” vra hy nuuskierig.

“O ja,” sê sy en kyk na haar horlosie. “Ek moet nou ingaan. Kan ons later weer gesels?”

Hy kruip onder die bosse uit en kom staan voor haar. Hy is seker omtrent vyf jaar oud, skat sy, en hy is vuil en onversorg, maar as dit die kind is wat sy moet oppas, sien sy kans daarvoor. Sy hou van hom.

“Kom jy by ons bly?” vra hy.

“Ek weet nie. Ek moet nou met jou pa gaan praat.”

By die verwysing na sy pa versomber die kind, en dit ontgaan haar nie. Hy draai om en kruip weer tussen die struike in, en toe sy weer kyk, kan sy hom skaars sien. Sy loop na die groot voordeur en lui die klokkie, en dit duur ’n geruime tyd voordat sy voetstappe hoor en die deur oopgemaak word. Dis ’n jong huishulp in ’n netjiese blou uniform, en sy beduie dat Elizabeth agter haar moet aanstap.

Voor ’n swaar deur in die donker gang bly sy staan. “U kan maar klop en ingaan,” sê sy en verdwyn in die gang af.

Elizabeth klop huiwerig, en ’n man vra haar om in te kom.

Die studeerkamer is ruim, en agter die groot lessenaar staan ’n man op en knik. Sy is eers verbaas. Die man is nie middeljarig nie, sy sou reken hy is nie ouer as veertig nie, en hy is lank en skraal. Sy netjiese, donker hare is effens grys langs die slape, maar hy lyk ongetwyfeld nie oud nie.

“Middag,” sê hy en steek sy hand uit. “Ek is dokter Nel. En u is?”

“Elizabeth Benade,” sê sy stamelend en gaan sit in die stoel wat hy vir haar uittrek. Al die stoele in die vertrek is met leer oorgetrek, en die tapyt is dieprooi. Al die mure is vol boekrakke, en die kamer ruik na tabak en ou leer.

Die man gaan sit weer agter sy lessenaar en kyk na haar. Sy bestudeer sy gesig, en wat sy sien, verontrus haar. Sy gesig is skralerig met diep lyne langs sy mond en oor sy wange. Sy oë is grys en heeltemal geslote, en sy wonder of hy haar kan sien.

“Het u vorige ondervinding van hierdie soort werk?” vra hy.

“Nee,” antwoord sy eerlik. “Wat presies wil u hê?”

Hy lig sy een hand op en vee oor sy oë met ’n moeë gebaar. “Ek soek iemand om my seuntjie op te pas. Hy is nog nie in die skool nie, en hy weier om na ’n kleuterskool toe te gaan. Hy is ’n besonder moeilike kind en ek weet nie meer … ek bedoel, ek kan hom nie oppas nie. Ek het ’n besige praktyk en is dikwels snags ook uit. Die kind word heeltemal wild groot. Dis nie reg nie. En dan ’n huishoudster ook. Ek het ’n huishulp, maar ek het iemand nodig wat kan toesig hou. Alles verval, alles gaan agteruit …” Hy maak weer die hulpelose gebaar met sy hand, en sy voel ’n diep jammerte vir die man.

“Ek sien kans daarvoor,” sê sy, en haar stem klink onnatuurlik vrolik in die somber vertrek. “Ek hou van koskook, en ek het u seuntjie ontmoet. Hy is ’n liewe kind.”

Hy lig een wenkbrou en kyk na haar met meer belangstelling. “U het Fransie ontmoet? Waar?”

“Hier buite. Ons het gesels voor ek ingekom het.”

Hy knik en staar deur die venster waar klimplante ook dié bietjie lig probeer uithou. “Hy het die vorige dame met kluite gegooi,” sê hy mymerend. “Ek het ’n ouer dame in gedagte gehad, ’n weduwee miskien, maar die kind hou dalk meer van ’n –”

“Is dit net u en die kind?” vra sy saaklik. “Wat van u vrou?”

Die lyne langs sy mond keep dieper. “Sy’s dood kort na sy geboorte,” sê hy kortaf.

“O …” Hy sê niks verder nie, en sy wonder of sy maar moet opstaan en loop. Die somberheid van die man en sy huis bedruk haar, en sy verlang na die son daar buite. Sy was dwaas om so impulsief op te tree; haar woonstel en vervelige werk lyk meteens baie aanloklik.

“Wanneer kan u begin?” vra hy skielik. “Ek veronderstel die salaris stel u tevrede?”

“Ja,” sê sy benoud. “Maar wil u nie eers die ander dames ook spreek nie?”

“Jy sê jy hou van Fransie,” sê hy asof die saak afgehandel is. “Ek sal vir Mieta vra om jou deur die huis te neem. Wanneer kan jy begin?”

Sy gee ’n senuagtige laggie wat selfs vir haar eie ore vals klink. “Ek moet net my klere gaan inpak. Ek huur ’n gemeubileerde woonstel, maar ek is seker ek sal dit kan verhuur.”

Hy vat-vat op die lessenaar rond en lig ’n papiertjie op. “Die dame wat net voor u hier was, soek dringend huisvesting. Sy stel meer belang in ’n plek om te woon as die versorging van ’n moeilike kind. Hier is haar adres. Miskien kan u …”

“Dankie,” sê sy en neem die papiertjie by hom. Hy druk ’n knoppie langs sy lessenaar en knik net vir haar toe die huishulp die deur oopmaak.

Elizabeth loop agter haar in die lang gang af en stap met die trap op.

“Hier is die kind se kamer,” sê Mieta en maak ’n deur oop. Die kamer is pragtig, uitgeplak met vrolike muurpapier vol diere, en orals op rakke is die pragtigste speelgoed uitgestal. En tog is die kamer dood en kan sy haar kwalik voorstel dat die vuil seuntjie van flussies hier slaap en speel.

“En hier is die juffrou se kamer.” Die kamer is reg langs die kinderkamer en is groot en net so perfek gemeubileer. Die gordyne is liggroen, die beddeken oor die wit dubbelbed groen en rooskleurig geblom en die tapyt dik en sag en ook liggroen. Al die ander meubels is wit, en sy het ’n uitsig deur die venster oor die boomryke voorstad tot by die hoë geboue van die stad in die verte.

“Dis ’n pragtige kamer,” sê Elizabeth waarderend en dink aan haar beknopte kamertjie in die woonstel – die gewone oranje deken en bruin tapyt, die uitsig teen die gebou langsaan.

“Die badkamer is langsaan.” Mieta wys na ’n deur wat amper lyk asof dit deel vorm van die ingeboude kaste. Sy stoot die deur oop, en Elizabeth loer verby haar na die pienk-en-liggroen badkamer.

Toe hulle weer in die gang staan, wys Mieta haar die badkamer wat die kind blykbaar gebruik en begin weer met die trap af stap. Onder wys sy haar die ruim kombuis met al die elektriese toebehore, die deftige stoof, yskas en vrieskas, die ontbythoekie en toe die pragtige eetkamer met sy houtpaneelwerk teen die mure. Die lang tafel glim in die swak lig, en Elizabeth wonder of iemand ooit hier eet. Dit is die gevoel wat sy orals kry – die kamers is so deftig en pragtig, maar so totaal leweloos. Dis asof niemand ooit hier praat of lag nie, en sy wonder hoe die arme kind in hierdie ongelukkige huis leef.

“Werk jy al lank hier, Mieta?”

“Van die mevrou dood is,” antwoord sy stroef. “Dis toe die huis dood is.”

Elizabeth knik begrypend. Ja, die huis is dood, en sy wonder of dit die man se stroefheid ook verklaar. ’n Geliefde vrou wat met die geboorte van hulle kind oorlede is, en ’n man wat dit nie wil aanvaar nie.

Sy bedank Mieta, wonder of sy die man moet gaan groet, maar besluit daarteen en stap na haar motor. Sy sien die kind nêrens nie. Sy skakel die motor aan en trek weg.

Sy is diep ingedagte terwyl sy terugry, en sy wonder of sy nie maar moet bel en sê sy het besluit om die werk nie te aanvaar nie. Karel en sy nuwe liefde is verkieslik bo die ongelukkige atmosfeer van dokter Nel se huis. En tog voel sy reeds half verantwoordelik vir die kind, en as sy aan die pragtige kamer dink, is sy glad nie seker of sy liewer in die woonstel wil bly nie.

Haar gedagtes word onderbreek deur ’n klein handjie wat aan haar nek vat, en sy onderdruk ’n gil, hou met moeite die motor op die pad en kyk in die truspieëltjie.

“Hallo,” sê Fransie vertroulik en glimlag vir haar. “Ek en Bees het sommer ingeklim.”

Sy ry van die pad af en hou stil. “Fransie!” sê sy flou geskrik. “Jy kan dit mos nie doen nie. Jou pa en Mieta sal jou soek.”

“Nee.” Hy skud sy blonde koppie. “Hulle sal nie. Ek wil saam met jou gaan.”

“Ek kom weer,” sê sy hulpeloos. “Ek kom by julle bly. Dit was nie nodig dat jy in my motor klim nie.”

“Dan kom ek weer saam met jou terug,” sê hy redelik, asof dit die maklikste oplossing is. “Wat is jou naam?”

“Elizabeth.”

Hy probeer dit sê, maar sy tongetjie knoop om die lettergrepe. “Liesbet,” sê hy tevrede.

Sy skakel die motor weer aan en besef hulle is nou baie naby aan haar woonstel. Sy sal die kind maar saamneem en sy pa bel. Sy besef ook dat die kind nou die besluit namens haar geneem het. Sy sal buitendien nou moet teruggaan na die huis toe.

By haar woonstel help sy hom uit die motor, en hy stap saam met haar boontoe. Sy sluit die deur oop, en hy stap verwonderd in.

“Dis ’n mooi huis,” merk hy op, “maar dis baie klein. Het jy nie ’n tuin nie?”

“Nee. En nou moet ek eers jou pa bel. Hy is seker baie bekommerd.”

Sy skakel die nommer en hoor weer die vermoeide stem. “Ek is baie jammer, dokter Nel,” sê sy senuagtig. “U kind het in my motor geklim, en ek het dit hier by die woonstel eers agtergekom. Ek sal hom saam met my terugbring.”

“Ja,” sug die man en sit die telefoon neer. Geen skok, geen verbasing en beslis geen bekommernis nie.

Sy kyk met nuwe meegevoel na die seuntjie waar hy in die kamer rondloop en na alles kyk. “Luister,” sê sy, “ek het baie om te doen. Gaan jy my help, of wil jy hier sit en teken? Ek kan vir jou papier en potlode gee.”

“Ek sal jou help,” sê hy en loop agter haar kamer toe.

Sy haal tasse af en begin klere opvou en inpak, en sy besef dat sy dit nie alles vandag sal kan afhandel nie. Sy sal weer moet ry, want daar is soveel klein goedjies wat in dose gepak sal moet word.

Die kind help nie regtig nie, en voordat sy vir Karel bel, en die ander vrou wat moontlik die woonstel wil hê, gee sy eers vir Fransie kos. Al wat sy in die yskas het, is koue vleis, maar hy eet dit doodgelukkig.

Karel is openlik verlig, kan sy hoor toe sy hom skakel, en die huishoudstervrou sê sy hoef nie eers na die woonstel te kom kyk nie, sy sal dit neem.

Elizabeth draf af na die opsigter toe om met hom te reël, en sy kan skaars glo dat sy vanoggend nog verveeld en ontevrede met haar huidige omstandighede was. En kyk nou, dink sy toe sy weer met die trap opspring boontoe. Hier is sy besig om in te pak, en sy het klaar ’n kind onder haar sorg.

Toe sy bo in haar woonstel kom, lê Fransie op die sitkamermat, vas aan die slaap. Sy staan op hom en afkyk en haar hart word warm en sag. Sy hurk by hom en vee die natgeswete haartjies van sy voorkoppie weg. Hy lyk soos ’n straatkind, dink sy. Hy is maer en sy klere is onversorg. Die hempie is te klein vir hom, en sy maer lyfie steek tussen broek en hempie uit. Hoe versoen ’n mens die verwaarloosde kind met die deftige huis? wonder sy afgetrokke. Sy is verbaas oor die gevoelens wat die kind in haar wakker maak. Sy ken geen klein kindertjies nie, want sy is die jongste van twee dogters, en alhoewel haar ouer suster lank reeds getroud is, het hulle geen kinders. nie. En sy onthou, toe al haar skoolmaats onderwyseresse wou word, hoe geskok sy was omdat sy haar net nie kon voorstel hoe dit moet wees om dag ná dag met ’n klomp kinders opgeskeep te sit nie.

Terwyl Fransie slaap, pak sy klaar in en dra die tasse af na haar motor. Daar is soveel om te doen, en sy is uitasem toe sy weer in die woonstel kom en die kind wakker maak.

Hy knip sy mooi oë en kyk fronsend na haar. “Wat doen ek hier?” vra hy klaend.

“Jy het saam met my gery, maar ons kan netnou huis toe gaan. Wil jy nou huis toe gaan?”

“Nee,” sê hy, en sy gaan haal vir hom ’n glas lemoensap en sit by hom terwyl hy dit drink.

“Hoekom nie?”

“Dis lekkerder hier by jou.”

“Maar ek moet nou ry. Môre sal ons weer terugkom sodat ek die ander goed kan kom haal.”

“Ek wil nie huis toe gaan nie,” sê hy koppig. “Dis nie lekker by die huis nie.”

Sy kyk hulpeloos om haar rond en sê dan op ’n skielike ingewing: “Kyk, hier is geen tuin nie. Waar sal Bees bly?”

Hy kyk ook om hom rond en sug gelate.

“Ek weet nie. Waar bly jóú monster?”

Sy moet vinnig dink. “Hy bly in my kas, maar hy hou nie daarvan nie. Hy sê al lank vir my hy wil in ’n huis gaan bly waar daar ’n groot tuin is sodat hy kan speel.”

“Sal hy met Bees speel?”

“Ja,’’ sê sy desperaat. “Ek is seker hy sal.”

Hy staan op van die mat en loop badkamer toe. Sy tel solank haar handsak en die laaste klein tassie op.

“Wat is jou Bees se naam?” vra hy toe hy weer by haar aansluit.

“Sy naam is … sy naam is …” Sy kyk in die kamer rond, en haar oë val op ’n tydskrif met ’n akteur se naam buite-op. “Sy naam is Richard,” sê sy verlig.

“Richard?”

“Ja. Is dit vir jou ’n mooi naam?”

“Dis my pa se naam,” sê hy en kyk fronsend na haar.

Sy byt op haar lip en wonder wat sy nou kan doen. Dit is ook net haar geluk om ’n naam uit ’n hoed te gryp en dan te hoor dis die kind se pa se naam. “Nee,” probeer sy die saak red. “Ek is nou sommer deurmekaar. Natuurlik is sy naam nie Richard nie; sy naam is Wollie.”

“O,” sê hy tevrede. “Hoekom is sy naam Wollie?”

“Hy is wollerig. Sal jy my handsak vashou sodat ek die deur kan sluit?”

“En jou bed?” vra hy en kyk terug.

“My bed bly hier. Ek gaan op ’n bed in julle huis slaap.”

Hy stap saam met haar uit, maar sy vrae hou nie op nie. “Kan ek by jou slaap?”

“Hoekom? Hou jy nie van jou eie bed nie?”

“Nee.” Hy kyk na die tasse op die agterste sitplek en klim voor in. “Sal jy die band vir my vasmaak?”

Sy maak die veiligheidsgordel vas en skakel die motor aan. Sy moet haar kop ’n slag skud om seker te maak dat dit sy, Elizabeth Benade, is wat hier in die motor sit en nou vertrek om met ’n vreemde nuwe lewe te begin. Sy weet nie of haar ouers hierdie stap sal goedkeur nie, maar aan die ander kant weet hulle sy is oud genoeg om te weet wat sy doen, en hulle het nooit van Karel gehou nie. Haar ma het altyd gesê hy is kinderagtig en skoolseunagtig. Sy glimlag toe sy dink wat haar ma sal sê as sy hom nou kon sien, so verlief op sy nuwe meisietjie. Ag, dis net suur druiwe, dink sy, maar sy weet dit is nie so nie. Sy en Karel was wel verlief in ’n stadium, maar dit was baie lank gelede. Hulle het hoofsaaklik van jaar tot jaar voortgegaan omdat hulle saam gewerk en albei die heil van die firma op die hart gedra het. Die afgelope paar maande het dit egter alles verander, en sy weet eerlikwaar nie wat haar die meeste verveel het nie, Karel of die firma. En sy twyfel sterk of hierdie nuwe werk vervelig gaan wees. Bedrukkend miskien, ja, en sy sal moet veg om nie deur die somberheid van die huis en sy mense aangetas te word nie. Sy het nooit eers die man gevra of sy aande of naweke vry sal hê nie. Sy veronderstel sy sal kan uitgaan as hy die aand by die huis is.

Terwyl sy ry en die kind stil langs haar sit, besluit sy dat sy gaan probeer om die atmosfeer in die huis vroliker te maak. Dit kan nie goed wees vir Fransie om in so ’n huis te leef nie.

“Hoekom hou jy nie van die kleuterskool nie?” vra sy skielik.

“Sommer nie. Bees wil nie soontoe gaan nie.”

“O. As Bees gaan, sal jy ook gaan?”

“Nee.” Hy druk sy kennetjie koppig vorentoe. Sy kan geen ooreenkoms tussen hom en sy vader sien nie, en sy wonder meteens of dit werklik sy kind is; dit lyk dan so asof hy nie belang stel in die seuntjie nie. Nee, besluit sy, natuurlik is dit sy kind; sy moet nie dat haar verbeelding op hol raak nie. Hy het moontlik ’n grief teenoor die kind omdat die moeder by sy geboorte dood is.

“Ek is honger,” sê Fransie.

Sy sit haar hand op die vuil, maer knietjie. “Ek sal vanaand vir jou lekker kos maak. En ek sal vir jou koekies bak ook. Hou jy van koekies?”

“Ja,” sê hy en praat nie weer nie. Sy sien hoe sy gesiggie verstrak toe sy by die rylaan indraai, en teen die tyd dat sy voor die huis stilhou en Mieta haar kom help met haar tasse, is die kind nêrens te sien nie. Hy is seker weer in die tuin in, dink sy terwyl sy haar klere uitpak en die mooi kamer geniet. Die son is besig om te sak toe sy klaar is, en sy staan voor die venster en kyk na die donker wordende tuin. Vir die hoeveelste keer wonder sy of sy die regte ding gedoen het.

Kosbaar soos die lewe

Подняться наверх