Читать книгу Kosbaar soos die lewe - Christine le Roux - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

Nadat Elizabeth klaar uitgepak het en tevrede met haar kamer is, stap sy ondertoe en loop die kombuis huiwerig binne. Sy wonder of iemand al ooit ’n nuwe betrekking onder vaer omstandighede aanvaar het. Die oppas van die kind verstaan sy; ’n kind moet gebad en gevoer en mee gespeel word, maar wat presies staan haar te doen as huishoudster? Dit lyk nie of dokter Nel veel instruksies gaan gee nie, en Mieta staan by die wasbak en spoel ’n teekoppie uit. Tee, ja, dis waarvoor sy lus is.

Sy skakel die ketel aan en begin kassies oopmaak terwyl sy oplet wat in elke kassie is.

“Juffrou,” sê Mieta onverwags, en sy draai om en kyk haar vraend aan. “Is juffrou nou vir altyd hier?”

“Nie vir altyd nie, nee,” antwoord Elizabeth. “Maar darem seker ’n hele ruk. Waarom vra jy?”

Die vrou frommel haar voorskoot en lyk ongemaklik. “Ek wil loop,” sê sy. “Ek wil al lankal geloop het, maar ek kon nie die dokter en die kind alleen los nie. Noudat juffrou hier is …”

“O,” sê Elizabeth onthuts. “Weet die dokter hiervan?”

“Ek sal hom sê.” Sy haal haar voorskoot af asof alles reeds finaal beklink is en maak nog kaste oop om vir Elizabeth te wys waar alles gehou word. “Hier is die skottelgoedwasser,” sê sy en wys hoe dit werk.

Nou ja, dink Elizabeth filosofies, daar is niks wat sy aan die situasie kan doen nie, en as sy alleen al die werk moet doen, hou dit haar moontlik so besig dat sy nie beklemd kan voel nie. Daar is in elk geval genoeg masjiene en apparaat om die werk maklik te maak. Sy maak dus die yskas oop, haal vleis uit en begin met die voorbereiding van aandete.

Terwyl sy werk, wonder sy waar Fransie is, en toe die kastrolle op die stoof is, vee sy haar hande af en gaan buitentoe.

“Fransie!” roep sy en stap oor die donker grasperk. “Kom nou, jy moet gaan bad.”

Hy kruip onder die struike uit en kom skugter nader. “Gaan jý my bad?”

Sy vat sy vuil handjie en lei hom die huis binne. “Is jy nie groot genoeg om dit self te doen nie?”

Hy skud sy kop. “Nee, jy moet my help.”

Sy tap die bad vol, help hom om sy hempie oor sy kop te trek en tel hom in die bad. Terwyl sy die vuil beentjies skrop, bekyk sy die dowwe blonde hare. “Ek dink ons moet jou hare ook was.”

Hy trek ’n gesig, maar stribbel nie teë nie, en toe sy hom uit die bad help en sy hare begin droog vryf, lyk hy sommer anders. Sy nagkleertjies is skoon, maar omtrent deurgewas, en toe sy vra of hy ’n kamerjas het, skud hy ontkennend sy kop.

“Wie het jou gewoonlik gebad?” vra sy.

“Mieta.”

“En wie kyk na jou klere?”

“Mieta was dit,” antwoord hy weer, en sy voel skielik hatig teenoor die afgetrokke man wat so min vir sy kind omgee.

“Ek sal met jou pa praat,” sê sy. “Ek dink ek en jy moet môre winkels toe gaan; nee, môre is Sondag – ons kan Maandag gaan en vir jou nuwe klere koop. Sal jy daarvan hou?”

Hy antwoord nie dadelik nie en lyk ook nie besonder opgewonde by die vooruitsig nie, en dit laat haar wonder of hy al ooit saam met iemand winkels toe was.

“Waar het jy al die mooi speelgoed gekry?” vra sy toe hulle kombuis toe loop.

“Pa koop dit,” antwoord die kind en ruik waarderend die kos op die stoof.

“En jou klere?”

“Ek weet nie.” Hy klim op een van die hoë stoeltjies en probeer sien wat op die stoof aan die gang is. “Maak jy vir ons lekker kos?”

“Ek dink so.” Sy meng gou die slaai en wonder dan waar hulle gaan eet, of dokter Nel saam wil eet en hoe laat hy sy kos wil hê. “Moenie aan die warm potte vat nie, hoor? Ek gaan net gou vir jou pa iets vra.”

Voor die studeerkamerdeur stryk sy eers oor haar hare, klop en gaan binne. Die man sit nie meer agter sy lessenaar nie, maar lê agteroor in een van die leunstoele. Op sy skoot is ’n boek, maar sy oë is toe en hy lees ooglopend nie daarin nie.

“Verskoon my …” Sy kug en hy kyk op na haar. “Hoe laat wil u eet?”

“Dit maak nie saak nie,” antwoord hy. “Nes die kos reg is. Mieta het kom sê sy wil loop.” Hy lyk nie asof hy enige belang by hierdie nietighede het nie.

“Ja.”

“Ons kan iemand in haar plek probeer kry.”

“Ja.” Sy loop terug na die deur. “Eet u gewoonlik in die eetkamer of sommer in die kombuis?” vra sy met haar hand op die deurknop.

“Dit maak nie saak nie,” antwoord hy en maak weer sy oë toe.

Sy loop ergerlik terug kombuis toe. Die man stel eenvoudig geen belang in enigiets wat in die huis gebeur nie, dink sy ontstoke. Dan sal sý maar van nou af die besluite neem. Sy skakel die lig in die eetkamer aan, ruk die laaie van die buffet oop en haal ’n tafeldoek en messegoed uit. Fransie kom staan by haar en gee behulpsaam die sout- en peperpotjies aan.

“Moet ek in die kombuis eet?” vra hy.

“Nee,” sê sy beslis. “Jy eet by ons. Het jy al vantevore hier geëet?”

“Nee. Mieta gee my kos in die kombuis.”

“En waar eet jou pa?”

“Ek weet nie. Partykeer kom daar baie mense, en dan eet hulle hier. Ek weet, want ek kan hulle hoor al is ek in my kamer.”

Sy dink oor hierdie inligting. Dan is die man darem nie ’n algehele kluisenaar nie. Hy onthaal darem soms ander mense; vriende. Dit verbaas haar dat hy wel vriende het.

“Sal jy jou pa gaan roep?” vra sy op pad na die kombuis. “Sê vir hom hy kan maar kom eet.”

“Nee. Ek mag nie in die studeerkamer gaan nie.”

“Bog,” sê sy ongeduldig. “Klop net en sê hy moet kom eet.”

Die kind gehoorsaam bangerig, maar sy is vasberade. Dit moet end kry dat die kind in sy eie huis soos ’n uitgeworpene behandel word. Sy hoor ook geen uitroepe van woede nie, en toe sy die kos op die tafel neersit, kom die man in en gaan sit woordeloos aan die hoof van die tafel. Fransie sluip agter hom die kamer binne en kyk met bang oë na Elizabeth.

“Sit langs my,” sê sy en help hom op die deftig gestoffeerde stoel. Dokter Nel sit na sy tafelmatjie en kyk en wag dat hulle hulle self moet help. Sy skep met sorg vir die kind in en toe vir haarself, en daarna help die man homself asof hy onbewus is van die ander mense en die kos.

“Hoekom eet hy nie vanaand in die kombuis nie?” vra die man onbelangstellend.

“Hy kan nie alleen daar sit nie,” antwoord sy beslis.

Die man lewer nie verder kommentaar nie, en die kind sit sy kos angstig en eet. Dit maak haar woedend, en sy wonder of dit nie beter sal wees as sy en die kind in die kombuis eet nie. Sy wil nie hê hy moet so bang voel as hy eet nie. Sy is seker dis nie goed vir sy spysvertering nie.

“Het jy al dáárdie prent gesien?” vra sy vir Fransie en wys na ’n groot skildery van soldate en perde.

Hy knik net en kyk vinnig na sy pa.

“Nou, sien jy daardie soldaat met die rooi uniform en die goue helm? Sy naam is ook Frans.” Sy weet sy is seker belaglik, maar sy is vasbeslote om die kind se aandag van sy pa af te lei.

Die seuntjie kyk gefassineer na die prent, ’n vurk vol kos halfpad na sy mond. “Is dit regtig?”

“Ja. Hy was ’n baie dapper soldaat. Sy perd se naam is Pronk.”

“Pronk,” sê Fransie asof hy aan die naam proe. “Dis ’n mooi naam.”

“Het jy al ooit ’n perd gesien?” hou sy vol.

“Nee, net in prentjies.”

“Ek sal jou eendag neem dat jy ’n regte een kan sien. Was jy al ooit by die dieretuin?”

“Ja.” Sy ogies blink, en dit lyk asof hy sy pa se beklemmende teenwoordigheid vergeet het. “Ek het tiere gesien en leeus en bobbejane.” Hy vertel opgewonde verder tussen monde kos, en sy voel tevrede. Die man wat so stil sit en eet, mag dit dalk nie goedkeur nie, maar dit is jammer. Die kind is haar eerste verantwoordelikheid, sy pa is oud genoeg om na sy eie heil om te sien.

Gelukkig lui die telefoon net toe hulle klaar geëet het, en toe dokter Nel terugkom, sit hy sy servet neer en kyk na haar. “Ek moet uitgaan,” sê hy. “Ek weet nie hoe laat ek sal terug wees nie. Sluit asseblief al die deure; ek het ’n sleutel.” Net voordat hy by die deur uitgaan, kyk hy terug. “Dankie vir die kos.”

“Net ’n oomblik,” keer sy hom. “U het nie vir Fransie nag gesê nie.” Sy weet sy loop op dun ys, veral aangesien sy die man nog glad nie ken nie, maar sy het gesien hoe heldeverering met angs gemeng is wanneer die kind na sy pa kyk.

Dokter Nel bly staan asof hy nie reg gehoor het nie. Toe draai hy terug.

“Nag, Fransie,” sê hy en loop.

“Nag, Pappa,” fluister die kind. Elizabeth sien hoe sy onderlippie bewe, en sy voel lus om die man storm te loop en hom te skud totdat sy tande klap. In stede daarvan, sit sy haar arm om die dun skouertjies en sê gemaak vrolik: “En wie is lus vir ’n bakkie roomys?”

Fransie se ogies blink. “Ek is!”

Sy help hom van die stoel af, en hy help haar om die borde kombuis toe te dra. Hy eet sy roomys sommer in die kombuis terwyl sy die tafel afdek en toe sy klaar is, neem sy hom boontoe na sy kamer.

“Ek kom nóú vir jou ’n storie vertel,” belowe sy. “Ek gaan net gou al die deure sluit.”

Toe sy terugkom, lê hy al in die bed, en sy gaan sit by hom. Sy kan dit nie verhelp om weer eens na al die dose speelgoed wat daar lê, te kyk nie. “Speel jy ooit met al hierdie goed?”

“Nee.”

“Waarom nie?”

“Dis nie lekker om alleen te speel nie.”

“Het jy nie maatjies nie? Is hier nie ander kinders in die buurt met wie jy kan speel nie?”

“Ek weet nie. Ek speel met Bees.”

“O. Nou ja, môre sal ek en jy met die goed speel. Dit lyk vir my asof ’n mens wonderlike goed kan bou met die speelgoed wat jy hier het. Maar eers die storie. Hou jy van stories?”

Hy knik en sy begin vertel, maar voordat sy ver gekom het, is hy vas aan die slaap. Sy trek die laken oor sy maer skouertjies en sit net na hom en kyk, en sy wonder of iemand al ooit hierdie kind gesoen het. Sy onderdruk dié gedagte, want dit maak haar al hoe hatiger teenoor die kind se koue pa. Toe sy uitgaan, los sy die deur oop sodat sy hom kan hoor as hy dalk wakker word.

Onder in die kombuis was sy die skottelgoed en maak aan die kant. Sy is moeg en besluit om ook maar te gaan slaap, en sy wonder of sy in die studeerkamer mag ingaan om iets te kry om te lees.

Waarom nie? Sy pak die bul by die horings en loop in. Een leeslamp brand nog, en sy loop om die lessenaar om na die boeke te kyk. Haar aandag word getrek deur die foto in ’n silwerraam wat op die lessenaar staan, en sy tel dit op en bestudeer die gesig. ’n Baie mooi jong vrou, blond soos haar kind en met sagte, liefdevolle oë. Sy wonder wat die vrou sou doen as sy kon weet hoe haar kind behandel word, en met haar vinger teen die foto sê sy hardop: “Ek weet nie waarom iemand met so ’n sagte gesig soos joune met so ’n koue man getrou het nie, maar ek belowe jou ek sal Fransie mooi versorg en kyk of ek nie sy pa se houding kan verander nie.” Sy verbeel haar die mooi vrou verstaan wat sy sê en glimlag bemoedigend terug.

Uit die rak haal sy ’n boek, en sy is beïndruk deur die verskeidenheid leesstof. Die man het ten minste goeie smaak in boeke, moet sy toegee. Toe sy die deur weer agter haar toetrek, staan sy vir ’n oomblik en weifel en stap toe doelgerig kombuis toe. Sy moet ’n hele paar kassies oopmaak voordat sy kry wat sy soek, maar tien minute later loop sy uit met ’n skinkbord waarop ’n fles, ’n koppie en ’n bordjie winkelkoekies lê. Sy sit dit op die tafel in die gang neer sodat dokter Nel dit sal sien as hy inkom. Toe gaan sy boontoe, bad en klim in die bed.

Sy is nog wakker toe sy hom hoor inkom, en sy luister met gespanne aandag na sy voetstappe. Sy kan nie veel hoor nie, aangesien die dik tapyte alle geluide demp, maar ná ’n ruk hoor sy tog die geklingel van ’n koppie en die studeerkamerdeur wat oopgaan. Tevrede lê sy terug en raak gou aan die slaap in haar nuwe, luukse omgewing.

Sy het vas geslaap, reeds ’n hele paar uur lank, toe sy bewus word van ’n hinderlike geluid. Sy maak haar oë oop en lê ’n oomblik totaal verward totdat sy besef waar sy is en wat die geluid is. Dis ’n kind wat huil. Sy spring uit die bed sonder om eers haar japon aan te trek en hardloop na die kamer langsaan. Net voor sy ingaan, kyk sy om en sien dokter Nel se skraal figuur in die deur van sy kamer. Hý het wel ’n kamerjas aan en toe hy haar sien, tree hy terug en maak sy deur toe.

“Wat is dit, Fransie?” vra sy besorg en trek die kind regop sodat hy teen haar skouer lê.

“Gedroom,” snik hy.

Sy streel oor sy hare, neem hom badkamer toe en gee hom ’n bietjie water om te drink. Toe bly sy langs hom sit totdat hy weer aan die slaap is. Was die man op pad na sy kind? wonder sy terwyl sy daar sit. Het dit al vantevore gebeur en indien wel, wie het die kind vertroos? Tog seker nie hy nie, anders sal die seuntjie nie so bang wees vir sy pa nie.

Sy sug en loop terug na haar kamer, en dit duur ’n geruime tyd voordat sy weer aan die slaap is. Sy kan maar nie oor die verwondering kom dat haar lewe so drasties verander het nie. En so vinnig. Sy verbeel haar sy kan haar pa hoor lag. Hy het nog altyd gesê sy is die soort mens wat vinnig en halsoorkop op ’n ding besluit. As sy moeg is vir haar huidige werk, besluit sy sommer nou dadelik om iets daaromtrent te doen. Maar selfs hý, dink sy geamuseerd, sal nie kan glo wat sy hierdie keer aangevang het nie. En daarby is daar ’n waarskuwende klein stemmetjie in haar agterkop wat haar daaraan herinner dat sy hierdie sonderlinge betrekking aanvaar het omdat die salaris goed is en haar onkoste laag; omdat sy vinniger sal kan spaar vir die oorsese reis wat haar droom is sedert sy ’n kind was. As sy die droom bewaarheid wil sien, durf sy nie betrokke raak by die kind nie.

Sondagoggend word sy wakker en lê lui om haar en rondkyk voordat sy besef dat sy die huishoudster is en vinnig uit die bed spring. Toe sy in die gang kom, sien sy Fransie op sy bed sit met ’n boek. Sy voel skuldig en help hom gou om aan te trek.

“Jy is seker al honger?” vra sy, want die enigste normale ding omtrent hierdie kind is dat hy blykbaar altyd honger is. Sy het al vergeet dat ’n kind ’n groot eetlus het.

“Ja,” sê hy. “Gaan ons weer pap eet? Bees hou nie van pap nie.”

“Is dit so?” vra sy. “Nee, ons sal spek en eiers eet en net waarvoor jy lus is. Waar eet jou pa?”

“Ek weet nie,” gee hy sy normale antwoord, en sy besluit dat die ontbythoekie seker daar is vir ontbyt; dus sal hulle dáár eet.

Dokter Nel is nie in sy studeerkamer toe sy hom gaan roep nie, en sy vind hom buite in die tuin met ’n tuinslang in sy hand. Sy is verbaas, omdat sy hom beskou as ’n man van die donker. Hy draai dadelik die kraan toe en volg haar na die kombuis waar Fransie al klaar geëet het en vra of hy mag gaan speel.

Elizabeth sit ietwat ongemaklik oorkant die man noudat die kind nie hier is om ’n gesprek mee aan te knoop nie.

“Dankie vir die fles wat jy gisteraand vir my uitgesit het,” sê die man meteens.

“Dis ’n plesier,” antwoord sy en probeer op haar kos konsentreer. Dis nie maklik nie, en sy wonder of sy ’n maagseer gaan opdoen onder hierdie nuwe bedeling van stil, ongemaklike etes. “Dokter Nel,” sê sy vasberade, “ek is heeltemal in die duister aangaande my pligte. Ek dink ons moet ’n bietjie gesels.”

“Wat wil jy weet?” vra hy.

“Wel …” Sy stoot ’n stukkie roosterbrood op haar bord rond. “Wie koop die kos? Van watter soort kos hou u? Wie koop die kind se klere? Sy klere is in ’n benarde toestand. Wil u vroeg in die oggend tee of koffie hê?” Sy voel sy moet praat terwyl die geleentheid daar is.

Hy glimlag effens en die verandering wat dit aan sy stroewe gesig maak, verbaas haar. “As ons klaar geëet het, kan u na my studeerkamer kom en sal ek u die huishoudelike geld gee. Ek vrees u sal self die kos moet koop. Gebruik my motor as u wil. Dis groter. Ek kan altyd met u motortjie spreekkamer toe ry as dit nodig is. U wil darem seker nie elke dag winkels toe gaan nie?”

Dié vreemde idee verbyster haar so dat sy skaars kan antwoord. “Nee,” stamel sy. “Natuurlik nie.”

“En ek sal bly wees as jy vir die kind sal klere koop.” Hy het die formele u laat vaar, merk sy. “Ek het nie tyd daarvoor nie, en Mieta kon dit nie doen nie. Miskien is dit die beste as ek jou ’n tjekboek gee. Wat wou jy nog weet? Nee, ek wil niks vroeg in die oggend hê nie, en ek gee nie om wat ek eet nie. Is dit al?”

“Ja dankie,” sê sy en hy staan op. Sy sit nog met haar koppie koffie voor haar toe hy weer terugkom en ’n tjekboek vir haar gee.

“Hier,” sê hy. “Ek het ’n klomp tjeks geteken. As ek onthou, sal ek Maandag ’n bankrekening open vir al die huishoudelike uitgawes, dan hoef jy my nie weer te pla nie. Ek sal dit waardeer indien jy al die rekeninge ook sal betaal.”

“Goed,” sê sy lammerig. “Ek sal dit doen.”

Hy knik en loop uit, en sy sit na die tjekboek en kyk. Dit is duidelik dat die meeste alledaagse take en pligte vir die man net ’n las is, en hoe minder hy van haar en sy kind hoor, hoe beter. Hy sal betaal solank hulle hom net nie steur nie.

Nou goed dan, dink sy vasberade en sit die tjekboek in haar sak. Ek sal uit jou pad bly en jou geld spandeer totdat jou kind ordentlik lyk. En ons sal jou nie steur nie.

Sy gaan boontoe toe sy die ontbytgoed opgeruim het en maak haar en Fransie se kamers aan die kant, maak die badkamers skoon en wil net na die kind gaan soek toe sy die deur van sy kamer sien. Aangesien Mieta nie hier is nie, moet sy seker dokter Nel se kamer ook aan die kant maak. Sy klop nietemin eers om seker te maak hy is nie dalk binne nie.

Sy bed is netjies opgemaak, en dit verbaas haar nogal. Hy wil dan niks weet van huishoudelike take nie. Sy kyk nuuskierig in sy kamer rond. Dit is net so luuks soos die ander kamers en net so onpersoonlik. Die gordyne is diep wynrooi, die deken donkerrooi en wit gestreep en die meubels van ’n donker hout. Sy badkamer moet skoongemaak word, en sy doen dit so vinnig moontlik omdat sy bang is hy kom in terwyl sy daarmee besig is. As dit nie was vir die skeergoed wat op ’n rakkie staan en die mediese tydskrif wat oopgevou voor sy bed lê nie, sou ’n mens dink dit is ’n hotelkamer, dink sy voordat sy uitloop.

Sy gaan roep vir Fransie in die tuin, en hulle sit op die vloer in sy kamer met een van die dose speelgoed. Omdat sy saam met hom speel, is hy geesdriftig en bou karretjies en hyskrane en vragmotors wat hy met ’n dreunende gebroem oor die vloer stoot. Hy is so verdiep in sy spel dat hy ná ’n ruk skoon van haar vergeet, en sy sit glimlaggend na hom en kyk.

“Fransie?” vra sy versigtig, “het jy gisteraand ’n nagmerrie gehad?”

Hy frons. “Nee. Wat is ’n nagmerrie?”

“’n Nare droom; ’n droom wat jou bang maak.”

“Ek weet nie. Partykeer word ek bang.” Hy stoot die karretjie rond en klik sy tong ergerlik toe een van die wiele afval. Sy help hom om dit weer vas te druk.

“En wat gebeur as jy bang word in die nag? Wat gebeur as jy wakker word en huil?”

“Pappa kom,” sê hy asof sy dit behoort te weet.

Dit neem die wind uit haar seile. Dan is die man nie die monster wat hy voorgee om te wees nie.

“En as jy siek is?” vra sy.

“Ek word nie siek nie,” antwoord hy.

“Was jy nog nooit siek nie?”

“Ja.” Hy kyk op na haar, die karretjie in sy hand. “Pappa is ’n dokter. Partykeer sit tannie Lise by my.”

Dit interesseer haar. “Wie is tannie Lise?”

“’n Ander tannie. Sy sê miskien word sy my mamma. Het jý ’n mamma?”

“Ja,” antwoord sy werktuiglik en wonder waarom sy ’n bietjie jaloers voel. Dan is sy nie die nuwe ligstraal in hierdie somber huishouding nie; daar is ook ’n tannie Lise.

“Is dit lekker om ’n mamma te hê?” vra hy en kom staan by haar.

“O ja, baie lekker.” Sy weet nie presies hoe om hierdie vrae te beantwoord nie. Sy wil nie hê die kind moet iets mis wat hy blykbaar tot op datum nog nie gedoen het nie.

“Wat doen ’n mamma?” vra hy belangstellend.

“O, sy speel met jou en bad jou en maak vir jou lekker kos en soen jou as jy gaan slaap en –”

“Soos jy en Mieta?”

Dis ’n knelvraag. “Ja, amper so.”

“Ek hou van tannie Lise,” antwoord hy haar onuitgesproke vraag. “Sy sal vanmiddag kom. Sy kom elke Sondagmiddag.”

“O.” Sy wonder of sy moet koek bak vir die besoekster. Sy is per slot van rekening nou die huishoudster, en haar nuwe pligte sluit seker die onthaal van die baas se vriendinne in. Sy wens net sy weet waarom sy so wrewelrig daaroor voel. “Dan moet ons jou mooi aantrek.”

“Ja,” sê hy en trek ’n laai oop. “My blou hempie met die Superman op. Tannie Lise het dit vir my gegee. Dis net …” Hy lyk weer afgehaal.

“Wat?” moedig sy hom aan.

“Sy hou nie van Bees nie.”

“Het jy haar vertel van Bees?”

“Ja.” Hy kyk na haar met sy groot blou oë. “Het jy jou monster saamgebring?”

“Ja,” sê sy vinnig. “Hy speel nou in die tuin saam met Bees.”

“Bees speel nie in die tuin nie,” sê die kind asof sy dom is. “Hy is nou by my. Hy lê nou onder die bed.”

“O. Nou ja, dan speel Wollie seker alleen.”

Die kind vind dit baie snaaks en lag met genot. Dis die eerste keer dat sy hom hoor lag, en dis ’n lieflike geluid. Sy wonder of hy nie liewer ’n regte lewende maat wil hê nie. “Hou jy van honde?” vra sy.

Sy oë hou haar dop en hy knik huiwerig. “Mense in boeke het honde.”

“Wil jy nie ook een hê nie?” Sy weet sy is nou roekeloos, maar die man het tog gesê sy moet vir die kind koop wat hy nodig het. Miskien het hy nie ’n hond in gedagte gehad nie, maar sy dink dit sal die kind baie gelukkig maak om ’n lewende, wollerige dier te hê.

“Ja,” sê hy. “’n Hondjie net vir my?”

“Net vir jou,” belowe sy.

“Pa het ’n hond gehad,” vertel hy. “’n Groot hond.” Hy wys met sy handjies na die dak. “Hy het altyd teen tannie Lise opgespring.”

“En waar is hy nou?”

“Hy’s omgery.” Die kind vertel dit sonder emosie en sy wonder of hy weet wat dit beteken. “Hy was al oud. Ses jaar oud, het Pa gesê. Dis nie oud nie?” sê hy vraend. “Ek is vyf jaar oud, en ek is nog nie oud nie. Ek is nog nie eers groot nie.”

“Nee,” sê sy. “Maar honde is anders as mense. Hulle word gou oud. Wil jy so ’n groot hond hê of ’n kleintjie?”

Hy dink ernstig hieroor na. “Nie so baie groot nie. So ’n bietjie kleiner as ek.”

“Nou goed,” sê sy en druk hom teen haar vas. “Ek gaan nou kos maak en koekies bak vir tannie Lise, en môre gaan ek en jy winkel toe en ons koop vir jou mooi klere en ’n hond.”

“’n Regte hond,” prewel hy verwonderd en wend hom na sy karretjie. “’n Regte Bees.”

Kosbaar soos die lewe

Подняться наверх