Читать книгу Reën oor die Serengeti - Connie Luyt - Страница 4
·1·
ОглавлениеGretchen Schmidt sal enigiets doen vir ’n foto.
Ek weet dis wat hulle van my sê. Joernaliste. Redakteurs. Vriende en vyande – en nie net in Duitsland nie. Sy sal selfs, soos vandag, in ’n bos op die hoogland van Kenia inkruip om die perfekte prentjie te kry.
En dit om ’n begrafnis af te neem.
Nie aldag maklik om Gretchen Schmidt te wees nie. ’n Kombinasie van instink, net plein geluk, en dan seker ook my vermoë om aan te pas by ’n situasie. ’n Erfenis van my Boere-oupa dalk?
In hierdie verdammte bos is dit klam en koud. Ongemak kan ek hanteer, maar daar is iets onheiligs hier –’n boosheid wat met ysvingers agter my nek kielie. Ten spyte van die son wat skyn, is hier ’n onderliggende hartseer wat niks te doen het met die begrafnis nie. Dis ’n ou seer, die thahu waarvan die ou Kikoejoe-eienaar van die plaas gepraat het – ’n bewus wees van moeilikheid en trane wat van ver af kom.
Die kamera bewe effens. Ek stut my hand en die lang lens teen die stam van die boom waaragter ek skuil. Trek die jas stywer om my skouers. Daar is geen teken van die arrogante jong man wat my hierheen gelei het nie. Hy sal wag; ek het hom geld belowe om my terug te kry by die Landcruiser.
Dit was omtrent ’n gesukkel om John Barklin te sien, in die bykans twee weke wat ek al hier in Kenia is. Tyd wat ek gelukkig vrugbaar kon gebruik om foto’s te neem vir my uitstalling volgende maand. Tog het ek nooit vergeet dat die eintlike doel van my reis na Kenia is om hom te sien nie, met hom te gesels as ek kan. Ek is dit aan Gardi verskuldig.
Geen geld kon vir my ’n plek koop op ’n safari saam met hom nie – dis glo maande vooruit al vol bespreek. Ek het intussen uitgevind dat hy ’n lodge bou, maar dis nog nie gereed vir gaste nie. Die meisies by die kantoor van Wilderness Tours is goed opgelei om geen persoonlike inligting bekend te maak nie. By hulle kon ek darem agterkom hy is nie getroud nie.
Dis pure geluk dat ek die dag in die kantoor was toe iemand noem dat John Barklin terugkom vir sy pa se begrafnis. ’n Kastig toevallige raakloop van die einste meisie net ná die kantoor se sluitingstyd en ’n glasie wyn of twee by die Thorn Tree Café het die inligting verskaf waarna ek gesoek het.
Daardie deel was veel makliker as om die pad na Nyahururu naby Thomson’s Falls te vind. Om uiteindelik by die predikant te hoor die diens gaan vanoggend op die plaas met die naam Tene-na-Tene gehou word. “Uitsluitlik vir die familie.”
Wat kon ek doen? Langer kan ek nie bly nie, en onverrigter sake wil ek nie teruggaan nie. ’n Plan moes ek maak. Het gister al kom kyk. Baie geld het verwissel tussen my en Kamau, die verslonste eienaar van die plaas, voordat hy sy dikbekseun aangesê het om my te wys waar die graf gaan wees.
Nou hoe loop jy iemand kastig raak by sy pa se begrafnis? Sekerlik kan jy hom nie inwag langs die pad nie. Toe maar besluit om te doen wat ek die beste doen: foto’s neem.
Buitendien het ek in die jare agter die Muur onkel Willi se les met welslae toegepas: “Mense wat poseer vir foto’s, gee onwetend baie van hulself weg. Maar dis wanneer hulle nié weet van die kamera nie dat hulle ware persoonlikheid na vore kom.” Wat gaan die oog van die kamera vasvat van John Barklin? Hopelik iets wat ek na Gardi kan terugvat om haar van haar plan te laat afsien.
Die koue naarheid van my laaste ontmoeting met haar in my woonstel in Berlyn is steeds in my binneste. Rooigehuilde oë en bloedlose lippe. Die afdruk van vier vingermerke blou op haar boarm, ou geelgroen kneusplekke op haar gewrigte, haar wang. ’n Wegskram van wat onder die serp om haar nek, die wit hemp en denimlangbroek mag skuil.
“Ek is bang, Gretchen! Help my, asseblief. Vandat ons teruggekom het uit Afrika, is hy waansinnig jaloers.” Oor en oor het Gardi haar hande oor haar boarms gevryf. “Daar is ’n man daar … John Barklin. Ek droom van hom. Ek wil wegloop, teruggaan na hom, maar Helmut het my bankrekening gesluit en ek het nie geld nie.”
Daardie dun stem, daardie leë oë hou my nou nog snags wakker.
“Maar sê nou jy kom daar aan en hy het ’n vrou en kinders? Of hy is in ’n verhouding? Wat maak jy dan?”
“Sal jy gaan uitvind, Gretchen? As jy hom ontmoet, sal jy verstaan. Jy wou mos nog altyd Afrika toe gaan. Asseblief?”
Hoe kon ek haar die enigste ding wat sy my nog ooit gevra het, weier?
’n Viertrek brul teen die steilte uit en laat my ruk van die skrik, sodat ek die lens teen die boom moet stabiliseer. Deur klap. My hartklop versnel, my vinger sekuur op die kamera se sluiter.
Die man kom in fokus. Dit móét hy wees: John Barklin.
My hart klop te vinnig.
Lang man, aantreklik op ’n manier. Kliek. Bruingebrand, wit oopnekhemp aan. Graaf in die hand waarmee hy dadelik begin spit. Kliek. Sakdoek uit, vee sy voorkop af, grawe verder. Hipnoties, amper meganies.
Waaraan dink hy? Kake op mekaar geklem, sy mond ’n dun streep. Hartseer of ergernis? Hy staan terug, sy gesig uitdrukkingloos. Draai dan om. Nog motors, nog deure wat toeklap, stemme.
Sit eers die kamera opsy, kyk net.
Vier mans wat die kis dra. Die man voor saam met John kan ’n broer wees, iets eners aan hulle houding. Die predikant van gister. Die vierde man het ’n gesig waarvan mens moet hou – die oë, die sagtheid om die mond, die effense bles.
Agter hulle loop ’n paar vroue, die voorste een seker al sewentig, oë stip op die kis voor haar. Sagte grys klere, hare vasgemaak in ’n los bolla, bossie blomme vasgeklem in hande waarop die are blou uitstaan. Links van haar rem ’n middeljarige vrou aan ’n te klein baadjie, en regs loop ’n swartkop in ’n lang sigeunerromp met ’n seuntjie aan die hand en ’n kleuter op die heup.
John se vrou?
Nee. Die man met die sagte oë kom staan langs haar, laat rus sy hand ’n oomblik teen haar wang, voordat hy die kleuter in sy arms tel. Die lens wat haar naby bring, wys ’n deurleefde gesig. Hartseer oë.
Verder terug staan ’n groepie Kikoejoes. Kontrapunt met hulle vaal klere en donker velle. Deur die sterk lens is die trane wat oor Kamau se gesig loop duidelik sigbaar.
Nog ’n waarom. Kén hy die mense?
Ek skuif die fokus weer na John, skerper en nader met die telefotolens. Die weemoed op sy gesig is só skreiend dat ek die kamera laat sak, skielik skaam vir die manier waarop ek sy privaatheid betree.
Ek is nie meer wat ek was nie … Die Gretchen wat onverskrokke met haar kameralens mense se leed en pyn oopgevlek het, bestaan lankal nie meer nie. Die bewerasie in my binneste bevestig dat my vyftigste verjaardag al ’n tydjie gelede was.
Soveel dood. Soveel begrafnisse. Selfs dié wat ek nie kon bywoon nie, spook by my. Wie gaan volgende wees? Koue bewe deur my lyf.
Kliek, kliek. John se gesig boei my. Ek lees pyn en stoïsisme in die lyne om sy mond. Nog iets. Woede? ’n Man wat ver kyk en meer raaksien as wat ’n mens besef. Sal dit jou ongemaklik maak?
Die kis sak stadig in die graf af. Van stof tot stof – só is die weg van die mens.
Meteens hoor ek onkel Willi se stem helder in my gedagtes. Is ek weer ’n kind onder in die kelder, ruik ek die sweet van te veel mense wat saamleef met die vrees vir die dood, terwyl stof oor ons neersif en bomme in Berlyn se strate ontplof. Die hartseer wat in my opstu, is so skerp as wat dit onverwags is.
Selfs nadat die stemme om die graf stil geword en die voertuie vertrek het, bly ek in die bos. Onder my vingerpunte trek ek die voue en krake in die skurwe grys boombas na, asof ek daarin my eie pad vorentoe soek. Die verbeelde wete van ou jaarringe en tallose seisoene is onverklaarbaar hartseer.
Blare verkrummel in my handpalm soos vergange herinneringe, en slegs die stofreuk bly agter. In die wisseling van son en skaduwee tussen die takke deur verskyn grepe van my lewe soos stukke uit ’n rolprent.
Veruschka, my liefste vriendin wat soms so ’n ver trek in haar oë kry as sy in die toekoms in kyk, se woorde is ’n refrein wat oor en oor deur my kop draai, soos ’n liedjie wat jy nie kan vergeet nie. Jy sal vind waarna jy soek op ’n plek ver van hier. Maar eers moet jy diep in jou eie lewe in kyk en vrede maak met jouself. Dán eers sal jy gelukkig wees.
Maar ek wil nie kyk nie. Nie nou nie.
Ek bêre my kamera in sy houer. Stap voetjie vir voetjie na waar die jong man wag. Hy gryp die geld brutaal uit my hand, beduie waar die voertuig is.
Ek sit eers ’n rukkie voor ek stadig wegtrek. Ek het aanvanklik gedink ek gaan John agtervolg, dalk iewers die geleentheid kry om met hom te gesels, maar ek wil nie meer nie. Daar is iets aan John Barklin wat ek herken as eerbaarheid. Ek is oortuig daarvan dat Gardi die situasie in haar gedagtes oorspeel het, dat sy meer gelees het in sy vriendelikheid as wat werklik daar was.
Ek moet by die hotel kom. Môre vlieg ek terug Berlyn toe.