Читать книгу Reën oor die Serengeti - Connie Luyt - Страница 6

·3·

Оглавление

Ek is kwaad vir myself. My verbeel ek is terug in Oos-Berlyn, waar ek konfyt geraak het om my te versteek sodat ek skelm foto’s kon neem van moontlike vyande van die staat.

Maar hier! Myself aan gevaar en potensiële vernedering blootgestel by ’n begrafnis – in ’n bos op ’n plaas ver van als! Wat het my besiel? As John my gekonfronteer het, hoe sou ek kon verduidelik?

Selfs die pragtige uitsig kan nie my ontsteltenis laat bedaar nie. Ver ondertoe loop ’n trop kameelperde verby, statig soos poppe op stelte, onverstoorbaar elegant. Twee voëls koggel mekaar bo in ’n boom; die lug ruik na stof en blare. Deur vernoude oë kan ek in die namiddaglig die presiese tydsduur vir die ontwikkeling van die perfekte foto skat.

Kan ek niks meer raaksien sonder om afstandelik daarna te kyk nie? Altyd verskans deur die kamera voor my gesig, altyd besig om die omgekeerde beeld te absorbeer, die negatief voor my geestesoog te ontwikkel?

Selfs hier, voete op die muurtjie van die stoep voor my luukse hotelkamer in die Nakuruwildtuin, glas bier in die hand, bly ek bewus van my omgewing – nie van wat ek, Gretchen, ervaar nie, maar eerder van wat Gretchen Schmidt, fotograaf, filmmaker, kenner van ligmeters en lense, voel. Iemand wat wegkruip vir die samelewing deur te skuil agter ’n kamera. Al manier hoe sy die wêreld om haar kan beheer en oormaak. Herskep. As sy wil.

Agter die rolprent in my kop van die dag se gebeure, lê ’n donker, hartseer ondertoon. Was dit die treurige gesigte om die graf wat dit veroorsaak het, of die gedagte aan onkel Willi?

Sy beeld verskyn soos ’n vel fotopapier wat in ontwikkelingsvloeistof lê. Grys hare, groot neus, hartseer oë, sagte mond. Dan sy krom skouers, die skeefgetrekte rug omdat een been korter is as die ander een. Ek sien hoe hy my optel in die amber skemerte van die donkerkamer in sy winkeltjie in Behrensstrasse. Hy laat my die nat velle papier vasknip aan ’n draad.

Sy gekromde vinger wys hoe daar geleidelik beelde uit die mis opdoem en vorm aanneem. Kyk, Gretchi, daar’s jy met jou wilde bos hare. En jou mutti wat in haar boek skryf, tante Gertrud met haar breiwerk.

Ongelooflik. Towery.

Ek was onmiddellik verslaaf.

Dáár het Gretchen Schmidt, bekroonde fotograaf, begin.

Die ou man wie se woljas na tabak en sweet en chemikalieë geruik het, het my bedags laat help in sy winkel. Saans het hy my aan Afrika bekendgestel. Uit die muwwe reuk van sy prenteboeke van wilde diere en ontdekkingsreisigers het hy my die stof laat proe, ’n vuurtjie in die veld laat ruik. Deur sy oë het die uitgestrekte vlaktes, donderstorms en rooi sonsondergange vir my werklik geword, en het ek skaars agtergekom van die stof en rook en ontploffings wat bokant my plaasvind.

Eers later, ná die oorlog, het Mutti vertel van my regte oupa.

“Hy was ’n man van Afrika, dié Piet van Nieuwenhuizen.”

“ ’n Swart man?” wou ek grootoog weet.

“Nein, nein!”

Hy was van Suid-Afrika, het sy vertel. ’n Afrikaner. ’n Burger wat in die Boereoorlog teen die Engelse geveg het. Ná die oorlog wat soveel verwoesting gesaai het, het hy en sy mense besluit om na Duits-Oos-Afrika te trek.

Was dit ver?

Ja, en moeilik. Vra onkel Willi om jou in die atlas te wys.

En toe?

Mutti het aanhoudend met haar duim oor die dun ringetjie aan haar trouringvinger gevryf, haar blik ver.

“Hy was ’n grootwildjagter wat die land Tanganjika baie goed leer ken het.”

“Maar hoe het hy my oupa geword?”

“Toe die oorlog in 1914 uitbreek, het die Duitse beamptes al die mense van Suid-Afrika wat nie saam met hulle wou veg nie in ’n kamp gesit. Eendag kom sê ’n swart man daar is leeus by die beeste. My pa – jou oupa – gryp toe sy geweer en gaan uit die kamp om die leeus te skiet. Toe dreig die Duitse offisiere om hom voor die krygsraad te daag as hy nie by die Duitse weermag aansluit nie.”

“Wou hulle hom dóódmaak?”

“Waarskynlik. Maar hy het toe by die Duitsers aangesluit en is sommer die volgende dag na generaal Von Lettow-Vorbeck geneem. Van toe af was hy die generaal se regterhand. Hy het die Duitse manskappe deur die veld gelei en gesorg dat hulle nooit gevang word nie. Von Lettow-Vorbeck was die enigste Duitse generaal wat nooit oorgegee het nie – danksy my pa. Hy en die generaal het sulke groot vriende geword dat hulle ná die oorlog saam na Berlyn gekom het. Hier het hy my ma ontmoet.”

Mutti se oë kyk ver in die verlede in.

“O, hy was ’n mooi man. Jou ouma se gesig het sag geword as sy oor hom gepraat het. Hulle is in 1919 getroud. Maar jou oupa kon die koue Berlynwinters nie hanteer nie en toe gaan hulle terug Afrika toe. Ek is daar gebore.”

“En toe?”

“Toe gaan hy dood. Op ’n jagtog. ’n Leeu het hom bestorm en sy geweer het vasgehaak.”

“Hoe oud was jy?”

“Twee jaar oud.”

Sy staar na haar hande, draai die palms na bo asof sy antwoorde in haar lewenslyne soek.

“En toe kom Omi terug Duitsland toe met jou? En trou weer?”

“Ja. Ernst Mandel was die enigste pa wat ek geken het.”

Op hoërskool het ek ’n stuk daaroor geskryf vir ’n geskiedenisopstel. Die onderwyser het my goeie punte bederf deur my ná klas terug te hou en te waarsku dat ek liewer nie daaroor moet praat dat ek vreemde bloed in my are het nie. Verdammt.

Daardie vreemde bloed in my are, daardie Afrikagene in my DNS, het bly spook. Van altyd af was my grootste wens om te gaan kyk waar my oupa vandaan kom. Die donker geheime opgesluit in die woord A-f-r-i-k-a wou ek oopsluit.

Was dit nie vir Gardi se versoek nie, het ek dalk nooit die sleutel in my hand geneem nie.

Hier in die land van my voorvader is daar herkenning. Ek verwonder my oor die landskap; die stede vervul my meestal met afgryse. Die rykdom van diere en vreemde kulture is verstommend, maar so ook die skreiende armoede en oorbevolking.

Ook in my gees het ek die reis dualisties beleef. Enersyds het ek my oopgemaak om elke sensasie te ervaar; andersyds het ek met ’n skok besef dat ek steeds nie na Veruschka wil luister en my verlede konfronteer nie. ’n Filmrolletjie wat nie ontwikkel word nie.

Gaan ek die antwoorde kry as ek terug is in Berlyn en my dosyne rolle film ontwikkel? Sal ek dán weet of dit oeroue herinneringe is, ’n bewustheid van my voorgeskiedenis, of die verskrikking van my eie binnereis?

Carl Jung het, toe hy in die 1920’s hier was, verklaar dat die veld en die bos se ongereptheid ’n helende ervaring was.

Nee. Van heling kan ek nog nie praat nie.

Ek bly ’n halwe mens.

Die ander helfte is van my weggeneem toe ek skaars ouer was as Mutti toe haar pa dood is. The absence of presence. Die afwesigheid van die aanwesigheid van my tweelingsussie het my ganse lewe met grys skakerings van skuldgevoel ingekleur. Hoe kon ek treur oor iemand wat ek skaars kon onthou? Hoe kon ek meeding om my ma se liefde met iemand wat nie bestaan nie?

Ek was klein toe Rozl weggeraak het, maar die storie is so dikwels vertel dat ek nie kan onderskei tussen wat ek self onthou en wat ek gehoor het nie.

Mutti het in die jaar net voor die oorlog begin het, verlief geraak op ’n student: Mannfred Wolff, ’n skraal, ernstige man met donker hare en oë. Sy was agtien en hy was twintig.

Haar ouers het haar verbied om hom te sien. “Jode is verboten. Kyk maar om jou rond wat gebeur met die Jode. Hulle mag nie meer motor bestuur nie, mag nie boeke koop nie, mag nie in sekere strate verskyn nie. Liewe aarde, Marianne, jy stel ons in gevaar deur jou vriendskap met hierdie mannetjie!”

Maar sy het nie geluister nie.

In Junie 1939 verander alles. Mannfred word in die middel van die nag deur die Gestapo weggevat. Mutti word na ’n tante in Grünwald gestuur, uit vrees dat sy ook gearresteer sal word. Voor die maand om is, weet sy sy is swanger. Maar voordat sy iemand kon vertel, word haar ouers gearresteer as “Jodevriende”.

Sy het eendag vertel hoe koud sy gekry het daardie winter van 1939. Het die yslaag wat ek altyd in haar aangevoel het in daardie maande in haar binneste gestol? Het sy gehuil toe die dokter vir haar sê sy het ’n tweeling? Het sy ons vergelyk: toontjies, vingers, oortjies? Die een blond soos sy, die ander een donker, met die pa se bruin oë.

Het sy vooraf ons name uitgedink, geoefen op haar tong, neergeskryf in sierskrif? Rozalinde met die blou oë en Gretchen met die effense haakneus. Het sy gedurende haar swangerskap gewonder of sy Mannfred se van moet aanneem as minagting van die Nazi-beleid teenoor die Jode? Wat het haar laat besluit om ons onder haar eie van te laat registreer?

Sy het teruggetrek Berlyn toe en as ’n verpleegstershulp gaan werk by ’n hospitaal, waar daar iemand was wat na haar twee dogtertjies kon kyk. Sy het ’n woonstel gekry in Behrensstrasse, naby Willi Schroeder se fotografiewinkel.

Rozl en ek het albei masels gekry, albei in die hospitaal beland. ’n Dokter het na ons kom kyk.

“’n Tweeling met verskillende kleur oë?” het hy gevra.

“Tweelinge is mos nie almal identies nie,” het Mutti geantwoord.

“Dalk kan ek probeer om hulle meer identies te maak?” het hy met ’n vreemde glimlag gesê.

Hoeveel keer het ek nie dié woorde gehoor wat Mutti so ontstel het nie … Het sy iets in sy oë gelees? Het dokter Mengele vermoed daar is Joodse bloed in ons are?

Mutti wou ons dadelik huis toe neem, maar Rozl se koors was nog te hoog, het die verpleegster aan diens gesê. Toe vat sy net vir my saam met haar.

Toe sy ’n paar uur later by Rozl se bed kom, was dit leeg. Dokter Mengele het haar gevat – Auschwitz toe. Vir die verpleegster gevra waar Marianne Mandel bly, want hy wil die ander een ook kom haal.

Van die paniek wat gevolg het, weet ek net uit die vertelling. Mutti het nooit weer teruggegaan na haar werk by die hospitaal nie. Sy het dieselfde dag nog al ons besittings gepak en ’n kamer by onkel Willi gehuur. Weke lank is ek daar binne gehou.

My kind is weg, krap Mutti in haar swart boek waarin sy daagliks geskryf het. Lieber Gott, warum? Warum? Hoe kan ek bly lewe sonder my klein Rozl? Ek kan Gretchen se gekerm nie verduur nie. Ek druk my ore toe, maar Rozl bly in my kop huil.

Ek het geleer om nie te huil nie.

Eers ná vyf-en-twintig jaar het ’n sielkundige die begrip “oorlewingskuld” aan my verduidelik. Die een wat bly lewe se ewige skuld oor hy nie ook dood is nie.

“Jambo, memsaab. Time for dinner.” Die mooi jong man se tande glim wit in sy mond.

Ek stap saam met hom. In die skemering gesels voëls in die bome en snork ’n bok iewers naby. Die geur van rook en grond en ou blare hang in die lug. Ek adem dit diep in my longe in asof dit al die holtes moet vol maak op hierdie aand in Afrika.

Ek wil terugkom. Sodra ek terug is in Berlyn, gaan ek na my dagboek kyk en die nommer bel wat ek by Wilderness Tours gekry het. Ek gaan hoor of die lodge met die mooi naam Ngaro Sero wat John Barklin bou al klaar is, en ’n bespreking maak.

Ná aandete sit ek eers lank op die stoep, voordat ek bed toe gaan. Dis bedompig warm en ek veg lank met die laken en kussings.

In my slaap hoor ek ’n vliegtuig. Die gedreun kom al nader. Harder en harder. Dun skreegeluide eindig met ’n harde slag. Ek wil stik in die stof. Dis pikdonker. Benoud. Warm. Ek kan nie beweeg nie. Iemand hou my vas.

Ek veg. Ek moet uit! Vir Rozl gaan soek. Rozl is nog daar in die hoë wit bed. Die bomme gaan op haar val! Rozl gaan doodbrand. Sy sal dink ek het haar vergeet. Los my!

Verstrengel tussen lakens en muskietnet skrik ek wakker, natgesweet en uitasem. Ontsteld. Die droom was te werklik.

Buite rammel donderweer en ek ruik die naderende reën op die wind wat die gordyne laat bol. Iets brand. Bewerig trek ek die gordyn weg en sien ’n rooi vuurstreep wat oor die veld aankruip soos ’n gloeiwurm. Waarheen vlug ek as dit tot hier kom?

’n Weerligstraal wys ’n boom wat ’n vlammedood sterf. ’n Geweldige donderslag volg binne sekondes.

Dan neem Gretchen Schmidt oor. Ek voel in die stikdonker na my kamerasak. Eers toe ek agter die lens skuil, keer daar ’n mate van kalmte terug. In die wit lig van die volgende bliksemslag is die vlamme nader, hoër, wyer.

Um Gottes willen, gaan ek hier in Afrika sterf? Hoekom is dit so stil? Wéét die hotel se mense dat daar ’n vuur op pad is? Die kamera val byna uit my hande toe die volgende donderslag volg. Daarmee saam sak ’n gordyn reën uit die hemel. Só dig dat die vuur nog net ’n oomblik of twee oranje skyn, voordat ek die venster toemaak.

Die vlae reën is, soos alles hier in Afrika, meer ekstreem, meer skrikwekkend as wat ooit in Duitsland die geval is. Geen wonder die donderslae het geklink soos die Britse bomwerpers wat nag ná nag hulle dodelike ladings op Berlyn laat val het nie. Dis tog logies.

Maar vannag het logika nie ’n plek in my kop nie. Niks omtrent my reis in hierdie vreemde, ongelooflike land is logies nie. Niks omtrent my verblyf in hierdie aardse klip-en-houthuis – waar geitjies teen die mure opseil en in die grasdak verdwyn, waar ek my skoene soggens eers moet uitskud om seker te maak dis vry van skerpioene of slange, waar ’n donderstorm soos die einde van die wêreld klink en die veld brand sonder dat iemand hom daaroor bekommer – is logies nie.

En tog. En tog. Hier is waar ek moet wees. Hier is niks afgestomp nie. Elke dag is ’n avontuur. Hier is ’n varsheid – ’n gevoel wat jou bybly vandat die eerste dou op die gras blink tot jy saans die sterre sien. En nêrens in Europa is die lug so blou of so wyd nie.

Hier is ek meer weerloos en terselfdertyd sterker as wat ek nog ooit was. Afrika het in my bloed ingetrek. Ek tintel, ek gloei; die wete dat daar gevaar om my is, die frisson van regtig lééf, het aan my ’n lewenslus gegee waarvan ek al vergeet het.

’n Donderslag vibreer deur die vertrek en weer hoor ek die dun gehuil wat in my droom soos ’n vallende bom geklink het. Nou weet ek dit moet ’n dier wees, of ’n voël dalk. Maar in my kop is ek in die kelder onder Berlyn se verwoeste strate, veilig op onkel Willi se skoot, waar ons blaai deur boeke waarin wilde en eienaardige diere, halfkaal mense met pyle en spiese, en tonele van berge en bome is wat ek nooit vergeet het nie.

En soms as dit stil geword het, het die enigste oorblywende olifant in die Berlynse Tiergarten moedeloos getrompetter. Hoe alleen en ver van Afrika het hy nie gevoel nie? ’n Ontheemde dier vasgevang in ’n plek en tyd waar niks sin gemaak het nie. Ek onthou dit.

Maar daar is baie dinge waarvan ek niks onthou nie, waarvan ek seker nie geweet het nie, wat Mutti se oorlogsdagboek my vertel het.

14 Februarie 1945

Vandag is hulle vyf jaar oud. Frau Welbe het muckefuck gemaak, slegte koffie van gemaalde sade en neute en wie weet wat nog. Willi het ’n paar dun broodjies uitgepak en ’n boek oor diere in koerantpapier toegedraai as ’n geskenk vir Gretchen. Hy het foto’s by hom gehad.

“Kyk hoe lyk jou kind,” sê Frau Welbe. Vuil gesig, wilde bos hare, voddeklere. Oë wat ouer is as wat ’n kind van vyf moet hê. Wat voel ek vir haar? Ek weet nie. Hoe kan sy hier wees en Rozl nie?

Wat gaan gebeur as hierdie nagmerrie verby is?

“Lasst uns geniessen den Krieg, denn der Frieden wird Furchterlich!” Dit sê hulle op straat. Kan die vrede erger wees as die oorlog?

Willi sê ons leef soos die eerste mense. Heeldag soek ons na kos, en snags bondel ons saam om te skuil teen die vyand soos grotbewoners. “Al wat ons red, is ons inherente beskawing.”

Herr Welbe proes. “Beskawing? Kyk hoe lyk ons, kyk hoe leef ons! Vyf-en-tagtig lugaanvalle in tagtig dae. Ons is voos, klaar.”

“Das ist wahr,”antwoord Willi, “maar mense smag steeds na iets. Môremiddag is daar ’n konsert van die Berlynse Filharmoniese Orkes en al die kaartjies is uitverkoop. Hulle gaan die vioolkonsert van Beethoven speel.”

Jare later lees ek van die konsert op daardie ysige dag in 1945. Van die bibberende gehoor in verslete jasse, wie se trane op hulle wange verys het. Die Vervloeking van die Gode. Die Einde van die Reich.

Ek het ’n brief vasgespyker teen die lindeboom buite op die sypaadjie voor die woonstel waar ons gebly het toe Rozl verdwyn het. Die woonstel is nou net ’n gapende wond tussen die puin. Sal Rozl my briefie tussen al die ander kry?

Ek wens ek kon huil oor die verwoesting, maar my trane is opgebruik. Ons leef hier in ’n sterwende stad, en tog speel die orkes en gaan luister mense wat niks meer oorhet nie. Soos op die Titanic?

Hoe lank nog?

Hoekom het Mutti my verstoot? Hoekom is ek saans met ’n afwysende gebaar in onkel Willi se arms geprop? Hy was tog nie familie nie. Te oud om oorlog toe te gaan, was hy die pa én oupa wat ek nooit gehad het nie. Hoekom het sy toegelaat dat ek heeldag wegbly saam met Werner Schmidt, my enigste maatjie?

Ek was daar – Rozl was nie, maar sý het al my ma se tyd en aandag in beslag geneem. Ek moes kos soek, toustaan vir ’n stukkie brood of ’n koppie sop. Ek moes ons paar besittings oppas terwyl sy by die hospitaal of by ons ou woonstel gaan waghou het vir Rozl. Ek was so klein, maar ek onthou die enigste plek waar ek veilig gevoel het, was in onkel Willi se fotowinkeltjie.

Saam met die reën, wat nou sag en deurdringend suis, val my trane op die beddegoed. Trane vir die verlies van my kleintyd. Vir die woede wat so lank deel van my bestaan was.

Die Katolieke sê ’n kind se ingesteldheid word gevorm voordat hy sewe jaar oud is. Ek is die bewys daarvan. Bitterheid het soos infeksie deur my liggaam versprei en vasgesteek in my hart.

Flardes van my ma se dagboek swem deur my gedagtes.

Ek hoor dat die Rooi Kruis help om mense op te spoor. As die oorlog verby is, gaan ek hulle vra om my kind te vind … Was ek dan nie ook haar kind nie?

Vandag het Gretchen vir ons brood gebring. Dit was nog warm. Ek vra nie hoe sy dit regkry nie. Ek het nou maagpyn … Selfs my klein diefstalgeskenke het haar nie tevrede gestel nie.

Die onweer het verbygetrek. ’n Koel wind dra die geur van nat gras aan. Reëntrane drup van die bome af. Die kussing vou om my kop en die laken is opgetrek tot teen my ken, soos toe ek klein was.

Haar stem klink in my ore: “Guten Abend, gute Nacht, mit rosen bedacht, morgen früh, wenn Gott will, wirst du wieder geweckt. Morgen früh, wenn Gott will, wirst du wieder geweckt.”

Ek onthou dit. Sy wás dan tog lief vir my ook.

Wat onthou ek van die laaste oorlogsdae in Berlyn? Die stank van roet wat in my vel ingetrek en in my neus bly brand het. Die gedurige honger. Hoe ek en Werner saam met die rotte tussen geboue en hope stene en rommel deurgevleg het, skarrelend op soek na iets om te eet, iets om te steel om te verkwansel vir kos. Die ou mense wat, soos skilpaaie, hulle koppe in hulle jasse se krae ingetrek het en met angstige oë daaruit bly loer. Die holgesig-gebreklikes met af bene, af arms, oogklappe, krukke – leeg, gestroop.

Ek onthou die halwe mure, die gate in strate waar daar huise was, die benoudheid van die kelder waarin ons snags soos molle skuil. Bowenal die veiligheid van onkel Willi se arms.

Ek het nog sy foto’s uit daardie tyd: ’n figuurtjie wie se kortbroek met ’n tou vasgemaak is, die woeste krullebol die enigste aanduiding dat dit ’n meisiekind is; ’n vrou geboë oor ’n boek, die skaduwee van kerslig oor haar gesig; ’n ou man met die krulkoppie op sy skoot; een van die vrou en kind saam voor ’n halwe woonstelgebou; ’n straattoneel van kinders wat speel op ’n hoop stene terwyl die gebou agter hulle brand.

Foto’s wat ek vergroot het en as montages gebruik het vir eksperimentele foto-uitstallings. Surrealisties, het ek jare later besef. ’n Onsamehangende bestaan sonder moraliteit, uitsigloos, volkome onnatuurlik. ’n Soort gemeenskaplike nagmerrie waarin bittere gevegte tussen die Duitse en Russiese soldate plaasvind in dieselfde straat waar vroue geduldig toustaan om kos te kry, totdat die rook later so dig word dat hulle niks kan sien nie.

Götterdämmerung. Vervloek. Es geht alles vorüber. Die versugting van elke inwoner van Berlyn: dat alles tog moet verbygaan.

Mutti skryf in haar dagboek: Uiteindelik word dit lente in Berlyn. Onkruid druk deur die puinhope, groen blare verskyn aan die punte van geamputeerde boomtakke, gras groei tussen die rommel. Al wat kortkom, is voëls. Willi sê die voëls kan nie leef waar daar nie bome oor is nie.

Dit het vandag ’n bietjie gereën en ek kon ’n bottel vol water maak, want nêrens werk die krane meer nie. Ná die reën is dit koud; ek bewe aanmekaar. Kry jy ook koud, liefste Rozl?… Wonder sy nie oor Gretchi nie?

Selfs hier onder die straatvlak skud die gebou. Die Russe se pantserwaens en kanonne rol al nader. Dag en nag hoor ons die grofgeskut. Liefste kind, sal die oorlog tog nou end kry? Sal ek hulp kry om jou te soek? Wat sal ek vind by Auschwitz?

Hulle sê die Russiese weermag het Berlyn omsingel en Hitler vra dat elkeen wat kan aan die laaste Volkssturm moet deelneem. Jong seuns, stokou mans word gewere gegee. Gretchi het kom sê as Werner gaan, wil sy ook gaan baklei! Hy is nege. As dit nie so tragies was nie, was dit snaaks.

Hoe ver weg is daardie tyd nie? Toe ek daardie vreemde, verskriklike omstandighede as normaal aanvaar het. Dis net weerhouding van liefde wat ’n kind nooit aanvaar nie.

As ek maar net vir Rozl en Gretchen kon wys hoe mooi hierdie stad eens was, hoe groen die lindebome in die somer, hoe vrolik ons Ur-Berliners. Môre is dit 1 Mei. Werkersdag. Lentedag. Van die linte en blomme, die helder dirndls wat deur die strate dans, is daar niks nie. Net hol oë en hol gedagtes.

Gerugte het soos ’n brandvlaag deur die strate gerol op daardie eerste dag van Mei: Hitler is dood, Hitler is dood! ’n Week later lê die Nazi’s hulle wapens neer.

Willi sê Berlyn se wonde is sprekend van die res van Duitsland; hy praat van die stunde null. Zero-uur – waar ons van voor af moet begin nadat ons volk se geskiedenis, sy hele wese, vernietig is. Kan ons oor begin in hierdie grys stad, hierdie landskap uit die hel? Kan ék?

Daardie eerste jaar van die vrede het net een ding vir my verander: die geluide. Nadat die kanonne se grofgeskut bedags en die vliegtuigmotore en dun geskree van die bomme snags opgehou het, hang ’n grys stilte oor die stad.

Elke dag begin met die geluid van die gekap van stene. Soos honderde ander vroue draai Mutti soggens vroeg ’n kopdoek om haar hare, bind ’n sakdoek oor haar mond en val in om die spookdorp wat Berlyn geword het se strate op te ruim. Die stad word beskryf as ’n niemandsland aan die einde van die wêreld waar elke tuin ’n begraafplaas is.

Kap-kap, kap-kap, kap-kap. Heeldag werk hulle met klein hamertjies om sement van bakstene af te kap. Die Trümmerfrauen word hulle genoem: hulle wat die stene loskap en opstapel, met die reuk van stof en rook en selfs die dood wat in hulle velle en hare en harte intrek. Tog het Mutti se oë saans in haar stofbesmeerde gesig geblink as sy ’n grap of ’n storie oorvertel wat sy die dag gehoor het, terwyl sy een van haar swartmarksigarette rook.

Elke dag word die Klamott, die rommel wat nie meer gebruik kan word nie, weggery na Friedrichshain Park, waar die gehate skuilings waarin ons snags moes inkruip, nou toegemaak word. Ek en Werner vind een of ander tyd in die dag ons pad deur die chaos om te gaan kyk hoe hoog die berg van gemors word. Klamott Berg noem die mense dit.

Ons bly aan in die kamer bokant onkel Willi se winkel. Snags kreun Mutti as sy omdraai; haar rug is seer. Daar is steeds nie genoeg kos nie, maar sy kry ’n middagmaal, waarvan sy vir ons ’n gedeelte saambring huis toe.

“As ons as Duitsers die verskrikking van hierdie oorlogtyd ignoreer, sal ons nooit as ’n nasie gesond word nie. Ons moet onthou waar ons vandaan kom, anders sal ons nie vorentoe kan gaan nie.”

Dit was onkel Willi wat Mutti uiteindelik laat opstaan het.

Mutti het die nuusprent oor die konsentrasiekampe gaan kyk. Sy het daarna vir dae met haar kop onder die kussing gelê, haar skok te groot om te praat of te eet. Ek dink sy het in daardie tyd afskeid geneem van Rozl, finaal besef sy is weg.

“Jy hét nog ’n kind, Marianne. Baie mense het niemand oor nie. Dink aan haar. Sy het jou nodig.”

Nie om kos te kry nie. Werner het gesorg dat ek nie honger ly nie. Hy leer my om ’n brood te gaps terwyl die bakker ’n klant bedien, om uit te kyk vir iemand wat groente dra, hom ’n vinnige stamp te gee en als wat val op te raap. Hoe om ’n sjokolade of peperment te bedel by die Geallieerde Magte met hulle blink uniforms en breë glimlagte wat Berlyn oorgeneem het; hoe om seker te maak ons uitoorlê die ander honger mense wat met hol oë en ingesonke wange Berlyn binnestroom.

Ons het, nes die apies wat ek vandag in die kliprantjies gesien het, oor die puinhope en tussen die vernietigde geboue van Berlyn gekuier asof dit die grootste speelgrond in die wêreld was.

“Onkel Willi sê daar is miljoene mense wat rondswerf en nie meer ’n huis of kos of klere het nie.”

“Ag, hoe weet hy?” vra Werner, die spore van ’n gesteelde pretzel op sy kennebak.

“In die koerant gelees, man.”

Onkel Willi het soggens gaan toustaan vir een van die paar koerante wat gedruk word, dit sommer daar in die straat gestaan en lees en dan teruggegee om weer verkoop te word. Hy haal die berig vir my aan: “Die gewere het stil geword ná Armageddon, maar as jy mooi luister, hoor jy ’n geween op die wind. Dis die gehuil van dertien miljoen mense wat dwaal deur Europa, wat niemand oorhet nie, en nêrens het om heen te gaan nie.”

Ons was maar net honger, maar ons het nog mekaar gehad.

Deutschland, Deutschland ohne alles, het die nuwe woorde van die ou lied opgeklink in die strate. Ohne Butter, ohne Speck. Sonder botter, sonder spek. Und das bisschen Marmelade – frisst uns die Besetzung weg. Ja, selfs die bietjie marmelade wat daar was, word deur die besetters gevat.

Daar was oral lang toue mense vir die kos wat beskikbaar was, maar daar was nooit genoeg nie. Mense het alles wat hulle kon, verkoop. Erfstukke is geruil vir drie kartonne sigarette, waarmee die platteland ingevaar is in die hoop om ’n paar aartappels te kry, dalk ’n bietjie botter of ses eiers.

“Die Zigaretten Wirtschaft is ’n wesentlike ekonomie,” vertel onkel Willi. “Sigarette het die nuwe Duitse geld geword – elke sigaret is sy gewig in goud werd.”

Mutti, wat leer rook het by die Trümmerfrauen, sou skuldig haar sigaret doodknyp. Om dit later verder te rook waar onkel Willi haar nie sien nie. Die afgrond gaap steeds vir die meeste van ons net langs ons voete. Dit bly ’n daaglikse stryd om nie in te val nie, skryf sy in haar dagboek.

Ek het eers in my tienerjare begryp wat sy gedoen het om vir my skoolboeke te koop, om vir onkel Willi se medisyne te betaal, om ’n woonstel in een van die nuwe blokke te bekom. Sy het haarself verkoop. Dalk aan die begin vir sigarette, vir ’n desperate ontvlugting uit haar lewe. Dalk was dit ’n soeke na geborgenheid, na die skyn van omgee, na ’n paar oomblikke se fisieke nabyheid. Iemand om aan vas te hou.

Onkel Willi het geweet, maar niks gesê nie. Hy het my saans laat help om foto’s te ontwikkel en om die winkel skoon te maak, altyd met die belofte van ’n storie. Dikwels het ek sommer op sy verweerde bank aan die slaap geraak en soggens daar wakker geskrik. Eers baie later het ek verstaan.

Hier in my hotelkamer in Afrika herinner die reuk van sederplanke my aan die eerste Kersfees ná die oorlog. Ek het my eerste Kersboom gesien, versier met ornamente uit houtskaafsels gemaak, wit kerse en bessies. Al was dit staangemaak op ’n afgebreekte standbeeld naby die Brandenburg Tor, was dit die mooiste iets wat ek nog aanskou het.

“Dis die warmste Kersfees wat ek kan onthou,” sê onkel Willi daardie Kersoggend. “Kom ek neem julle na die Weinachtsmarkt – die eerste een in ses jaar.”

Daar was ’n mallemeule met perdjies, en warm pretzels en kastaiings in klein pakkies, en Mutti het my hand styf vasgehou. Sy het sigarette geruil vir ’n wolserp vir onkel Willi, ’n paar bruin steweltjies vir my en ’n lipstif vir haar. Sy het snaaks gelyk met haar skelrooi lippe en moeë oë, maar ek het nie vir haar gesê nie.

En toe, kort ná Weinacht, kom die koue Siberiese winde uit die ooste oor Berlyn. Sneeu val en ’n nuwe stryd begin: die een om warm te bly. Daar word vuisgeslaan oor steenkool.

“Kyk, Mutti, iemand het ’n brief hier op die venster geplak. Hulle sê hulle het warm jasse in ruil vir steenkool. Kan ons nie vir onkel Willi ’n jas kry nie?”

“Waar het jy geleer lees?”

“By onkel Willi.”

Sy huil.

Ek kan nie eens onthou of ons toe die jas gekry het nie. Maar ek kan die koue onthou.

Ek en Werner moet skool toe. Dis ’n ou gebou sonder krag, sonder kos, dikwels sonder skryfgoed of boeke. Ek haat dit: die vroeg opstaan, die styfgetrekte vlegsels, die mure wat my vasdruk en wegvat uit die lewe, die vervelige lesse. Die koue.

“Maar ek móét haar slaan, Willi, sy het al weer weggebly uit die skool! Sy is onmoontlik stout – wag net tot ek om die draai is, dan hardloop sy weg na die vliegveld toe. Hoe gaan ek haar groot kry?”

Deur die hotelkamer se venster kom al ’n grou oggendskemering. Skielik klink die gedreun van ’n enjin op, seker ’n kragopwekker. ’n Vriendelike geluid. Soos die klank van die vliegtuigmotore wat bykans ’n jaar lank Berlyn se lugruim gevul het.

Ek was te klein om te verstaan wat dit beteken toe die Russiese soldate die paaie uit Berlyn toemaak, maar onkel Willi het gesê dit veroorsaak dat ons nie kos of steenkool uit die Weste kon kry nie. Ons sou almal stadig sterwe. Nie óns nie, het ek en Werner gesweer.

Die Amerikaners en Britte kom tot ons redding met ’n vliegtuigdiens om kos in te bring. Hulle land elke paar minute op Tempelhoflughawe, laai poeiereiers en aartappels en versoeter en melk vir babas en kos vir diere en saad en klein boompies af. Die eens gevreesde geluid van vliegtuie word iets wat ons vertel van mense wat omgee. Juis die mense wat ons verslaan het, sorg nou dat ons nie vernietig word nie.

Ek en Werner was deel van ’n groep kinders by die lughawe toe ’n vlieënier ’n paar stokkies kougom, toegedraai in sy sakdoek soos ’n klein valskerm, uitgooi. Hy belowe om nog te bring as ons dit sal verdeel sonder om daaroor te baklei. En hy hét! Rosyntjies, lekkergoed, suigstokkies. Die Rosinenbombers.

In my gedagtes is ek weer langs die aanloopbaan, herken ek aan die manier waarop die vliegtuig duik dat dit hý is, onkel Sjokola. Ons waai en waai en skree vir hom. Dan val die wit valskermpies soos skoenlappers uit die lug, elkeen vasgemaak aan ’n pakkie rosyne of ’n sjokoladeblokkie.

Van die eerste keer dat ek die kougom raak gevang het, het die vlieënier my uitgesoek. My met sy kamera afgeneem en die volgende keer die foto kom wys. My naam geroep en twee ekstra lekkers in my hand gedruk.

Ek het so half begin dink hy behoort aan my. Onkel Sjokola is jonk en mooi en sterk en sy hande is ferm om my skouers en hy lag vir my. “Du must kommen home mit ich … I mean, with me, mich!” Op sy snaakse Engelse manier sê hy ek is ein sehr schöne Mädchen, en ek wens en wens hy kan my pa word.

Daar is baie kinders sonder pa’s in Berlyn. Sommige, soos Werner, kan sy pa goed onthou, maar ek het nooit eens my pa geken nie. Ek wonder hoe dit sal wees om ’n pa te hê.

“How alt you bist?” vra ek die vlieënier op my beste Engels.

’n Jaar ouer as Mutti! Snags droom ek hulle trou, en hoe hy vir ons sorg.

Eendag sleep ek haar saam na die vliegveld. Die skrik in sy oë kan hy nie wegsteek nie, en vir die eerste keer sien ek Mutti deur ’n ander se oë: witgebleikte hare, lippe te rooi, klere te styf, oë gierig op die plak sjokolade in sy hand. Ek het eers later begryp dat my verwilderde weghardloop uit skaamte gespruit het.

Ek wonder of hy nog leef, die vlieënierheld van so baie van my kleintyddrome … Wat my raakgesien het, my laat glo het ek is uniek. Maar wat my ook bewus gemaak het van die klasseverskil tussen mense.

Uit die grasdak net bokant die deur kruip ’n akkedissie, stadig, sy visier op ’n spinnekop gestel. Buite klink stemme op, en die akkedis verdwyn toe daar ’n klop aan die deur is.

“Jambo, memsaab,” groet ’n mooi vrou met ’n skinkbord koffie.

Ek skuif regop teen die kussings. Sy trek die gordyn oop. Die sonlig skitter op die blare van die boom buite my venster.

“Dit het baie gereën gisteraand, of hoe?”

Sy lag. “Jy het vir ons reën gebring; in hierdie droë wêreld is dit altyd ’n seën. Ek dink jy het die maajabu – good magic.”

Ek hou daarvan: good magic.

Met my tas gepak, drink ek ’n laaste koppie koffie op die hotel se stoep.

“Jambo,” glimlag ’n vrou toegedraai in ’n swart-en-groen lap, ’n kleintjie op haar rug vasgemaak, grasbesem in die hand. Selde het ek al ’n model so elegant oor ’n loopplank sien beweeg soos hierdie vrou oor die nat gras.

“Wait, hapana, bitte!” span ek al die tale in om haar te keer.

So natuurlik asof sy al jare lank poseer, klim sy in my lens in. Elke beeld is beter as die vorige en toe ek weer gaan sit, is my koffie koud.

Hoe geborge voel so ’n kind nie? Heeldag klop haar hart teenaan haar ma se lyf, heeldag is daar deur die porieë en die fyn senuwees onder die oppervlak vel-teen-vel-kontak. Is dit dieselfde veiligheid wat ’n ongebore kind in die ma se uterus ervaar?

Sinne uit Mutti se dagboek flits voor my geestesoog: Hoe kan ek met myself saamleef? Ek het jou nie beskerm nie. Jy, so klein en onskuldig, kon nie op my staatmaak nie. Wat gaan eendag op my grafsteen staan? “Sy kon nie haar kind oppas nie.”

Ja, Mutti, jy kon nie. Met jou selfbeheptheid ná Rozl se verdwyning het jy vergeet om my te beskerm. Van geborgenheid het ek geleer by onkel Willi, van staatmaak by Werner, van oppas by myself.

Want jy, Mutti, het vir alle praktiese doeleindes verdwyn in daardie herfsdae net voor my tiende verjaardag.

Ek was te klein om te verstaan dat die oorwinnaars besluit het om Berlyn in vier te verdeel ná die oorlog, en dat ons in die deel gebly het wat deur die Russe geadministreer sou word. Ek het nie geweet dat die drie Westerse oorheersers se gebied saamgesnoer is in een Duitsland nie, die Federale Republiek van Duitsland. Of dat die Sowjetunie in 1949 die Deutsche Demokratische Republik uitgeroep het nie, waarvan Oos-Berlyn – ons Berlyn – die hoofstad was.

Wat wel vir my baie belangrik was, was my pa. Ek wou weet van hom: hoe hy gelyk het, wat vir hom snaaks was, watse gewoontes ek by hom geërf het. Maar Mutti wou nie oor hom praat nie. Ná baie gekerm, het sy vir my ’n foto gewys. Die man het ’n pet opgehad en sy gesig was in die skaduwee daarvan. Ek het niks van myself in hom herken nie.

Het sy nie ’n troufoto nie? Nee. Was hy darem ’n gawe man? Het hy ’n diep stem gehad? Het hy baie gepraat? Baie gelag? Gehou van honde? Van water? Van boomklim?

Sy het haar hande in die lug gegooi en my na onkel Willi gestuur. “Gaan doen iets nuttigs daar, jy maak my mal met al jou vrae.”

“Het ek ooit ’n pa gehad?” vra ek vir onkel Willi.

“Natürlich, Gretchi,” lag hy, “almal moet ’n pa hê. Joune is net vroeg dood.”

In ’n onbewaakte oomblik het sy eendag gemompel: “Het ek maar liewer nie op ’n Jood verlief geraak nie.”

Was hy dan ’n Jood? My regte pa? Dan is ek ook mos Joods?

Nee, nie regtig nie. Los dit nou. Gaan speel.

Wat het ek gedink? Hoe het ek dit vir myself verwerk? Ek kan nie eintlik onthou nie. Ek was te besig om te oorleef.

Was ek ooit regtig bang? Het ek ooit besef hoe weerloos ek was in ’n tyd waarin ’n mens se lewe so min werd was? Waar dood alledaags en familie ’n rariteit was?

Saam met Werner het ek steeds in die middae die strate platgeloop. Gaan kyk hoe word driehonderd nuwe lindeboompies in Unter den Linden Strasse geplant, nadat die verbrande stompe van die ou bome uitgehaal is. Rondgedrentel in die Parizer Platz waar die Britse Ambassade eens was, maar wat nou verlate en vol rommel was. Ons het ons nie gesteur aan die straatnaamveranderings nie, ons het agter ons neuse aangeloop nes hondjies.

Werner hoor dat die Alte Nazionalgalerie, naby die Pergamonmuseum, weer oopgemaak het. Ons glip onder die toue by die ingang deur. Wat ’n teleurstelling.

“Ek het hulle getel, daar is dan net honderd-en-vyftig skilderye in die hele plek!” sê ek die aand vir onkel Willi.

“Ja, Gretchi … Die Nazi’s het meer as twintigduisend skilderye verbrand, en seker dubbel soveel gesteel. Dinge sal nooit weer wees wat dit was nie.”

Ek en Werner het ook ingesluip by die Adlon Hotel. Volgens Mutti was dit voor die oorlog die middelpunt van Berlyn se sosiale lewe, maar nou was die gebou feitlik ’n ruïne. Die kelder is as ’n teekamer ingerig. Stokou omies in verbleikte manelpakke het die klante by die deur verwelkom en met die trappies af geneem na tafeltjies.

“Bestel gerus tee of koffie. Ongelukkig het ons nie vandag koek nie, daar is nie meel nie.”

“Hmff,” snork Werner, “of eiers of suiker of botter nie. Dink hy ons weet dit nie?”

Die ewe oue klandisie in verslete pelsjasse en deurgetrapte skoene het nie gelyk of hulle omgee nie. Selfs ek kon verstaan hoe graag hulle ’n stukkie van die ou Duitsland wou laat herleef. Hoe graag hulle wou vergeet wat gebeur het …

“Vergeet? Vergeet! Hoe kan ek ooit vergeet van my kind? Wat dink jy van my, Willi?”

Ek kan nie sy antwoord hoor nie, maar Mutti praat al harder: “Ja, jy’s reg, ek gáán uit. Ek drink dalk ’n bietjie te veel, ek lag en dans om te vergeet – maar nie van Rozl nie, van die ellendige oorlog. Van die …” dit klink asof sy huil, “kampe. Van wat ek in die koerante lees wat die Gestapo gedoen het, van wat die res van die wêreld van ons dink, van die dokter van Auschwitz – daardie Mengele wat my kind gevat het.” Nou snik sy.

Ek trek my knieë teen my ken op, druk my rug in die hoek in. Ek wil nie hoor nie.

“Verstaan jy nie, Willi? Ek wíl vergeet, ek móét vergeet, anders gaan ek mal word!”

Sy stem kom rustig, sy woorde onduidelik, maar ná ’n ruk hou sy op huil.

Die volgende dag vra ek vir onkel Willi wat in Auschwitz gebeur het.

Hy vertel, sê dan: “Ons sal geslagte lank dra aan die gewig van hierdie stuk geskiedenis. En al was mense soos ek en jy nie direk daarby betrokke nie, sal Auschwitz en die ander kampe by ons spook tot in lengte van dae. Die toekoms sal leer, maar ons het ’n lang pad om te gaan, Gretchi.”

Mutti het stil geword en in haarself gekeer. Haar onttrek. Nie net aan die samelewing nie, maar veral aan my.

Dit was erger as voorheen.

Iets het daardie tyd in haar gesterf, en nooit weer het sy haar lippe rooi gemaak of heelnag uitgebly nie.

Kort daarna kondig sy aan: “Ons trek. Noudat ek ’n goeie werk het, kan ek ’n woonstel kry in daardie nuwe, moderne woonstelle in Frankfurter Allee – wat nou Stalin Allee genoem word. Sodra hulle klaar is, kan ons intrek. Daar is twee slaapkamers en ’n badkamer en kombuis. En elektrisiteit wat werk. En glas in die vensters.”

“En onkel Willi?”

“Hy is nie familie nie, Gretchen.”

“Blödsin! Hy ís familie! Hy het vir ons gesorg, ons by hom laat bly! Hy is soos my oupa.”

“En kyk hoe lyk sy plek! Dit val uitmekaar, die ligte werk nie, die koue kom oral in deur die simpel papiervensters, daar is muise en rotte in die kelder. Hierdie deel van Berlyn is buitendien nie meer veilig nie. Hulle gaan die plek platstoot. En dis nie onsin nie!”

“Maar juis dan kan ons hom mos nie hier los nie?”

Sy het haar skouers opgetrek, haar jas omgehang en by die deur uit verdwyn.

Daarna het dinge vir ’n lang tyd nie vir my sin gemaak nie.

Saans was ek bang om te gaan slaap, bang hulle stoot die ou gebou oor ons plat. Droombeelde het gedrogte geword. Baie nagte het ek bewend teen die krakende trappies afgesluip om in die winkel op die verweerde ou bank verder te gaan slaap. As onkel Willi my daar kry, maak hy vir ons koffie en vertel vir my ’n storie.

My beste een was die storie van die dogtertjie wat vuurhoutjies moes verkoop in die bittere koue. Te bang om huis toe te gaan, waar haar pa haar sou slaan omdat sy die hele dag nie een boksie verkoop het nie, gaan sit sy teen ’n muur in ’n systraatjie. Honger en verkluim steek sy een vuurhoutjie aan die brand om warm te word. In die vlam sien sy ’n koolstoof met kospotte daarop. Sy beur regop, maar die vlammetjie gaan dood.

Weer steek sy een aan. Hierdie keer sien sy ’n eetkamer met ’n gedekte tafel met stomende bakke kos. Weer sterf die vlammetjie en weer steek sy een aan. Nou sien sy geskenke gepak onder ’n Kersboom waarop kerse flikker. En langs die boom glimlag haar ouma vir haar.

“Wag vir my, Ouma,” fluister sy.

Sy steek weer en weer vuurhoutjies aan, tot sy die warmte van haar ouma se arms om haar voel en saam met haar na ’n plek gaan waar sy nooit weer koud of honger sal wees nie. Die volgende oggend vind hulle haar tussen die uitgebrande vuurhoutjies – verkluim, maar met die wonderlikste glimlag op haar gesig.

Die voertuig is hier om my lughawe toe te neem.

Maar ek sal terugkom.

Hierdie kontinent het in my bloed ingetrek. Mal d’Afrique, noem die Franse hierdie beheptheid met Afrika. Die siekte van Afrika.

Reën oor die Serengeti

Подняться наверх