Читать книгу Die beste spookstories van C.J. Langenhoven - Danie Botha - Страница 3
Van die samesteller
Оглавление“Geen resensie word gevra nie.”
Só lui Sagmoedige Neelsie se versoek in baie van sy boeke. Ook in die imprimatur van een van die boeke wat in aanmerking kom vir hierdie keur uit sy spookstories: Die wandelende geraamte en ander verskynings.
In dié gees gaan ek dan nie die stories bespreek om sodoende my keuse te motiveer nie. Ook gaan ek nie die verhale toelig nie. Want ’n belangrike kenmerk van dié genre is immers toeganklikheid en direkte kommunikasie. Verduidelikings kan juis die leesgenot verminder. Maar vir die wis en die onwis word volstaan met die skrywer se eie inleidings en nawoord.
Die stories met sterk intriges het dadelik op insluiting aangedring. Ook is inhoudelike en stilistiese verskeidenheid nagestreef. Daarom die satiriese naas die ernstiges.
En “beste” het ook beteken: verhale wat jy onthóú. Dit is dié waarin die geesteswêreld so ’n onmiddellikheid word dat jy met vrees en ontsag besef: ek is in aanraking met die Groot Onbekende.
Langenhoven het ook verhale geskryf met ’n verwante tema: die dood. ’n Mens sou dus die keuse wyer kon maak, verhale oor sterftes insluit by dié oor die geesteswêreld. Maar my opdrag was: kies die beste spookstories. Daarby sou verhale soos “Die raad van Rehuël”, “Nie hy nie en tog hy”, “Die versmaaide uitleg”, “Die swerwende Jood”, “Oor die sloot” of “Die opgegraafde Farao” (almal in Aan stille waters 1) tog maar uit die toon val. Één verhaal lê egter so op die grens en is so boeiend dat ek my die vryheid veroorloof het om dit in te sluit: “Die skaduwee van die skyndood”.
Die teks van die 1973-uitgawe van Versamelde werke word gebruik, d.w.s. die teks wat nog deur mej. Sarah Goldblatt as administratrise van Langenhoven se letterkundige nalatenskap versorg en “gesanksioneer” is. Dit was egter tog nodig om geringe wysigings aan te bring.
Ek wil graag dr. John Kannemeyer bedank vir sy hulp en raad. Tydens sy navorsing vir ’n biografie oor Langenhoven het hy byvoorbeeld variante van gebundelde verhale opgediep asook twee ongebundeldes: “Ou Hans Veldkornet op die spoor” (manuskrip in die J. S. Gericke-biblioteek op Stellenbosch) en “Spoke-toe met ’n mombakkies” (Die Huisgenoot, 5 Desember 1930). Ek moes ongelukkig teen insluiting besluit.
My dank ook aan mev. Hannah Botha (J. S. Gericke) en mev. Nanette Nelson (Huisgenoot) wat tekste beskikbaar gestel het.
Danie Botha
1992