Читать книгу Die beste spookstories van C.J. Langenhoven - Danie Botha - Страница 7
Volksraadslid Duiwenal se verhaal
ОглавлениеDie bouval op Wilgerdal
Ou Hendrik Duiwenal is ’n lid van die Volksraad. Ek weet nie of dit op sigself ’n getuienis verskaf van sy geloofwaardigheid nie. Maar hy is so welbekend dat dit impertinent van my sou wees om hom aan die publiek met ’n lange introduksie voor te stel.
Miskien egter darem sal dit my vergun word om net dit te sê: Ons ken ou Hendrik almal vir ’n haastige, kortgebonde, driftige ou man, impulsief, sonder vrees vir mens of dier of duiwel. Dis nie ons ondervinding om by daardie klas, leuenaars aan te tref nie. GHHK
Foeitog, my arme ou perdjies!” sê ek. “Maar net een trekkie nog dan is ons bo. En by die eerste plaas waar ons kom sal ons uitspan en die nag oorbly, en ek sal sorg dat julle elkeen vier hawergerwe se skone are kry. H-o-o-o-kaai, blaas maar darem eers elkeen so ’n oomblikkie. Ek sien dit gaan baie swaar.”
Ek sit ’n klip agter die wiel, want ek stap langes my kar met die leisels. Die hoogte was steil. Dit was vir my ’n vreemde pad in die Klein Karoo, in die suidwestelike streke van die ou Kaapkolonie. ’n Warme namiddag in die hart van die somer. Die wêreld om my heen was droog.
Toe ek bo op die hoogte stilhou, kyk ek voor my met groot verwondering. In die vallei waar ek op afkyk, lê die allerfraaiste plasie wat ’n mens se oog ooit kon begeer om te aanskou of jou hart om te besit. ’n Boord van reusagtige okkerneutbome langes die donkerder groen van ’n lemoengaard; ander vrugtebome, perskes, amandels, appels, pere, appelkose, ’n paar kastanjes; ’n wingerd omhein met ’n kweperlaning aan twee kante en ’n vyelaning aan die oorkantste twee. Verder af strek landerye, afgekamp met mure en draadheinings. Deur ’n populierbos in die uitgang van ’n kransige poortjie op die bo-ent van die plaas, en daarvandaan verder oor die plaas tussen fluitjiesriet en papkuil en wilgers deur, raas ’n riviertjie nieteenstaande die jaargety en die droogte. ’n Vaste voorraad water dus; en die lande lê gelyk en die grond is geil. Nog so ’n heerlike plasie sal jy ver deur die wêreld na soek en nie kry nie.
Wat was daar dan om so verwonderd oor te wees? Alles lê verwaarloos en verlate asof daar in geen jare ’n mensehand aan die boerdery gesit was nie. Heinings en mure lê stukkend en omgeval; die wingerd groei met lang lote wild nes ’n rietbos; die vrugte val vrot-ryp van die bome af en die blare hang verlep van die droogte. Alles is van gras en onkruid ingeneem – ’n skone woesteny.
Van naby die pad af aan die oorkant, waar hy op die onderent van die populierbos die riviertjie deurgaan, loop ’n granaatlaning langes ’n watersloot af tot by die hoek van wat daar nog staan van ’n ringmuur beskaduwee deur groot eikebome. Tussen die bome deur sien ek die opstal en daaragter steek buitegeboue uit. Hulle lê merendeels in puin. Die woonhuis staan nog, maar vensters en deure is uit of hang stukkend. Hier en daar deur die rietdak kan jy binne in die solder in sien. Die stoep is oorgroei met allerlei bosgasie.
Die son was al laag gesak; ek moes nog vir my ’n herberg soek vir die nag; ek was moeg, my stomme perde uitgeput. Anders had ek daar by die drif op die bo-ent van die verlate plasie uitgespan en gaan rondkyk of ek nie ’n oplossing kon vind vir wat vir my so onverklaarbaar lyk nie.
Maar ek ry dan toe maar aan, die riviertjie deur, op die onderent van die populierbos, en die oorkantse hoogte oor. Daar, oor ’n korte halfuurtjie, kom ek op die volgende plaas, by die woning van ene ou meneer Freek van Zyl. Goeie liewe mense, hy en die tante en die kinders – twee groot seuns en ’n dogter – wat my met ’n hartlike welkoms ontvang het en dadelik tuisgemaak het.
My perde was in die stal gesit, my kar in die waenhuis gestoot, my goedjies van die kar af gebring in die vrykamer. Terwyl die seuns nog besig was by die krale en stalle om die diere te versorg, en die vroumense binne aan ’t klaarmaak aan die aandete, sit ek en oom Freek op die stoep om die skemerkoelte te geniet ná die drukkende hitte van die dag. Toe vra ek hom uit na die verlate plasie. Die oplossing wat hy my gee was snaakser nog as die raaisel.
Die plaas behoort dan aan ’n betreklik jong man, Petrus van Graan, wat daar gebore is en grootgeword het, en toe die plaas geërf het op die dood van sy vader. ’n Oppassende, vlytige, voorbeeldige seun; in alle opsigte ’n skone jonge man. Toe sy vader dood is, was hy reeds verloof aan ’n nooi Emmie Damberg van ’n plaas ’n paar uur daarvandaan.
In verband met daardie selfde verloofskap het daar ’n lelike treurspel gebeur, nog in die ou kêrel se leeftyd. Daar het ’n ander jongetjie na haar gevry, met die naam van Frans Rysselaar, van ’n geaardheid verskillend van dié van Petrus soos die nag teen die dag, ’n roekelose woestaard wat nooit sy bose hartstogte beteuel het nie. Hy het ede gesweer, sommer in die openbaar, en met die gruwelikste lasterwoorde, dat daar moord sou gepleeg word voordat Petrus van Graan met Emmie Damberg sou trou.
Nou ja, daar hét ook wat ’n mens kon noem moord plaasgevind, maar op ’n ander manier as wat Frans se bedoeling was. Toe Emmie eenmaal en vir altyd op so ’n manier vir hom nee gesê het dat hy nie weer sou kom nie, want sy had ’n afkeer in hom, het hy daar weggery – dit was ná ete in die aand – en by sy huis aangery en sy geweer gaan haal, en ou Van Graan se huis se voordeur gaan oopskop, op hierdie einste verlate plasie – ja, die naam is Wilgerdal – en in die huis ingebars om Petrus in sy slaapkamer te gaan doodskiet. Hy skop die slaapkamerdeur ook oop; met die inloop haak sy voet aan die drumpel; hy slaan neer teen die grond; die oorgehaalde geweer gaan af, die skoot in sy kop, morsdood op die plek.
Toe oom Freek tot hier gevorder was met sy verhaal, kom die tante van binne af uit.
“Hartjie, kom tog nou maar eers met die neef tafel toe, dis opgeskep.”
Ná die ete en die huisgodsdiens bly ons almal om die eettafel sit, en oom Freek vervat die geskiedenis wat hy my op die stoep halfpad vertel het. Van sy eintlike uitleg, waarom Wilgerdal dan verlate lê, het ek op die oomblik niks geglo nie. Maar ek het dit natuurlik nie laat merk nie. Die ou man was so klaarblyklik in sy siel oortuig van die waarheid van wat hy my daar sit en vertel dat ek hom nie met die minste skyn van twyfel wou aanstoot gee nie. Aan sy opregtheid wás daar by my ook geen twyfel nie. Nie ’n liggelowige, oppervlakkige losprater was oom Freek nie, maar ’n verstandige, besadigde ou man van die egte ouderwetse Afrikaner-boere-tipe. Aan die gesigte van die tante en die dogter en die twee seuns om die tafel kon ek sien dat hulle net so vas oortuig was van die waarheid van die geskiedenis as die ou man self. Maar ek laat sy eie woorde hier volg.
“Nou ja, neef Hendrik” – dit was natuurlik dadelik van die uitspan af oom Freek en neef Hendrik – “daardie ellendige Frans Rysselaar het dan sy eie loon met sy eie hand gevind, en niemand het dit betreur nie. Daarna is Petrus se vader dood; die huwelik wat eerder moes plaasgevind het, is vir ’n ses maande uitgestel; en toe, ná die afkondiging van die eerste huweliksgebooie, kom die griep. Petrus was een van die eerstes wat inval. Die derde dag van sy siekte had hy longontsteking met ’n koors van, ek vergeet, 105 of 106. Nag en dag het Emmie hom verpleeg; en sy was dit wat sy oë toegedruk het.
“Ek en sy saam het hom in die kis gelê; en die dag toe die tyd van die begrafnis daar was, net voor die dominee met die lykdiens sou begin, was dit ek en Emmie wat in die doodskamer ingegaan het, ons twee alleen, sy om vir die laaste maal sy gesig te sien, en ek om die kis toe te skroewe.
“Ek skuif die deksel, wat los op die kis lê, na onder toe.
“‘Oom Freek,’ skree Emmie, en sy klou my arm krampagtig vas, ‘Petrus is nie dood nie – kyk sy kleur!’
“En toe gee die skyndooie ’n sug en maak sy oë oop. Emmie val op haar knieë by die kis; sy steek haar hande weerskante onder Petrus se skouers in; sy lig hom op, en sy soen hom.
“Meteens los sy hom asof met walging sodat hy weer agteroorslaan in die kis. Op haar gesig is ’n uitdrukking soos ek hoop om nooit weer op ’n mensegelaat te sien nie. ‘Oom Freek,’ sê sy, ‘dis nie Petrus nie; dis Frans Rysselaar.’
“Die voorafgaande spanning en verdriet, gevolg deur die skok, had Emmie van haar verstand af gebring. En tot vandag toe nog het sy nie reggekom nie. Die dokters het geen hoop dat sy ooit sal herstel nie.
“Petrus het weer fris geword. Maar van die eerste dag af was hy rasend om weg te kom uit die huis uit. Ons was verplig om hom met bed en al hierheen te dra; en hier in my huis is hy verpleeg tot hy kon opstaan. In sy geaardheid het dit ook vir ons gelyk of daar deur wat hy deurgemaak het, ’n verandering gekom het – ’n iets wat ’n mens nie kan beskryf of vir jouself duidelik voorstel nie. Die stem, houding, gebare, ’n eienaardige trekkie nou en dan aan die linkerhoek van sy mond – alles was dieselfde ou Petrus. Maar daar was iets in die uitkyk van sy oë … ek kan nie sê wat nie.
“Een slag het hy geprobeer om met Emmie te gaan praat. Maar sy het so onkeerbaar woedend geword dat hy haar nie weer gaan sien het nie. So gou as hy sterk genoeg was om te reis, het hy ook hier weggetrek en nooit weer hier naby gekom nie. Hy woon nou in Lydenburg se distrik in die Transvaal. Ek het sy skriftelike volmag om Wilgerdal te verkoop – daar onder die huisklok hang die sleutels, as daar vandag nog sleutels nodig was om in die huis te kom. Maar niemand sou die plaas ook verniet wil hê nie.”
“Oom Freek,” sê ek, “maar waarom dan nie? Dis ’n aaklige geskiedenis wat Oom my vertel het, maar wat het dit met die plaas te doen?”
“Neef Hendrik, ek was twee maal daar vandat Petrus daar weg is. Ek sal nie ’n derde maal gaan nie. En albei kere was dit in die helder dag. Ek het altyd nooit aan spoke geglo nie; nou weet ek beter.”
Maar nie ’n woord kon ek uit oom Freek uitkry wát hy dan daar gesien het nie.
Ons het nie veel meer gesels die aand nie. Dit was ’n vroeë huisgesin, saans vroeg en smôrens vroeg. Die tante stoot aan oom Freek se arm. “Hartjie, neef Hendrik moet baie moeg wees. Hy sal bly wees om maar te gaan rus.”
Ja, moeg wás ek van die lange dae se karry. Maar my vaak was glad weg. Ek het rondgerol en rondgerol op die kooi en naderhand maar weer my kers opgesteek. Oom Freek se storie kon ek nie uit my gedagte kry nie.
“Wat op aarde kan dan die verklaring wees?” hou ek maar aan om myself af te vra. “Iets baie buitengewoon moet daar wees. Dat hierdie ou man vas glo aan wat hy my vertel het, betwyfel ek vir geen oomblik nie. Maar spokery!” En ek lag.
Uit die eetkamer vandaan hoor ek die ou huisklok een vir een van die lange ure van die nag afslaan. Toe dit twee-uur was, kon ek nie langer lê nie. “Ek gaan nou kyk,” sê ek, “wat die geheim van die verlate plasie is. As daar dan sulke goed soos spoke bestaan, wil ek hulle ook eenmaal in my lewe sien.”
Ek staan soetjies op en ek trek my aan. Uit ’n handsak haal ek my rewolwer en ek steek hom in my sak. Ek stap op my sokkies uit, eers na die eetkamer toe, en daar vat ek die bos sleutels. Dit was kwart oor twee. Toe ek op die stoep kom, trek ek my skoene aan. Buite slaap die hele wêreld onder die toorgaas van die driekwart-volle maan. Ek vat die pad waarmee ek die namiddag gekom het.
Net voor ek by die populierbosdrif kom, draai ek uit. Ek moes eers deur ’n plaat geelbossies deur en daarvandaan langes die granaatheining en die sloot af. Ek had mos gister die trekke van die plaas noukeurig waargeneem. ’n Drie-, vierhonderd tree voor my kon ek die eikebome sien. Onder hulle donker skaduwees deur lê die opstal helder sigbaar in die maanskyn.
Ek was ’n entjie, dit kan ’n tree of tien gewees het, in die geelbossies af, toe bly ek staan en ek kyk om. Agter my aan het ek ’n ander voetstap gehoor. Maar daar is niks te sien nie. Rondom my staan die bossies skoon in die maanlig. Ek stap weer aan; dis weer so.
“Ek moet my regruk,” dog ek, “daardie storie van ou Freek het my senuwees aangetas.” En ek stap aan. Al agter my aan kom die voetstappe; nou en dan hoor ek iets teen die bossies skuur; een slag kraak ’n droë stokkie kort agter my op die grond. Ek voel toe al taamlik anders as op my gemak, maar ek vererg my vir myself en ek stap met vaster treë sonder om weer om te kyk.
Toe ek deur die geelbossies was en by die granaatlaning se bo-ent kom, dwing ek om te gril. Ek stop my pyp en ek steek hom op. Tot my verbasing sien ek dat ek nie die vuurhoutjie kan stilhou nie. Ek dwing myself tot kalmte.
“Wat bog!” sê ek, hardop; “ek is nie ’n babatjie nie. Spoke? Gmf.” En ek lag, maar die toon van my eie lag klink nie vir my mooi nie. Ek haal weer bravado uit. “Kom hier, jou wegkruiplafaard, en wys jou gesig. Dink jy om my met jou kotjakstreke bang te maak?”
Op my woorde volg ’n doodse stilte. Ek bly ’n hele rukkie staan. Dan gebeur niks verder nie. Ek vat weer moed.
Toe roer die takke van die boonste granaatboom. Ek spring oor die sloot, lig die takke op, trek ’n vuurhoutjie en kyk onder in. Daar is niks. Ek tree agteruit tot op die sloot se wal. Dieselfde takke word weer opgelig en val terug in hulle plek.
Woedend nou oor hierdie onsigbare en stemmelose ding wat my vir die gek hou, haal ek my rewolwer uit en ek hou hom reg om in die granaatbos in te skiet. Ek was net klaar om af te trek toe vat iets my om die hand en druk my hand met rewolwer en al terug in my sak. En toe word ek bang, so bang dat ek koud en lam word.
Ek vlieg weg, terug oor die sloot, klaar om te hardloop, terug pad toe. Gelyk met my hoor ek spring nog iemand oor die sloot, maar bokant my. Ek hoor hy loop óm sodat hy op die rand van die geelbossies kom, tussen my en die pad.
Toe ek weer sien, stap ek langes die heining af in die rigting van die opstal, onder die dwang van ’n onweerstaanbare krag. Ek moet my bewustheid by dié tyd verloor het want ek kon die dag daarna nie onthou nie en ek onthou vandag nog nie, hoedat ek die ent afgelê het langes die heining af nie. Toe ek weer by myselwe kom, staan ek op die stoep, voor die voordeur. Die deur is nog heel en hy staan toe. Die sleutels word uit my sak gehaal, een daarvan word in die sleutelgat gesteek en omgedraai. Toe draai die knop. Die voordeur gaan oop met skreeuende skarniere.
Binne is ’n groot voorkamer, ’n tafel in die middel, rusbank en stoele langes die mure. Die maan skyn helder deur die oop voordeur en die gate van die vensters, en een plek deur ’n gat in die solder waar geen dak oor was nie.
Ek stap oor die drumpel; ek word aangedruk van agter tot ek by die tafel staan. Ek hoor die sleutel van buite uittrek en van binne in die slot steek. Die skarniere kraak en kreun weer van die roes van jare; die deur slaan toe op die knip; hy word van binne toegesluit.
Van die voordeur af sien ek op die dik stof van die vloer spore vorm onder die stappe van ongesiene voete. Hulle loop tot by ’n stoel; die stoel word opgelig en by my aan tafel gesit. Ek neem plaas daarop. ’n Ander stoel word aangebring na die tafel toe, regoor my. Ek hoor hom kraak soos met die gewig van iemand wat daarop gaan sit. My stoel staan in die donker, die ander stoel in die maanskyn wat deur die gat in die solder val. Maar ek sien niks. Die stoel bly leeg.
“My vriend!” Die geheimsinnige praat vir die eerste maal; ’n gewone mensestem, dié van ’n jonge man, helder, onder die minste toon van onvriendelikheid – inteendeel. “My vriend, sit jou dwase vrees opsy. Ek is minder as jy – ek is maar ’n gees, jy is ’n liggaam en ’n gees albei. En had jy maar gesorg om baas te bly oor jouself – jy het dit byna reggekry – dan sou ek geen mag oor jou gehad het nie. Maar toe ek sien dat jy jou selfbeheer begin te verloor, het ek van jou vrees gebruik gemaak om jou ’n les te leer wat jy nodig had. Jy het die spot gedryf met dinge waar jy niks van weet nie. Luister, my vriend: ek kom daarvandaan waar ek geleer het dat ’n mens nooit moet spot nie – jy weet te min.
“Maar dis nie daarvoor wat ek jou hierheen gebring het nie. Ek het ’n smeekversoek; ek het jou nodig. Nog ál die jare soek ek na lewende mensehulp, en almal wat ek nader, vlug van my weg. Asof ek geen ander oogmerk kon hê nie as om paaiboelie te speel!
“My vriend, ek lees op jou gesig dat jy ’n vyand is van onreg. Nog nooit het jy van so ’n onreg op aarde gehoor as wat my aangedoen is nie. Luister: ek is Petrus van Graan. Daardie man wat met my liggaam hier uit die skyndood opgestaan het, is nie ek nie.
“Ek en Frans Rysselaar het albei na dieselfde nooi Emmie Damberg gevry. Miskien het jy die geskiedenis hier van die mense gehoor?”
“Ja,” sê ek, en ek was my nie eens verwonder oor die kalme alledaagsheid van my stem nie. Alle vrees was van my gewyk; dit kon ’n gewone lewende persoon gewees het met wie ek in die gesprek is. “Ja,” sê ek, “oom Freek van Zyl het my gisteraand die hele geskiedenis vertel; die woeste geaardheid van Frans, die moordaanslag waarby hy homself verongeluk het, jou siekte, die ontwaking uit die skyndood, Emmie se kranksinnigheid …”
“Dis na Emmie toe wat ek jou wil stuur,” vervat die stem en ek kon sy aandoening daarin merk. Hy bly ’n rukkie stil, en toe gaan hy aan.
“… Deur die ylende waan van my koors was Frans se gees altyd by my, spottende, vloekende, teen my worsteling worstelende. Toe Emmie my oë toemaak en haar afskeidsoen op my voorkop druk, en ek voel dat ek wegsink tot niet, hoor ek nog met my heengaan Frans se afskuwelike spotlag: ‘Petrus van Graan, nou het ek vir jou … en vir Emmie. Swerf jy nou ná dese rond as ’n spook.’
“Die dag van die begrafnis, toe die skare buite aan ’t versamel was, staan ek aan die voet van die doodkis – ’n gees. In die kis lê my liggaam. Die kamerdeur – daardie deur aan jou linkerhand, my vriend – die kamerdeur gaan oop. Oom Freek en Emmie kom in. Hy skuif die deksel opsy; Emmie gryp hom aan die arm en skree: ‘Petrus is nie dood nie!’
“Ek staar so in die gesig in en kyk na die liggaam in die kis. Net ’n halwe oomblik, en sonder dat die twee dit merk, lig een van die ooglede so effentjies op; ’n venynige gryns sprei oor die lippe om dadelik weer te verdwyn. Ek sien dis Frans Rysselaar se gees wat van my liggaam besit geneem het.
“Hy maak sy oë oop en gee ’n sug. Emmie kniel by die kis, omhels die liggaam … my liggaam. Ek wou uitbars en skree: ‘Emmie, Emmie, dis nie ek nie!’ Dit was onnodig. So ’n bedrog was op haar onmoontlik. My liefde en hare het nie by die liggaam opgehou nie. En die mense dink Emmie het deur die skok van haar verstand af geraak! …
“My vriend, as jy niks oorhet vir ’n blote spook nie, neem ek jou nie kwalik nie. Jy sal self eendag een wees, maar tot hier toe is jy nog ’n mens van vleis en bloed; meegevoel is maar net moontlik tussen gelykes … buiten, dink ek, tussen my en Emmie … Maar om my ontwil soebat ek nie … om haar ontwil, sy is nog ’n mens soos jy; en in stilte en eensaamheid … sy durf mos nie medelye soek nie, sy is dan kranksinnig … in stilte en eensaamheid ly sy die foltering van ’n hel op aarde …
“Het jy die mensehart, my vriend, om jammerte te voel vir die bittere ellende van ’n mensedogter? Om iets te doen vir Emmie? Ek is magteloos. Die geregshof staan nie vir my oop nie. Aan hierdie toneel van my afskeid, om ’n rede wat ek nie vir jou kan uitlê nie, is ek gekluister. Ek kan nie hier weg nie; diegene wat hier kom, vlug van my. My liggaam met die valse siel wat daarin is, het ek hier weggewerk. Maar wat help dit? Ek is eensaam; Emmie is eensaam …” Die gees bly stil.
“Petrus,” sê ek, “wat ek op aarde kan doen, sal ek doen. Sê vir my, op watter manier kan ek van diens wees?”
“My vriend, koop Wilgerdal van oom Freek. Dis ’n valse prokurasie wat hy het, met my hand in my handskrif onderteken. Maar die valsheid daarvan maak hier geen saak nie; ek, die eienaar, gee jou die reg. Jy sal die plaas so te sê verniet kry; en Emmie, wanneer sy verstaan, sal sy jou die koopprys terugbetaal. En dan, my vriend, gaan dan na Emmie toe en sê vir haar ek wag hier vir haar, en bring haar hier.”
Net so stil soos ek uitgekom het, het ek weer ingegaan by oom Freek se huis, en in die vrykamer gegaan en my uitgetrek en gaan lê.
Ek lê nie te lank nie, toe breek die dag. Ek hoor in die huis roer om koffie te maak. Oom Freek bring self my koffie in kamer toe.
“Ek hoop jy het ’n goeie nagrus geniet, neef Hendrik?”
“Oom, nee; ek het nie geslaap nie. Ná Oom se verhaal van gisteraand was ek die hele nag met Wilgerdal besig.”
Die ou glimlag. “En hoe ver het jy daarmee gekom, neef Hendrik?”
“Oom, sit tog hier by my op die kooi. My plan was gewees om dadelik vanmôre my reis voort te sit. Maar ek het lus gekry om Wilgerdal te koop. Oom het mos die prokurasie.”
“Neef Hendrik, dis nie my saak nie; ek tree op vir ’n ander man. Ek kan nie ’n koper afraai nie. Maar tog, soos hy sou handel, so sal ek handel in sy plek, sonder bedrog. Ek het jou gesê die plaas is onverkoopbaar. As die vloek nie daarop was nie, was hy ’n agtduisend pond werd. Verlede week het Petrus my geskryf ek moet die plaas weggee, al was dit vir honderd pond. Hy betaal belastings; daar is geen vooruitsig om ooit iets terug te kry nie … Snaaks, daar was ’n vloekwoord in die brief – iets wat ek nie van Petrus gewénd is nie. Maar dit wys hoe hy voel oor die plaas; dis ’n ketting om sy nek.”
“Sal ons sê honderd pond, oom Freek?”
“Neef Hendrik, as jy honderd pond het om weg te gooi, is dit jou saak. Ek het niks vir jou weggesteek nie.”
Ná brekfis, dieselfde voormiddag daar in oom Freek se voorhuis, het ons die koopbrief geskryf en geteken. Daar was ’n paar bure by. Ek kon sien hulle beskou die vreemde neef Hendrik vir ’n mal man. Hy sou sy dwaasheid besef met sy eerste besoek aan Wilgerdal. Weinig wis hulle dat my eerste besoek al klaar afgeleg was.
Emmie se ou moeder, ’n liewe tante, kon maar nie verstaan wat ek daarmee kon voorhê, ek ’n vreemdeling, om Emmie te wil sien nie. Watter soort onbeskofte nuuskierigheid was dit? kon ek sien dog sy. Dit het my soebat gekos voordat die ou dame my wou toelaat om na Emmie toe te gaan.
Ek kry haar onder ’n wilgerboom, langes die rivier, sit sy op die gras. Sy is besig om ’n krans van wit rose te vleg. ’n Entjie van haar af staan ander kranse opmekaar gestawel, droër en droër en meer verwelk na onder toe tot daar naderhand net die kaal stokke was. Ek kom tot voor haar. Sy kyk dwarsdeur my sonder om my te sien.
“Petrus,” sê sy, “ek vleg dag vir dag ’n vars krans vir jou. Maar dan verwelk hy maar weer. Want daar is nie ’n graf van jou waar ek my kranse op kan lê nie.”
“Emmie,” sê ek. “Petrus het my na jou toe gestuur. Nie die valse Petrus nie – jou Petrus, jou eie Petrus wat jy liefhet.”
Vir die eerste maal kyk sy my met verstand aan.
“Vreemdeling,” sê sy, “het jy geen hart nie? Kom jy my leed bespot?”
Ek gaan by haar op die gras sit en ek vat haar hand. “Emmie,” sê ek, “luister en oordeel self of jy my sal glo. Ander mense sal my nie glo nie.”
En toe vertel ek haar stap vir stap wat my die nag wedervaar het.
Toe ek klaar was, staan sy die eerste op. “Kom,” sê sy, “neem my na Wilgerdal toe.” Sy loop vooruit tot by die huis.
Toe ons aankom, staan die ou tante op die stoep. “Moeder,” sê Emmie, met die stem en toon van ’n regsinnige, “ek gaan met hierdie vriend ’n entjie saamry. Ek het tot myselwe gekom.”
Die trane kom in die ou dame se oë. Sy omhels haar dogter, en toe kom sy na my toe en sy gee my ’n soen. “Vergewe my die vryheid, my neef; maar jy het my dogter gered – ek weet nie hoe nie.”
’n Paar uur later hou ek met my kar voor die bouvallige opstal van Wilgerdal stil. Ek help vir Emmie van die kar af en stap met haar aan die arm tot op die stoep. Die voordeur gaan oop. Ek kyk in, daar is niemand nie; by die deur vandaan kom dieselfde stem wat die vorige nag met my gepraat het: “Kom in, Emmie; ek het lank gewag vir jou.”
Emmie gaan in; die deur gaan agter haar toe. Ek draai om, terug na my kar toe.
Wilgerdal is weer ’n skoonbewerkte plaas. Die eienares het die soete stralende gesig van ’n engel. Om besoekers te ontvang en vreemdelinge te herberg het sy ’n besondere huisie gebou, met sitkamer en vrykamer. In die groot huis woon sy self, stoksielsalig alleen. Niemand anders kom ooit daarin nie.