Читать книгу Die beste spookstories van C.J. Langenhoven - Danie Botha - Страница 9

Oom Dolf se verhaal

Оглавление

Die twee verloofdes

Ek was gerekommandeer om herberg te soek vir die volgende aand by oom Dolf en tant Gertruida – “die vreemdelingsvriende”.

Toe ek daar kom, was ek voorgespring deur ander besoekers, nogal ’n bruidspaar wat hulle wittebroodsweke daar kom deurbring het as gaste van die ou mense, hulle oom en tante. Ek was toe skaam om ook nog daar in te dring, en ek wou verder ry.

“Nee, wat bog, Neef. Ek het twee vrykamers en ek het nog kos ook. Buitendien, hierdie twee getroude kinders” – hulle sit daarby – “het die manier om kort-kort rusie te kry oor niks en dan haat hulle mekaar met ’n dodelike wrewel. Ek verwag hulle sal egskeiding soek en in alle geval hier padgee voor die eerste wittebroodsweek om is. Wag, Neef, ek sal jou vanaand die geskiedenis vertel hoe hulle hier, toe ek en die vrou bruilof gevier het – moenie skrik nie, Neef, dit was maar ons goue bruilof – hoe hierdie twee op dieselfde dag herverloof en herskei geraak het.”

Die verhaal wat hier volg is dan soos oom Dolf hom aan my vertel het.

’n Groot, dik, vet ou man is hy, met die swaar uitdrukking van gelaat waar ’n mens niks van verwag nie, en dan loop jy jou vas. Fyn soos ’n skeermes, ’n menseliefhebber en ’n mensekenner, en daarby welbelese. Dit was my ’n voorreg om met die ou man kennis te maak. En sy is ’n allerliefste moederlike ou dame.

Sy en die twee heuningmaners, soos oom Dolf hulle by afwisseling genoem het – hy had nog baie ander benamings vir hulle – was teenwoordig die aand by die vertelling. Waar hy hulle hier en daar in die loop daarvan ’n raps gee, lag hulle maar, veral die ou vrou. Hy kon haar nie ’n groter plesier aandoen as om haar te terg nie. ’n Heerlike ou paar bymekaar. GHHK

Die drade van die lewe, beide van die sigbare patroon daarbuite en van die onsigbare hierbinne, is so menigvuldig, en hulle knoop op sulke ingewikkelde maniere deurmekaar, dat daar gedurig maar oorsaak ontstaan vir misverstand en wantroue tussen bure, verwante, vriende, verloofdes en getroudes. Maar dan volg daar gewoonlik – anders sou sulke verhoudings nooit kon voortduur nie – ’n uitleg, ’n belydenis, ’n verdediging of verskoning; en met verstand en goeie wil aan weerskante klaar die skaduwees elke maal weer op, en dikwels skyn die liefde te helderder as hy weer deur die wolke breek.

Maar nie altyd beskik albei kante oor die nodige wysheid nie – somtyds geeneen van die twee nie. En so was dit met hierdie twee, Meendert en Sofia. Meendert is my neef, ’n broerskind; Sofia, my vrou se niggie, ook ’n broerskind. Meendert is koppig, Sofia hoogmoedig.

Skaars ’n maand was die twee verloof, toe raak dit skielik uit. Wat daar plaasgevind het om die rusie te veroorsaak, wis ons nie. Hy wou mý nie vertel nie, sy vir Gertruida nie. Hier sit hulle. Hulle sal dit nou nog nie sê nie. Dit sal maar ’n bogtery gewees het. Maar daar had jy dit nou – twee wat hulle hart uiteet oor mekaar, en die een te hardnekkig en die ander te trots om die eerste stap tot toenadering te neem.

Ek en Gertruida – my vrou – wis dat die twee mekaar liefhad, en ons het dadelik planne gemaak om hulle weer bymekaar te bring. Ons sou in ons nuwe huis intrek en hom met ’n ontvangs inwy op die dag van ons goue bruilof. Toe maak ons van die geleentheid ’n voorwendsel om Meendert en Sofia te nooi, sonder dat die een van die ander weet, om ’n week of so by ons te kom kuier. Hulle het albei op ’n afstand gewoon, in verskillende rigtings.

Ek noem dit ’n “nuwe” huis oor die vernuwings wat ek laat aanbring het. Eintlik was dit ’n taamlike ou huis en in ’n verwaarloosde, so te sê bouvallige toestand.

Daar was ’n hele geskiedenis aan die huis verbonde. Vyftig jaar of so vantevore het daar op die naaste dorp gewoon ene Bart Kelwers, ’n messelaar en timmerman van ambag. Hy kry ’n onverwagte erfenis; hy koop die stuk plaas hier; en hy bou vir homself die huis, soos dit nou is, ’n groot, pragtige gebou met vlerke aan die vier hoeke van die middelste deel. Maar hy en sy vrou het nooit die huis bewoon nie.

Toe die huis tot sy voltooiing nader – die dak was al op, maar die binneste bouwerk was nog nie klaar nie – verdwyn die vrou spoorloos. Daar was sterk suspisie, want hy had haar ’n hondelewe gelei. Die polisie het rondgevisenteer, steenhope omgegrawe en selfs vloere opgebreek, maar sonder uitslag. Maar die see is nie ver nie, en toe iemand ’n kappie van die verdwynde vrou aan die strand optel, het die agterdog van moord plek gemaak vir die vermoede van selfmoord, natuurlik sonder dat die afkerige gevoelens wat almal teen Bart Kelwers had, enige versagting ondergaan het.

Toe die huis klaar was, het Bart een nag daarin geslaap, en daarvandaan nooit weer nie. In stede daarvan het hy weggetrek en die huis en plaas oorgegee aan ’n voormanbywoner; en dié, en sy opvolgers in die betrekking, het in een van die agtervlerke gewoon, by die kombuis se kant; en die res van die huis het ál die jare toe gestaan.

Toe Bart dan dood is op ’n hoë ouderdom – baie hoër, sou ’n mens sê, as wat hy verdien het: maar wie van ons verdien een lewensjaar! – het die huis op vendusie gekom, en so is ek die eienaar geword. Van die fondament af tot by die vors, van binne en buite, het ek die plek laat regmaak; ’n nuwe dak opgesit, nuwe deure en vensters laat insit, op baie plekke nuwe vloere en solders, laat plak en pleister en skilder – ek het gedog ek had ’n goeie slag gemaak met die koop, maar vir die uitgaaf wat die herstel my kos, kon ek maar my eie huis gebou het.

In alle geval, toe die reparasie klaar was en die meubels in, het ons dan ingetrek, ek en Gertruida – net ons twee alleen, want ons is ’n kinderlose paar – in hierdie ontsaglike paleis, ’n dag of wat voor die inwyding. Sofia het aangekom die oggend voor die vieringsdag. Soos die treine geloop het van die koers af wat Meendert moes kom, sou hy dieselfde aand hier wees. Intussen het ons vir Sofia nie ’n woord gesê van die nuwe inkuiergas wat nog sou kom nie. Sy was so ingenome met die pragtige huis en die heerlike plaas, en so opgeruimd en plesierig, dat dit ’n genot was om haar hier te hê.

Ek is maar swaar van lyf en styf en lomp van ouderdom, en perdry is nie meer ’n vorm van vermaak waar ek behae in skep nie. Maar Sofia wou die namiddag opsluit hê ons twee moet gaan rondry oor die plaas; en ’n mansmens, al is jy ook ’n ou man, doen baie vir ’n mooi nooi, al is sy ook jou niggie, wat jy nie vir jouself sou doen nie. Jy moes Gertruida sien lag oor my galanterie. (Ek dink sy wou wegsteek dat sy jaloers was.) En ek het ook nie met skande daarvan afgekom nie. My perd was vurig en toe hy lus kry om te bokspring, het ek hom nog ’n paar rapse gegee om sy geesdrif verder aan te wakker.

“Mooi so, mooi so, oom Dolf,” sê Sofia, en haar oë glinster; “ek verruil jou nie vir tien jongkêrels nie” … Stry nou hier voor Meendert dat jy dit nie gesê het nie, Sofia.

“Aits, aits; kyk vir die oubaas, kyk vir die oubaas!” hoor ek Adoons sê vir sy maat Klaas.

“Ja, maar kyk wie het hy by hom,” sê Klaas. En Klaas se woord was die woord van ’n wysgeer.

Dit was skemerdonker toe ons by die huis kom. Toe ons by die hek inry, word ’n kar net uitgespan voor die stoep. Ons kom by, Sofia sien dat dit Meendert is. Toe ek haar afhelp van die perd af sê sy nie eens dankie nie. Sy was so boos dat ek kon sien sy sou as dit moontlik was nog dieselfde aand weer vertrek het. En Meendert ook. Hulle het mekaar skaars met die hand gegroet, en toe weggedraai en nie ’n stomme woord verder met mekaar gewissel nie. In plaas van ’n vrolike feesgevoel had ons die aand in die huis die bedompigheid van ’n begrafnis. Ek en Gertruida het ’n sug van onbeskryflike verligting geslaak toe dit slapenstyd was.

Die twee vrykamers, dieselfde wat julle nou het, is langes mekaar in een van die voorvlerke wat al die jare onbewoond gestaan het, by die sitkamer verby. Die deure open in ’n gang wat deurloop. Ek en Gertruida se slaapkamer is ’n hele ent daarvandaan, in die ander voorvlerk.

Toe ons alleen kom, dwing ons twee oues maar om ook rusie te maak. Gertruida wil dit maar so hê dat die plan van die uitnodiging wat op so ’n treurige mislukking uitgeloop het, die eerste van my gekom het. En dit was nie so nie. Ek is so seker as van wat ook op die aarde dat dit sy is wat die idee aan die hand gegee het om die komplot te smee. Maar so is ’n vroumens. Daar is nie so iets as noukeurigheid by haar nie. ’n Ding wat gister gebeur het of gesê is waar sy by was, sal sy vandag agterstevoor omdraai en hom in die valse vorm vasanker in haar verbeelding, en dan sal sy na die brandstapel gaan daarvoor.

Maar ek en Gertruida hou nie ons rusies aan die lewe nie. Ek is nie Meendert nie. Ons neem en gee; sy neem, ek gee. Toe ek die volgende oggend wakker word, sit Gertruida langes my op die kooi regop en huil.

“Ag hemel, Dolf, en dis vandag ons troudag en ons inwydingsfees, en die mense kom van alle kante; en hier sit ons met die twee onmoontlike doodshoofde vir ons vernaamste lieflinggaste. Wat op aarde maak ek tog?”

Ek soen haar. “Geluk, geluk, my ou vrou. Vyftig jaar vandag! Het ons nie ver saam gekom nie?”

Sy glimlag deur haar trane en sy omhels my weer.

“Truidatjie,” gaan ek voort, “in daardie vyftig jaar het ons baie, baie maal skaduwees op die pad voor ons sien lê, en wanneer ons daar inkom, is dit darem nie so donker as wat dit van voor af gelyk het nie. En dis al die tyd ons twee se goue bruilof vandag, al is dit nie ander mense s’n nie. Ons kan ons gaste op alles trakteer, maar nie op ’n humeur nie. Maar ons kan dit darem voortsit. Kom ons probeer om Meendert en Sofia se mal bui weg te lag vir hulle.”

Toe ek aangetrek was en uitkom op die stoep, slaan ek byna weer agteroor in die huis in. Dit sou my nie meer verstom het as dit ’n spook was wat ek gesien het nie. Onder die laan vyebome deur wat binnekant die ringmuur staan en die graswerf soom, kom Meendert en Sofia, hand om die lyf. Toe hulle my sien, los hulle mekaar. Maar hulle kom reguit op my af.

“Oom Dolf,” sê Sofia, “van alle harte geluk met die goue bruilof. Roep vir tant Gertruida dat ons haar ook gelukwens.” Haar oë straal.

“En dat sy ons ook gelukwens,” voeg Meendert by. “Ek en Sofia was albei mal om oor ’n ou bogdingetjie rusie te maak. Sy het maar nie verstaan nie en ek het nie verstaan nie.”

Ek dink regtigwaar Gertruida was net so bly as daardie twee. “Dolf,” sê sy, sommer voor hulle, “jy het mos gisteraand daarop gestaan dat dit my plan was om hierdie twee dwase vryers te nooi, om hulle weer bymekaar te bring? Nou ja, terwyl jy dit dan so wil hê, hou dit dan maar so. Dit was my werk.”

“Ja, Truidatjie,” sê ek, “ek had nog nie die minste bedoeling om dit anders te hou nie.”

Ná brekfis het die daggaste dan begin aanstroom. Dit was ’n heerlike, skone lentedag. Ons fees was ’n skitterende sukses. Aan die eetmaal voor op die gras was Meendert die man wat die mooiste heildronktoespraak gemaak het. Sofia het so gesit en opkyk na hom en haar gesig het gegloei van ’n ander soort hoogmoed as haar eie. Maar die twee was maar meeste van die tyd opsy. Daar was baie agterstallig om in te haal.

Toe dit na sononder se kant toe gaan en die mense begin op te staan en groepies te vorm, en sommige is al aan ’t dag-sê, kom Adoons met Meendert se perde aan en hy begin in te span. Tot my verbasing.

’n Rukkie later het Meendert vir my en Gertruida taamlik koel bedank en gegroet, asof dit ons was wat hy aan verloof was en mee uitgeskei het. Sofia was nie daar nie, en hy het nie na haar verneem ook nie. Ek en Gertruida het nie eens probeer om met hom te praat nie. Om die waarheid te sê, ek was nou taamlik tot in my krop vol ook vir albei van hulle. “Ek gaan my nie weer bemoei nie,” dog ek. “Laat hulle sien kom klaar.”

Die aand wou Sofia nie tafel toe kom nie. Niemand sien ook nie. Sy sal maar in haar kamer bly; sy het hoofpyn. Sal tant Gertruida tog so vriendelik wees om vir haar net ’n koppie tee in te stuur.

Gertruida skink ’n koppie tee in en sit dit op ’n skinkbord met ’n paar snytjies botter en brood. Sy sal dit self na Sofia se kamer toe neem.

“Wag, Vrou,” sê ek, en ek vat die skinkbord uit haar hand. “Bly jy hier. Ek is nou net die derduiwel in. Ek sal vir Sofia onder hande neem. Ek weet hoe om met ’n vroumens te werk te gaan. Ek gaan dan al vandag vyftig jaar met jou te werk.”

Toe ek aan Sofia se deur klop, maak sy van binne af op ’n skrefie oop om die koppie by die deur te vat sonder om haar kop uit te steek. Ek druk die deur oop, stap in, druk die deur weer op die knip, sluit hom, en steek die sleutel in my sak. Ek sit solank die skinkbord op ’n tafel neer.

“Sit daar, Sofia,” sê ek, barstig; en ek gaan regoor haar op ’n ander stoel sit. Ek sien dat sy lus het om histeries te word.

“Sofia,” sê ek, “ek gaan vir jou en Meendert elkeen ’n duiwelse loesing gee; vir hom met ’n kierie, en vir jou, sommer nou hier, met ’n pantoffel soos die babetjie wat jy is.”

Sy bars met ’n harde gehuil uit.

“Stil, op die plek,” sê ek. “Julle twee mamma-se-keinties, julle onuitspreeklike twee swapies – was die een les nie vir julle genoeg nie? Hier is julle nie ’n dag weer bymekaar nie, en julle vry dat dit so bars – hoeveel soene het jy hom gegee vandag? – en daar is dit weer net so. Hoe reken julle om eendag as man en vrou saam te leef op hierdie katmuilmanier?”

Toe word Sofia kwaad. Dit was net wat ek na gesoek het.

“Man en vrou?” bars sy uit. “Man en vrou? Met hom saamleef? Met hom gaan trou? Al was hy die laaste man op aarde. Weet oom Dolf wat maak hy? Hy klop vannag aan die muur, en ek neem dit natuurlik sommer dat hy daarmee die eerste toenadering van sy kant af wil maak.

“Vanmôre word ek vroeg met die dagbreek wakker. Dit lyk so heerlik buitekant dat ek dog ek sal ’n ent gaan loop. Ek trek my stilletjies aan om nie ander mense te steur nie, en ek gaan uit. Onder by die lemoenboord loop ek amper teen Meendert vas, en omrede van die klop, groet ek hom ewe vriendelik. Toe ek weer sien, was ek in sy arms. En soos hy gekom het, het ek hom ontvang; hy had dan erken, al was dit nie juis met soveel woorde nie, dat dit hy was wat verkeerd was.

“Vanmiddag sit ons daar op dieselfde plek van die vroeë ontmoeting, onder die lemoenbome op die gras, ek met my hand in syne,” sy vee die hand aan haar rok af, “toe wat dink Oom durf hy vir my sê? Dit was baie lief en soet van my om in te sien dat ek verkeerd was en hom dit te laat verstaan met my klop aan die muur! So ’n onbeskofte leuenaar en parmant. Ek aan die muur klop? Uit verleentheid oor hom? Om hom weer aan te lok? Ek aan die muur klop? Nie as ek hom daarmee uit die dooie kon wek nie. Maar hy stry my dit op en hy sweer hoog en laag dit was ek wat geklop het …”

“Sofia, en wie van julle twee het dan geklop?”

“Natuurlik was dit hy wat geklop het. Ek het duidelik die klop van sy kant af hoor kom, deur daardie muur.”

“M,” sê ek. “Tussen my en Gertruida kom dieselfde soort verskille voor omtrent dinge wat nie vir ons eners gebeur het nie. Maar ons laat mekaar nie elke slag daaroor staan nie. Ons gebruik ons verstand. Ongelukkig besit jy en Meendert nie so iets om te gebruik nie. Maar al is julle ook nou albei swaksinnig, leuenaars is julle geeneen nie. Ek reken nie anders nie of julle het albei gelyk geklop. Miskien in julle slaap.”

“Oom Dolf, ek het nie geklop nie. Ek versweer my siel daarvoor …Wat” – sy gryp my arm, stuipagtig – “wat … wat is dit?”

Tok, tok-tok-tok, tok-tok! kom van die anderkantste kamer waar Meendert die vorige nag in was.

“Bly hier sit, Sofia, ek gaan kyk.”

Ek gryp een van die kerse, sluit Sofia se deur oop, hardloop in die gang af en maak Meendert se kamer se deur oop. Daar is niemand nie. Ek loop in die kamer in en staan ’n rukkie stil, kers in die hand.

Tok, tok-tok-tok, tok-tok! kom van Sofia se kant af deur die muur.

Ek loop terug na haar kamer toe.

“Waarvoor het jy dan nóú geklop, Sofia?”

“Ek geklop? Dis dan Oom wat geklop het. Wil Oom nou nes Meendert aangaan?”

“Wag, Sofia.”

Ek tree die lengte af van haar deur tot by die muur. Toe gaan ek na Meendert se kamer toe en tree dieselfde lengte daar af. Eindelik tree ek die gang af tussen die twee deure.

Sofia merk iets in die uitdrukking op my gesig.

“Wat is dit, oom Dolf? Wat is dit? Wat is dit?”

“Sofia, kom saam na die tante toe. Sy sal vir jou ander plek moet kooi opmaak. Ons sal jou goedjies hier laat haal.”

“Oom, maar wat is dit dan?”

“My kindjie, hierdie tussenmuur is vyf voet dik.”

Die beste spookstories van C.J. Langenhoven

Подняться наверх