Читать книгу Vir ewig en altyd saam - Danny Fourie - Страница 7
1
ОглавлениеPrognose
Dit was ’n koelerige oggend in Junie 2012 by die Mediclinic Durbanville. Die skraal winterson het alles uitgehaal om die dagtemperatuur aangenamer te probeer maak. Vir die meeste mense was dit ’n gewone Dinsdag. Wellingtonweg wat voor die kliniek verbyloop, was soos gewoonlik bedrywig. Die lewe het oustryk om ons voortgegaan. Die wintervakansie het voorgelê. Die parkeergebied by die kliniek was vroegoggend besig om vol te word. Ek het al geleer waar om te kyk vir die paar parkeerplekke wat mense miskyk. Dit was Adri-Louise se tiende dag in die hospitaal. Ek was reeds oorbekend met die hospitaalomgewing: al die kortpaaie deur die gange na die sale en ander uitgange.
Vreemd hoe so ’n hospitaal so vinnig vir ’n mens bekend word. Nie net die uitleg nie, maar die aanvanklike ongemak en bedreiging van die sale met siek mense, verplegingspersoneel en die kliniese omgewing, verdwyn. Dit raak skoon familiêr. ’n Mens kan amper, skreiend soos dit mag klink, tuis begin voel. Die personeel kry name en die dokters word vriende. ’n Week gelede het ons nog met groot oë na die verskillende monitors en binneaarse drips gekyk. Nou was ons reeds heel bedrewe om met monitors, drips en staanders toilet toe te stap en daarna die hele spul weer op hul staanplekke te parkeer en te koppel.
Dié wintersoggend was ons eerste afspraak by dokter V. Hy het ons reeds drie keer in die saal kom besoek. Dié dag sou ons egter na sy spreekkamer langs die hospitaal gaan. Die verpleegpersoneel het Adri-Louise se hare gewas. Daar is vir haar skoon nagklere, die roomkleurige kamerjas en skaapwolpantoffels aangetrek. Toe is sy in ’n rolstoel gehelp. Een van die drips moes saamgaan. Adri-Louise het dit sommer so triomfantelik in die lug gehou. Hulle het ’n laken gevat en dit om haar lyf gebind dat sy nie uit die stoel moet val nie.
Ons was vol moed toe die verpleegster haar by die enkelkamer uitstoot en ons met die kortpad na die gebou langs die kliniek koers kry. Met haar kenmerkende lag het sy die dagpersoneel in die saal, by wie sy teen daardie tyd alombekend was, opgewek gegroet. By die sekuriteitsdeur aan die kant van die hospitaal het ek die kode gememoriseer. Ek het vermoed ons sou dit nog talle kere gebruik. Tien dae gelede het ons niksvermoedend hierdie mediese enklawe betree. Wat gevolg het, was ’n wipwarit van verbluffende ontdekkings en ontnugterende mededelings. Oornag is ons aan die mees ingrypende mediese prosedures onderwerp. Dit was of ons van buite op onsself neergekyk het. Ons kon nie met die twee mense in hul trauma identifiseer nie. Ons het geweet daar wag ’n onbekende pad op ons.
Buite in die skraal sonnetjie was dit ’n klein oorwinning om haar buite die hospitaal te sien. Vir ’n paar oomblikke was dit of ons uit die greep van die diagnose kon ontsnap. Ons kon iets van die normaliteit van die lewe op pad na dokter V se spreekkamer ervaar. Die buitelug was ’n welkome verposing waarin ons uit die kloue van die kliniese omgewing kon wegbreek. Die hospitaal wat met sy ondersoeke, monitors, biopsies en skandeerders jou liggaam karteer en die funksionaliteit van elke orgaan op ’n onheilspellende grafiese manier detailleer.
Terwyl ons haar in die rolstoel versigtig op die paadjie tussen die twee geboue en die geparkeerde motors na die spreekkamer gestoot het, het ek met ongeloof gewonder hoe ons hier beland het. Hier voor die spreekkamer van dokter V, onkoloog en radioloog.
.........................
Twee naweke tevore was ons saam in Brits vir ’n reünie met my oud-kollegas van die televisiebedryf. Adri-Louise het die Saterdagoggend begin kla van ’n pyn in haar sy. Daar waar ’n mens se blindederm sit. Ons het pynpille by haar suster gekry en dit saamgevat, maar die pyn wou nie bes gee nie. Die Sondag het ons saam met die kinders in Pretoria geëet en later die middag het ons teruggevlieg. Adri-Louise was oortuig dat die pyn van haar blindederm afkomstig was – sy het onthou dat haar pa op 42-jarige ouderdom sy blindederm moes laat uithaal.
Die plan was dat ons vroeg die Maandagoggend na ons huisdokter en vriend, in wie ons eindelose vertroue het, sou gaan. Toe ons die Sondagaand in Kaapstad land en ek sien hoe sy met moeite loop, het ek dadelik besluit dat ons reguit na die ongevalle-afdeling by die Mediclinic Durbanville moet gaan. Haar gelate instemming was vir my genoegsame bevestiging dat daardie pyn van so ’n aard was dat ons nie langer kon wag nie. Daar was definitief iets verkeerd.
Die diensdoende dokter het haar ondersoek en toe sy in die omgewing van die blindederm druk, het Adri-Louise van die pyn gekrul. Die dokter het gerusstellend vir ons glimlag. Baie oortuig van haarself het sy die diagnose gemaak: definitief ’n ontsteekte blindederm.
Adri-Louise is opgeneem. Die lang ondervraging van vorige kwale en operasies, huidige medikasie en mediese geskiedenis van ouers en susters het begin. Volgens Adri-Louise was haar pa se blindedermoperasie ’n belangrike punt wat aangeteken moes word. Nadat Adri-Louise deeglik en omvattend ondersoek is, en ek al die tydrowende administratiewe vorms (waarvan die mediesefondsbesonderhede die belangrikste was) ingevul het, is ek met ’n lêer vol drukstukke terug na die ongevalle-afdeling waar sy op my gewag het. Die suster het vir haar ’n plastiekbandjie met haar naam op om haar pols gesit. Uiteindelik was sy ingeboek en ’n blindedermoperasie is vir die volgende dag geskeduleer.
Die chirurg wat die operasie sou doen, het onbepland daar verbygekom en die dokter het hom aan Adri-Louise bekendgestel. Hy het sy eie ondersoek gedoen en weer het Adri-Louise van die pyn gekrul toe hy op die blindederm druk. Dieselfde gerusstellende glimlag het gevolg en hy het bevestig dat dit ’n ontsteekte blindederm is. Adri-Louise, altyd iemand wat die detail raaksien, het gevra: “Maar kan julle nie ’n X-straal neem nie?” “Nee wat, dit is onnodig,” het die chirurg haar verseker, “daar is geen twyfel dat dit ’n ontsteekte blindederm is nie.”
Ek was op pad om ’n paar goedjies vir haar in die motor te gaan haal en, soos my skoonpa sê, “daai vanity” te kry. Gelukkig was al die nodige reeds vir die naweek ingepak. Maar voordat ek kon loop, gee Adri-Louise vir my ’n benoude kyk. Die suster wou ’n drip insit. Adri-Louise en naalde kom glad nie oor die weg nie. Ek sou ook so ’n weersin in naalde gehad het as ek, soos sy, nie sigbare are het nie. Iemand het spottenderwys gesê sy het haar are by die huis vergeet. Sy het my nader gewink. Terwyl die suster op haar hand en arm soek, het sy pleitend na my met daardie mooi blou oë gekyk en haar onderlip vasgebyt. Sy het aan my hand geklou asof sy oor ’n afgrond hang. Later het ek geleer om nie my hand met my trouring aan vir haar te gee om vas te hou nie, dit was te seer. Dit was die eerste keer van tientalle kere wat ’n suster op soek gegaan het na ’n aar en ná meer as een probeerslag die naald of drip ingekry het. Wanneer ’n suster dit wel met die eerste probeerslag reggekry het, het Adri-Louise haar met soveel opregte dankbaarheid, verligting en bewondering oor en oor bedank dat die betrokke suster skoon verleë geraak het. Die dosyne naalde wat daarna in Adri-Louise gedruk is, sou sy nooit gelate aanvaar nie.
Toe ek later die aand na haar meenthuis naby die hospitaal ry, was ek tevrede dat sy in goeie hande is. Ek was moeg, maar bly dat ons vinnig opgetree het en nie tot die volgende dag gewag het nie.
Vroeg die volgende oggend was ek by die hospitaal en bly om ’n opgewekte Adri-Louise te sien. Sy het gevra dat ek haar rekenaar vir haar moet uithaal en aanskakel. Sy wil na haar e-posse kyk. Later daardie week, op die Donderdag, was daar ’n belangrike vergadering met ’n drukker, en sy wou die redaksie laat weet dat hulle moet voortgaan met die vergadering – sy sal daar wees. Ek het ’n bietjie later kantoor toe gery. Tydens die personeelbyeenkoms het ek vertel dat Adri-Louise in die hospitaal opgeneem is en later daardie middag om tweeuur vir ’n ontsteekte blindederm geopereer sou word.
Terug by die hospitaal het die chirurg gesê die operasie sal sowat 40 minute duur. Ek het ’n stoel in ’n saal gekonfiskeer en op die onderpunt van die gang met ’n goeie uitsig op die teaterdeure gaan sit en wag. Die 40 minute het ’n uur geword en die uur het 90 minute geword . . .
Het hulle later begin as geskeduleer? Was daar iewers ’n oponthoud tydens die operasie? Neem dit langer omdat daar komplikasies is? Onwillekeurig stapel hierdie vrae in ’n mens se gedagtes op, want in so ’n situasie is daar niemand wat met jou kom praat nie. Die wagkamer van die lewe is ’n onaangename plek.
Skielik het my selfoon gelui. Dit was die chirurg. Op sy vraag waar ek is en my antwoord dat ek voor die teater staan – want toe kon ek lankal nie meer op die stoel bly sit nie – het hy gesê ek moet net daar wag. Hy kom my sien. Ek het sy oproep probeer rasionaliseer: Moontlik is hy net bedagsaam en wou hy my inlig oor die afloop van die operasie. ’n Winterkoue het my egter binnegedring. Ek het aangevoel dat iets verkeerd is. Ek het net geweet – nie wat nie, maar dat . . .
Hy het nog sy blou teaterklere aangehad, beskermde skoene en kopdoek – die draer van nuus wat ek sommer geweet het ek nie wil hoor nie. Ek het ’n deernis met hom gehad. Wat hy moes doen, is nooit lekker nie. Hy het my net genoeg gesê sonder om die volle implikasies, wat hy baie goed geken het, uit te spel. Hy het met ’n laparoskopie (die sogenaamde sleutelgat-chirurgie) begin, maar toe drie gewasse, so groot soos gholfballe, op Adri-Louise se regtereierstok ontdek. Die gewasse het aan die blindederm vasgegroei, vandaar die pyn. Noodgedwonge moes hy ’n snit op haar laer buik maak om die eierstok met die gewasse en ’n deel van die netvlies te verwyder. Hy is jammer, hy sal die gewasse laat ondersoek, maar die vroeë tekens is dat dit kanker is.
Kanker. Die harde klinkers van die woord doen die naam gestand. So sonder waarskuwing. So sonder vermoede. Dit is altyd sleg wanneer jy jou trompop teen woorde vasloop wat totaal onwerklik klink. Nóg ek, nóg Adri-Louise ken kanker in ons families.
Die woord is afkomstig van die Griekse karkinos, wat krap of kreef beteken. Hippokrates het dit reeds gebruik (ongeveer 460 vC–ongeveer 370 vC) om na sekere soorte kanker te verwys. Later het Celsus (ongeveer 25 vC–50 nC) dit met die Latynse cancer vertaal, wat ook krap beteken. Galen (tweede eeu ná Christus) het kwaadaardige gewasse onkos genoem, Grieks vir swelling. Dit is waar ons woord onkologie en onkoloog vandaan kom. Later het Galen die agtervoegsel -oma bygelas wat ook swelling beteken en het toe die naam vir ’n kwaadaardige gewas, karsinoma (of karsinoom in Afrikaans), geskep.
Dit is die oudste siekte bekend aan die mens. “The emperor of all maladies” – die keiser van alle kwale – het dr Siddhartha Mukherjee dit gedoop. ’n Titel wat Adri-Louise altyd gevoel het te veel eer aan kanker laat toekom.
’n Ierse skrywer het gesê die noodlot is nie ’n arend nie – dit kruip soos ’n rot. Ek het versteen gestaan en weer en weer uitgevra oor die presiese besonderhede. In sulke omstandighede kies ’n mens dat daar ’n skrefie lig by die deur sal inskyn. Die skrefie lig was dat die chirurg met die operasie die sigbare karsinome, ’n ontdekking wat ook vir hom ’n verrassing was, verwyder het asook waar hy vermoed het daar moontlik metastase (verspreiding) kon plaasvind. Ek het verstaan dat hy met geen vooraf toetse of rigtingwysers moes opereer. Saam met die skrefie lig was daar die knaende donkerte van onsekerheid oor die omvang van die kanker. Ek het aan Johannes 1:5 gedink. Min het ek geweet hoe groot die duisternis is wat hierdie kanker vir ons gebring het.
Daardie prentjie van die skalpelridder in blou in die gang voor die teater is vir ewig in my geheue vasgelê. In daardie kort gesprek het ek geweet my en Adri-Louise se lewe het onherroeplik verander.
“Wil jy dat ek vir haar sê?” wou hy by my weet. “Nee,” het ek gesê, “ek sal vir haar sê.” Hy het gegroet en gesê hy sal reël dat ’n internis, ginekoloog en onkoloog haar die volgende dag besoek.
Ek het alleen in die gang bly staan en aan Adri-Louise gedink wat aan die ander kant van die teaterdeure besig was om te herstel. Heeltemal onbewus. Skielik het die dag ’n dimensie bygekry waarop ek totaal onvoorbereid was. Gelate het ek omgedraai en stadig in die gang af na die saal se ingang gestap. Ek het probeer dink wat ek volgende moet doen. Die beste sou wees, het ek gedink, om ’n paar oproepe te maak. Ek het haar pa en susters gebel. Die baie vriende en kollegas kon vir eers wag.
Namate ek die chirurg se weergawe in my eie woorde aan hulle oorgedra het, het die skok in my binneste kom sit. ’n Vrees wat deur die onsekerheid aangevuur is. Ek het myself probeer moed inpraat dat die kanker verwyder is en dat daar behandeling is om die reste wat dalk oorgebly het te vernietig. Normale prosedure, het ek myself oortuig, om net seker te maak dat al die kanker verwyder is – ook dít wat mikroskopies klein iewers mag skuil.
Toe hulle haar uit die teater stoot, het haar oë na my gesoek toe sy hoor die suster praat met my. Ons was bly om mekaar te sien: sy, omdat ek daar vir haar was en sy nie meer alleen was soos vroeër in haar lewe nie; en ek, omdat ek my lewe vir hierdie hartlike en opregte vrou sou gee. Ek kon sien sy het seer en ek het haar hand vasgehou tot ons in die enkelkamer in die saal aangekom het.
Die verpleegsters het haar gemaklik gemaak. Hulle het toegesien dat die drips loop en die monitors haar kritieke liggaamsfunksies uitpiep. “Bly dis verby,” het haar droë lippe die woorde gevorm en ek het vir haar water met ’n strooitjie gegee.
My gemoed was swaar. Die chirurg se woorde het nog in my kop weergalm. Dit was vir my verskriklik om oor die kennis te beskik wat haar bestaan bedreig. Nog onbewus van wat is, het sy die narkose probeer afskud en probeer aanpas by die mediese ingreep wat haar in pyn gelaat het. Onbewus van wat met haar lyf gebeur het. Genadiglik nog gespaar van die verborge verslag van die blindedermoperasie. Elke minuut wat ek daardie nuus van haar weerhou het, kon sy rus in die wete dat die operasie verby is, dat sy net moet herstel.
Dit was verskriklik om haar hand te vat. Om vir haar te sê daar is iets wat ek haar van die operasie moet vertel. Ek het gehuiwer. Sekondes voordat die angs ook haar gemoed sou tref, het ek gedink, en wat ’n keerpunt in ons bestaan sou aankondig.
In haar mooi blou oë kon ek sien hoe sy die nuus aanhoor en dit registreer. Ons blik het gesluit. In ’n tydlose kokon het ons na mekaar gestaar. En dan hoe die nugter vrou, die deurwinterde joernalis wat sy is, die implikasie besef van wat sy hoor. Haar hand het onwillekeurig na haar regtersy geskuif, daar waar die seer was. En daar waar die eierstok eens was. “Dankie dat jy die een is wat dit vir my sê, my lief,” het sy saggies gesê. Sy het teruggelê op die kussing en haar oë gesluit. My woorde was op. Ek het haar hand gesoen en teen my wang gedruk.
Twee dae later is die eerste van ’n paar CT-skanderings (rekenaartomografie) gedoen. Dit het gewys dat daar ’n paar gewasse in haar lewer is en dat daar ook naby haar pankreas gewasse is. Die oorsprong van die kanker was steeds ’n raaisel. Volgens die span dokters het hierdie tipe kanker sy oorsprong op een van drie plekke: bors, pankreas of kolon.
Daardie middag sou hulle Adri-Louise vir ’n tweede keer opereer en ook die nodige biopsies onder narkose doen. Ter elfder ure is die operasie gekanselleer, aangesien daar ’n effense infeksie in haar longe was en dit ’n risiko vir narkose sou inhou. As veiligheidsmaatreël is sy na die intensiewesorgeenheid (ISE) verskuif. ’n Biopsie op haar lewer het gevolg en die chirurg het bevestig dat die kanker na die lewer versprei het. Die biopsie is onder lokale verdowing gedoen, maar dit was geweldig seer. Adri-Louise het tydens die prosedure gehuil, maar het later bygevoeg: “Miskien is dit maar deel van die groot huil wat in my sit.”
Deurentyd was die gesoek na are ’n probleem, wat Adri-Louise ook mismoedig gemaak het.
Agt dae ná die eerste operasie het die span dokters die omvang en oorsprong van die kanker gepeil. Die kolonoskopie, waarby ek teenwoordig was, het ’n yslike gewas in haar kolon op die monitor gewys. Dit was die gevreesde Krukenberg-tumor wat veral op vroue in hul 40’s kan toeslaan. Die gewas was so groot dat dit die pad van die kamera versper het om tot by die punt van die derm te kon ondersoek. Die gewas het in die dwars deel van die kolon gesit, met ander woorde in die deel wat horisontaal oor ’n mens se buik loop. Dit sit effens bo die naeltjie en onder die diafragma.
’n Krukenberg-tumor verwys na ’n kwaadaardige gewas in die ovaria wat vanaf ’n primêre plek versprei het, in klassieke gevalle vanaf die maagdermkanaal. Die tumor is vernoem na ’n Duitse patoloog, dr Friedrich Krukenberg (1871–1946). Hy het aanvanklik gemeen dat hy ’n nuwe soort primêre ovariumkanker in 1896 ontdek het. Ses jaar later sou dit blyk dat daardie tipe gewasse van ’n metastatiese oorsprong in die maagdermkanaal is.
Kanker in die kolon is ’n lokale binnedringing, maar metastatiese verspreiding kan reeds aanwesig wees voordat die lokale groei simptome toon. Die mees algemene plek vir metastase is na die lewer, soos dit toe ook in Adri-Louise se geval was. Die diagnose kon nie erger gewees het nie: Fase vier kanker.
Toe die dokters tevrede was dat hulle met ’n Krukenberg-tumor te doen het wat vanaf die kolon na haar lewer, ovaria en ander dele van haar ingewande in die laer buik versprei het, het hulle besluit om ’n tweede omvangryke operasie te doen. Die belangrikste hiervan was ’n volledige histerektomie en ’n gedeeltelike kolektomie (verwydering van ’n deel van die kolon). Krukenberg-tumors word in 80 persent van die gevalle in albei ovaria aangetref, in ooreenstemming met die metastatiese aard daarvan.
Nege dae ná die aanvanklike operasie is hierdie tweede ingrypende operasie gedoen. Dit klink na ’n lang tyd. Ten minste was die span dokters deeglik voorbereid op die operasie en was Adri-Louise se longe en haar gestel sterker. Tydens die operasie het die chirurg ook vir Adri-Louise ’n poort (’n CVP, “central vein port”) onder haar regtersleutelbeen ingeplant om die drips se aansit te vergemaklik. Ná die operasie is sy weer eens na die ISE verskuif. Sy het geweldig pyn gehad en die dokter kon nie daarin slaag om die epiduraal, wat verligting sou bring, in te sit nie. Daardie aand het sy vir my gesê sy weet nie of sy dit gaan maak nie.
As deel van my teologiese studies was ek in my finale jaar elke sewende dag vir 24 uur in die Tygerberg-hospitaal op pastorale spoeddiens. In daardie jaar het ek siekte en trauma uit elke hoek beleef. Maar wanneer jy langs die bed van jou geliefde staan, veral in die intimiderende omgewing van die ISE, is dit ’n totaal ander saak. Dan verdwyn die afstand, die pastorale aanslag. My oorheersende gevoel was ’n gevoel van matelose magteloosheid. Haar kreun word my kreun, haar pyn word my pyn – en daar is niks wat ek kon doen om dit vir haar beter te maak nie. Ja, ek het geweet my teenwoordigheid beteken vir haar baie, maar ek wou meer doen, en ek kon nie. Daardie eerste kritieke 12 uur het ek omgebid, om gewag, om gely.
Teen hierdie tyd het die meelewing van oor die hele land ingestroom. Ek het Adri-Louise se selfoon by my gedra en tot saans laat gesit om die talle SMS’e, WhatsApp’s en e-posse te beantwoord. Haar goeie vriendin Milanie het haar vakansie in Namibië onderbreek en spesiaal Kaapstad toe gevlieg om vir ’n paar uur by haar te wees.
Die eerste 24 uur in die ISE was veeleisend. Die narkotiseur wat by albei operasies teenwoordig was, was uiters knap en sy het gesorg dat Adri-Louise se pyn onder beheer gehou is. Sy het saans vir Adri-Louise ’n “mengeldrankie” van morfien gegee. Adri-Louise het ’n pompie in die hand gekry waarmee sy die morfien kon toedien soos benodig. Die pompie reguleer in werklikheid die morfien dat net die regte hoeveelheid oor ’n verloop van tyd toegedien kan word. Maar ek het gedink dit help sielkundig om daardie pompie gereeld te druk. Dit was ons eerste kennismaking met morfien. Dit sou nie die laaste wees nie.
Stadigaan was sy wel besig om te herstel. Maar wanneer ek nou terugdink, is ek verstom oor wat sy in daardie eerste tien dae in die hospitaal moes deurmaak. Ek herroep nog die oomblikke wanneer ek in die ISE ingestap het na bed 5 en later bed 23. Die liefde en deernis wat in my opgewel het. Ek het my emosies met moeite bedwing. Sy, glimlaggend, so bly om my te sien. Blomme waar jy kyk en die opgestopte hondjie wat iemand vir haar gegee het.
Adri-Louise was toe al 12 dae lank op ’n dieet van jellie, appelsap en Marmite-sop. Die cappuccino wat ek vir haar gaan koop het, was ’n treffer. Haar sterk gestel het my verbaas. Sommer gou het ek haar en die fisioterapeut in die gang gekry. Sy het opgewonde vertel dat hy haar sommerso in ’n oogwink dubbel vou en van die bed af regop help. Hierdie vroeë treetjies het haar gemoed goedgedoen en toe reeds kon ek sien hoe die vegter in haar opstaan.
Soggens voor werk het ek by haar gaan inloer en van laatmiddag tot saans ná negeuur by haar gekuier. Sy was in ’n enkelkamer en die verpleegpersoneel was baie geduldig met my. Ek moes vir elkeen ’n eksemplaar van LiG bring.
Met haar plesierige lag en haar onverbloemde respek vir die verpleegpersoneel het sy ’n blymoedigheid in die saal gebring. Daar was by hulle ’n buitengewone gewilligheid om hierdie dapper en positiewe vrou te versorg. Een van die teatersusters het op ’n keer gebel en genoem watter geweldige indruk hierdie vrou op haar gemaak het. Adri-Louise het almal by die naam geken. Sy het presies geweet waar elkeen bly en soos ’n nuuskierige joernalis maar is, het sy geweet wat by elkeen se huis gebeur. Die dokters was self verras en bemoedig deur haar volgehoue herstel.
Saans wanneer dit begin stiller raak in die saal en net die liggie in die hoek van die kamer gebrand het, het ons in stilte bymekaar gesit. Te kort nog om die skok en die trauma wat ons getref het, behoorlik in woorde vas te vat. Ons het slegs op haar herstel ná die twee operasies gefokus. Ons was nog nie gereed om oor die volgende fase van die behandeling te dink nie.
.........................
Die oprit na die onkoloog se spreekkamer was rolstoelvriendelik en nadat ons die verpleegster verseker het dat ons self die pad terug na die saal sal vind, het ons gereed gemaak vir ons eerste konsultasie met dokter V.
Die Here het die regte onkoloog voorsien. Toe reeds het ons respek gehad vir hierdie netjiese en bekwame man. Hy en Adri-Louise het van die begin af van mekaar gehou. Haar sterk persoonlikheid en reguit aanslag. Sy skerp intellek, humor en geloof. Dit het elke konsultasie daarna, wat nooit onder ’n uur gedraai het nie, ’n belewenis gemaak. Dikwels het ons so gelag dat ons altyd gewonder het wat die pasiënte voor in die spreekkamer gedink het. Maar daardie eerste konsultasie sou ons nooit vergeet nie.
Ons het die lywige verslae van die chirurg, patoloë en radioloë saam met hom deurgegaan. Hy het vir ons die ontleding van die uitgebreide bloedtoetse wat die vorige dag gedoen is, geïnterpreteer – ’n patroon wat met elke konsultasie daarna herhaal sou word. Hy het hierdie deel van die konsultasie afgesluit deur ons weer eens op die erns van die diagnose te wys. Ná die ontleding van die diagnose het hy gesê dat hy oor die verdere behandeling wil praat.
Sy volgende woorde het ons geruk. Hy het agteroor geleun in sy stoel en na ons gekyk. “Ek is nie God nie,” het hy gesê. Adri-Louise het my hand nog stywer vasgevat. Daar was ’n oomblik van afwagting. Hy het dit nie gesê soos iemand wat homself wou verontskuldig of distansieer nie. Ons het geweet hy sê dit as gelowige.
Wanneer ’n dokter in so ’n konteks sê dat hy nie God is nie, kan dit meer as een ding beteken. Allereers beteken dit eenvoudig: Ek kan nie wonderwerke verrig nie, maar ek sal doen wat ek kan. Tweedens kan die uitspraak beteken – en dit wou ons eerder glo – dat Adri-Louise se lewe nie in sy hande is nie. Haar lewe is alleen in God se hande.
Nietemin was dit ’n opmerking wat ons onkant gevang het. Met so ’n uitspraak weet jy intuïtief dat dit hier om lewe en dood gaan. In sulke omstandighede besef jy glashelder dat jy jou hier op een van die lewe se grenssituasies bevind. Daardie grens waar net God jou gids kan wees. En hoe het ons nie heimlik gewens dat hierdie aangename dokter vir ons God moet wees of word nie . . .
Dokter V het verduidelik dat ’n mens tot tweederdes van die lewer kan wegsny, waarna die lewer sigself kan regenereer en funksioneel werk. ’n Mens kan ook een van die twee lobbe van die lewer verwyder, maar dan moet die ander lob skoon van kanker wees. Anders is die oefening sinloos. In Adri-Louise se geval was die kanker so verspreid oor die hele lewer dat daar nêrens ’n skoon derde was nie, wat enige sodanige operasie uitgesluit het. Die enigste pad was chemoterapie wat hopelik die gewasse in haar lewer kon laat krimp en onaktief maak.
Hy het gesê dat chemoterapie die beste opsie is. In daardie stadium was dit onmoontlik om te probeer antisipeer waar daar nog, afgesien van die lewer, metastase plaasgevind het. Die chemoterapie moes dus ’n totale aanslag op die breedste front voer om verdere metastase te voorkom en dit, daar waar dit onnaspeurlik klein is, te keer en uit te roei.
Die konsultasie het einde se kant toe gestaan en dit het ’n onvermydelike punt bereik. Adri-Louise wou weet wanneer die chemoterapie sou begin, hoe lank dit sou duur, en of daar meer as een chemoterapeutiese linie sou wees. Dokter V het verduidelik dat hy eers vir haar met ’n kursus chemopille gaan behandel en dat sy oor nagenoeg ses tot agt weke die eerste chemoterapie sal ontvang. Die poort wat tydens die tweede operasie ingeplant is, is dus ook daar om die chemotoediening te vergemaklik.
Adri-Louise, pragmatis wat sy was, het ’n laaste vraag vir die onkoloog gehad. “Gegewe alles,” wou sy weet, “wat is my kanse?”
Dit is altyd ’n moeilike vraag vir enige geneesheer. Dokter V het begin deur ons te herinner aan sy opmerking dat hy nie God is nie. Ek kon sien hy het gewens dat hy nie nodig het om die vraag te antwoord nie. “As gelowiges weet ons dat ons lewe in die hand van die Here is, by Wie alles moontlik is. As onkoloog kan ek vir julle ’n statistiese riglyn gee: ’n pasiënt met jou diagnose het ’n 20 persent kans om 5 jaar te leef.”
Dit het stil geword in die spreekkamer. Die konsultasie was verby. Die dieptepunt waarop dit geëindig het, het verdere woorde oorbodig gemaak. Daar was in elk geval nie woorde oor nie.
Ek het Adri-Louise versigtig uit die spreekkamer – waarna ons nog nagenoeg 30 keer sou terugkeer – gestoot. By die afrit buite die deur het ek seker gemaak haar voete is op die flappe van die rolstoel. Toe ek haar voete so in die skaapwolpantoffels sien, het ’n groot hartseer my oorval. Haar bleek gesig, die drip wat in die lug gehou word en die nuus van kort gelede, het die onwerklikheid in my gesig gegooi. Teen die oorkantse muur het ons in die bleek sonnetjie gestop. Ek het op my een knie voor haar gaan staan en haar hande in myne geneem. Toe het ons saggies gehuil.
In die tien dae wat verby is, het ons gereeld onder ontstellende nuus gesteier, maar daardie oggend was dit die klimaks van die omvang van wat met Adri-Louise gebeur het. ’n Verpletterende terugslag.
Haar diamantring het die son gevang. Ons was 26 dae verloof.