Читать книгу Vir ewig en altyd saam - Danny Fourie - Страница 8
2
ОглавлениеNaskok
Adri-Louise was 25 nagte in die hospitaal. ’n Paar dae voor haar ontslag het sy geskryf:
............... ■ ...............
Baie dankie aan al die mense wat vir my bid. Dit beteken vir my baie. Dit gee my moed en ek ervaar die Here se sorg elke dag. Die verpleegpersoneel is wonderlik vir my. Ek is bevoorreg om in so ’n hospitaal behandel te word en om ’n mediese fonds te hê wat my kostes dek. Dankie vir al jul boodskappe en ondersteuning. Ek mis julle en is baie lief vir julle.
............... ■ ...............
Die dag voordat ek haar gaan haal het, is die laaste drips en dreineringspype uitgehaal. Sy was soos ’n jong hond in die park sonder haar halsband. Haar baldadigheid het natuurlik niks met haar beweeglikheid te doen gehad nie. Dié het maar nog bietjie vir bietjie en treetjie vir treetjie gegaan, dan was sy uitasem. Maar vir haar was die ontkoppeling van plastiekpype en drips ’n teken dat sy weer op haar eie kon funksioneer. Die meesterbrein, het sy graag gesê, die Krukenberg-tumor wat sy trawante na haar ovaria en ander dele gestuur het, is verwyder. Nou lê die stryd voor om daardie tumor se aanwas uit te roei.
Die kleur was terug in haar wange, die sprankel in haar blou oë. Sy het so goed gelyk. Moeg, ja, maar so gesond . . .
Adri-Louise het altyd alles met deeglikheid en deursigtigheid aangepak. Getrou aan haar aard het sy daarom haar pa en susters vooraf in kennis gestel dat ek tydelik by haar sou intrek om haar te versorg. Op haar kenmerkende manier het sy verduidelik dat hierdie verblyfreëling ’n versorgingsaksie was. In haar toestand – ’n woord wat sy dikwels gebruik het om ’n treurige situasie te beskryf – was sy nie in staat tot enige amoreuse gedrag nie! Maar haar oë het geblink. Vir haar was my teenwoordigheid die beloning ná die swaar. Ons wou reeds vroeër getrou het, maar daar was ’n rede of twee waarom ons dit uitgestel het. Het ons maar . . .
Die belangrikste was dat Adri-Louise moes rus en van die twee uitmergelende operasies moes herstel. Van groot belang was ook dat ons tot verhaal moes kom. Toe ons die oggend van die hospitaal af by die huis kom, het die bekendheid van die huis haar verwelkom en getroos. Ek het die eerste van baie koppies tee gaan maak, terwyl sy op die bank gaan sit en die twee katte gegroet het.
Daar sit ons toe. Albei van ons het ’n ineenstrengeling van dankbaarheid en ongeloof beleef. Die kontras kon nie skreiender gewees het nie. Hoe ons drie weke vantevore by die huis uit is op pad lughawe toe, opgewonde oor die naweek wat voorlê, en hoe ons nou ingehak en voetjie vir voetjie die voordeur genader het.
Hoe moeilik was dit tog om die huislikheid met die gebeure van die afgelope drie weke te vereenselwig. Die wêreld van die hospitaal waaruit ons toe gekom het, het onwerklik gevoel. Dit was soos ’n nare nagmerrie wat verby was. Maar dit was nie. Die nagmerrie het voortgeduur, net op ’n ander vlak. Nuwe dieet, nuwe roetine, nuwe fokus wat jou aandag daglank gevange hou. Nuwe onsekerheid. Nuwe behandeling. Operasiewonde wat moet genees. Reëlings by die kantoor. Reëlings met die mediese fonds. Dit was ’n omwenteling en ’n situasie wat aanpassing geverg het.
Die aanvanklike skok wat die diagnose gebring het, het nou plek gemaak vir ’n mengelmoes van emosies. Verslaentheid, ongeloof, teleurstelling, verdwaasheid, sprakeloosheid. Ontkenning was nie deel van ons gemoed nie – ons het te veel gesien. Adri-Louise het dit te diep in en aan haar lyf gevoel. Ons het geweet waaroor dit gaan. Hierdie bombardement van opeenvolgende emosies oor daardie drie weke wat sy in die hospitaal was en die voortsetting van die nimmereindigende onwerklikheid wat hom elke dag aan ons opgedring het, het ons in ’n toestand van skok gelaat. ’n Naskok, soos die trillings ná ’n aardbewing.
In aansluiting by Alvin Toffler was die skok wat ons toe beleef het, die gevolg van die verpletterende stres en disoriëntering wat by ons veroorsaak is deur te veel verandering in ’n te kort tyd. Maar bowenal het ons eerstehands die hindernisse van die lewe beleef asook die lyding wat daaruit spruit. Hierdie hindernisse is die gedeelde grond van alle lewende wesens, maak nie saak wat jou posisie in die samelewing is nie. Ons kom almal te staan voor dieselfde hindernisse: hartseer, verlies, siekte, sterwe en die dood.
Intussen het die huishouding aangegaan. Dit het ons gehelp om ons aandag ook op ander dinge te fokus. Die eerste paar weke is ons elke dag, heeldag besig gehou met die aanpassing by die nuwe roetine. Ons het wel by vriende gaan kuier, maar op aanbeveling van die onkoloog het ons die malls vermy – volgens hom is dit net plekke waar Adri-Louise ’n kiem kon optel. Saans wanneer daar stilte gekom het en ek by haar gesit het, was ons dankbaar vir die oomblik, vir die saamwees, dat ons nog bymekaar is. Ons wou nie oor môre dink en wat môre mag bring nie.
Uys Krige skryf iewers: “Ek voel die Tyd soos ’n gewas wat aanhou vreet. Waar is die dag? Waar die geluk? Wie weet?” In my kop het ek dit omgedraai: Ek voel die gewas, wat soos die tyd aanhou vreet. Ons lewe het gaan stilstaan, maar die tyd het aanhou tik. En soos die tyd meedoënloos aangehou het, het ons bewus gebly van die Krukenberg-trawante wat nog daar was en God weet wat besig was om in Adri-Louise se lyf te doen.
Soos die dae aangestap het, het ons besef dat ons lewe en leefwyse nooit weer sal wees soos vóór 11 Junie nie. Ons het nou ’n ander lewe gehad. ’n Lewe waaroor kanker geskryf staan. Kanker in vetgedrukte letters. Dit sou voortaan elke faset van ons lewe oorheers. Dikteer. Die baie drome en planne wat ons vir onsself gehad het en waarin ons ons saamwees wou uitdruk en gestalte aan gee, was nou net idees op ’n lysie.
Kan dit wees? het ons elke dag gedink. Kan dit wees dat dit met ons gebeur? Ons was nugter genoeg om te weet dat kanker nie onderskei nie, dat die keiser nie omstandighede in ag neem nie, dat hy hom min steur aan ouderdom en kalender. Op ons ouderdom het ons al gesien en gehoor dat geluk en ongeluk, in die woorde van TT Cloete, in dieselfde plasenta lê – geluk en ongeluk is Siamees. Dit sou ons ook stelselmatig ontdek.
Te midde van hierdie ontnugterende slag wat ons getref het, was ons liefde ’n bron van buitengewone vertroosting en ’n stabiliserende faktor. Ek het probeer verstaan hoe sy moet voel en wat deur haar gedagtes gaan. Op 47 is haar wêreld as suksesvolle tydskrifredakteur tot stilstand geruk. Ons nuutgevonde liefde wat haar lewe verander het en waaroor sy nie uitgepraat kon raak nie, was nou op die periferie van die swaar werklikheid wat ons lewe oorheers het.
Teen daardie tyd was ons ’n maand agter met die skedule van reëlings vir ons troue wat oor ’n bietjie meer as sewe weke sou plaasvind. Alles moes met e-posse en per telefoon gedoen word. Gewillige vriendinne het ingespring en gaan navorsing doen oor troudagdinge. Hulle het kom verslag doen oor of Adri-Louise se voorkeure haalbaar is.
Sy het weer haar selfoon by haar gehad, maar ons het ooreengekom dat sy ’n maksimum van twee uur per dag via haar rekenaar met die redaksie kon kontak maak. Dit moes haar nie vermoei of laat stres nie. Dit was wel belangrik vir haar gemoedstoestand – dat sy “betrokke” bly.
Terug by die huis het Adri-Louise vir geen oomblik gaan sit om haar begrafnisbrief te begin skryf nie. Sy het ook nie haar roudiens begin beplan nie. Sy het ’n troue gehad om te reël! En daar was die volgende tydskrif wat in samewerking met haar bekwame redaksie uitgegee moes word! Die immer energieke Adri-Louise – al kon sy aanvanklik nie sonder hulp uit die bed uit op nie . . .
Begrafnisbrief. Ek onthou goed toe sy dit gesê het. Dit het my hart ineen laat krimp en ’n ongekende angs het my oorval. Ek het sommer vroeg geleer om haar in haar positiewe aanslag te ondersteun, in die opsig dat ek my hartseer en angs weggesteek het ter wille van haar. By hoë uitsondering sou ek my vrees met haar deel. Maar dit was veral wanneer ek vir ons gebid het, en ’n mens so broos en pleitend voor die Here staan, dat ek gehuil het. Gelukkig het sy geweet ek huil maar maklik.
Ons het ook baie gelag. Nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, moes ek vir 12 dae elke aand vir Adri-Louise ’n inspuiting gee. Dit was nodig om klontvorming in die bloed en ander dinge te voorkom. Ons het die opsie gehad dat sy die inspuiting elke dag by die hospitaal kon kry – of ek moes dit gee. Adri-Louise het dadelik die laasgenoemde opsie gekies. Die gee van hierdie inspuiting het vir groot vermaak gesorg.
Die eerste aand het ons hierdie ritueel gehad waar Adri-Louise haar nou eers wou “instel” voordat ek met die spuit naderkom. Dit was ’n bron van groot pret, alhoewel ek verstaan het dat die dae in die hospitaal en die vampiertannies met hul tassies – soos sy die susters van die patoloë genoem het – haar bestaande afkeur van naalde vererger het. Elke spuit was afsonderlik met naald, spuitstof en ontsmettingslappie verpak. Wanneer ek saans met daardie pakkie nadergekom het, het Adri-Louise se gesig gesak en haar oë het al hoe groter geword. Die naald was klein, byna soos dié waarmee diabete hulleself inspuit. Vir haar was dit ’n naald, en ’n naald is ’n nare ding. Die voorskrif was dat die inspuiting op haar maag moet wees – dit sou die mins gevoelig wees.
Toe die “instellery” nie werk nie, het sy Irma Joubert se boek, Anderkant Pontenilo op die bedkassie gegryp en daarin begin lees in die hoop dat dit haar aandag sal aftrek. Sy sou my dan laat weet wanneer sy so verdiep is in die storie dat ek kon voortgaan. Ons het gelag dat die trane loop en met dié vra ek haar of sy nie eerder die Bybel wil lees nie, of sal dit nie help as ek ou proefbladsye van Kerkbode vir haar bring nie.
Uiteindelik het ek haar so ver gekry dat ons die stukkie vel ontbloot waar die gewraakte inspuiting toegedien sou word, terwyl sy in Anderkant Pontenilo lees. Ek het toe ’n truuk gebruik wat ’n doktersvriend my geleer het. Jy vryf met die ontsmettingslappie op die vel – nie te sag nie. Terwyl jy aanhou vryf, spuit jy op die rand van die ontsmette area. ’n Mens se brein registreer die gevryf, want dit is waar jy die inspuiting verwag, maar nie die prik van die naald elders nie. Dit was binne oomblikke verby en ek het opgehou met vryf. Adri-Louise het oor haar boek geloer en gesê ek moet nou klaarkry, haar senuwees kan dit nie meer hou nie. Toe ek sê, maar ek is klaar, was die verligting op haar gesig my beloning. Ek het ’n nuwe status gekry – inspuitmeester.
Nóg ’n insident wat later vir heelwat lagbuie sou sorg, was die dag toe Adri-Louise ’n spesiale vakuumpompie moes kry. Een van die steke van die tweede operasie – aan die onderpunt van die vertikale snit – het ontsteek en wou nie genees nie. Gelukkig het die mediese fonds ingestem dat dit by die huis versorg kon word, anders sou sy nog langer in die hospitaal moes bly. ’n Gespesialiseerde suster het ’n pompie aan die wond kom koppel. ’n Pypie is met ’n innoverende stel pleisters op die wond gehou en toe aan die pompie gekoppel. Hierdie oulike tegnologie het die vog uit die wond gesuig en ’n vibrasie veroorsaak wat die bloedsomloop om die wond gestimuleer het. Die pompie het ’n herlaaibare battery gehad en op dié manier was Adri-Louise mobiel en kon ons selfs uitgaan wanneer dit moes.
Die enigste nadeel van dié stukkie tegnologie was dat dit kompleet soos ’n kat gespin het, as gevolg van die vibrering van die diafragma in sy binneste. Die katte in die huis het dié affêre net een kyk gegee en daarna nie weer naby die “purrende” pompie gekom nie. Wanneer ons uitgegaan het, het ons die ding in ’n handdoek toegedraai en in Adri-Louise se skouersak gesit. Natuurlik het ons baie binnepret gehad oor mense wat wonder of hulle ’n kat iewers hoor purr . . .
So het ons elke keer die ligkant van ons hindernisse probeer sien. En dit was nog nie die einde nie. Een van die newe-effekte van die operasies was natuurlik dat Adri-Louise se hormoonvlakke deurmekaargekrap is – waartoe die volledige histerektomie grootliks bygedra het. As gevolg van die feit dat sy chemoterapie sou kry en hormoonaanvullings die kanker kon voed, moes ons met die – vir baie vroue bekend – gloede begin saamleef.
Tydig en ontydig het daardie verskriklike gloede haar oorval – by mense, in die motor, in die bed, in die kerk, in ’n koffiewinkel. Orals. Een vriendin het vir haar ’n elektriese handwaaier gegee wat met sproeireën werk. Ons het ’n groot waaier langs die bed gehad en ’n ander vriendin het vir haar ’n Japannese handwaaiertjie gegee. Laasgenoemde was naderhand gehawend van al die waai. Eers was sy skaam om in ’n openbare plek die waaiers te gebruik, maar later was dit so erg dat ons nie omgegee het nie. Soms het ons vergeet om ’n waaiertjie saam te neem. Dan het ek haar sommer met die spyskaart koud gewaai – tot groot vermaak van die vroue wat gloede ken!
Ek was siek van verliefdheid op Adri-Louise. Sy was vir my verskriklik mooi. Ek het dikwels by haar gaan sit wanneer sy op haar rekenaar gewerk het. Ek sou haar vra of ek maar daar mag sit – ek wil haar net ’n bietjie bewonder, sy is so mooi! Dan lag Adri-Louise, want sy het nooit gedink sy is mooi nie. Ek onthou die keer dat ek na haar toe gegaan en vir haar gesê het: “My lief, ek kry baie swaar!” Adri-Louise, dadelik met die pruilmond, ernstig: “Wat is dit?” En ek wat verduidelik: “Jy sien, dis jy – jy is so mooi. Ek kry swaar, ek kan nie werk nie, ek dink die hele dag aan jou.” Ek herinner haar aan daardie Duitse spreekwoord: Trou met ’n beeldskone vrou en jy trou met verdriet. Toe lag Adri-Louise daardie kloklag van haar en sê: “Ek is nie beeldskoon nie, maar dankie, my lief, jy laat my beeldskoon voel.” En ek sing toe vir haar Jimmy Soul se 1963 lied wat ek male sonder tal daarna vir haar gesing het wanneer sy netjies aangetrek en met haar bekende parfuum uit die kamer verskyn het:
If you wanna be happy
For the rest of your life,
Never make a pretty woman your wife,
So from my personal point of view,
Get an ugly girl to marry you.
Ek was ’n gelukkige man. Nee, ek was die gelukkigste man in die wêreld om ’n vrou soos Adri-Louise te kon liefhê. Ek kon elke dag in daardie mooi blou oë kyk en Percy Sledge (1966) se lied vir haar sing:
When a man loves a woman
Can’t keep his mind on nothing else
He’ll trade the world . . .
Ons het elke dag met lag en huil trotseer. Miskien kan ’n mens dit gelykstel aan die meesleurende ervaring van seestrome tydens die veranderende getye. Maar dit het my ook aan die wind laat dink.
Ek hou nie van die wind nie. Wanneer die wind waai, is ek sommer swaarmoedig. Wanneer ek aan die wind dink, dink ek altyd terug aan my weermagdae en hoe die wind veral op ’n Saterdagmiddag of Sondagmiddag deur die verlate kamp op Jan Kempdorp en later Potchefstroom gewaai het. Of dit nou hard of sag waai, daardie aanhoudende geloei en blare wat dwarrel, plastieksakke wat teen die wasgoeddrade en kampdrade vaswaai en hier en daar ’n plaat of blikhouer wat omwaai, het by my ’n beeld van troosteloosheid geskep. Sergio Leone, saam met die musiek van Enrio Morricone, het hierdie troosteloosheid in sy Western-flieks vervolmaak: die tolbosse wat slingerend hol in die verlate stofstrate en die uithangborde wat skreeuend aan hul skarniere die wind se gehuil aanvul. En die eensame ruiter wat stofverwaaid op sy perd naderkom.
Die wind is ’n vreemde verskynsel. Die Bybel sê ook die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar heen hy gaan nie (Joh 3:8). Van die wind weet jy niks.
Maar die wind bring meer as net, soos by my, ’n troosteloosheid. Die wind is ook ’n boef. In Psalm 103:15-16 vind ons seker een van die ontmoedigendste vergelykings van ons menslike lewe: “Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ’n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg.” Skrikwekkend die beskrywing van ons lewe, byna soos Elton John se “Candle in the wind”. En ewe verdoemend die ongenaakbare woestynwind. Dit kan die lewe in ’n oomblik soos ’n kersvlam uitblus.
Is God die wind? Of laat Hy net die wind waai? Jesaja sê: “. . . gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai” (Jes 40:7, my eie beklemtoning). Uit ervaring weet ek dat jy nie God en wind aan mekaar kan gelykstel nie. Baie dinge hier op aarde is nie die wil van God nie. Daarom kan jy nie sommer altyd sê die wind wat waai, is God se wind nie.
Andries Cilliers skryf daar is twee werklikhede oor die wind. Die eerste is dat geen mens die wind vryspring nie – of jy nou gelowig of ongelowig is. Die tweede werklikheid is dat ons nie windbestand is nie. Party mense hou beter uit teen die wind as ander, maar uiteindelik is ons beste skanse teen die wind nie opgewasse daarteen nie. Winde van siekte, soos in ons geval, kry jou beet, waai jou plat en op ’n dag is jy nie meer daar nie.
Dit bring ’n mens natuurlik by die vraag of God soms die wind keer. Soms ontsnap ons die wind en soms tref die wind ons reg van voor – en dan voel dit of God niks daaraan doen nie. Tereg sê Cilliers dat dit een van die moeilikste dinge is waardeur ons in die lewe kan gaan: om in die wind te staan en te wonder of God dan van ons vergeet het.
As gelowiges glo ons dat God met ons besig is wanneer die wind ons tref. Oor die manier waarop God met jou besig is, kan jy verskil. Diegene wat God as die oorsaak van die wind sien, sal sê daar was ’n doel waarom God die wind oor hulle laat waai het. Diegene wat dink die wind waai op sy eie (dalk teen die wil van God in), sal vertel hoe God by hulle was toe hulle in die wind beland het.
Die Hollandse digter Adriaan Roland Holst het ’n aangrypende gedig “Zwerversliefde” geskryf waarin hy sê hoe min ons van die wind weet. Die gedig gaan oor die liefde tussen ’n man en ’n vrou. Die digter kontrasteer die liefde van langdurige verhoudings of huwelike met die tydelike en kortstondige liefdes – daarom die titel van die gedig, swerwersliefde. Die tydelike liefdes word deur die wind bymekaar gewaai en na ’n tyd, sonder begryplike redes, weer uitmekaar gewaai – net die wind weet waarom.
Wij zijn maar als de blaren in den wind
ritselend langs de zoom van oude wouden,
en alles is onzeker, en hoe zouden
wij weten wat alleen de wind weet, kind –
Soms “waai” twee mense na mekaar, hulle is ’n tydjie saam en dan gaan hulle weer uit mekaar. Dit is dikwels onduidelik waarom dit gebeur; dit weet die wind alleen. Dikwels gaan die liefde in die wind verlore. En daarom eindig die digter die gedig met ’n oproep aan sy geliefde, dat terwyl hulle nog bymekaar is: “Laten wij zacht zijn voor elkander.”
Vir Holst was die enigste slotsom waartoe hy oor die wind kon kom: “. . . en wat de wind wil, zullen we nooit wete.” In sy nadenke oor hierdie gedig sê Cilliers maar hoe kan jy ook weet wat die wind wil, as die wind maar net ’n blinde natuurkrag is? Vir hom is daar iets belangriker as om te weet wat die wind wil. Dit is om te weet wat God wil. Dáár waar ons op pad heen is, word nie bepaal deur die koers van die wind nie, maar deur die wil van God. Maak nie saak hoe dikwels die wind ons van koers af waai nie.
Ek en Adri-Louise het in 2012 die felheid van die winterwind oor ons gevoel. In werklikheid was dit daardie woestynwind van die Psalms. Nie lank voor dit nie het die wind waarvan Holst in sy gedig praat en wat in ons taal die guns van God was, ons bymekaar gewaai. Die winde het ons verwar. Dit is miskien die minste wat ’n mens moet sê. As jy dieper begin krap, word die verwarring net groter. Maar ja, ons kon nie verstaan waarom die Here nie die woestynwind keer nie. Of was ons te ongeduldig? Sou Hy op sy tyd en sy manier winde van verandering stuur?
Anders as Holst het ons geglo dat die Here, en nie die wind nie, ons bymekaar gebring het. Ons saamwees was soos ’n vars bries in ons lewe. ’n Bries wat vars lug vir ons longe gebring het. Die asemnood was verby. Hiervan getuig die eerste kaartjie wat Adri-Louise vir my gegee het. Op die voorkant was ’n foto van ’n buitekraan en ’n gehawende emaljebekertjie wat daaraan hang, terwyl die water na onder stort. Binne-in het sy vir my geskryf: “Die kaartjie se voorkant? Die tyd van dors en hongersnood is verby – vir my en vir jou, want daar is nou ’n ‘ons’. Die liefde wat ek vir jou het, het besit geneem van my hele wese en lewe.”
En toe kom die wind. Ons het ook nie geweet hoe lank die kraan gaan bly loop nie.