Читать книгу Die boek van gelukkige eindes - Debbie Loots - Страница 6

Willemien

Оглавление

Dit het haar tyd gekos, moeite, maar sy’s hier.

Sy sit agter die stuurwiel van haar pa se oranje 1976 Ford Cortina – sonder lugreëling, die vensters tot heel onder oopgedraai – voor ’n 7-Eleven in ’n nou straat in Kaapstad. Agter die winkel se groen sinkdak toring Tafelberg se lang, plat rug uit. Sy herken dit, Tafelberg lyk nog altyd vir haar soos ’n groot mynhoop iewers op die Rand; alhoewel die deinserige lug dáár alles meestal uit fokus uit laat lyk. In Kaapstad is alles helder, asof goed met ’n tuinslang afgespuit is. Sy kan selfs groen botseltjies bome teen die berghange tussen die kronkelende voetpaadjies uitmaak. Dit laat haar oë pyn, so mooi is dit. Haar ma sou sê sy’s ook niks gewoond nie.

Sy’s verdwaal. Sy’s moeg, dit was ver in die ou kar, al die pad van Newlands in Johannesburg af. Sy voel soos die ou tannie van tagtig, die een wat sy so ’n ruk terug op Facebook gesien het, wat Afrika en Europa in haar ou Toyota Tazz platgery het. Johannesburg kan netsowel op ’n ander kontinent wees, so ver weg voel dit vir haar.

Die trip het stadig gegaan; sy moes op Colesberg oorslaap omdat die kar aanhoudend oorverhit het, anders was sy kapabel en het op een slag deurgery. Sy wil dinge klaarmaak. Haar werk wag: die slaghuis se vroegoggendskofte, haar boetiekure gedurende die dag en die aande by die restaurant waar sy waitress om haar huis se verband te help afbetaal.

Sy het Salome, haar driejarige, by haar ma en Mikey, haar oudste, gelos. Mikey is vyf-en-twintig. Sy weet hulle sal goed na haar kyk. Haar ma en haar tweede man, oom Boet, bly net een blok van haar huis af en Mikey is in elk geval heeltyd by die huis, voor die televisie of in die yskas as hy nie in die buitekamer is wat sy vir hom reggemaak het nie, besig om op sy computer te werk.

Haar binneste krimp inmekaar van pyn toe sy aan Salome dink. Van verlange. Bekommernis. Liefde. ’n Gevoel van verantwoordelikheid. Wat ook al. Sy weet dis simpel, maar sy kan nie help nie. Seker omdat Salome ’n dogtertjie is, en sy vir die eerste keer ver van haar af weg is, en sy tyd gehad het om te dink terwyl sy so op haar eie Kaapstad toe gery het. En noudat sy hier is, het sy ook niemand om mee te praat nie. Haar gedagtes gaan behoorlik op hol.

Sy’t nooit só oor Mikey gevoel nie. Dit laat haar skuldig voel. Sy is heeltyd besig om teenoor hom te probeer opmaak. Het hom bederf toe hy klein was, doen dit nog steeds. Dalk was dit omdat sy so jonk was toe sy hom gehad het. Of dalk omdat sy so kwaad vir sy pa is, vir haarself. Gelukkig was haar ma daar. Wat sou sy toe sonder haar gedoen het? Nog steeds.

Mikey is ’n groot kind, van geboorte af. Sy’t gedink hy sal uitrek soos hy ouer word, sy koddige ou lyfie sal lank word, en hy sal soos sy pa begin lyk, maar nee. Hy lyk dieselfde. Het net nog meer om die middel uitgesit.

Salome en Mikey se pa is een en dieselfde man. ’n Dubbele fout, glo dit as jy wil. Sy sukkel self om dit te glo. Skaam haar. Om dieselfde fout twee keer te maak, met soveel jare tussenin vol geleenthede om te groei, volwasse te raak, wys te word, uit ondervinding te leer. Dis om van naar te word.

Mikey vermoed lankal sy pa is nie dood soos sy hom kleintyd vertel het nie. Sy en haar ma moes in ’n stadium toe hy oud genoeg was om te verstaan iets laat val het, iets wat in sy kop vasgesteek het. Sy het eendag opgemerk hoe hy na haar kyk wanneer hy haar oor sy pa uitvra en sy nie tyd gehad het om haar gedagtes mooi agtermekaar te kry voor sy antwoord nie. Wanneer sy ’n vraag dalk net ’n bietjie anders antwoord as voorheen, wanneer sy lieg. Dan kyk hy haar op daai snaakse manier aan wat sê hy’s nie onnosel nie, hy weet. Dis asof hy die brokkies wat hy oor sy pa uitvis iewers in sy kop gaan bêre vir later. En die dag gaan kom – die dag waarop hy haar met die waarheid gaan konfronteer.

Maar sy moet nou eers al die bekommernis oor haar kinders uit haar kop kry, dis genoeg om ’n mens mal te maak. Sy moet op hóm fokus, op nou.

Hoe voel sy? Noudat sy hom gekry het? Sy weet nie mooi nie. Sy weet net sy is bang. Wat maak sy as hy volstrek weier, soos sy verwag hy gaan maak? Wie gaan soveel geld sommerso weggee sonder om ’n bohaai op te skop?

“Hy sal nie weier as hy weet wat goed is vir hom nie,” het haar ma gesê net voor sy gery het. “Kry net jou storie mooi agtermekaar, en vertrou. Jy doen die regte ding. Vir jou en die kinders. En dinge sal gebeur soos dit moet, jy sal sien.” Nou klou sy vas aan haar ma se woorde.

Sy klim uit en kyk rond, rek haar bene, buk om haar jeans wat styf om haar snakeskin boots span, af te trek. Sy dra hulle soveel as moontlik, terwyl hulle nog na iets lyk. Sy het in Thailand op die boots afgekom, op haar eerste trippie soontoe danksy haar pa se bietjie erfgeld, toe sy voorraad vir haar winkel gaan koop het. Tannie Rita, haar ma se vriendin, was saam – tannie Rita wat denimhemde en -broeke, versier met kleurvolle plastieksteentjies, op die markte in Bangkok aanskaf, in haar tasse verby doeane smokkel en dan uit haar spaarkamer aan die buurt se tannies verkwansel.

Willemien onthou daai eerste keer goed, dit was in 1997. Sy het dadelik verlief geraak op Bangkok, en kon nie gou genoeg spaar om weer te gaan nie. Dit het haar amper in die moeilikheid laat beland. Op die tweede trippie het sy kredietkaartskuld aangegaan, en dit het lank gevat om terug te betaal. Sy moes op ’n kol amper die boetiek toemaak. Gelukkig het dit haar ’n les geleer. Nou knyp sy af waar sy kan en spaar elke sent, werk soveel as moontlik ekstra skofte by die restaurant sodat sy ten minste een keer ’n jaar kan oorvlieg.

Sy is al ’n paar keer by doeane uitgevang en moes boetes betaal, dit by die prys van haar aankope inwerk, moes partykeer baklei en mooipraat sodat dit nie deur die beamptes gekonfiskeer word nie, maar as sy na die groter prentjie kyk, is dit steeds die moeite werd. Elke keer wanneer sy in die vliegtuig sit op pad Bangkok toe, voel dit asof sy deel raak van die wêreld, die oorsese modewêreld, asof sy na ’n modeparade in Parys gaan. En dan voel dit vir haar net so opwindend om in Bangkok te land soos sy dink dit moet wees om in Parys aan te kom. Haar ma noem dit haar cheap thrills, maar wat weet sy?

Die Oosterlinge is altyd eerste om die Europese catwalks se nuutste modestyle na te boots en vir die jong ready-to-wear-mark op te dis. Háár mark. Dit gee haar boetiek ’n edge oor die ander in Johannesburg. Meeste van hulle is in die gesiene areas en vrek duur. Voer voorraad direk uit Frankryk, Spanje en Italië in. Net die rykes kan daar koop.

“Dís waar die authentics authentic koop,” sê haar ma wanneer sy haar probeer slim hou, “die res shop by jou vir fakes.”

En daarmee kan sy nie stry nie. Voor sy die nuwe Thaise voorraad in haar winkel se vensters uitstal, vra sy vir Devi, die kleremaker in Fordsburg, om van haar gunstelingitems na te maak uit materiaal wat sy by die Oriental Plaza koop. Anders is daar binne die eerste twee weke nadat sy terug is, niks meer van die nuwe style oor nie.

Sy het juis nou een van Devi se toppies aan. Dié klou behoorlik soos ’n tweede vel aan haar lyf vas van die sweet, maar dit beklemtoon haar dun middeltjie en komplementeer haar groot borste, en verkoop soos soetkoek. Devi maak die toppies nou al weke lank in verskillende kleure, hulle kan skaars voorbly. Partykeer slaan hulle die jackpot met iets so eenvoudig soos ’n oorkruistop van lycra, en sy wil nie verniet opgewonde raak nie, maar as dinge só aangaan, kan sy dalk haar skofte by die slaghuis verminder. As die betaling net nie so goed was nie. Sy haat die plek. En sy eet lankal nie meer vleis nie. Dit maak haar naar. Sy’s ’n vegan. Maar nie oor dieselfde redes as meeste vegans nie, het sy al baie aan die klomp by die restaurant verduidelik as hulle ná ’n skof steak eet en sy ’n aartappel met crumbed mushrooms en avokadopeer; dis die massas bloed wat in die plastieksakke opdam waarin die opgesnyde karkasse van die armsalige diere eindig. Die stukke vleis wat deur die meule maal. Gevriesde ledemate, nes dele van menselywe, wat swaaiend aan hake agter in die trok aankom. Die klank van die elektriese saag se lem. Dis iets vreesliks.

Haar top is rooi. Die kleur van oorlog. Van bloed. Die hart. Liefde. Dramaties, maar mens maak allerhande dinge in jou kop op as jy tyd het. Jy dink. Oor hoe jy voel. Of jy die regte ding doen. Sy het haar goed opgewerk, die eerste deel van haar road trip op die N1 op pad Bloemfontein toe. Al het sy een ná die ander podcast oor positive thinking op haar foon geluister. Dit help gewoonlik, dit laat haar beter voel oor haarself, gee haar moed. Maar dit werk nie altyd nie.

In Bloemfontein het sy petrol ingegooi en by die Wimpy ontbyt geëet. Die kar het tyd nodig gehad om af te koel. Toe’t sy hartseer begin raak, haarself jammer gekry. Tyd gehad om te onthou hoe swaar dit was om Mikey alleen groot te maak, hoe swaar dit nog steeds is met Salome ook by, en Mikey wat so sukkel om sy voete te vind. Hoe sy nooit gedate het nie – nie dat die mans nie hulle luck getry het nie. Sy was net nooit op die regte plek nie. Het net nog nooit lus gevoel nie. Dis dalk omdat Mikey ’n moeilike kind was. Sy kon hom nêrens heen vat nie, hy het alles en almal voor die voet gebyt, veral toe hy begin loop het. Die ma’s wat sy deur die crèche ontmoet het, het draaie om haar begin loop, en sy moes hom later uit die skooltjie haal. Gelukkig het haar ma opgehou werk en toe kon sy haar betaal om te help om na Mikey te kyk. Nie dat haar ma betaling wou hê nie, maar sy het aangedring.

Gisteraand het sy op Colesberg in die Royal Hotel geslaap. Sy was doodmoeg, uitgeput ná die lang rit, die trokke, taxi’s en fancy four-by-fours wat haar heeltyd óf van die pad af probeer druk het om verby te kom, óf op haar gat gery het en op die toeter gelê het.

In die hotel se restaurant het sy ongemaklik gevoel. Besef ’n vrou op haar eie is nie veilig in die wêreld nie. Sy het Newlands vir die eerste keer gemis. Die bekendheid, die gevoel van veiligheid. Die paar blokke huise, styf langs mekaar ingedruk op hulle lang, smal erwe, voel soos ’n skans rondom hare; die klein winkelsentrum op die hoek waar haar boetiek en die slaghuis is, en oorkant die straat, die steakhouse en die Chinese takeaway-plek.

Die hotel het haar laat voel asof sy in ’n weird fliek is. In een van daai arty movies waarvan Mikey so baie hou. Toe sy aandete gaan eet het, was dit asof al die mans wat om die ronde eetkamertafels sit beurte gemaak het om haar te bekyk, dít terwyl een van Richard Clayderman se liedjies oor die groot ou speakers in die hoeke van die saal speel. Die waiter het haar gesê dis meestal trokbestuurders en travelling salesmen wat in die hotel oorslaap, min couples kom daar uit en as hy sy was, sou hy maar vroeg gaan inkruip, double-lock en nie verbaas wees as iemand aan haar deur kom klop nie.

En dit was toe ook so, sy moes niks minder nie as drie keer ontvangs bel om mans voor haar deur te verjaag. Sy het gisteraand skaars ’n oog toegemaak, g’n wonder sy voel vanoggend nie haarself nie. Sy is moeg en kwaad. Van voor af opgewerk oor die voor-op-die-wa-houdings van die manlike geslag. Die cheek.

Sy’t douvoordag by die hotel uitgecheck, sonder ontbyt. Op pad weer by ’n Wimpy gestop, die kar kans gegee om af te koel. Dis somer, die Karoo is nie ’n plek waar ’n mens wil gaan staan nie, het oom Boet gewaarsku voor hy die ekstra kannetjie petrol agter in die kattebak gelaai het. Dit, ’n ronde houer met ’n lang plastiekbuis om ’n soort vloeistof in jou band te spuit sou dié langs die pad pap raak, ’n spaarwiel en ’n sakkie gereedskap om ’n band mee om te ruil, is die noodhulp waarmee sy toe uiteindelik vort is.

Dit was in die laaste deel tussen Colesberg en die Kaap dat sy koue voete begin kry het. Haar positive-thinking podcasts het hard deur haar oorfone gespeel, maar sy kan niks daarvan onthou nie. Sy’t paniekerig begin raak, oor alles begin twyfel. Gedink sy maak ’n fout. Sy moes nooit na haar ma en Mikey geluister het nie. Nooit toegelaat het dat hulle haar opwerk en ompraat nie. Sy was op pad na ’n vreemde stad sonder dat sy weet waar sy gaan bly, en dít om ’n man te gaan opsoek wat sy skaars ken. Maar sy’t aangehou ry.

Toe sy uiteindelik in die Kaap aankom, het sy by Monte Vista afgedraai van die N1 af, gestop en op Google Maps gekyk hoe om by Cape Town CBD uit te kom. Dis waar hy bly. Toe soontoe gemik om daar naby blyplek te gaan soek.

Sy staan met haar boude styf teen die kar en rondkyk. Haar handsak is onder haar arm teen haar lyf vasgedruk. Sy hoort nie hier nie. Sy het lank laas soveel mooi mense op een plek gesien. Jonges veral. Weird mans met baarde en meisies met kortbroeke wat diep in hulle boude in optrek. Sy’s nie presies seker waar sy is nie. Sy het Google Maps afgesit toe sy verby die Waterfront die stad inry, dit vreet data en maak die foon vuurwarm. Sy’t gedink sy sal die pad kry, onthou Google Maps het gewys dis net reguit aan en dan links in Buitensingelstraat af. Maar toe draai sy iewers te vroeg in ’n straat sonder ’n naambord in. En hier is sy nou. Sy sit haar donkerbril op en loop die kafee binne om airtime en ’n Coke Zero te koop, en batterye vir die klein waaiertjie wat oom Boet op een of ander manier in die middel van die kar se dashboard staangemaak het.

Sy’t plek gekry in ’n hostel in Gardens. Dis klein. ’n Kamer met ’n badkamer op die eerste vloer. Twee enkelbeddens. Vandat sy die huis twee dae terug binnegeloop het, is daar ’n konstante gewerskaf in die groot deelkombuis onder. Dis asof mense heeltyd besig is om te kook, of koffie te maak, of skottelgoed te was, of met ’n besem teen die kaste te stamp terwyl hulle vee. Dit raas altyd. Dan is daar ook ander gereelde vreemde geluide wat haar in die nagte wakker hou. Die houtvloere wat onder voos ou matte kraak, sleutels wat in die kamerdeure se uitgeslyte slotgroewe krap. Die geritsel van iets wat soos rotpootjies klink in die plafon.

Volgens die eienaar, Jolene, is die gebou oor die honderd-en-vyftig jaar oud en was dit eers die herehuis van vooraanstaande Engelse mense, lord en lady Baxter. Glo verlangs familie van haar. Sy’t Jolene goed uitgekyk en besluit met haar rooi gekleurde hare, plat gesig met sy potsierlike knopneusie, pienk vel vol sproete, en ’n kort, vet lyfie lyk sy allesbehalwe aristokraties. Maar sy’t niks gesê nie.

Jolene vertel haar ná die geboorte van die Baxters se eerste kind is lady Baxter verlam, en het haar man oral in en rondom die huis paadjies vir haar rolstoel laat bou. Bultjies en skuinstes van sement, handvatsels en lendelam relings van koper. Mens sou dit eers nie dink nie, maar dit pas by die plek. Die saamgeflanste, growwe detail is ingeleef en gee alles ’n huislike gevoel.

Bietjie soos haar eie huis se stoepie met sy groen geverfde metaalpale aan weerskante van die sementblad wat oom Boet en Mikey eendag gegooi het. Die afdak wat hulle op Gumtree gekoop en self afgeskuur, oorgeverf en opgesit het. Van haar stoepie af kyk sy graag oor die grasperk uit, oor die beddings wat haar ma vir haar teen die betonmuurtjie omgespit het. Haar ma met haar groen vingers. Mens kan haar ure lank alleen in die tuin los, dis haar gunstelingplek. Sy mis haar ma.

As jy deur die hostel se kombuis by die agterdeur uitloop, is daar ’n tuin. En dis die ander rede waarom sy die kamer gevat het.

By die agterdeur uit, teen die sementskuinste af, loop jy uit oor ’n sirkel gruis, omring met ’n ry netjies gepakte bakstene. Jolene noem dit die kring van die rokers. Daar staan ’n paar deurgesitte draadstoele en twee geroeste metaaltafeltjies rond, met asbakkies wat lank laas leeggemaak is bo-op.

Maak jy jou oë toe, dan hoor jy ’n rivierstroompie iewers kabbel. En as jy die ou, gehawende sementpaadjie volg, net-net breed genoeg vir ’n rolstoel se wiele, verby die ou eikebome met voëlneste aan dun takke wat laag genoeg swaai om jou onverwags teen die kop te klap, verby ’n skarrelende eekhoring of twee, dan kom jy daar uit. By die stroompie, waar Jolene ’n bord opgesit het wat sê ’n mens mag nie rook nie. Daar gaan sit sy op ’n groot klip, haar klein asbakkie in die hand, en rook. En dink. Oor haar geld wat amper op is. Dat sy meeste van haar Thailand-kontant wat sy gespaar het, gebruik het om Jolene vooruit te betaal vir ’n maand se kos en slaapplek. Dat sy nie vir Mikey mis nie, Mikey wat sekerlik voor die televisie sit en kommentaar lewer oor alles, van die nuus tot die weer, tot die rugby.

Mikey. Sy’t al opgegee. Sy los hom. Oorgewig, bleek, ongesond. Hy haal swaar asem as hy opstaan om van die sitkamer af na die kombuis toe te slof om nog ’n pak tjips te gaan haal en sy glas weer vol Coke te gooi. Hy rook nie, en drink ook nie, sê dis ongesond. Kyk haar skeef aan as sy buitentoe loop met haar asbak en pakkie Camels. Haar glas rooiwyn in die hand. En sy vermoed ook hy steek vreemde gewoontes vir haar weg. Sy kan hom nie altyd lekker peil nie. Party Saterdagmiddae, wanneer hy by die agterdeur inkom vir sy eerste koppie koffie, lyk hy soos ’n spook. As sy nie van beter geweet het nie, sou sy dink daar’s oorblyfsels van grimering om sy oë, sy gesig lyk bleker as gewoonlik, en daar’s ook soms wat lyk soos ’n ligte pienk skynsel op sy lippe. Sy vra nie wat hy met sy naweke doen nie, en sy wil liewer nie weet nie. Hy’s ’n grootmens, al bly hy by haar en sorg sy vir hom. Maar sy kan nie help om te wonder nie.

Mikey is ’n entrepreneur wat nou al jare lank sy eie besigheid op die been probeer bring. Dié is kwansuis aan die groei, tot so ’n mate dat hy amper ’n jaar terug al haar garage geannekseer het, terwyl die Cortina buite staan en verbleik in die Hoëveldson. Die Cortina wat sy, nes haar oorlede pa, net uit die garage getrek het om iewers heen te ry, of te was en te polish – wat min gebeur, want alles in haar lewe is so te sê loopafstand van die huis af.

Dis net tydelik, genuine, was die kind se woorde. Ek weet Ma’s heilig oor die kar. Hoogstens ’n paar maande dan’s ek uit die garage. Maar soos die tyd aangestap het, was daar elke keer ’n verskoning. Sy’t laas week eenvoudig genoeg gehad, en net voor sy weg is, het sy hom laat belowe hy trek uit terwyl sy in die Kaap is, en sy soek haar sleutel terug. Wat alles daar binne aangaan, weet die duiwel alleen. Daar’s oor as genoeg plek in sy kamer, hy moet net skoonmaak, plek maak. Hy sê sy werk neem baie spasie op. Dit het iets met IT te doen. Hy is besig om ’n app te ontwikkel, en te bou. Hy sê dis waar alles heen op pad is. Die tipiese loopbaankeuses is outdated. Alles gaan online. Studies, alle soorte verkope en aankope, dating, alles. Robotte is die toekoms. Die wêreld is anders as toe sy jonk was. Tegnologie het alles verander. Sy glo hom, of wil hom glo. Hy’s tog slim, nes sy pa.

Sy het sy pa op ’n sokkieaand ontmoet toe sy met ’n staatsbeurs onderwys op Potchefstroom gaan swot het. Dit was haar ma wat aangedring het dat sy iets agter haar naam moet kry, al het haar ma geweet sy spaar haar pa se erfgeld om eendag ’n boetiek oop te maak. “Net vir ingeval dit nie werk nie, dan het jy iets,” het sy gesê.

Willemien was so reg in die middel van haar Courtney Love grunge-stadium, haar hare geperm, in ’n ekstragroot wit T-hemp met ’n blink rooi hart op en stywe jeans. Hy’t langs haar op die lang kerkbankie in die saal kom sit. Sy was die enigste een op die bankie. Sy het cool probeer lyk, asof sy nie omgegee het dat sy nie gevra is om te dans nie, dat sy nie soos ’n weirdo, soos die HK haar noem as hulle haar uitruk, gelyk en gevoel het nie. Hy’t haar vertel hy’s ’n besoekende junior lektor by die Potchefstroomse universiteit. Hy’t verveeld geraak in sy woonstel en toe onthou die studente in die klas het gepraat van ’n sokkie.

Hy was aantreklik, en sjarmant. Lank en maer. Sy het trots gevoel dat hy langs haar gesit het, dat hy belanggestel het in wat sy sê. Dat hy geweet het van Kurt Cobain, van die Crash Test Dummies, die Cowboy Junkies, en gesê het sy lyk hopeloos te cool vir Potchefstroom.

“Kom saam met my dorp toe,” het hy gesê, sy oë op die klomp sokkiedansers wat om en om van een hoek na die ander swaai, elmboë en pinkies windskeef in die lug. “Daar’s ’n disko waarvan jy sal hou.”

“Kan mens los dans daar?” was al waaraan sy kon dink om te sê. “Ek’s nie goed met sokkie nie.”

Hy het haar aan die hand regop getrek. “Kom, ek gaan koop vir jou ’n gin en tonic.”

Sy was verlief. En sy het nie omgegee om later in die disko op Van Morrison se “Brown Eyed Girl” met hom vas te dans nie. Sy was toe besig met haar derde gin en tonic, tipsy, die aand was haar eerste kennismaking met alkohol. En ook haar eerste one-night stand. Sy’t toe nie geweet daar bestaan so iets nie, of dat dit dít was wat die aand met haar gebeur het nie. Eers later het sy besef. En ook agtergekom dat ’n one-night stand die res van jou lewe kan verongeluk.

Nou, hier in die tuin, haar boude koud teen die rots, haar sigaret en asbakkie in haar hande, probeer sy om nie aan sy naam te dink nie. Aan hoe sy in die koshuisgang in ’n tou teen die muur gestaan en wag het, gehoop het, soos baie van die ander meisies op wie sy neergesien het en wat sy bejammer het, vir die foon om te lui. Net vir ingeval. Dae en toe weke het verbygegaan. Sy het nooit weer van hom gehoor nie.

Sy het haar studies opgeskop. By haar ma en oom Boet ingetrek, vir Mikey gehad. Toe die kind begin mens raak het, hom gesê sy pa is dood, en vir alle praktiese doeleindes was hy. Begin waitress om haar verblyf te betaal, haar studieskuld, wat jare gevat het.

Daar was een of twee mans ná Mikey se pa, sy het probeer. Maar kon dit nie regkry om weer te voel soos sy daai aand gevoel het nie. Dis asof sy al die gevoelens wat mens ooit vir iemand anders as jou kinders kan voel, op een slag opgebruik het. Sy was leeg. En sy het opgehou probeer. Gewerk en Mikey grootgemaak. Dit het haar besig gehou.

Maar toe, presies twee-en-twintig jaar later, sien sy Mikey se pa weer by ’n universiteitsreünie. Uit die bloute. Sy kon dit amper nie glo nie. Sy was saam met tannie Rita se neef, Fred, daar. Fred het pas geskei. Sy wou eers nie saam met hom gaan nie, sy was bang hy kry die verkeerde idee, maar tannie Rita het aangehou. Mooi gevra. Gesê hy’t nodig om bietjie uit te kom, en dit sal sy aandag aftrek, hom daaraan herinner dat hy jare gelede ’n topstudent was.

Sy het gedink haar hart gaan staan. Die jare tussenin het eenvoudig weggesmelt. En dit was nie moeilik vir hom om weer ’n gat in haar kop te praat nie. Haar weer te gebruik en weer te los nie. Al het hy dié keer eers beloftes en mooi praatjies gemaak. Selfs jammer gesê oor die eerste keer. Verduidelik hoe jonk hy was, hoe deurmekaar, hoe hy homself eers moes vind. Selfs die weermag die skuld gegee.

Leer jy dan nooit? sal dié wat sinies is hulleself afvra, dié wat rasioneel oor die liefde kan dink. Ander mense. Nie sy nie. Sy het sy liegstories geglo. Hy bly in Londen, hy is in Johannesburg vir sake. ’n Konferensie. Hy en sy vrou is op die punt om te skei. Ja, daar is ’n kind – die enigste halwe waarheid – en dis hoekom hulle die ding tussen hulle vir eers moet stilhou. Die ding? Sy kon nie help om opgewonde te raak nie. Hy dink daar’s ’n ding tussen hulle. In haar oë was dit commitment. Hoe dan nou anders?

Sy wou hom sê van Mikey. Maar dis asof haar geheim oor die jare in haar binneste versteen het, ’n swaar klip wat so deel van haar geword het dat daar niks was om daaroor te sê nie.

En toe doen hy dit wragties weer; hy verdwyn net eenvoudig van die aardbol af. Sy was vir weke ná hy weg is hoopvol; het gedink aan sy laaste soen, hoe hy haar gesig in sy hande vasgehou het en in haar oë gekyk het, belowe het hy bel haar sodra hy in Londen aankom. Net om weer met niks te sit nie. En of dit nie erg genoeg is nie, vind sy uit sy is weer swanger. Sy kon dit nie glo nie. Sy’t dit gaan google, gedink sy’s te oud. Maar sy was verkeerd, volgens al die websites was sy baie gelukkig om swanger te raak, is dit amper ’n wonderwerk. Mense betaal duisende rande vir die voorreg om op haar ouderdom ’n baba te kan hê. En of dít die rede was waarom sy by die aborsiekliniek in haar spore omgedraai het, weet sy nie. Maar sy kon dit eenvoudig nie oor haar hart kry om in te gaan nie.

Toe, nou, ’n maand of wat terug, sien hulle hom op kykNET. Haar ma en oom Boet het die aand kom kuier. Hulle het gesit en televisie kyk, almal in ’n ry, Mikey met die remote in die hand. Salome net in die bed. Hy was ’n gas op ’n nuusprogram en het verduidelik hoekom hy dink Oscar het vir Reeva geskiet.

Sy het yskoud geword, haar hart het só in haar bors te kere gegaan sy was bang die ander voel dit daar waar hulle ingeryg op die bank gesit het.

Mikey het hom eerste herken. Met die remote na die TV toe gewys, voor hy per ongeluk die knoppie gedruk het wat die kanaal verander. Toe almal terselfdertyd hard met hom raas, sê hulle was besig om te kyk, toe weet sy. Haar ma en oom Boet het hom ook herken. Hulle het hom daai tyd ontmoet toe hulle soos gewoonlik een aand ongenooid by die agterdeur ingeloop het om te kom kyk hoekom sy so stil is. Hulle was bekommerd. En só verras om ’n man in haar kombuis raak te loop dat hulle baie vinnig weer daar weg is, glo op pad iewers heen. Maar hy is nie iemand wat ’n mens maklik vergeet nie. Sy weet.

“Oukei, oukei, julle. Jeez Louise.” Mikey se irriterende sêding, nog steeds. Toe die TV weer op die kanaal teruggeskakel is, sê hy: “Dis daai ou, nè, Ma? Die een wat Ma gewine en dine het vir ’n week en toe gewaai het. Ma wou hom mos nie voorstel nie, julle was altyd vinnig in en uit die huis, ek onthou nog goed. Salome se pa.”

En joune, het sy gedink, maar niks gesê nie.

Toe leun Mikey verby haar ma en kyk na haar. “Sy gaan seker ook nooit weet wie’s haar pa nie, nè, Ma? Sy gaan seker ook vertel word hy’s dood?”

“Mikey! Stoppit, oukei?” het haar ma gesê.

“Sjuut, julle!” het oom Boet hulle probeer stilmaak. “Laat ons luister wat sê die man.”

Sy kon niks hoor nie, sy’t net na hom gekyk. Sy gesig, skoon en oop. Stoppelbaard wat haar kielie. In haar nek. Effens bruingebrand, nie te veel nie. Londen? Sy lippe nie te dik of te dun nie. Sy lang bene luilekker voor hom uitgestrek. Teen haar lyf. Sy hande rustig op sy skoot. Om haar borste. Sy kon sien, duur hemp en broek, leerskoene. Toe flits sy naam en van op die skerm, en die plek waar hy bly. Kaapstad.

“Hy’s ’n dokter, Ma,” het Mikey gesê, sy stem amper eerbiedig. “Wow. Salome lyk bietjie soos hy, dink Ma nie ook so nie? Daai trek om sy mond.”

Jy ook. As jy gewig verloor. Jy loop soos hy. Soms, as jy wegstap, dan sien ek. Die manier waarop jy jou bene so vooruitskop. Asof jy hulle uit hulle potjies sou kon skop, as jy wou.

Dis toe dat haar ma na haar toe draai en haar in die oë kyk, arms gevou. “Dis nie reg nie, weet jy, Mina,” het sy gesê, “dat die mans almal so wegkom met moord. En nogal ’n dokter. Hulle rol behoorlik in die geld. En so ewe op TV. Oop en bloot.”

“Oscar het nie weggekom met moord nie, hy sit in die tronk,” het Mikey gesê.

“Shut up, Mikey.” Hy het haar ma begin irriteer. Sy kon sien.

“Dis nie ’n skande om vir die pa van jou kind te sê om na sy kind te help kyk nie. Dis wat ons vroue dink. Ons vat alles op ons. Kyk nou vir jou. Daar werk jy in ’n slaghuis en probeer terselfdertyd jou boetiek aan die gang hou. Jou droom. Jy waitress nou ook al hoe lank om kop bo water te hou. Jy kry swaar. En dan bly jy hier. Dis nie die beste deel van Newlands nie. Jy moes anderkant die hoofpad gekoop het. Dié kant raak al hoe meer vervuil van die uitlanders. Hulle’s ’n gevaarlike klomp.”

Toe draai haar ma na oom Boet toe. Hy het doodstil voor hom uitgestaar, vroetelend aan die pyp en die pakkie tabak in sy hande. Sy kon sien hy was reg om op die stoep te gaan staan vir sy dampie. Sy ook.

“Daar’s net een ordentlike man wat die Goeie Vader op die aarde gesit het, en dis Boet.”

Sy kon sweer hy’t gehop toe haar ma sy naam sê; haar ma het so ’n manier, sy sê jou naam hard as sy met jou praat, asof sy wil seker maak jy luister.

“Wat van my, Ouma?”

“Jy’s nog nie ’n man nie, Mikey.”

“Ek is!”

“Ek’t jou nog nooit saam met ’n meisie gesien nie.”

“So what?”

“Jy sit heeltyd agter jou computer. Dis nie hoe mens ’n man word nie. Jy het ’n ander mens nodig daarvoor. Is jy nie dalk skeef nie? Jy lyk partykeer vir my so, weet jy. Jy kan bly wees jou oupa leef nie meer nie. Dít sou hom nou vroeg graf toe gestuur het as dit nie vir die kanker was nie. ”

“Ma!” Sy kan haar ma se nek omdraai as sy eers met haar gay-stories begin.

“Wat weet Ouma?” Mikey was dié keer goddank kalm. “Ouma is old school. Mens ontmoet deesdae mense online. Hoe weet Ouma waarmee ek besig is as ek myself nie doodwerk nie?”

“O,” het haar ma gesê, “so, sê jy jy’t nuus wat jou ouma se hart gaan bly maak?”

Mikey het sy kop geskud. Oordrewe gesug. “Ek sê mos. Ek werk heeltyd, Ouma, dag en nag. Dit vat tyd om ’n nuwe besigheid van die grond af te kry. Ouma weet seker van Steve Jobs en die ouens van Google? Hulle het almal uit hulle garages gewerk toe hulle jonk was. Programme design. Mét universiteitsgrade. Ek het niks, Ouma. Ma het nie geld om my universiteit toe te stuur nie. Ek moet myself help. Ek moet ekstra hard werk. Wys Ouma vir my ’n meisie wat ’n ou wil hê met niks agter sy naam nie, en boonop met niks geld in die bank nie?”

Toe kom hy met die idee vorendag. “Ek dink Ma moet hom in Kaapstad gaan soek.”

Sy’t haar dom gehou. “Ek moet wat?”

“Hom gaan soek, Ma. Salome se pa.”

“Vir wat?”

“Vir onderhoud. Vir alles wat hy Ma al die jare skuld.”

“Wat bedoel jy, al die jare?” Sy het senuweeagtig begin raak.

“Ek bedoel kinders is duur, Ma. Ma kon vir ’n ruk nie voltyds werk nie. Hy moet Ma alimony ook betaal. Nie net onderhoud nie.”

“Ja, weet jy,” het haar ma gesê, “Mikey is reg. Dis nie ’n slegte idee nie.”

Mikey het teruggesak op die bank, arms gevou. “Dankie, Ouma. So ek kwalifiseer nou as ’n mens?”

“Amper. Maar nie as jy skeeftrek nie.”

“Ma! My genade maar Ma is knaend!”

Die arme kind. Hy raak al sensitief daaroor. En wie sou nou nie? Iemand wat so aanhou karring en karring oor dieselfde ding. Hy’s kapabel en begin dit oor homself te dink. En dis die laaste ding wat hy nou nodig het. Om deurmekaar te raak oor sy seksualiteit. Nie dat sy omgee of hy gay is of nie, kyk mens hom so, dan’s jy as ma maar net te bly as iemand hom ’n kans wil gee.

“Ek het jou die kriteria gegee, Mikey. Wys my. Kry ’n meisie.”

Mikey het sy arms gevou, dieper in die bank afgesak en na die TV gestaar.

Toe kyk haar ma na haar en stamp haar teen die skouer. “Ek sê mik hoog en kyk hoe ver jy kom.”

“Wat bedoel Ma?”

“Sê jy wil ’n miljoen hê.”

“’n Miljoen wat?”

“Rand.”

“Ma wil hê ek moet hom geld vra?”

“Ja.”

“Hoekom dink Ma sal hy vir my ’n miljoen rand gee?”

“Want hy skuld Ma, big time,” het Mikey skielik gesê en homself regop getrek. Toe kyk hy weer so vir haar. So asof hy weet. Sy haat dit. Sy kyk altyd eerste weg.

“Want mens kan sien, Ma. Hy’s van daai soort. Hy’s ’n dokter. En dokters is skatryk. Ek’s seker hy het ’n vrou en ’n string kinders. Hulle weet van niks. Dat hy nóg ’n kind het nie. Wie weet, dalk is daar meer. Daai soort het nie net een girlfriend nie. Of een buite-egtelike kind nie.”

“Jy sê ek moet hom afpers?”

“Nee, Ma. Ma moet hom net kans gee om sy verantwoordelikhede na te kom.”

“Hoe’s dit anders as afpersing?”

Toe kyk haar ma vir haar stiefpa. “Oom Boet het mos ’n rewolwer. In die kluis. Jy kan hom saamvat.”

Mikey het uitgebars van die lag, die kanaal verander na een van kykNET se musiekkanale toe wat vir haar net soos Afrikaanse Bollywood-musiek klink.

“Go, Ouma!”

“Wat?” Sy kon haar ore nie glo nie. “Is julle almal kop in een mus?”

Oom Boet het in sy vuis geproes. Toe kan sy ook nie help om te lag nie.

“En wat’s miskien so snaaks?” Haar ma was verontwaardig. Haar stemtoon die een wat haar gewoonlik haar sin laat kry. Ten minste met oom Boet. Dis hoe sy hom al jare lank op sy plek hou. Hy met sy sagte hart, wat nog steeds met leepoë na haar ma kyk. Soms lyk dit of haar ma nie sien hoe hy vir haar kyk nie. Dalk is dit hoekom hy so hard aanhou probeer.

“Saamvat waarheen? Is Ma ook nou mal?” het sy gevra.

“Saamvat Kaap toe, Mina. Moenie maak asof jy nie verstaan nie.”

“Mikey sê ek moet hom afpers, Ma sê ek moet hom skiet as hy nie vir my ’n miljoen rand wil gee nie?”

“Nee, man! Ek sê nie jy moet die arme sot sommerso voor die voet afmaai nie. Dis nie nodig om gewelddadig te raak nie. Ten minste nie dadelik nie. Waarsku hom net.” Toe wys sy haar, staan op en beduie. “Hou die rewolwer aan die binnekant van jou baadjie, dan maak jy hom só oop terwyl jy praat. En dan maak jy die baadjie weer toe.” Toe kyk haar ma na oom Boet. “Maak jy net seker daar’s nie koeëls in die rewolwer nie, hoor, as iets fout gaan, blameer ek jou.”

Oom Boet was stom.

“Ma kyk te veel soapies,” het sy gesê en opgestaan. “Is die program opgeneem, Mikey?”

“Ja, Ma.”

“Oukei. Ek wil môre weer bietjie kyk, ek kon niks hoor wat hy gesê het nie, julle met julle mal idees.” Toe’t sy gaan tee maak.

Maar later het sy daaroor gedink. Toe haar ma-hulle weg is huis toe en Mikey buitekamer toe. Dit was asof die idee minder mal begin klink het in haar kop. Sy dink dis hoe mense wat te veel fliek kyk gewoond raak aan dinge, goed wat hulle op die skerm sien self uitprobeer. Toe begin sy dink wat sy alles met ’n miljoen sou kon maak. Begin droom. Sy kan ophou in die slaghuis werk, wegkom van die vrot plastiekboots wat nooit heeltemal dig genoeg voel nie, dis asof die diere se bloed deursypel tot onder haar voete, veral wanneer hulle die plastieksakke om die karkasse van die abattoir af losmaak en die bloed en etter op die sementvloer uitspat. Sy kan dan op die boetiek fokus. Voltyds. Selfs iemand aanstel. ’n Saleslady. Dan kan sy soveel as wat sy wil Thailand toe vlieg en terugkom met bokse vol wettig ingevoerde klere. Of fancy raak en klere uit Parys invoer. Regte labels. Nog boetieks oopmaak, die land vol, wie weet, die wêreld vol. Haar ma sê mos mens moet hoog mik. Jy weet nooit wat jy tref nie. Sy sal ordentlik vir Salome kan sorg. En Mikey. Lyk nie of hy ooit op sy eie sal regkom nie. Sy sal kan ophou waitress. Sy sal die huis kan afbetaal. ’n Miljoen rand. Wat beteken dit vir iemand soos hy? Hoekom moet sy weer haar kind wegsteek om ’n man se onthalwe? It’s payback time. Haar ma en Mikey is reg. Sy het braaf gevoel.

Maar nou, hier langs die stroompie waar sy begin koud kry ná die hoeveelste sigaret, voel sy nie meer so braaf nie. Al is oom Boet se rewolwer sonder koeëls en al is dit toegesluit in haar tas onder haar enkelbed bo in die losieshuiskamer, kan sy nie help om te dink hulle stuur op ’n ramp af nie.

Die boek van gelukkige eindes

Подняться наверх