Читать книгу Die boek van gelukkige eindes - Debbie Loots - Страница 8
John
ОглавлениеTerwyl hy oopsluit, ruik hy die Brasso waarmee Gloria Dinsdae die kopernommers teen sy woonstel se deur blinkvryf. 21. Sy gelukkige nommer. Binne hang vanoggend se reuk nog in die lug. Gebraaide uie, spek, meestal eier. ’n Sweem van sy vorige aand se wynasem. Handy Andy. Die Cobra-politoer wat Gloria hom altyd vra om te koop vir hout en gelamineerde vloere. Hy maak die kombuisvenster oop, loop deur die sitkamer. Op die stoep lig hy sy sak van sy skouer af en skuur verby die droograk, die twee plastiekstoele, en verby die tafel waaroor sy groen trui netjies op ’n handdoek uitgelê en platgedruk is soos sy ma altyd met sy truie gemaak het. Hy het Gloria gewys.
Hy maak die venster oop. ’n Sterk seewierreuk kom in. Daar is ’n spesifieke ritme in ’n plek se klanke, het hy besef vandat hy in Seepunt bly. ’n Paar seemeeue krys en swiep deur die lug. Hulle verdwyn agter ’n woonstelblok. Hy probeer die see hoor. ’n Boorpunt klap iewers teen sement – ou woonstelblokke maak plek vir nuwes.
Die klank van branders wat vroegoggend teen die promenade se klipwal breek, word later deur Kusweg se verkeer geabsorbeer, en party somermiddae klink die wind se geloei om die woonstelblok soos die onheilspellende gefluit van hekse. Dis stil vandag.
Op pad terug kombuis toe gooi hy sy sak op die bank neer en maak koffie in die Nespresso-masjien met een van die twee Milanogeur-pods wat nog oor is in die lang, elegante boksie. Dit laat hom soos ’n ryk man voel. Die dag toe sy afdankingsgeld en pensioen in sy bankrekening inbetaal is, het hy Waterfront toe gery en die masjien gekoop. Net mooi ’n jaar gelede. Die Sondag daarna het hy by sy ma gaan kuier in die aftreeoord buite Somerset-Wes, met sy slegte nuus op die hart.
“Moenie worry nie. Ek gaan vryskut, Ma,” het hy gesê. “Almal doen dit deesdae. Hulle werk van die huis af. Mens spaar geld so, die maatskappye en die joernaliste.”
Toe sy niks sê nie, het hy gesê hy het in elk geval ’n paar goed in die pyplyn wat hom sal deurdra. Dat hy weer opgewonde is oor sy lewe, dat hy kies om die afdanking te sien soos die base dit aan hulle probeer verkoop het: ’n geleentheid om oor te begin. En dit is so. Hy het homself oortuig dat die direkteure omgee oor hulle toekoms, hulle vier fiftysomethings wat soveel jare lank die koerant se getroue diensknegte was. Daar was selfs ’n gasspreker, ’n soort moderne career-guide-slash-life-coach, toebroodjies en tee. Hy het die moeite waardeer.
“Skryf online, begin ’n blog,” het die outjie hulle aangemoedig. ’n Jong man met ’n baard, blink oë en ’n hemp vol helder, vaagweg bekende blompatrone waarvan hy nie kon wegkyk nie. ’n Glasbotteltjie water in die hand. “Raak ’n ekspert oor iets, skep ’n profiel sodat mense van jou weet, jou sal onthou. Laat iets na, die internet is die wêreld se vertoonkas waarin elkeen se eie spesiale karakter uitgestal kan word. Gebruik dit. Nou’s jou kans. Dis nie te laat nie.” Hy het sy hand met die botteltjie in hulle rigting aanhou druk, sy pinkie en ringvinger in die lug. “Júlle is die mense met kennis. Júlle kan ons leer. Júlle kan húlle leer,” het hy gesê en met die botteltjie wyer beduie, na die venster toe gewys.
Skalkse kollegas wat dit gewaag het om in hulle rigting te kyk, kon hulle deur die glasvenster binne die kantoor sien, sien hoe begeesterd hulle is, sien dat hulle nog lewe het, durf aan die dag lê, met hoeveel oorgawe hulle die reddingsboei gryp wat na hulle gegooi word – ’n aanlynkursus deur ’n millennial. Binne-in die bedompige kantoor het hulle saamgesels, uitbundig handgebare gemaak, hulle gesigte só getrek dat dit lyk of hulle belangstel in die antwoorde op die vrae waarmee hulle die jong man peper. Gryp dit of verdrink.
Hy wou nie kyk nie, wou niemand se oog anderkant die venster vang nie.
Dit het hom laat dink aan toe hy ’n kind was. Toe sy ouers hulle foksterriër, Vlekkie, weggegee het vir ’n tannie met ’n beehive en ’n stywe blou crimplene-rok. Hy onthou sy het hom in ’n ou Datsun kom haal, en hoe Vlekkie ingespring het toe sy die kar se agterdeur oopmaak, so asof hy haar al jare lank ken. Met sy bek oop, sy tongetjie uit en sy borsie al hygende het hy op die sitplek gaan sit en vorentoe bly kyk, so asof sy lewe daarvan afhang. Hy’t John geïgnoreer toe hy hom roep. Selfs toe hy begin huil het, het Vlekkie hom geïgnoreer. Want sy wêreld sou inmekaarstort as hy per ongeluk een van sy mense se oë vang, dié vir wie hy lief was en wat hom verraai het. Vlekkie moes sterk wees. Sy mense was nou die vreemdelinge. Die nuwe tannie sy redder.
Hy het saamgespeel. Ingeskryf vir die man se nuwe aanlynkursus wat dié self ontwerp het. Hulle almal het. Daar was ’n kortstondige oomblik van euforie in die lug, in die kantoor van die redakteur wat hulle die vorige dag met ’n verskonende uitdrukking op haar gesig afgedank het. In ’n paar sinne verduidelik het wat almal seker verwag het gaan kom. Die onstuitbaarheid van tegnologie. Dis niemand se skuld nie. Dit is wat dit is. “Is dit nie exciting times nie, julle?”
Toe gaan sy op vakansie, kon hy nie help om te dink nie, weke later toe die stof gaan lê het en hy steeds sukkel om die kursus te verstaan en klaar te maak. Sy het die pad gevat en dit aan ’n millennial oorgelaat om haar vuilwerk te doen. Met leë beloftes in sy hand. John het sinies geraak. Wie sou nie.
En hy het probeer, ná hy die kursus net-net deur is. Aanlynskryf. Aangesluit by oorsese websites wat werk belowe, blogs geskryf vir ’n Amerikaanse maatskappy oor die kuns van barbeques maak. Dis mos eenvoudig braai. Is hy nie ’n ekspert nie? Hy was. Hy het geskryf vir minder vergoeding as wat hy destyds as jong verslaggewer by The Star verdien het. Dié uiters vernederende betaling en die ongemaklike gedagte dat hy ’n sogenaamde ekspert moet wees, homself moet verkoop as een – is die hoofredes waarom sy kortstondige loopbaan as aanlynskrywer gesneuwel het. Dít, en die koue vreemdheid van die medium. Hy het eenvoudig nie ’n aanvoeling daarvoor gehad nie.
Sy fut was skielik uit. Dalk was hy ’n ruk lank selfs effens depressief. Toe dit hom tref dat hy niks meer het om te bewys nie, niks meer het as wat hy het nie. Hy kan die wêreld net gee wat hy is, en dis nie veel nie. Hy het niks meer in hom om mense te oortuig hy is iemand, ’n ekspert, nie. Dit moet goed genoeg wees. Dis al wat daar is.
Toe kontak hy oudkollegas. Kry hier en daar iets. Verkoop sy dienste as algemene vryskutskrywer en fotograaf aan koerante, tydskrifte. Hy’t ’n reeks onderhoude gevoer met akteurs uit die tagtigs, hulle gaan uitsnuffel, nuusjagter van ouds, weer gevoel hy’s in sy vel. Van hulle is oorlede en hy moes met hulle families gesels, ’n interessante invalshoek, ander het boeke geskryf, twee keer vetter geword en Orkney toe getrek om te help om na die kleinkinders te kyk, of advertensiewerk probeer, of ’n rol in ’n sepie vertolk. Huisgenoot het sy reeks stories gekoop, elke tweede week ’n ander akteur se lewensverhaal vir hulle lesers opgedis. Rigor mortis.
Die pyplyn droog maklik op, het hy gou besef. Veral as daar nie ’n gereelde toevloei van ’n aard is nie. Niks loop vanself nie. Hy het ’n entrepreneursvonk in homself ontdek, was vir ’n ruk beïndruk daarmee. Net gewens dit kon vinniger ’n groter inkomste oplewer.
Hy het Chris ook laas jaar gebel, so ’n paar maande ná sy afdanking, dankbaar oor hulle jare lange halfhartige pogings om kontak te behou. Hy het ’n vriend nodig gehad. Iemand wat hom ken. Chris het hom genooi om by hom en sy nuwe vrou en baba te kom eet. Die vrou wat Chris wie weet waar so vinnig uitgekrap het ná sy egskeiding. Hy kon sien die man was nog nie heeltemal oor sy eks nie. Hy het telkemale met Chris en Connie gekuier. Hy onthou sy raak maklik half stug, buierig en ongelukkig. Asof sy al een in die lewe is met probleme. Hy het Chris jammer gekry destyds. Dit het gelyk asof hy sy bes doen om haar tevrede te hou. Iets wat hy klaarblyklik nie kon regkry nie.
Hulle vriendskap het op hoërskool begin, toe hulle besef nie een van hulle hou van rugby nie. Hulle het saamgestem dis ’n aggressiewe, barbaarse sport, dat dit nie net gebreekte arms en bene veroorsaak nie, maar veral frommelore; die ergste lot vir twee adolessente seuns wat selfbewus is oor elke nuwe puisie wat kop uitsteek, oor hulle kuiwe wat pouses netjies gekam moet word voor die badkamerspieël, hulle onverwagse ereksies rondom blosende meisies met vlegsels en poniesterte, stywe borste en boude.
Hulle was onafskeidbaar, het saam tennis gespeel, debatskompetisies gewen. Hulle was ’n gedugte span. Nou dink hy hulle was bloot bang. Bang vir die groot ouens wat soos ape gelyk het met hulle lang arms, kort bene en dik nekke in stywe rugbytruie, wat pouses in die gange amok probeer maak het, met alles en almal skoor gesoek het. Met die meisies. En met sissies, soos hulle. Dít terwyl die onderwysers agter die personeelkamer se toe deur sit en tee drink en toebroodjies eet. Hulle was nie so gebou nie, soos daai ouens nie, hulle was lank en maer. En lomp. Hy het gereeld oor sy eie skoene geval, hulle het altyd te groot vir hom gevoel, sy voete wat los rondskuif binne, tone wat omkrul in sy kouse. Hulle het mekaar nodig gehad, hy en Chris. Hulle twee bleeksiele. Twee is beter as een.
“Julle blerrie lelle. Julle is nikswerde, man! Bangbroeke. Soek net verskonings vir julle lafhartigheid. Seker moffies. Julle mors my tyd. Sokker speel? Waar val julle uit? Fokkof hier uit my saal uit.” Meneer Van der Westhuizen het hulle sorgvuldig uitgewerkte voorstel opgeskeur en dit in Chris se hand teruggedruk. Hy het rugby afgerig en sy grootste missie in die lewe was om al die seuns op die veld te kry. Sport hou hulle uit die moeilikheid, het hy geglo. Dis die antwoord op sigarette en dagga rook, suip en meisies op die paal sit. Dit, Sondae in die NG Kerk en ’n paar gereelde houe oor die gat met sy lat vir die wis en onwis.
Hulle het gedink hy sou beïndruk wees met hulle proaktiewe idee om ’n sokkerspan by die skool te begin. Die ouens by die Engelse skool het dan sokker gespeel. Hulle het hulle navorsing goed gedoen, was trots daarop. Daar was dan soveel voordele aan ’n kontaklose sport, waarom nie? Hy sal die minagting op meneer Van der Westhuizen se gesig nooit vergeet nie. Hy bloos nog steeds daaroor.
Toe hulle uit die saal loop, het John vir Chris gepootjie. Met sy groot skoen was dit nie moeilik nie. Dit was ’n verbouereerde, onwillekeurige reaksie, ’n ongeluk, sal hy tot vandag toe volhou. Chris het soos ’n os op die houtvloer neergeslaan, die stukkies papier met hulle grandiose sokkerideale het ver en wyd deur die lug gefladder. Chris het opgespring, hom lomp in die sy probeer stamp voor hy amper weer neergeslaan het. Hy het liewer nie gekyk nie, maar hy dink hy kon meneer Van der Westhuizen deur sy neus hoor blaas van ontsteltenis terwyl hulle rondgeskarrel het om die stukkies papier op te tel.
Maar hulle het ander talente gehad. Chris was op skool al terapeut, nog voor hulle weermag toe is en lank voor hy sielkunde gaan swot het. Altyd besig om mense se probleme op te los. En hy was goed daarmee. Natuurlik. Het boonop ’n slag met die meisies gehad. Glad met sy mond, altyd vol lof. Hy’t klein detail opgemerk wat elkeen spesiaal laat voel het, hulle maklik op hom verlief laat raak het. Hy het baie by Chris geleer. Hom fyn dopgehou. In sy kop aantekeninge gemaak, tips opgetel.
Hy wou ’n joernalis word, of ’n fotograaf. Hy het elke uitgawe van sy pa se National Geographic-tydskrifte van voor tot agter deurgelees, geleer daar’s iets soos photojournalism. Al twee sy liefdes in een. Hy het nooit getwyfel nie.
Hy was ook van kleins af lief vir skets. Sy ouma het altyd gesê hy het ’n oog, en sy tekeninge praat met mens. Dit raak lewendig. En dit kon enigiets wees. Van ’n ou waskom met appels op die kombuistafel se plastiektafeldoek, tot ’n vinkie wat al swaaiende nesskop in een van die doringboomtakke agter die huis. Toe sy ouma vir hom ’n stel akrielverf en ’n klomp kwaste vir sy veertiende verjaardag koop, het hy begin skilder.
Toe hy sestien was het hy sy eerste kamera gekoop met naweekgeld wat hy by die Spur verdien het. Dit het hom ses maande gevat. Hy was die eerste een in hulle nabye familie wat sy eie Kodak gehad het. En hy het botweg geweier om gewone, alledaagse foto’s te neem; die Kodak was vir kunssinnige foto’s bedoel, soos sy ouma dit genoem het. Sonsondergange, insekte wat in die vroegoggendlig uit hulle gate kruip, ’n uil wat laatnag vir ure op die lamppaal voor hulle huis kom sit.
Hy was heilig oor sy kamera, het dit vir niemand geleen nie, niemand het hom later gevra nie. Selfs sy pa het hom nie gedwing om vir ander mense foto’s te neem uit goeie maniere nie, hy dink hy was trots op hom; hy het saam gekyk na alles wat hy afgeneem het as hy sy stelle foto’s by die huis aangebring het, asof dit bewys was dat die Kodak bedoel is vir groot dinge, nie banale foto’s van tannies se ooievaarstees en ooms se jagveldekspedisies en trofees nie.
Hy het sy toekomsdrome rondom sy Kodak gebou. En sy stories. Geoefen om soos die joernaliste in National Geographic te skryf. Homself geleer hoe om ’n storie aanmekaar te sit. Besef dis soos om ’n prentjie met woorde te skryf, baie soos foto’s neem.
Toe kom die weermag. Hulle is opgeroep en het ná basiese opleiding saam op die grens beland. Hulle moes oornag grootword en oorleef. Trauma ervaar. En trauma, dink hy, bring die beste of die slegste in jou uit, jy leer iemand vinnig ken. En dit was amper asof hy en Chris mekaar té goed leer ken het, van alles gestroop het hulle te veel gesien. Die uitdrukking “om die naakte waarheid in die gesig te staar” het vir hom nuwe betekenis gekry. Vervreemding het ingetree. Dit was soos ’n spook, iets wat jy nie kon sien nie, maar heeltyd kon voel dis daar.
Ná hulle twee jaar in die weermag het hulle nooit weer daaroor gepraat nie. Nie met mekaar nie. Hy weet Chris het ’n sielkundige gaan sien, die wyse ding om te doen, en dit het hom seker finaal op sy lewenspad gerig, nadat hy die waarde van die terapeutiese proses eerstehands ervaar het.
Toe’s Chris Stellenbosch toe, en daarna het hy ’n ruk lank iewers in Gauteng gaan klas gee, as hy reg onthou, en John het as kadetverslaggewer, en daarna as volwaardige joernalis, by The Star in Johannesburg begin werk.
Jare later, toe hy terug in die Kaap werk as hoofredakteur van die Sondag Nuus, het hy Chris weer by ’n partytjie raakgeloop. Chris en sy vrou, Connie. John was toe verloof aan Helen, ’n jong Engelse joernalis met uitheemse politieke opinies, pas klaar by Rhodes. Teen die tyd dat hulle ’n afspraak kon reël om mekaar weer te sien, was sy en Helen se verlowing verbreek en het hy alleen gaan kuier.
“The idea of marriage is oppressive,” het Helen gesê die aand toe sy sy ouma se verloofring met haar tande van haar natgelekte vinger afgetrek, teen haar broek afgevee en op die tafel neergesit het. “Did you see them?”
“Who?”
“Those friends of yours the other night. At the party.”
“What about them?” Maar hy het geweet, hy het gesien wat sy gesien het.
“They hate each other.”
“That’s a strong statement. Maybe they were just having a disappointing evening.”
“More like a disappointing life, if you ask me. It was written all over their faces.”
“That can’t be the reason, Helen. Come on. I deserve better than that.”
Sy’t deur toe begin loop. Hy het opgestaan, is agterna. Het die deur vir haar oopgehou terwyl sy sukkel om die woonstel se sleutel van haar sleutelring af te draai. Sy’t begin ruk en pluk, haar gesig rooi. Hy het nie aangebied om te help nie.
“Why do modern people insist on perpetuating an archaic, oppressive institution? It’s like signing up for voluntary punishment. It’s not my thing, John. That’s really it, I think,” het sy gesê en die sleutel, uiteindelik los, in sy hand gesit.
Hy het haar gemis. Haar anderse maniere, radikale opinies oor alles, interessante geselskap. Haar mooi lyf, die ou vintage rokke en plakkies wat sy altyd gedra het. Haar kort swart krulhare, amper kroes, en die glimlag wat sy haarself soms toegelaat het. Maar hy was ook verlig, moet hy erken. Die aandete by Chris en Connie was aangenaam. Sonder Helen. Sy het ’n manier gehad om mense verkeerd op te vryf, soms te vinnig op haar perdjie te spring, aannames te maak en uitgesproke te raak sonder dat sy al die feite ken. Sy was altyd oorgehaal om te baklei. Die lewe was onregverdig en elkeen het ’n verantwoordelikheid gehad om die balans te probeer herstel. Of hulle nou wil of nie.
En hulle het hom jammer gekry toe hy alleen daar aankom. Chris en Connie wou dadelik pleisters opplak: enkellopende vriendinne “wat perfek by hom sal pas”. Hom dadelik weer genooi vir ’n volgende ete, hom as’t ware onder hulle vlerk geneem. Hy was tydelik hulle nuwe projek. Hy was gevlei. Het toe selfs van Connie gehou. Sy situasie het ’n wyle hulle aandag van hulle eie verhouding afgetrek. En verligting gebring, dink hy nou, van hulle onderlinge gebyt, hulle skertsende verwyte; soos wie die minste geslaap het die vorige aand toe hulle baba, Nina, die sesde keer wakker geword het omdat sy tande kry; hulle latere onwelkome uitlatings oor poepe in die bed, hulle uitgesprokenheid oor die ander se dikgeswelde oggendgesig en stinkasem na te veel wyn.
Moenie ’n fout maak nie, hy is nie blind vir die troos wat hulle sê die huwelik bring nie. So sinies en onromanties is hy nie. Hy glo daar is gelukkig getroude paartjies, iewers, hy het al van hulle gehoor. Mense praat soms oor so en so se wonderlike verhouding, die twee wat so goed bymekaar pas, nog so verlief is, elke week op dates gaan. Hy het hulle nog net nie persoonlik teëgekom nie. Maar hy is oop vir oortuiging. As joernalis moet jy wees. Dié wat hom oor die jare graag getroud wou sien, hervorm, soos húlle, hom aan hulle vaal vriendinne wou afsmeer omdat hy ’n sogenaamde bachelor is wat nog net nie die regte vrou ontmoet het nie – as hy nou daaraan terugdink, het sommige van hulle tog vir hom gelukkig gelyk.
En wie was hy om te kla oor Chris en Connie se optrede voor hom? Wat weet hy van dit wat in mense se binnekamer aangaan? Hy was maar net te dankbaar oor die vriendskap, en wanneer dit sy beurt was om hulle aandag te geniet, het hy hom verlustig in hulle simpatie oor sy alleenloperstatus.
Maar toe vat die lewe weer sy eie koers. Chris en Connie se tweede baba is gebore, en die uitnodigings het opgedroog, sy woonstel was te veel soos ’n bachelor s’n, nie ingerig om hulle om die beurt te onthaal nie. En om eerlik te wees, het hy as enkellopende man nooit daaraan gedink om hulle te nooi nie.
Ná hy Chris op ’n stadium ’n paar keer gebel het, het hulle mekaar vir ’n bier in ’n kroeg ontmoet, ’n entjie van hulle huis af. Hy kon sien die man was tot die dood toe moeg, het net sy bed gesoek.
“Hei. Moenie worry nie,” het hy vir Chris gesê toe hy weer ’n ontmoeting probeer reël, na dié se soveelste lomp verskoning. Hy verstaan oor die baba. Die tweede een. Ja, hy kan glo, Connie gaan deur hel. Húlle gaan deur hel. “No pressure. Ons sien mekaar weer as dinge bedaar met die kinders. Regtig.”
Maar tog kon hy nie help om te dink dat Connie lankal vir hom begin suur lyk het nie. Nadat hy die hoeveelste vrou wat hulle uit die bloute aan hom voorgestel het, ná een aand uit nie weer gekontak het nie. En uiteindelik, ná maande se tevergeefse pogings, het hy opgegee. Hy het Chris nie weer gebel nie.
Hulle het mekaar daarna eers weer in Johannesburg raakgeloop, so ’n paar jaar gelede, en ’n bier gedrink. Hy het werk daar gehad en Chris moes iewers ’n praatjie lewer en ’n universiteitsreünie bywoon. Dit was amper weer soos in die ou dae tussen hulle.
En dis wat hom die vrymoedigheid gegee het om Chris weer te bel, daardie spesifieke aand, nou al amper ’n jaar terug toe hy ’n skouer nodig gehad het ná sy afdanking. Chris se vrou is vroeg met die baba bed toe, gesê sy los hulle om op te vang.
Terwyl hy nog ’n bottel wyn oopmaak, wou Chris weet wat in sy lewe aangaan. Regtig aangaan.
“Daar’s nou nie meer reëls nie, John. Jý maak die reëls,” het hy gesê toe John hom vertel hy het sy werk verloor. Chris was opgewonde. “Jy het nog ’n kans, man. Jy kan oor begin. Min mense het daardie voorreg. Daar’s nou nuwe reëls in jou lewe.” Hy het toe oorgeleun en John op sy skouer geklap. “Reël een, ou vriend. Jy moet weer begin skilder. Ek het jou nooit gesê nie, maar ek was al die jare jaloers op jou. Jy’t talent, John.”
Hy onthou Arno Carstens het “Bubblegum on My Boots” begin sing en sy kop het gedraai, maar hy kon hoor Chris bedoel dit.
“Wat skilder? Ek moet werk kry, Chris,” het hy gesê, “my verband betaal.”
“Ja, ja. Dit kan reël drie wees. Reël twee is belangriker: Kry tog vir jou ’n girl, for fuck’s sake, man. Hoe lank gaan jy nog so aangaan?” Toe lag hulle soos toe hulle tieners was en kon hy voel hulle lendelam vriendskap is op ’n manier weer hervat.
Nadat hy vir hom twee eiers gekook het, gisteraand se oorskiet Chinese dumplings saam met dié in ’n bak gegooi het, avokadopeer en tamatie ingesny het, ’n vars chilli daarna en toe olyfolie oor alles gegooi het, sit hy die TV in die sitkamer aan. Dis op die Crime and Investigation-kanaal.
Hy eet terwyl hy kyk hoe die Amerikaanse inspekteur Joe Kenda sy tyd vat om die intriges rondom ’n moord uit te pluis en uiteindelik in sy droë, ironiese stem vertel hoe hy die moordenaar vasgetrek het.
Later staan hy op, sit die TV af, was die bak, maak koffie met die laaste Milano-pod en loop met sy beker spaarkamer toe. Sy studio. Hy staan in die deur en bekyk die twee halfklaar skilderye, een op die vloer teen die muur, die ander een op ’n esel. Hy kyk daarna so asof hy dit vir die eerste keer sien. Stip. Bestudeer elke detail. Op ’n ou wyntrollie staan ’n grasmandjie vol duur buise olieverf, sommige nog vol, ander amper leeg en opgerol. Hy het die laaste ses maande sy gunstelingkleure ontdek – Prussian Blue, Raw Umber, Rose Red. Op die onderste rakkie lê ’n rol papier, ’n ou vadoek vol kwasmerke in verskillende kleure, ’n werkboek met sketse en foto’s in. ’n Ou stoel. Die inhoud van sy studio.
Hy vat sy tyd. Soos elke Dinsdag, laatmiddag. Ná hy klaar is met sy halfdagpos as sub by die Son, ná sy aandete, en voor hy kunsklas toe gaan. Sy skilderye is droog ná laas week se skilderles. Hulle lyk anders as toe hy hulle nat teruggebring het huis toe. Volgens hom oorwerk in die drie ure in die studio in Soutrivier wat Chris voorgestel het hy by aansluit.
Seascapes, noem die kunsonderwyser sy skilderye. Die swart seile van ’n katamaran op ’n onstuimige see met ’n paar seilbote in die verte; die buitelyne van ’n vragskip in die son wat die kleurvolle kratte op sy romp in die water weerkaats. Hy neem foto’s met sy Canon S16, altyd van dieselfde plek af. Douvoordag of laatmiddag, as die son sak. Op een spesifieke plek in Seepunt, van skepe op die Atlantiese Oseaan.
Toe hy uitloop, die voordeur agter hom toetrek, laat hy homself die eerste keer toe om aan haar te dink. Die mandjie vol verf in sy een hand, die twee skilderye onder sy ander arm. Hy wonder of sy vanaand daar gaan wees. In ’n vintage rok en goue sandale met swart toonnaels, soos Helen toe hulle nog in Yeoville gebly en in Jamesons gaan dans het, die tyd toe Mango Groove en éVoid in Hillbrow se klubs gespeel het.
Sy is een-en-twintig. Derde jaar op kunsskool. Neem ekstra kunsklasse in Soutrivier om haar tegniek te verbeter. Sy het hom bietjie vir bietjie vertel, toe sy hom leer ken het, hom begin vertrou het, terwyl hulle in die studio se kombuis saam koffie gemaak het, buite staan en rook het, hy vir die eerste keer in sy lewe met ’n sigaret in sy mond, op vyftig.
“Jy is sexy vir ’n ou man, Johnny,” het sy laas week in die kombuis gesê.
Hy het geglimlag. Was gevlei. Dit was onverwags. Leer mens ooit? kon hy nie help om te wonder nie toe hy soos ’n skoolkind aan die bloos geraak het, twee suikers in sy koffie gegooi het, hy drink nie suiker nie, net sodat sy nie sy gesig kan sien nie. Hy het gedink dis beter om haar liewer te vermy, ’n ander aand kunsklas toe te kom. Maar dit was laas week, en terwyl hy die trappe afloop op pad kar toe, dink hy hy moet onthou om by die kafee te stop om ’n pakkie sigarette te koop.
“Kry vir jou ’n girl.” Chris se tweede reël.