Читать книгу Die boek van gelukkige eindes - Debbie Loots - Страница 7

Chris

Оглавление

Hy staan altyd eers stil, neem alles in voor hy sy sleutels optel, sy sagte leersak en baadjie van die kapstok in die hoek afhaal en die deur agter hom toetrek, dan die gang af stap na die hysbak wat hom vier vloere na onder neem, na waar sy kar geparkeer is.

Hy kyk om hom rond in die eenslaapkamerwoonstel in Soutrivier wat hy sowat ses jaar gelede as ’n belegging gekoop het. Dit het aan ’n pasiënt behoort, ’n ontwikkelaar wat sy vingers verbrand het en hom kom sien het nadat sy vrou genoeg van hulle onsekere finansiële lewe gehad het, van sy drinkgewoontes. En toe, so ’n jaar daarna, besluit Chris om sy praktyk van die huis af na die woonstel toe te skuif. Dit was net ná hy en Connie geskei is; tyd vir ’n verandering.

Die woonstel het ’n uitsig oor die hawe en die stad van die sitkamervenster af, silhoeëtte van passasierskepe en seiljagmaste op die see, ’n ry rooi-en-wit gestreepte hyskrane wat soos speelgoedkameelperde lyk, die Hottentots-Hollandberge in die verte. Naderby staan lendelam skakelhuisies langs die parkie oorkant die straat, waar ’n handjie vol families geslagte lank al woon en nou saamstaan om gentrifikasie te beveg. Aan die agterkant van die woonstel, waar die kombuis- en badkamervensters oor die stoep oopmaak, is Tafelberg. Hy hou die vensters dié kant meestal toe om die reuke uit te hou van die rioolpype wat gereeld verstop.

Die trek van die huis af hiernatoe het hom pasiënte gekos, een van Constantia en twee van Bishopscourt. Rykmansvroue wie se vooropgestelde idees oor Soutrivier as sogenaamde gangster’s paradise hulle kleinkoppie laat trek het, selfs al is hy een van Kaapstad se mees vooraanstaande en gesogste sielkundiges. Maar hy het nuwe pasiënte gewerf. Stedelinge: ’n paar soekende kreatiewe siele, ’n jong IT-spesialis wat ’n uiters suksesvolle startup in Woodstock bedryf, ’n vrou wat vir ’n advertensieagentskap werk en aan angsaanvalle ly. Interessante mense. Nuwe soorte uitdagings.

Toe die koop deur is, het hy die woonstel se kombuis en badkamer vervang, die vloere laat skuur, die plek uitgeverf. En eers ná hy ingetrek het, het die slaapkamer hom begin pla; amper oorbodig gevoel. Die ekstra spasie. Hy’t nie geweet wat om daarmee te maak nie, nie meubels daarvoor gehad nie. Hy het die deur permanent toegetrek gehou wanneer hy pasiënte in die hoofvertrek behandel het.

Vandag kan hy sy praktyk nie sonder die kamer voorstel nie, al bly die deur altyd toe wanneer hy werk. Caitlin noem dit hulle “dirty little secret” wanneer sy Donderdae by die halfoop voordeur inloop sonder om te klop.

Hy trek sy baadjie aan, gooi sy sak oor sy skouer. Maak die groot moderne metaalraamvensters, wat van onder af losknip en na buite oopswaai, toe. Dit voel soms asof hy in ’n loft in New York is, in een van Woody Allen se flieks, as hy so oor die stad uitkyk en dink aan sy lewe. Dit laat hom tevrede voel.

Hy sien die kar toe hy uit die parkeerarea die straat inry. ’n Oranje Ford Cortina. Dit lui ’n klokkie. Hy dink seker aan sy pa se kar. Die een uit sy kinderdae. Hy frons. Probeer deur die donker ruit sien wie bestuur. Sy pa s’n was blou, met ’n afslaandak. Sy ma het die beige stasiewa gehad. Sy pa was heilig op sy kar, hulle moes altyd eers bad en skoon aantrek, skoene politoer, voor hulle kon inklim. En hy het hulle nooit skool toe gevat in die Cortina nie, dit was die ou stasiewa se taak, sy ma s’n, met ander woorde. Die Cortina is die kar waarmee sy pa werk toe gery het, en waarin hy hulle op Sondae iewers heen gevat het. Soos Hartbeespoortdam toe om op die brug te stop, uit te klim en in stilte te kyk na die dik strome water wat uit die sluise spuit.

Hy draai links in die straat op, huis toe. Die teenoorgestelde rigting as dié waarin die oranje Cortina stadig gery het.

By die huis gaan sit hy met ’n bier buite op die ou rottangstoel. Sy dogter, Ramona, klim uit die swembad, kind op die heup.

Sy is lank en maer, nes hy. Sy gaan gym toe. Pilates en joga en ’n bietjie cardio drie keer ’n week is al wat nodig is, vertel sy hom, om vir die res van jou lewe gesond en sterk te bly. En gewigte optel vir beendigtheid. ’n Mens kan nooit te vroeg begin nie. Sy het gelees daaroor. Gegoogle. Hy is trots op haar. Sy lyk goed vir ’n ma van ’n kleuter. Enkelma, moet hy bysê. Maar dit is ’n ander storie.

Wat doen hy vir oefening? Nie veel nie. Hy hou nie van gym nie. Van die reuk nie. Die droë saunas en nat stoomkamers laat hom gril, die chloor van ’n openbare swembad. Die gevoel op jou vel. Hy hou ook nie van buitelugsport nie. Die nuwe fietsrytendens staan hom nie aan nie – die groepmentaliteit wat dit onder die mans ontketen, die testosteroon, die duur fietse. Die kompetisie, en die natuurlike regressie na ’n staat van pre-adolessensie herinner hom aan Trompie en die Boksombende. Mense wat adrenaliensport beoefen, het gewoonlik uiterste lewensbeskouings en gedrag, en dit sien hy as tekens van die primitiewe. Mense in ’n onderontwikkelde staat van kontemporêre menswees.

Stap, ja, en swem in die see. Dis al. Dit is beskaafd.

Hy onderhou Ramona. Betaal haar woonstel se huur, haar gymlidmaatskap, haar jogaklasse. Hy probeer nie dink aan al die toegewings wat hy maak nie, hy hou nie daarvan nie, die besef dat hy soos alle mense swak is as dit by sy eie vlees en bloed kom. Sy ego.

Connie koop vir Ramona kos en ander benodighede. Die kind sukkel om werk te kry, sukkel om rigting te kry. Hy blameer deels vir Connie, hy het haar gesê Ramona is op ’n sensitiewe stadium toe sy destyds aankondig sy wil skei. Ramona was toe agttien, net uit die rehabilitasiesentrum, maar Connie was verbete, en toe hy voorstel hulle probeer eers weer, gaan sien ’n huweliksberader, het sy na hom gekyk asof hy ’n vreemdeling is, iemand wat sy lankal geweeg en te lig bevind het. Ramona het kort daarna weer begin dwelms gebruik.

Ramona buk af om hom te soen. Haar nat hare klap teen sy wang toe sy die kind skuif om by hom uit te kom. Hy deins weg van die skielike koue op sy warm vel.

“Sê hallo vir Oupa, Poinsettia.”

Hy vergeet heeltyd die kleintjie se naam.

“Wat hoor Pa van Nina?”

Sy oudste. Verloof. Die stabiele een van die twee. Derdejaar- mediese student. Bly in die noordelike voorstede saam met Johan, ’n internis.

“Hulle kom dalk die naweek,” sê hy. “Jy ook?”

“Jip. Daai twee werk hulleself ook dood, kan nooit aan niks commit nie. Dink Pa hulle gaan ooit trou?”

Ek hoop nie so nie, wil hy sê. Hy kan nie help om te dink dat Nina die geld wat hy vir haar mediese studies opdok, in die water gaan gooi nie. Dat sy ook eendag, soos meeste vroue, kinders gaan hê wat haar lewe gaan opvreet. Dat sy deeltyds sal moet werk, as sy die krag gaan hê. Locum. Agter ander dokters wat met vakansie gaan aanskarrel, sodat sy vrou en ma kan speel.

“Wie weet,” sê hy en glimlag vir die kleintjie. Hy probeer sy gesig trek soos hy vaagweg onthou sirkusnarre gemaak het toe hy ’n kind was. Poinsettia steek skielik haar tong uit en hy skrik toe sy kliphard naby sy oor begin skree.

“Sies Poinsettia, jy’s lelik met Oupa!” sê Ramona en swaai die kind oor op haar ander heup. Sy loop die huis in.

Oupa. Wat ’n gedagte.

Haar groot mond. Dit is seker die eerste ding van Bella wat hom opgeval het. En dat sy mooi is. Op ’n ongewone manier. Haar kakebeen ’n bietjie te lank, haar voortande se byt effens oor die onderste stel – dit laat haar partykeer lispel. Hy hou daarvan. En wanneer sy lag, klink sy soos ’n klok, soos haar naam. Sy het ’n mooi stem. Half rasperig, en hard. Sy verloor soms haar selfbeheer, veral ná ’n glas wyn of twee; dan praat sy al hoe harder, klink soos hy dink sy as kind moes geklink het, een van ses wat moes skree om aandag te kry.

Sy is ’n positiewe mens, vriendelik – happy-go-lucky, het iemand al haar persoonlikheid beskryf. En sy huil maklik. “My hart kan dit nie hou nie,” sê sy altyd as sy skielik trane in haar oë kry oor iets. En dit gebeur gereeld. Oor mishandelde diere, of kinders, veral. “I’m a friend of the underdog,” sê sy graag. Hy hou veral van die manier waarop sy na hom kyk, asof sy hom bewonder. Soos Connie aan die begin na hom gekyk het. So asof hy die hoogtepunt van haar dag is. Dit is een van haar mooiste kwaliteite.

Emmalien. Sy kind. Laatlammetjie. Nóg ’n vreemde naam, maar nie so vreemd soos Poinsettia nie. Emmalien kan Emma word, of Lien. Maar Poinsettia? Dis haar gunstelingblom, sê Ramona as mense haar daaroor vra. “As jy die stam knak, of die blare aftrek, dan bloei die blom wit sap.” Asof dit die kind se bespotlike naam betekenis gee. En die pa van die kleintjie is natuurlik afwesig. Insette in haar naamgewing het die man nie gehad nie. Hy is heimlik bly, dit kon seker erger gewees het. Ramona bly vaag oor die man. Hy los dit. Slapende honde.

Terwyl hy haar dophou, maak Bella pasta. Met tamaties, Portugese wors, rissies. Haar ma se resep. Op ’n goeie dag verbeel hy hom haar kultuur maak van haar ’n soort eksotiese enigma. Die ongewone reuke van haar konkoksies, die kruie met name waarvan hy nog nooit gehoor het nie en wat partykeer ’n onverwagse suur smaak in sy mond veroorsaak, dié sluk hy af. Sy fisieke reaksie fassineer hom. Soms, veral as hy moeg is, moeilike pasiënte gehad het, en die reuke uit die kombuis hom by die voordeur groet, draai hy om, trek die deur sag agter hom toe en stap om na die swembad toe waar hy uittrek en swem totdat dit voel sy vel span styf van die fyn kristalkorsie wat oor sy lyf vorm. Tam maar gesout teen die aanslae van die wêreld voel hy dan wanneer hy uiteindelik uitklim.

Bella sê sover sy weet is sy deels Spaans en deels Portugees. Sy het in Rosettenville grootgeword, die suidelike voorstede van Johannesburg. Sondagaande as kind na die waterorrel by Wemmerpan gaan kyk. Haar pa was ’n perdewedren-fanatikus wat gereeld op Turffontein geld op buiteperde gemaak het. Haar ma ’n huisvrou. Sy vertel graag stories oor haar kinderdae, sonder om selfbewus te wees, so in haar rasperstem. Ongekunsteld, soos ’n dogtertjie. Staaltjies oor haar ooms en tannies. Die groot familie-etes, die rusies. Die opmaak. Verlowingspartytjies, troues, babas. Haar vreemde kultuur. Hy moes haar gewoond raak.

Ná Connie weg is, wou hy nie weer trou nie. Hy het geen libido gehad nie, was nie eens bekommerd daaroor nie. Hy was verlig, om die waarheid te sê. Die verwagting wat hy van homself gehad het, wat hy dink Connie dalk gehad het, was skielik weg. Hy kon vir die eerste keer in jare eerlik met homself wees, al was dit swaar. Al was sy ego aan flarde. Hy het gedink hy is aseksueel. Of gay. In ’n stadium gehoop hy is. Dit sou dinge verklaar het. Maar hy was nie lus vir vroue of mans nie. Vroue van sy ouderdom is te pap, sagte velle oral. Drillerig. Mans ook. Nie dat dit die enigste rede is dat hy nie mans verkies nie. Van hulle is te verfynd. Aansitterig. Soos ’n sekere soort vrou.

Hy wou alleen wees, sy wonde lek. Hy het. En toe kom Bella. Hy het haar ontmoet by sy uroloog, Peet de Bruin, se praktyk, toe hy destyds gedink het hy het prostaatkanker oor die groeisel in sy lies. Sy was die ontvangsdame daar, is nog steeds. Dit was net ná Connie by Sam ingetrek het. Twee jaar ná sy weg is.

Dis asof die son weer begin skyn het. Hy het Bella uitgevat na spoggerige restaurante toe, naweke na vyfsterhotelle op wynlandgoedere met spa’s. Hy het haar bederf. Hy kon sien sy was min gewoond. Hy dink hy wou haar sorgvryheid en entoesiasme, haar naïwiteit op ’n manier beloon, vir haar dankie sê daarvoor, vir die kinderlike genot wat sy in sy lewe ingebring het. Hy het haar geniet. Haar andersheid ingedrink. Haar eenvoudige siening van die lewe. Dit was verfrissend ná Connie, en ook so tussen die pasiënte en hulle probleme deur. Dit het gehelp, help nog steeds met die swartgalligheid wat soms oor hom neerdaal. Op hulle eerste afspraak het hy besef hy kon nie onthou wanneer laas hy so baie gelag het nie. En natuurlik het dit hom laat skrik, al die nuwe gevoelens. En daar was ’n stadium toe hy wou kop uittrek, gedink het dinge gebeur te vinnig, toe hy besef het dat daar ander vroue is, en dat Connie ook nog by hom spook.

Maar amper ’n jaar ná hy Bella ontmoet het, vind hulle toe uit sy is swanger. Hy het geweet ’n aborsie is nie iets wat sy ooit sou oorweeg nie. Sy was veertig, nog nooit getroud nie, en hy kon sien sy het aanvaar dat hy ook die baba wou hê. En hy blameer homself. Hy het nie voorsorg getref nie, nooit gepraat daaroor nie. Net salig seks gehad, soos in sy jeug. Opgemaak vir die droogte. Aan die een kant nie gedink hy het dit meer in hom nie, om ’n kind te verwek. Vir so lank leeg gevoel, droog en spermloos, gevoel hy het niks om te gee nie. Op ’n sekere vlak was hy trots op homself toe sy vir hom die stokkie uithou om te sien; twee blou strepies, hy kon iets bewys, aan homself, aan almal. Alhoewel dit nie was wat hy dink hy nodig gehad het nie, of wou hê nie. Nóg ’n kind. ’n Dogter, boonop. En ’n nuwe vrou so kort ná Connie.

Die kombuis en eetkamer is oopplan. Hy sit by die tafel en kyk hoe Bella heen en weer beweeg tussen die stoof en die yskas, die koskaste. Sy het haar ma se ou voorskoot aan, die bande dubbel om haar dun middel gebind. Haar rooi bloes hang half agter haar kort swart rompie uit, en haar lippe is nog rooi van die dag se lipstiffie. Dit kom nie maklik af nie. Long-lasting, sê sy. Sy het nie tyd om in die dag aan te sit nie. Dis besig. Haar swart hare maak fyn krulletjies om haar gesig van die stoof se hitte, van haar bewegings. Dis bo-op haar kop in ’n poniestert vasgemaak. Haar swart hoëhakskoene het sy uitgeskop. Dié lê onder een van die eetkamerstoele waar sy met haar iPad en eerste glas rosé gesit het voor sy begin kos maak het. Dit het hom eers gepla dat sy so sonder skoene in haar sykouse oor die houtvloer loop ná werk. Nou sien hy nie eens meer raak as dit aan die growwe dele van die houtvloer vashaak en lere onder haar voete en teen haar enkels op maak nie. Dis Bella. Happy-go-lucky.

Hy drink sý eerste glas wyn. Allesverloren Shiraz, sy gunsteling. Sy koop dit altyd vir hom. Bella vat slukkies van die rosé wat sy uit haar boks geskink het. Dit staan op die toonbank tussen hulle. Sy kyk nie vir hom nie, maar sy weet hy kyk vir haar. Hy kan sien aan haar glimlag, aan hoe sy elke nou en dan sy oog vang.

Hy staan op, maak haar glas vol, soen haar in haar nek en bêre die boks in die yskas.

Bella gaan slaap vroeg. So ’n uur ná Emmalien in die bed is, begin sy verskonings maak voor sy haar gesig was en met haar iPad in die bed klim. Sy is mal oor YouTube-video’s. Dit hou haar ’n rukkie wakker. Hy kan haar partykeer hoor lag wanneer hy in die studeerkamer sit, en dan lag hy saam, al hoor sy hom nie. Soms vat Google haar op ’n dwaalspoor, soos sy dit noem, en sy eindig by een of ander hartseer video oor dieremishandeling of iets. Sy huil dan net so hard soos wat sy eers gelag het. Sy gunsteling is as sy op ’n pornografiese site afkom, dan raak sy stil. En roep hom ná ’n rukkie in haar oordrewe sexy stem.

Maar as sy hom nie kom verras waar hy op die bank lê en televisie kyk nie, hom nie op haar tone oor die plankvloer bekruip nie, as sy nie kaal op hom spring en hy kamtig skrik nie, dan gaan doen hy navorsing in sy studeerkamer, lees op oor spesifieke senuweetoestande en studies oor moeilike gevalle. Partykeer masturbeer hy wanneer hy verveeld raak en sy privaat pornografiese lêer op sy rekenaar oopmaak. Hy is nog steeds nie gewoond aan die herlewing van sy viriliteit nie. Hy weet dis infantiel, maar dis asof hy elke nou en dan net wil seker maak sy gunstelingspeelding werk nog.

Emmalien word om en by elfuur wakker. Hy gee dan bottel, ruil doek om en sus haar weer aan die slaap. Twaalfuur is hy ook in die bed. Hulle is gelukkig; Emmalien word daarna eers weer so sesuur wakker, wanneer Bella in elk geval moet opstaan om te gaan werk. Sy is meestal net tot so tweeuur by die praktyk besig, afhangende van die dag se afsprake. Peet de Bruin is ’n kranige fietsryer en spandeer soveel tyd as moontlik op sy fiets.

Hy geniet dit as Bella vertel hoe De Bruin soms lyk wanneer hy soggens by sy praktyk opdaag. Dis asof sy een of ander groot familiebyeenkoms in Rosettenville beskryf; met geanimeerde gesigsuitdrukkings en handgebare. Hy kan hom soms verkyk aan haar as hy in die regte bui is. Dis soos om na Johan Stemmet op Noot vir Noot te kyk. Hy gril tot in sy tone van lekkerkry.

“Hy bekruip ons in die wagkamer, Chris, vir my en ’n arme pasiënt wat partykeer vroeg is en vir hom wag. Teen daai tyd het hy al twee ure fietsgery. Vrek moeg, sy oë vasgenael op die stortdeur aan die ander kant van die wagkamer. Hy groet ons skaars. Hy lyk nes ’n insek. Met sy maer bene wat uit sy lycra-broekie steek, loop hy so styf-styf met sy fietsryskoene oor die mat. Met sy blinkgeskeerde bene. Hoekom hy sy bene skeer, weet die hemel alleen. Hy’s omtrent ’n sight. En dan help daai krom neus en geboë skouertjies van hom ook nie sake nie, hoor.”

“Dis glo vir windweerstand.”

“Die beenhare? Ja, ek weet, hulle sê so.”

“Kla die pasiënte nie as hy laat is nie?”

“Nee, hulle vrek oor hom. Hy’s mos ’n kampioen.”

Dan lag hulle. Haar oë blink. Hy wonder nooit daaroor nie, en oor die opgewondenheid in haar stem as sy oor De Bruin praat nie. Sy is entoesiasties oor alles. En sy en die man kom ’n lang pad saam.

Gerta kyk soggens na Emmalien. Sy werk al jare by hulle; by hom eintlik, van toe hy en Connie nog saam was. Hy neem aan sy het kinders, sy is goed met Emmie. Emmie, dis wat hy haar noem, saggies in haar skulpoortjie fluister as hy haar in die aande sus. Die lewe is vol verrassings. Wie sou nou ooit kon dink hy sou weer so lief kon raak vir ’n klein dogtertjie?

Dis Saterdag.

Bella gaan vroeg gym toe vir ’n spinklas. Daarna doen sy pilates. Sy mis dit nooit, sê dit is haar manier om op te maak vir die oefening waarby sy in die week nie uitkom nie. Hy bly by Emmalien. Speel met haar. Hardloop agter haar aan. Plak haar twintig minute later voor die TV neer. Gerta werk nie naweke nie, maar hy gee nie om nie. Die kleintjie is dalk woelig, maar sy’s ’n plesier, maklik, veral as hy dink hoe sy eerste twee kinders hom mal geskree het. Hy sal dit nooit sê nie, maar hy vermoed sy dogters se grade van kompleksiteit het baie met dié van hul onderskeie ma’s te doen.

Later gaan hulle saam na die plaasmark toe in die Kompanjiestuin. Hulle sit onder die bome en eet tuisgebakte free range-hoenderpasteie, drink vonkelwyn uit plastiekglase, spring elke nou en dan op agter Emmalien aan wat die naaste kind of hond jaag. Of haas. Hy is verbaas oor dié tendens in die stad: hase en hoenders as troeteldiere. Partykeer sien hy ’n kind wat te jonk is om te besef dat die bedremmelde dier onder sy arm se strot amper platgedruk word. Hy kyk dan liewer weg.

Hy koop later koerante. Afrikaans en Engels. Lees alles die middag by die huis op die bank, sy manier om op hoogte te kom van gebeure in die wyer wêreld, met ’n koppie koffie en ’n stuk beskuit in ’n glasbakkie op die tafel. Partykeer raak hy aan die slaap met die koerant oop op sy bors.

Bella en Emmalien vang gewoonlik ’n middagslapie op die dubbelbed in hulle kamer. Hy word later wakker van die iPad se geluide, van haar en Emmalien se gekraai oor die hordes YouTube-video’s wat sy vir die kind wys. “Los ons,” sê Bella altyd as hy haar daarop wys. “Dis ons twee se tydjie saam.”

Hy het opgegee, voel dit vir hom, of dalk is hy te oud; hy is nie seker nie. Maar die goed waaroor hy met Connie sou stry, soos haar manier van kinders grootmaak, is nou met Bella nie meer vir hom belangrik nie. Dalk het hy mettertyd sag geraak. Maar hy gee nie regtig om nie. Sien dit as een van die moderne maniere waarop ’n ma met haar kind bande smee. YouTube-video’s.

Dis sesuur. Hy skuur die braairooster buite af. Dis lekker soel. Somer. Windstil, vir nou. Hy en Connie het ook altyd gebraai, in sy vorige lewe.

“Wyntjie vir jou,” sê Bella en sit ’n glas Allesverloren Shiraz op die houttafel neer.

Hy glimlag. “Dankie.”

Sy kom staan langs hom, vat ’n groot sluk wyn, geskink uit haar boks rosé in die kombuis. “Ek is nie regtig lus vir vanaand nie,” sê sy. “Hulle’s jou vriende.”

Haar onsinnige aanmerkings slaan hom soms dronk. Dit laat hom aan Connie dink, aan sy vroulike pasiënte. Hy sal seker vir die res van sy lewe wonder of dit ’n ingebore ding by vroue is, onsinnige aanmerkings.

“Haai, ek het dan gedink jy hou van hulle!” sê hy, en glimlag. Hy slaan die rooster ’n paar keer hard teen die kant van die braaidrom. “Ou Jan en Rosa. Emmalien is mal oor klein Marius. Hulle spring altyd so lekker trampolien.” Hy kyk na haar. “Wat’s fout, Bella? Pla iets jou?”

“Nee. Niks. Regtig. En natuurlik hou ek van hulle. Hulle is nice en alles,” sê sy.

“Nou?”

“Hulle praat net partykeer oor die boringste goed. Veral as hulle te veel wyn drink.”

“Soos wat?”

Sy haal haar skouers op. “Jy weet ek is nie into al daai filosofiese goed nie.”

“Hulle is dokters,” sê hy.

Mense wat nie in hulle vrye tyd YouTube-video’s sit en kyk nie. Mense wat lees oor relevante wêreldgebeure en -sake, wat belangstel in hulle omgewing en hoe om positiewe veranderinge te bewerkstellig, in die werklike lewe, mense wat intelligente, deurdagte gesprekke kan voer, wil hy sê.

Sy kyk na hom. “Ek kry genoeg van dokters en hulle houdings by die werk elke dag. As jy maar net kan sien hoe high en mighty van dokter De Bruin se kollegas is as hulle daar inkom vir die een of ander iets.”

Hy frons. “Jy’s nie jouself nie, Bella. Wat’s regtig fout?”

Sy glimlag half. “Ek sê mos. Niks. Sorry, ek weet ek’s bietjie grumpy. Ek’t dalk te lank geslaap. Ek sal beter voel ná my tweede glas wyn, ek belowe.”

Sy soen hom op sy voorkop. “Ek gaan gou kyk of Emmie nog slaap, dan maak ek slaai.”

“Sit sommer ’n bietjie musiek op, toe?”

“En al hierdie bosse blomme, Bella? Liewe genade!”

Rosa soek ’n plek om ’n duur bottel wyn op die tafel neer te sit, draai toe gemaak moedeloos om en druk dit in Bella se hande.

Bella het die tafel buite gedek. Dis bont, lyk uitbundig, effe uitspattig. ’n Kinderlike soort vrolikheid waaraan hy steeds sukkel om gewoond te raak. Sy sê die pasiënte met wie sy elke dag by die werk te doen het, met hulle probleme en siektes, laat haar besef hoe belangrik kleur in die lewe is. Hoe dit mens se geestestoestand beïnvloed. Sy het moeite met die tafel gedoen. Sy maak so as mense kom. Hulle het altyd iets te sê daaroor.

“Ons het genoeg wyn, Rosa! Dit was onnodig.” Bella praat te hard. Haar derde glas wyn maak haar luidrugtig, gee haar ’n opinie, gebore uit ’n brein wat hy soms dink uit wankelrige stapels Lego-blokkies bestaan. Een stamp en dit spat in stukke oor die mat. Sy lyk paniekerig. Sy kyk na hom. Hy probeer gerusstellend glimlag.

Hy weet die twee kan intimiderend wees, veral Rosa. Sy is mooi en stylvol, soos die vroue in Parys. Sy het aan haar gesig laat sny, dit pas haar, maar sy lyk steeds ouer as Bella. Hy het ’n oog vir detail, merk sulke goed op. Bietjie styf om die oë, die bolip pofferig. Hy wonder hoe dit voel om daaraan te suig, die tekstuur laat hom aan ’n ballon vol water dink. Goddank het Bella nog nie nodig om haarself tot sulke uiterste stappe te wend nie.

“Die blomme kom van die Kompanjiestuin af,” sê Bella. “Ons was vandag daar vir lunch.” Haar stem is weer onder beheer.

“Oe, lekker,” sê Rosa. “Ons was lank laas daar; van ons vegan-vriende in Woodstock gaan gereeld soontoe, nè, Jan?” Jan glimlag. “Sê ons as julle weer gaan, dan kom ons saam.”

“Sure,” sê Bella. “Sit, ek gooi vir julle wyn in.”

Jan loop saam met hom uit om die vleis te gaan draai, klop hom op die skouer. Hy sug gelate. “Ja, my ou vriend. Dinge lyk lekker vrolik hier by jou.”

Hulle het klaar geëet, almal sit om die tafel. Die kinders slaap vas op hulle ma’s se skote.

Hy weet Bella is moeg – sy het die gaste al ’n tweede keer koffie aangebied. Al twee kere iemand in die rede geval. Hulle geniet hulleself, drink wyn. Die bak waarin Bella ’n pak sjokoladeballe uitgegooi het, is leeg. Turkish Delight, ’n reuk uit sy kinderdae. Hy dink hy het die meeste daarvan opgeëet.

“Laat die kinders gaan lê,” sê hy, toe Bella die hoeveelste keer hardop sug. Hy probeer om nie geïrriteerd te klink nie. “Hulle kan op ons bed slaap. Of in die spaarkamer. Hy kyk na die ander twee. “Kom, kom. Ons maak nog ’n bottel wyn oop.”

Hy kry Bella teen sy sin jammer. Haar gesig lyk vaal, haar oë bly knip en rek soos sy hulle probeer oop hou. Hy ken die gevoel. “Gaan slaap, my skat,” sê hy. “Ek kan sien jy’s moeg. Wys net vir Rosa waar om Marius neer te lê. Laat Emmie by jou lê. Ek sal haar in die bed sit as ek kom slaap, oukei?”

Sy lyk verlig. “Dankie. Ek’t omtrent ’n dag agter die rug,” sê sy. “As dit oukei is met julle?”

“Natuurlik,” sê Rosa en glimlag. “Ons ken jou mos.”

Jan lig sy glas wyn. “Lekker slaap.”

Chris kyk die vroue agterna, die slapende kinders in hulle ma’s se arms. Bella is korter as Rosa, sy het jeans aan, ’n bont trui, bruin enkelboots, haar swart hare hang in los krulle oor haar rug. Sy is mooi gebou, sy’s oulik, ’n goeie ma. En hy is lief vir haar, het lief geraak vir haar die afgelope jaar of twee, hy’t aanvaar sy is wie sy is. Intellektueel beslis nie. Maak dit saak? Sy bors raak warm van iets, ’n gevoel. Liefde? Trots? Jagsheid? Hy weet nie. Maak nie saak nie. Dit voel lekker.

“Wat hoor jy van Connie?”

Hulle was goeie vriende, Rosa en Connie. Hy vermoed Rosa het eers probeer om hulle vriendskap voort te sit, hy onthou sy het gesê dit maak nie saak nie, sy is liberaal, reis sy en Jan dan nie gereeld Europa toe nie? Dit het hulle gewoond gemaak aan alles. Sy is oopkop. Maar hy vermoed die idee van ’n lesbiese verhouding is vir haar net té vreemd.

“Niks,” sê hy.

“Regtig?” Rosa is lus om te gesels. Sy het haar Twisp gebêre, Jan het Camel Lights by die kafee gaan koop. Hulle al drie rook.

Hy gooi nog wyn in. “Ja, regtig.”

“Jy sien haar tog seker nou en dan? Praat oor die kinders? Julle kleinkind?” Sy begin te lag.

“En nou?”

“’Skuus. Dis net vreemd om aan julle te dink as oupa en ouma. Jy en Connie. Wat’s Ramona se kleintjie se naam nou weer?”

Dit kom skielik by hom op. “Poinsettia.”

Rosa kan nie ophou lag nie.

“Fokkit,” sê Jan. “Wat vir ’n naam is dit?”

“Dis my kleinkind se naam,” sê hy. Hy voel skielik beskermend, trots. Dalk omdat hy die kind se naam onthou het. “Wag maar, julle beurt kom. Julle het net lank gevat om met julle gesin te begin, maar dit gaan kom.”

Hy weet Rosa het ’n skenkereier laat inplant, ná hulle jare lank probeer het. Marius is die gevolg. Hulle is al twee diep in die veertigs.

“Gaan dit goed met haar?” vra Rosa. “Met Connie?”

“Ek sê mos ek weet nie. Hoekom bel jy haar nie?”

Sy kyk skielik rond. Wys heen en weer met haar glas in die hand. “Jou huis lyk anders.”

“Wat bedoel jy?”

“Rosa, los dit.” Jan mik en skop haar lomp onder die tafel.

“Eina! Simpel.” Sy kyk na Chris. Vryf haar been. “Ek bedoel die goed in jou huis.”

“In óns huis, my en Bella s’n, bedoel jy.”

“Dit was eers jou en Connie se huis.”

“Nie meer nie.”

“Ek weet, man, dis wat ek bedoel. Die plek is vol …” Sy wys weer rond. “Vreemde prente, matte en supposed objets d’art, seker alles fake, en wat van waar af kom? Indië? Of die Chinese winkel? Dit het vreeslik vol geraak hier.”

Jan lag. Hy klink senuweeagtig.

Chris is skielik moeg, moeg vir hulle. “Ek hou van haar goed.”

“Dis bont.”

“So what? Hoe lyk julle huis? Ons was nog nooit daar nie.”

“Bog, man! Julle was!” Rosa wys nou met haar sigaret na hom toe. Vat ’n sluk wyn. “Met ons daknatmaak, kan jy nie onthou nie?”

“Dit was ’n partytjie. Dit was so vol ’n mens kon skaars beweeg. Ek praat van ’n ete, ’n braai. Iets meer persoonlik, intiem.”

Sy waai weer met haar sigaret na hom toe. Blaas en vee oor die as op die tafeldoek. “Ons sal nog,” sê sy. “Maar ek is seker ons het julle al genooi.”

“Julle het nie.”

“Jy’s vol kak, Chris. Ons het!”

“Hou op stry,” sê Jan. “Daar’s mense wat slaap in die huis. Hoe lyk die wyn, Chris?”

Later, toe die twee huis toe is, is hy te onvas op sy voete om Emmalien in hulle bed by Bella te gaan haal. In Emmalien se kamer sukkel hy onder die pienk muskietnet in, vloek terwyl hy sy lê op die nou enkelbedjie probeer kry. Hy draai weer om en trek die muskietnet af oor sy kop, die houtring waaraan die net met pienk strikkies gebind is, tref hom skrams teen die kop. Hy vloek weer, druk die bondels eenkant en maak sy oë toe. Terwyl hy aan die slaap raak, droom hy duisende klein haartjies kielie sy wang in ’n briesie wat van iewers af deur ’n oop venster oor hom trek.

“Gaan swem,” sê Bella. “Jy gaan beter voel.” Sy staan met Emmalien op haar heup in die deur. “Hoe het hulle met klein Marius by die huis gekom? Ge-Uber?”

Sy weet hulle het nie.

“Sorry.”

“Wat het jy met die net aangevang?” sê sy. Sy loop nader, buk oor hom en trek haar oë op skrefies. “Haai, dit lyk kompleet soos ’n klomp dooie babaspinnekoppies oral op jou gesig. Jy’t die arme goedjies seker papgeslaap.”

Hy spring op, vee hard oor sy gesig en lyf. Hy skud sy hare uit, verbeel hom hy sien ’n paar bruin spinnekoplyfies grond toe wapper, gril van kop tot tone. Hy gaan staan in die hoek bo-op sy klere, arms gevou, en kyk vir Bella. Hy het net sy onderbroek aan.

Sy’t Emmie neergesit en trek die muskietnet aan die ring op. “Ook maar goed jy’t die ding afgetrek, lyk my mammaspinnekop het lekker hier nes gemaak.”

Sy bekyk hom van kop tot tone toe sy by hom verby loop. “Jy wil seker koffie hê,” sê sy en tel Emmie weer op. “Maak ’n venster oop, die kamer stink.”

Sondae gaan swem hy gewoonlik in die see. Vroegoggend. Vandag is hy by Seepunt. Die gewones is op die strand, of in die water. Hy’t nie krag gehad om al die pad Muizenberg toe ry nie. Hy stoei nog met sy hangover, met gedagtes aan spinnekoppies wat aan ragfyn draadjies afsak en oor sy gesig krioel. Hy het sy wetsuit aan. Die see is vrek koud; sy tone en vingers krul van die krampe. Sy tande klap. Hy kyk rond.

’n Roeier stoot sy boot die water in. ’n Lang vrou met ’n klein bikini staan met haar rug na hom toe, haar voete in die water. Voor haar plas ’n kind in die skuim van die vlak branders. Gilletjies skiet soos naalde in sy kop vas en tril vir ’n rukkie teen sy skedel voor dit weer stil raak. Die ma kyk om, vang sy oog. Sy is mooi. Sy glimlag. Hy glimlag. ’n Toeris. Met die kind op haar heup loop sy koponderstebo verby hom en gaan sit ’n ent verder weg langs ’n man.

Ná hy by die huis kom, raak hy op die bank aan die slaap. Bella maak hom wakker toe Carte Blanche begin. Hulle eet oorskiet tjops van die vorige aand se braai. Sy het vars slaai gemaak. Agtuur sit sy Emmalien in die bed en hy hoor haar kort daarna YouTube-video’s kyk. Hy lê weer op die bank, remote in die hand.

Toe hy later uit die hoek van sy oog sien hoe sy hom op haar tone bekruip, maak hy of hy haar nie sien nie. Sy is kaal. Goddank dis al wat van sy hangover oorgebly het, ’n ongemaklike groot ereksie.

Maandagmiddag se laaste pasiënt het gekanselleer. Hy sit by sy lessenaar in sy spreekkamer, sy skootrekenaar oopgeslaan. Hy sien deur die venster hoe ’n nuwe woonstelblok vinnig verrys. Verder voor hom in die vertrek staan twee ou wit leerstoele teenoor mekaar. Pasiënt en terapeut. Op die kelim staan ’n koffietafel met ’n boks tissues. Die blokkiesvloer het hy charcoal laat verf en toe laat politoer, dit laat die vertrek deftig lyk. Dis nodig, anders steek die twee vintage leerstoele af, lyk hulle onvanpas. Hy het hulle jare gelede op ’n vendusie teen ’n weggooiprys gekoop.

Die etse en skildery teen die mure het hy alles een dag by ’n studente-uitstalling gekoop. Connie het dit nog saam met hom bygewoon. Ramona wou gaan. Sy was seker so sewentien, opgewonde oor die moontlikheid om kuns te gaan studeer. Hy onthou hoe bly hulle was, hoe hulle haar probeer ondersteun het. Dit was kort voor Connie hom van Sam vertel het. Dinge tussen hulle was stram. Hy onthou hoe sy probeer het, hoe vals sy was.

Hy kyk af na die TED Talk wat hy gestop het, slaan die rekenaar toe, stoot sy gerestoureerde Skandinawiese kantoorstoel op sy nuwe wieletjies terug, en vou sy arms. Jan-hulle het hom genooi vir ’n bier by die kroeg naby die Tuine, maar hy is nie vandag lus vir die klomp nie. Hulle praat altyd oor dieselfde goed. Oor hoe kak die ouens Saterdag rugby gespeel het. Hulle lieg oor hoeveel keer hulle elke week met hulle vrouens seks het. Wat hulle nie weet nie, is dat twee van hulle vroue sy pasiënte is. Hý sal weet. En die mans drink te veel, te vinnig. Dan begin hulle rondkyk na die meisies in die kroeg, maak aanmerkings. Lag, vertel kak grappe. Spot hom oor hoe jonk Bella is. Hy weet hulle is jaloers. Nee, hy wil liewer huis toe. Hy’s moeg.

In sy studeerkamer by die huis haal hy sy rekenaar uit, slaan dit oop en weer toe. Hy kyk of daar boodskappe op sy foon is, verwag iets van Bella, nuus oor waar sy en Emmie is. Hy wonder partykeer waarmee hulle hulleself besig hou, wat hulle in die middae doen. Gerta is ook nie hier nie, seker vroeg huis toe.

Hy staan op toe hy hulle by die hek hoor inkom. Hulle was parkie toe, soos gewoonlik, sê sy. Haar kar staan in die garage. O, sê hy, en soen hulle op hulle voorkoppe hallo. Hy kyk by die venster uit en sien deur die staalheining ’n oranje Cortina in die straat staan. Hy skrik. Kan tog nie dieselfde een wees nie? Getinte vensters. Die kar begin stadig wegtrek, draai links om die hoek. Verdwyn agter die huis oorkant. Hy voel sy hart in sy bors klop.

Skollies wat hom dalk soek? Nee. Hulle ry nie sulke ou karre nie. Maar dis tog nie toeval nie? Onmoontlik. Iemand soek iets. By hom. Hy het lankal Ramona se marijuana-skuld afbetaal. Met rente ook. Dit was ’n nagmerrie wat net nie einde wou kry nie en dit het die kontant in sy kluis ’n helse knou toegedien. Fok, hulle was omtrent knaend. Sy senuwees was op. Die gespuis waarmee sy haar darem al opgehou het. Hy hoop nie sy is al weer met sulke onderduimshede besig nie. Wat hy nie al alles vir die kind moes doen nie. Hy wil liewer nie daaraan dink nie.

Eers toe Bella hom die derde keer roep, loop hy agter haar stem aan kombuis toe.

“Jy sal nie raai wie’t my gebel nie,” sê Bella later. Sy is besig om paella te maak, ook haar ma se resep. Sy draai om en glimlag.

“Wie?”

“Rosa.”

Hy is verbaas. “Hoekom?”

“Sy het ons vir ete genooi. Saterdagaand.”

Hy het gedink Rosa sou vergeet, hulle was so gekuier nou die aand.

“Dis gaaf,” sê hy. Emmie sit op sy skoot. Hy probeer haar fyngemaakte wortels voer. Dis koud. Lyk soos kots. Hý sal dit nie eet nie, hoe kan hy verwag sy moet? Bella is streng. Sy moet haar groente inkry. Hy moet aanhou probeer.

Toe sy terugdraai stoof toe, staan hy vinnig op en met die pienk plastiekbakkie in die hand en kind skeef teen sy heup vasgedruk, loop hy badkamer toe. “Ek bad gou vir Emmie,” sê hy oor sy skouer.

“Dankie, Chris. Het sy klaar geëet?” roep sy agterna.

“Ja, meeste,” sê hy.

Hy krap die wortels met die pienk lepel in die toilet uit.

Later kruip hy langs haar in. Sy is nog wakker. Hy kan stemme in Amerikaanse aksente hoor lag in die grasgroen oorfone oor haar ore. Hy kyk na haar, sy lê op haar sy, haar rug na hom toe. Haar lyf laat hom dink aan dié van ’n jong meisie, ’n vreemdeling in sy bed. As dit dan is soos hy dink dit is, dat ’n mens spesifieke mense kies om jou lewe mee te deel, hoekom juis Bella? Omdat sy ongekompliseerd is? Omdat sy maklik is om mee saam te leef ná die emosionele uitmergeling wat hy met Connie deur is? Omdat dit is wat hy op hierdie stadium wil hê, of nodig het? Eenvoud? Of is dit omdat sy professionele lewe meestal bestaan uit komplekse psigiese raaisels en legkaarte wat net soveel aanspraak op sy intellek maak as sy mensekennis? En dat Bella se kleurvolle Lego-brein wat hom meestal irriteer, soms ook welkome ontsnapping bring? Hy weet nie. Hy het nie altyd al die antwoorde nie.

Hy trek sonder waarskuwing die iPad uit haar hande, en met die gedempte gille van mense wat op iets afkom, iets buitensporig merkwaardig ervaar, want hy sal sekerlik later vertel word hoeveel miljoene views die video al gehad het, trek hy haar syerige slaaphempie se bandjie af en begin aan haar tepel te suig.

Die boek van gelukkige eindes

Подняться наверх