Читать книгу Witboy in Afrika - Deon Maas - Страница 6

Оглавление
VOORWOORD

EK SIT OP die oomblik kruisbeen op die vloer van die vertreklokaal van die Murtalla Mohammed-lughawe in Lagos. Daar is twee restaurante weerskante van my.

Links is die duur restaurant met Franse broodjies en perfek gemaakte cappuccino’s (wel, perfek vir Nigerië). Op ’n grootskermtelevisie word ’n Europese sokkerwedstryd sonder klank gespeel. Die restaurant is vol mense wat alleen by tafels sit en wag vir vlugte na ander dele van die wêreld soos Frankryk, Skotland, Libanon, die VSA …

In die goedkoop eetplek met die plastiekstoele aan my regterkant hoor jy meer Afrikaans as in ’n Johannesburgse restaurant. Daar sit meestal wit ouens wat waarskynlik weens regstellende aksie gedwing is om hul dienste in ander Afrika-lande te gaan verkoop. Uit wat ek kan aflei, was dit vir baie van hulle hul eerste besoek aan Nigerië. Nou ruil hulle stories uit oor hul ervarings. Hulle het mekaar nog nooit ontmoet nie, maar Afrikaans is die aanknopingspunt. Onder hulle is ingenieurs, boere, olieboorduikers en dan natuurlik ek, wat daar was om ’n televisieprogram te maak.

Almal wil altyd vir Afrika probeer help, maar dikwels kry hulle net mooi die teenoorgestelde reg. Soos die tipiese BBC-korrespondent wat ’n topverkoper skryf oor een of ander Afrikaland waarin hy netjies uiteensit wat alles verkeerd is en hoe dit beter gemaak kan word. Dít nadat hy ses maande daar gewerk het. Of Madonna wat Malawi invaar soos ’n moderne slawehandelaar, die mooiste enetjie kies en hom dan saamvat huis toe.

Met hierdie boek probeer ek nie om in enige BBC-korrespondent se voetspore te volg of een of ander groot, nuwe insig oor Afrika te deel nie. Ná meer as ’n dekade se reise op die kontinent kon ek net nie meer mooi onthou watter stories ek al vir watter vriende vertel het nie. Ek het gedink dis dalk ’n goeie plan om al my wedervaringe in een boek saam te voeg.

Soos ek begin skryf het, het die boek egter ’n ekstra dimensie begin aanneem wat my laat dink het miskien gaan Afrika my nog help. Ek het my aan die dink gekry oor identiteit en ras. Deur al my reise heen het ek geleer dié twee konsepte is van groot belang in Afrika, ongeag in watter land jy jou bevind of die opvoeding- of inkomstevlak van die mense wat jy ontmoet. Ek het begin wonder of ek as wit Afrikaanssprekende myself ook as ’n Afrikaan kan beskryf.

Ek het toe ook afgekom op Elsa Joubert se boek Die Staf van Monomotapa (1964), wat handel oor haar soeke na ’n mitiese koninkryk in Mosambiek. ’n Deurlopende tema is haar ervaring as ’n wit mens in swart Afrika. Ek het besef dat ek nie die eerste persoon is wat hierdie vrae gehad het nie.

Daar was ook ’n ander rede waarom ek die boek geskryf het. Ek het uit die bloute ’n aanbod van Kerneels Breytenbach, toe nog publikasiehoof van NB-Uitgewers, gekry en soos enige goeie Calvinis (wel, gewese in my geval) het ek baie respek vir ouer mans met baarde. Tweedens het ek uiteindelik ’n redakteur gekry in die persoon van Annie Olivier, wat verstaan wat ek probeer sê en nie my taal en my styl probeer verander nie. Ek en die oom by Rooi Rose wat my kopie in die tagtigerjare moes regmaak, het net nooit oor die weg gekom nie. Die stommerik wat my werk by Huisgenoot in die hande gekry het, het wyslik sy huisadres van my weerhou sodat ek hom nooit middernagtelik kon besoek nie.

’n Mens kan nie ’n land se psige verstaan as jy nie sy geskiedenis ken nie. Voordat ek op ’n reis gaan, bring ek ure deur op die internet en in boekwinkels om die nodige inligting in te samel. Dit gee my ’n idee van waarheen ek op pad is en dit beïndruk boonop die plaaslike mense as jy moeite gedoen het om hul land te leer ken.

Ek het begin boek lees voordat ek skool toe is. Op veertien het my pa vir my ’n ou tweedehandse tikmasjien by Old Mutual gekoop. Hierop het vele rejection slips gevolg, maar dis ’n storie vir ’n ander dag. My ouers het nooit in ’n vakansiehuis belê nie. Ons het elke vakansie op ’n ander avontuur gegaan. Voor die tyd het ek opgelees oor die plekke waarheen ons gegaan het, veral die geskiedkundige aspekte en dan moes my pa by elke monument of gedenkwaardigheid aftrek sodat ek daarna kon gaan kyk.

Nou kry jy mos daardie soort mens wat vyfuur in die oggend wegtrek en dan net twee keer stop voordat hy by sy finale bestemming uitkom. Die eerste keer is om petrol in te gooi en die tweede keer is om die kinders te bliksem omdat hulle nie wil ophou raas en kla nie. Ek val nie in hierdie kategorie nie. Ek is al ’n keer of wat langs die pad laat staan omdat ek net te moeilik was. Ek is steeds moeilik, maar nou het ek minstens my eie motor en ek kan selfs rook terwyl ek ry. Partykeer is dit lekker om ’n grootmens te wees.

Vandag laat my ma my pa by elke tweede padstalletjie stop sodat sy ietsie kan koop vir die mense by wie hulle gaan oornag. My pa moes maar sy lot aanvaar, al is hy een van daardie soort wat eintlik vyfuur in sy motor klim en net twee keer wil stilhou.

Hoewel ek steeds voor ’n reis oplees, het dinge drasties verander sedert ek ’n stad se naglewe as ’n alternatiewe bron van kennis ontdek het, saam met bier en meisies wat van vreemde aksente hou. My gunstelingplekke in vreemde stede is daarom kroeë, klubs en koffiewinkels. Ek gebruik my plaaslike kontakte nie net as toergidse nie, maar om ’n stad se underbelly te gaan uitkyk. Vandag sorg ek steeds dat ek die historiese agtergrond ken, maar ek gebruik dit amper meer gereeld om mense te beïndruk – veral meisies wat van vreemde aksente hou. Groot dele van die boek is daarom geskryf op die agterkant van till slips in kroeë. As daar feitefoute insluip, vra ek nou reeds om verskoning. Dis die drank se skuld.

Die boek is nie ’n reisgids wat volgeprop is met voorstelle van museums, ou geboue of natuurparke wat jy moet besoek nie. Hulle feature wel, maar iewers op die agtergrond. Hierdie boek dek nie eens ’n agtste van alle Afrikalande nie, maar fokus op die plekke wat die grootste indruk op my gemaak het. Dit probeer nie om ’n verkenning van die hele kontinent te wees soos Bill Bryson se boeke nie, want dit lyk darem na heeltemal te veel werk.

Ek reis nie met ’n kangaroo pouch en ’n plan nie. Die meeste van my avonture gebeur gewoonlik per ongeluk. “Fools rush in where angels fear to tread” is waarskynlik uitgedink met my in gedagte. Die feit dat ek nog hier is, beteken dat daar iemand is wat na my kyk.

Watter groter mag ook al die padkaart van my lewe beplan het, het ’n goeie sin vir humor gehad. Hy (of Sy) het gesorg vir genoeg avontuur saam met ’n brandende begeerte om die vreemde op ’n cowboyagtige manier te verken. Dit beteken dat ek ewe gemaklik voel in Antwerpen as in Kigali, of tussen die advertensieborde op 42nd Avenue in New York en swaar gewapende soldate by ’n padblokkade in die ooste van die Kongo. Dit beteken dat ek koelkop kan bly terwyl ek moet onderhandel met ’n soldaat in Ray-Ban Aviators wat vrot van die kokaïen is en ’n gelaaide AK47 onder my neus rondswaai.

Sowat 90% van hierdie boek is die waarheid. Die ander tien persent is totale versinsels. ’n Mens kan nie alles glo wat jy lees nie en deur nie te sê watter 90% die waarheid is nie, hou ek hopelik ’n paar prokureurs van my rug af. Niemand se ego of reputasie is beskadig gedurende die skryf van hierdie boek nie, maar heelwat mense se name is verander om hulle (en my) te beskerm. Verder hoop ek maar net die lang arm van die gereg sal te kort wees om my te vind, aangesien die gebeure waarop die stories gegrond is buite die grense van Suid-Afrika plaasgevind het.

Ek wil by voorbaat vir my ouers jammer sê oor ek hulle waarskynlik weer gaan embarrass. Ek weet baie van die goed wat ek sê en doen, laat hulle wonder waar hulle met my opvoeding verkeerd gegaan het. Daarop kan ek net sê: Julle het my gemaak soos ek is. In ’n era wat vir eng denke bekend was, het julle my aangemoedig om dinge te ondersoek en opinies oor sake te hê. Julle het dit reggekry en daarvoor is ek julle ewig dankbaar.

Vir die rekord wil ek net sê dat ek goed grootgemaak is, maar dat die euwels van seks, alkohol, dwelms, popmusiek en ’n verbeelding wat vir niks terugstaan nie, my verlei het. Daaroor is ek nie jammer nie.

Vir my kinders wil ek vra om asseblief te doen wat ek sê en nie wat ek doen nie. Dit moet erg wees om ’n pa te hê wat ’n ewige tiener is. Ek weet dat julle allerhande handgemaakte houtspeelgoed as presente gekry het terwyl julle eintlik Nintendo wou gehad het.

Baie dankie aan Pauli, wat aan my die beweegruimte gegee het om soveel tyd af te staan aan iets wat so min geld maak en ons besigheid, Meerkat Media, onder druk geplaas het. Sy het my ook toegelaat om stories te vertel wat ander mans se vroue hulle dalk nie sou toelaat nie. Sy was ook die een wat die huis aan die gang moes hou terwyl ek oor die wêreld gekerjakker het. Sy moes cope met kinders in polisieselle, water- en elektrisiteitsrekeninge en ’n bouery aan ons huis terwyl ek soos ’n wafferse hunter-gatherer gaan inligting versamel het.

Hulle sê elke storie het ’n begin, ’n middel en ’n einde. Wie “hulle” nou eintlik is, kan niemand my ook vertel nie. Dis seker maar dieselfde “hulle” wat gehoor het dat die polisieman se vrou ’n bietjie te lank by die mechanic gekuier het terwyl manlief uitstedig was. In dié geval is “hulle” seker reg. ’n Storie moet ’n begin hê. Ek is nie so seker oor waar die verhaal se middel lê nie, maar tussen die redigeerder en my uitgewer sal hulle dit seker uitsorteer.

Die einde word nie noodwendig deur die skrywer bepaal nie. As hy gelukkig is, sal hy die leser se aandag tot op die laaste bladsy hou. Indien nie, is dit tweedehandsboekwinkel toe of word dit een van daardie laasteminuut-geskenke vir ’n verjaardagpartytjie.

Hopelik sal ek wel daarin slaag om jou ’n rukkie te laat ophou televisie kyk. Televisie is sleg vir jou sekslewe en gee die lewe weer in kort soundbites sonder om werklik ooit by die kruks van enige saak uit te kom. Nie dat ek noodwendig altyd by die punt van ’n saak uitkom nie, maar die avontuur op pad daarheen is tog belangriker as enigiets anders.

Ten slotte wil ek vir al die lugrederye wat ek deur die jare gebruik het, sê dat dit suig om in ekonomiese klas te vlieg. Julle is almal swak en ’n klad op die naam van goeie maniere en klantediens. Hoe verwag julle van my om ’n fliek se dialoog te volg met Chinees vervaardigde oorfone van R1,50 elk, terwyl die mense rondom my nog wawyd wakker en aan die gesels is, omdat julle hulle nie genoeg alkohol wil gee nie? Oorweeg dalk ook ’n reël dat alle kinders onder tien onmiddellik ’n Valium moet kry om op die vlug toegelaat te word. Vliegtuigfrustrasie is die werklike gevaar, nie naelknippers en sigaretaanstekers nie.

Eendag as ek president is, gaan ek julle almal laat toesluit.

Deon Maas[1]

Murtalla Mohammed-lughawe

Lagos, Nigerië

[1] Deon Maas is Witboy, maar Witboy is nie Deon Maas nie.

Witboy in Afrika

Подняться наверх