Читать книгу Witboy in Afrika - Deon Maas - Страница 8
Оглавление1 | GUERRILLAS DEUR DIE MIS Rwanda, 1998 |
EK STAAN IN die middel van die internasionale vertreksaal op die Johannesburgse lughawe – omring deur ’n berg klanktoerusting. Die gesamentlike kapasiteit daarvan is genoeg om ’n hele stadion vol mense dae lank doof te laat. Ondanks die lugreëling sweet die ouens wat die toerusting aandra.
Ek sweet ook, maar nie weens fisieke uitputting nie. Dis my eerste trip na Donker Afrika. My hele lewe lank is ek gewaarsku teen die Swart Gevaar en nou stap ek soos Daniël in die leeukuil in. Die enigste verskil is dat dit nie geloofsoortuiging is wat my in die leeukuil injaag nie, maar ’n sin vir avontuur. Ek doen dit vrywillig.
Terwyl die ouens nóg goed aandra, is dit my werk om die arm van die oulike dametjie agter die toonbank te probeer draai, want ons sal beslis moet betaal vir die ekstra gewig. Ek het R10 000 kontant in my sak om enige probleme mee uit te sorteer, maar ons hele reis lê nog voor; dus moet ek die bybetaling so klein as moontlik hou.
My klewerige gevoel kom nie net van die onsekerheid oor my eerste besoek noord van die Limpopo nie. Ek is ook verantwoordelik vir die welsyn van meer as ’n dosyn mense. Wel, nie mense nie, maar musikante. Musikante is ’n spesiale subspesie. Hulle verloor paspoorte, verpas vlugte, raak dronk en eindig in ander mense se beddens sonder dat hulle weet waar die beddens is. Die kontant gaan dalk nie lank hou nie.
Dit het alles ’n paar weke vantevore begin. Ek was die ywerige seun wat soos die juffrou se witbroodjie sy arm in die lug rondgeswaai het toe Gallo se base wou weet wie daarin belangstel om Lucky Dube se bestuurder te wees vir ’n toer in Rwanda. Dit was vier jaar ná die volksmoord daar en ook vier jaar die nuwe Suid-Afrika in. In daardie stadium was Afrika nog ’n donker plek vir die deursnee-Suid-Afrikaner. Veral as jy wit was.
Wel, het ek gedink, minstens sou niemand my met ’n Hutu of ’n Tutsi verwar as enigiets verkeerd loop nie.
Nie een van my swart kollegas het eens oorweeg om te gaan nie. Daardie hele week op kantoor was almal vreeslik vriendelik met my. Ek het half die idee gekry hulle dink hulle gaan my nie weer sien nie. Die aand voor my vertrek was daar selfs ’n afskeidspartytjie.
My ma was erg ontsteld. Die “maar wat wil jy nou daar gaan maak, my kind?”-vrae het nie opgehou nie. Ek het haar nooit eens gesê ek het aangebied om te gaan nie.
Afrika is ’n moeilike plek om in te reis as jy wit is. Daar is geen kans dat iemand jou vir ’n local gaan aansien nie en selfs al is jy ook een, is jy steeds wit. Dit beteken dat jy die teiken is van almal wat bedel, snuisterye verkoop of op een of ander manier geld uit jou wil maak. Jy’s wit, dus het jy mos geld.
Gaan sit alleen in ’n kroeg en binne ’n paar minute sal iemand jou komplimenteer oor jou selfoon. Weird, ja, maar dit is blykbaar die pick-up line in sulke plekke. Daar is ook baie vroue (of eerder meisies) wat by jou sal slaap in ruil vir ’n paar dollar, ’n vliegkaartjie uit die land uit of selfs net vir die kans om saam met jou gesien te word.
Ek maak nie self van dié soort dienste gebruik nie, maar ek is die uitsondering. Een van die onaangenaamste dinge in Afrika is die prentjie van ’n vet, sweterige Skot, Sweed of ander sondaar met ’n patetiese haarstyl wat nooit in sy tuisland so gelukkig sou wees nie, maar wat nou drie mooi en slim swart vroue het wat aan sy lippe hang. Terwyl hý dronk word, skraap húlle moed bymekaar vir wat netnou in die slaapkamer gaan gebeur.
Dit is natuurlik nog moeiliker as jy wit en boonop net ’n gewone toeris is. Dan raak jy ’n teiken vir ’n ieder en ’n elk wat uniform dra of ’n onbenullige burokratiese pos beklee. Daar word gewoonlik van jou verwag om ’n bydrae tot hul salaris, kinders se skoolfonds of hul pensioenfonds te lewer. Partykeer is hulle dors en wil net ’n Coke of sigaret hê. Maar betaal sal jy betaal.
As jy reis saam met iemand soos Lucky Dube, wat ’n totale superster in Afrika is, verander die situasie gelukkig baie vinnig. Jy hang uit met ministers. Jou lyfwag is gewoonlik’n senior veiligheidspolisieman – daai soort ou vir wie jy baie lugtig sou gewees het as jy net ’n toeris was. Jy kry briewe geteken deur iemand hoog op in die hiërargie wat jou veiligheid verseker as jy in ’n nare situasie beland. Eintlik hang jy met die slegte ouens uit, maar omdat dit beteken jy is veilig, aanvaar jy dit maar so.
In Afrika (soos in die res van die wêreld) gebeur dit alte gereeld dat mense net nice is totdat hulle mag of geld kry. Daarna raak hulle magsbehepte idiote wat almal deur die ore werk en hul posisie misbruik om meer mag of geld te kry. Almal kyk mooi na mekaar, insluitend heersende presidente, want almal weet hulle is in dieselfde situasie: As iemand die karretjie skud, gaan almal uitval.
Rwanda is geen uitsondering nie en dit was al so in die tyd toe die Belge in beheer was. As mense sê Afrika is nie vir sissies nie, dan bedoel hulle eintlik Rwanda. Dié plek is hardcore. Moenie verlei word deur al die groenigheid nie, daaronder skuil ’n kru wreedheid wat deel van die psige van die land is.
Politieke korrektheid is ’n onbekende begrip. Moslems word in hul gesig “pikkewyne” genoem. Hutu’s weet hulle is “lelik en dom” en is eintlik net veronderstel om beeste op te pas, want daar is só vir hulle gesê. As jy my nie glo nie, gaan lees die koerante van destyds. Dit staan daar en almal weet mos koerante jok nie …
Die Belge het die etniese verdeeldheid so doelgerig aangevuur dat dit deel van die samelewing se genetika geword het. Elke koloniale mag in Afrika het hom skuldig gemaak aan menseregteskendings en diefstal van die betrokke land se hulpbronne. Die Belge verdien egter spesiale vermelding wanneer dit by wreedheid en uitbuiting kom.
België het die Kongo in werklikheid nooit eers amptelik gekolonialiseer nie. Koning Leopold het in 1885 die grond eenvoudig vir homself opgeëis en dit langer as twintig jaar gehanteer as sy private eiendom waarop hy kon doen wat hy wou sonder om aan enigiemand verantwoording te doen. Die staat het betaal vir die infrastruktuur wat daargestel is en die koning het die wins in sy eie sak gesteek.
Die stories van koning Leopold se vergrype in die Kongo is wyd bekend. Hy het geredeneer hoe banger hy die inwoners maak, hoe harder sou hulle werk. Om sy wins te vergroot, is mense se koppe en hande afgekap. Die koppe is dan op stokke geplaas as waarskuwing. Dít alles in die naam van rubber. Rubber was destyds ’n duur en gesogte produk in Europa. Koning Leopold se handlangers het in die proses meer as 10 miljoen Kongolese vermoor.
Terwyl koning Leopold die septer in die Kongo geswaai het, was die naburige Rwanda onder die Belgiese regering se beheer. Daar was weinig grondstowwe en dit was die dae voordat internasionale toeriste kon geld inbring deur na ’n paar gorillas te kom kyk. Selfs al kon die Belgiese regering nie dieselfde soort geld uit Rwanda maak as wat koning Leopold uit die Kongo gemaak het nie, het hulle sy tried and tested metodes gebruik om produksie te verhoog. Om die kolonie as ’n suksesvolle besigheid te bestuur, is elke werker byvoorbeeld elke oggend voor werk agt houe met ’n rottang oor die rug geslaan.
Die Belge se spesiale nalatenskap aan die Rwandese was etniese haat. Die oorspronklike inwoners van die gebied was die Twa-pigmeë, wat destyds en vandag nog deur baie Rwandese nie as mense beskou word nie. Trouens, dit was in sekere afgeleë dele glo aanvaarbaar om hulle as aandete voor te sit. Dít is in elk geval wat in een koerant beweer is. Vandag maak hulle 1% van die totale bevolking uit.
Die eerste keer dat ek die Twa in Rwandese geselskap genoem het, het die gesprek tot stilstand gekom en almal het uitgebars van die lag. Hoekom ’n mzungu nou in hierdie “bobbejane” sou belangstel, het hul verstand te bowe gegaan. Die een wat ek wel gesien het, is deur kinders met stokke geslaan en weggejaag omdat hy sy gesig in die dorp durf wys het. Hy was daar om ’n kliniek te besoek.
Die Hutu’s en die Tutsi’s is die twee grootste etniese groepe in Rwanda. Die Hutu’s lyk soos Idi Amin en verteenwoordig 84% van die bevolking. Die Tutsi’s maak 15% uit en lyk asof hulle modelle moet wees. Hulle is lank en skraal met ’n smal neus en ’n ligte velkleur. Die Belge het besluit die Tutsi’s is slim en die Hutu’s dom. Hulle het toe ’n dompasstelsel begin waarvolgens elke mens se etnisiteit in ’n identiteitsdokument aangedui moes word.
Net om seker te maak dat die twee groepe nooit weer in vrede sou saamleef nie, het hulle ook besluit die Tutsi’s kan grond besit, maar die Hutu’s mag slegs vir hulle werk. Die kersie op die koek was ’n wet wat net Tutsi’s toegelaat het om enige vorm van onderwys te ontvang. Die Hutu’s was dus nie net dom en lelik nie, maar ook ongeletterd. Dit herinner nogal aan die ou Suid-Afrika.
Die Hutu’s was duidelik ongelukkig met die situasie en in 1959 het die eerste volksmoord plaasgevind. Daar was 100 000 dooies. Die Tutsi-koning en sowat 200 000 van sy volgelinge moes uit die land vlug en die meeste het uiteindelik in Uganda beland. Onder hulle was Paul Kagame, huidige president van Rwanda.
In 1962 het die Belge besluit om hul sakke te pak, maar hulle moes natuurlik besluit aan wie hulle die mag sou oorhandig. Die Tutsi’s het intussen skool toe gegaan en vir hulself begin dink. Die Belge het dít nie as ’n goeie idee beskou nie en die regering aan die Hutu’s oorgegee. Op dié manier, het die wit ooms van Europa geredeneer, sou hulle Rwanda steeds van ’n afstand af kon beheer. Ewe skielik het die beeswagters hulle in ’n magsposisie bevind en dekades lange wrokke het na die oppervlak geborrel.
In die laat 1950’s en vroeë 1960’s was dit wettig vir ’n Hutu om ’n Tutsi te vermoor en geen haan het daarna gekraai nie. Tutsi’s is inyenzi’s (kakkerlakke) genoem.
In 1963 was daar nog ’n volksmoord en duisende Tutsi’s is vermoor. Aangesien die slagoffers swart was en daar geen internasionale media was om die nuus na die buitewêreld uit te dra nie, het niemand eintlik getel hoeveel dié keer dood is nie. Dit is wel al beskryf as die grootste volksmoord sedert die Holocaust.
In 1974 het die Hutu’s gevoel daar is steeds te veel Tutsi’s in professionele poste, veral in die mediese beroepe, die akademie en die opvoedkunde. Hulle moes gevolglik almal bedank … en daar was wéér ’n slagting.
Dít was die land waarheen ek op pad was om ’n popkonsert te gaan hou. ’n Land wat permanent aan posttraumatiese stressindroom ly en wat nog nie heeltemal wakker geskrik het uit sy nagmerries van vier jaar vantevore nie.
Musiek word deur baie despote gebruik om die massas te kalmeer. Dis nou nie asof dit Lucky se eerste uitnodiging was na ’n land waar daar buitengewone probleme was nie. Sierra Leone en Liberië se stempels was ook in sy paspoort.
Die lughawe in Kigali, met die verbeeldingryke naam Kigali International Airport, is ’n valerige gebou uit die 1970’s en het twee ingange. Die een sê Arrivée/Arrival en die ander een sê VIP Arrivée/Arrival. Daar is tussen min en geen beheer nie, want daar is televisiespanne, radio- en koerantjoernaliste op die aanloopbaan wat koes-koes onderdeur die vlerke van die steeds bewegende vliegtuig hardloop om eerste by die onderste trappie te kom vir die aankoms van Afrika se grootste superster. Hierdie is duidelik nie ’n gereelde afklimplek vir bekendes nie.
Lucky word by die VIP Arrivée ingeneem, die res van ons moet berus in die Arrivée. In ’n land waar jou sosiale status baie belangrik is en dit permanent onder mense se neus gevryf word, is daar nie veel subtiliteit wanneer dit kom by hoe die nuus aan jou oorgedra word nie. Daar is duidelik net een belangrike persoon hier. Ons indrukwekkende Rwandese visums met ’n hologram van ’n gorilla word nie eens ordentlik deurgekyk deur die manne in swart wat met hul donkerbrille binne die lughawe rondloop nie.
Die weer is verbasend gematig, die binnekant van die lughawe so te sê leeg. Die teleurgestelde immigrasie- en doeanebeamptes het gou besef dit gaan nie ’n dag vir bonusse wees nie. Enige misstap van hul kant af sal die einde van die konsert beteken. Só staan dit duidelik in die kontrak met die promotor en dit is sy plig om seker te maak alles verloop seepglad, sodat sy groot belegging nie terugvlieg sonder om die goue eier te lê nie.
Die fooi vir die konsert moes inbetaal word voordat Lucky sy voet op die vliegtuig gesit het. Dis duidelik hy het al voorheen ’n probleem of twee gehad …
Kigali het 851 024 inwoners. Op pad van die lughawe na die Windsor Umubano Hotel sien ons 851 023 van hulle. As deel van die bemarking vir die konsert het die promotor, Mister Vincent de Gaulle (moenie die Mister-deel vergeet nie), besluit om ons op ’n trip te vat. Ons ry deur die hele Kigali terwyl duisende mense, op plekke honderd diep, langs die pad saamdrom om Lucky toe te juig en in die algemeen heeltemal ballisties te gaan. Hy het alleen gesit in ’n allemintige 4x4 en die skare het selfs boomtakke in die pad voor hom gestrooi.
Die ander twaalf van ons is in ’n tiensitplek-bus, wat deur die plaaslike mense ’n matatu genoem word. Die 4x4 maak baie stof en ons moet kort op sy hakke volg, want die mense maak die pad toe om Lucky, wat regop in die opening van die 4x4 se sunroof staan, beter te kan sien.
Die matatu waarin ons ry, is ingevoer van Japan, waar alle voertuie ná vyf jaar afgeskryf moet word. Regdeur Afrika is daar ’n ekonomie wat om hierdie soort invoer gebou is. Die bussie het nog sy Japannese geskrif langs die kante – daar was geen poging om dit te ver-rwandiseer nie. Die Rwandese nommerplaat is sommer bo-oor die oorspronklike Japanse een vasgeskroef. Dié bussie self was dalk, eendag lank, lank gelede, vyf jaar oud in Japan, maar sy Afrika-vakansie is ook al ’n paar jaar oud.
Ek wonder hoeveel ek vir ander se plesier moet opoffer. Een van Lucky se uiters oorgewig agtergrondsangers is besig om my pap te druk teen die binnekant van die matatu. Ek sit by die venster en staar uit oor die see van gesigte buite. Hul klere is gehawend. Die tekens van stedelike verarming is oral om my: gehuggies wat uit kleimure en geroeste sinkdakke bestaan, maer honde en kinders met boepense. Die blydskap op hul gesigte wanneer hulle Lucky sien, en dan die uiterste verbasing om ’n wit gesig vasgedruk teen die ruit te sien, is my enigste vermaak. Wit mense in Afrika, behalwe as hulle hippies of sendelinge is, word nie agterin bussies gesien nie.
Uiteindelik was ek waar ek wou wees. In die middel van Afrika, besig met die soort avontuur waarvan ek gedroom het toe ek ’n kind was. Viva Mandela, viva!
Vir die volgende week sou ek elke oproep wat ek op my selfoon gekry het, begin met: “I’m actually in the middle of Rwanda right now, can this wait until I come back?” Ek het elke oomblik van daai sin geniet en die reaksie van mense nog meer. Ek was braaf en dapper en ’n pionier. Ek was besig om dinge te sien en ervaar waarvan my vriende, kennisse en kollegas net kon droom. Ek het uiteindelik besef wat ek uit die lewe wou hê – om soveel as moontlik te reis.
Dit was voordat ek die geskiedenis van die hotel waarin ons sou bly, geken het. Die Windsor Umubano Hotel, kompleet met ’n kroontjie op die W, was astrant genoeg om homself te beskryf as “Kigali’s resort within the city”. Dit het beteken dat daar ’n swembad was. Die hotel is geleë op een van die vele heuwels waarop Kigali gebou is en wat dit ook omring. Al die belangrike mense bly op die heuwels in Kigali. Ook die staatsgeboue is op die heuwels. Jou uitsig is van die arm mense wat in vervalle omstandighede in die valleie om die heuwels bly. Dit het my dadelik iets van die psige van die land vertel.
Toe ek in die hotel inloop, het ek ’n flashback gehad van hoe dit dertig jaar gelede daar moes gelyk het, van mans in pakke en vroue in aandrokke wat ’n bal kom bywoon. Regte musikante sou agtergrondmusiek maak in die foyer terwyl die gaste belangrike sake bespreek het. Ek het kelners gesien met lekkernye wat deur Franse sjefs voorberei is en wat aan die eksklusiewe groep gaste uitgedeel is. Wat ek in werklikheid daar aangetref het, was ’n hotel wat hard probeer het, maar steeds gesukkel het om ’n ordentlike hamburger voor te sit teen die agtergrond van die panfluitmusiek wat ’n mens gewoonlik in hysbakke hoor.
Die argaïese rekeningstelsel het beteken dat, voordat dit vir jou gebring is, elke bier aangeteken moes word by twee ooms met strikdasse wat agter ’n baie unsexy houttafel in die hoek gesit het. Hulle het dan ’n vormpie aan die kelner uitgereik waarop die bestelling in mooi gekrulde letters op ’n hotelbriefhoof geskryf is. Die kelner het die vormpie na die kroegman geneem, hy’t die bier oorhandig en die vormpie geteken. Voordat die bier na jou gebring is, moes dié getekende vorm eers by die twee boekhouers afgelaai word. Die bier was nooit koud nie en teen die einde van die aand was dit ’n halfuur voordat jy jou rekening kon kry, want alles moes opgetel word, deur die bestuurder afgeteken en dan aan jou oorhandig word.
’n Primus, een van die uitstekende plaaslike biere, het R20 in die hotel gekos. Buite op die sypaadjie voor die hotel kon ’n mens op ’n houtstoel sit terwyl jy die bietjie middagverkeer dophou, plaaslike musiek hoor en dieselfde bier vir R2 koop. Ek het gou meer tyd op die sypaadjie begin deurbring. Dit was lekker om met die plaaslike ouens uit te hang en in gebroke Engels en met handgebare stories te probeer vertel, terwyl die hotel se veiligheidswag so naby as moontlik aan my probeer staan het sonder om die veilige omheining van die hotel te verlaat. Engels is dalk die derde grootste taal in Rwanda naas Kinyarwanda en Frans, maar dit kom ’n baie laat derde.
Die wag het my vele kere gewaarsku teen die “bad people” met wie ek uitgehang het. Dit het ’n rukkie geneem om te besef hy verwys na die Hutu’s. Fisiek kon ek nie ’n verskil tussen hom en die “bad people” sien nie. Bad people, het ek ook gou agtergekom, was sy volle bemeestering van die koningin se Engels.
Wanneer ek saans net ná sononder in die hotel ingegaan het, ná nog ’n volmaakte sonsondergang teen die agtergrond van die rook van die arm mense se aandetevure, het ek die stof van Kigali letterlik uit my klere geslaan terwyl die wag my kopskuddend agtervolg het en in Kinyarwanda gemompel het. Ek is seker dat hy saans oor die stres van sy werk by sy vrou gekla het. Hierdie mal mzungu wat saam met die “bad people” uithang, sal seker eendag ’n hoofstuk in sy memoires wees.
Teoreties was daar niks fout met die hotel nie. Die hysbak het gewerk, die toilette het gespoel en daar was warm water. Selfs in ’n deftige hotel in Afrika is dít reeds ’n anomalie. Die plek was skoon en netjies en almal het hul plek geken. Maar daar was ’n kliniese gevoel aan die plek, amper asof ek in ’n hospitaal was. Dit was eers toe ek die hotel se geskiedenis gehoor het dat ek besef het hoekom dit so voel.
Die Windsor Umubano Hotel moes gereinig word van al die spoke van 1994. Hulle moes ontslae raak van die reuk van vrees van mense wat nie geweet het of hulle die volgende dag weer ’n sonsondergang sou sien nie. Mense wat gehoop het dat die internasionale gemeenskap op die nippertjie sou intree en hul lewe red. Bill Clinton, toe pas weer in beheer van sake nadat hy sy verhouding met Monica Lewinsky probeer verdoesel het met ’n mislukte inval in Somalië, het gekeer dat dit gebeur. Die VSA se weiering om wat in Rwanda aan die gebeur was tot ’n volksmoord te verklaar, het veroorsaak dat die Verenigde Nasies nie kon ingryp nie. Dít, tesame met die feit dat nuusspanne van regoor die wêreld in Suid-Afrika rondgehang het vir die 1994-verkiesing, het beteken dat die 100 dae wat dit gevat het om sowat 800 000 mense in Rwanda te vermoor, feitlik ongemerk verbygegaan het.
Die hotel het in daardie tyd gedien as skuilplek vir honderde vlugtelinge en is ’n ruk lank deur VN-troepe beskerm. Party mense het in die hotel self gebly en ander het in die tuin en langs die swembad geslaap. Die VN-troepe is egter op kort kennisgewing onttrek. Die Hutu-moordenaars het op die hotel toegesak en die vlugtelinge genadeloos uitgemoor.
Dít was hoekom die hotel so ’n kliniese gevoel gehad het. Hulle moes die verlede uitwas, oorverf en toepleister sodat die stemme van die dooies ten minste sagter sou raas.
Die hotel self was met ons besoek nog nie heeltemal operasioneel nie. Party verdiepings was nog nie oop nie omdat herstelwerk nog nie klaar was nie. Op die verdieping waarop ek gebly het, was net die een kant – wat oor die swembad uitgekyk het – oop. Ek het een aand die deur oopgemaak van een van die kamers wat nog in die herstelproses was. Ek weet nie wat ek verwag het om daar te sien nie. Het ek gedink daar sou koeëlgate in die mure wees? Of bloed? Daar was niks. En toe ek binne staan in die donker met die toe deur agter my, was daar net stilte. Die verlede was toegepleister sodat dit nie die toerismebesigheid raak nie.
Buite die hotel was dit ’n ander storie. Dit was nie asof ’n mens hard moes soek na stories oor die volksmoord nie. Dit was eerste op die agenda. Die Tutsi’s wat ons dagtoere gereël het, het seker gemaak daarvan. Eet jou ontbyt, drink jou koffie, klim in die matatu en kom laat ons gaan geraamtes kyk. Teen die derde besoek aan ’n toneel wat met die volksmoord verband hou, het ek my voet neergesit. Genoeg was genoeg.
Party van die beendere het nog net so in hope gelê en wanneer hulle die seile daarvan afgetrek het, het daar kraaie van onder uitgevlieg. Dan was daar die houtrakke met die skedels daarop uitgestal. Duisende in rye. Die impak van duisende skedels was natuurlik groter as hope bene wat later in massa-grafte begrawe sou word. Wat het geword van respek vir die dooies? Of moes hulle tot in ewigheid dien as bewys van wat gebeur het?
Elke keer is daar ’n baie simplistiese verduideliking aan my gegee oor wat gebeur het en hoekom. Dit is mooi en stadig aan my verduidelik asof ek ’n skoolkind of ’n toeris was. Die oomblik dat ek ingeligte vrae gevra het, het almal verduidelik dinge is nie eintlik soos dit van buite af lyk nie. Dat jy daar moet wóón om te verstaan hoe dinge werk. ’n Bietjie soos ’n wit Suid-Afrikaner by ’n aandete in die buiteland in die 1980’s.
Maar genoeg van dood en filosofie. Ek was hier om te rock and roll of minstens te reggae. Ek was op soek na die partytjie.
Die naglewe … mmm, watter naglewe?
Denis, die Belgiese VN-verteenwoordiger, het my reeds gewaarsku om nie te veel te verwag nie. Hy het my genooi vir middagete by sy huis in een van Kigali se beste woonbuurte. Daar waar die diplomate woon. Ek het gehoop hy sou my ’n paar name van lekker kuierplekke kon gee, maar hy was nie van veel hulp nie en boonop was die ete’n saai affêre. Dit het gou geblyk hy het boonop ’n versteekte agenda gehad: Hy wou vir Lucky ontmoet.
En nadat ek die afspraak gereël het, het hy nooit weer met my gepraat nie.
Soos dit donkerder geword het, het dit ook stiller geword in Kigali. Daar was geen pompende klubs met draaiende ligte en Johnny Walker Black nie. Dit was ’n gevaarteken. Dit maak nie saak hoe arm of agterlik enige hoofstad in Afrika is nie, daar is altyd ’n plek wat baie trendy was iewers in die laat 1970’s of vroeë 1980’s en steeds die hart van die partytjie is. Dit het altyd ’n snoekertafel, ’n klankstelsel wat harder oopgedraai word as wat hy kan hanteer, prostitute en beslis Johnny Walker Black – die statussimbool in Afrika wat bewys dat jou duur klere nie beteken jou beursie is nou leeg nie. Die manier om die “Big Boys”, soos oral op die vasteland na hulle verwys word, van die klein vissies te skei.
Hier was niks. Selfs die standaard-huissjebeen-soort ding wat jy in elke straat in elke stad kry, was hier afwesig. Wel, nie afwesig nie, net vroeg toe. Eers het ek vermoed daar is ’n aandklokreël, maar gou het ek besef die klein groepies mense wat nog ná sononder rondhang en ’n bier geniet, is dalk nie die soort drinkebroers wat goed vir my gesondheid sou wees nie – safe pass-brief ofte not. Ek dink ook nie baie van die plaaslike inwoners het hulle geselskap gesoek nie. Ná sononder was Kigali dood omdat dit gevaarlik was en mense steeds in vrees gelewe het. Die polisie was nie noodwendig jou vriend nie.
Ek het twee aande lank my soektog na ’n naglewe voortgesit met ’n drywer wat nie noodwendig my avontuurlus en opgewondenheid om in Kigali te wees, gedeel het nie. Die hotel self het nie veel aksie gebied nie en die Suid-Afrikaanse musikante was, wel, musikante. Hulle was travel-weary en het niks in hul omgewing belanggestel nie. Dit was gou duidelik dat as daar nie vermaak was nie, ek my eie sou moes skep. My ouma het altyd gesê ledigheid is die duiwel se oorkussing en ek is ’n goeie voorbeeld daarvan. Verveling maak my gevaarlik.
Ek het een middag die ure verwyl deur twee straatkinders vir middagte in die spoghotel te vat. Dit was ’n interessante sosiale eksperiment wat ek grotendeels om akademiese redes gedoen het. Die veiligheidswag wat probeer keer het dat hulle in die hotel ingaan en die kelner wat geweier het om hulle te bedien, terwyl ek daarop aandring dat ek in die hotel bly en daarom geregtig is om my gaste daarheen te bring, het gesorg vir ’n atmosfeer wat jy met ’n mes kon sny. My argument was dat ander mense toegelaat word om prostitute as gaste na die hotel te bring en niemand ’n probleem daarmee het nie. Ek het ook daarop aangedring dat ons ’n tafel in die middel van die restaurant kry in plaas van die een in die hoek wat hulle aanbeveel het.
Die restaurant was nie vol nie, maar my mede-middageters, die sakemanne met hul duur horlosies en splinternuwe selfone wat almal eers ná die volksmoord teruggekom het uit selfopgelegde ballingskap in België, was duidelik nie beïndruk met die geselskap waarin hulle hul bevind het nie.
Die kelner het die twee seuns die hele tyd in Kinyarwanda aangespreek en aan sy stemtoon kon ek aflei dat dit nie noodwendig komplimente was nie. Die twee outjies, seker so tussen agt en tien, hoewel dit altyd moeilik is om raak te raai in ’n plek soos dié, het hulle nie aan hom gesteur nie. Skielik was hulle in ’n posisie van mag en niemand kon dit van hulle wegvat nie. Hulle het geweet ek sou hulle beskerm en daarom kon hulle hardegat met die kelner wees.
Ná ’n feesmaal van hamburgers en vele Fantas het van ons musikante hul djembes gebring en in die restaurant begin trom speel terwyl die straatkinders vir hulle Rwandese volksliedjies geleer het. Teen hierdie tyd het selfs die kelner se houding verander en toe die grootbaas ’n paar minute lank iets anders moes gaan doen, het hy selfs kom saamsing en ’n paar danspassies aan ons gewys. Die eerste keer was daar ’n glimlag op sy gesig, maar dit het nie tot by sy oë gekom nie. Dié was steeds dood, verskuil agter die muur wat hy om sy geheue moes bou.
Twee uur later het ek die kinders na die uitgang van die hotel vergesel. In die paar dae wat ek reeds daar was, het ek gesien hoe kinders wat nie wou luister nie, sommer maklik met rubberlatte bygekom word. Dit was die norm en ek wou keer dat my nuwe vriende se dag op ’n lae noot eindig. Terwyl ons uitgeloop het – op ’n plek waar die ander hotelwerknemers ons nie kon sien nie – het die kelner ons uitasem ingehaal en iets in Kinyarwanda aan die kinders gesê. Dié slag was daar glimlagte op hul gesigte terwyl hy sy hand op elkeen se kop gesit en dit gevryf het. Die kinders het om die blok geloop na die agterkant van die hotel. Daar het die kelner vir hulle elkeen ’n enorme sak kos gegee om saam huis toe te vat.
Die laaste prentjie in my kop was van die twee seuns wat laggend in die stofstraat afloop en luidrugtig hul ervaring van die middag bespreek terwyl hulle goed geoefende toertjies met ’n leë sardynblik gedoen het.
Ek dink dit was op hierdie punt wat daar besluit is dat ek ’n lyfwag nodig het. Tot vandag toe weet ek nie of dit op aandrang van die hotel of die promotor was nie. My omswerwinge buite die hotel se veiligheidsheining, en nou ook daar binne, het mense senuagtig begin maak. Of die lyfwag aangestel is om my op te pas of dop te hou, is natuurlik oop vir bespreking.
Die belangrike mense om my het nie gehou van al die politieke vrae wat ek vra nie en hulle was ongemaklik omdat ek so maklik met almal oor die weg gekom het. Die laaste strooi was dat ek my dollars vir franke verruil het op straat en nie in die hotel nie. Ek het ’n baie beter deal gekry en dit was baie opwindender om in ’n agterstraatjie veertig minute lank te onderhandel en mense teen mekaar af te speel. Ek was besig om my eie vermaak te skep.
Ek het my lyfwag dadelik “Baksteen” gedoop. Ek weet nie wat sy regte naam is nie en stel ook nie belang nie. As Baksteen ’n Suid-Afrikaner was, sou hy ’n wit rugbyspeler gewees het wat tweedehandse karre of versekering verkoop het. Hy sou ná rugbywedstryde Saterdagaande by gesellinklubs uitgehang het en moontlik so nou en dan met onwettige diamante gespeel het. Behalwe dat Baksteen beter aangetrek het.
Baksteen het ’n sesde sintuig gehad vir wanneer ek opgestaan het en het dan aan my deur kom klop. Hy kon geen Engels praat nie en die enigste sin wat ek in Frans kan sê, sou ek nie vir hom probeer sê het nie. Kortom, hy was ’n oorlas van die eerste water. Hy was duidelik ’n gevreesde man in die samelewing, want skielik het mense draaie om my geloop. Hy het hom doodgelag vir al my muskietafweerders en dit met veragting op die bed van my hotelkamer gegooi, totdat ek vir hom verduidelik het dat hy dit moet terugsit waar hy dit gekry het.
Baksteen het hard probeer om hom soos ’n toergids te gedra eerder as ’n veiligheidspolisieman, maar duidelik was sy spesialiteitsveld nie om mense van hom te laat hou nie. Ek het geweier dat hy saam met my eet of drink. Hy moes maar sy eie tafel kry, maar selfs as ek toilet toe gegaan het, het hy vir my gewag wanneer ek uitgekom het.
Baksteen
Ek was dus basies onder hotelarres. Dít het ek duidelik besef toe Baksteen hom kom tuismaak het in my hotelkamer onder die voorwendsel dat hy wou vriende maak. Baksteen het die hand van vriendskap na my uitgesteek en sy rol as toeristeleier begin deur my sy veertienjarige suster as ’n bedmaat aan te bied. Toe ek dít van die hand wys, het hy sy twaalfjarige broer aangebied. Daarna was dit heroïen, ’n dwelm wat om een of ander duistere rede maklik en goedkoop in Kigali beskikbaar is. Heroïen is ’n dwelm wat selfs die slegste situasie goed kan laat voel. Ek kon dus verstaan hoekom dit so gewild is. Dit was egter steeds vir my vreemd. Sy laaste aanbod was dagga. Dit was die beste aanbod wat ek nog die hele week gehad het.
Voordat ek aangaan, moet ek net eers ’n vinnige opmerking maak oor my houding teenoor dagga. Dagga het al baie probleme in mense se lewe veroorsaak. Sjokolade, alkohol en nikotien ook. Dagga is ’n natuurlike plant en die enigste rede hoekom dit op so baie plekke in die wêreld verbode is, is omdat die Amerikaners daarop aandring as deel van hul besigheidsooreenkomste met lande. Dagga is verbode in Amerika omdat nylonvervaardigers die hennep-plant uit die weg moes kry om ’n groter mark vir hul nuwe materiaal te skep.
Te veel van enigiets is sleg vir jou. Dieselfde geld vir dagga. Ek beskou dagga soos konjak. Dis iets wat ek so nou en dan gebruik en dit dan regtig geniet, maar ek stel nie daarin belang om dit daagliks te gebruik nie. Ek hou van my realiteit en het nie nodig om my permanent daarvan te verwyder nie. Een aand, tien teen een terwyl ek stoned was, het ek besluit omdat dagga uit die grond van ’n land kom, weerspieël dit die siel van daardie land. Ja, ek weet dis regte stoner-filosofie, maar dit is wat dagga aan jou doen.
Dit was dus tyd om die siel van Rwanda te proe. Die dagga was só donkergroen, dit was amper swart. Dit het teer op jou hande gelos as jy daaraan gevat het. Ek was arrogant genoeg om te dink ek was sterk genoeg daarvoor. Teen Baksteen se wil het ek hom vergesel toe hy dit gaan koop het. Dis net rocksterre wat toelaat dat ander mense dwelms vir hulle aandra en ek is nie ’n rockster nie. Dit beteken ook dat ek nie te veel afge-rip word as dit by die prys kom nie.
Die ou wat dit aan my verkoop het, se naam was Richard. Hy het ’n Hawaise hemp aangehad, ’n fake Ray-Ban en ’n goue horlosie wat in die middagson geglim het teen sy pikswart vel. In tipiese Afrika-styl was dit so los om sy arm dat dit op en af tussen sy pols en elmboog gegly het. Hy was duidelik ’n verbruiker van sy eie voorraad en het nie ’n probleem gehad om dit te doen terwyl hy werk nie.
Die stopsel was in ’n stuk koerantpapier toegedraai. Dit het 20 sent gekos. Terug in die hotelkamer het ek ’n vette gerol. Met die eerste trek het ek al geweet ek speel buite my liga, maar teen dié tyd was ek al so goed geoefen in my rol as die arrogante wit idioot wat dink Afrika kan hom nie onderkry nie, dat ek my sesde sintuig geïgnoreer het. Baksteen het self so ’n bietjie nader aan wit geword, maar sy pose mooi gehou. Kort nadat ons die joint klaar gerook het, het hy vertrek. Hy het geweet waar om my te kry indien nodig. Ek was nêrens heen op pad nie.
Voordat hy nog by die deur uit is, was ek soos ’n stuk klei op die bed. My liggaam wou nie op my brein se bevele reageer nie. My brein het die wêreld-spoedrekord probeer breek met flitse van idees wat weg was voordat dit kon registreer. Ek was besig met die vinnigste edit wat ek nog gesien het. Splitsekondes van idees, prentjies, geheueflitse en visioene. Ek het die verlede, die hede en die toekoms gelyktydig gesien. Dit was nie ’n film wat noodwendig by die loket goed sou vaar nie.
En dít was die goeie deel. Binne ’n paar minute was ek in ’n paranoia-hel. Ek het die res van die dagga gevat en badkamer toe gekruip om dit in die toilet weg te spoel. Ek kon die polisie in die gang hoor afkom. Enige oomblik sou hulle die deur afskop en my arresteer. Die vooruitsig om met verhoorafwagtende massamoordenaars tyd in ’n tronksel deur te bring, was nie ’n aantreklike een nie. En in Rwanda, die macho’ste van alle lande in Afrika, dra tronkvoëls pienk – tien teen een in ’n poging om te keer dat hulle ontsnap. Geen gerespekteerde man in Rwanda wil in die openbaar in pienk gesien word nie.
Ná vele probeerslae het ek al die dagga afgespoel gekry. Ek moes dit in my vuis toehou en dit onder in die pyp van die toilet hou om dit weg te kry. Ek kon steeds die polisie in die gang hoor nader kom. Die enigste oplossing was om die bed voor die deur te sit. Te midde van totale paniek het ek die matras van die bed af gekry en die bed, wat eintlik maar net ’n raam van saamgeperste hout was, teen die deur staangemaak. Ek kon nou asemhaal. Die vyand se eerste aanslag is afgeweer. Dit was tyd om die perimeter verder te beveilig.
Volgende aan die beurt was die venster. Op ’n gebou op die volgende heuwel, so 700 of 800 meter verder, kon ek ’n skerpskutter sien wat gereed was om my te skiet as die polisie nie die blokkasie van die saamgeperste houtbed voor die deur kon platkry nie. Die enigste moontlikheid om my swembaduitsig toe te maak, was die matras wat omtrent twee derdes van die venster bedek het. Die res van die venster het ek met duct tape toegemaak. Ons weet mos almal dis koeëldig.
Hoewel ek nog die stemme in die gang gehoor het, het ek veiliger gevoel. Wat ek sou doen as die polisie die kamer inbars, was nou onder bespreking tussen die verskillende stemme in my brein. Daar was nie meer dagga in die kamer nie en danksy die hele blikkie deodorant wat ek in die lug uitgeblaas het, was ek seker hulle sou my net daarvan kon beskuldig dat ek te veel parfuum gesproei het. Dit was tog sekerlik selfs in ’n land so macho soos Rwanda nie ’n misdaad nie?
Ek het begin dink oor wat dalk nog in die kamer is wat my in die tronk kan laat beland. Dalk het hulle baie streng wette oor naaktheid. ’n Foto van my vrou op die strand in haar bikini is opgeskeur en toe verbrand, want as jy dit net opskeur kan iemand dit weer aanmekaar plak.
Daar was geen sin meer in hoe my brein geredeneer het nie. Genadiglik het ek uitge-pass. Twaalf uur later het ek wakker geword met die geluid van iemand wat aan my deur hamer. Dit was tyd vir Lucky se optrede. Die aand ná die konsert het ek na ’n netjies reggetrekte hotelkamer teruggekom. Niemand het ooit ’n woord gesê nie.
Die aand voordat ek uit Kigali weg is, het Baksteen kom koebaai sê. Dit was nie ’n vriendelike vaarwel nie. Hy het aangedring op een of ander vorm van vergoeding omdat hy so goed na my omgesien het. Dit was nie ’n versoek nie, dit was ’n bevel. Hy het my duurste Diesel-trui as sy beloning gekies. Nodeloos om te sê, ons het nooit penvriende geword nie.
Die son het pas oor Kigali se sokkerstadion gesak. Die meeste mans in die gehoor het hul hemde uitgetrek. Lucky se stel trek reeds ver noord van tweeuur. Die hele plek drup sweet. Jy kan die skare ruik. Voor my sing 65 000 mense: “Hey, you, Hutu man; hey, you, Tutsi man, you’ve got to come together as one” op die ritme van Lucky se groot treffer “Hey, you, Rasta man; hey, you, European …”
Lucky Dube
Die stadion, wat uit beton gegiet is, lyk soos ’n trampolien soos die duisende mense op en af spring. Een inyenzi-massa wat hulle voelers in die lug opsteek. Mense wat uitbundig gil en ontslae raak van jare se frustasie. Altesaam 65 000 mense wat op een slag primal scream-terapie doen. Die skare het gekry wat hulle voor gesoek het, Lucky is besig met een van sy beste konserte in jare.
Dit was onmoontlik om die trane terug te hou. Ek kyk links van my en al die macho manne van die ondersteuningspan is besig om trane af te vee op ’n manier dat hulle hoop niemand sien hulle huil nie.
Het die voorafgaande week maar so glad verloop. Daar was gedurig probleme oor wie vir etes betaal, watter klanktoerusting gebruik moet word en onvoldoende vervoer. De Gaulle, die promotor, het duidelik gevoel omdat Lucky en sy span nou daar is, het dit tyd geword om koste te begin sny. Hy het gou besef Lucky is nie ’n ou wat met hom laat neuk nie. Tog moes ons oor alles baklei. Niks het net gebeur soos dit moes nie. Alles moes aangehelp word. Die kosstorie is gou uitgesorteer en die vervoer ook, maar toe De Gaulle besef ’n nuwe klankstelsel moet uit Uganda ingevoer word omdat die enkele beskikbare een in Rwanda nie voldoende was nie, was hy baie knorrig.
Die klankstelsel het Saterdagoggend, ’n paar uur voordat die konsert sou begin, opgedaag. Dit het Lucky baie min tyd vir sy soundcheck gegee. Toe hy vir sy soundcheck in die stadion aankom, was daar, selfs ná duidelike opdragte dat Lucky nie ’n soundcheck doen as daar reeds mense in die stadion is nie, al klaar sowat 10 000 mense wat hulle plekke ingeneem het. Hulle was vroeg daar om die beste plekke te kry, want dis nou nie eintlik asof iemand ’n werk het om na te gaan nie.
Ek het seker ’n halfuur lank probeer om die mense uit die stadion te kry. ’n Enkele wit figuur met ’n mikrofoon in die middel van ’n leë verhoog wat nooit met die kunstenaar verwar sou word nie. Natuurlik het niemand geluister nie. Daar was nie eens die sarkastiese toejuiging wat jy in Suid-Afrika sou kry as jy dieselfde truuk sou probeer nie. Ek sou graag die feit dat hulle Frans praat en ek Engels, as die rede wou voorhou vir waarom ek geïgnoreer is.
Ná vele probeerslae was daar steeds geen beweging nie. In elk geval kan ek ná jare van konserte getuig die kans om mense uit te jaag voordat die konsert begin, is maar skraal. Ek het die saak met die promotor bespreek – sy Engels was skielik baie swak en hy kon my nie verstaan nie. Ek het die saak met die hoof van sekuriteit bespreek. Hy het sy skouers op daai eg Franse manier opgehaal, sy oë gerol en sy gesprek met iemand anders voortgesit. Ek het magteloos gevoel. In my naïwiteit het ek gedink mense sou na my luister. Was daar geen respek meer vir wit mense in Afrika nie?
Daar is twee soorte polisiemanne in Rwanda. Die een groep lyk soos vlugtelinge in hul swakpassende groen uniforms. Niemand neem hulle ernstig op nie, totdat hulle jou onder een of ander voorwendsel oor die kop bliksem. Die ander groep dra noupassende swart uniforms, donkerbrille en outomatiese wapens. Mense loop sirkels om hulle. Mense kýk nie eens na hulle nie. Hulle is amper soos Johannesburg se metropolisie, net ’n bietjie erger. As jy naby hulle kom, ruik jy sommer die evil. Ek wou nie eens met hulle praat nie, maar hulle was my laaste hoop.
Ek het die grootbaas genader. Hy en sy troepe het sekuriteit beman in die gebied agter die verhoog. Ek het my situasie aan hom verduidelik. Hy het op die verhoog geklim en twee sinne gesê. Die mense het soos waansinniges opgespring en daar was ’n stormloop om by die hek te probeer uitkom.
Probleem opgelos. Die konsert gaan voort.
Ná minder as ’n week in Rwanda het ek begin verstaan hoe dinge werk.
Om die waarheid te sê, nadat ek die dagga, Baksteen en gebrek aan naglewe oorwin het, het ek nuwe moed gehad vir my toekoms as die moderne Livingstone. Ek het besluit om nie huis toe te gaan nie, maar ’n week langer aan te bly. Ek wou die res van Afrika se digs bewoonde land verken. Ná al my harde werk was dit tyd vir ’n vakansie.
Met my aankoms in Rwanda het ek ’n brief gekry van die man wat as “sekuriteitshoof” van Lucky se toer aangestel is. Die brief was ’n safe pass. Daarin is dit duidelik gestel dat enigiemand wat selfs daaran dink om moeilikheid met my te soek, aan die kortste ent van die effens oorwerkte Rwandese regstelsel sou trek. Ek het my eie “get out of jail free”-kaart gehad.
Toe die sekuriteitshoof dit ’n week of twee later sou terugvra, het ek geweet dis tyd om huis toe te gaan. Hy was ’n man met dooie oë en ’n gesig vol merke van handgranaat-skrapnel. Hy het glo ’n hoë pos in die geheime polisie beklee, maar hy wou nooit meer verklap oor wie hy nou eintlik was nie. Ons eens gemoedelike verhouding het binne ’n paar dae na Lucky se konsert dramaties verander toe hy my amper in ’n kis laat huis toe gaan het …
Toe dinge nog beter gegaan het in Rwanda was Gisenyi se weer en sy meer ’n groot lokaas vir ryk kolonialiste en plaaslike sakemanne wat wou gaan stoom afblaas. Eintlik het dit nog altyd goed gegaan in Rwanda, as jy een van die uitverkorenes was. Toe ek daar aangekom het, was Gisenyi, wat op die noordwestelike grens met die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) lê, die plek om die oorlogverskeurde, anargistiese Kongo binne te gaan as jy daar wou gaan roof en steel. Vir Livingstone Maas het dit na die ideale vakansieplek geklink.
Toeristebrosjures noem Rwanda die Land van Duisend Heuwels. Of daar duisend is, sal ek nie weet nie, maar daar is baie. Kigali self is geleë op ’n sentrale hoogland. Enige rondryery beteken ’n ewigdurende op en af teen heuwels en omdat daar geen spoorlyne is nie, is alle vervoer padlangs. Ja, álle vervoer. Van die 13 500 kilometer paaie in die land is net 9% geteer. Die pad waarlangs ek sou reis, was genadiglik deel van die 9%.
Fietse en oorlaaide vragmotors, onpadwaardige busse en voetgangers ding almal mee om die klein stukkie teer wat ’n pad deur die oerwoud baan. En die oerwoud probeer alewig om die pad oor te neem. Die meeste van die tyd pas twee motors net-net langs mekaar in. ’n Normale mens sou in so ’n situasie stadiger ry om seker te maak dat daar nie ’n geskraap van metaal is nie, maar dit het Rwandese bestuurders skynbaar nie gesnap nie. Die standaardmanier is om so vinnig as moontlik te ry, te toet vir enigiets wat kleiner as jy is en dit dan húl probleem te maak om ’n slagting te vermy.
My busbestuurder het sy kicks daaruit gekry om nie te toet wanneer hy fietsryers wou verbysteek nie. Die vele merke aan die kant van sy bus het daarvan getuig dat dit sy doel was om te kyk hoeveel fietsryers hy kon omry. Die bus het natuurlik nie ’n televisie in gehad nie, so sy toertjies was vir die passasiers ook groot vermaak. Elke keer wat hy iemand geskraap het, het ’n paar voorbokke die jongste getal slagoffers uitgeskree. Ek kon verstaan hoekom die lewensverwagting in die land net 48 jaar was.
Moes ek my gedra soos die Rwandese wat aan die speletjie deelgeneem het, of soos ’n Rwandees wat sy mag sou gebruik om dit te stop? Ek het my safe pass uitgehaal om vir die busbestuurder te wys ek hang in belangrike geselskap uit, en gesê hy moet ophou. Hy was verbaas, maar het sy streke gestaak. Die res van die mense in die bus het nie weer met my gepraat nie. Was hulle kwaad of bang vir my?
Ek het geweet dat daar net een ware stad in Rwanda is, dus het ek min van Gisenyi verwag. Die dorp, wat grotendeels bestaan het uit geroestesinkdak-geboue, het gelyk asof dit uitmekaar gaan val. Van die strate was geteer en die winkels was almal in die ou Belgies-koloniale boustyl met afdakke en pilare. Sommige was geverf en duidelik was blou verf een of ander stadium op uitverkoping. Advertensies vir Primus-bier het ’n bietjie kleur verskaf aan van die ander geboue.
Jy kon mense met sambrele huur om saam met jou te stap om die son weg te keer en houtfietse met wiele van hout om jou vrag mee huis toe te karwei. Te oordeel aan die toestand van die paaie kon ek verstaan waarom daar honderde Chinese motorfietse was wat soos perdebye deur die strate gevleg het. Geld, wat in Kigali onwettig in agterstraatjies verruil is, het hier openlik van hande verwissel deur houtluike. Kleremakers het langs die pad gesit terwyl kleurvolle Franse advertensies ’n mens probeer lok het. Die kinders se grootste vermaak was om die Moslems se skoene buite die moskee om te ruil.
Die dorp was ’n deurroete na die Kongo. Die eerste gevoel wat ek gekry het, was van ’n frontier town in die Wilde Weste. Ek het gewag dat die sheriff en die moeilikheidmaker by die kroeg uitgegooi word. Soos ons die dorp binnegery het, het ek onwillekeurig die temaliedjie van The Good, The Bad and The Ugly begin fluit. My medepasssasiers het die eerste keer in ure weer kennis geneem van my.
Die Izuba Hotel was ’n groot verrassing. Die gras, wat in die trope altyd groener lyk as op enige ander plek, was netjies gesny. Die tuin het bestaan uit ’n verskeidenheid van interessante plante, bome en blomme wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Die swembad was groot en die volmaakte blou. As jy langs die swembad gelê het, kon jy die meer voor jou sien. ’n Ligte mislagie het oor die meer gehang wat die berge, wat seker 100 kilometer verder was, soos ’n waterverfskildery laat lyk het.
Die hotel, wat duidelik nog goed in stand gehou is, moes ’n ander nut gehad het as om bloot vakansiegangers te huisves. Ek het gou agtergekom my medegaste was inderdaad huursoldate, prostitute en bloeddiamant-handelaars. Daar was lugafweerkanonne op die dak, sandsakke om die ingang en gewapende soldate in al die openbare dele van die hotel. Hulle was nie daar om aan enige gefuif deel te neem nie. Die Wilde Weste was nader as wat ek gedink het.
Ek het gou uitgevind hoe plofbaar Gisenyi was toe ek tydens my eerste besoek aan die plaaslike mark ’n klein oproer veroorsaak het. Ek het vroeër besluit om ’n reeks foto’s van kinders te neem, omdat veral die blik in hulle oë my so opgeval het. Dit was ou oë in jong liggame. Baie van hulle het ook merke aan hul nekke gehad wat veroorsaak is deur kapmesse wat te stomp was om hul koppe mee af te kap. Omdat daar nie dokters of verpleegsters was om die wonde toe te werk nie, het die vel soos ’n oopgevlekte garnaal oor die oop wond gegroei.
Oral in Rwanda waar ek kinders raakgeloop het, het ek gevra of ek hulle foto kon neem. So nou en dan het iemand “nee” gesê, maar in die algemeen het hulle ingestem. In Gisenyi was dit ’n ander storie. Omtrent niemand wou “ja” sê nie. Dit het moontlik daarmee te doen gehad dat daar net oorkant die grens duisende Hutu’s in vlugtelingkampe was.[1] Onder die vlugtelinge was lede van die Interahamwe, die Hutu-milisie wat die volksmoord gelei het. Hulle was nie vlugtelinge in die tradisionele sin van die woord nie en was weer besig om te organiseer. Daar was baie vrees onder mense oor wat in die toekoms kon gebeur en ’n foto is altyd iets wat gebruik kan word om jou te identifiseer.
Die mark, wat met rommel bestrooi was, het die dorp se ekonomiese stand weerspieël. Ek skat Pickit-Up was op ’n staking daai week. Die produkte was gerig op die arm massas en die stalletjies het gespesialiseer in goedkoop Chinese flip-flops en tweedehandse klere uit Europa. Dit was ’n groot, kaal stuk grond sonder enige beskerming teen die son. Die stukke rou rooivleis was met ’n vliegsousie bedek. Dit was eers ’n dag of twee later dat iemand my na ’n stoorplek geneem het waar duisende plaaslike kunswerke, gekerfde been, fetisj-poppe, toordoktergoed, olifanttande, seekoeitande, luiperdvelle en gorillahande te koop was.
By die mark het ek ’n paar kinders gevra om foto’s te neem, maar sonder sukses. Ek het begin voel soos die ou wat al die meisies vra om te dans, maar almal sê “nee”. Een van die seuns met ’n houtfiets het so skaam-skaam nader geloop en gevra of ek dalk ’n foto van hom wou neem. Hy was eintlik te oud, maar dit sou ongeskik wees om “nee” te sê. Nadat ek die foto geneem het, het ek vir hom die ekwivalent van R2 gegee om dankie te sê. Oomblikke later was ’n ander seun by hom en het hy die R2 probeer afvat. Ek was stomgeslaan. Ewe skielik was ek die toeskouer by ’n vuisgeveg wat gou ontwikkel het tot ’n woeste rondrollery op die grond soos hulle baklei het oor die geld. Almal om my het histeries geskree.
Die mark, wat tot op daardie stadium redelik stil en leeg was, het skielik vol mense geword wat te kere gegaan het soos hiënas wat bloed ruik. Niemand het geweet waaroor die bakleiery gaan nie, maar almal wou deel daarvan wees. Ek praat nie van vier of vyf mense nie. Ek praat van tientalle, miskien 50 of 60 mense, wat van êrens af aangehardoop kom om deel van die geveg te wees.
Die bakleiery was genadeloos en ek was ’n toeskouer. Ek het skuldig gevoel omdat my teenwoordigheid die situasie geskep het, maar ek het nie geweet wat om te doen om dit te stop nie. Daar was geen manier dat ek kon probeer om hierdie mense uitmekaar te kry nie. Toe sien ek die mes in die sonlig blink. Die situasie het te hardcore vir my geraak. Oomblikke later hoor ek outomatiese geweervuur en sien ’n lorrie vol soldate wat om die hoek gejaag kom terwyl mense wapens in die lug afvuur.
Daar was beweging aan my linkerkant. ’n Taxi het sy kans waargeneem: “Time for you to go,” het die bestuurder vir my gesê terwyl hy oorgeleun het om die deur oop te maak. Ek het nie met hom gestry nie en nooit weer teruggegaan dorp toe nie. Die rit na die hotel, wat korter as ’n kilometer was, het my 50 dollar gekos.
Die hotel was ’n oulike plek, maar soos in Kigali was daar nie veel om te doen nie. Soos gewoonlik het die prostitute ná dag 1 besef ek is nie ’n potensiële klant nie en het hulle my uitgelos. Ek het langs die swembad gelê en in die meer gaan swem, met ’n gewapende wag wat my vergesel het. Ek het gesprekke met huursoldate en diamantsmokkelaars in die kroeg aangeknoop.
Die een aand, ná ’n stewige paar happe, wys die een diamanthandelaar vir my wat in sy versterkte Adidas-sportsak is. Dit was halfpad vol diamante. Die volgende dag sien ek hom op ’n rokerige vliegtuig klim op ’n ongeteerde aanloopbaan net buite die dorp. Dieselfde aand sou hy terugvlieg met nog diamante. Nog ’n paar dae later het hy saam met my deur doeane en immigrasie in Johannesburg geloop met dieselfde sak. Niemand het gekyk wat daarin was nie.
Om een of ander rede het die sekuriteitshoof wat die safe pass aan my uitgereik het, van my gehou. Hy het uit die bloute in Gisenyi opgedaag om te kom kyk hoe dit met my gaan. Hy het ’n interessante voorstel gehad: Wou ek dalk sien hoe die Kongo lyk?
Gisenyi se buurdorp is Goma. Eintlik is dit maar een en dieselfde dorp met ’n paspoortbeheerpunt in die middel. Destyds, soos vandag nog, was die oostelike deel van die Kongo ’n gemors. Daar is soveel rebellefaksies dat niemand weet wie aan wie se kant is nie. Partykeer het hulle self nie eens geweet nie.
Gisenyi het geen naglewe gehad nie. Elke aand terwyl ek na ’n Engelse kanaal op televisie gesoek het, kon ek Goma se partytjies in die verte hoor. Die sekuriteitshoof se aanbod het dus baie goed geklink, maar ek het nie ’n visum vir die DRK gehad nie. Volgens die sekuriteitshoof was dit egter geen probleem nie. Aangesien Rwanda die grootste deel van daardie streek beheer het, kon hy reël dat ek sonder een deurgaan. Hy wou my gaan wys presies hoe ver sy mag strek.
Dit was $500 per dag om die gorillas te gaan kyk, maar dít het ek nie gehad nie. Wat dit sou kos om guerrillas te sien, was nog nie duidelik nie, maar ek was op pad om uit te vind.
Die pad wat Gisenyi en Goma aan mekaar verbind, is versper deur ’n enkele paal. Die soldate wat die beheerpunt beman het, het plesier daaruit geput om die mense te teister wat daardeur wou beweeg. Hier kon hulle God speel. Hulle het besluit wie mag deurgaan en wie nie. Vroue is betas en mans is verneder net sodat almal seker was wie is baas. Tog het dit nie gelyk asof dit enige iemand gepla het nie. Dit was hoe dit gewerk het en dit is so aanvaar.
Die soldate het nie baie paraat gelyk nie, maar hulle het elkeen Afrika se grootste magsimbool om hul skouers gedra: die AK47. Die lope is gebruik om mense in rye te laat staan. Party is uit die ry uitgehaal en om die hoek gevat vir spesiale ondervraging. Die mense wat in die ry gestaan het, het nie oogkontak gemaak nie. Hulle het op die grond gekyk. Selfs al is die persoon voor of agter hulle ru rondgestamp, het hulle geen reaksie getoon nie.
Ek is beveel om my paspoort daar te los. My moed het my begewe. Dis die een reël van internasionaal reis wat almal jou altyd leer – moet nooit jou paspoort uit jou hande laat gaan nie. “I’m the boss here. You leave passport. We pick up when we come back,” het Sekuriteitshoof geblaf. Ek was nie meer so seker oor die wysheid van my besluit nie, maar ek moes teësinnig instem.
Goma en Gisenyi kan dalk susterdorpe wees, maar hulle het beslis verskillende pa’s gehad. Verskillende reëls het in die twee dorpe gegeld. Al was daar geen pad of rivier wat Goma en Kinshasa aan mekaar verbind het nie nie, was dit duidelik meer Kongolees as Rwandees. Goma was ’n besige klein dorpie. Daar was oral motors en taxi’s en straatkafees en snoekertafels waar mense bier gedrink het. Die toestand van die paaie was nog erger as in Gisenyi.
Die dorp het “donker” geruik, iets wat ek aanvanklik toegeskryf het aan ’n verbeeldingsvlug totdat ek onthou het dat daar aktiewe vulkane in die omgewing is. Dit het ook verduidelik waarom alles so ’n vuil, swart laag gehad het.
Ons eerste stilhouplek was ’n plaaslike kroeg waar Sekuriteitshoof ’n klomp mense van ’n tafel weggejaag het sodat ons daar kon sit om ’n bier te drink. Dit was tienuur in die oggend. Die tafels was plastiek-tuinmeubels, die mure was ongeverf en jy kon kies tussen whisky, gin of konjak. Suid-Afrika is verteenwoordig deur Amarula en Castle. Sekuriteitshoof het luid en met groot armgebare vir my verduidelik hoe hierdie hele deel nou aan Rwanda behoort. Die plaaslike mense het hom met afkeer aangekyk, maar hy was min gepla. Hy was nou die baas van die plaas en niemand sou op sy battery piepie nie.
Daar was groot petroldepots wat motor- sowel as vliegtuigbrandstof bevat het. Die ontploffing wat ek ’n paar aande vroeër in die Izuba Hotel gehoor het, het daar gebeur. Blykbaar het iemand probeer brandstof steel en toe het soldate op hom geskiet. Die dief en die soldate is almal in die ontploffing dood. Die dief se verbrande lyk het steeds daar gelê, met sy arms wat die lug in gestrek het asof hy op die laaste oomblik ’n finale pleidooi aan God gerig het. Niemand was juis daaroor gepla nie en Sekuriteitshoof het dit beskou as ’n voorbeeld om ander te waarsku om nie te steel nie.
“These people …” het hy met afsku gesê en sy arm oor die hele dorp geswaai. Hy het beslis nie enige vriende probeer maak nie.
Rwanda se amptelike rede vir waarom sy troepe in die oostelike deel van die Kongo was, was dat hy wou keer dat die Interahamwe weer ’n aanval op Rwanda loods. Hulle was dus daar om die hele gebied te beveilig teen moontlike invalle in hul land.
In werklikheid was Rwanda ’n arm land en is die ooste van die Kongo enige kapitalis se droom. Dit het grondstowwe wat geldmakers se mond laat water. Diamante is oral en die belangrikste mineraal wat daar uitgrawe word, is een of ander iets waaruit blik gemaak word. Terwyl Rwandese troepe besig was om daardie gebied te “beveilig”, was hulle ook besig om grootskaals van die verskillende myne te steel om hul eie sakke sowel as die regering se koffers vol te maak. Daar was oral tekens van welvaart. ’n Goue horlosie, ’n redelik nuwe motor en blink skoene wat so elke nou en dan skoongevee moes word van die stof van die strate.
’n Paar biere later het Sekuriteitshoof besluit dis tyd om aan te skuif vir middagete. Teen dié tyd het hy al so ’n halwe bottel whisky weggehad. Ek het gewonder waar ons middagete in hierdie oorlogsverrinneweerde dorpie gaan kry. Hy het die neus van ons Toyota-4x4 (nóg ’n Afrika-cliché) in ’n westelike rigting gedruk. Die dorp het weer oerwoud begin word totdat daar skielik hoë mure om ons verskyn het. Die ingang na die perseel is met sandsakke gepak en daar was soldate met Brownings.
Met die binnery was ons dadelik in ’n ander wêreld. ’n Pragtige, spierwit koloniale huis het oor alles uitgetroon soos ’n soldaat op aandag. Die kilometers gras was netjies gesny en die tuin gemanikuur tot teenaan die meer waar miljoene rande se luukse jagte en spoedbote gelê het. Hier het die kelners netjiese broeke en onderbaadjies gedra en hul strikdasse en gestyfde vadoeke om die arm het splinternuut gelyk. Hier was geen teken van die oorlog nie, slegs van die mense wat voordeel daaruit trek. Daar was selfs ’n Hummer in die parkeerarea.
Middagete was eenvoudig. Jy kon kies tussen pizza, pizza of pizza teen 40 Amerikaanse dollar stuk. Die goedkoopste whisky was Johnny Walker Blue. Die pizzakors het soos brood geproe en die kaas was maar karig versprei oor die halfgebakte poging. Rondom my het almal heerlik gesmul. Hoe anders bestee jy die spoils of war?
Almal sê altyd “there is no such a thing as a free lunch” en dít moes ek toe net daar in Goma se country club leer. Sekuriteitshoof het al hoe dronker en dronker geword en al hoe meer mense het by ons tafel aangesluit om aan die brawe mzungu voorgestel te word. Toe ek weer sien, haal iemand ’n televisiekamera uit. Dieselfde televisiespan wat ons by die lughawe ingewag het, het hul verskyning in Goma gemaak en hulle wou ’n onderhoud met my doen.
Op daardie oomblik het ek besef waaroor die hele uitnodiging werklik gegaan het. Die plan was om te wys dat Rwanda die ooste van die Kongo so goed beveilig het dat ’n wit toeris nou daar kon gaan middagete eet. Ek het die onderhoud gedoen, maar soveel politiek gepraat en vertel hoe Rwanda hulpbronne steel dat ek twyfel of dit ooit gebruik is.
Ek was reg om terug te gaan huis toe, of ten minste terug Gisenyi toe. Ek het genoeg gehad van Big Boys se arrogansie en mense wat voordeel trek uit ander se ellende. Die pizza het ook nie bygedra tot ’n beter gemoedstoestand nie. Die biere het wel teen hierdie tyd begin om my goeie oordeel te beïnvloed.
Sekuriteitshoof, effens ontsteld dat sy PR-plan nie na wense uitgewerk het nie, het egter ander planne vir my gehad. Lekker gelaai met duur whisky het hy besluit hy gaan my wys hoe ver sy invloed in die Kongo strek. My teenkanting het op dowe ore geval. Hy het die sleutels gehad en ek moes luister. Gewapen met nog ’n bottel whisky vir die pad het hy die neus van die Toyota weer wes laat wys en ons is verder die oorlogsone in.
Die eerste padversperring was nog oukei. Die tweede een was al erg genoeg om my drukkende bierpiepie te laat verdwyn, maar die derde een was die kersie op die koek. Hier het Sekuriteitshoof in sy dronke arrogansie in ’n rusie betrokke geraak met ’n soldaat wat dronker as hy was. Hy wou deur en die soldaat wou hom keer. Die soldaat se uniform was versier met fetisj-simbole wat enige normale mens sou laat sidder. Toe hy sy AK47 by Sekuriteitshoof se oop venster indruk, het ek binne ’n splitsekonde langs die voertuig gestaan.
My bierpiepie was terug en dringender as ooit. Ek kon nie wag totdat hulle eendag klaar gestry het nie, ek moes gaan en het agter ’n paar bosse ingeloop. Net toe ek my broek oopmaak, het ek ’n man in die gras sien lê en slaap. Dit was baie vreemd, veral met alles wat ’n paar meter verder aan die gebeur was. Ek het nader gegaan om ondersoek in te stel en toe die klein gaatjie in die middel van sy voorkop gesien. Ek het my gat afgeskrik. Hy het vir ewig geslaap.
Toe ek om my kyk, het ek nog sewe of agt liggame gesien. Ek het nie lank genoeg rondgehang om te tel presies hoeveel daar was en of hulle almal dood was nie. Ek het wel besef waarheen die stryery by die padversperring op pad was en het teruggehardloop na die bakkie.
Sekuriteitshoof het teen dié tyd langsaan die voertuig gestaan met sy pistool teen die soldaat se slaap, terwyl die soldaat sy AK47 in Sekuriteitshoof se gesig gedruk het. Ek het mooi gepraat, die bottel whisky uit die bakkie gehaal en as vredesoffer vir die soldaat aangebied. Ek het almal probeer kalmeer en Sekuriteitshoof terug in die bakkie gekry. Ek het daarop aangedring dat ek NOU DADELIK WOU TERUGGAAN. Die detail van die gesprek het verlore gegaan in die adrenalien van die oomblik.
Ek het eers weer my geheue teruggekry toe ons Goma ná sononder binnery, waar Sekuriteitshoof op nog ’n bier aangedring het. Ek kon die ligte van my hotel sien anderkant die grenspos. Ek het hom net daar gelos en ná ’n groot stryery by die beheerpunt my paspoort teruggekry. Die volgende oggend is ek wakker geklop deur Sekuriteitshoof, wat duidelik nog nie geslaap het nie. Ek dink die bottel whisky het teen daardie tyd al aan sy hand vasgegroei. Hy wou sy safe pass-brief terughê. ’n Paar uur later was ek op die vliegtuig terug Suid-Afrika toe.
Nyiragongo, die vulkaan naby Goma, het ’n paar jaar later uitgebars. Die lawa het Gisenyi om een of ander rede gemis, maar Goma platgevee. Ek hoop Sekuriteitshoof was besig om daar te drink toe dit gebeur het.
Die volkslied van Rwanda is getiteld Rwanda Nziza, wat beteken “Rwanda die skone”. In Zoeloe beteken siza om iemand te help of by te staan. Ek het die ooreenkoms tussen die woorde nog altyd baie ironies gevind.
[1] Die Hutu-georkestreerde volksmoord van 1994 het oor sowat vier maande plaasgevind. Dit is tot 'n einde gebring toe die Rwandan Patriotic Front, 'n Tutsi-rebellegroep, die Hutu-weermag verslaan het. Die Hutu’s het daarna in hul duisende na die Kongo gevlug uit vrees vir die Tutsi’s se weerwraak. Hulle is in vlugtelingkampe opgeneem, wat ’n verdere humanitêre krisis veroorsaak het.