Читать книгу Kobra - Деон Мейер - Страница 13

11

Оглавление

Griessel ry, kyk terug in die spieëltjie na die skraal, effe krom figuur van Dok Barkhuizen onder die straatlig. Hy voel ’n groot deernis vir dié man, vir die groot hart wat agter die streng, onkreukbare fasade skuil.

En dan kom lê sy sondes swaar op hom.

Dok is die een mens vir wie hy nie wil lieg nie. Dis ’n heilige verhouding, die een met jou AA-borg, as jy regtig wil ophou suip. Dis die hoeksteen van rehabilitasie, dis uiteindelik jou enigste reddingsboei in die stormsee van dranklus. As julle mekaar nie kan vertrou nie, is jy basies gefok. Dok is die afgelope paar jaar die een standhoudende ding in sy lewe, die een met wie hy alles gedeel het.

Tot vandag toe.

Daarom maal die ongemak nou hier in sy buik: As jy eers met halwe waarhede en verswyging van die Groot Moeilikheid begin, gly jy gou teen die gladde wand van verval af. Hy weet. Hy wás al daar.

As hy nie oor die eintlike probleem kan praat nie, hoekom was hy nie dan minstens eerlik oor die ander goed wat by hom spook nie?

Want Dok sal sê: “Jy weet wat om te doen.”

En Dok sal reg wees.

Hy sal vir Dok sê: “Ek is bang Alexa gaan my uitvang, ek’s bekommerd dat sy die een of ander tyd deur my gaan sien. En dan gaan sy my los. En al soek ek so ’n bietjie ruimte, wil ek nie dít hê nie. Want ek is lief vir haar, sy is eintlik al wat ek het. So, dit pla my baie, Dok.”

Hy sal darem kan verduidelik waar die ding begin het, waar die oorsprong lê. Dit was destyds, toe hy vir Alexa ontmoet het. Hy was betrokke by die ondersoek na die moord op haar man. Hy was die een wat haar herken het as die voormalige sangsensasie, dit het hom vol nostalgie en bewondering en heimwee gemaak. En toe was hy simpatiek teenoor haar drinkery, en het hy vir haar gesê hy is ook ’n alkoholis. Hy was die een wat van die begin af geglo het sy was onskuldig, hy was die een wat die hele spul ontrafel het, en agterna die een wat vir haar in die hospitaal blomme gevat het en oor musiek gaan gesels het.

Toe dink sy hy is kwaai.

Hy het vir haar probeer sê hy ís nie. Verskeie maniere, verskeie kere. Maar hy het nie ’n vreeslike goeie jop gedoen nie, want hy was half verblind deur wie sy was, en haar musikale vermoë en haar Storie en haar vasberadenheid om op te staan en haar sensualiteit – fok weet, ondanks die skade, ondanks die jare, is sy ’n sexy, mooi vrou. En toe gaan staan en raak hy verlief. En as jy verlief is, dan sit jy jou beste voetjie voor, jy steek ook maar weg wie jy regtig is. En sy het gehoor net wat sy wil.

En toe, in die maande daarna, het ’n ding ontwikkel, “’n dinamiek” sal Dok Barkhuizen dit noem. Alexa wat hom behandel het asof hy ’n goeie, standvastige man is. ’n Held. ’n Vertroueling, ’n raadgewer. Hom voorgestel as haar “baasspeurder”, en tot sy ontsteltenis selfs een of twee kere as haar “rots”.

Hy, Bennie Griessel, iemand se rots? Standvastig? ’n Held?

Hy ís ’n swaap en ’n aap, want ondanks sy ongemak, ondanks sy bewustheid van bedrog, het hy daarvan gehou. Dat Xandra, die ster van weleer wat nou nog mense in die straat kan laat stilstaan, dink hy is O.K. Dit was die eerste keer in meer as tien jaar dat enigiemand behalwe sy dogter Carla enigsins gedink en gesê het hy is O.K. En hy was swak, hy wou dit nie laat ophou nie.

En nou?

Nou is hy ingetrek, en sy sondes het hom ingehaal.

Dis nie dat hy nie saans kan baskitaar speel nie. Dis dat hy skaam is oor wat hy wil speel as hy oefen.

Verlede week, op pad huis toe, hoor hy Neil Diamond se “Song Sung Blue” oor die radio – die Hot August Night-opname wat net met akoestiese kitaar begin en waar die baskitaar eers halfpad deur die eerste vers inskop om die liedjie skielik ritme en diepte en bekendheid te gee – en hy dink hy wil dit gaan naspeel sodra hy by die huis is. Net om te onthou hy bly nou by Alexa, dalk dink sy Diamond is nie gesofistikeerd nie, hy sal liewers iets anders oefen, hy het ’n valse front om voor te hou …

Hy moet wees wat hy nie is nie.

En dit is maar net die begin, die oortjies van die seekoei.

Daar’s die geld-ding ook. Alexa het goed geërf van haar oorlede man – ook sy platemaatskappy Afrisound, wat ’n konstante stroom tantième inbring. Die firma was nie in ’n goeie toestand nie, maar sy is nou besig om dit met ’n natuurlike, instinktiewe sakevaardigheid reg te ruk. Alexa se eie terugkeer-album, Bittersoet, doen bo verwagting goed, haar konserte is weer volgepak.

Sy is ’n ryk vrou. En hy is ’n poliesman.

Sy’t vir hom die iPhone gekoop. En ’n nuwe klankversterker vir sy baskitaar. En klere – ’n baadjie en duur hemde wat hy nie werk toe wil aantrek nie, want hy weet kollegas soos Vaughn Cupido gaan sy siel daaroor uittrek. Om nie eens te praat van die nuwe winter-slaapklere nie. Dis vir hom ’n verleentheid – hy voel soos ’n regte drol op ’n dreskas daarin. Wat is verkeerd met ’n ou sweetpakbroek en ’n T-hemp? Maar toe hy die nuwe pajamas aantrek en daar voor Alexa staan soos ’n idioot, toe sê sy met ’n groot, waarderende glimlag: “Kom hier, Bennie,” en sy druk hom vas en soen hom dat sy knieë lam word …

Wat sal dit help om dít alles vir Dok te vertel?

Dis waarom hy die Groot Probleem heeltemal verswyg. Daaroor kan hy hoegenaamd nie met Barkhuizen praat nie. Of met enigiemand anders nie, dis die fokop. Hy sal dit self moet uitsorteer, maar hy kan nie, glad nie – hy weet nie eens waar om te begin nie.

En asof alles nie genoeg is om sy lewe te kompliseer nie, het Alexa vanmiddag nog ’n dilemma bygevoeg.

Toe hy klaar gestort het, toe hy staan en vars klere aantrek in hulle slaapkamer, het Alexa op die bed kom sit, opgewonde, asof sy die “verrassing” nie meer kon inhou nie. Sy het gesê baskitaarspeler Schalk Joubert, Griessel se groot held, sou die volgende Vrydagaand saam met Lize Beekman by Die Boer in Durbanville optree. “Maar Schalk moet nou inderhaas New York toe vir ’n gig, en toe sê ek vir Lize: Wat van Bennie? Hy ken al jou musiek uit sy kop uit en hy’s nie net ’n baasspeurder nie, hy het ontsaglik gegroei as musikant. En toe sê sy dis ’n uitstekende plan. Bennie, jy gaan saam met Lize Beekman speel – ek is só trots op jou …”

Eers was daar die verligting dat die verrassing nie was wat hy vermoed het nie.

En toe kom die wete dat hy eenvoudig nie in daardie liga is nie, al oefen hy hard saam met Roes, die vierstuk-orkes van amateurveterane. Hulle doen covers van stokou treffers, speel dan en wan op silwer en goue bruilofte, voor middeljarige gehore. Maar dis Lize Beekman dié, die sangeres wat hom, die enkele kere wat hy in haar teenwoordigheid was, elke keer sprakeloos en dom laat met haar ontsaglike talent en haar stille skoonheid en haar aura.

Wat kon hy doen? Alexa het daar gesit met vreugde en verwagting, gewag dat hy moet reageer op die groot geskenk. Hy het die glimlag geforseer en gesê: “Sjoe,” ’n woord wat hy fokken nooit gebruik nie. Hy het gesê: “Dankie, Alexa, maar ek weet nie of ek goed genoeg is nie,” en presies geweet wat haar reaksie gaan wees.

“Natúúrlik is jy goed genoeg. Ek sing nie van gister af saam met orkeste nie, Bennie. Jy het só gegroei in jou musiek die afgelope jaar.” Een van haar tipiese kunstenaarsuitlatings wat hy so sukkel om te hanteer. “Lize e-pos vir my die repertoire, en jy moet net ’n paar keer gaan repeteer, maar dis eers volgende week, jy sal mos kan reël by die werk … Trek jou nuwe blou hemp aan, jy lyk so mooi daarin.”

Toe trek hy maar die hemp aan.

Hy’s gefok. Op minstens twee maniere.

* * *

Hy kry sy spanlede by IMC, die Valke se Inligtingsbestuursentrum.

“Jy lyk bietjie beter, Benna,” sê Cupido toe hy opkyk van waar hy saam met die ander Geweldsmisdaadspeurders na ’n rekenaarskerm staan en staar. “Nice shirt, partner …”

Die hele vertrek staar na hom.

“Ons het die twee-nul-vyf-subpoena vinnig gekry,” sê kaptein Philip van Wyk, IMC se bevelvoerder, met verwysing na die Valke se verpligtinge teenoor artikel 205 van die Strafproseswet om selfoonrekords te bekom. “Lyk my dié ding roer boontoe …”

“’Cause why dis ’n foreigner,” sê Cupido verwytend.

“… maar dis drie seltorings se data wat relevant is,” sê Van Wyk. “En naweke is spitstyd in Franschhoek. Dit gaan tyd vat om alles te ontleed.”

“And I can tell you now, daar gaan baie international calls wees,” sê Cupido. “Helfte van daai wynplase is in die hande van die foreigners.”

“Die internet-diensverskaffer van La Petite Margaux se logs wys daar was sewe rekenaars en drie iPads op daardie IP-adres sedert Vrydag. Ons sal die plaaspersoneel se rekenaars en verkeer moet identifiseer en isoleer voor ons weet wat Morris se aktiwiteite was.”

Griessel probeer onthou wat Van Wyk hom geleer het. “Dit beteken ons sal hulle rekenaars moet gaan haal.”

“Asseblief.”

“Hulle gaan nie daarvan hou nie.”

“Ek kan vir Lithpel soontoe stuur. Dis dalk minder ontwrigtend, en dit behoort nie baie lank te vat nie.”

“Maybe vir Ulinda ook, want daai foreigners gaan nie ’n woord verstaan wat Lithpel sê nie,” sê Cupido.

“I’m right here,” sê Reginald “Lithpel” Davids, die lispelende rekenaargenie wat Van Wyk onlangs by Forensies gaan steel het. Davids is klein en tengerig, met die gesig van ’n skoolseun. Hy skud sy groot Afro-haarstyl verontwaardig. “Dith partykeer athof ek nie vir julle exthitht nie.”

“I rest my case,” sê Cupido.

“Ek bel solank Franschhoek toe,” sê Radebe en reik na ’n telefoon. “This is new, ek was nog nooit ’n Engelse interpreter vir ’n coloured outjie nie.”

“Jithith,” sê Lispel, maar hy vat sy gehawende rugsak met rekenaartoerusting en staan op.

“Enigiets oor Paul Anthony Morris?” vra Griessel.

Een van Van Wyk se navorsers sê: “Ons het met Google begin, kaptein. Dit is ’n redelik algemene naamkombinasie, en daar is heelwat verwysings wat nie foto’s by het nie. Maar ons werk daaraan.”

“En die slang op die doppies?”

“Dis ’n moeilike een om in die rekords-databasis te isoleer,” sê Van Wyk. “Die navraag loop nog, ons sal dit dalk moet verfyn. Maar niks tot dusver nie.”

Nyathi kom ingestap en die vertrek raak stil. “Bennie, the Brit-ish consul general’s office just called. She has news about the passport, we can go and see her now.”

Wenkbroue lig. Cupido kyk na sy horlosie. “Twintig oor sewe in die aand? Maybe is hierdie Morris royalty of iets.”

* * *

In die motor sê Nyathi: “I spoke to your sponsor. Thanks, Bennie. I hope you understand.”

En hy sê: “Of course, sir,” want hy verstaan. Die Valke is ’n spanomgewing. Die swakste skakel bepaal die sukses. En dis wat hy op die oomblik is.

“Everything else O.K.? Your health? The family?”

“Yes, thank you, sir.”

Die kolonel knik sy kaal kop stadig en nadenkend soos ’n man wat ’n treetjie nader aan insig en die waarheid gekom het.

Hulle ry in stilte tot op die N1. “Cloete has his hands full with the media,” sê Nyathi. “We need a break. Quickly.” En dan: “Do you think it’s a ransom thing, Bennie?”

“Yes, sir.”

“Have you investigated a kidnapping involving a ransom before?”

“Three or four times, sir. But not where there’s a foreigner involved.”

“I’ve never had one,” sê Nyathi.

“They’re all bad news, sir.”

Hulle parkeer in Riebeeckstraat en moet eers soek vir die ingang na Norton Rose House, ’n toringblok wat verlate is dié tyd van die aand.

Die Britse konsulaat, met koeëlvaste glasdeure en ’n deeglike sekuriteitstelsel, is op die vyftiende verdieping – Griessel en Nyathi moet hulself eers identifiseer voor ’n vrou hulle kom haal en na die konsul-generaal se kantoor neem.

Die waardige middeljarige vrou stel haarself voor as Doreen Brennan. Sy is nie alleen nie. By haar is ’n jonger vrou met donker kortgeknipte hare, ’n swartraambril en ’n mooi mond. “This is one of our vice-consuls, Emma Graber. Please, gentlemen, sit down.”

Wanneer hulle die hoflikhede afgehandel het, stoot Brennan die polisiefotograaf se foto van die paspoort oor die lessenaar. “I’m afraid this is a forgery,” sê sy apologeties.

Griessel se moed sak in sy skoene. Dit beteken hulle weet steeds nie wie Morris of sy naasbestaandes is nie.

“Are you sure?” vra Nyathi.

“Yes. The passport number belongs to a seventy-six year old woman from Bexhill-on-Sea in Sussex who passed away thirteen days ago. It might be her passport that was modified, but we’ll need to analyse the original to be sure.”

“No, the passport is very new,” sê Griessel terwyl hy stoei met die teleurstelling.

“Would it be possible for us to have a look at the document itself?” vra Graber. “We have a comprehensive database of for-geries, which might help to trace its origin.”

“Of course,” sê Nyathi. “I’m sure that can be arranged eventually …”

“I see,” sê Graber nadenkend. Dan: “Of course, we only want to aid your investigation. As I understand it, the first seventy-two hours are usually crucial.”

“Indeed. And it is much appreciated,” sê Nyathi.

“We actually know very little about the crime that this person was involved in,” sê Graber. “Unfortunately, the detective who brought the photographs spoke to one of the clerks. Could you tell us more?”

Nyathi huiwer, glimlag dan hoflik. “I’m really sorry, but the investigation is at a very sensitive stage. And now that it seems as if Morris might not be a British citizen … I do hope you understand …”

“Of course,” sê Graber en glimlag simpatiek. “We’re just trying to help. And I’m curious. Was it a robbery or something?”

“I’m not at liberty to say.”

Griessel konsentreer nie en raak eers bewus van die ongemaklike stilte wanneer Nyathi vlugtig maar betekenisvol na hom kyk. En dan snap hy eindelik dat hier iets aan die gang is, ’n verbale skaakspel – Graber wil baie graag die paspoort in haar hande hê en meer weet van die misdaad. Nyathi is baie onwillig om dit met haar te deel. En hy onthou Cupido se reaksie: Twintig oor sewe in die aand? Maybe is hierdie Morris royalty of iets.

Meteens is hy wakker, asof die tamheid van hom afrol.

Hier is ’n slang in die gras. En die kolonel wil hê hy moet dit help vang.

Kobra

Подняться наверх