Читать книгу Die vrou in die blou mantel - Деон Мейер - Страница 3

Voorwoord

Оглавление

Waarom is die boekie dan so dun?

Ek weet veral Bennie Griessel-aanhangers gaan dié vraag vra, en met reg ook. Want in Afrikaans is die novelle nie ’n bekende formaat op boekwinkelrakke nie, en die meeste van my boeke bevat meer as honderdduisend woorde. (Die vrou in die blou mantel is so net duskant die drie-en-dertigduisend woorde lank.)

Hier is die antwoord: Ek is in 2015 genooi om die Geskenkboek vir die 2017 Spannende Boekeweek in Nederland te skryf.

Die Geskenkboek se formaat is ’n novelle van om en by ses-en-twintigduisend woorde. Vir dié groot eer sê ’n mens net “baie dankie”. En jy durf die onbekende, korter formaat met vrees en bewing aan, want jy volg in die intimiderende voetspore van jou skryfhelde: Frederick Forsyth, Stephen King, Dick Francis, James Ellroy, Henning Mankell, Nicci French en Ian Rankin, om net enkeles te noem.

Die Spannende Boekeweek is een van die projekte van die Stichting Collectieve Propaganda van het Nederlandse Boek (CPNB), ’n uitmuntende organisasie wat hulle uitsluitlik daarop toespits om boeke in Nederland te bevorder en te bemark. Vir een week in die jaar, in Junie, val die kollig op spanningsverhale. Sou jy dan by ’n deelnemende Nederlandse boekwinkel €12,50 of meer bestee, kry jy die Geskenkboek gratis.

Vir die skrywer is dit ’n wonderlike geleentheid, want etlike honderdduisende eksemplare van die Geskenkboek word gedruk, jy toer twee weke lank deur die lengte en breedte van Nederland en jou werk kry dus veel wyer blootstelling as gewoonlik.

Verder ervaar jy ook die unieke proses van die uitnodiging en die inlywingsritueel (alles in groot geheimhouding gehul), en dan deelname aan die voorbereidings- en bekendstellingsprogramme. En jy kry die geleentheid om saam met lieflike mense te werk. Dit was ’n onbeskryflike voorreg en lekkerte.

Maar iewers te midde van al die opwinding besef jy dat Bennie in jou storie ’n groot tree wil gee in sy verhouding met sy vriendin Alexa Barnard, en juis daarom wil jy hê Afrikaanse lesers moet die novelle ook lees, vóór jy ’n volgende Griessel-boek skryf waarin dit ’n faktor gaan wees.

En dan moet jy en jou uitgewer mooi dink oor hoe en waar en wanneer Die vrou in die blou mantel in Afrikaans gaan verskyn.

Jy hou ons finale besluit nou in jou hande vas. Ons wou nie wag tot daar eendag genoeg materiaal vir ’n bundel was nie, want aanstaande jaar kom daar nog ’n Griessel-dossier, en Bennie het planne …

Daarom is die boekie so dun.

(Ek besef dit is ’n skrale troos, maar hierdie uitgawe bevat nagenoeg seweduisend woorde meer as die Nederlandse eksemplaar. Daar was byvoorbeeld nie plek vir die bergfiets-jaagtog in Hollands nie …)

Ek gebruik graag die geleentheid om almal te bedank wat betrokke was by die vreugdevolle Geskenkboek-proses. My agent Isobel Dixon. Die briljante mense van my uitgewer A.W. Bruna in Nederland: Steven Maat, redakteur Susan Sandérus en mediaskakelbeampte Saskia Hausel. Die hele CPNB-span, veral Eppo van Nispen tot Sevenaer, Gijs Schunselaar, Esther Scholten, Job Jan Altena, Thilini Scherpenzeel en my voortreflike motorbestuurder Pelle Baas. En natuurlik het my Afrikaanse redakteur, Etienne Bloemhof, en sy kollega Hester Carstens gehelp om die geheim te hou en die manuskrip onder hande te neem.

Deon Meyer

Stellenbosch, Augustus 2017

Die vrou in die blou mantel

Подняться наверх