Читать книгу Die vrou in die blou mantel - Деон Мейер - Страница 5

2

Оглавление

Die een wat haar lyk op die klipmuurtjie gedrapeer het, sou ironies genoeg Moordenaarskop kon sien – een van die Hottentots-Hollandberge se ruwe, hoë pieke wat oor Somerset-Wes toring.

Sy is uitgestrek by die groot uitkykpunt heel bo in Sir Lowryspas, haar kop na die noorde, haar voete na die suide. Sy is heeltemal kaal, haar lyf wasbleek. Die volmaan se lig gee aan haar vel ’n onnatuurlike skynsel, soos dié van ’n heilige.

Haar oë is toe. Haar regterhand rus gemaklik op haar maag en haar bene kruis by die enkels. Die flonkerende stadsliggies daar ver onder – Gordonsbaai, die Strand, Somerset-Wes en selfs Khayelitsha – is ’n betowerende agtergrond. Met ’n eerste, haastige oogopslag is sy rustend, of dalk poseer sy vir ’n foto, of skildery? Maar sou jy hier in die nanag skerper kyk, is die toneel gou ontstemmend: Die kaal vrou in Mei se nagkoue; haar linkerarm hang teen ’n eienaardige hoek langs die muurtjie af, die kneukels raak net-net teen die soom van groen gras. Daar is vreemde vlekke en happe in haar kort, ligte hare, en by haar pubis. Die onophoudelike geruis van verkeer op die besige N2, die geel gloed van voertuie se ligte wat van die krans hier naby haar in weerkaatsing kom en gaan. Dit kan nie wees dat sy hier só vertoef of rus nie. Daar moet iets baie groot skort.

* * *

Net vyftien kilometer oos draf die luiperdwyfie met die paadjie langs, sy het nie die volmaan se lig nodig nie. Sy wil noord, terug na haar bekende jaggebied, die hoë kranse en skeure van die ruwe berge, haar afgebakende terrein, haar veiligheid.

Sy was twee dae lank hier, te naby aan mense en voertuie en geluide en reuke wat haar senuagtig en slapeloos hou, op soek na water en prooi ná die lang, snikhete somer se droogte.

Hierdie is die paadjie waarmee sy gekom het, twee spore kronkelend teen die helling af, en sy wil daarmee terug, dan oor die teerpad, verby die groot dam – sy kan al weer die water ruik – en daarna die berge in.

’n Suising laat haar vassteek. Eers is dit vaag, maar dit word al luider totdat sy dit herken, die klank van voertuie. Sy sien die gloed van die ligte, sien en hoor hoe twee van hulle hier reg onder, voor haar, tot stilstand kom. Stemme. Die gekreun van ’n hek.

Sy draai om en smelt in die skaduwees van die fynbos weg.

Sy sal nie vannag kan teruggaan huis toe nie.

* * *

Om 05:35, twee uur voor sonop, draai ’n minibustaxi, op pad van Mthatha na Kaapstad, by die uitkykpunt in sodat die bestuurder kan urineer. Hy hou stil en klim haastig uit. Hy sien nie die lyk op die muurtjie nie.

Die passasiers is dertien vroue – naaisters en skottelgoedwassers, huishulpe en skoonmakers – almal Xhosas. Een van hulle, in die tweede ry sitplekke, sien die onnatuurlike figuur op die muurtjie. Sy roep na Bo. Die ander word wakker, kyk na waar sy wys. Hulle maak die vensters oop en skree vir die bestuurder. Hy sien. Hy skrik, pis op sy skoen en swets. Hy trek sy gulp haastig op, maak die minibus se deur oop en klim in. Hy skakel die enjin aan.

Nee, sê een van die vroue, bel die polisie.

Die bestuurder is onwillig. Hy dink daaraan dat dit hulle ure lank gaan vertraag. Sy werkgewer sal ongelukkig wees. En hierdie klaarblyklik lewelose wit vrou het niks met hom te doene nie.

Hy skud sy kop en sit die bussie in rat. Die koor van agter is luid, verontwaardig en eenparig: Ons ry nie voor jy nie die polisie gebel het nie.

Hy sug, skakel die enjin af, neem sy selfoon en bel die polisie se noodnommer. Dit lui baie lank. Hy klim solank weer uit, loop versigtig nader aan die lyk. Hy staar tot hy homself vergewis het dat sy dood is. Die polisievrou wat antwoord vra hom om stadiger te praat, en in Engels. Hy rapporteer wat hy sien, beantwoord ellelange vrae oor die ligging.

Eindelik kan hy aflui. Hy haas hom terug na die bussie, en wil weer ry. Maar die dertien Xhosa-vroue skel op hom. “Ons kan haar nie nou só hier alleen laat nie.”

* * *

Die uitkykpunt in Sir Lowryspas is byna ewe ver van Grabouw as van Gordonsbaai, daarom is daar aanvanklik verwarring oor jurisdiksie.

Die eerste polisievoertuig tref ’n sonderlinge toneel aan, uniek tot hierdie suiderpunt van Afrika: Dertien vroue wat in die laaste donker voor dagbreek in ’n halfmaan om die lyk staan en sag kerkliedere sing, ’n taxibestuurder wat eenkant sit en toekyk.

Nog patrollievoertuie met nuuskierige sersante en konstabels van die SAPD-kantore op Grabouw en Gordonsbaai daag op, én nog een van Somerset-Wes af. Teen sonop is daar ’n algemene vertrapping van die misdaadtoneel en ’n verkeersopeenhoping op die N2, want wanneer daar ’n oordaad van polisievoertuie langs die pad staan, is motoriste soos skape.

Dit veroorsaak dat Somerset-Wes se speurders eers ná agt opdaag, en nog ’n uur later die patoloog, video-eenheid en forensiese span.

Net voor tienuur kondig die patoloog aan dat die oorsaak van dood na alle waarskynlikheid trauma deur ’n stomp voorwerp agter teen haar skedel was. Maar sy is elders vermoor. En dit lyk of die liggaam met ’n oordaad van bleikmiddel gewas is. Gewone huishoudelike bleikmiddel. Hy kan dit duidelik ruik, en die wit vlekke in die kop- en pubishare bevestig dit.

Daar is geen teken van haar klere of besittings nie.

Die ambulans vervoer haar, ongeïdentifiseerd en naamloos, na die staatslykshuis in Soutrivier.

Op Dinsdag 16 Mei.

Die vrou in die blou mantel

Подняться наверх