Читать книгу Die vrou in die blou mantel - Деон Мейер - Страница 4
1
Оглавление12 Oktober
Hy is honger en dors en vreesbevange, tot die dood toe moeg, dit is net adrenalien wat hom een voet voor die ander laat neersit. Deur die nag se donker hou hy aan met loop, en dan verkleur die horison en die wêreld kry vorm en hy kry weer hoop. Net voor agt, net voor die son van Rotterdam se kant af oor die horison breek, maak die Schiedam-mark in die sagte, goue oggendlig voor hom oop, die menigtes, die drukgang, die warboel, en sy hart fladder in hoop: Hier kan hy dalk ontsnap. Wegraak.
Hy kyk nie om nie. Hy weet hulle is agter hom. Hy hou net aan met stap, in dieselfde rigting, laat die roesemoes hom insluk. Handelaars se stemme wat roepend bemark, mense wat praat en lag en stry en skree, ’n baba huil troosteloos. Hoenderhenne kekkel verontwaardig, perde runnik, die diep bulk van ’n koei iewers. Die reuke van vis en skulpvis, krappe en krewels en kreef, en gebrande eendvere en dieremis en nat grond en varkvleis oor ’n spit en wors wat gerook word en – ’n oomblik lank, wanneer sy bene swik van die smagting – die diep geur van vars, ronde brood wanneer die seun met die groot mandjie hier reg langs hom verbystap.
Hy sien die donkerblou jas oor die wa se agterkant hang en weet instinktief niemand gee daaraan aandag nie. Hy neem dit vinnig en met ekonomie van beweging, ’n vaardige dief. En ervare. Hy vou die jas dubbel, hou dit voor sy lyf. Hy sak op sy knieë agter die houtkratte langs ’n kaasstalletjie, pluk sy hoed af en sit dit op die grond langs hom neer. Hy trek die stink, verslete bruin baadjie uit, los dit ook daar.
Die son breek oor die oosterkim. Hy trek die gesteelde jas aan en staan op. Sy bene swik weer ’n oomblik, dan strompel hy vorentoe, loop gebukkend, kom eers later regop.
Hy swenk in ’n nuwe rigting, Delft se kant toe.
Steeds kyk hy nie om nie, want hy is te bang hy sien hulle. Die vier wat hom jag, en jaag.