Читать книгу Daan Dreyer se blou geranium - Derick B van der Walt - Страница 6

Оглавление

Hoofstuk 2

Hoofstuk 2

Die tuin lyk netjies, sien Daan teleurgesteld. Die gras is gesny en die blombeddings is versorg en die plaveisel voor die huis is silwerskoon afgespuit. Hy het half gehoop dinge val uitmekaar sonder hom.

Hy hoop altyd dis Karen wat die deur gaan oopmaak. Hy het die toneel al verskeie kere in sy verbeelding gesien.

Hulle sal ’n rukkie na mekaar kyk en dan sal hy sy arm om haar slaan en vir haar sê: “Lief, kom ons los nou al die nonsens. Ek gaan pak net gou my goed en bring dit huis toe en dan gaan eet ons iewers iets.”

En sy sal sê: “Ons het jou gemis, Daan. Die ek-het-jou-ontgroei-ding was sommer my verbeelding.”

Maar dis gewoonlik Annerie wat oopmaak, hom met ’n soen op die wang groet en met haar rugsak oor die skouer kar toe loop. Dan kyk hy hoopvol in die gang af, met Annerie wat vra wanneer hulle gaan ry.

Daan ry by die hoofhek uit en wag vir ’n kar om verby te kom voor hy in die straat indraai.

“Hoe het dit toe gister gegaan?” Hy grawe desperaat in sy geheue om te probeer onthou wat sy moes doen.

“Oukei.”

Is niks in sy kinders se lewe ooit meer as oukei nie?

“Hoe bedoel jy?”

Sy kyk by haar venster uit. “Ek het nie eintlik baie inspiration gehad nie.”

“Hoe so?”

“ ’n Mens moet creative voel as jy ’n goeie poster wil maak.”

Blienk! Die liggie gaan aan. Die poster-kompetisie.

“Wat was fout?”

“Ek weet nie eintlik nie. Dit was net nie my dag nie.” Sy sug.

Die skeistorie het sy kind se lewe onderstebo gekeer. Hy weet, en hy voel skuldig. Hy kon nog nie oor Tollie agterkom nie.

Sien jy nou? sê hy gereeld vir Karen in sy kop. Beskuldigend. Hy het al ’n slag vir haar gesê dalk moet hulle Annerie na iemand neem. Beslis net nie na Hendrina toe nie.

“Dis nie nodig nie, Daan. Ek en sy praat baie. Sy weet nou daar is goed in die lewe wat nie vir altyd hou nie. Sy verstaan. Sy sal oor die ding kom. Haar lewe is vol.”

Karen se Nuwe Stem. Hy dink dis Hendrina se werk. Moenie ongeskik wees nie, maar hou dit kort en saaklik, onpersoonlik.

“Wat is jy lus om te doen?” vra hy vir Annerie. “Het jy al geëet?”

Hy mis sy kinders erg, maar hy raak paniekerig as sy naweek aanbreek. Wat dóén jy met ’n twaalfjarige dogter in ’n klein woonstelletjie?

By die huis was dit anders. Almal het hulle dinge gehad en het gekom en gegaan. Niemand het tog ooit vir twee dae na mekaar sit en kyk en gekoeitjies-en-kalfies nie.

“Ja. Ek het jogurt en muesli gehad. Ek weet nie eintlik wat ek wil doen nie. Ek moet ’n resensie oor ’n restaurant of ’n fliek of ’n boek of so iets skryf. Pa kan my help.”

Sy keel trek toe. Dit was nog altyd Karen se afdeling, die opstelle en die toesprake.

“Ek sal probeer . . .” sê hy huiwerig.

’n Plakkaat teen ’n lamppaal gee hom ’n idee. “Was jy al by ’n kunsmuseum?”

“Nie wat ek kan onthou nie.”

“Wil jy gaan? Daar’s ’n uitstalling by die kunsmuseum in Arcadia.”

Sy lyk onseker. “Watse uitstalling?”

“Seker skilderye. Jy hou mos van skilderye. Kom ons gaan kyk.”

“Oukei.”

Hy kry parkeerplek voor die museum en hulle stap die trappies op na die ingang. Die sekuriteitswag beduie hulle kan maar deurstap.

Hulle loop tydsaam deur die uitstalling. Annerie vergaap haar. Sy gaan staan kort-kort met haar kop skeef gedraai, maar sy sê niks.

Hy kyk meer na sy kind as na die skilderye. Sy kind wat nie meer ’n pa by die huis het nie. Kon hy en Karen nie maar iets aan die groeiery gedoen het nie? Dalk bietjie gesnoei het of kunsmis gegee het of goggas doodgespuit het of wat ’n mens ook al doen om te groei.

Sy selfoon lui. Tollie.

“Hi, Pa. Die braai by Japie is af. Ek sal julle join. Waar gaan ons eet?”

“Seker maar by Romero’s. Dis naby en hulle het iets van als.”

“Kan ek iemand saambring?”

“Eh . . . natuurlik. Wie?”

Tollie aarsel. “Sommer iemand wat saam met my swot. Hoe laat?”

“So halfeen.”

“Sien julle!”

Annerie kom aangestap. “Hier’s weird goed, maar dis cool!” Haar oë blink vir die eerste keer die dag.

Hy vat haar om die skouers en stuur haar deur toe. “Kom ons gaan eet. Ek is nou lekker honger.”

Sy selfoon lui. Weer Tollie. Drie oproepe in twee dae ná drie weke se stilte.

“Pa moet assebliéf nie vir my Tollie sê as ons eet nie.”

“Reg so.”

Daan glimlag. Wanneer het hulle so vinnig grootgeword? Tollie was nou die dag nog doodtevrede om Tollie te wees.

“Waar gaan ons eet?” vra Annerie terwyl sy haar sitplekgordel vasmaak.

“Sommer by Romero’s. Ons eet mos altyd lekker daar. Hulle het ietsie van alles.”

Sy sê niks nie.

“Wil jy by ’n ander plek gaan eet?” vra hy onseker.

“Nee wat. Romero’s is oukei.”

Hulle ry in stilte na die restaurant.

Tollie en ’n dingetjie staan vir hulle voor die ingang en wag. Daan sien eers die kaal magie met die naeltjiering en toe die ferm borsies en toe die neusring en toe die donker, broeiende oë.

“Dis Casey!” Tollie se bruin oë blink meer as die meisie se neusring.

“Hallo, Casey,” sê Daan onseker.

“Hi.” Die stem is laag, donker, alterig.

My kind, sy klou aan my kind, is al waaraan Daan kan dink. En dan paniekerig: Die bytjies en die blommetjies. Hy en Tollie hét al gepraat, maar hy sal dalk weer moet.

Toe hulle gaan sit, fluister Casey met die diep stem: “Dis amazing.”

Daan kyk om hom rond. Amazing? Dis mos maar net Romero’s. Dalk is hy al te gewoond aan die plek.

Hy bestel ’n glas rooiwyn, Annerie Coke, Tollie ’n Windhoek Lager en Casey iets waarvan Daan nog nie gehoor het nie.

Dis ’n rukkie stil terwyl hulle deur die spyskaarte blaai.

“Die kos lyk amazing,” fluister Casey.

Daan wil nie hoor nie. Hy kan sien sy vroetel onder die tafel aan sy kind.

Die kelner bring hulle drankies. Casey teug toe-oë aan haar pienk ding.

“Amazing . . .” sug sy.

“Hoe gaan dit met die statistiek?” vra Daan vir Tollie.

“So-so. Wat dink Pa van gister se rugby?” verander Tollie die onderwerp.

“Kan ek die bestelling neem?” vra die kelner.

“Is julle slaai vars?” vra Casey-met-die-stem.

“Casey is eintlik vegetaries,” fluister Tollie opgewonde vir Daan.

“Ek sien,” sê Daan.

Casey verskoon haar toilet toe.

“Nou terug,” fluister sy in Tollie se oor voor sy oor sy hare streel en hom ’n soentjie op die wang gee.

“En?” fluister Tollie opgewonde toe sy buite hoorafstand is.

“Sy is . . . eh . . . nogal mooi,” sê Daan versigtig.

“Sy is . . .” Tollie soek na woorde.

Daan weet.

“Nogal amazing . . . en nogal diep.” Tollie se oë blink soos toe hy die karate-toekenning gekry het, destyds toe hy nog ’n kannetjie was.

“Ek kan dit dink,” sê Daan.

Hy vat ’n groot sluk van sy wyn. My kind, my seun . . .

Met die terugkom gee Casey weer vir Tollie ’n soen.

“Wat dóén jy?” fluister sy vir Daan terwyl sy vooroor leun en haar ken in haar hande stut.

Hy kug ongemaklik. “Ek doen die geldsake vir ’n firma in Brooklyn.”

“Amazing,” sê Casey.

Die kelner bring hulle kos.

Daan se steak is medium en nie medium-rou soos hy bestel het nie. Hy oorweeg dit om die vleis terug te stuur, besluit dan om dit te los.

Wanneer het jy so ’n pushover geword, Daan Dreyer? wonder hy geirriteerd.

“Wat swot jy?” vra hy vir Casey wat met haar vurk in haar slaai speel.

“Sielkunde.”

Sy vroetel weer aan Tollie onder die tafel. “Ek dink mense is nogal . . . hoe sal ek sê . . .”

“Amazing,” sê Daan.

“Jy verstaan!” sê Casey.

Daan maak verskoning en stap uit. Hy staan ’n ruk op die restaurant se stoep. Hy sal nou een van sy organe skenk vir ’n sigaret.

Toe hy terugkom, is Casey en Tollie in ’n greep gewikkel. Hy kan nie uitmaak watter ledemaat behoort aan wie nie. Die poppie lyk behoorlik aan Tollie vasgesuig. Annerie gaap hulle oopmond aan.

Tollie het duidelik meer as die kuierplekke in Hatfield ontdek.

Daan maak verleë keel skoon. Die greep word weer twee mense.

“Jou seun is so . . . so powerful,” sê Casey.

Daan vra die rekening.

Hy kyk hulle agterna toe hulle hand om die lyf na Tollie se silwer Getz loop. Sy seun die man.

“Sy’s weird,” sê Annerie.

“Kom ons gaan doen daai resensie,” sê Daan.

Hy maak koffie terwyl Annerie haar skryfgoed uithaal. Hulle besluit op ’n resensie oor Romero’s.

“Kom ons maak dit Restaurant X,” sê Annerie.

“Reg so.”

Daan dink. Hy dikteer en Annerie skryf. Hy dink aan Vanessa en die spul by die werk terwyl hy sy sê sê. Hy laat waai.

“Is dit nie bietjie erg nie?” vra Annerie onseker. “Hulle is darem nie só bad nie. En Pa hou mos actually van Romero’s.”

“Man, dis net ’n opstel. Skryf,” sê Daan ongeduldig.

Hy weet nie waar die inspirasie vandaan kom nie, maar hy kan nie ophou nie. Hy geniet hom gate uit. Hy groei dalk ook, wie weet.

Annerie slurp aan haar koffie terwyl sy lees wat sy geskryf het. “Cool,” sê sy kort-kort.

Sy sit die skryfblok neer en kyk op. “Kan ek bietjie op Pa se skoot sit?”

Hy wil eers terg dat sy darem nou al te groot is, maar hy bedink hom toe hy haar ernstige gesig sien.

“Natuurlik, Lollie.”

Tollie en Lollie. Hy sal moet ophou. Hulle is nie meer klein nie.

Sy kom sit op sy skoot, vou haar arms om sy nek en leun met haar kop teen sy skouer. Hulle sit in stilte. Hy wonder of hy iets moet sê.

“Kan ek nie maar by Pa kom bly nie?”

Hy weet nie wat om te sê nie.

“Is dit dan nie lekker by Mamma nie?” vra hy versigtig.

“Dis nie dit nie. Ek verlang net vrééslik na jou.”

Hy sit woordeloos met die knop in sy keel. Hoe lekker groei ons nou.

“Dit sal nie vir jou lekker wees in die woonstel nie, Lollie. Dis ver van die skool af en ek werk in die dag. Wie gaan jou na al jou buitemuurse goed vat en . . .”

Sy staan op. “Ons moet seker waai.”

Sy vat haar rugsak en stap deur toe. Hy volg verslae.

Hy besluit om nie uit te klim by die huis nie. Dis háár huis nou. Hy wil haar nie sien nie.

Maar hy weet hy wil.

Sy staan op die stoep vir hulle en wag. Annerie soen hom op die wang en klim uit.

“Ek dink ek gaan goed doen met Restaurant X. Ek sal Pa bel,” groet sy.

Karen gee Annerie ’n drukkie, waai dan vir hom. Vriendelik. Hy sit na hulle en kyk. Sy vrou lyk goed. Hy ken nie die geel sonrok nie en haar hare blink. Sy lyk gelukkig.

Aai, Lief, dink hy. Hy trek weg en kyk vir haar in sy truspieëltjie.

Sy vrou, sy lief, sy hartlam.

Nadat hy gestort het, gaan staan hy voor die spieël in die slaapkamer. Hy kyk lank krities na homself in sy blou onderbroek. Seker nie te bad nie.

Hy moet dalk maar iets aan sy hare doen. Hy hét darem nog, anders as Neels. En hy het nie ’n boep nie. Nie ’n six-pack nie, maar darem.

Hy kan wel ’n paar kilo’s verloor. Hy kan ook iets aan sy klerekas doen.

As Annerie weer kom, kan hulle vir hom ’n paar nuwe goed gaan koop. Hy dra elke dag ’n das werk toe, maar hulle hoef nie regtig nie. Nuwe hemde en so aan. Meer informeel. Dis dalk groei genoeg.

Toe hy sy onderbroeke en kouse in die kas pak, sien hy sy trouring onder die sakdoeke uitsteek.

Hy haal dit uit, weeg dit in sy hand. “Jy moenie te lekker lê nie. Een van die dae moet jy weer jou werk doen.”

Hy sit op die swembad se trappie en roer die water met sy voete. Moes hy nie maar ja gesê het vir die opera-storie nie? Hy sou tog seker nie daarvan doodgegaan het om vir ’n uur of twee met ’n das in die Staatsteater na ’n gekattemaai te luister nie.

Hy staar na die paar dowwe sterre in die vuil stadslug. Daar is ’n stukkie maan agter ’n wolk. Napoleon kyk op na hom. Hy waai sy stert onseker.

Hy verwag tog nie Karen moet saam met hom Loftus toe gaan nie. Sy hou nie van rugby nie en hy is fine daarmee.

Dis asof sy vir hom vaag raak . . . Asof hy sukkel om haar buitelyne raak te sien. Net die oë wat uitdrukkingloos na hom kyk, kan hy nie mis nie.

Daan Dreyer se blou geranium

Подняться наверх