Читать книгу Daan Dreyer se blou geranium - Derick B van der Walt - Страница 7

Оглавление

Hoofstuk 3

Hoofstuk 3

Daan is soos gewoonlik kwart oor sewe by Millie se plek. Hy weet sy begin reeds saam met die hoenders bak en die plek is oop. Nog nie vir regte kliënte nie, maar wel vir hom.

Die klokkie by die deur rinkel toe hy die deur oopstoot. Hy sal met haar moet praat oor die oop deur dié tyd van die môre. Dis nie veilig nie.

Millie se plek ruik na sy ma se kombuis. Nee, kan nie wees nie. Sy ma het brood by Spar gekoop. Dalk sy ouma. Nee, hy het nooit eintlik sy oumas geken nie. Een het Alzheimers gehad en een het aanbeweeg toe hy nog baie klein was.

Maar iewers het iets so nice geruik. Iewers waar dit kalm en rustig was. Jy is nou by die huis, sê dit. Jy kan maar jou kouse en skoene uittrek. Hy dink nie Millie sou omgee as hy dit sou doen nie.

Dis eintlik ’n bakkery, maar daar is vyf tafeltjies agter ’n groot blou skerm met twee geborduurde kraanvoëls op. ’n Mens kan iets ligs by Millie eet, hoewel dit nie ’n regte restaurant is nie.

Hy eet elke oggend hier voordat hy die kantoor pak. Drink koffie en lees die koerant. Skep moed vir die sake van die dag.

Hy gaan sit oudergewoonte by sy tafeltjie by die venster en vou die koerant oop.

Millie kom in, sit sy koffie langs hom neer. “Hoe was jou naweek?”

“So-so. En joune?”

Hy vat ’n sluk van sy koffie. Vars gemaal. Millie weet van.

“So-so. Ek gaan maak gou vir jou iets om te eet.” Sy verdwyn agter die skerm.

Hy bestel lankal nie meer nie. Millie maak sommer wat sy dink.

Hy lees oor die ellendes van die vorige dag. Zuma se dinge. Die stakings. ’n Bekende Amerikaanse rolprentregisseur is oorlede. Hy kan nie onthou dat hy al ooit van die man gehoor het nie.

Millie sit ’n stomende bord voor hom neer. Hy is honger. Hy vat ’n paar happe terwyl sy met gevoude arms na hom staan en kyk.

“Jy weet van, Millie,” sê hy met ’n mond vol kos. “Was kos nog altyd jou ding?”

Sy glimlag verleë, maar ingenome. “Ja wat, dis lekker as iemand jou kos geniet. Dis lekker om iets te maak met al die bestanddele . . . iets wat nog nie daar was nie. Iets wat niemand nog geproe het nie.”

Hy kyk na haar terwyl hy kou. Fyn en valerig. Blonde haartjies teruggekam in ’n bondeltjie agter haar kop. Sy dra nooit grimering nie. Bietjie somber, soos sy woonstel. Dalk skugter.

Hy weet nie veel van haar af nie. Net dat haar man in die polisie was en ’n paar jaar gelede in ’n rooftog doodgeskiet is. Hy dink nie daar is kinders nie. Met die polisgeld het sy die bakkery gekoop.

Millie verdwyn agter die skerm.

“Jy moet jou deur sluit so vroeg in die oggend. Dis gevaarlik!” roep hy agter haar aan.

Sy reageer nie en hy blaai kouend na die sportbladsye.

Net ná agt skakel Daan sy rekenaar aan. Hy lees verveeld deur die spul e-posse. Kennisgewings van ander departemente, ’n paar junk mails wat hy uitvee sonder om dit oop te maak. Die gebruiklike grappies van Jabu en Neels wat hy net nou en dan lees.

En die e-pos dat hy Saterdag gasheer by Windmill se losie op Loftus moet wees. Hy sug. Hy weet nie eers wie speel nie. Maar dit kan nie ’n belangrike wedstryd wees nie, want dan sou hulle hom nie gevra het nie.

Die losie. Simbool van die korporatiewe wêreld. ’n Mens sou ’n verhandeling oor die korporatiewe losie kon skryf, vermoed hy.

Hy lees die lysie van wie daar moet wees. Die mannetjie met die perm wat in die kafeteria werk, gaan kroegman wees. Die res is van die jong meisietjies in die firma wat net daar moet wees vir garnering. Om met groot tieties en klein glimlaggies of klein tieties en groot glimlaggies ’n bydrae te lewer tot die welsyn van die firma.

Die groot gatkruip. Dis deel van die besigheid.

En hy weet skuldig dat die rankrosies sal moet bontstaan om uit die kloue van die semi-gesuipte garingballe te bly. Want die semi-gesuipte garingballe probeer freneties die meeste maak van die paar ure onder mammie se oë uit. Hulle kliënte. Hulle brood en botter.

Hy sien verras Vanessa se naam is ook op die lys. Maar dan sien hy die gastelys. Bennett. Natuurlik sal Vanessa daar wees. Sy is besig met haar goed beplande soft-soap-storie.

“Ons gaan nog baie ponde uit Bennett-hulle wurm. Hou my dop.”

Hy twyfel nie vir ’n oomblik dat sy dit gaan regkry nie.

En dan die e-pos van Jennifer namens die direksie dat die nuwe hoofbestuurder uiteindelik aangestel is. Teetyd moet almal in die personeelkamer bymekaarkom om kennis te maak.

Die aanstelling sloer reeds ’n paar maande nadat John Walters ná twintig jaar uiteindelik die tuig neergelê het. Mediese redes.

Móés neerlê, vermoed Daan, want John was nie meer goed vir die firma se nuwe beeld nie. Hy het gedink Jabu, die adjunkhoofbestuurder, sou die pos kry, maar dit was gou duidelik dat die aanstelling van buite sou kom. Die direksie het aangedring op nuwe bloed.

Daar was gerugte oor moontlike kandidate van ander kommunikasiefirmas wat genader is, maar ná soveel jare in hierdie wêreld weet Daan dat ’n mens jou nie veel aan gerugte moet steur nie. En hy gee eintlik ook nie om nie. Almal verwag dat die aanstelling “korrek” sal wees en dat kundigheid waarskynlik nie die belangrikste oorweging sou wees nie.

Die nuwe meisie by promosies loer om sy deur en klop sag. Tembi of Tombi of so iets. Hy kan nie onthou nie. Dis die vierde nuwe gesiggie by dié afdeling sedert Januarie, en dis nou eers April.

Job-hopping, word dit genoem. Maar hy neem hulle nie kwalik nie. Daar is baie geleenthede daar buite, en as hulle hier weggaan, is hulle goed opgelei.

“Kan ek pla?” vra sy.

“Kom sit.”

Sy lyk verleë. “Ek het te min begroot vir die mediafunksie by die St. George Hotel. Daar gaan meer mense wees as waarvoor die kliënt aanvanklik begroot het. Ek is bang daar gaan te min kos en wyn wees.”

Hy roep die lêer op sy rekenaar op. Hy sien sy het nie oorboord gegaan met die begroting nie.

“Hoekom het jy so min begroot?”

“Waar ek vandaan kom, moes ons maar versigtig wees met die geld. Ons moes leer om nie te groot te gaan nie . . .”

“Hier ook,” sê hy terloops terwyl hy weer na die syfers kyk. “Jy sal met die kliënt moet praat. As hulle meer mense daar wil hê, sal hulle meer moet opdok.”

“Ek het reeds, maar hulle kan nie. En ons kan nie mense wegwys nie, hoe sal dit lyk? Die mediamense wat kom, is nogal influential, en die kliënt is besig om gróót te word in die IT-wêreld. Dit kan goeie PR vir ons wees,” sê sy opgewonde.

Hy sug. “Ek hoor wat jy sê, maar dit werk nie só nie. Dis nie ons probleem as hulle onderbegroot het nie. Ons kan nie die verlies dra nie. Ons werk binne sekere winsmarges en ons kan nie bekostig om ’n projek teen só ’n klein winsgrens te doen nie.”

Sy sê niks, vroetel net met die klomp silwerarmbande om haar linkerpols.

Hy konsentreer weer op die skerm. “Ek kan nog ’n paar rand goedkeur, maar dan maak ons baie min uit die projek. Ek sal eers moet hoor wat Vanessa sê. Kom sien my ná middagete.”

Sy lyk verlig. “Baie dankie. Ek is seker ’n paar rand sal meer as genoeg wees.”

Hy besluit om tot ná die teesessie te wag voordat hy Vanessa aandurf. Nie so vroeg op ’n Maandagmôre nie. Hulle moet nog oor die Bennett-begroting praat.

Halfelf drentel hy personeelkamer toe. Die meeste van die personeel staan reeds daar rond, teekoppie in die hand. Die jongetjies met hulle netjiese slordige klere koek soos gewoonlik in een hoek saam en die has-beens met hulle pakke en dasse in die teenoorgestelde hoek. Hy kyk jaloers na die rokers op die balkon. Hy sou darem wat wou gee . . .

Vanessa in ’n swart pakkie gesels met ’n korterige vrou met kort swart hare, ook in ’n swart pakkie. Die vrou luister aandagtig na Vanessa met die groot mond wat beduie en glimlag dat jy net tande sien blink.

Dit moet die nuwe hoofbestuurder wees, dink Daan. Vanessa het nie gras onder haar voete laat groei nie.

Hy gaan staan by Jabu en Neels. Neels dra ’n verspotte outfit wat hy seker meen hom trendy laat lyk. Die lang strepieshemp hang nonchalant oor sy broek en beklemtoon sy reuse-maag.

Jabu Ntele is groot en gul en luid en altyd vriendelik. As hy soggens tydsaam tussen die kantore drentel en met almal ’n geselsie aanknoop wat die hele wêreld kan hoor, en kort-kort hard uit sy maag lag, voel Daan so half dat dié plek dalk nog iewers ’n hart het.

En as Jabu die jong meisietjies ’n knypie gee wat nie altyd bo verdenking is nie, weet Daan niemand dink aan seksuele teistering nie. Wel, nog nie. Almal hou van Jabu, sommige van die has-beens teen wil en dank ook.

Hy en Jabu verstaan mekaar. Daan dink nie die man doen ooit ’n steek werk nie, maar hy is goed vir die firma. Hy het kontakte op die regte plekke. Hy is huisvriende met ’n minister of twee en hy weet hoe die binnekringe van die regte plekke werk. Daan sal nie verbaas wees as hulle vanjaar ’n paar staatsdienskontrakte losslaan nie, en dit sal danksy Jabu wees.

En hy en Jabu is eerlik met mekaar. Hulle weet hoe dinge deesdae werk en waarom.

Daan lei van Neels se gesprek af dat hy ’n paar voorstelle het om dinge by administrasie en versending beter te laat verloop.

Jabu lyk verlig om hom te sien. “Dan, my man! Hoe gaan dit? Wat het jou span dié naweek gedoen?” groet hy luid en slaan sy arm om Daan se skouers.

Neels hou afgehaal op met praat.

“Oukei,” sê Daan terwyl hy sukkel om onder Jabu se greep uit te kom. Hy klink vir homself soos Tollie en Annerie.

Die voorsitter van die direksie tik met sy teelepel teen sy koppie en almal staan nader. Hy vertel van die lang soektog na die regte diamant om Windmill na nog groter hoogtes te voer.

“Die direksie het uiteindelik op Gloria Kekana besluit, en ons is verheug dat sy die pos aanvaar het.” Hy beduie na die ernstige vrou wat uitdrukkingloos na hom kyk.

Die personeel klap hoflik hande.

Die voorsitter haal ’n dokument uit sy pak se binnesak. Hy vou dit oop en begin lees Gloria se CV sukkelend. Hy hou die bladsye kort-kort ’n bietjie verder van hom af, terwyl hy met skrefiesoë daarna tuur.

Leesbril vergeet, weet Daan.

Gloria staan stil, haar hande voor haar gevou, na die vloer en kyk. Sy het ’n MBA van Wits en sy het onder meer by ’n ouditeursfirma in Johannesburg gewerk.

Die voorsitter lees eentonig voort.

Ses maande by ’n advertensie-agentskap in New York is die enigste ervaring wat vaagweg met Gloria se nuwe pos verband hou, besef Daan. Maar dis nie sy saak nie. Hy moet net na die geldsake kyk. Hy het lankal sy lus verloor rondom die hype om die firma na groter hoogtes te voer. Dit word ook nie van hom verwag nie. Hoe bekwaam die nuwe hoofbestuurder is, skeel hom min.

Ná die CV van etlike bladsye stel die voorsitter Gloria aan die woord.

Die ernstige vrou sê eers ’n paar woorde in Sotho en toe in foutlose Afrikaans. Daan kyk verbaas op. Toe slaan sy oor na Engels.

“Ek wil begin deur te sê dat julle my almal asseblief Gloria moet noem. Ek verpes formaliteite. Ek het lank gedink voordat ek hierdie pos aanvaar het. Ek het min ondervinding van die binnewerke van ’n kommunikasiefirma, maar ek glo dat my uitgebreide besigheidservaring vir Windmill tot nut sal wees. Julle goeie reputasie het my oorreed. Ek wil graag van julle almal leer en ek glo ek gaan.”

Sy kyk ’n paar oomblikke in die vertrek rond.

“Ek begin eers op 1 Mei, maar ek gaan die paar dae tot dan gebruik om my op die hoogte te bring met wat julle hier doen. My werkfilosofie is dat elke mens tel, hoe geyk dit ook al mag klink. Ek glo dat ménse die sukses van ’n hedendaagse firma bepaal en dat almal deel van die bestuursproses moet wees. Ek glo die tyd is verby dat mense net gedoen het wat van hulle verwag word om eendag ’n pensioen te ontvang. Ek wil hê elkeen van julle moet weet hoekom julle doen wat julle doen en waar dit in die groter geheel inpas. Ek glo in goeie kommunikasie en in ’n firma wat in kommunikasie spesialiseer, behoort dit mos nie te moeilik te wees nie?”

Sy glimlag vir die eerste keer. “Nogmaals dankie vir die geleentheid. Ek sien uit daarna om julle almal oor die volgende paar dae persoonlik te leer ken.”

Die personeel klap hande en hervat die teedrinkery. Hulle peusel aan die eetgoed wat die kafeteria voorberei het. Daan sien Vanessa sak weer onmiddellik op Gloria toe.

Terwyl hy kantoor toe stap, besef hy die vrou het hom beïndruk.

Toe Daan ’n uur later aan Vanessa se deur klop, sit sy ingedagte deur haar venster en staar. Sy draai haar kop stadig in sy rigting en kyk vraend na hom.

“Die mediafunksie by die St. George. Daar is probleme met die begroting.”

Sy sê niks nie.

Hy vertel kortliks en stel voor dat hulle minder wins neem as gewoonlik en dit as ’n bemarkingsgeleentheid beskou.

“Dis reg,” sê sy ingedagte.

“En die Bennett-storie . . .”

“Verander die begroting soos jy dink dit moet wees en mail dit vir my.”

Hy draai verbaas om. Dit was nie die gewone uitputtende gestry en eindelose redenasies nie. Vanessa se kop is by ander dinge. Meer ambisieuse dinge, vermoed hy. Sy het nog nie eers gevra oor sy planne vir nuwe stelsels nie.

Nie dat hy het nie.

Etenstyd kry hy soos gewoonlik vir Neels op die stoep voor die kafeteria.

“Hoe vorder dit met die spanbouplanne?”

“Mmm . . .” kou Neels. “Ek soek na iets wat ons nog nie gedoen het nie. Ek het mos ’n lekker begroting.”

Hy lag. “Jy weet mos. Jy het die spulletjie self goedgekeur.” Kou. “By ’n moerse lekker plek.” Kou. “Waar ons kan kuier dat die byle huil.”

Hy haal nog ’n dik toebroodjie uit sy kosblik.

“ ’n Ou het my gebel.” Kou. “Ek kan vir ’n maand verniet by die yuppie gym hier om die hoek gym sonder om te betaal.” Kou. “Kyk of ek daarvan hou voordat ek aansluit. Ek kan iemand saambring.” Sluk. “Hoe lyk dit? Ek gaan vanmiddag kyk. Kom jy saam?”

Hy vee die krummels van sy bors af en beduie na sy maag. “Ek dink ek sal ’n plan moet maak. Die kinders sê ek begin soos die Oros-mannetjie lyk.”

Daan knik. “Ek sal bel.”

Maar hy dink nie so nie. Hy is nie lus vir ’n rondspringery en ’n gesweet nie. Hy is net lus om by sy vrou te wees. Net dit. En dit sal genoeg wees, soos dit altyd was.

Teen vieruur kry hy ’n e-pos van Neels: Die gym sal moet wag. Moet vir Renier by die krieket gaan oplaai. Amanda val vas.

Daan Dreyer se blou geranium

Подняться наверх