Читать книгу Die Engelsman in my slaai - Dihanna Taute - Страница 4
Оглавление“So wat is julle girls nou eintlik?” Ek vleg my arm deur Elmie s’n. Met my ander hand pluk ek aan die swart gepunte ore wat bo tussen my blonde hare uitloer. “Skool is ook nie skool voor animal cruelty nie ’n dress-up dag kry nie, nè?” sê ek en rol my oë.
Ek is sommer vies vir wie ook al daarvoor verantwoordelik is dat ons skool vandag soos ’n dieretuin slash wildtuin slash plaas lyk.
“Ek’s ’n sexy leeuwelpie.” Megan gooi haar arms in die lug en swaai haar opgestopte sykousstert heen en weer. Dit lyk kompleet of sy ’n moderne reëndans doen. “Kan jy nie sien nie?” wil sy ergerlik weet.
Ek skud net my kop en glimlag. Selfvertroue is nie iets waaraan sy ’n tekort het nie.
“Ek’s ’n volstruis. Wat’s jy? ’n Muis?” vra Elmie geamuseerd en gooi haar kop met ’n speelse laggie agteroor. Die grys serp laat haar nek effens langer as gewoonlik lyk, maar met die velkleurige toppie en vere op haar heupe lyk sy meer na ’n danser in ’n straatoptog as ’n volstruis. Maar ek sê eerder niks.
Ons drie het onlangs pelle geword. Ek was dikbek toe ek en Ma in Desember teruggetrek het Vrystaat toe, want wie op aarde het iets teen ’n groot stad? Sý, natuurlik, dis wie. Maar my wange het gou weer afgeblaas toe ek vir Elmie en Megan ontmoet.
Hulle herinner my nogal ’n bietjie aan Rochelle en Carla met wie ek in Pretoria vriende was. Elmie het nou wel nie twee vlegsels en ’n bril op die punt van haar neus soos Rochelle nie, maar hierdie meisie met die bob, strawberry blonde hare en rooi sproete se skerppuntneus is ook heeldag in haar skoolboeke.
Nes Carla bewonder Megan nie net haar eie bene nie, maar is sy ook ’n ster in al wat ’n sportsoort is.
“Hey, Beautiful!” hoor ons ’n stem roep.
Ons al drie kyk soos in instantly in daardie rigting. Hy staan onder ’n boom op die plaveisel voor die skoolsaal, met ’n wit jas aan met swart kolle op. Die sexyste koei ooit. Ek en Elmie en Megan kyk verbaas na mekaar.
Wat de joos wil hy hê? Kom ek raai. Hy soek vir Megan, soos die meeste van ons skool se ouens. Ek neem hulle ook nie kwalik nie. Met haar lang bruin hare lyk sy soos Ariana Grande, net meer atleties gebou.
Breëbors kom hy nader gestap, so ewe asof ons hom genooi het.
“Miaau,” probeer hy ’n grappie maak.
“Koeeei!” skree ’n graadnegetjie van die tweede verdieping af, maar dit lyk nie of dit meneer Selfversekerd pla nie.
Sy oë betower my. Hou my gevange. Ek moet oppas, anders beland ek ook onder sy magic spell. Soos al die ander zombie-poppe wat agter sy lyf aan is.
“Hei, Lehandi, miaau is jóú cue,” ruk Megan my terug na die werklikheid. Sy fladder haar wimpers in my rigting en pomp my in die ribbes. “Ciao for now, ons tweetjies sal jou maar by die klas kry. Kom, Elmie.”
“Maar wat as . . .?” protesteer ek verniet.
“Onthou net, ons het die eerste periode rek en juffrou Rademeyer is nie mal oor laatkommers nie,” herinner die pligsgetroue Elmie my net betyds voor Megan haar wegsleep.
Vrydae begin ons gewoonlik met saalopening, maar nie vandag nie. Vandag kom die skool ’n halfuur vroeër uit. Die onderwysers hou ’n koekies-en-tee-vergadering of ’n ding.
Ek wil my pelle volg vir ingeval Megan verkeerd is, maar staan soos ’n pilaar wat net daar geplant is. Hoekom los hulle my net so? Ek sou dit nooit aan hulle gedoen het nie.
’n Gegiggel en gefluister trek my aandag. Ek loer oor my skouer na die groepie wat onder die boom sit. Ek word yskoud.
Aarde sluk my in!
Priscilla Vlak-Vis-van-Breda, ek kon dit geraai het. My ouma Hanna sou gesê het daai girl is goedkoper as ’n glas water. Ouens sal rye staan om haar te date. En tog het ek nog nooit een ou naby aan haar gesien nie, dis meer asof hulle haar probeer vermy.
My ouma, Leithani Johanna Diedericks, was ’n ouma so na my hart. My ma, aan die ander kant, het darem vanaf my kleintoontjie tot by my kuit geklim. Maar my pa? Hy is natuurlik in ’n heel ander sonnestelsel. Nie dat hy ’n ruimtevaarder is nie. Nee. Hy is net ’n advokaat met ’n swanger flooze in Bloemfontein.
Die Vis gluur my tartend aan, haar baberbek is op ’n plooi getrek. Sy wag seker dat die “koei” verbystap en ek soos ’n aap lyk, dan het sy iets om haar skinderspiere mee besig te hou.
Ek haal diep asem en kyk terug.
Hy is amper twee treë van my af weg.
Ek moet iets doen. En gou.
“Hallo,” waag ek dit vriendelik. Vir ’n oomblik kyk ek op in sy seegroen oë, maar kyk dan vinnig weg. Mens, maar hulle is mooi. Amper so mooi soos Louis Tomlinson van One Direction s’n.
“I love your fluffy cat ears,” sê hy en glimlag breed.
’n Aquafresh advertensie, skilder ek in my kop.
Ek voel hoe my wange in twee oorryp tamaties verander. “Dankie, ek het dit sommer self gemaak.” Dadelik wil ek my tong afbyt! Kon ek aan niks beters dink as “ek het dit sommer self gemaak” nie?
Hy gaan dink ek is weird. Of erger, ’n bakvissie. Want niemand kan dink twee stukkies karton wat met lap oorgetrek en aan ’n haarband vasgeplak is, kom uit ’n winkel nie.
“What’s your name?” Hy tree nader, steek sy hand uit na my swart oor en vryf dit.
Die kinders wat verbystap, gaap ons oopmond aan. By die skoolsaal op die trap sien ek twee girls agter hulle hande skinder. Ek sluk swaar aan die knop in my keel. Hier kom merske groot moeilikheid.
Ek krap my kop verleë voor ek sag antwoord: “Louis Tom- . . . ag, ek bedoel Lehandi . . . Botha.”
Indien moontlik, bloos ek selfs nog ’n dieper skakering van rooi. ’n Mens sou sweer ek is single. Nie dat ’n ou honderde kilometer ver iets vir Megan of Elmie beteken nie, maar vir my doen hy wel. Of altans, hy het tot nou toe nog.
Ek pluk verleë aan my swart korsetbloes en speel met die lint wat oor my maag gevleg is. Die klok lui vandag skoon harder. Asof dit my van ’n liefdesdriehoek wil red.
Ek gryp die geleentheid om te vlug met albei hande aan. “Sorry, ek moet waai. Ciao.” Ek draai om, lig my ken en loop vinnig weg.
“You didn’t even ask my name?” hoor ek hom agter my roep, maar ek weier om om te kyk. Té bang my bene gee in of ek struikel oor ’n tas en dan kom ek nooit vandag by my klasse uit nie.