Читать книгу Die Engelsman in my slaai - Dihanna Taute - Страница 6
ОглавлениеPouse sit ons drie soos gewoonlik onder ’n boom teenaan die oprit na die skool se ingangsportaal.
Op die saal se trap sit ’n groepie nerds soos gewoonlik met hulle boeke oop, reeds besig met die naweek se huiswerk. Op die tennisbane hang al die sport wannabes uit, en by die snoepie almal wat hulle gevoelens probeer weg eet.
Ek sit met my rug na die saal toe, maak my kosblik oop en trek my neus op vir die swart smeer wat aan die kante van die brood vasgeplak is. Ma was weer vanoggend in ’n bui, soos wat sy maar elke einde van die maand is. En Februarie gaan alles net nog erger, want die einde van die finansiële jaar hang swaar om haar skouers.
Ek klap my kosblik toe, gooi dit op die gras langs my neer en strek my hande ver agter my uit.
“So? Gaan jy ons nou vertel of moet ons ons eie storie opmaak?” Ek kan hoor Elmie is al skoon ongeduldig van nuuskierigheid. “Wat wou Garth gehad het? Toe, sê nou.”
“Daar is regtig nie veel om te vertel nie.” Ek sug, trek my hande terug en sit regop. “Hy’t net my naam gevra en toe lui die klok.”
“Praat van die duiwel!” Megan lyk asof sy na vlieë pik. Dit laat my en Elmie uitbars van die lag. “Lehandi, kyk agter jou!” skel sy.
Ek kyk om en sien vir Garth wat by die ingangsportaal se trap staan en my met sy hand nader wink. Hy sal hom wat verbeel. Ek gaan nie soos ’n flippen groupie agter hom aanpiekel nie.
“Gaan jy nie hoor wat hy wil hê nie?” vra Megan verbaas.
“Nee wat. Wie dink hy is hy? Die president?”
Megan en Elmie kyk my verbaas aan.
“Hey, Blondie!” groet hy skielik langs my.
Ek voel hoe sy superseegroen oë my so effens laat bloos.
“Hallo,” groet ek terug. “Hei, wat maak jy, man?” Ek skrik toe hy langs my hurk, my hand vat en my optrek.
“Can we talk?” Aan die manier waarop hy my agter hom aansleep, lei ek af hy gee my nie eintlik ’n keuse nie. “Are you going to the talent show?” vra hy toe ons ’n ent van Megan en Elmie af is.
Ek frons en kyk onseker na my hand wat nog in syne vasgevang is. Sy hand voel warm en dit laat my hart vinniger klop.
Wat sal Drayke hiervan dink?
“Ja-a?” antwoord ek kortaf.
Wat meer moet ek nou sê? Dis nie asof hy my enigiets anders gevra het nie.
Hy groet ’n groepie meisies, wat van die tennisbane af vir ons gluur, vriendelik voor hy weer na my kyk.
“Will you be my date?”
Sien, dis nes ek voorspel het. Die hunk wat die lelike eendjie uitvra en daarna kom die vrot lemoene. Of erger, vrot waatlemoene.
Oukei, ja. Ek kan nie help om gevlei te voel nie. Ek is vuurwarm tot onder my swart korsetbloes se kraag. Maar Ma sal die horries kry as ek vir Garth ja sê. Nadat Pa haar verneuk het, is selfs ’n glimlag in ’n ou se rigting taboe. Dis só onregverdig. Ek meen, ’n meevallertjie soos dié gebeur net in ’n girl se drome.
“Garth!” hoor ek hoe een van sy pelle hom roep.
“I’ll be with you guys in a minute,” sê hy en hou my stip dop. Daai groen oë hou my vasgevang. So asof ek nie ’n keuse het nie. “So, will you?”
Ek trek my hand uit syne en gee verleë ’n tree terug. “Sorry, maar ek het ’n boyfriend,” sê ek vinnig voor my moed my begewe.
“So? We go as friends then?” Ja, sure, want ons is mos sulke dik pelle.
Ai, sy glimlag is so verleidelik ek gee amper oor. Hou bene hou, pleit ek. Maar ek is amptelik die domste girl op aarde.
“Jammer, maar ek kan nie,” stotter ek ongemaklik en loop haastig terug na waar Megan en Elmie vir letterlik niks in die teenoorgestelde rigting sit en kyk.
“En toe?” Elmie se naels gaan na haar mond. Dis haar soort fix vir stres.
“Hy wou weet of ek saam met hom na die talent show toe sal gaan,” antwoord ek so gou soos my sitvlak die gras tref.
Megan hop nader. “En toe sê jy ja? Julle lyk awesome saam. Soos ’n famous couple of iets.”
Ek skud my kop. “Nee, man, ek het ’n boyfriend.”
Hulle kan maar hulle oë rol. Drayke is die beste ding wat laasjaar met my gebeur het.
Ja, oukei, ons sien mekaar min. Of meer soos in nooit. Maar ek is mal oor hom, of altans ek was eens op ’n tyd. Deesdae kan ek skaars onthou hoe sy stem klink, want ek het so lanklaas van hom gehoor.
“Ja, jy’t een wat in jou drome bestaan, want nie ek of Megan glo jou nie.” Elmie kruis haar arms oor haar bors en blaas haar wange op. Dis haar manier van ’n tantrum gooi. “En hy bly daar doer wie-weet-waar . . .?”
“In Pretoria.” Hoeveel keer moet ek dit nog sê?
“Ja, orraait, in Pretoria, maar die punt is,” Megan is soos ’n stoomroller, “Garth is hier en hy is gorgeous! Hoor wat ek vir jou sê, jy is besig om jouself lekker in te doen.”
“Vat hom as jy hom so graag wil hê,” bied ek met ’n soet stem aan. “Daar is in elk geval honderde ander gewillige girls wat in daai ry staan.”
“Seriously, jy is soos in heel voor in die ry!” Elmie gooi haar hande in die lug en rol haar oë vir my. Sy is nou behoorlik kinderagtig.
“Ek wed julle hy gaan nog voor die einde van hierdie dag klaar ’n ander date hê,” sê ek. Ouens soos hy het altyd ’n plan A en ’n plan B en ’n plan tot by Z.
Die klok dwing die gesprek tot stilstand en ons gryp ons kosblikke en spring op.
“Miskien, maar dit kon jy gewees het,” kla Megan aspris net om die laaste sin in te kry op pad biologieklas toe.
“Whatever,” sê ek toe ons by meneer Bekker se klas instap.
Op die tafels staan reeds toetsbuise met verskillende kleure vloeistof in.
Meneer Bekker maak keel skoon. “Kom-kom, outjies. Ons het nie heeldag tyd nie. Net een periode vir hierdie eksperiment, want die volgende periode moet julle die opdragte voltooi.”
Ons word papiere in die hand gestop, twee-twee in groepies gedeel en toe beveel om te gaan sit.
Dis ook weer net my geluk. Ek word saam met die nerd ingedeel. Gelukkig weet ek hy ken sy eksperimente en buise en chemiese goete. Die moontlikheid dat hy die eksperiment al gister by die huis geoefen het, is groot, baie groot. Daarom glimlag ek maar vriendelik terwyl ek langs Peyton inskuif.