Читать книгу Die Engelsman in my slaai - Dihanna Taute - Страница 5
ОглавлениеWie ken nou nie vir Garth Johnson nie? Ek meen, rêrig! Matriek. Kaptein van die eerste hokkiespan. Almal in Welkom-Gimnasium ken hom.
Hy is dié Garth Johnson.
Hoofseun van die koshuis, al wat ’n graadaggie is se held, elke girl se droomou en elke onderwyser se nagmerrie.
Op die stoep voor juffrou Rademeyer se klas sien ek Elmie en Megan gesels. Hulle bly vir ’n oomblik stil en hou my met afwagting dop.
“En?” vra Megan en grynslag in Elmie se rigting toe ek by hulle kom.
“E-en?” antwoord ek en trek my tas hoër teen my skouers op.
Hulle hoef nie alles te weet nie. So asof daar regtig iets is om te vertel. Ek meen, hy het my nagemaakte oor gevryf en my naam gevra. Dit klink vir my meer na ’n riller as na romanse.
Elmie gryp my aan my arm en pluk my nader. “Toe spill, girl. Ons het nie heeldag tyd nie.” Asof sy ’n junky is wat ’n fix moet kry.
“Ek is al groen geskinder. Komaan, uit daarmee!” lê Megan ook ’n eiertjie.
“Vir wat staan julle meisies nog hier buite rond? Die klok het lankal gelui.” Juffrou (hoort-in-die-ouetehuis) Rademeyer trek haar bril af tot op die punt van haar neus.
“Sorry, Juffrou,” sê ons drie gelyk.
Sy is gewoonlik so stadig soos ’n skilpad. Ek kan nie glo ons het haar nie om die hoek sien kom nie.
“Toe-toe! Stap in. Die dag word nie langer nie en ek ook nie jonger nie.”
In die klas gly ek agter my tafel in en haal heel eerste my huiswerkboek uit.
I Love Drayke Hunter
Ek lees dit oor en oor en oor totdat juffrou Oumagrootjie my minute later uit my trans uit skreeu.
“Lehandi! Het jy jou huiswerk gedoen?”
Ek kyk verward op. Loer eers na Megan wat voor in die klas sit en toe na Elmie langs haar. Die hele klas hou my dop. Asof hulle vir my wag om ’n toortruuk te doen.
“Ja-a, Juffrou,” antwoord ek erg gekonfoes.
“Nou hoekom antwoord jy my dan nie?”
“Ek . . . ek? Wat was die vraag, Juffrou?” Ek is doodseker die antwoord sal nie “I love Drayke Hunter” wees nie.
Hoekom wonder ek skielik daaroor? Hoekom kom staan en krap Garth Engelsman Johnson in my slaai? Of eintlik in Drayke se slaai? Wat wil hy bereik? Of is dit soos in een van daai movies waar die hot hunk van die skool die lelikste girl uitsoek en dans toe vra sodat al die cool kinders haar met vrot lemoene kan gooi?
“Juffrou moet eerder Louis Tom probeer. Dalk reageer sy beter daarop!” Priscilla val amper van haar stoel af soos sy lag.
Ek gooi ’n yskoue blik in haar rigting en stoot my tong styf oor my lippe.
Juffrou Rademeyer is al gewoond daaraan om die Vlak Vis te ignoreer. “Elmiena Ludick?”
Elmie glimlag skaam. “Ja, Juffrou?”
“Kan jy asseblief vraag twee vir ons verduidelik.” Juffrou Rademeyer sug hoorbaar en haar stemtoon sak drie oktawe laer. “As ons vir juffrou Botha moet wag om van Droomland af terug te keer, is ek dalk te oud om te onthou wat ek gevra het.”
“Is Juffrou nie al klaar daar nie?” glip dit uit voor ek dit kan keer.
“Nou het ons nog ’n nar ook in ons midde,” raas sy en gluur my aan.
Gaan sy nou vir my detensie gee? Of meer huiswerk?
Ag, ek het eintlik erger probleme om aan te dink. Ek kyk af na my huiswerkboek, asof al my antwoorde daarin lê.
Wat is Garth Johnson se storie? Of is hy vanoggend gedare? Hoekom ignoreer Drayke my boodskappe? Het ek my verbeel of het Ma vanoggend oorbelle aangehad?
“Skryfbehoeftes word gedebiteer en bank word gekrediteer, Juffrou,” hoor ek Elmie antwoord en kyk vinnig op.
Sy knipoog selfvoldaan in my rigting. Juffrou se skoothondjie.
“Wie’s Drayke Hunter?” fluister die blonde nerd wat langs my sit en snuit sy neus.
Sinus?
Hy druk sy bril met sy wysvinger tussen sy blou oë vas. Klaasvakie, bespiegel ek en giggel binnemonds. Die nerd het sowaar sy slaapklere aan. En nie sommer enige slaapklere nie. Dis ’n sebra-onesie met ’n hoody en ore.
“Wie’s Drayke?” vra hy weer agterdogtig.
Ek klap eers my tong, toe klap ek my huiswerkboek vererg toe.
“None of your business,” fluister ek terug.
Hoekom het ek nog nie teen hierdie tyd geleer om nie my hart in my huiswerkboek rond te dra nie? En hoekom praat Peyton met my? Ek sit al vir langer as twee weke langs hom en vandag besluit hy om sy mond oop te maak. Wat is so spesiaal omtrent vandag?
Peyton frons. “En daai smile?” fluister hy.
“Sommer niks. Waar trek ons?” fluister ek en buk langs my tafel af om my rekeningkundeboek uit my tas te haal.
“By vraag vier.”
“Dankie,” prewel ek, gooi my boek oop op my tafel en kyk by die venster uit.
So ewe asof ek die antwoorde daar gaan kry.
Watter vak het Drayke nou? Dink hy ook aan my? Dis nou al amper ’n week dat ek laas van hom gehoor het.
“Juffrou Botha-a?” Juffrou Rademeyer maak haar keel skoon.
Ek gee Peyton ’n vuil kyk omdat hy sy elmboog in my sy boor. Hoe durf hy? Maar ek sien sy oë wys na sy vinger wat op sy rekeningkundeboek tik.
Ek frons. Vraag ses?
“O. Bank word gekrediteer en voertuie word gedebiteer, Juffrou,” waag ek vinnig en hoor Peyton verlig langs my sug.
“Dankie tog, juffrou Botha. Uiteindelik het ons jou teruggekry.” Juffrou Rademeyer lig haar hand wat op haar heup was en wys na die dak. “Peyton? Vraag sewe, asseblief.”
“A . . . um . . . ja, Juffrou,” stotter hy benoud. “Bank word gedebiteer, Juffrou. En . . . um . . .”
“Meubels en toerusting,” fluister ek in sy rigting.
“Ja, meubels en toerusting word gekrediteer, Juffrou.”