Читать книгу 'n Blonde bom - Dihanna Taute - Страница 4

Оглавление

“Trou!” skree ek benoud en stamp my voet. Ek bal my vuiste en trek my arms styf teen my lyf. “Dis … dis …” pik ek na iets wat moet sin maak.

“Dis wat grootmense doen wanneer hulle mekaar liefhet,” sê Ma kalm en vee vir die soveelste keer die kassie binne die karavaan met ’n stoflap af.

So dis hoekom Barry saam met Priscilla-Vlak-Vis gaan stap het. Ek kan net haar reaksie op hierdie nuus hoor: “Bloeb, bloeb, bloeb,” soos ’n vis wat na lug hap.

Ten minste weet ek nou, asof ek gewonder het, wat Ma en Barry gisteraand met ’n piekniekmandjie onder die sterre op die strand gaan doen het. Dit terwyl ek en die Vis alles probeer het om mekaar te vermy. So asof dit enigsins die vorige ses aande gewerk het.

As hulle my vra, was hierdie week se kamp by die see ’n blerrie simpel idee. Ma en Barry het my saam met die Vis vir sewe dae lank in ’n tent gestop. Arrg! So asof ek nie genoeg van haar by die skool sien nie. En toe moes ek nog aandring dat Ma vir my ’n one piece-cozzy koop ook – omdat ek nie kan bekostig dat Ma of die Vis (wat natuurlik op my sal split) my tatoe sien nie. Ma sal soos in nooit weer ophou preek nie. En wie wil vir altyd na haar gekerm luister? Nie ek nie. Sewentien jaar lank was genoeg, dankie.

Gelukkig gaan ons môre huis toe. Dis dan net ’n rustige naweek – hopelik weg van die Van Breda’s af – wat my van my laaste jaar op skool skei.

“Lehandi?” hoor ek Ma weer skielik langs my vra.

“Dis … dis ’n vrot idee!” sis ek en hardloop by die karavaan uit.

Ek skuur verby Ma se kampkombuis en ignoreer haar flou probeerslag om my terug te roep. Voor ek by my en die Vis se tent invlieg, skree ek nog vir oulaas: “G’n mens kan iemand in drie sekondes liefkry nie!” Ek wou byvoeg dat “Nelia van Breda” kommin gaan klink, maar ek het skielik nie meer lus vir skree nie.

Ek rits my tent toe, asof dit Ma sal kan uithou; iets wat ek nooit sou gewaag het as my pa nog hier was nie. Martin Botha sou die zip aspris kom strip het.

In die tent kyk ek befoeterd rond. Daar is twee superdun matrasse aan weerskante van die tent teen die seil gegooi. Myne het ’n swart duvet op. Net swart. Maar Prissie s’n is pers met ’n groot Justin Bieber daarop. Iets wat ek seker is haar “pappie” vir haar oor die internet moes bestel het. Sy is een van daai visse wat nie net krummels kry nie, maar die hele flippen brood en dalk nog die kaas, die blare, die tamaties en die ham ook – afhangende van hoe hard sy kerm.

Ek val kruisbeen op my swart, plein matras neer, haal diep asem en dink weer aan Ma.

Sy en oom Barry, of nét Barry (wat ook al ek hom moet noem, solank dit net nie “Pa” is nie) kuier nou wel al amper ’n jaar lank saam, maar dat hulle mekaar kan liefhê? Not-’n-vet! Sy wil net met hom trou om my te spite.

Hoe kan Ma so simpel wees? Ek en Priscilla-Vlak-Vis van Breda sal nooit ooit onder dieselfde dak kan bly nie. Ek hoop hulle wag met die troue totdat my matriek eindeksamen agter die rug is en ek iewers ver heen kan verdwyn. Of moet ek regtig begin oorweeg om by my pa te gaan bly?

Ek gluur na Justin Bieber. Verbeel ek my of is hy ook besig om my uit te lag, met sy ondeunde glimlag en sy stoutseun kyk? Ek snork vir die pers kussinkie wat in die hoek van die tent op Prissie se matras lê. I Love Justin. Nogal! Asof liefkry so maklik is.

Ek sug verlangend en loer na my selfoon, sien die swak sein en kreun hardop. Hierdie jaar begin slegter as ’n rugbywedstryd wat uitgereën het. Ma is verloof en ek is single. Unbelievable! Die outydse spook wat deesdae soos ’n Vogue-outannie-model lyk gaan trou. Oukei, sy het haarself reggeruk, maar dit gee haar nie die reg om te trou nie. En dit terwyl my hart voel of dit in miljoene stukke gebreek het. Hoe durf sy?

Is ’n mens se matriekjaar nie veronderstel om die beste skooljaar van jou lewe te wees nie? Ek het so gedink, aangesien ek al my hele lewe lank daarna uitgesien het. Maar dit wys net weer eens niks is ooit so goed soos wat dit geadverteer word om te wees nie.

Ma in haar nuwe modellyf kom spook skielik weer in my gedagtes. Oorreageer ek nie dalk so ’n bietjie met haar en Barry se trouplanne nie? Verdien sy nie maar om gelukkig te wees nie? Sy het ook nie die maklikste tyd agter die rug nie.

Nommer 1: Sy moes haar man afstaan aan ’n tannie-floozy wat swanger geraak het met sy baba.

Ek dink vir ’n rukkie …

Nommer 2: Sy het darem twee keer ’n trek oorleef. En ’n boks vol resepteboeke in die proses prysgegee.

Nommer 3: Sy het nie bly lê nie, sy het opgestaan en weer liefde gevind … of meer soos in vir Barry. Maar orraait, ek sal dit hierdie keer laat tel.

So?

Opsomming: Ma het my seriously beïndruk!

Ek wens ek kan so maklik soos sy opstaan en aanbeweeg. Ja, oukei, ná Drayke was dit maklik om vir Garth te val, maar Garth Johnson is soveel anders as al die ander ouens. Behalwe vir die feit dat hy Engels is, is hy ook ’n hunk, sjarmant en oulik en alles wat ’n girl in ’n ou kan begeer.

Ek mis hom.

Ek het gedog Garth Johnson is my trou-ou, die skoolliefde waarvan ek ons kinders sou kon vertel. Toe drop hy my soos ’n houding. Nogal voor die Desembervakansie. Orraait, ek weet uit ondervinding langafstandverhoudings werk so te sê nooit, maar ons kon minstens probeer het.

Hoekom hy nou juis op Stellenbosch wil gaan swot gaan my verstand te bowe. Bloem is soveel nader. Ons sou dan darem nog ’n kans gestaan het. En wat is fout met ’n Skype-verhouding?

Ek snuif en sug gelyk en verbeel my ek swaai ’n wit vlag bo my kop: I surrender!

Ongelukkig moet ek bely: Ek is jaloers op Ma. Nie dat ek dit aan haar sal erken nie, maar ek sal seker moet om verskoning gaan vra. Of iets naby genoeg daaraan. Om my soos ’n tweejarige bedorwe brok te gedra terwyl ek eintlik amper agtien is, is só twee jaar terug.

Ek rits die tent oop en loop karavaan toe. Sy’s nie daar nie. Ek loer deur die venstertjie en sien haar by die ablusieblokke uitkom. Sy lyk sommer tien jaar jonger in haar geel somerrok en haar hare wat op haar skouers hang, met die son wat rooi strepe daaroor gooi. Vrolik. Selfs die week se bietjie sonbrand laat haar nogal gesonder lyk as ’n jaar terug, toe sy soos ’n spook in die huis rondgedwaal het. Dankie tog dis verby!

Ek loop skaam tot by haar. “Ek’s jammer, Ma,” maak ek verskoning. “Baie geluk met die verlowing,” voeg ek met ’n swaar hart by.

Ma sit haar arm om my skouers en plak ’n soen teen my voorkop. Saam loop ons arms om die lyf karavaan toe.

Agter ’n groot bos, wat ons uitsig oor die see bederf, hoor ek die Vis protes aanteken. Ek steek vas en loer soontoe. “… maar … maar wat van Ma, Pappie?” Haar stem is so skril soos ’n fluitjie.

“Jou ma is nou al amper drie jaar nie meer hier nie, Prissie. Ek was lief vir haar en sal seker altyd wees, maar gun my ook nou ’n tweede kans op geluk.” Barry se gesig is bloedrooi gebrand, sien ek toe hulle om die bos kom. Ek reken hy het vergeet om sonbrandmiddel aan te smeer. Prissie, aan die anderkant, lyk soos ’n bleek babertjie wat op land hap na lug.

“Wat dan van my, huh?” Haar klaagsang laat my en Ma ’n kyk deel voor Ma my aan die arm by die karavaan insleep.

Ek loer nuuskierig oor my skouer, sien die Vis by ons tent inglip en Barry buite op ’n kampstoel neersak.

Binne die karavaan fluister Ma asof sy my ’n geheim vertel. “Jy moet asseblief probeer om met Priscilla oor die weg te kom.” Ek oorweeg dit om eerder ’n seekoei te tem en bloots te ry.

“Onthou,” hou Ma steeds vol, “haar ma is oorlede. So dit moet baie moeiliker vir haar wees.” En dan haal Nelia Botha die groot kanon uit, ’n ou truuk. “Plaas jouself in haar skoene.”

Arrg! Moet ek, rêrig?

'n Blonde bom

Подняться наверх