Читать книгу 'n Blonde bom - Dihanna Taute - Страница 6

Оглавление

“So hoe was julle kamp? Was daar enige sexy ouens?” vra Megan Dinsdagoggend by die skoolhekke, sonder om te groet.

“Hallo, julle twee,” groet Elmie vriendelik en sluit by my en Megan aan.

Ek wikkel ’n verdwaalde haarsliert agter my knippie in en vryf my hare, wat wild uit my haarband hang, agter teen my nek glad. Ons was amper laat aangesien Ma vanoggend die hele huis moes omkeer op soek na haar motorsleutels. Net om dit later in haar handsak te vind. En sy het vergeet om haar alarm te stel vir opstaantyd.

Die liefde is nie blind nie, dis meer soos ’n worsmasjien wat jou brein mash, vermoed ek.

“Aaklig!” antwoord ek, lek die laaste tandepasta uit my mondhoek, pluk my romp reg en haak my arm by Elmie s’n in. “Ek moes ’n tent met die Vis deel en heeldag lank na haar gesanik luister.” My oë rol sommer vanself. “Maar jy lyk stunning, El. Ek love die nuwe hare.”

Elmie bloos. Haar nuwe pixie-haarstyl pas haar fyn gesig perfek. Haar strawberry-blonde hare blink selfs meer as voorheen. Saam loop ons drie ingehaak aantreeblad toe.

“Ek kan nie glo jy het die Vis oorleef nie,” sê Megan en pomp my in die ribbes.

“En jy en Garth?” Elmie se bruin oë blink van nuuskierigheid. “Het jy weer iets van hom gehoor?”

“Niks nuuts nie,” verklaar ek en maak my keel skoon. “I miss you. I’ve been thinking about you …,” probeer ek sy stem naboots.

“Jy moet sommer dadelik vir jou ’n nuwe pleister kry,” laat Megan van agter af hoor, waar sy eers gestop het om haar kouse reg te trek. “As ’n pleister eers afgetrek is, plak hy nooit weer nie.”

“Waar val sy nou uit?” vra Elmie met ’n frons. “Julle twee hoort saam soos Kim en Kanye. Julle is Garthandi.”

“Of nie, daai twee is al ou nuus. Jy hoort eerder saam met iemand met ’n bietjie meer pizazz,” grinnik Megan.

Ek haal net my skouers op en sê eerder niks. As sy eers begin redeneer sal sy aanhou totdat sy die laaste sê inkry. Daarom dat sy regte wil gaan studeer. Sy sal ’n moordenaar wat op heterdaad betrap is kan loskry.

By die aantreeblok voor die saal loop ons verby Priscilla en haar skool vissies.

“Hallo,” sê sy met ’n vals glimlag en voeg dan by: “Vir wat kyk jy, hè?” Sy rond dit af met ’n vuil kyk in my rigting.

Haar bruin poniestert, wat hoog teen haar kop vasgemaak is, pas by haar glibberige houding, besluit ek.

“Wie dink sy is sy?” wil Megan weet, twee treë agter my en Elmie.

Ek kyk af en peuter met my das. Gewoonlik sou ons net dasse in die winter dra, maar nou in matriek is alles duidelik anders.

Ek wil nie eens praat van die sykouse en blerrie lang romp nie. Dis meer iets wat ek my aan my ma sou kon voorstel. Ek sug. Megan is ook ál een wat goed daarin lyk.

“Brenden!” skree Megan onverwags langs my en glimlag vir die nuwe ou op die stoepe.

Sy trippel soos ’n resiesperd op een plek. Haar donker hare wip wild agter teen haar rug. Sy gil soos iets wat mal is en storm op die donkerkop af. Hy hou sy arms oop, vang haar en tel haar op asof sy ’n veertjie is.

“Wie’s dit?” snork ek en kyk vir Elmie.

“’n Ou wat onlangs in hulle straat ingetrek het.” Elmie giggel. “En soos jy kan sien, pla dit nie vir Megs dat hy ’n jaar jonger as ons is nie.”

“Rêrig? Ek sou nooit kon dink dat Megs ’n Ben 10 sal date nie,” sê ek verbaas. “Haar Nuwejaarsvoorneme was seker om karretjies te begin speel.”

Ek en Elmie bars gelyk uit van die lag.

“En jy?” vra ek en stamp Elmie met my skouer. “Jy en …”

Ek bly stil toe ek vir Trevor sien nader kom. Duidelik is hulle nog ’n item. Demmit! Hoe is dit moontlik dat ek in een jaar vanaf Garth Johnson-se-girlfriend gegaan het na die enigste mens op aarde wat single is? Ja, oukei, die Vis het dalk elke tweede naweek iemand anders, maar ten minste sit sy nie alleen by die huis en kyk saam met Ma (of Barry-en-Ma) Kwêla nie.

Ek loer na my horlosie en besef die klok is vanoggend laat, so asof Ma ook daarmee iets te doen gehad het.

’n Prefek kom nader gestap. “Meneer Broderyk sê die klok het gegroet, wil julle nie dalk help om die kinders in hulle rye te kry nie?”

Ek weet hoekom ek en Elmie nie die prefeknominasies gemaak het nie – ons vlieg te laag onder die radar. Maar Megan se populariteit strek van hier tot in die Kaap. Orraait, sy is dalk meer gewild onder die ouens as die onnies. En ja, sy hou soos in letterlik amper nooit by die skoolreëls nie; soos vandag, wat daar ’n pienk strik in haar hare is, maar almal is mal oor haar. As ek moet raai, sal dit my nie verbaas as ’n onnie haar nominasie stilletjies in die asblik laat beland het nie.

Op die stoepe dwaal al wat ’n leerlingraadlid is op soek na laatkommers en dreig hulle aantreeblad toe.

Ek loop stadig voorhek toe. “Kom! Tree aan, die klok het lankal gelui,” jok ek.

Vir eers dog ek my oë is nog vol seesand en soutwater. Want hoe is dit moontlik? Maar toe laat sak sy haar kop, loop vinniger en gooi een merske groot draai om my.

Wie dink sy is sy? En wat soek sy in my skool?

Nie net het my jarelange BFF se ma haar twee jaar terug verbied om met my te kommunikeer, ná my pa se ontrouheid nie, maar Reqita Liebenberg het my ook op Facebook unfriend en geblock, my van haar Twitter account afgehaal en my van haar WhatsApp delete. En nou behandel sy mý soos iets wat stink en wat vermy moet word. Gmf!

Ek draai vererg om en loop tot by Elmie wat reeds in ’n ry voor die saal wag. My wange voel opgeblaas. Elmie frons, maar waag dit nie om te vra nie.

In die saal sit die hele personeelspan reeds op hulle stoele op die verhoog.

Meneer de Wit open met gebed voordat ons op aandag moet staan vir die skoollied. Die gewone eerstedagtoespraak word opgesê soos ’n resitasie:

“… So laat ons hierdie jaar saamwerk, saamspan en saam leer, om aan jou toekoms te bou,” eindig hy die toespraak wat ek al vir twaalf jaar lank moes aanhoor.

Ons mag verdaag en word aangeraai om in netjiese rye klasse toe te loop. Nie dat dit al ooit vir Megan gepla het nie. Sy val sommer langs ons in.

“Het julle toe vir Brenden gesien? Hy’s ’n hunk, nè?” vra sy vir goedkeuring.

Ek en Elmie knik gelyk en stap soos robotte in ’n ry na ons registerklas toe.

Buite die klas wag ons register-onnie, arms oor sy bors gevou, reeds op ons. Meneer Broderyk, a.k.a. die onderhoof, tik met sy vinger op sy elmboog en kou aan sy snor.

“Kom, kom, kom!” skree hy so hard dat ’n graadagt-outjie aan die ander kant van die gang sy boude intrek en vinniger om die hoek beweeg. “En wat is in jou hare, juffrou Foster? Ken jy nie die skoolreëls nie?”

Sy stem bring ons reg voor sy klas se deur tot stilstand. Die res van die kinders val agter ons in en staan soos agies teen die muur af. Ek sluk vir Megan se part.

“Maar Meneer,” begin sy met haar vleitaal, “dis vir ’n goeie doel.”

“Goeie doel?” Broderyk pak sweet teen sy voorkop uit soos gewoonlik wanneer hy begin opwen. “Watse goeie doel nogal?”

“’n Goeie doel soos om kos te stuur vir daai honger kindertjies diep in Afrika, Meneer. Weet Meneer watse verskil vyf rand in hulle lewens sal maak?”

“Wat?” Broderyk se gesig raak amper pers so rooi is dit. “Wat het die pienk strik in jou hare met die honger kinders in Afrika uit te waai?”

“Heeltemal niks nie, Meneer,” waag Megan steeds. “Die pienk strik is eintlik vir vandag se Vrouedag, Meneer.”

“Vrouedag!” Broderyk uiter ’n paar onwelvoeglike woorde, druk sy vingers deur sy drie-sent-hare, bal sy vuiste en byt sy onderlip vas.

“Ja, Meneer,” hou Megan steeds vol. “Vrouedag, dis daai dra-’n-pienk-strik-ter-ondersteuning-van-borskanker-dag,” jok sy en sluit af met albei haar hande strategies geplaas onder haar borste.

Agter ons hang ’n paar ouens oopmond by die ry uit. Net een sug. So vinnig soos wat Broderyk opgeblaas het, so vinnig blaas hy weer af. Sy hand glip op na sy hemp se sak waaruit daar ’n pakkie sigarette loer. Hy vryf net daaroor asof hy so sy ewewig wil herstel, toe prewel hy kalmer: “Dankie, julle, maar nou het ons genoeg van die dag se tyd gemors. Stap in.”

'n Blonde bom

Подняться наверх