Читать книгу Skadujagter - Dihanna Taute - Страница 5

proloog

Оглавление

“Ek is die tweede Julie, ses minute voor twaalf gebore,” sê ek en kyk op van my hande na die starende tienergesigte om my.

Ek sluk en try asemskep. Ek kyk af na my voete, voel hoe hulle in my sneakers sweet. En my blerrie T-shirt klou aan my lyf asof die ding my wil wurg.

“Amper middernag. In die middel van die winter. In ’n staatshospitaal.” My stem is hees in my eie ore.

My brein klop, ’n hoofpyn is besig om te groei. Ek wil aan my kop raak, die gedonder stil kry. Maar daar’s ’n dik wit verband om gedraai. Net my een oor steek uit. My hand bewe vir ’n sekonde in die lug voor ek dit besef en hom agter my rug indruk.

Ek haat dit om so voor mense te praat. Almal staar – óf na my óf na die vloer by my voete. Hulle gee nie regtig om wat ek sê nie. Voorbereide mondeling gekruis met ’n lewensoriënteringles.

Asof ’n mens werklik op enigiets in die lewe voorbereid kan wees.

In die hoek sit Jess Swartz, haar bruin kuif gekrul teen haar voorkop. Sy kyk nie op nie. Sy knip en plak net, besig met kuns. Onder by haar voete lê stukkies papier in flenters. Haar skêr is stomp – dit trek-trek deur die papier. Die klank skeur deur my ore en kom plak aan my hoofpyn vas.

Dae soos hierdie wonder ek of dinge regtig anders sou gewees het as ek daai aand eers ná twaalf uit Cinthia se baarmoeder gesuig is. Of ek dan steeds hier sou gewees het en dieselfde sou gevoel het?

Dood.

As ek maar net vir nog ’n paar minute kon uithou. Maar ek kon duidelik nie langer aan Cinthia vasklou nie. Hel, ek het probeer. Soos ek die stories hoor, of eerder afgeluister het, was Cinthia vir ses-en-twintig uur in kraam. Eintlik amper vir sewe-en-twintig. Ek’s op die ou end met ’n stofsuier uitgepop, ’n instrumentbaba gewees. Blou in die gesig, het hulle gesê.

Dis dalk waar al my probleme begin het. Dáár, en die dag met … Wat ook al.

Een ding is seker, sonder daai stofsuier sou ek vasgeklou het vir die dood. Daar het anyway niks goeds op my gewag nie. En niks waaroor ek nou hier wil staan en praat nie.

Iemand hoes. Ek was te lank stil. “So begin die lewe vir elkeen van ons, sonder dat ons daarvoor vra,” sê ek maar, sluk, en staar na ’n vuil kol teen die muur bo Jess se bruin krullebol. “En sonder dat ons iets daaraan kan doen. Ons het nie veel keuses nie.”

My skouers voel skielik swaar. Ek krap aan die blou bandjie om my arm en die reghoekige gesig vol syfertjies gly om tot dit teen my pols hang. Ek kan die sekondes hoor tik. Miskien is die gevoel meer net in my kop. Om tyd terug te draai sal ook nie help nie.

“Nie een van ons kon eens ons eie ouers gekies het nie,” fluister ek, meer vir myself as vir die bored gesigte om my.

Meeste nagte, al vandat ek behoorlik kon onthou, het weird geluide in die huis my in my kamer kom treiter. Rou klanke, ’n krappende geraas.

Ek was nege toe ek vir die eerste keer genoeg guts gehad het om te gaan kyk. Dit was dieselfde dag waarop nuwe mense langsaan ingetrek het en daar was onbekende stemme in die straat wat alles weird laat klink het. Buite, in die donkerte, het tannie Suzy, ons nuwe buurvrou, nog die werkers rondge-order. Sy was al van vroegoggend af aan die skrop in die leë huis langsaan, haar drie snotneuskinders besig om mekaar met stokke rond te jaag in die tuin. Ek het oor ons tuinmuur gehang en die dinge bekyk, toe sy omgestap kom, haarself voorstel en ’n vrot boek met omgekrulde bladsye in my hand stop. ’n Digbundel van een of ander famous poet. Die vorige eienaars het dit glo net daar gelos.

“Loop gee dit vir jou ma,” het sy gesê en vir my gesmile met ’n lipstiekoranje mond.

Ek het die boek teen my bors vasgedruk en na my kamer gehol. Die huis langsaan was voor daai dag al vir baie jare lank leeg, maar ek het dit nie vir tannie Suzy gesê nie. Ek het die boek net in my kamer gaan bêre, vir later.

Toe die geraas weer daai aand begin, het ek regop gesit in my bed en toe opgestaan. By my deur het ek eers TV-kamer toe waag kyk. Dit was donker. Pikgitswart-flippen-donker. In die gang af, anderkant toe, was die klanke duideliker en die nag minder swart.

Die huis het soos ’n brouery geruik. Daar was plek-plek donker kolle op die mat – ’n teken dat Cinthia weer van vroegoggend af haar pille met drank gesluk het. Haar kamerdeur was op ’n skrefie oop. Die effense lig uit die vertrek het met die donkerte in die gang gemeng.

Op my tone het ek teen die muur langs nader gekruip. Die geraas in Cinthia se kamer het my geroep soos die nikotien van ’n dimp my deesdae roep – so sonder woorde.

Die verrotte houtvloer het onder my voete gekraak. Ek het kort-kort gestop, oor my skouer gekyk, dan terug na Cinthia se kamer. Maar die geluide het nie opgehou nie.

Dit was veilig. Of so het ek gehoop.

By haar kamerdeur het ek gebriek, ingekyk. Cinthia was op haar bed, uitgekou soos ’n stuk biltongsening. En by haar was ’n monster. Sy skaduwee het oor haar gesig geval en sy stem het deur my ore binnetoe gebrand.

Ek wou skree, maar my asem het net in my keel kom vassit. Cinthia het my dadelik gesien. Sy’t die monster weggestamp, na haar bedkassie gegryp, haar vol glas drank omgestamp, gevloek en ’n paar pille na my gegooi. Toe het sy opgespring en haar kamerdeur in my gesig toegeklap.

Ek het vinnig omgedraai na my kamer toe, in my bed gespring en die duvet oor my kop gegooi. My bene het ek teen my maag opgetrek.

Dis wat ek min of meer van my ma kan onthou.

Want sy’s weg.

Gevrek.

Old news.

Presies ’n jaar ná daai aand, die een toe ek haar kamer bekruip het, is Cinthia Fouché gevind.

Op haar bed, uitgewis.

Vermoor?

Die monster het daai jaar gereeld in ons huis rondgedwaal. Ek het hom altyd gehoor – hoe Cinthia soms met hom baklei, hom wen. Hy het dan vir ’n paar dae weggebly, maar altyd sterker teruggekom, met meer ammunisie.

My ma se dood was net ’n kwessie van tyd.

Steeds was daar baie vrae en té min antwoorde. En die evidence was ook te min. Die monster was vry. Hy loop steeds vandag rond nes hy lekkerkry.

En ek? Ek het soos gewoonlik nie ’n keuse gehad nie. Ek moes my tasse pak en by my ouma gaan intrek.

Ek sluk en kyk na die leë gesigte wat in ’n kring om my sit. “My ma was darem vir ’n rukkie hier, met ons. Maar my pa …” sê ek en wil lag, maar die klank knoop my tong vas en kom uit as ’n hoes.

Uit die hoek van my oog sien ek vir James, ek weet nie wat sy van is nie, deur die venstertralies buite in die tuin verbyloop. Waarheen gaan hy? Ek draai my kop om te kyk. Hy lyk nogal haastig.

James loop ’n ent totdat hy amper buite my sig verdwyn. Hy staan met sy rug na my gedraai. Met wie praat hy?

“Heibrandt?”

James druk sy hand in sy broeksak en draai sy kop. Ek leun agtertoe sodat my stoel net op twee pote balanseer. Deur die venster sien ek iemand by hom in die tuin. ’n Rooi haarsliet glinster in die son en dans in die wind. Dan sien ek haar gesig. ’n Rooikop-girl wat my twee keer sal laat kyk – jalapeno popper hot.

“Heibrandt?” kom die stem weer agter my. Amper donner ek om.

Ek laat die stoel vorentoe val. Kyk om, frons, toe vinnig weer terug, maar James en die rooikop is nie meer daar nie.

“Sorry,” sê ek en try om te smile. Die spul freaks om my lyk almal erg verveeld. “My pa het al vroeg in my lewe iets beters gekies. Hy’t sy verantwoordelikheid in die staatshospitaal gelos en toe verdwyn. Ek’t my ma se van, nie syne nie.”

Jess kyk vir ’n oomblik op, asof ek met haar praat. Die stomp skêr in haar hand bewe. Ek sluk weer. Dit voel of ek in ’n spieël kyk. Jess se blou oë lyk vandag hartseer. Ek staar so hard, my gesig begin brand.

“Dit was sý besluit, sý keuse. Nie myne nie,” sê ek hard genoeg dat almal kan hoor.

Jess kyk af en trek met die skêr deur nog ’n stuk papier. Die klank skree deur my kop. Ek knip my oë om weer te probeer fokus.

“Tog is dit juis die dinge waarmee ons moet leer saamleef – nie net met die keuses wat ons in die lewe maak nie, maar ook met die keuses van ander mense. Dis in ons DNA.”

Wie het vir Cinthia daai dag op haar bed in ’n plas bloed gekry, wonder jy? Ek, natuurlik, nog met slaap in my oë, en vrek honger. Op ’n Saterdagoggend.

Maar ek’s oor daai shit.

Ek’s ook lankal oor haar. En oor die man wat veronderstel is om my pa te wees.

Wat ek nou nodig het is ’n dimp en nie ’n pity party nie.

Dink hulle regtig dit help om so oor goed te praat? Verander dit regtig ’n mens se toekoms?

Hierdie touchy-feely sessions is ’n erger marteling as juffrou Ziervogel se wiskundeklasse. Een plus een los nie alle probleme op nie. X en blerrie Y nog minder. En selfs hierdie fancy kosskool met sy flippen tight sekuriteit waarborg ook nie ’n eersteklas lewe nie. “As dit juis die dinge is wat die lewe soms moeilik maak, hoekom is ons almal nog hier?” sê ek en vou my arms sodat hulle kan sien dis al wat hulle vandag uit my gaan kry.

Wat maak ék anyway hier?

Ouma Martie kan nie ’n kosskool soos hierdie bekostig nie. Ek het ’n huis. Ek het my eie kamer. En as dit regtig moet, is daar ’n plak-en-pleisterskool naby my ouma se huis wat goed genoeg is vir my.

Hoekom mag ek nie kies nie? Ek skud my kop, sluk die brandpyn in my bors weg en loer weer na die vensters. Dié plek is nogal soos ’n tronk.

Hier hou almal my heeltyd dop. Of so voel dit. Twenty-four-freaken-seven.

“Dankie, Heibrandt,” hoor ek toe ek opstaan. “Ons sal volgende keer weer ’n bietjie daaroor praat.”

Right. Noted. Ek’s binnekort weg.

Skadujagter

Подняться наверх