Читать книгу Skadujagter - Dihanna Taute - Страница 7
chimera
ОглавлениеEk het geloop sonder om te groet …
“Deurmekaar” van Karen Zoid speel vandag op repeat in my kop.
Ek haat dit.
Dis wat freaken gebeur wanneer ek gedwing word om aan Cinthia Fouché te dink. En wanneer die stemme in my kop eers flippen begin, kan ek maar vergeet om hulle te try stop. Dis net ’n gekots van herinneringe. ’n Donderende dans met die dood.
Teen die tyd dat die klok soos ’n alarm oor die skoolgrond weergalm, het almal hulle stoele in die kas gebêre en by die deur uitgebondel.
Ek wil jou bel, ek wonder of ek moet … Dis Cinthia, sy terg-sing nou sommer in my oor terwyl ek laaste uitstap in die wit gange.
Wat het ek nou? Wiskunde? Dalk Afrikaans? Ek probeer deur die gemaal van gesigte buite ’n bekende een spot. Iemand wat ek na die volgende klas kan volg, maar almal staan net doelloos rond en lyk of hulle vir iets wag. Pouse?
Ek skiet met die naaste trappe af.
Deurmekaar? Ek het die CD so drie jaar terug tussen Cinthia se goed ontdek, weggesteek tussen ’n paar meer hardcore stuff van Nirvana en Pearl Jam.
Dit was in ’n boks saam met Cinthia se ander gemors op die vloer in my ouma se garage. Die musiek was al wat ek besluit het om te hou. Die res van die goed in die boks het ek in die ouvrou se geroeste braaier gemoer en toe veras. Selfs al haar poetry boeke.
Die lyrics rol nog deur my gedagtes. Ek weet jy dink ek’t jou verniel, fluister-sing Cinthia. Ek het jou …
My ore tune uit.
Cinthia het daai laaste week of so baie oor my pa begin praat. Oor rehab of iets. En dalk ’n nuwe begin. Nie dat ek geluister het nie.
Ek skuur verby ’n paar ouens op die onderste vloer, maar iemand stamp so hard teen my skouer dat ek omswaai, my vuis klaar in die lug om die culprit te donner.
Dis een van die jonger outjies, ek ken nie sy naam nie, maar ek sien hom pouses baie keer alleen op die gronde ronddwaal. Sy olierige hare hang vuil en onnet in sy gesig. Hy vorm woorde met sy mond. Daar is iets aan die ou se stem, of dalk is dit die manier waarop hy na my kyk …
Onder die verband begin my kopvel skielik brand soos vuur.
Ek gryp hom aan sy hemp. “Wat?”
“Hy’s vry,” fluister die ou, dié keer nader aan my gesig. Sy asem vrot.
Ek staar seker, want hy pluk homself los uit my greep en loop stadig agteruit terwyl hy na my kyk, ’n simpel smile op sy gesig.
Ek swaai weg en val by die seuns se badkamers in. Ek sweer, hierdie plek is die pits. Almal maak of hulle flippen mal is.
Die kraan fluit oop. Ek maak eers net my hande nat. Toe my gesig.
Ek moet liewer aan iets anders dink. Ouma?
Wanneer laas het ek haar gesien?
Die klok weergalm weer deur die gange. Ek skrik, kyk vir oulaas in die spieël, na die verband om my kop, toe vryf ek my hande teen my broek droog en stap uit.
Buite die kleedkamers vang my oog dadelik vir Shane, met sy donkerblou jeans en swart baadjie. Hy staan by die hoofingang. Sy netjiese, kortgeknipte hare is donker, maar effens grys op die slape.
Wat soek hy hier?
Ek sou verkies het dat Shane my uitlos en eerder in ’n kroeg vir hom gaan pelle soek. Die ou is flippen bad news.
Ek het hom ’n paar maande terug by ’n Skadujagter show raak gedans. Voor, amper teen die stage. Dis my ultimate favourite band as dinge kom by rap. Oums het my practically na die show toe gedwing. Nie dat die ouvrou juis dié band like nie, sy’t gedink dis net ’n doodgewone skoolfunksie of iets. Selfs gesê dit sal my goed doen om weer so ’n bietjie uit te kom. Maar nou ja, toe ontmoet ek net vir Shane.
“Die lyrics is nogal tight,” het Shane eers gesê, duidelik toe nog nuut op die rap vibe. Hy het die res van die show langs my bly staan en geluister. “Of wat dink jy?” het hy later gevra.
“Whatever,” het ek gesê, na my sneakers gekyk en my skouers opgehaal.
Die rap song het gegaan oor die dood. Of die gewag daarvoor. En die tronke waarin ons almal dwaal. Ek was teen daai tyd al alles gewoond – skool is ’n tronk.
Ek het gedink dis dalk hoekom die ouvrou my hierheen geskuif het, na ’n kosskool soos hierdie, om van ouens soos Shane af weg te kom.
Wat doen ’n ouerige man anyway by ’n skool-band se show? En hoekom meng hy met skoolkinders?
Wat de hel doen hy vandag weer hier?
Ek sien die stuk papier in Shane se hand. Dis ’n papier wat ek onlangs vir hom gegee het – Skadujagter se nuutste lyrics. Die ou kon dit eintlik self gegoogle het, maar hy bly my aanhoudend vra daaroor.
Shane is deesdae consumed met die band. Dis wat gebeur as ’n mens te diep luister. Dis al waaroor hy die laaste tyd wil praat. Dít en my volgende trip.
Flip! Dié ou is erger as ’n breintumor – moeilik om van ontslae te raak en geen drug werk nie.
Shane sien my gelukkig nog nie raak nie. Hy staan en praat met een van die matrieks. En by hulle staan daai rooikop. Die een wat netnou in die tuin was saam met James.
My wange wil-wil rooi raak. Oor die curves wat ek tussen haar middellyf en haar heupe kan trek met my oë.
Ek moet haar eintlik van Shane gaan red. As sy nuut is hier, gaan sy nie van beter weet nie. Maar vandag sien ek nie kans vir die ou nie. En in dié toestand sien ek nog minder kans om myself te gaan voorstel aan die mooiste ding wat ek nog ooit op twee bene gesien het.
Ek draai vinnig om sodat hy my nie sien nie. Shane is amper oud genoeg om my pa te wees. Dis dalk wat my in die begin na hom toe getrek het, tot ek agtergekom het hy’s eintlik net besig met sy eie agenda. Ek was naïef genoeg om te dink hy gee om.
My handpalms is nou natgesweet.
Ek moet eerder wegkom van hierdie plek, weg van Shane af. Wie weet wanneer hulle ons weer gaan toelaat om uit te gaan? En as ek kyk na hoe maklik Shane ingekom het, is die sekuriteit vandag dalk non-existent.
Ek sal môre in die registerklas by CP notas kry. Die ou doen altyd sy werk getrou. Hy’s die naaste aan ’n pel wat ek in die skool het. CP is oukei, meestal stil en eenkant, soos ek. Ons praat gewoonlik net oor bikes wanneer ons langs mekaar in die klas sit. Dit werk vir my. En ek reken vir hom ook. Ek skuld hom eintlik al ’n guns of twee, nog een gaan nie regtig ’n verskil maak nie.
Klaar besluit wurm ek terug, deur die gemaal van ouens wat staan en wag vir die volgende klas, na ’n ander uitgang. Die een die verste van Shane af.
“Hoezit, bra?” Ek’s net buite die groot, lang gebou van die seuns se slaapsaal, toe James skielik om die hoek geseil kom – nog ’n bloedsuier in my kop. “En waar gaat jy heen?” Hy grinnik met sy gechipte voortand.
Shit. Ek moes beter beplan het. Dalk eerder my goed in my kamer gelos en net gesplit het. Ek kan mos ’n dag sonder ’n tandeborsel of wat oorleef?
Ek het net die nodigste goed gaan gryp, maar die rugsak hang steeds swaar oor my skouer. Ek draai my lyf sodat die sak minder sigbaar is agter my rug.
“Fokof, James! Ek’t gister vir jou gesê ek’s klaar.”
Dié ou is nes Shane, knaend. Dis moontlik die rede hoekom hulle twee sulke dik pelle is.
“Ag, kom nou, Heibrandt-bra. Ek het dié week ’n goeie special. Top class goods.”
“Ek het nie geld gebring nie,” mompel ek.
Ek skop ’n klip dat dit doer trek. Eintlik bring ek nooit geld saam nie. Maar dit beteken nie dat James gaan ophou vra nie.
“Jy ken mos appro, bra. Ek weet mos jy sal betaal.”
Ek voel-voel in my broeksak na my pakkie sigarette. Flippet! Ek het al vroeg vanoggend gesien daar’s net een oor en ek bêre dit vir wanneer ek hier uit is.
My keel voel skielik skurf en ek lek selfbewus oor my lippe. Hulle weet ook net hoe om ’n mens te vang.
“Fine, maar ek soek net ’n dimp.” Dan raak ek dalk van die ou ontslae.
“A, Heibrandt-bra, jy kan mos cigarettes by die shop loop koop. Ek het net good stuff.”
Vir ’n oomblik twyfel ek en loer oor my skouer, net om seker te maak niemand kyk nie. ’n Pyn flash deur my kop. Ek vat daaraan en vryf met twee vingers oor die verband. Dit help nie.
“Oukei,” stem ek in. Anders gaan sê die vark dalk vir iemand waar ek is. “Maar ek soek iets ligs – net om die edge af te haal, jy ken my.”
James loer na die sak teen my rug. Hy frons. Ek haak my duim deur die strap en klou dit stywer vas.
“Jy praat mos nou met die regte man. Kom, volg my.”
Op die verhoog, agter die gordyne in die saal, staan daar al ’n ry. Almal wag vir James en sy top class goods. Die laaste keer dat ek hier was het James se gesig kennis gemaak met een van sy kliënte se vuiste, maar die hele voorval is stil-stil onder die mat ingevee. Ek val skrikkerig agter in die ry, check kort-kort oor my skouer.
Dit vat vir ewig.
Ek oorweeg ’n paar keer om te waai, maar my kop pyn, dalk help ’n pil daarvoor. Toe ek uiteindelik voor kom, is ek vies. Ek haat die stuff wat James na my uithou.
“Dis al wat ek vandag vir jou het, bra,” sê James. Hy keer my dadelik toe ek omdraai en try wegstap. “Toe kom nou, vat die pil – ek dare jou. Of is die laaitie bang?”
Ek gryp dit en prop dit in my mond.
James grinnik, sy gechipte voortand byt op sy onderlip. Flippen krimineel – die goed is ook oral.
James wag dat ek voor hom moet sluk. So kan ek hom nie split nie. Geen evidence, geen case.
“’n Mens mors nie met kwaliteit nie,” sê hy toe ek uiteindelik sluk en wegdraai. “Check jou, nè?” Toe lag hy en voeg by: “Gaan bêre nou maar daai sak, bra. En bly op die straight en narrow.”
Ek voel hoe sy hand om my arm klem en my na die saal se deur toe stoot. Ek ruk weg, maar hy het my nog aan die mou beet.
“James!” roep iemand benoud van buite die saal. “Kom help!”
“Check jou, nè,” waarsku James toe hy my arm los en by die deur uithardloop.
Ek laat nie op my wag nie. Buite die saal ruik die lug skielik soos vrot melk. Die reuk maak my naar. Ek voel hoe die pil opkook in my mond.
Om die naaste hoek spoeg ek die skuim met ’n boog uit voor ek mik vir ’n kraan. Ek probeer al ’n vir ruk lank ophou met die pille, al is dit beter as Shane se naalde. Die goed is flippen sterk, sit my op ’n trip – een wat ek nie nou kan bekostig nie. Ek wil eerder reguit dink. Hier uitkom. Weg. En so vinnig moontlik by die ouvrou se huis kom.
Agter my sien ek hoe James ’n girl van haar eie spoeg try red. Die girl was voor my in die ry. Sy lê nou op die grond, in haar eie slym. Iemand hardloop verby my en ek hoor stemme wat Shane se naam roep. Ek kon raai die ou het iets hiermee te doen.
Met die agterkant van my hand vee ek die spoegstreep van my ken af. Meer mense peul by die deure uit. Niemand neem eens notisie van my en my swaar sak nie.
Dis my kans. Hopelik is daar genoeg tyd oor voor ’n klok weer lui en iemand dalk iets agterkom.
Jy’t te veel tyd met James gemors, raas dit in my kop. Hoe laat is dit?
Ek bring my watch tot by my oor, try luister. Die ding tik niks. Ek skud my arm, luister weer. Stilte. Cheap flippen plastic! Ek ruk die blou ding van my arm af en moer dit agter die naaste bos in. Toe stap ek om die geboue na die agterste ingangshek.
Die klipperige grondpaadjie is stil. Niemand gebruik juis hierdie ingang nie. Maar ek is versigtig, loop en koes agter elke boom.
Dit vat my ’n hele paar minute om by die hek te kom. Die wag is doenig op sy foon, so ek kan sonder moeite uitglip.
Dié hek is nogal freaken ver van my huis af en ek is nie dadelik seker watter rigting om in te slaan nie. Ek’s al ’n blok weg toe ek weer die klok soos ’n alarm agter my hoor afgaan.
Dis darem soort van ’n change of scenery. Ek hardloop oor die pad en in die eerste systraat af. Ek kyk terug oor my skouer, maar dit lyk nie of iemand my agtervolg nie. Anderkant ’n park kry ek ’n klomp grand huise, die drankwinkel, die slaghuis en toe Van Ryhn’s Gunshop voor ek verby die Spar stap. Dit lyk bekend, maar ook nie.
Ons arm woonbuurt behoort nou net daar agter die sentrum iewers te lê.
Om die hoek sit-lê ’n boemelaar teen die sentrum se muur. Dit lyk of hy dié tyd van die oggend al ’n paar van James se pille in het. Langs hom op die grond lê ’n bottel drank toegedraai in bruinpapier. Ek loop ’n draai om hom.
“Waar die dooie liggaam ook al is, daar sal die arende bymekaarkom,” hoor ek in die verbyloop en loer dadelik na die boemelaar.
Sy hoed is laag oor sy gesig getrek, net sy ken steek uit. En sy arms hang slap langs sy lyf. Hy roer nie – dit moes my verbeelding gewees het.
Ek’s nogal vrek bang vir ’n arend. Die dag toe Cinthia in die grond weggesak het, het ek vir die eerste keer een gesien. Hy’t bo ons koppe in die lug gedraai, in die vaal lug wat bokant die kaal ou bloekomboom in die begraafplaas uitgetroon het. Ek kon sweer ek sien sy blink oog knip. Hy’t net vir my gekyk, gewag en toe op my afgeseil.
Ek het my in die los sand langs Cinthia se graf in ’n bondel opgerol. My longe skoongeskree. Tannie Suzy, en al wat ’n ander outannie was, het my natuurlik try troos, maar dit het als net vererger.
Hulle geraamtevingers om my arms het soos die arend se kloue gevoel. Ek het net aanhou skree, al hoe harder tot ek hees was.
Agter die sentrum kies ek sommer die eerste straat en hoop dit bring my vandag nog by die huis uit. Die straatname is lankal weg, gesteel. Dit hang seker nou teen een of ander ou se kamermuur. Was ek so lanklaas hier?
Die son is ook vrek warm. Die sweet het die verband al papnat, dit loop teen my voorkop af. Dit brand my oë. Ek vryf daaraan, maar dit help nie regtig nie. My kopvel onder die stuk lap jeuk dat dit vrek.
’n Paar treë die straat in hoor ek die geroggel van ’n grassnyer se enjin. Dit klink of die ding sukkel om te start, maar dan vat hy. Die klank skreeu eers in my ore, toe vibreer dit deur my ingewande. My hande begin bewe. Waar de donner is ek?
Ek voel-voel na my pakkie sigarette in my broeksak, trek die laaste een uit en bring dit na my lippe. Die leë pakkie smyt ek sommer in die straat neer.
Die dimp op my lippe en die rook in my longe smaak soos water in die woestyn. Vir drie blokke loop ek rustig so suig-suig en uitblaas. Toe gewaar ek ’n bekende rooi baksteenhuis op die hoek. Ons huis behoort nou net verder op in die straat te wees, op die ander hoek. Voor die rooi huis gaan staan ek eers onder ’n boom en rook klaar, met my oë toe.
My bors brand, dis soos ’n waarskuwing. In my verbeelding soengroet ek die rook vaarwel, die lug in. Die reuk hang nog tot die wind dit saam met die as op die paving wegwaai. Toe sien ek hom: ’n arend wat met sy wit kop en geel snawel deur die boomtakke skeur.
Dis weer sulke tyd.
Die pille, of eintlik die tekort daaraan, het sy nagevolge – kom ons noem dit maar onttrekkingsimptome. Dit skommel my kop deurmekaar en los my dan op plekke wat nie eens bestaan nie.
Ek krap met my naels onder die verband, die dimp se stompie tussen my vingers skuur teen my voorkop. Ek moet eerder probeer fokus. Wat kan ek onthou?
Oukei, ek onthou die huis waar ek in my graadvier-jaar, die dag ná Cinthia se begrafnis, gaan bly het. ’n Huis met blou mure wat my ouma in haar jonger dae glo self geverf het. Met ’n houtvoordeur wat by ’n klein ingangsportaal inloop.
’n Huis op die hoek van Bergstraat en Agtstelaan. ’n Omgewing waar Cinthia in haar kinderjare nog buite kon speel. Maar nie ek toe ek jonger was nie. Te veel crime.
Ek onthou in die ingangsportaal hang daar ’n portret van my oorlede oupa teen ’n rooi muur. Hy het ’n geweer in sy hand en ’n helmet op sy kop. Hy kyk veroordelend deur sy klein, ronde brilglasies. Sterk, jong, manlike gelaatstrekke en saamgeperste lippe. So sonder ’n smile.
Dis ’n oupa wat ek nooit geken het nie. ’n Drie-en-twintigjarige man wat ook nooit die geboorte van sy enigste dogter gegun is nie. Nicholaas Fouché het gesneuwel, soos die history-boeke sê, op die slagveld by die grens, net voor Cinthia se geboorte. Angolan Bush War. 1976.
My hart klop vinniger.
Ek sak af op my hurke op die sypaadjie, knyp die dimp tussen my vingers en trek die veters van my sneakers stywer. Fokus. Moenie panic nie. As ek dit alles net kan vashou in my mind, sal ek die pad vind.
Ek onthou my ouma se sitkamer – so my brein is nie heeltemal suf nie. ’n Sitkamer met stokou bruin meubels wat my selfs op die warmste dag kan laat vries. ’n Groot, ouerige TV wat net aangesit word wanneer die ouvrou se soaps wys. Sy probeer so krag spaar, maar soms cut Eskom haar ook uit soos ’n deleted scene. Sy gooi dan so ’n lekker tantrum dat die porseleinbeeldjies, wat op ’n rak langs die TV staan, moet koes om nie raakgegooi te word nie.
Ek was nog altyd oortuig daarvan my ouma se beeldjies is getoor, want dit voel soms of hulle ’n mens dophou, of die porseleinkatte in die nag kan real word om jou te knife.
Ek asem diep in deur my neus, die herinnering aan die reuk van my ouma se gebak wat ’n mens onverwags tref as jy by die huis inkom, skielik by my. ’n Reuk wat almal dink heaven is all about. Die reuk van soet koeksisterstroop en vars brode. Soms gemeng met oumensmedisyne.
Die eerste deur wat uit die gang loop is die kombuis. ’n Kombuis met twee staalkaste, ’n outydse yskas, ’n tafel met twee stoele en ’n ou gasstoof.
Verder aan, verby die badkamer is my kamer, die deur gewoonlik toe. En dan kry mens die ouvrou se kamer. Van kleins af het ek gedink die reuk van die dood, bedompig en bitter, hang heeldag en aldag daar rond. ’n Reuk nou so vars in my geheue dat ek dit selfs hier in die staat op my tong kan proe. ’n Vomit overdose. Oumense flippen stink.
Ek moet eerder ’n grip kry en fokus op nou.
Ek staan op. Die wind waai koud teen my lyf. Vryf my oë met die palms van my hande, trek ’n laaste keer aan die opgerookte dimp voor ek weer my oë oopmaak en die stompie pad se kant toe skiet. Ek sluk ekstra hard aan die spoeg in my mond, met die hoop die ouvrou ruik nie vandag die rook op my asem nie. Sy sal weer ’n helse preek afsteek.
Ek draf die laaste ent. Dis stil. Almal is seker by die werk. My rugsak se straps sny in my skouers in, maar ek is amper daar. Amper by die huis.