Читать книгу Skadujagter - Dihanna Taute - Страница 8

Оглавление

2

wie luister, hoor

Ek staan eers vir ’n lang ruk voor die huis met sy vuilblou mure, my hand op die koue yster van die hek.

Zatan kom om die hoek gedraf. Sy stert swaai tussen sy bene en hy druk sy swart lyf teen my broek toe ek die hek oopmaak. Toe pis hy my sneakers nat, lippe opgekrul, net oë en tande.

Ek skud die hond en die pisplas af en vloek onderlangs terwyl ek voordeur toe stap.

“Waar was jy?” wil die ouvrou sommer met die intrapslag weet, haar grys oë donker geworry en haar kort hare onversorg.

Ek sluk swaar aan die hol gevoel wat in my keel opkruip.

My ouma vee haar deeghande teen haar voorskoot af. “Kom hier,” sê sy, haar skoongevryfde hande nou na my uitgestrek.

Sy trek my teen haar bors vas en druk die sewe lewende helle uit my uit asof sy my lanklaas gesien het. Haar bril hang skoon skeef toe sy my wegstoot. “Ek was nou net op pad om die polisie te bel – die hele dorp soek al na jou.” Toe snuif sy in die lug. “En begin jy al weer jou longe besoedel?”

As dinge kom by oordryf, kan die ouvrou jou nogal ’n paar goed leer.

“Sorry, Oums,” sê ek en sluk weer. “Ek … ek moes net vandag daar wegkom.”

“Hoe voel jy?”

Sy stoot my ’n entjie weg, haar vingers klou nog aan my arms, stukkies deeg onder haar naels. “Ek’s orraait, Oums.” Sy kyk na die verbande om my kop. Haar lippe bewe. “Ek belowe, Oums.”

“Jy’s natgesweet.” Sy los my en draai om kombuis toe. “Oums se kind is ook seker dood van die honger?” praat sy oor haar skouer. “Daar’s kos in die kombuis. Maak solank vir jou warm.”

Toe verdwyn sy kamer toe. Sy loop en mompel iets oor ’n spul telefoonoproepe om die soektog na my te staak. En iets oor ’n middagslapie van al die opwinding.

Ek gooi my rugsak op die stoel in die kombuis neer.

Die kombuis is warm. Ouma se varsgebakte brode staan op ’n afkoelrak op die tafel, en die kos op die stoof wag om vir die week gevries te word. Ek skep ’n bord vol en druk dit in die microwave. Terwyl ek wag vir die kos om warm te word, sit ek die ketel aan en haal vir my ’n beker uit, gooi twee opgehoopte lepels koffie in en tel nie eens die suiker nie. Een van Skadujagter se songs pols in my kop.

Ek is op die edge, die drumpel, op ’n donker pad se skouer-rimpel.

Ek lewe sonder vlees, net ’n dwalende gees – geen vrees, ’n gesig wat jy nie kan lees.

Dit block die warning sein van die druppende pyn.

Bloed wat smaak soos wyn. Tronke en tralies verdwyn.

Kom saam, kom vat die trein. Ons waai uit hierdie plek van shame.

Ek gooi die melk eerste in. Toe die ketel fluit, gooi ek die warm water by terwyl ek roer. Teen dié tyd rap ek al uit volle bors saam.

“Ek lewe sonder vlees, net ’n dwalende gees – geen vrees!”

Voor die venster vat ek ’n paar slukke koffie. Toe sien ek die kat buite op die muur. Die ding sit en hou my dop. Verbeel ek my of is sy oë rooi?

Ek skud my kop. Iets kriewel in my nek. Haat? Ek haat ’n kat. Van wanneer af laat Zatan katte in ons erf toe? En wat gaan aan met die ding se blerrie oë?

Die microwave roep. Ek los die kat met sy rooi oë vir eers op die muur met rus. Ek’s vrek van die honger en die ouvrou weet van kosmaak. Nog op die ou boeretannie-manier. Vleis, rys, pampoen en ’n paar aartappels. Dis stukke beter as die koshuis se crap.

Ná ete dump ek my leë bord in die wasbak en loer weer by die venster uit. Die kat is weg. Dis sy gelukkige dag.

Kom lewe sonder vlees!

Ek gryp my sak van die stoel af en loop haastig na my kamer toe. Die sak plak ek op my lessenaar neer. My skoolwerk kan nog ’n bietjie wag. Ek gaan nou eers chill. Dalk gaan ek anyway nie eens môre terug nie.

Ek ruil my nat, sweterige klere vir gemaklike jeans en ’n uitgewaste T-shirt en soek in my lessenaar se laai na my foon. Die skool laat mos nie selfone toe nie. Die battery is pap. Ek pluk die charger ook uit en prop dit in, druk die oorfone in my ore en val op my bed neer. My bene kruis ek by my enkels. En my hande druk ek onder my kop in.

Ek lê toeoë en luister na die kitaar se klanke wat in my kop dans. Toe vibreer my foon onverwags.

Dis Shane, sien ek op die skerm. Ek moes nooit vir die ou my nommer gegee het nie. Ek druk my foon dadelik dood en gooi dit eenkant op die bed. Dis skaars ’n minuut later toe ek iets dofweg hoor nader kom. My ouma loer om die kosyn. Ek pluk my oorfone uit my ore.

“Wat doen jy, Heibrandtjie?” blits sy.

Ek moes eerder die oorfone in my ore gelos het, want sy gaan nou weer begin kerm oor my huiswerk.

“Ek doen ’n studie oor hoe rustig musiek ’n mens kan maak, Oums.”

“Nie daai gemors wat jy luister nie. Daai goed beskadig net jou breinselle.” Die ouvrou wag nie vir ’n uitnodiging nie, sy kom nader, druk my bene eenkant toe en sak langs my op die bed neer. “En daai ding teen die deur hoort in ’n asblik.” Sy wys na my glow-in-the-dark kopbeen-poster.

Never!

Ek swaai my sneakers van die bed af en sit regop.

“Sou Oums nie ’n middagslapie of iets gevang het nie?”

Die ouvrou sug. Sy lyk ietwat onrustig, haar krom rumatiekvingers tik-tik op haar been. “Ek sou, maar … ek moet dalk eerder voor op die bank gaan uitstrek.”

Maar sy bly sit en staar net na my boekrak. Die ding lyk of ’n tornado dit getref het. Geen boek is op sy plek nie.

“Soos in om Oums se soaps in te haal?” vra ek en notice weer die donker kringe onder haar oë, en die ekstra diep plooie wat om haar mond vou.

Vandag lyk sy vir my vir die eerste keer regtig oud.

“Moet ek later vir Oums ’n bietjie tee bring?” bied ek aan. Sy knik, vryf oor die verband om my kop en staan stokkerig op.

“Hulle het lank na jou gesoek, Heibrandt,” sê sy. “Jy moet dit asseblief nie weer doen nie. Wegloop.”

Sy beweeg stadig, amper té stadig na die deur – nog iets pla haar. Sy kla eers oor haar rug en sleepvoet tot by die deur. Halfpad uit draai sy terug. “Ek … ek het jou pa gebel,” sê sy en loer na my. Haar grys oë moeg.

Die krieweling in my nek is terug.

“My kind is besig om baie geld in die water te gooi.”

Ek gryp die duvet in my hand vas. “Ek wil nie daar bly nie, Oums. Jy kan dit nie eens bekostig nie.”

“Dis jou pa se geld, Heibrandt.”

My kneukels word wit. “En wie het hom nogal gevra, Oums? Ons kan mos sonder hom klaarkom. Ons doen dit al vir freaken lank. En ek belowe ek sal nie weer …”

“Ek weet,” val sy my in die rede. ’n Traan rol oor haar wang. Ek voel die skuldgevoel in my maag brand.

“My kind sal ongelukkig môre móét teruggaan. Dis net beter so, Heibrandtjie.” Sy vee bewerig oor haar oë.

“Kan ek nie maar ’n paar dae hier slaap nie, Oums?” smeek ek. “Ek sal vroeg opstaan en self skool toe loop.”

Die ouvrou sê niks.

“Ek haat dit daar, Oums. En ek haat hom!” skree ek.

“Verdien ons almal nie maar ’n tweede kans nie?” haar stem is sag en kalm. “Hy’s mos nou skoon, Heibrandtjie – al vir drie jaar. En hy werk vir ’n groot maatskappy. Hy wil graag help.”

Ek wil eers stilbly, want hoekom nou?

“Drug free my ass! Eenkeer ’n druggie, altyd ’n druggie,” sis ek deur knersende tande. Ek trek my voete terug op die bed, draai my rug op haar en prop weer die oorfone in my ore. My sneakers stamp ritmies teen die voetenent van die bed.

Sy kan nou maar van daai blerrie tee vergeet.

“Hy bly jou pa, Heibrandt!” skree sy hard genoeg dat ek haar deur die musiek kan hoor. “En ons maak almal foute, doen jy nie ook nie?”

“Hy sal nooit my pa wees nie, Oums!” skree ek terug sonder om om te draai.

“Die groeipyne is maar moeilik vir ons almal,” haar stem breek nou, “maar dis deel van grootword.” Toe skuifel sy weg om TV te gaan kyk. “Ek moet jou môre terugvat!” hoor ek haar nog skree.

Iets breek in my brein, ’n geluidlose gil.

Ek weet almal maak foute. Hel, ek maak baie. Maar sewentien jaar, amper agtien, is lank sonder ’n pa.

Waar was daai man die dag toe Cinthia die emmer geskop het? Rehab? Seker vir die flippen tiende maal. Wat wil hy nou met ’n uitgegroeide tiener maak? En hoekom kies die ouvrou nou sy kant?

Wat ek eintlik die meeste haat is dat die appel nie ver van die boom gerol het nie. Ek het vervloekte gene. En die drugs fokken werk nie eens nie.

Ek spring op en klap my kamerdeur hard toe. Ek het gehoop sy gaan eerder bly wees om my te sien. Nou wil sy my terugjaag.

Ek moes ’n beter wegkruipplek gekies het.

In my kop vorm daar reeds ’n nuwe plan. Ek gryp ’n tas uit my kas en pluk my klere uit die laaie. Die tas zip ek toe, skuif dit onder my bed in voor ek weer op my bed val en die oorfone in my ore druk.

Ek sal wag tot die ouvrou slaap, maar nie ’n minuut langer nie.

Ek stel my selfoon se alarm vir twaalfuur.

Skadujagter

Подняться наверх