Читать книгу Periandros van Korinthe: Skooluitgawe - D.J. Opperman - Страница 5
INLEIDING
ОглавлениеVolgens Aristoteles het ’n tirannie – ’n diktatuur, sou ons dit vandag noem – gewoonlik so ontstaan: die tradisionele koningskap het mettertyd in baie Griekse state verval en is vervang deur ’n aristokrasie, wat op sy beurt weer dikwels verdring is deur ’n oligargie, ’n regering in die hande van ’n enkele sterk aristokratiese familie of ’n klein groepie van sulke families, uit wie se geledere daar dan weer een sterk persoon op die voorgrond getree het wat homself met hulp van binne of buite alleenheerser (tiran) gemaak het. Die tiranne in die Griekse geskiedenis was gewoonlik energieke heersers, wat in binnelandse aangeleenthede hoewel outokraties tog weldadig regeer het, groot beskermhere nie alleen van die handel en die nywerheid was nie, maar ook van die kuns en kultuur in die algemeen, en buitelands die mag en invloed van hulle state grootliks uitgebrei het. Hulle was nie almal of altyd wreed nie; omdat die Grieke nie daarvan gehou het dat een man al die mag in sy hande sou hê nie, het daar mettertyd allerhande legendes ontstaan oor die wreedheid van hulle tiranne, wat welseker ’n kern van waarheid gehad het, maar tog erg oordrewe was, soos dit maar gewoonlik gaan met anekdotes wat rondom ’n beroemde enkeling ontstaan.
Van al die Griekse tiranne was dié van Korinthe, Kuupselos en sy seun Periandros, wat saam sowat 70 jaar geheers het, van 655 v.C. tot 585 v.C., die bekendste; en hulle geskiedenis vertoon ook die beste die algemene aard en lotgevalle van ’n Griekse tirannie. Ons vernaamste bron vir die tiranne van Korinthe is die beroemde ou Griekse geskiedskrywer, Herodotus, van die vyfde eeu v.C. Maar voordat ek hom self aan die woord laat, moet ek eers sê dat baie besonderhede oor Periandros en die Griekeland van sy tyd wat nie in Herodotus se weergawe hieronder genoem word nie, maar wel deur dr. Opperman in hierdie drama gebruik is, in ander, weliswaar later, bronne te vind is, soos in Aristoteles bv., of Ephoros, of Diogenes Laertius, e.a. As ek dus in hierdie Inleiding net Herodotus se weergawe gaan aanbied, moet ek tog die volgende punte daarby noem: van die karakters in die drama is slegs die name van Ganguloon en Barakos denkbeeldig; Herodotus noem nie die naam van die oudste seun, Kuupselos, of dié van die dogter, Hermionee, nie, maar ander bronne doen dit wel; voorts was Anacharsis ’n bekende Skithiese wysgeer, wat werklik vir Periandros gaan kuier het, en Sappho van Lesbos, die beroemdste van die Griekse digteresse, werklik ’n tydgenoot van Periandros, alhoewel dit nêrens vermeld word dat sy ooit in Korinthe was nie: sy was darem in Sicilië, en kon maklik Korinthe aangedoen het! Periandros se verhouding tot Melissa en die manier waarop sy en hy aan hulle eindes gekom het, word ook nie deur Herodotus net so beskryf nie, soos die leser sal sien, maar wel deur latere raconteurs. Meer betroubare skrywers vertel ons baie van Periandros se karakter en regering self, soos bv. van sy sede- en weeldewette, sy aandrang op werk vir almal, dat hy as een van die Sewe Wyse Manne beskou is (vgl. Hermionee se wyse woorde aan Lukophroon in Herodotus se weergawe hieronder); asook van die Kuupseloskis en die goue beeld wat hy te Olumpia gewy het, van die Kanaal van Korinthe, dat Korinthe onder hom die toppunt van sy mag bereik het en ’n wêreldstad in die kleine was; en so meer.
Om nou tot Herodotus te kom, in Boek 1 van sy Geskiedenis vertel hy die welbekende verhaal van Arioon, die digter wat die meeste van sy tyd aan die hof van Periandros deurgemaak het, hoe hy nl. op ’n skip deur matrose aangeval en beroof is en slegs met sy lewe daarvan afgekom het deur hulle te soebat om vir oulaas agter op die skip te mag gaan staan en in sy volle digtersmondering met begeleiding van sy groot harp sy laaste lied te mag sing – en toe het hy so in die see ingespring, maar ’n dolfyn het hom op sy rug opgelaai en veilig aan wal gebring!
Die eintlike verhaal van die ontstaan van die tirannie in Korinthe kry ons in Boek V: “Die Korinthiërs het so ’n regering gehad: dit was ’n oligargie, die Bakchiadai genoem, wat die stad bestuur en met mekaar ondertrou het. Een van hierdie manne, Amphioon, het ’n gebreklike dogter gehad. Haar naam was Labda. Omdat nie een van die Bakchiadai met haar wou trou nie, neem Eëtioon, Echekrates se seun, van die deem” (d.w.s. distrik of wyk) “Petra, ’n nasaat van Kaineus die Lapithe, haar tot vrou; maar hy kon nie by hierdie vrou of by ’n ander kinders verwek nie.”
Hy gaan toe om die Orakel te Delphi oor ’n kroos te raadpleeg. Dadelik toe hy instap, begroet die Priesteres hom met hierdie woorde:
“Eëtioon, al verdien jy verering, wil niemand jou eer nie:
“Labda word swanger, ’n rollende rots sal sy baar, wat op manne,
“Heersers, sal neerdaal; hy sal kastyding besorg aan Korinthe.”
Hierdie orakelantwoord aan Eëtioon is op die een of ander manier aan die Bakchiadai bekend gemaak. Vir hulle was daardie vorige orakelantwoord ten opsigte van Korinthe betekenisloos. Dit het dieselfde strekking gehad as dié van Eëtioon en het so gelui:
“Swanger is dáár op die rotse ’n arend, ’n leeu word gebore,
“Rouvleisvretend en sterk sal hy baie se knieë nog slap maak.
“Wees dus gewaarsku, Korinthiërs, julle wat rondom die skone
“Peirénee woon, onder die fronsende Rots van Korinthe!”
“Ja, hierdie eerste orakelantwoord was vir die Bakchiadai onverstaanbaar, maar nadat hulle van dié aan Eëtioon verneem het, kon hulle dadelik begryp dat die eerste ook met Eëtioon s’n ooreenstem. Dit het hulle dan besef, en stilgebly, omdat hulle die kind wat vir Eëtioon gebore sou word, wou doodmaak. En dadelik nadat die vrou gebaar het, stuur hulle tien van hulleself na die deem toe, waarin Eëtioon gewoon het, om die kindjie te gaan vermoor. En hierdie manne het in Petra aangekom, Eëtioon se voorhuis binnegegaan en om die kindjie gevra. Omdat Labda niks geweet het van die rede waarom hulle gekom het nie en gedink het dat hulle uit vriendskap vir die vader vra, het sy die kindjie gebring en in die hande van een van hulle afgegee. Hulle het mos op pad besluit gehad dat die eerste van hulle wat die kindjie sou neem, hom op die grond moes verpletter. Maar toe Labda hom nou bring en gee, het die kindjie, soos die toeval dit wou hê, geglimlag vir die man wat hom geneem het, en toe dié dit sien, hou ’n skielike jammerte hom terug van dood te maak, en vol medelye gee hy om aan die tweede, en hy aan die derde. En so is hy aangegee en het hy deur al tien gegaan sonder dat een hom om die lewe gebring het. Hulle het die kindjie toe vir sy moeder teruggegee en na buite gegaan en voor die deur mekaar staan en aanval en beskuldig, en veral hom wat die kindjie eerste geneem het, omdat hy nie volgens hulle besluit gehandel het nie; totdat hulle ná ’n ruk besluit het om weer binne te gaan en almal aan die moord aandadig te wees.
“Maar dit was voorbestem dat daar uit Eëtioon se kroos ellende vir Korinthe moes ontspruit. Labda het vlak agter die deur al hierdie dinge staan en afluister. Bang dat hulle van besluit sou verander en die kindjie ’n tweede keer sou neem en doodmaak, vat sy hom en steek hom weg in ’n plek waaraan hulle na haar mening die minste sou kon dink, in ’n koringkis, omdat sy geweet het dat as hulle sou omdraai en aan die soek sou gaan, hulle bepaald alles sou deursnuffel. Dit het dan ook gebeur. Hulle het gekom en gesoek, maar toe hy nie gevind word nie, het hulle besluit om te vertrek en vir dié wat hulle gestuur het te sê dat hulle alles gedoen het wat aan hulle opgedra was.
“Nou ja, hulle het vertrek en dit gaan vertel; maar Eëtioon se seun het daarna grootgeword en omdat hy hierdie gevaar deur ’n koringkis ontvlug het, is die naam Kuupselos aan hom gegee. Toe hy ’n man geword het, het Kuupselos die Orakel te Delphi gaan raadpleeg en ’n dubbelsinnige antwoord gekry, waarin hy geglo het, Korinthe aangeval en verower het. Dit was die orakelantwoord:
“Welvaart wag op die man wat nou hier in my tempel in afdaal,
“Kuupselos, Eëtioon is sy vader, en vors van beroemde Korinthe
“Self sal hy wees en sy seuns, maar die seuns van sy seuns tog nie meer nie.”
Ja, dit was die orakelantwoord, en Kuupselos het tiran geword en so ’n man was hy toe: baie Korinthiërs het hy verban, baie het hy van hulle geld beroof en nog verreweg die meeste van hulle lewens.
“Nadat hy sowat dertig jaar geheers en sy lewe in welvaart afgesluit het, word sy seun Periandros sy opvolger in die tirannie. Wel, in die begin was Periandros sagsinniger as sy vader, maar nadat hy deur middel van boodskappers gesels het met Thrasuboelos, die tiran van Milete, het hy nog baie moorddadiger geword. Hy het mos ’n herout na Thrasuboelos gestuur en verneem op welke wyse hy sy sake die veiligste sou kon reël om op die beste manier oor sy stad te kan regeer. Thrasuboelos het die man wat van Periandros af gekom het buitekant die stad uitgeneem, ’n koringland binnegestap, en terwyl hy deur die land geloop en die herout uitgevra en weer uitgevra het waarom hy van Korinthe af gekom het, gedurigdeur waar hy ’n koringaar bo die ander sien uitsteek, dit afgebreek, afgebreek en neergegooi, totdat hy die mooiste en hoogste deel van die land op so ’n wyse verwoes het. En nadat hy deur die plek gestap het sonder om vir die herout ’n enkele woord as wenk te gee, stuur hy hom terug. Toe die herout in Korinthe terugkom, was Periandros gretig om die wenke te verneem. Maar hy het gesê dat Thrasuboelos hom geen wenk gegee het nie, en dat hy hom verbaas oor Periandros self, wat hom na ’n man gestuur het, wat so mal is dat hy sy eie goed verniel – en toe het hy vertel alles wat hy Thrasuboelos sien doen het.
“Maar Periandros het daardie gebaar verstaan en besef dat Thrasuboelos hom die wenk gegee het om die buitengewone manne in die stad te vermoor; en kyk, toe het hy alle vorme van wreedheid teenoor sy burgers openbaar. Alles wat Kuupselos nagelaat het om te vermoor en te verban, dit het Periandros voltooi; en op een dag het hy al die vroue van Korinthe laat uittrek vanweë sy eie vrou, Melissa. Hy het mos boodskappers na Thesprotia gestuur na die orakel by die Acheroonrivier waar die gestorwenes opgeroep word, in verband met een of ander pand van ’n vriend; maar toe Melissa verskyn, het sy gesê dat sy hom nie sal wys of vertel op watter plek die pand lê nie. Want, het sy gesê, sy kry koud en is nakend, omdat sy geen nut het van die klere wat hy saam met haar begrawe het nie, aangesien hulle nie verbrand is nie. Toe hierdie boodskap aan Periandros teruggebring is, het hy onmiddellik na die berig ’n bevel uitgevaardig dat al die vroue van Korinthe by die tempel van Hera moes opdaag. En kyk, hulle het met hulle mooiste klere soos na ’n fees gekom, maar hy het sy lyfwagte stilletjies daar opgestel gehad, hulle een en almal, vrygeborenes sowel as diensmeisies, laat uittrek, die klere op ’n hoop in ’n sloot laat gooi en met gebede tot Melissa laat verbrand. Nadat hy dit gedoen het en ’n tweede keer boodskappers gestuur het, het die skim van Melissa vir hom die plek aangewys waar sy die pand van sy vriend gesit het.”
Dit is al wat Herodotus ons daar vertel. Soos reeds gesê, kan ons uit ander bronne Herodotus se weergawe aanvul en verander. Maar die rusie tussen Periandros en Lukophroon word deur Herodotus breedvoerig vertel in Boek III van sy Geskiedenis: “Periandros het uit wraak die seuns van die vernaamste manne van Kerkura laat uitsoek en hulle na Sardis toe gestuur om ontman te word; want die manne van Kerkura het eerste daarmee begin deur ’n vermetele ding teenoor hom te doen. Nadat Periandros sy eie vrou, Melissa, vermoor het, het die volgende tweede ramp hom getref op die een wat plaasgevind het. Hy het twee seuns by Melissa gehad, die een sewentien en die ander agtien jaar oud. Hulle oupa aan moederskant, Prokles, die tiran van Epidauros, het hulle laat haal en in sy huis met liefde versorg, soos te verwagte was aangesien hulle sy eie dogter se kinders was. Maar toe hy hulle terugstuur, het hy, terwyl hy hulle groet, gesê: ‘Weet julle, seuns, wie julle moeder vermoor het?’ Die oudste van hulle het hom glad nie aan hierdie woorde gesteur nie; maar die jongste, wie se naam Lukophroon was, het so seer gekry toe hy dit hoor dat hy ná sy aankoms in Korinthe sy vader nie wou groet nie, aangesien hy die moordenaar van sy moeder was, en ook nie met hom wou praat nie toe hy met hom praat, of enkele woord op sy vrae wou antwoord nie. Uiteindelik word Periandros so woedend dat hy hom die huis uitjaag.
“Nadat hy hom uitgejaag het, vra hy sy oudste seun wat hulle oupa met hulle gesels het. Hy het vertel hoe vriendelik hulle ontvang is, maar daardie woorde wat Prokles vir hulle gesê het by hulle vertrek, het hy nie genoem nie, aangesien hy dit nie begryp het nie. Maar Periandros het gesê dat dit nooit anders kan wees nie as dat hy voor hulle op een of ander ding geskimp het, en hy het aanhou vra. Toe het hy onthou en dit ook vertel. En ook Periandros het dit begryp, en omdat hy geen toegeeflikheid wou toon nie, ’n boodskapper na daardie mense gestuur by wie die seun wat deur hom uitgejaag is, gaan woon het, en hulle verbied om hom in hulle huis te ontvang. En na watter ander huis hy ook al gegaan het, so dikwels as hy uitgejaag is, ook daarvandaan is hy uitgejaag, omdat Periandros dié wat hom ontvang het, gedreig en beveel het om hom uit te sluit. Hy het maar altyd na ’n ander huis van vriende gegaan, as hy uitgejaag word, en al was hulle bang vir Periandros, het hulle hom tog ontvang omdat hy sy seun was.
“Uiteindelik het Periandros ’n bevel uitgevaardig dat enigeen wat hom in sy huis sou ontvang of met hom sou praat, ’n heilige boete aan Apollo verskuldig sou wees, ’n bepaalde bedrag, wat dit ook was. Om hierdie rede was niemand toe mos bereid om met hom te praat of hom in die huis te ontvang nie. Daarby het hy self ook begin dink dat dit nie reg is om ’n verbode ding te probeer doen nie, en het hy probeer uithou en in die suilegalerye rondgeboer. Op die vierde dag het Periandros hom gesien, ongewas en vervalle en honger, en hom jammer gekry. Sy woede het afgekoel en hy het nader gegaan en gesê: ‘My seun, watter van hierdie twee dinge is die verkieslikste, om die lot te hê waarin jy nou verkeer, of om die heerskappy en die goeie dinge te hê wat ek nou het, om dit te kry as jy aan jou vader onderdanig is? Jy wat my seun is en koning van welvarende Korinthe, het ’n rondloper se lewe verkies omdat jy in jou woede hom weerstaan aan wie jy dit die minste behoort te gedoen het. As daar in daardie geval ’n ramp gebeur het, op grond waarvan jy teen my agterdogtig is, het dit my ook getref en word ek des te meer daardeur geraak in soverre as ek dit self gedoen het. Noudat jy geleer het hoeveel beter dit is om beny as bejammer te word, en ook hoe ’n vreeslike ding dit is om vir jou ouers en meerderes kwaad te wees, kom nou terug huis toe!’ Met hierdie woorde wou Periandros hom vang. Maar hy het sy vader geen ander antwoord gegee nie as om te sê dat hy nou ’n heilige boete aan die god verskuldig is omdat hy met hom kom praat het. En toe Periandros nou uitvind hoe onmoontlik sy seun se kwaad is en hoe onoorwinlik, stuur hy hom met ’n skip weg van sy oë af na Kerkura; want dit was ook binne sy ryk. Nadat Periandros hom weggestuur het, maak hy oorlog teen sy skoonvader, Prokles, as sou hy die meeste verantwoordelik wees vir die moeilikheid waarin hy hom bevind; en hy het Epidauros ingeneem, en Prokles self lewend gevange geneem.
“En toe, soos die tyd verbygegaan het, Periandros ook oud geword en vir homself erken het dat hy nie meer in staat is om sy sake te bestuur en te behartig nie, het hy na Kerkura gestuur om Lukophroon tot die tirannie terug te roep; want in sy oudste seun het hy dit glad nie gesien nie, en vir hom het hy te onnosel gelyk. Maar Lukophroon het die een wat die boodskap gebring het, nie eens ’n antwoord werd geag nie. Periandros was egter so geheg aan hom dat hy ’n tweede keer die jongman se suster, sy eie dogter na hom gestuur het, omdat hy gedink het dat hy vir haar die meeste sou luister. En toe het sy daar aangekom en gesê: ‘Ou seun, begeer jy dat die heerskappy op ander sal val en dat jou vader se huis geplunder sal word liewer as om terug te gaan en dit self te hê? Gaan terug huis toe, hou op om jouself te straf! Hoogmoed is ’n besitting wat ongeluk bring. Moenie kwaad met kwaad wil heel nie. Baie mense stel redelikheid bo geregtigheid, en baie het al deur hulle moeder se dinge te soek hulle vader s’n verloor. Heerskappy is ’n wankel besitting, en baie is daarop verlief; en hy is al ’n ou man en sy jare verby. Moenie jou eie goed aan ander gee nie!’ Ja, sy het die mees oortuigende dinge wat haar vader haar geleer het, vir hom gesê, maar hy het geantwoord en gesê dat hy nooit solank hy verneem dat sy vader nog lewe na Korinthe sou gaan nie. Nadat sy dit kom berig het, stuur Periandros die derde keer ’n herout om te sê dat hy gewillig is om self na Kerkura te gaan, maar hom beveel hy om na Korinthe te kom as sy opvolger in die tirannie. Toe die seun op hierdie voorwaardes instem, het Periandros hom gereed gemaak om na Kerkura te vertrek, en sy seun na Korinthe. Maar toe die manne van Kerkura al hierdie besonderhede uitgevind het, vermoor hulle die jongman, om te verhoed dat Periandros na hulle land toe sou kom. Hiervoor het Periandros wraak geneem op die manne van Kerkura.”
Dit is dan Herodotus se weergawe van hierdie beroemde Oud-Griekse huisgesin se geskiedenis. Dit was juis uit die lotgevalle van beroemde families dat die Griekse tragedieskrywers hulle stof gehaal het. Waarskynlik omdat Periandros se geskiedenis vir hulle te jonk was, en ook omdat hulle tot die mitologiese beperk was, het nie een Oud-Griekse dramaturg daaruit ’n tragedie gemaak nie. Daar bestaan ook, sover ek weet, in geen ander taal enige drama oor Periandros nie. Daardie prestasie is vir Afrikaans gelaat. Hierbo het ek probeer aantoon hoe getrou dr. Opperman sy Griekse bronne gevolg het; as iemand wil weet hoe deur en deur Afrikaans hierdie Periandros is, laat hy bv. maar net lees wat oupa Prokles van ’n digter dink of van ’n skoonseun wat rondloop! Dat die jongste spruit in die Westerse taalfamilie die eerste is om ’n drama oor ’n stuk geskiedenis uit die oudste lid daarvan te lewer, is die beste waarborg van albei se lewenskragtigheid.