Читать книгу 'n Hemelhoë hekkie - Douwleen Bredenhann - Страница 6

Die lewe glimlag

Оглавление

Geliefde kind,

Ek skommel ’n trommel vol Haai, onthou-jy?

en put uit jou menswees so lank reeds verby.

Daar’s soveel te sê, steeds gedrewe deur pyn,

maar ook jou uniekheid wat helder voortskyn.

28 Maart 2009

Liewe Liesl,

Vandag is die herdenking van jou geboortedag. In ’n ideale wêreld sou ons dit saam met jou rondom ’n koek met dertig kersies op gevier het. In stede daarvan stel ek oor die eters heen ’n heildronk in op jou, saamgestel uit die ryke skat van herinneringe wat jy nagelaat het.

Ek glo jy weet waaroor hierdie boek gaan. Hierin vertel ek van jou dood en die feitlik onbegonne proses om daarmee vrede te maak.

Maar daar was ’n tyd toe ons nooit met harte vol droefheid aan jou gedink het nie. Op ’n maand na was jy nege jaar lank elke dag bruisend deel van ons lewens, en jou bestaan ’n ligkol vol vreugde en baie lag.

By jou het ek baie geleer, reeds van voor jou geboorte af. Elke nuwe gewaarwording en mylpaal wat moeders ervaar deur middel van hul ongebore babas, het ek en jy saam bereik. En ons moes omtrént saamstaan en saamwerk in die Marifont in Pretoria sodat jy hierdie wêreld kon betree.

Soos die meeste mammas en pappas het ons ook jou vingers en toontjies getel en bekyk. Alles was volmaak. Jy het Pappa se tone gehad, en het seker gemaak dat ons jou handjies tussen duisende ander sou uitken: Jou linkerpinkie was effentjies krom, en aan die buitekante van albei pinkies het jy dieselfde klein knoppies gehad wat ek weer van ouma Rosaal geërf het.

Jy was ’n fyn baba met digte, donker haartjies wat al in die kraaminrigting ’n spoggerige draaikrul op jou kop gemaak het. Wanneer die oumas en oupas met besoektye agter die glas na die babas kom kyk het, was jy ’n paar maal die enigste een wat wakker was. Dan het die suster jou opgetel en het jy almal aangekyk met wyse ogies wat stadig knip. Die oumas het ge-oe en ge-aa oor jou terwyl hul eie kleinkinders onversteurd bly slaap het. Jou peetouers, Marieta en Jackie van Schalkwyk, het een aand net voor die einde van besoektyd die reëls oortree en ingesluip om ook te gaan loer. Net of jy spesiaal vir hulle gewag het, was jy kiertsregop die ene nuuskierigheid op die suster se arm. Sommer van kleins af het jy mense bekoor en gesorg dat jy genoeg aandag kry.

Ouma Rosaal en jy het onmiddellik ’n band gevorm tydens haar kuier. Die eerste klompie nagte tuis het jy so soet en stil geslaap dat sy partykeer gewonder het of alles nog wel was met jou. Dan het sy haar wang naby jou mondjie gehou totdat sy jou warm asempie liggies daarteen kon voel.

Ons het na ons eerste eie huisie in Faerie Glen getrek toe jy net ’n maand oud was. Die uitpakkery het kwalik begin, toe kom kuier ouma Rina, oupa Flip, Lauraine en Marinda al. Hulle kon net nie langer wag om met jou kennis te maak nie. Dit was ’n voorreg om spesiaal vir jou ’n kamer in die nuwe huis in te rig. Nie dat jy nou juis beïndruk was daarmee nie. Jy wou nie daar slaap nie. Om die waarheid te sê, wou jy nêrens slaap daardie eerste paar maande nie.

Toe jy twee maande oud was, het jy een aand op my bors gelê en slaap. Dit was een van die min maniere waarop ons wel flentertjies slaap kon inpas. Ek het wakker geword van ’n smakkende suigaksie naby my gesig. Jou gulsige bekkie het my neuspunt beetgekry en hard en lustig melk daaruit probeer forseer!

Ten spyte van jou melkallergie en die slaapdramas het jy goed gegroei. Wanneer ons inkopies gedoen het in die Hyperama, het mense my dikwels gestop om seker te maak die slapende baba in die stootwaentjie is nie dalk ’n pop nie.

As jonggetroudes met ’n nuwe huis was ons geld maar skraps, maar jy het drie deftige uitgaanrokkies vir spesiale geleenthede gehad. Niks minder as een van daardie rokkies was goed genoeg toe ek jou die eerste maal by my vorige werkplek gaan wys het nie. Dit was omtrent ’n optog in die middestad met die hele pakkaas van die parkeerplek tot by die Departement van Statistiek.

Een van my kollegas daar, Lorraine du Pré, was absoluut gek oor jou. Sy het aangebied om een aand na jou te kyk terwyl ek en Pappa ons grootmensbatterye gaan herlaai het in ’n restaurant. Jy was toe darem al vyf maande oud en ons het geweet jy was in die beste sorg, maar ons kon net nie ontspan nie. Pleks daarvan dat ons die beste gemaak het van die kos en die skaars alleentyd saam, het ons heeltyd gewonder of jy ons nie te veel mis nie. Natuurlik was jy piekfyn; óns het al die verlangwerk gedoen.

Ma’s is mos hierdie moederhenne wat glo die beste plek vir hul kuikens is veilig teen die moederlyf aangenestel. Soms het ek my verniet bekommer oor kleinighede, ander kere was daar wel rede om bekommerd te wees. Partymaal het ek taamlik paniekbevange met jou van Faerie Glen af ingejaag stad toe wanneer jou koors gevaarlik hoog was en dit nie wou afkom nie. Sodra ons dan voet in die spreekkamer sit, was daar geen teken van koors nie en het jy blakend gesond gelyk. Tipiese babagedrag.

Toe jy agttien maande oud was, het Pappa se universiteitskamermaat, Eljo Smit, vir ons sy jong bruid kom wys. Denice was ’n paar jaar jonger as ons en sy het my mateloos beïndruk met haar goeie aanvoeling vir klein kinders. Sy het amper haar vingers velaf gebrei aan die groen dungaree-langbroekie wat ’n spesiale geskenk vir jou was.

Eljo en Denice is nou nog van ons heel naaste vriende. Sy is ’n groot hondeliefhebber en het deur die jare gewoonlik meer as een hondekind gehad. Ek dink dikwels terug aan ons Gordonsbaai-vakansie in 1987, toe jy jou so geskaam het vir ’n opmerking wat Stephanie gemaak het. Dit was ’n paar jaar voor die geboorte van hul seun Charl. Ons was op pad terug na ons vakansie-chalet na ’n kuier by hulle in Somerset-Wes. In die motor het julle gewonder waarom Denice en Eljo nie kinders het nie, en Stephanie het met die wysheid van ’n vyfjarige vertroulik vir jou gefluister: “Lyk my tannie Denice kan net honde verwag.” Vir ’n oomblik was dit tjoepstil. Ek het geamuseerd na Pappa geloer en gewonder of ek moet help verduidelik. Dit was nie nodig nie, jy het jou oë gerol en kopskuddend geantwoord: “Dit werk nie so nie, Stephanie; ménsvrouens kan nie hónde verwag nie!”

Jy het redelik vroeg begin praat en ’n “l” klank aan die einde van ’n woord uitgespreek as “ou”. ’n Borsel was vir jou dus ’n “borsou”, en jy het jouself “Liesou” genoem. My naam het jy vereenvoudig na “Dôlien.” Eintlik het jy ’n hele titel vir my gehad: “Die ma Dôlien.”

In daardie jare het kinders nie ontwerper-verjaardagpartytjies gehad soos deesdae nie, en ma’s het meestal self die verjaardagkoek vir die partytjie gebak. Ek het my bes probeer om al die gewilde soorte koeke vir jou te bak, met wisselende mate van sukses. Die popkoek, feetjiekoek, treintjiekoek en ’n paar ander het heel goed uitgekom, maar die een wat my die meeste hoofbrekens besorg het, was die ma-eend en kuikens vir jou tweede verjaardag. Al drie moes regop staangemaak word met behulp van tonne “versiersuikergom” wat veronderstel was om na ’n ruk te verhard. Dit was baie warm en niks van die aard het gebeur nie. Die botter in die versiersuiker het olierig gebly en daardie dekselse ma-eend het bly omval, wát ook al ek probeer doen het. Dwarsdeur die nag het ek tevergeefs gesukkel met die eendema wat net wou lê. Teen 05:00 moes ek my van haar wegskeur, anders het sy sekerlik in die asblik beland. Kort voor die maatjies die middag sou opdaag, probeer ek toe ’n laaste keer, en daar staan sy jou waarlik toe lank genoeg dat ons kon foto’s neem en jy die kersies doodblaas.

As jong baba en kleuter het jy ’n paar spesiale maatjies gehad. Hulle was die kinders van skool-, universiteits- en weermagvriende met wie ons oor die jare heen nog gereelde kontak het. Jou heel eerste maatjie in Pretoria was Danie, die seuntjie van Pieter en Marna Struwig. Hy was drie weke jonger as jy en ek en Marna het saam gewag op die koms van ons eerstelinge.

Tot ons groot vreugde het hulle ook later na Kathu getrek. Hul familie het toe reeds uitgebrei en nog ’n boetie en sussie, Franz en Anita, ingesluit.

Kathu was ’n wonderlike dorp om kinders in groot te maak. Dit was ’n jong myndorp en daar was nie juis sprake van vermaak of ander dinge om kinders mee besig te hou nie. Jong gesinne was baie aangewese op mekaar en ons het dikwels oor en weer gekuier. In die proses is hegte vriendskappe gevorm. Marieta en Jackie van Schalkwyk en hul klein Francois het ook ’n ruk daar kom woon, en later ook Elsa en Hennie Spreeth met hul krulkopdogtertjie, Elyssa.

Ek en Elsa was saam op skool en het ’n ruk saam kuns studeer. Een Sondagmiddag het hulle by ons gekuier. Dit was warm en jy en Elyssa het met swembroekies aan deur die sproeier se water gehardloop. Jy was altyd so rats en grasieus, en dit het Hennie daardie middag opgeval. Hy het gesê: “Sy is pragtig. Daardie beentjies van haar is gebou vir sport. Kyk mooi, sy gaan nog eendag Mej. Suid-Afrika word.”

Daar was beslis nie ’n tekort aan maatjies nie. Buurseuntjie Deon was ’n eersteklas beplanner van kattekwaad en kon sy saggeaarde ma se geduld behoorlik beproef. Ek weet nie wat julle daardie dag by hul huis met die koekmeelblom aangevang het nie, ek was net ooggetuie van julle twee wat oortrek van meel uitgestorm het met Deon se ma al protesterende agterna.

’n Kosbare herinnering is die keer toe jy saam met Danie en Franz Struwig “Jesus min my salig lot” by hul huis gesing het. Marna het julle op die klavier begelei, en julle het met oorgawe gesing. Al drie van julle het klokhelder, suiwer stemmetjies gehad. Die twee seuns het vreeslik ernstig en met die grootste onskuld gesing “al is ek ook swart en blink”, in plaas van “al is ek ook swak en blind”. Dit was hoe die woorde vir hulle geklink het.

Danie het later in die Drakensberg Seunskoor gesing, en jy in Kimberley se voorskoolse Kokkewiete Stadskoortjie en die laerskoolkoor.

Vandag is Danie ’n akteur en ’n voormalige storieskrywer van Binnelanders, ’n hospitaalreeks op televisie. Franz bedryf ’n IT-besigheid, Elyssa is ’n begaafde elektriese ingenieur en Francois is oorsee besig met ’n doktorsgraad in Kwantumfisika.

Ek wonder dikwels watter beroep jy sou gekies het. Reeds van ’n jong ouderdom af het jy meganiese aanleg getoon en was nuuskierig om te sien hoe dinge werk. Jy kon nog skaars loop, toe het jy al balpuntpenne uitmekaargehaal en die dele sonder enige hulp weer netjies aanmekaargesit. Pappa het gereeld ’n toeskouertjie gehad wanneer hy met sy gereedskap aan iets gewerk het.

’n Insident een Sondagmiddag toe jy drie was, het bevestig dat jy dringend jou eie swaai moes kry. Ons het ’n middagslapie geniet en jy het voor ons wakker geword. Verveeld met jouself het jy op ’n stoel geklim, die voordeur oopgesluit en die pad gevat op soek na ’n parkie om te gaan swaai. Op pad het jy by die kafee uitgekom, jouself aan ’n paar eetgoedjies gehelp en verder gestap. Rasend van bekommernis het ek en Pappa jou begin soek. Die eienaar van die kafee het beduie in watter rigting jy geloop het, en ons het jou ’n paar huise verder opgespoor waar jy energiek besig was om te swaai in wildvreemde mense se erf. Hul twaalfjarige dogter het jou gestoot en geselskap gehou.

Pappa het entoesiasties aan die werk gespring en ’n groot tweesitplek-swaai aanmekaar gesweis uit verskillende lengtes staal. Dit was ’n groot projek en jy het hom dae lank geduldig geselskap gehou terwyl hy daarmee besig was. Toe dit uiteindelik klaar was, het jy hoog en onbevange geswaai en jou genot uitbundig uitgeskater. Daardie swaai was een van die groot plesiere in jou lewe en moes net later saam trek Kimberley toe.

Met groot selfvertroue en die wil om te slaag, het jy nuwe dinge aangepak en uitgetoets. Pappa het twee of drie keer jou fietsie agter vasgehou terwyl jy leer fietsry het, en daarna het jy jouself verder geleer. Elke dag het jy opgeklim en geoefen totdat jy perfek kon ry. Vir spoed was jy ook nie bang nie. Ons het ons lam geskrik die dag toe jy op die sypaadjie met jou BMX-fiets in die boom vasgejaag het, maar jy was meer bekommerd oor die fiets as oor jouself.

Stephanie het ’n ware ousus in jou gehad. Jy het haar allerhande dinge geleer en haar beskerm wanneer dit nodig was. Vanaf die eerste ontmoeting met haar as ’n pasgebore baba, was jy gefassineer deur die sussie wat met opgetrekte paddabeentjies gelê en slaap het. In haar wêreldjie was jy maar altyd daar. Talle kere het jy getroos wanneer sy seergekry en gehuil het. Badtyd was eerstens vir julle prima saamspeeltyd. Om skoon te kom was ’n bysaak wat so tussen die pret deur moes plaasvind.

Voor bedtyd het ek of Pappa julle Bybelstorie gelees waarna ons gebid en dankie gesê het vir die oorvloed aan goeie dinge in ons lewens. Die beddens in jul kamer was in ’n L-vorm geskuif sodat jul koppe na aan mekaar kon wees deur die nag. Menige aand het ek die slapende sussies met my oë geliefkoos en elke dierbare detail van julle in my geheue opgeteken.

Toe Stephanie op ongeveer agttien maande die inkennige stadium bereik, was jy só verleë wanneer sy niks wou weet van ouma Rosaal of oupa Jurie nie. “Sussie, dis Óúma-hulle, man,” het jy haar soms ongeduldig berispe.

Nadat ons ouma Rina se oorgeërfde hondjie weens ouderdom moes laat uitsit, wou jy en Stephanie ’n babahondjie hê om self groot te maak. Ons is Dierebeskermingsvereniging toe om een te gaan uitsoek. Die plan was om na ’n verskeidenheid hondjies te kyk en daaruit een met ’n goeie geaardheid te kies. Milky, ’n taamlik onopregte wit brakkie, het spelenderwys heel eerste verby ons geparadeer. Julle twee was onmiddellik verlief op hom. “Daai enetjie, Mamma, kan ons hom kry, asseblief?” het julle gesoebat.

Dit was die begin van ’n sonderlinge verhouding tussen jou en Milky. Hy het jou as sy leier gesien en geen geheim daarvan gemaak dat jy sy gunstelinglid van die gesin was nie. Selfs met sy toiletopleiding het jy jou kant gebring. Ek sien nog hoe jy met die skoppie al agter hom aan hardloop om slagystertjies te onderskep voordat dit die matte tref.

Milky het gemengde gevoelens oor julle twee se baljaardery by die swembad gehad. Hy was mal daaroor om jou op en af te jaag wanneer jy vryslag geswem het, maar het niks daarvan gehou wanneer jy lang ente onder water geswem het nadat jy ingeduik het nie. Dan het hy angstig geblaf en nie geweet waar om te begin met die soektog na jou nie.

Party kinders pas nie goed aan in nuwe omstandighede en situasies nie, ander doen dit weer sonder enige probleme. Reeds by die eerste crèche in Pretoria het ons ’n voorsmaak gekry van jou aanpasbaarheid en selfstandigheid. Ons was so bekommerd daaroor dat dit vir jou te ontwrigtend sou wees, dat ek ’n pos aanvaar het by een van die kleuterskoolklassies. Die realiteit was dat jy reg van die begin af geblom het, maar ek gou verwelk het onder die veeleisende aanslag van ’n groot groep kleuters.

In Kathu wou jy baie graag kleuterskool toe gaan, maar daar was slegs een skooltjie, wat deur die Gereformeerde Kerk bedryf is. Die toelatingsouderdom was drie jaar, en jy was te jonk. Jy het letterlik die laaste paar dae voor jou derde verjaardag afgetel. Ná die eerste dag daar was jy glad nie lus om huis toe te gaan nie. Jy het seker gedink dit was net ’n een-dag-lekkerte wat nie herhaal sou word nie.

Later het jy net so vinnig aangepas in die Speelgoedland kleuter- en preprimêre skool in Kimberley. Teen die tyd dat jy met graad 1 begin het in Laerskool Staatspresident Swart, was jy al ’n ervare skoliertjie. Die splinternuwe liggrys-en-rooi skooluniform was darem ’n nuwigheid. En het jy nie trots en pragtig gelyk daarin nie.

Juffrou Louise was nuut aangestel in haar eerste pos as onderwyseres, maar sy het ’n volwassenheid ver meer as haar jare openbaar. Sy het gou agtergekom dat jy ’n sosiale kind was wat maklik weggevoer kon word deur woorde; jou eie en dié van ander. Elke nou en dan was daar ’n boodskappie met min of meer die volgende strekking in een van jou skoolboeke: “Mooi, hou so aan, jy moet net ’n bietjie minder praat in die klas!” Op die eerste oueraand van die jaar het sy gesê dat ek en jy baie na mekaar lyk en feitlik identiese kopbewegings uitvoer wanneer ons praat of aandagtig luister. Dit was vir my interessante nuus en ’n aangename verrassing. Ek het altyd gedink dat jy meer na Pappa se familie lyk.

Jy het geen kosfiemies gehad nie en kon heerlik smul aan smaaklike kos. Ek dink jy wou vergoed vir die beperkte dieet in jou babadae nadat ’n allergie vir melk by jou gediagnoseer is. Suiker in enige vorm was ook eers taboe. Jou voedings het vir ’n paar maande bestaan uit ingedampte sojamelk gemeng met rooibostee en Ouma Meelbol-pap. Daardie mengsel was regtig sleg en voor die eerste voeding was ek oortuig daarvan dat jy dit nie gaan drink nie. Gelukkig was ek verkeerd. Jy het so gulsig daaraan gesluk dat ’n mens sou dink dit is die lekkerste melkformule ter wêreld. Dit het uitstekend met jou geakkordeer en rustige nagte vir ons almal verseker.

Ongelukkig was die blikkies melk peperduur en partykeer onverkrygbaar. Ons maandelikse kosbegroting moes drasties hersien word. Op ’n dag het Pappa stralend van tevredenheid van die Hyperama af teruggekom met die Volksie vol blikkies melk gelaai. Die melk was halfprys gemerk en ons het daarna nie weer nodig gehad om dit aan te vul nie. Ons eie rieme moes papierdun gesny word, maar ons kind het kos gehad vir nagenoeg ’n hele jaar!

Oor twaalf maande het ons jou volgens instruksies geleidelik gedesensiteer vir melk. Daarna kon jy sonder enige nadelige gevolge volsterkte-koeimelk en suiker inneem.

As kleuter het jy ’n voorliefde ontwikkel vir verskeie kossoorte wat nie normaalweg gewild is onder jong kinders nie. Jou eerste kennismaking met swart olywe was ietwat verstommend. Jy het olywe in my bord gesien en gesê: “Ek wil ook van daardie druiwe hê.” Al die verduidelikings dat dit nié druiwe was nie, het op dowe ore geval, en ek het jou aan een laat proe. Tot ons verbasing het jy dit stukkie vir stukkie verorber en nog gevra. Sampioene, groen soetrissies en aspersies het jy net so maklik leer eet.

Aan klere het jy jou nog nie veel gesteur nie. Ek het heelwat van jou en Stephanie se klere self gemaak. Solank dit gemaklik gepas het, was jy eintlik met enigiets tevrede. Kort voor jou dood kon ek tog agterkom dat jy meer bewus geraak het van klere en die rol wat dit in ’n meisie se voorkoms speel. Pappa het ’n nuwe kamera gekry en jy was heel gewillig om in verskillende uitrustings model te speel vir foto’s. Die meeste van jou maats het boots gehad, en jy het gevra of ons vir jou ook ’n paar kon kry vir die winter. “Natuurlik, maar ’n meisie met boots moet ook ’n paar mooi rompies hê om daarby te dra. Ons sal in die vakansie romppatrone moet gaan soek,” het ek gesê.

Pappa onthou met heimwee hoe jy hom namiddae na werk met blink ogies tegemoetgehardloop het. Na jou standaardgroet van “Hallo, Pappa!” het nuuskierigheid gewoonlik oorgeneem. Dan het jy ongemerk probeer loer of hy nie iets lekkers vir jou en Stephanie gehad het nie. Smarties was jou gunsteling, en amper sonder uitsondering was daar elke middag vir jou ’n boksie daarvan.

Van my heel mooiste herinneringe is van jou in balletklere, besig om jou passies te oefen onder die wakende oog van Valerie Begbie. Sy was baie streng en het nie ouers of ander toeskouers in haar klasse geduld nie. Ons balletma’s het ons eie planne gemaak en partykeer deur piepklein skrefies en gaatjies geloer vir ’n vlietende blik op waarmee julle besig was. Ook by die balleteksamens moes ons tevrede wees met skramse flitse van ons talentvolle kinders. Dit was goeie dae vol beloftes van wonderlike tye wat vir julle as jong dogters en ballerinas voorgelê het.

Jy het met oorgawe geleef, gekoester deur jou gesin, familie en vriende. Ongelukkig kon ons geheuebank nie verder ontwikkel nie, want jou sandjies het voortydig uitgeloop. Maar jy dans steeds – in my verbeelding, my hart en die binnewerke van my siel.

Vandag verstaan ek waarom jy so vreesloos was as ’n kleuter. Jy het al daardie dapperheid nodig gehad toe jy ons vooruit gegaan het.

Ons liefde vir jou strek verby die grense van dood, skeiding en tyd. Dit is nimmereindigend.

Die ma Dôlien

Ek en Steph Bredenhann het mekaar aan die begin van die 1974-Junie-vakansie op Stellenbosch se stasie ontmoet. Dit het so erg gereën dat die 23:00-trein eers 06:00 die volgende oggend aangekom het. Ons klomp studente in die oop wagkamer was teen daardie tyd so te sê verys. Net voordat die trein uiteindelik toe aankom, het ’n baie vriendelike jongman my ’n warm plekkie in sy slaapsak aangebied. Ek het dankbaar ingekruip terwyl die engel vir ons koffie gaan kry het. Twee jaar later is ons getroud, elf dae na die laaste eksamenvraestel van my finale jaar.

Die koms van ons eersteling in Pretoria was vir my en Steph ’n groot gebeurtenis. Ons was albei 25 en ver weg van ons onderskeie families en ondersteuningsnetwerke in die Noord-Kaap.

Drie maande voor Liesl se geboorte het ek van ginekoloog verander om hoofsaaklik drie redes. Ek het spesiaal gevoel terwyl ek my eerste kind verwag, en het gehoop die dokter sou my ook so laat voel. Hy het nie. Elke keer wanneer ek ’n vraag vra, het hy kortaf geantwoord: “Mevrou, jy is nie die heel eerste vrou in die wêreld wat geboorte gaan gee nie. Jy is net een van miljoene dwarsoor die aardbol.” Verder moes ek klokslag met elke afspraak twee uur in die wagkamer deurbring en agterna my lang afwesigheid by my werkplek gaan verduidelik. Die laaste strooi was toe die ginekoloog my ewe saaklik inlig dat hy met die bevalling waarskynlik met vakansie gaan wees, en ’n vennoot dan vir hom sal instaan.

Ek moes toe uitvind dat ginekoloë nie sommer nuwe pasiënte aanvaar in die laaste trimester van swangerskap nie. So beland ek in daardie laat stadium toe weer by ons huisdokter. Hy het sy bes gedoen, maar daar was komplikasies met die geboorte. Uiteindelik is ons baba op 28 Maart 1979 na ’n stryd van sewentien uur gebore, met die gesiggie na bo. Sy het 2,480 kg geweeg, en die blou, klein dogtertjiemens was so uitgeput van al die gespartel dat sy feitlik al haar Apgar-toetse gedruip het. Maar sy was ’n klein vegtertjie en sommer die volgende dag reeds uit die broeikas. Na vyf dae is ons ontslaan.

Steph het kruipend stadig huis toe gery met my en ons kosbare vraggie. Hy het kort-kort met blink oë na die baba op my skoot geloer en ek moes hom meer as een keer vermaan om op die besige pad te konsentreer. By die woonstel het my ma ons ingewag. Sy het vir twee weke kom kuier en haar hulp was van onskatbare waarde. So te sê alles wat ek van babagrootmaak moes weet, het ek in daardie paar weke by haar geleer.

Die eerste paar maande het baie tandekners ingesluit. Liesl was ’n uitsonderlike mooi baba, maar ook ’n besonder huilerige een. Sy het geleidelik al hoe meer begin huil, en later het ek en sy gemiddeld slegs twee uur per nag geslaap. Besoeke aan die huisdokter en kinderarts het niks meer opgelewer nie as die gebruiklike koliekstropies tesame met kwalik bedekte beskuldigings dat ek my eie stres op my baba oordra.

Ek het soos ’n zombie gefunksioneer en Liesl was skaars agt maande oud toe ek tot my ontsteltenis agterkom daar was nog ’n baba op pad. Daardie swangerskap het vroeg reeds in ’n miskraam geëindig en baie gemengde gevoelens by my veroorsaak. Die fetus was misvormd en het spontaan aborteer. Die dokter het aan my verduidelik dat dit die natuur se manier was om ontslae te raak van ’n onvolmaakte produk. Hoewel ek beslis nie gereed was vir die verantwoordelikheid van nog ’n kind nie, het die gepaardgaande emosionele trauma diep letsels gelaat.

Daardie nag in die Little Company of Mary Hospitaal het ek my vrylik oorgegee aan my vol gemoed. Ek het gehuil omdat die dokter vermoed het dit was ’n seuntjie-fetus, gehuil omdat ek so uitgeput was van die maande lange min slaap, gehuil omdat ek geweet het hoe sukkel Steph seker met ons skreebekkie by die huis, en ek het gehuil omdat ek soos ’n volslae mislukking gevoel het.

Liesl was nege maande oud toe die dokters uiteindelik vasstel dat sy melk-intolerant was. Met die nuwe dieet het sy na ’n paar aande begin deurslaap. Dit was ongelooflik! Ons drie se lewens het letterlik soos handomkeer verander.

In Maart 1980 het Steph ’n pos in Kathu in die Noord-Kaap aanvaar, en ons het op Liesl se eerste verjaardag daarheen verhuis. Dit was naby ons familie en ons het vinnig aangepas.

Liesl was ’n gelukkige en opgewekte tweejarige peuter toe die lus vir gebakte vis met báie suurlemoensap my een aand weer oorval. Dit was een van my geliefkoosde “belustings” gedurende vorige swangerskappe, en ek was inderdaad weer swanger. Nadat ek vroeg reeds probleme ondervind het, wou die dokter geen kanse waag nie en ek is per ambulans Kimberley toe vir die insit van ’n Shirodkar-steek in die baarmoeder. Dit het letterlik die baarmoedermond toegehou sodat die baba nie kon uitval nie. ’n Sonar-ondersoek het opwindende bykomende nuus opgelewer: Daar was ’n tweeling op pad vir ons.

Terug in Kathu moes ek by ’n hele stel reëls hou om te verseker dat alles verder goed verloop, maar dit was nie so bestem nie. Op twaalf weke was al die tekens van ’n miskraam daar, maar die Shirodkar-steek het dit verhoed. Inderhaas moes ek teruggaan Kimberley toe vir nog ’n sonar. Dit het slegte nuus gebring. Die fetusse het gesterf omdat albei vrugsakkies ophou groei en gedisintegreer het. Ons is verdwaas terug huis toe en ek het ernstig begin wonder wat presies alles skeefgeloop het binne my liggaam met Liesl se geboorte.

Ek het ’n diepgaande gevoel van leegheid en verlies ondervind, maar kon nie met iemand daaroor praat nie. Steph was baie ondersteunend, maar te naby aan my en ek wou hom nie met negatiewe gedagtes belas nie. Hy het sy pyn in sy werk uitgestort. In daardie tyd het ek begin besef dat mans en vroue hartseer verskillend verwerk. Op ons dorpie was daar nie sielkundiges nie, ek het ’n bedrywige eersteling gehad om te versorg, en het meer as een vriendin gehad wat probleme ondervind het om swanger te raak. Op ’n dag het een van daardie vriendinne aan my gesê om eerder te konsentreer op dit waarvoor ek dankbaar kan wees, onder meer dat ons minstens nie ’n struikelblok ten opsigte van vrugbaarheid gehad het nie. Ek het so skuldig gevoel daaroor dat ek my summier enige verdere gevoelens van rou oor die verlore tweeling ontsê het.

Ons het voortgegaan met ons lewens en in Desember 1982 is ons tweede dogtertjie sonder enige noemenswaardige probleme gebore. Sy was ook ’n pragtige donkerkoppie met digte swart hare en het net soos haar pa gelyk. Stephanie was ’n baie gepaste naam vir haar.

’n Nuwe loopbaanskuif het ons in 1983 na Kimberley geneem. Dit het goed gegaan met ons daar en vir die volgende paar jaar was ons werklik geseënd. Ons het die gelukkige eienaars van ’n gerieflike huis met ’n swembad geword, ons kinders was pragtig, slim en gesond, ek en Steph het albei goeie poste by Kimberley Stadsraad beklee en ons was aktief betrokke by ons kerk. Hoewel ek baie gelukkig was by die Stadsraad, is ek in 1986 ’n pos as lektrise aangebied by die Perseverance Onderwyskollege. Dit het beteken dat ek namiddae teen 15:00 klaar gewerk was en skoolvakansies saam met ons dogters by die huis kon wees.

Liesl het begin skoolgaan en het haar vroeg reeds onderskei op akademiese en sportgebied. Sy het pryse ontvang aan die einde van haar gr. 1- en 2-skooljaar en in die skoolkoor gesing. Sy was ’n talentvolle atleet, tennisspeler en swemmer en besig om in ’n balletdanser van formaat te ontpop. Ons was stellig in die oë van sommige mense min of meer ’n modelgesin.

Vir die eerste paar weke van die Desembervakansie van 1987 was ons by die Hendonpark Vakansieoord in Gordonsbaai. Daarna is ons vir Kersfees na die plaas van Dewald en Jurette Steyn naby Gerdau in Noordwes.

Die tyd by die see was heerlik. Die weer was onverbeterlik en van Gordonsbaai se berugte Desemberwind was daar min te siene. Ons sou nooit kon raai dat dit ons heel laaste vakansie saam met Liesl sou wees nie.

Daar het wel op ons laaste middag daar iets gebeur wat baie eienaardig was. Ek en Steph het in die motor voor ons chalet gesit en gesels oor die pas afgelope seevakansie waarna ons soveel uitgesien het. Die radio was aan op ’n sender met pragtige klassieke musiek.

Uit die bloute het ’n verskriklike weemoed my oorval, en ek het ’n benouende drukking in my borskas ondervind. My hele lyf het hoendervleis uitgeslaan en op daardie oomblik was ek oortuig daarvan dat ek binnekort gaan sterf. Ek het na Steph gekyk en gevra dat, indien ek iets sou oorkom, daardie musiek asseblief op my begrafnis gespeel moes word. Dit was ’n byna heilige oomblik, en ons het dit nie ongemaklik probeer wegpraat of onmiddellik uit ons gedagtes gesit soos ’n mens eerder sou wou doen nie. Hy het instemmend geknik en ons het angstig in mekaar se oë gestaar.

Die volgende dag was ek baie senuweeagtig tydens die lang rit Noordwes toe. Ek het kort-kort stilweg gebid dat ons veilig moet ry en my lewe nie iewers op daardie pad sal eindig nie. Ons het gelukkig baie voorspoedig gery en nadat ons veilig op die plaas aangekom het, het ek myself wysgemaak dat ek seker maar net uitermate gestres was oor die lang terugtog op die besige paaie. Halfverleë oor my melodramatiese optrede van die vorige dag het ek dit ferm uit my gedagtes verban.

Ek is die tweede jongste van vier susters, waarvan Jurette die jongste sussie is. Sy het ons ander drie susters se gesinne en ons ouers vir Kersfees genooi omdat ons baie lanklaas almal bymekaar was. Dit was ’n heerlike voorreg om so saam te kon kuier. Meer as een persoon het gedurende daardie paar dae op die plaas opgemerk dat Liesl besig was om vinnig groot te word en te ontwikkel. Oor drie maande sou sy nege word; die halfpadmerk van haar kinderjare voordat sy die huis sou verlaat om te gaan studeer.

Die oggend toe almal begin groet, het my ma op die nippertjie daarop aangedring dat ’n paar groepfoto’s geneem moes word. “Miskien is ons nooit weer almal so bymekaar nie,” het sy gesê.

Hoe profeties sou daardie woorde skaars twee maande later blyk te wees.

'n Hemelhoë hekkie

Подняться наверх