Читать книгу Honger reisiger - Dr Marie Heese - Страница 6

Gewaarborgde haas

Оглавление

(Kanaal du Midi, Suid-Frankryk)


Meermale in my lewe het ek “ja” gesê toe “nee” tot heelwat minder ergernis sou gelei het. So beland ons op ’n bark in Suid-Frankryk saam met ses vrinne. Almal het foto’s gesien van die kanaal wat glimglad tussen lowergroen bome kronkel, en droom van rustige samesyn met ’n glasie sjampanje op die agterdek.

Spreek af om mekaar in Montpellier te ontmoet. Ek en Chris is eerste daar. So teen 15:00 stap ons in by ons hotel. Die ontvangsdame sê ons vriende kom eers om 21:00 aan vanaf Parys. Ons dink hulle sal moeg en honger wees en besluit om voorraad te gaan koop om in die kamer te eet.

Makliker gedink as gedaan, want ons het nie ’n motor nie en dit reën. Maar ons sien ’n groot supermarché redelik naby wink en stap moedig uit. Soheentoe per pad is maklik. Ons koop drie sakke vol goodies: vars plaasham, lang brode, kaas, eiers, heuning plus ses literbottels soda en ’n sak appels. En twee gewaarborgde hase (volgens ’n etiket aan die agterpoot). Definitief nie katte nie, ek is so bly. Ons gaan kookbeurte maak op die bark, en dis ons beurt eerste. Vriendin Louise het gesorg vir voorraad op die bark, maar sy sal seker nie hase bestel het nie.

Nou reën dit eers en Chris besluit om kortpad te kies oor ’n oop stuk grond (geel klei). Un grand faux pas. (Dis Frans vir ’n groot fokkop.) Dit is nie, soos in Suid-Afrika waar ons gebou het, heaving clay nie, dis sucking clay. Dit suie aan ons skoene vas. Ons het albei egter ons hande vol en dit neuk. Chris se skoene is vas met veters en hy kom anderkant uit met skoene en al, hoewel 10 cm langer as normaal. Self verloor ek al twee skoene en moet ek dus die inkopies alles na een hand toe oorskuif – ham, brood, eiers, en hoekom de hel het ek appels gekoop, sodat ek my skoene, nou elk 2 kg swaarder as normaal, met die ander hand kan red.

Ons sluip verby ontvangs en Chris maak ons skoene skoon – gelukkig het ons ’n Zim en ’n koekie Sunlight saamgebring. Die klei is presies die kleur van babastront. Ná Chris se arbeid is die skoene skoon, hoewel sopnat, maar die bad, wasbak, badmat en gangmuur lyk asof iemand ’n baie siek baba aan die voete rondgeswaai het. Nou moet ek die badkamer skoon kry.

Die vrinne arriveer laat, taamlik uitgeput, en smul dankbaar aan al die kos. Na alles is ek bly ek het die appels gekoop. Almal slaap asof ná drie slaappille. Hase oornag in yskas. Die volgende oggend kry ons die bark by Argens en ene Eric neem ons deur ’n uiters beperkte opleidingskursus. Vriend Mike is egter spoedig net so bekwaam soos die SAL se regstellende-aksie-bemanning en ons vaar by die hawe uit. Buurvrou by vasmeerplek hoogs verontwaardig omdat ons haar stamp – liggies. Ons is verby voor ek “Nous sommes des débutantes” (Ons is beginners) uitkry. Verniet geoefen! Ek het gedink dit gaan langer duur voor ons iemand stamp.

Die Kanaal du Midi is ’n ingenieurswonderwerk wat die Middellandse See met die Atlantiese Oseaan verbind; ontwerp deur Pierre-Paul Riquet in die sewentiende eeu onder Lodewyk XIV. Dit het gekos visie, geld, koppigheid, 12 000 dambouers, 15 jaar en honderde vroue se voete – hulle’t grond in mandjies aangedra vir die massiewe reservoir. Omdat die terrein ongelyk is, is daar 103 sluise, plus brûe en tonnels.

Ons ontdek sluise is nie vir sissies nie. Laai eers twee manskappe (A en B) af wat die regte knoppie moet druk by outomatiese sluise (party het sluisbase), en dan moet reg staan om toue te vang. Die boot vaar in as die voorste hek oopgaan en die watervlakke gelyk is. Binne luier die enjin en die manskappe moet die boot teen die wal vashou met toue. Jy wil nie a) teen die hekke of walle stamp nie, b) teen ’n ander boot stamp wat ook ingevaar het nie, of c) dwars in die sluis draai nie. Laasgenoemde is nag, want dis hels moeilik om weer reguit te kom en godsonmoontlik om sywaarts by die voorste hek uit te vaar.

Jy het vier manskappe nodig om die boot te beheer. C op die voorstewe van die boot gooi ’n tou na A op die wal, wat dit vang, een draai om ’n bolder gee en teruggooi na C, wat dit een draai om ’n staalhaak op die boot gee en dit dan vashou, liefs met handskoene aan. D op die agterstewe en B op die wal doen desgelyks. LW: Die toue moet vasgehou en nie vasgeknoop word nie, want soos die watervlak sak in ’n dalende sluis, moet die toue skiet gee. (In ’n stygende sluis moet die toue weer algaande stywer getrek word.) As die voorste hek oopgaan, skree die skipper: “Stoot weg!” Nou moet die toue loskom en ingetrek word en C en D op die boot moet dit van die kant af wegstoot met boothake. Dan kan jy uitvaar.

Pas de problème, sou jy glo. Maar: 1) die mistral waai verwoed van voor, 2) A en B op die wal verstaan nie dat die boot baie makliker van die boot self af beheer word nie, en probeer die boot met brute krag van die wal af kant toe sleep, 3) C op die voorstewe oortuig A om die tou om die bolder te draai en terug te gooi, maar nou spring die boot rond soos ’n ongetemde perd en C se handskoene is weg, 4) D laat die agterste tou in die water val, 5) C en D kan weens die wind nie hoor as die skipper skree “Stoot weg!” nie, en 6) Murphy het al twee die boothake op die voorstewe gelos. D probeer om die boot sonder ’n boothaak van die wal af weg te stoot en beland amper in die water.

Ewentwil, die voorste hek gaan oop en ons vaar uit. Lees: REMEMBER TO PICK UP YOUR LAND CREW. Wonder hoeveel manskappe het al vergeet gebly en wanneer sou die res onthou het van hulle desperate maatjies wat op en af spring terwyl die boot klein word op die gesigseinder. Ons tel ons s’n op. Oorleef nog ’n paar sluise. Binnekort gaan selfs ek muscles hê soos Arnie Schwarzenegger.

Maar toe: In die diepste sluis tot dusver, raak die voorste tou op die wal vasgeknyp. Kan glad nie skiet gee nie, watervlak daal flink, agterstewe van die boot sak vinnig. Konsternasie. Louise en Serena gil: “Help!” Ek voorsien hoe ons boot vertikaal sink soos die Titanic. Hoist by our own petard. Al wat ons kort, is ’n orkes wat “Nader, my God, by U” speel en Kate Winslet met ’n fluitjie. Chris gaan red en pluk die onderste tou los, wat meegee met ’n knal soos ’n geweerskoot. Dankie tog, ons sak verder horisontaal.

Uiteindelik meer ons vas in ’n klein hawe. Vanaand kook ons die hase. Ek het geen resep byderhand nie, maar maak dit na gedagte soos coq au vin. Medebemanningslede lyk taamlik skepties, maar toe ons wegval aan die haas, smaak dit soos ’n outydse skrophoender, nie soos winkelhoenders wat in kunsmatige daglig aanwas soos ’n atleet op steroïede nie. Bruinrys se neutagtige geur is reg hierby, en groenslaai met stukkies krakerige soetsuur appel net die regte kontras. Die nagereg, toffietaai piesangs met wit jogurt, sou as omkoopmiddel ’n aristokraat van die valbyl kon red. Saam met ’n plaaslike merlot word dit ’n vrolike fees. Vriend Dougie, wat ’n pragtige tenoorstem het, begin sommer sing en almal val in. Ons is oortuig ons harmoniseer pragtig en daar’s niemand naby wat kan stry nie.

Barksop

Middagetes op die bark bestaan tipies uit brood en kaas en patee, by markte gekoop. Maar die koue wind, soms ook ’n triestige reëntjie, maak my lus vir sop.

“Ek gaan sop kook,” onderneem ek die dag ná die haasete.

“Waarmee?” wil die vrinne weet.

“Wat ook al.”

Ek maak wat my ouma sou bestempel het as klipsop. Jy begin met ’n klip en dan gooi jy wat jy kan bymekaarskraap daarby in die pot en kort voor lank het jy lekker sop.

Wel, wat ek het, is ’n prei. Een van. Maar hy’s enorm. Groot genoeg om mee te kolf in ’n bofbalwedstryd. Ek kerf hom op en braai hom liggies in botter tot deurskynend. Bietjie knoffel daarby, reken ek, is ’n goeie plan. Solank ons net almal sop eet, want op hierdie bark, as die wind waai soos hy nou waai, leef ons in mekaar se asems. Ek kyk in die kas en daar’s ’n pakkie Franse groentesoppoeier. Kan werk. Maak aan met genoeg water vir sewe mense se sop (so ’n groot koppie elk) en gooi by prei. Maar nou’s dit glad te dun. Kyk in die yskas, en daar’s oorskiethaas en -rys. Kerf haas op, gooi haas en rys by sop. Mmmmm. Smaak is goed, maar dis nog bietjie dun. Miskien ’n blik Franse suikerbone, hoekom nie. Kyk weer in yskas. Kerf een ryp tamatie op, so ook ’n paar stukke seldery en ’n hand vol kool. Rasper een wortel in. ’n Goeie knyp of twee gemengde gedroogde Franse kruie. Proe. Dit kort sout, dus nog ’n blokkie hoenderaftreksel, en swartpeper kan nie skade doen nie. Kook vir so 30 minute. Proe weer. Nou’s ons reg. Bedien met gesnipperde vars pietersielie en warm brood met bloukaas.

Die brood het girtsharde korsies soos net die Franse dit kan bak, die kaas is effens sout en romerig. Die sop proe na kinderjare en oumaliefde. Uitstekende verweer teen die mistral. Ons verslind dit.

HAAS (OF HOENDER) MET ROOIWYN

Genoeg vir 6

(As jy nie ’n gewaarborgde haas in die hande kan kry nie, sal ’n ordentlike plaashoender ook deug. Selfs ’n winkelhoender smaak goed.)

½ koppie koekmeel

sout en grofgemaalde swartpeper na smaak

2 hase of 1 groot hoender, aan stukke gesny

125 g streepspek (streaky bacon), gesnipper

2 groot uie, opgekerf

’n skeut olyfolie

4 knoffelhuisies, geskil en fyngedruk

¼ koppie brandewyn

250 g bruin sampioene, skoongevee en middeldeur gesny

500 ml rooiwyn

500 ml hoenderaftreksel

’n bouquet garni of stewige knyp tiemie, of 4 lourierblare

12 baba-uitjies

Gooi die meel, met sout en peper na smaak, in ’n plastieksak. Skud die haas- of hoenderstukke twee-twee op ’n slag daarin tot bedek.

Braai intussen die spek en die gekerfde uie met ’n swaarboompan in die olyfolie. Skep uit met ’n gleuflepel en hou eenkant.

Braai nou die haasstukke goudkleurig in dieselfde olie, met die knoffel daarby. Verhit die brandewyn (30 sekondes in die mikrogolf, of met ’n metaal-soplepel oor ’n gasvlam), gooi oor die gebraaide haasstukke en steek aan die brand. Skud die pan. (Indien nodig, doen die helfte van die stukke op ’n slag op hierdie manier.)

Voeg al die bestanddele behalwe die uitjies bymekaar in ’n swaarboompot, sit die deksel op en stowe lank en stadig. Dit kan ook vir minstens 2 uur in ’n oondskottel gaargemaak word teen 160 ˚C. Voeg die uitjies by vir die laaste 20-30 minute.

As die sous te lank lyk, skep die vleis uit teen die einde, hou warm, en laat die vloeistof vir ’n ruk in die pot wegkook. Maak ’n buerre manié (dikmaakklontjie) met ’n eetlepel meel en ’n eetlepel botter, roer by sous en kook tot verdik.

GEBRAAIDE PIESANGS FLAMBÉ

(Met jogurt. Of met room, dan’s dit lekker genoeg vir twee aristokrate se loskoopprys.)


1-2 piesangs per persoon; moet goed ryp wees

1 eetlepel bruinsuiker per piesang

1 botteldoppie brandewyn per pan vol

Sny die piesangs middeldeur om makliker te draai, maar dwars, nie in die lengte nie.

Sit die suiker droog in die pan, hou op hoog terwyl jy aanhoudend roer tot dit karamelliseer. Voeg piesangs by, draai plaat af, braai tot goudbruin aan die een kant, draai om en braai tot sag. As dit vir jou te droog lyk, voeg ’n klont botter by.

Wanneer dit gaar lyk, gooi die doppie brandewyn oor. Steek dit dan aan die brand (jy moet rats wees met die vuurhoutjie). Lyk mooi as die lig in die kamer dof is. Laat uitbrand en bedien.

Honger reisiger

Подняться наверх