Читать книгу Honger reisiger - Dr Marie Heese - Страница 9

Teen die oormag

Оглавление

(Asmara, Eritrea)


Waar de hel is Eritrea? So vra ons vriende toe ons (in 2001) aankondig dat ons in Asmara, hoofstad van Eritrea, gaan werk. Eritrea lê langs Ethiopië in die vorm van ’n klein banjo, met ’n lang kuslyn teenaan die Rooisee – een van verskeie redes vir die dertigjarige oorlog tussen die twee buurlande, want Ethiopië soek ’n hawe. (Daar’s steeds ’n kwaai grensdispuut.)

In 1898 gryp Italië hulle stuk van Afrika deur Eritrea binne te val, op hoop van groter aanwinste, maar hulle kan nie Ethiopië verower nie. In 1941 verdryf die Geallieerdes die Italiaanse kolonialiste uit die land. Tot 1950 is dit onder Britse administratiewe beheer. Toe beslis ’n VN-resolusie dat Eritrea met Ethiopië moet federeer. Haile Selassie, Ethiopiese koning, praat roerend van vryheid en onafhanklikheid. Maar toe behandel hy Eritrea met brutale onderdrukking en geweld. In 1961 begin die rewolusie, en dertig jaar lank veg Eritrea, sonder enige buitelandse steun, verbete vir hulle vryheid.

Teen ’n enorme oormag in, slaag Eritrea daarin om hulle onafhanklikheid van Ethiopië te behaal, en toe ons gaan, is daar ’n vredesmag van die VN teenwoordig. Die regering kontrakteer ons om ’n afstandonderrigsentrum vir die ministerie van gesondheid te kom vestig. In samewerking met Unisa, wil hulle sommige sister tutors wat by die verpleegkollege in Asmara klasgee, verder laat oplei. (Heelparty is mans.)

So gebeur dit dat ons ses maande lank woon en werk in Asmara. Die weer is heeljaar matig, want die stad sit op ’n plato. Dit het ’n stowwerige Mediterreense sjarme, die blywende stempel van die Italianers. Die middestad het wye strate met rye palmbome aan weerskante. Netjiese Art Deco-geboue deel padfronte met nederige gehuggies; op straathoeke staan kraampies vir fietsherstelwerk en die verkoop van tydskrifte (Newsweek van so drie jaar gelede is ’n winskoop), of jy kan jou skoene laat poleer. Ou vroue, toegedraai in sjaals, vee geduldig die sypaadjies met palmtakke.

Om verskeie redes is ons werk erg frustrerend – maar ons maak ’n paar besonderse vriende. Kessete Teweldebrhan, senior tutor, kom een oggend na ons kantoor toe: ’n korterige, maer, grys man, ongeveer vyftig, duidelik met ’n dringende behoefte om te praat met iemand wat met empatie sal luister.

Hy vertel ons sy storie, en ek het sy verlof om dit oor te vertel. Kessete is gebore en getoë in Eritrea. Hy vaar goed op skool. Daarna studeer hy aan die Nursing College in Asmara. Kom loshande eerste in sy klasgroep. Word opgelei as narkotiseur (weens skaarste aan opgeleides doen verpleërs dit in hierdie geweste). Op ouderdom negentien word hy deur die destydse Ethiopiese regering na Addis Abeba ontbied. Hy werk hom vrek. Sy droom is om in die buiteland medies te gaan studeer. Hy presteer so goed dat hy vyf keer aangewys word as ’n beurshouer. Maar vyf keer word hy deur die regering belet om te vertrek – hulle’s bang hy kom nie terug nie.

Die laaste keer is sy dinge reg. Plek gereed, kaartjie in die hand. Drie dae voor vertrek, sê die minister nee – hy moet ’n skool vir narkose-verpleërs in Addis begin, want die oorlogsituasie is ernstig. Hy weier. Hy wil gaan studeer. ’n Vriend waarsku hom: “Doen wat jy moet. Mense verdwyn. Gaan grens toe en kom nie terug nie. Word van agter in die kop geskiet.”

Kessete gaan terug minister toe. Met die hulp van ’n Switserse narkotiseur van die Wêreldgesondheidsorganisasie skryf hy ’n kurrikulum. Hy stel ’n tweejaarkursus in. Hy staan aan die hoof van die skool in Addis Abeba. Naderhand besef hy hy gaan nie gestudeer kry nie – behalwe deur die praktyk en wat hy self kan leer. Ná elf jaar toe trou hy maar. Teen hierdie tyd het hy ’n huis, ’n motor. Hulle kry drie kinders.

Uiteindelik stem die owerhede in: Hy mag in Amerika gaan studeer. Daar aangekom, ontdek hy dit word van hom verwag om eers ’n vierjaargraadkursus te voltooi voordat hy sy hartewens kan kry om ’n meestersgraad in narkose aan te pak. Hy meen hy het nie vier jaar nie. Hy skryf die toelatingseksamen en hy slaag genoeg modules om die hele voorkursus in twee jaar te kan voltooi. Nou het hy ’n lisensie om in Amerika as verpleër te praktiseer. (Hier wys hy vir ons sy netjies gelamineerde lisensie, wat hy in sy verweerde beursie saamdra.) Maar voordat hy die spesialiseringskursus wat hy eintlik wou volg, kon doen, word hy beveel om terug te gaan na Addis toe, want die oorlogsituasie is al weer ernstig.

Noodgedwonge val hy weer in by sy opleidingstaak. Terwyl die oorlog dertig jaar lank voortduur, bly hy in Addis as hoof van die skool vir verpleegnarkotiseurs. Naderhand kom vrede en ná die vrede, die tweede oorloggie van drie jaar. Uiteindelik lyk dit of hy internasionale erkenning kry. Die Universiteit van Bern in Switserland wil vir hom ’n eredoktersgraad gee. Hulle stel hom per brief in kennis (hy wys dit vir ons). Hy is opgewonde. ’n Maand voordat hy sou vertrek om dit te ontvang, gebeur dit. Een oggend vieruur ’n klop aan die deur. Hy maak oop. Die cops staan daar. Hy moet kom. Hy en sy twee ouer kinders van dertien en elf. Waarheen, wil hy weet. Hulle sê niks. Hoekom, wil hy weet. Omdat jy ’n Eritreër is, sê hulle. Dis rede genoeg. Drie dae en drie nagte is hy en sy kinders in die tronk. Dan word hulle in trokke gelaai saam met ander wat ook skielik verban word, so baie dat hulle net kan regop staan in die trokke. (So word derduisende uit Ethiopië na Eritrea gedeporteer.)

Diep in die nag word hulle naby aan die grens afgelaai. Hulle strompel deur die donker tussen walle waar landmyne begrawe is. Sy seun val oor ’n hoop klippe (’n loopgraaf – wie sal weet?), gelukkig net nerfaf. Oor sestien kilometer sukkel hulle so aan. Niemand skiet nie – nie van een van die twee kante nie. Dan is hulle skielik onder hulle eie mense.

Eers bly hulle in kampe vir vlugtelinge, dan dwaal hulle deur die strate van Asmara. Hy het niks. G’n geld, g’n kos – net die klere aan die lyf. Vriende help hom om te oorleef. Dan laat die WGO vir die Eritrese minister van gesondheid weet: Julle het ’n juweel – ’n spesialisverpleër in narkose. Die regering spoor hom op. Kom, sê hulle – kom begin ’n skool vir verpleegnarkotiseurs in Asmara. Hy begin van nuuts af aan. Berei ’n kurrikulum voor. Netjies. Met die lys apparaat en die bronne wat hy as noodsaaklik beskou. Stel keuringskriteria vir studente op. Versoek die minimum personeel.

Twee maande later roep hulle hom. Hier is jou eerste studente, sê hulle. En die keuringskriteria? vra hy. Dié is jou studente, sê hulle. En die apparaat? En die boeke? En die assistente en … en alles wat hy belowe is? Hy’t nie veel gevra nie, maar hy kry niks. Nee, sê hulle, begin maar sommer.

In 2001 is dit twee en ’n half jaar later. Hy sê hy werk dag en nag. Ons glo hom. Hy wys sy stoorkamertjie, so 2 m by 3 m. Daar is afgerolde aantekeninge, gemaak met outydse wasvelle. Die studente moet worstel deur 12 cm studiemateriaal wat hy ontwikkel het. Die tekeninge, ook die transparante, is met die hand gemaak. Wat het hy om mee te onderrig?

“Come,” sê hy, “let me show you.” Hy wys ons die voor-lesinglokaal. Dis oud, met daardie Italiaanse oprolhortjies in vuil-groen, meesal afgedop. Hy het ’n klein skryfbord, volgekrap met bordkryt. Daar is ’n oorhoofse projektor. Geleen, sê hy. Daar is ’n skerm – effens mankoliek, maar darem. Daar is ’n paar rubber-pype – klaarblyklik om by die pasiënt se strot verby te druk tot in die longe. Daar is ’n ou eterklep. Wat hy waar kry? vra ons.

Hy lag verleë. “Picked it up, on the rubbish heap behind the hospital.”

Die probleem is hulle vertrou hom nie, want hy was al daardie jare in Ethiopië. Die hoof van ginekologie word ook sy hoof. Die studente is ongeskik met hom as hulle sien hy’t geen gesag nie. Maar dan begin die opleiding. En hy laat hulle met niks wegkom nie. Hulle leer – hulle leer die 12 cm teks en hulle is daagliks in die teaters en hulle word elke dag gekonfronteer met ’n evaluering van die tegnieke wat hulle gesien en uitgevoer het. Alles word meedoënloos geanaliseer en gekritiseer. Wanneer hulle gekwalifiseer is, kan hulle narkose toedien. Oral. Onder alle omstandighede. Vir pasiënte met allerlei siektetoestande.

En nou? vra ons. Ek het niks, sê hy. Ek woon in die agterbuurtes. Ek kon niks uit Ethiopië red nie. Nee, dis ook nie waar nie – my vrou en jongste kind, toe twee en ’n half, is later ook uit Ethiopië gesit en ons is weer almal bymekaar. Maar dit gaan aan. Ek het nie spyt nie, sê hy. Ek is nie ’n man vir die politiek nie. Ek het my bes gedoen en niemand is ooit onder my hande dood op ’n operasietafel nie en ek lewer behoorlik opgeleide mense. My naam staan darem in Who is who in the world in medicine and health care (1997/8, p. 601). Wat ek doen, doen ek goed. Ek sou julle graag ordentlik wou onthaal, sê hy, soos dit hoort. By my huis. My vrou is ’n goeie kok, sy maak heerlike kos. Maar ek kan nie.

“It’s all right, Kessete,” sê ons. “We understand.”

Kookkuns in Asmara

Om in Asmara te kook, was ’n uitdaging. Dit het my vermoë om “na gedagte” te kook, en om reg te kom met wat verkrygbaar is, tot die uiterste beproef. Eritrea het ’n dubbele ekonomie: ’n dure, vir die uitlanders ter plaatse, en ’n goedkoop oorlewingsekonomie, vir die landsburgers wat oorwegend bitter arm is. In ons woonstel, op die vierde verdieping van ’n blok tussen twintig soortgelykes, het ek ’n yskas gehad en ’n tweeplaatgasstofie – seker meer as die meeste vrouens in die stad.

In dié tyd skryf ek in ’n e-pos: Hier is omtrent net beesvleis te koop – behalwe as jy kans sien vir ’n hele boerbok. Sien nooit skaapvleis of varkvleis nie. ’n Mens kry beestong of beesstert of beeslewer en die res is sommer net vleis, hulle weet nie van allerhande snitte nie. Weet wel van filet, maar selfs dit is taai. Beeste is per slot van rekening kapitaal en word nie geslag voor hulle gaan omkap van die ouderdom nie. Niemand skyn ’n opgeleide blokman te wees nie. Die karkasse lyk of hulle met ’n stomp sakmessie uitmekaargekerf is sonder aansiens des anatomie. Hier is wel hoenders wat eervol as oudstryders uit die Eritrese weermag ontslaan is, en dan is hulle deksels duur. Soms kan jy wel ’n paar stukke boerbokvleis koop. Wat goedkoop is, is meel, suiker, rys, dadels en klapper; ook eiers en net een soort (Italiaanse) kaas. Groente en vrugte, net wat in seisoen is, is absoluut vars, soos tamaties, kool en spinasie. Piesangs en papajas is stroopsoet, want hulle word aan die bome ryp. Hier kry jy die beste vars vrugtesap ooit.

Verlede Sondag was Eritrea se Krismis. Die meeste van ons bure het boerbokke gehad wat aan die heinings vasgemaak was en hees geblêr het totdat hulle na die slagpale hier op die hoek gelei is. Iemand het ’n hoenderhaan op hulle balkon aangehou wat heeldag gekraai het, maar gelukkig is hy opgevreet. Chris se kommentaar: Saans raas die kinders en soggens raas die kos.

Die Eritreërs eet alles met hulle hande – net die regterhand mag gebruik word (moenie vra nie). Hulle bak groot, plat, sagte suurdeegbrode (injera), wat lyk soos grys vadoeke (proe ook so, jy moet seker daarmee grootword). Hierop pak hulle traanskerp beesbredie, groente en slaai. Jy skeur repe af en maak rolletjies met kos binne-in.

Smaakmiddels was skaars. Ons kon vars knoffel kry, en skerp rooipeper by name berbere wat hulle in omtrent alles gooi; verder moes ek maar plan maak met asyn, suurlemoensap, uie en mosterdpoeier. Mettertyd begin die winkels meer speserye aanhou, want die VN-personeel soek dit. Maar die taai beesvleis was ’n beproewing, totdat ons ’n drukkoker kon koop. Toe maak ek tong – daar is dit baie goedkoop, omdat dit so lank moet kook. En bredies. Pitabrood in plaas van injera werk daarby. Of rys.

TONG

Genoeg vir 4-6

water om te bedek

1 beestong, omtrent 1 kg (’n Gepekelde tong is die beste. As dit vars is, lê dit eers vir 24 uur in die yskas in soutwater in. Dit verbeter die geur.)

1 ui, geskil en middeldeur gesny

2 lourierblare

10 swartpeperkorrels

Kook eers die water in ’n ketel, dis vinniger.

Giet water oor die tong, genoeg om dit te bedek, en voeg die ander bestanddele by. Kook in ’n drukpot op volle druk vir 1¼ uur, bereken van wanneer die druk reg is. (As jy dieselfde resultaat in ’n gewone pot wil regkry, kos dit 5 uur se kook en meermale kookwater bygooi. Maar dit proe net dimensioneel lekkerder as dun klaargaar snytjies tong in plastiek verpak, veral as jy dit vars en warm eet.)

Trek die vel so gou moontlik af. Dik, warm, smeltsagte snye met kapok-aartappels daarby is sielskos. Weet jy wat – jy’t nie sous nodig nie.

Die tong is glad nie tipies van Eritrea nie, want dis te duur om dit gaar te kry. Die volgende resep is wel kenmerkend. Sonder ’n drukkoker moet dit net langer prut. Lam word gouer sag as bok.

CHRIS SE BOKBREDIE

Genoeg vir 4

Chris is ’n kreatiewe na gedagte-kok. Maar jy kry nooit twee maal dieselfde gereg nie. Hy het hierdie bredie uitgedink en ek het dit dadelik neergeskryf, want dis baie geurig, en die kleurkontras is ’n groot verbetering op ’n vaal koolbredie.


’n bos vars jong spinasie

2 groot uie

¼ witkoolkop

4 repe gerookte spek

sout en swartpeper na smaak

1 teelepel karwysaad

1 teelepel mosterdpoeier

boerbok- of lamsribbetjie, gesny in enkel los stukke, genoeg vir 4

’n skeut kookolie

¼ bottel droë witwyn

4 middelslag-aartappels, geskil en in stukke gesny

1 eetlepel bruinsuiker

Spoel spinasie deeglik en snipper. Verwyder stingels van spinasie en sny in stukkies. Hou stingels eenkant.

Skil uie. Sny ’n halwe ui in dik skywe. Sny elke skyf in kwarte.

Kap kool growwerig. Snipper spek. Meng blaargroente, stukke ui en spek; sprinkel sout, peper en karwysaad oor.

Strooi sout, peper en mosterdpoeier oor vleis. Braai vleis stuk-stuk in swaarboompot in olie tot goed bruin. Haal uit en hou eenkant.

Vat die ander 1½ ui en kap ook in dik skywe. Gooi in die pot saam met die spinasiestingels. Braai goudbruin.

Sit vleis terug in pot, voeg witwyn by. Laat prut vir 30 minute.

Voeg groente-en-spekmengsel en aartappels by plus ’n koppie water. Laat prut nog ’n uur lank (of langer, tot vleis sag is).

Sprinkel bruinsuiker bo-oor. Roer deur en proe vir sout. As sous te lank is, skep daarvan uit (hou vir sop). Verdik oorblywende sous met mielieblom (Maizena) en kook goed deur. Bedien met rys.

Honger reisiger

Подняться наверх