Читать книгу Honger reisiger - Dr Marie Heese - Страница 8

“The ultimate artist”

Оглавление

(Barcelona en Figueras, Spanje)


Amper is ek dood op die trein na Barcelona. Ná ons rit op die Kanaal du Midi, toer ons en ons groepie vriende voort na Spanje. Die Spaanse trein loop effens rukkerig, maar vinnig. Die platteland in Spanje lyk minder afgeleef en arm as in Frankryk. Die rit deur die groen landerye verby netjiese dorpies vol rooi dakke, elk ’n skildery deur Cézanne, sus ’n mens amper aan die slaap.

Dan skielik: ’n harde slag. Direk langs my sidder die venster en die hele glasvlak verander in ’n spinneweb. Ek besef met skok: Dit sou in duisend stukkies gespat het as dit nie veiligheidsglas was nie. Die venster agter my (ek sit so dat ek agteruitry) lyk net so. By die volgende stasie spring Mike af om te gaan kyk. Kom terug en rapporteer dat daar ’n ronde gat sit in die raam van die venster net sentimeters van waar my kop was. Dit lyk soos ’n koeëlgat, sê hy. Of dit kon ’n klip gewees het. As dit – wat dit ook al was – die glas direk getref het, het dit waarskynlik ook my kop getref. Spaanse amptenare kom inspeksie doen en laat al die passasiers in die omgewing wegskuif ingeval die glas breek terwyl die trein voortsnel.

Wel, vrinne, ’n mens is maar een dood skuldig, maar ek het nooit voorsien dat ek sou heengaan weens ’n verdwaalde koeël op ’n Spaanse trein tussen Port-Bou en Barcelona nie. Maar blykbaar was my naam toe nie op daardie een nie. Is ek erg geruk? Om die waarheid te sê, nee. Vandat my pa dood is in ’n motorongeluk toe ek vier-en-twintig was, is ek oortuig van my eie sterflikheid – dikwels ietwat verbaas dat ek nog lewe. Vandag weer so. Ek dink aan die woorde van Bloem: En voor altijd is dit mij bijgebleven: / Hoe zeer veel stiller dood dan slapen is; / Dat het een daaglijks wonder is, te leven, / En elk ontwaking een herrijzenis.

In Barcelona bly ons in ’n woonstel waar jy self kook en skoonmaak. Ná die boot se engtes voel ons nou soos sewe ertjies in ’n sokkerstadion. Gaan eet die aand paella by ’n uiters lawaaierige, maar gesellige restaurant. Moet bieg dis teleurstellend: sulke pap vaalgeel koshuisrys; taai stukkies hoender soos herwonne kougom en verskrompelde mossels wat lyk soos iets wat ’n veearts van die een of ander siek dier kon verwyder het. Al sê ek dit self, ek maak ’n aansienlik beter paella as hierdie een.

Die volgende oggend gaan sit almal op die boonste dek van ’n oop bus. Die rit help ons om ’n greep op die uitleg van die stad te kry. Sien verskeie geboue in Antoni Gaudí se kenmerkende styl: die gebroeders Grimm gekruis met Walt Disney op boom. Dit beskryf ook die Sagrada Família, daardie enorme katedraal waarmee Gaudí begin het in 1882 en waaraan hy gewerk het tot sy dood in 1926 – sy kliënt, het hy glo gesê, is nie haastig nie. Dele van die onvoltooide katedraal en Gaudí se modelle en werkswinkel is gedurende die Spaanse Burgeroorlog vernietig. Sedertdien het verskeie ander argitekte aan die gebou gewerk. Daar was etlike pogings om die verlore ontwerp te herkonstrueer. Dié moderne verwerkings, met behulp van rekenaartegnologie, word nou ook deel van die komplekse geheel.

Ons was laas daar in 1982, en toe was daar net die een fasade, die Fachada del Nacimiento, met geen verdere bouwerk daaragter nie, wat gevolglik gelyk het soos daardie dorpies in flieks oor die Wille Weste wat net uit voorkante bestaan. Van toe af het hulle geweldig gevorder. Moderne tegnologie help die bouwerk om baie vinniger vooruit te gaan as wat eers voorsien is (anders as omtrent enige ander bouprojek, in my ervaring). Dit lyk soos g’n ander gebou nie. Daar is nie een reguit lyn nie. Herinner aan ’n sandkasteel wat jy skep deur nat sand deur jou vingers te laat drup.

Die Fachada del Nacimiento, wat die herkoms, geboorte en kinderjare van Christus uitbeeld, bestaan uit ’n groot aantal figure wat deur die kunskritikus Robert Hughes beskryf is as “devotional cliché”. Tog is dit as geheel ’n skouspel wat ’n mens ontroer. Daar is nou ook ’n enorme binneruim, waaraan daar steeds gewerk word, vol steierwerk, stene, planke en gereedskap. (Uiteindelik sal daar plek vir 15 000 mense wees.) Maar as jy opkyk, gryp dit jou aan: Daar is ’n komplekse struktuur van pilare, wat elkeen effens verskil van die res. Almal het ’n organiese vorm wat boontoe vertak en herinner aan bome. Daar is glasvensters met intense kleure, insluitend ’n gloeiende indigo soos in die Notre Dame de Paris.

Die Fachada de la Pasión, ’n uitbeelding van die gebeure tot en met die kruisiging, is reeds voltooi aan die teenoorgestelde kant van die eerste een. (Daar kom glo nog ’n Fachada de la Gloria, wat ek veronderstel gewy sal word aan die opstanding en hemelvaart.) Die Fachada de la Pasión met ’n naakte Christus aan die kruis het ses kolomme wat lyk soos gebeentes. Die figure (geskep deur ’n Katalaanse beeldhouer, Josep Maria Subirachs) is bonkig en hoekig, ’n kontras met die soepel lyne van die oorspronklike beelde. Ook dit is al hewig gekritiseer, maar – dit slaan jou in die maag.

Die aand ry ons met die moltrein na die Plaza d’Espagne. Daar is die Font Màgica de Montjuïc: die towerfontein, wat net sekere tye van die jaar spuit. Dit is ’n enorme Art Deco-konstruksie, vertel die gidsboek, met 3 600 stukke pyp en meer as 4 500 gloeilampe. Dit werk glo met wit ligte binne-in prismas wat draai en allerhande kleure optower. Lyk soos ’n ovaal skottel amper so groot soos ’n voetbalveld. As dit donker word, is daar ’n afwagtende ritseling tussen die paar duisend toeskouers wat op die trappe sit. Dan begin die water uitbundig by miljuisende openinge uitspuit. Dis ’n glorieuse waterballet met voortdurend veranderende waterpatrone, verlig met wisselende kleure, en vanaf 21:30 word dit begelei deur musiek – Strauss-walse, die 1812-ouverture, Queen, Sting … Een oomblik stuur die hele rits spuite regop strale hoog die lug in, en almal is skitterwit; dan word alles blou, en die strale water draai, swiep, swaai en maak boë; nou kurktrekker die water en word wynrooi, dan weer groen en vervloei in ’n sagte mistigheid. Die skepping van ’n ingenieur met die siel van ’n kunstenaar. ’n Feestelike fantasie. Ek is so bly die verdwaalde koeël het my nog die kans gegun om dit te sien.

Die volgende dag neem ons ’n toerbus na Figueras, op die spoor van Salvador Dalí, die Spaanse skilder met die skerppunt-snor soos ’n bul se horings, skepper van smeltende horlosies en verwronge olifante. In Figueras staan die Dalí-museum, sy skenking aan sy geboortestad: ’n teater bekroon met reusagtige eiers. Binne is dit propvol droom- en drogbeelde: nie net skilderye nie, maar ook foto’s, beeldhouwerk, en vreemde objekte soos ’n enorme Cadillac wat, as jy ’n knoppie druk, van binne natreën. En tog, al is dit hoe eienaardig, is dit ongetwyfeld die werk van ’n hoogs oorspronklike denker, ’n begaafde skilder en ’n bedrewe vakman.

Die museum is nie georden nie – hoe orden jy in elk geval surrealisme? Dalí het van homself gesê die verskil tussen hom en ander surrealiste is: Hy is ’n surrealis. (Ook dat die verskil tussen hom en ’n mal mens is: Hy is nie mal nie.) Uit my kuns-geskiedenisklasse onthou ek dat surrealisme ’n rigting in die kuns is wat uiting gee aan alles wat in die onderbewussyn gebeur sonder die tussentrede van die rede, of estetiese voorskrifte. Wel, Dalí se onderbewussyn moes ’n potente amalgaam gewees het. Sy ouers het hom vertel hy is die reïnkarnasie van sy broer; dalk was daar die herinneringe van ’n rits drasties uiteenlopende reïnkarnasies in sy kop. Sy vrou, ene Gala, het hom in al sy teatrale manewales ondersteun. Dit kon net vet pret gewees het. (Sy rede het duidelik later toegetree toe dit kom by verkope, want sy hebsug het aan hom die bynaam “Avida Dollars” besorg: ’n anagram van sy naam.)

Ek dink sy mees groteske skepping is dit wat hy aangevang het met ’n kleurfoto van Mae West se gesig. Haar gesig word ’n woonkamer: Ken en nek is ronde rooi trappe; wange en voorkop vloer en muur; oë geraamde portrette, neus ’n kaggelrak kompleet met staanhorlosie, mond ’n aanloklike volronde wegsaksofa en hare is platinawit gedrapeerde gordyne. Vreemdste van alles: Dis nog herkenbaar Mae West, en sy lyk nog sexy.

Maar dan: betowering! In ’n aparte, verdonkerde saaltjie is ’n versameling juwele wat Dalí ontwerp het. Dit is klein fantasieë, baie soos die Fabergé-paaseiers wat vir die Russiese tsaars gemaak is. Daar is onder meer ’n borsspeld in die vorm van ’n oog (wat ’n klein horlosietjie bevat) met ’n druppende traan. Daar is ook ’n hart, letterlik van goud, met ’n soliede dop wat van voor oop is sodat jy die binneste, oortrek met fyn robyne, soos ’n klein lewende wesentjie kan sien klop. Dalí het van die juwele gesê: “Without an audience, without the presence of spectators, these jewels would not fulfil the function for which they came into being. The viewer, then, is the ultimate artist. His sight, heart, mind – fusing with and grasping with greater or lesser understanding the intent of the creator – gives them life.” Ek dink dis waar nie net van Dalí se juwele nie, maar ook van kunswerke in die algemeen, insluitend boeke. En miskien verklaar dit deels ’n mens se drang om te reis: Jy wil medeskepper wees van die grootse kunswerke wat die mensdom, naas al sy sotterny en wreedaardighede, tog ook voortgebring het.

PAELLA MARISCO

Genoeg vir 4

Hier volg my eie resep vir paella. Ek moet bieg, ek verneuk. Ek weet jy is veronderstel om die rys in ’n pan gaar te maak, soos ’n risotto, en die ander bestanddele daarmee saam. Maar ek kry dit nie lekker reg nie. Miskien as ’n mens ’n harder soort rys kan kry, sal dit werk. Maar met gewone alledaagse rys, word dit te pap na my sin. Wat ek doen, is om die verskillende elemente apart gaar te maak en dit dan te kombineer. So is dit ook makliker om vir meer mense op een slag paella te maak.

Ek werk met porsies. Kook genoeg rys vir almal. Skat wat een persoon sal kan opeet van die komponente, en maak soveel porsies gaar soos jy gaste het. Daar’s verskillende soorte paella, natuurlik. Die soort wat stukkies hoender en wors insluit, is lekker. Maar ek hou die meeste van die weergawe wat net seekos inkry.

En ja, jy’s veronderstel om saffraan te gebruik, maar dis die duurste bekende krui. Spice for Rice is ’n gangbare alternatief.


Rys

3 koppies water

1½ koppie rys

2 teelepels Spice for Rice

’n knypie sout

Kook eers die water in ’n ketel. Voeg alles bymekaar en prut met deksel op tot rys gaar is. Roer af en toe. Hou warm.


Tamatiemengsel

1 groot ui, opgekap

’n skeut olyfolie

4 knoffelhuisies, geskil en fyngedruk

1 ryp tamatie, opgesny in blokkies (skil as jy wil)

1 groen soetrissie

1 geel soetrissie

1 rooi soetrissie

’n knypie sout

grofgemaalde swartpeper

1 eetlepel suiker

Maak eers die ui met die olyfolie in ’n pan gaar tot goudbruin. Voeg dan die res van die bestanddele by. Nee, ek sit nie die knoffel by die ui nie, dit brand te maklik en dan smaak dit bitter. Kook alles saam, maar nie te pap nie. Hou warm.


Garnale

12 steurgarnale

1 koppie olyfolie

knoffel na gedagte

sout en peper na smaak

¼ koppie suurlemoensap

Maak die garnale skoon deur die doppe op die rug langs oop te sny met ’n skêr. Verwyder die dermpie. Maak gaar in olyfolie met knoffel, sout, peper en ’n bietjie suurlemoensap. Moenie óórkook nie, die garnale moet net pienk word en opkrul.


Vis, calamari en mossels

4 netjiese porsies ferm vis, bv. geelstert (gebruik maar watter vis ook al beskikbaar is)

4 netjiese porsies rooi vis, bv. dageraad

4 porsies calamariringe

12-16 mossels op halfskulpe

Maak bg. gaar deur dit te posjeer in ’n pan met water (water moet net-net wil kook) waarby jy die volgende gevoeg het:

1 hoenderblokkie

’n skud suurlemoenpeper

1 rou ui, in kwarte gesny

1 rou wortel, geskraap en in stukke gesny

1 lourierblaar

’n takkie pietersielie

’n takkie tiemie

(of, i.p.v. die laaste drie hierbo, ’n bouquet garni)

Roer die tamatiemengsel by die rys. Pak nou alles bymekaar in ’n groot vlak skottel, met die garnale en mossels bo-op. Strooi pietersielie oor.

Bedien met ’n groenslaai. En warm jammerlappies (rol lappies op en maak vinnig in mikro warm).

Honger reisiger

Подняться наверх